James Mitchell en sy vennoot Bruce Jessen van die maatskappy Knowledge Works het die handleiding geskryf wat gebruik is om Al-Kaidaverdagtes te folter.
Mitchell, 'n toegewyde Mormoon, was voorheen betrokke by die Amerikaanse weermag se geheime SERE-program. SERE staan vir die Engelse Survival, Evasion, Resistance, Escape, en is ontwerp om Amerikaanse soldate voor te berei indien hulle gevang en gemartel sou word.
Van die metodes wat Mitchell opgeteken het is ook oorgedra uit die ervaring van die Koreaanse oorlog. Soldate word kaal uitgetrek, aan uiterste temperature blootgestel, moet harde musiek verduur en word teen mure gegooi. Die berugte waterbordonderdompeling is ook toegepas.
Albei mans, Mitchell en Jessen, is patriotiese Amerikaners wat gretig was om by die 'Oorlog teen terreur' betrokke te raak. Daarbenewens was dit 'n sakegeleentheid wat groot winste beloof het toe hulle deur die CIA genader is om as kontrakteurs op te tree.
Maar politici in Washington is gewaarsku deur ander SERE-opleidingspersoneel dat die metodes nie in ondervraging gebruik behoort te word nie. Lt-kolonel Daniel Baumgartner, in bevel van SERE-opleiding, het gemeen dat sulke tegnieke "nie baie betroubaar" is nie en dat dit die teenoorgestelde uitwerking kan hê as wat beplan is.
Baumgartner het ook gewaarsku dat dit openbare en politieke teenreaksie kan meebring as dit aan die lig sou kom. Die waarskuwings het egter nooit die ore van politici bereik nie en George Tenet, eertydse CIA-direkteur, het sy politieke base verseker dat dit die beste ondervragingsmetode is omdat dit reeds op duisende Amerikaners getoets is.