Ondergang van die Weste

Deel op

ImageDemografie is ons noodlot – August Comte

Ofskoon hierdie titel verwys na die werk van die Duitse historikus Oswald Spengler, kan 'n mens in die huidige tydsgewrig soortgelyke argumente voer dat die Weste sy hoogste tyd gehad het en so langsamerhand sy invloed begin verloor op sowel morele as politieke terrein.

Sekerlik die vernaamste oorsaak hiervan is die demografiese skuif wat plaasvind in die wêreld. In Europa is die aantal Westerse mense vinnig besig om in getalle uit te dun. Daar is nouliks 'n land in Wes-Europa waar die geboortesyfer op peil is. Daar moet per gesin ten minste 2.1 kinders gebore word om die bevolkingsaanwas op 'n gesonde peil te hou, terwyl lande soos Italië se geboortesyfer so laag soos 1.6 per gesin is. Die ekonomiese reus van Wes-Europa, Duitsland, presteer skaars beter met 1.8 geboortes per gesin.

Eintlik is die skade al gedoen. Om hierdie tendens terug te draai kan tot 'n honderd jaar neem. Gevolglik is Europa besig om diverse maatreëls te neem om te sorg dat die ekonomie en bevolkingsaanwas nie agteruit loop nie. Die mees haalbare strategie is om immigrante in te voer om te sorg dat die welsynstaat genoeg kapitaal kan genereer om die ouer-wordende bevolking van pensioene en basiese dienste te kan voorsien. Hierdie taktiek het egter 'n groot aweregse werking, deurdat immigrante met 'n nie-Westerse agtergrond nie wesenlik bydra tot 'n gesonde ekonomie nie. Inteendeel: baie nie-Westerlinge presteer minder goed op skool, ly aan vervreemding en is meer verteenwoordigend van die onderklas, wat juis 'n ekstra las vorm op die welsynstaat se hulpbronne. Desnieteenstaande is hulle demografies gesproke die produktiefste groep en verwek meer kinders as die Westerlinge. Op so 'n manier vind daar 'n omgekeerde kolonisasie plaas en begin hulle die tradisionele Europese identiteit te verdring.

Die bekende Kanadese rubriekskrywer Mark Steyn het op 'n stadium genoem dat toe hy op skool was, was Lord Kitchener as 'n held gesien vanwee die Derwisjes wat hy uitgemoor het. Deesdae word dieselfde Kitchener in skoolboeke as 'n skurk voorgestel. Heel tereg natuurlik, maar die somtotaal van verkettering van Westerse helde gee aanleiding tot 'n soort antipatie jeens Europeërs se eie verlede, wat 'n nuwe paradoks ontbloot: Aan die een kant verlang die Europese lande dat vreemdelinge die plaaslike taal en gewoontes moet aanleer om beter te integreer. Tegelykertyd verafsku Europeërs hul eie taal en kultuur. Vreemdelinge begin hulself dus af te vra hoekom hulle hulself moet integreer in 'n land en sy kultuur waarvan die mense self niks voor voel nie. Hoe eienaardig dit mag klink, kan hierdie dubbele verwagting – waar vreemdelinge baie gevoelig voor is – aanleiding gee tot diverse aanpassingsprobleme en selfs ernstige psigotiese versteurings teweegbring.

Jarelank was veral vanuit linkse geledere afbreuk gedoen aan helde van weleer, waarskynlik om integrasie van vreemdelinge te bevorder. Hulle wil nie-Westerse vreemdelinge die indruk gee dat hulle hulself gedistansieer het van onmenslike praktyke uit die verlede, en nou as nuwe verligters hulself wysmaak dat hulle alle kulture kan omarm. Hulle begryp egter al te dikwels nie die beweegredes van vreemdelinge nie. Die hele Weste reageer byvoorbeeld met afsku oor die martelpraktyke in die gevangenisse van Guantanamo en Abu Grahib wat onder Rumsfeld se waarneming plaasgevind het, maar radikale webwerwe wat tot 'n Jihad teen Amerika oproep, het nouliks melding hievan gemaak. Amerika is nou eenmaal die aartsvyand van radikale Moslems, dus of hulle iemand nou meer of minder gemartel het of nie maak geen verskil nie. Buitendien vind martelinge in Moslemlande veel meer plaas as in die VSA.

In 'n ondersoek wat onlangs onderneem is in 'n aantal Moslemlande tussen radikale en gematigdes, is daar verbasend min verskille gevind tussen die twee groepe wat hul waardes aanbetref. Altwee bewonder Westerse tegnologie en vryheid van meningsuiting ewe veel. Die vernaamste verskille is dat radikale Moslems meer hoopvol is oor die toekoms en dat hulle die welvarender segment van die bevolking uitmaak. Eweneens is daar meer radikales onder hoër opgevoedes. Met ander woorde, armoede en laer opleiding as teelaarde vir radikalisme is in hierdie ondersoek nie bewese nie. Dit wil voorkom asof idealisme en opportunisme belangriker bronne van radikalisme is as die afgekoude Marxistiese narratief van armoede en uitbuiting.
   
Marxiste is geneig om te stel dat kapitalistiese lande op hul gevaarlikste is wanneer hul invloed besig is om te taan, juis in 'n poging om hul glorie van weleer te herstel. Die falende Habsburgse Ryk, wat die Eerste Wêreldoorlog op gang gesit het, gee steun aan hierdie stelling. Wat egter nie genoem word nie, is dat wanneer 'n invloedryke en welvarende land of groep die mag begin verloor, word hul voortbestaan net so goed bedreig. Hannah Arendt het byvoorbeeld melding gemaak dat die Jode in Nazi-Duitsland besig was om die mag te verloor nog voor die opkoms van Nazisme. Die belangrikste Joodse instellings – die banke – was alreeds vry van Jode verklaar na meer as 'n honderd jaar toe Hitler die leisels oorgeneem het in 1933. As dit nie was vir sy golf van uitwissing nie sou die aantal Jode vanself uitgedun het deur immigrasie en laer geboortesyfers. Die feit dat hulle geen wesenlike invloed in die politiek en ekonomie meer gehad het nie maar desondanks welvarender was, was juis die rede vir bitterheid teen hulle.

Ek vermoed dieselfde geld vir die anti-Westerse reaksies wêreldwyd. Westerlinge glo nie meer in hul eie verligtingsideale nie. Amerika is nie meer 'n land van onbegrensde moontlikhede nie, maar 'n kwasi-imperialistiese boosdoener. Nie-Westerse lande besef dit en sien dat die groot Westerse moonthede op kleivoete staan. Globalisasie het veroorsaak dat ander lande nou meer invloed kry in die mondiale politiek ten koste van die welvarende Westerse lande. Die sowat 50 miljoen Moslems in Europa besef dit al te goed en beskou dit as die perfekte geleentheid om hul kultuur oor te plant, en die Europeers protesteer nouliks hierteen. 

Die voordeel – as 'n mens dit 'n voordeel kan noem – is dat Afrikaners voorloop in hierdie demografiese kurwe van magsverlies onder druk van vreemde invloede. Alle politieke bedrywighede onder Afrikaners het die potensiaal om Westerse menings wêreldwyd te beïnvloed.

Daarom is dit belangrik om hier kennis van te neem. Afrikanerpolitiek is nie net Afrikaner-politiek nie, maar toonaangewend vir die lot van die Weste as geheel. 
справка для бассейнаФільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.