Suidpunt: Afrikaanse wetenskapsfiksie (onderhoud met Machiel Viljoen)

Deel op

Welkom in die toekoms!

Meneer Machiel Viljoen is die webmeester van Afrifiksie.com, ‘n webwerf, ook ‘n kuierwerf, wat hul beywer vir die uitbou van die Afrikaanse wetenskapsfiksie en fantasie.

Ek het in 2020 aan hom ‘n paar vrae gestuur, en op Nuwejaarsdag sy vrae terug ontvang. Sommer slaggereed om 2021 op die regte manier aan te pak.

 Vraag 1

Suidpunt: Ek wil u graag bedank vir hierdie onderhoud, maar ook vir u onderhoud van Afrifiksie.com as webmeester. Dink u daar behoort meer sulke, wel, “bewonderaarsklubs” of eerder “drukgroepe” te wees wat verskeie Afrikaanse genres moet bevorder? Want as mens nie jou mond oopmaak nie, as jy nie oop gesprekke voer nie, as daar geen diskoers is nie, dan kan daar mos onmoontlik nie ontwikkeling wees nie? Ek het op Telegram onlangs met ‘n Belgiese medewerker op Wikipedia gesels, en blykbaar het jy net twéé (2) mense nodig om ‘n organisasie te registreer in “Belgenland”.  Dis ‘n dwarsklap vir die Afrikaanse mentaliteit dat daar ten minste 1 000 mense moet deelneem voor dit ‘n sukses is, en daar ‘n konstante groeiende ledetal moet wees. Eenmanorganisasies het skynbaar groter slaankrag as ‘n reuse-organisasie van 200 000 lede waar één man of vrou in elk geval al die werk moet doen! Dit gebeur maar te dikwels: “ag, iemand anders sal die werk doen, ek is oorbodig”. En so lyk die resultaat as die ander 199 000 ook so begin voel. Ek meen maar as Christen: as ‘n eenmanorganisasie soos OGOD manalleen die hele land se tradisioneel Christen-staatskole op hulle agterpote gehad het, wat kan mens met dieselfde verwoede ywer nie alles uitrig om Afrikaanse kuns en kultuur uit te bou en te bevorder nie?

Machiel Viljoen:

Ek sou wetenskapfiksie, in die besonder in Afrikaans, nòg kuns nòg kultuur noem. Behalwe vir een of twee uitsonderings, is die wetenskapfiksie in Afrikaans maar baie ongeslaagd in terme van ‘n literêre bydra. En as mens in ag neem hoe uiters min daarvan oor tyd in Afrikaans die lig gesien het, sou mens dit kwalik as deel van ons kultuur kon sien.  Dis eintlik relatief ongewoon.

Tog dink ek nie dat Afrikaanse skryfwerk eintlik swaar kry nie.  Daar is baie boeke wat te voorskyn kom, maar dis natuurlik hoofsaaklik in vertakkings wat bekend is vir sukses, soos misdaad, romantiese werke, avontuur, ens.  Maar iets soos ‘n hygroman is self maar redelik seldsaam en die verhale daarin vervat is dikwels so ongeloofwaardig dat dit ook net sowel saam met wetenskapfiksie gegroepeer sou kon word. Die vraag is egter of mens dit moet probeer verander (aanmoedig) aldan nie?

Ek het nie regtig ‘n sterk mening daaroor nie – ek twyfel of meeste van die vertakkings enigsins hulp nodig sou hê.  Wat wetenskapfiksie anders maak as baie van die ander velde, is die aspek van terminologie.  ‘n Persoon sou die mees verbeeldingryke hygroman kon skryf wat alle grense sou verskuif, sonder dat ‘n enkele woord in Afrikaans sou ontbreek om uitdrukking te gee aan die gebeure wat in die storie verwoord word.  Maar wat van wetenskapfiksie?  Terminologie is ‘n wesentlike probleem.

