Orwell se grootste nagmerrie bewaarheid.

Deel op
Orwell het hierdie roman in 1948 geskryf en die datum omgedraai as titel.

Dit sal seker menige lid van die publiek opgeval het hoe dramaties die wêreld besig is om te verander. En hierdie verandering voorspel nie veel goeds vir die mensdom nie. Ons leef deesdae in die wêreld van skadu’s, van morele verval, van sedeprekers wat geen agting vir waarheid het nie, en moordenaars, verkragters en skurke wat die nuwe vryheidsstryders geword het.

Dit het my nou-die-dag laat dink aan die slagspreuke van George Orwell se werk Nineteen Eighty Four:

Oorlog is vrede

Vryheid is slawerny

Onwetendheid is krag

Ek moet eerlik toegee dat ek nie die boek gelees het nie, maar ek het wel die film gesien enkele jare gelede.

Toe ek die film gesien het, het dit gelyk soos ‘n wetenskapfiksieverhaal. Dit was ‘n werklikheid ver van ons bestaande werklikheid af. Egter, soos wat die tyd aanstap, begin daardie werklikheid steeds meer te oorvleuel met ons huidige realiteitssin.

So sien ons hoedat die Nobelkommitee ‘n paar weke gelede die subwersiewe Black Lives Matter voorgedra het vir die Nobel Vredesprys. Dit is nou ‘n organisasie wat – ondanks sy miljard dollar aan steunfondse – geen enkele swart student van ‘n studiebeurs voorsien het nie, geen enkele swart woonbuurt opgeknap het nie, geen enkele armlastige swart Amerikaner gehelp het nie, nóg mediese steun gebied het aan die mense wat dit die meeste nodig gehad het. Al wat hulle gedoen het is om amok te maak, onskuldige mense dood te skop en slaan, winkels en pakhuise af te brand en bakstene deur vensters te gooi, en was op hierdie manier verantwoordelik gewees vir die grootste skadevergoedings wat die Amerikaanse versekeraars nog ooit betaal het.

Want oorlog is vrede.

In 1865 is slawerny formeel beëindig in die Verenigde State en onwettig verklaar. Daar is op hierdie stadium geen enkele Amerikaner wat slawe geëien het nie, en ook geen gebore en getoë Amerikaner wat in ‘n staat van slawerny verkeer het nie. Elkeen wat sedert 1865 in die Verenigde State gebore is, is in vryheid gebore. Desnieteenstaande is daar ‘n konstante beweging wat nou steeds meer kop begin opsteek waarin van wit Amerikaners verwag word om swart Amerikaners te kompenseer vir slawerny. Selfs hier in Nederland hoor ek sommige radikale swart aktiviste wat dieselfde begin roep.

In my beskeie hoedanigheid sal ek gerus swart Nederlanders wil kompenseer vir hul slawernyverlede, maar dan wil ek eers my pond vleis eis by die Marokkane, Algeryne en Turke wat die wit Europeërs ontvoer het na Noord-Afrika en daar in slawerny aanhgehou het. Die Christenslawe, oftwel Witgoud, het méér mense se lewens ontwrig, langer geduur en was blootgestel aan veel drakonieser maatreëls as die swart slawe na die Nuwe Wêreld. Wat oorbly van my kompensasie van die Marokkane, Algeryne en Turke sal ek gerus aan swartes gee.

En passant, ek wonder egter wat sou gebeur as ons ‘n tydmasjien gehad het, en ‘n swart slaaf van weleer sou oorbring na ons tyd toe. Wat sou daardie slaaf dink as hy kyk hoe swart Amerikaanse jeugdiges – wat so ywerig om kompensasie vra – vandag leef. Bykans almal het ‘n blink geverfde motorkar, dra die nuutste modeklere, bedek met goue kettings en ringe, is gewapend, het ‘n telefoon op sak wat toegang bied tot al die kennis wat die mensdom nog ooit gehad het, woon in ‘n huis, koop en verkoop onwettige narkotika en verheerlik geweld met hul rêpmusiek.

Ek sien al in my geestesoog hoe daardie swart slaaf kopskuddend en wanhopig terugklim in sy tydmasjien.

Selfs die vermaarde Harvard Looneyversity (ek kan nie aan ‘n beter uitdrukking dink nie) beweer nou dat Covid minder gevaarlik sou gewees het as swartes eerder vir slawerny gekompenseer was.

Want vryheid is slawerny.

Die Orwelliaanse nagmerrie bekruip ons steeds opvallender. Orwell was immers ‘n hooggeplaaste inligtingsoffisier vir die Britse MI6 gewees, en hy het sy werke gebaseer op die binnekennis wat hy onder oë gehad het.

Daardie binnekennis was vroeër bekend gewees nie net binne die bewaakte fort van Groot Brittanje se skaduregering nie, maar kon ‘n mens doodgewoon in die biblioteek raadpleeg. ‘n Verbasende groot aantal afgevaardigdes verlede eeu het juis die werke van Nesta Webster, H.G. Wells, John Robison, Alexis de Tocqueville en ander gelees, wat ‘n goeie oriëntasie bied van die aard en omvang van die Wêreldrewolusionêre Beweging wat al sedert die Franse Rewolusie bekokstoof was.

Verwoerd het destyds nog sy angs uitgespreek dat as Nelson Mandela ooit president van Suid-Afrika sou word, sou die hele wêreld aan Kommunisme val. En nou sit ons nie net met ‘n dwaas soos kameraad-president Biden in die Withuis nie, maar die gesaghebbende New York Times beweer sowaar dat hul lesers voortaan nie te krities die nuusgebeure moet ontleed nie. Laat staan nog die ontslape kameraad Zbigniew Brzezinsky se dogterlief Mika wat meen dat dit hul (die hoofstroommedia se) werk is om te beheer wat ons mag dink.

Want o wee! die laaste ding wat die gevestigde orde wil hê is mense wat vir hulself dink. Geen vrae oor die koronavirus, Rusland, sleg wittes, terroriste en dies meer mag gevra word nie. Waar dit nog enkele jare gelede as ondersoeksjoernalistiek beskou was om kritiese vrae te stel, is dit nou ewe skielik herdoop tot komplotdenke, en soos ons weet is komplotdenke ‘n teken van malheid wat hoofsaaklik aangehang word deur mense met ‘n lae IK, lae selfbeeld, onsekerheid en sosiaal wanaangepas is.

Want onwetendheid is krag.

Van alle hoeke en kante kan ‘n mens deesdae dopgehou word. Jou slimfoon kan gekraak word om na jou gesprekke te luister selfs al is dit uitgeskakel, volgens Edward Snowden altans. Julian Assange word nog steeds gemartel oor sy WikiLeaks webwerf sodat ons in onkunde mag leef.Donald Trump is met grootskalige verkiesingsbedrog uit die Withuis verwyder, en die World Economic Forum het al planne klaar om ons teen 2030 volledig van ons eiendomme te vervreem.

As ons al hierdie in oënskou neem, bly daar maar net een vraag terg: Hoekom is daar geen opstand teen hierdie elites nie? Met al die gruwel wat onder die Sowjet Unie nog binne menseheugenis afgespeel het, waar is die oproerkraaiers, die ware vryheidstryders om teen hierdie komende onheil te verweer?

Dit is ‘n vraag wat ons nog vir heelwat generasies gaan pla, net soos dit Orwell gepla het.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.