Afrikaans beskik oor vele vakwoordeboeke en tegniese woorde bestaan geredelik – maar selfs die erkende korrekte woord is dikwels (veral deesdae) vreemd vir mense omdat dit, basies weens luiheid van Afrikaanse sprekers, in onbruik verval (ten gunste van die Engelse term).  En dan is daar natuurlik nog daardie stel woorde wat nie eers tegnies van aard is nie– woorde wat skrywers van wetenskapfiksie uitdink maar wat bloot fiktief is.  Iets soos ‘n wringenjin uit Star Trek of die denkbeeldige en kwansuis uiters skaars materiaal “unobtainium” uit Avatar – woorde wat nie eers regtig as tegnies bestempel kan word nie want dit bestaan bloot in die wêreld van wetenskapfiksie.  Maar eens dit in Engels (byvoorbeeld) geskep is, sou ons ‘n ooreenstemmende woord in Afrikaans daarvoor benodig indien dieselfde idee in ‘n Afrikaanse verhaal benodig sou word.

Om die probleem van terminologie te illustreer, vra jouself af hoe ons reg sou kon laat geskied, in Afrikaans, aan iets soos die volgende…

“Ensign, why did the bulkhead collapse?

Sir, the warp matrix destabilised causing a flux overload in the plasma conduit that caused a breach in the structural integrity of the containment field.”

Dis definitief nie onmoontlik om te vertaal nie, maar mens gaan regtig moet sit en mooi daaroor nadink – en dit dan waarskynlik ‘n paar keer oorskryf voor dit in vloeiende Afrikaans leesbaar kan raak op só ‘n manier dat die leser dit nie self drie keer hoef te lees voor hý dit verstaan nie.  En dít, tot ‘n groot mate, het ons genoop om ‘n werf op te slaan.  ‘n Plek waar mense kan aanklop vir hulp en verwysing. En waar daar self skeppend opgetree kan word deur ‘n bydra te maak tot die kleurvolle wêreld van fantastika of tot die taal self deur woorde te toets onder lesers en dalk te vestig.

Onder Gerhardus Thompson en sy vrou se leiding het die eerste wetenskapfiksiewoordeboek die lig gesien.  Afrifiksie is tans besig om daardie woordeboek te hersien en uit te brei met inagneming van moderne verwikkelinge in die internasionale landskap van die spekulatiewe fiksie genre.

Die bedoeling van Afrifiksie is nie om ‘n bewonderaarsklub of drukgroep te probeer wees nie, dalk eerder ‘n uithangplek vir entoesiaste en diegene vir wie dié gogga gebyt het – dit het natuurlik ander nut ook.

Vraag 2

Suidpunt: Nou gaan ek minder diplomaties wees. Ek is bekend daarmee dat Afrifiksie in die lewe geroep is om onder andere aanvanklik as afsetgebied vir Thompson Boekdrukkery te dien, waarna ‘n gemeenskap daaromheen ontstaan het. Maar toe ek in 2008, dis nou in my matriekjaar, begin soek het na ‘n Suid-Afrikaanse wetenskapsfiksieklub, toe kom ek op SFFSA se webwerf af. Om die minste te sê, ek dink die ontstaan van Afrifiksie is om presies dieselfde geldige rede waarom PEN Afrikaans en PEN South Africa afsonderlik hul ontstaan gekry het. As mens praat van “Suid-Afrikaanse literatuur” word elke teks blykbaar net vir één taal ingepalm. En dis Engels. En basta! Dat daar toe ‘n afsonderlike Afrikaanse webwerf op die been sou kom is vir my nou maar net die noodwendige gevolge. Of dink u Afrifiksie is maar net suiwer desentralisering en spesialisering van ‘n spesifieke taal, by name Afrikaans?

Machiel Viljoen:

Ek hoop regtig dat ek die vraag reg verstaan – ek twyfel half.  Dit kom voor of daar ‘n sub-teks is wat ek nie presies insien nie.  Kom ek antwoord so ‘n bietjie in die algemeen.

Afrifiksie poog nie om die enigste platform te wees in hierdie veld nie.  Ons glo dat ons ‘n plek het in die veld van fantastika, maar ons weet dat ons te klein is om aan álle aspekte van hierdie veld reg te laat geskied – ander wat wil deelneem is dus welkom.

Ons het byvoorbeeld by geleentheid probeer, as ‘n proefneming, om ‘n oop gesprek te huisves op die Afrifiksie platform vir mense wat met mekaar wil praat en idees wil deel.  Wat ‘n mislukking!  Aanspreeklikheid blyk toe ‘n groot probleem te wees en dit het byna ‘n voltydse polisieman geverg om die gesprek te sensoreer.  So, indien iemand kans sou sien daarvoor om so ‘n gespreksplatform beskikbaar te maak vir dié doel, sou Afrifiksie dit heelhartig ondersteun.  Ons het geen ambisie om ‘n monopolie in hierdie gebied te hê nie.  Maar in dieselfde asem moet ek sê dat ons dinge voortdurend uitbrei, leemtes probeer vul en poog om relevant te bly vir almal wat belang het hierby.

Vraag 3.1.

Suidpunt: Afrifiksie se Kompetisie 2020 loop al lank. Dit moet 100 bladsye wees en moes voor 16 Desember 2020 ingelewer wees. Die wenner word einde 2021 aangekondig, nadat die hele paneel elke storie deurgelees het. Nou van die voorwaardes is dan ook:

Soos altyd in vorige jare moet daar weggebly word van enige Engelse of anglisistiese terme, en die geleentheid moet juis gebruik word om goeie nuutskeppinge te vorm waar goeie Afrikaanse woorde nie bestaan nie.

Ek weet daar is ‘n wet van die Meders en die Perse êrens in Die Afrikaanse Skryfgids opgeneem dat jy nie twee tale op dieselfde blad mag gebruik nie, omdat dit glo die leser vervreem, maar …

O, ekskuus, hierbo staan slegs “Engels” en “Anglisismes”. Dis goed so. O, maar wat is dit hierdie:

Deelnemers moet poog om sterk en oortuigende karakters te bou wat die Afrikaner se karakter en kultuur uitbeeld, met funksionele en praktiese dialoë tussen karakters. Brabbeltaal en uitheemse woorde moet ten alle tye vermy word. (my beklemtoning)

Ek wil gou eers hierby stilstaan.

Die Afrikaner dra al so swaar aan die etikette op sy reistassie, ek wonder of hy nog weet wat hy is. Party beskou hom as ‘n geharde pionier, ‘n baanbreker, ‘n wegbereider, ‘n boer. Vir ander is hy half verdierlik, soos op een T-hemp by ‘n informele stalletjie staan: “The toughest breed on earth”, met die beeld van die gelyknamige beesras daarby. Hy was al die dienskneg van sy/haar deurlugtige majesteit van Brittanje, vir die Dertigers die stamgenote van die Hollander en inherent dus by uitbreiding deel van die Groot-Nederlandse gedagte. Vir ander was hy die slagoffer en randeier van die Britse Imperialisme en hovaardigheid. Vir ander, die ekonomiese katalisator sedert 1948. Vir die Marxiste is hy sonder twyfel die onderdrukker, tegelyk die melkkoei en parasiet, die simbool van pynbesorging in die geskiedenis; ‘n las, ‘n steen des aanstoots wat uit die geskiedenisboeke so gou doenlik moet verdwyn. Terwyl die Sestigers probeer uitreik het na die Franse denkrigtings, op ‘n grand tournée in Europa, op soek na ‘n alternatiewe identiteit as wat die Dertigers, Veertigers en Vyftigers (met kontreikuns, dorpsheid, die wrede stad, plaasromans, ens. ens. ens.) hul dit voorgestel het, verwerp die Tagtigers hierdie Eurosentrisme en kruip soos ‘n slak in hul dop weg in ‘n bekrompe wêreldjie; nee, die Afrikaner is net nog ‘n “witboy in Afrika”, met die gevolg dat die letterkunde:

‘n sekere elegansie verloor vir ‘n brute en verwarde herwaardering van prioriteit in die Suider-Afrika waarin ons woon. – Jan Rabie, Parys se Sestigers – De Kat, September 1988 (Uit: Buidel. 1989. bl. 52).

 

Vir gulsige ondernemings is die Afrikaner kleingemaak tot blote onversadigbare konsument, ‘n kontantmasjien sonder identiteit. Vir die groot monistiese mediahuise bestaan die struikelblokbegrip nie eens nie, nee, die Afrikaner moet in die Suid-Afrikaanse massa opgeneem word; dus, poef!, verdwyn. Of, maar bloot ‘n verlengingstuk bly van die reeds gevalle Pax Americana, met Suid-Afrika as die 51ste staat van die Verenigde State van Amerika.

Vir my is die Afrikaner:

1)      In wese ‘n Europeër van gees wat hom in Afrika, maar ook dwarsoor die wêreld bevind.

2)      En is daarom, die wettige erfgenaam en deelgenoot in al die kultuurskatte wat strek vanaf so ver wes as Bjargtangar in Ysland (of Azores, ‘n Portugese Eiland in die Atlantiese Oseaan) tot so ver oos as die Diomede-eiland van Rusland. In die EU alleen praat ons dus van 160 kulture. Rusland het op sy eie 190 kulture. Ons praat dus van 350 kulture en geskiedenisse waarin die Afrikanerdeel het (buiten dié kulture wat in die slag van die geskiedenis ondergegaan het).

3)      As erfgenaam het hy die volste reg om op hierdie intellektuele kultuurskatte aanspraak te maak.

4)      Omrede die Afrikaner dus so ingelig in hierdie moderne tyd is, veral nog omdat die Europese tale wortelgeskiet het in Suid-Amerika en Afrika, het hy ‘n veel vollediger en nugterder blik en begrip watter tendense en programme wel geslaagd was en wat nie. Ons praat hier ook van die veelkantigheid van die waarheid.

5)      Met die allergrootste selfvertroue  is hy dus ‘n tussenganger, ‘n agent, ‘n tussenhandelaar, uitruiler van onontdekte inligting en die wetenskap, wat nietemin lojaal bly aan sy eie mense, taal en kultuur. En juis omdat hy die Europese kultuurgoed, sy erfgoed, waardeer, kan hy ook met nuwe oë na sy eie wêreld rondom hom kyk en geleenthede raaksien.

6)      Wat, omdat hy te besig is om inligting in te win en veronderstellings te ondersoek, nie tyd het vir goedkoop politiek, halfgebakte waarhede, of storietjies oor dwelmmisbruik op die Kaapse Vlakte wat hom in die eerste plek nie aangaan nie (want die sterre en ideale waarna hy streef is te hoog vir sulke banaliteite), of enige andere vorm van nivellering nie. Dis vir die voëls.

7)      Soos mens ‘n olieboor in die grond sink, ondersoek die Afrikaner die verskillende strata van ontwikkeling, die verloop van die geskiedenis, om ‘n geheelbeeld te vorm, al moet daar teruggegaan word tot by die troon van die Sumeriese ryk en ander oerbeskawings wat tot niet gegaan het. En natuurlik, die boeke in Afrikaans word heel eerste afgestof en krities benader.

8)      En wat ravemusiek, kleresmaak en Javakoffie aangaan: oor smaak val daar niks te beredeneer nie.

Wat is u, of Afrifiksie, se definisie van die Afrikaner? Want dit gaan beslis bepaal watter rigting die verhaalgegewe inslaan.

Machiel Viljoen:

Sjoe, wat ‘n vraag…!

Om te begin, ons weet beide dat daar nog nooit werklik ‘n volledige definisie saamgestel kon word vir ‘n Afrikaner (of Boer) nie.  Die SAUK het al werkswinkels hieroor gehou, met min konsensus.  Maar tog het ons almal ‘n idee van wat dit (in die algemeen) beteken.  En ek stem saam met jou siening van ‘n Europese herkoms, maar wat tog ook ‘n sterk aangepaste identiteit, wat uit ervaringe vanuit ons bestaan hier aan die suidpunt ( ) van die vasteland, op ons ingebrand en afgedwing het.

Enkele dimensies wat dikwels nagelaat word (dalk nie doelbewus nie) uit die beskouing van ‘n Afrikaner, sluit die volgende elemente in:

  1. Die mense hier is nie bloot eks-Europeërs wat lus was vir ‘n verandering nie, maar ‘n groot gros van hulle het gevlug vir hul geloofsoortuigings en het spesifiek ‘n Calvinistiese tipe protestante geloof saamgebring wat in baie gevalle vir geslagte lankin stand gehou was – en soms steeds word.
  2. Dat mense wat bereid was om te vlug op vaartuie wat dikwels nie hul bestemming sou bereik nie, eerder as om bloot te konformeer of voor te gee, hardkoppige wesens is met sterk sieninge wat nie geredelik in ‘n sjabloon van ‘n samelewing wat eenvormigheid beloon, inpas nie.
  3. Dat die unieke omstandighede van die harde bestaan hier onder op die wêreldkaart, ‘n bestaan geverg het wat telkens slegs die taaistes en vindingrykstes laat slaag het.
  4. Dat die wil om as ‘n unieke groep gereken te word, wat afsonderlik is van dié wat steeds in hul lande van herkoms woon, en ook afsonderlik is van inheemse groepe en totaal ander immigrante-groepe, het al sterker geword en het uitgeloop op ‘n eie taal, onafhanklikheid, weerbaarheid, regering, plaaslike oplossings, ens.
  5. Dat hierdie groep, wat ten spyte van talle onderlinge verskille, tog hulself al hoe meer uitgesonder en afgebaken begin beskou het en ‘n groot klomp gemeenskaplike gewoontes as hul eie begin sien het, hulself begin beskou het as ‘n aparte volk met unieke kultuurbesit wat afsonderlik is van die ander – wat derhalwe hul bestaansreg as unieke volk beklemtoon het.

Daar is egter geen twyfel dat, waar ons as Afrikaners onsself bevind, ons voortgesette bestaan vanuit verskeie bronne bedreig word.

  1. Vir die doel van dié onderhoud is die vernaamste bedreiging die superstratum wat Engels op Afrikaans verteenwoordig. Afrikaans, meer selfs as baie ander tale, het ongelooflik intieme kontak met Engels weens redes soos die feit dat Suid-Afrika ‘n voormalig Britse kolonie was en dat Engels die koloniale taal was wat nooit afgeskaal het in prominensie nie.Ook dat beide van Germaanse afkoms is en dat sinsbou daarom uiters ooreenstemmend is.
  2. Die toenemend eensydig liberale gedagtegang wat die meeste van die hoofstroom en sosiale media, die universiteite, uitsaaiwese, die rolprentwêreld, drukgroepe, ens. oorheers – wat juis protestante christenskap ondermyn.
  3. Die idealistiese en ietwat utopiese siening dat ons hier as ‘n reënboognasie bestaan wat ‘n kollektief verteenwoordig waarbinne daar nie regtig ruimte toegelaat word (in praktyk) vir die afsonderlike elemente waaruit die reënboog saamgestel is nie.(Bv. my Suid-Afrikaanse bank se internetbankwese is slegs in Engels beskikbaar – 11 amptelike tale se voet…)

In die lig van dié (en ander soortgelyke) faktore, voel Afrifiksie om bydraes te reguleer deur behoudend (vanuit ‘n tradisioneel Afrikaner-waarde oogpunt) te stipuleer en eerder Afrikaans aktief te probeer bevorder.

Tog wil ek byvoeg dat hoewel ons dié reëls stel, ons nie een keer die afgelope vier jaar enige bydra gediskwalifiseer het nie – ons probeer slegs sekere tipe inhoud ontmoedig.

Oor die eerste deel van jou vraag die volgende.  Ons kompetisies vind jaarliks plaas, so mense weet natuurlik van die begin van die jaar af om te gaan kyk na wat die vereistes vir die bepaalde jaar gaan wees.  Die 100 bladsye (min of meer) is die kompetisie vir hierdie jaar, maar dis elke jaar anders.  En dis nie altyd geskrewe skeppings nie.  In die verlede het ons al grafiese kuns, rekenaarspeletjies, grimeerkuns, ens. gehad as kompetisies.  Ons is dus in afwagting om te sien wat dié jaar sal oplewer.  Dis terselfdertyd ‘n proefneming om vas te stel waarvan mense hou en waaraan hulle graag sal deelneem…

Vraag 3.2.

Suidpunt: Om nou aan te sluit by die vorige vraag:

Deelnemers moet poog om sterk en oortuigende karakters te bou wat die Afrikaner se karakter en kultuur uitbeeld, met funksionele en praktiese dialoë tussen karakters. Brabbeltaal en uitheemse woorde moet ten alle tye vermy word. (my beklemtoning)

 

Goed so. Ek hou ook nie van “power bank” nie, ek verkies “kragkassie”.

Maar met my definisie hierbo nou in gedagte van die Afrikaner, waarom word ander onskuldige (kuns)tale met dieselfde swaard gestraf as Engels? Hoe kan mens byvoorbeeld wetenskapsfiksie skryf as jy nooit met ander groepe of wesens in aanraking kom nie? ‘n Ruimtewese sal sonder twyfel beswaar maak oor sy taalregte wat in die teks verontagsaam word.

Hoe skryf ons oor Afrikaners in ‘n vreemde land of tyd? Ek sou dink dit is nie die rustige skink van moerkoffie op die agterstoep nie, maar juis in die vreemde in wat die eie op sy beste benadruk. Wanneer jy op jou eie bene moet staan en sin maak van hierdie “vyandelike omgewing van die vreemde”, dan is jou hele verwysingsraamwerk waarmee jy grootgeword het jou metgesel. Jou enigste metgesel.

Die Thompsons self was tog in die Verre Ooste? ‘n Mens sou dus byvoorbeeld meer Oosterse bewoording verwag uit hul pen, veral met die stutbalke of iets soortgelyk van die besonderse argitektuur.

Of mens weet teen dié tyd dinge verloop aansienlik vinniger as jy “xiāngshuǐ”  (reukwater) in die Chinese winkel op jou Afrikaanse dorp beleefd gebruik. En terwyl die winkelier deur sy negosieware rondkrap, sien jy daardie snaakse artefak teen die muur raak…

 

En hoe gemaak met ‘n Afrikaner wat in Rusland sit? Sekere woorde, soos prof. T.J. Haarhoff al meer bepaald oor Latyn gesê het, is eenvoudig net onvertaalbaar en dan word dit maar leenwoorde of lompe omskrywings.  In Russies tref ons die woord (аврал) “awral” aan. Dit is op sy eie ‘n leenwoord uit die Hollands “overal” (volgens die Russiese Wiktionary) of Engels “overall” (volgens die Russiese Wikipedia) wat ‘n noodkreet op ‘n skip was in krisistyd.  Almal moet dan orals inspring. Nou het die definisie ‘n nuwe bybetekenis: dit is, weens swak ekonomiese beplanning, wanneer daar ‘n tekort of agterstand ontstaan en spesialiste of ‘n taakspan inderhaas nou moet inhaal daarmee.  So ‘n woord het ons eenvoudig nie in Afrikaans/Nederlands of Engels of Duits of Frans nie, en ek weet regtig nie hoe mens so ‘n omvattende begrip kan munt nie. Veral nie ‘n begrip wat presies dieselfde twee betekenisse saamvat soos in Russies nie.

As mens in die hinterland van Transvaal is, gaan ‘n boorling doer op die platteland ‘n rapsie meer geneig wees om ‘n paar woorde uit ‘n Nguni-taal te leen, veral wat binne ‘n tradisionele kraal gebeur (vergelyk byvoorbeeld wyle H.S. van Blerk se Gotiese boek, Braakland van die Bose). Hier is weer sprake van ‘n lokale kleurtjie. Al sit ek in die Overberg en nies in die winter van die gifgeel kanolalande, is my kop daar êrens in die modderkleihut daar vêr.

Net so sal die vermaarde argeoloog tog sekerlik nie die geleentheid laat verbygaan om met soveel panache en flair sy Franse of Italiaanse geleerde woordeskat te laat uitwoed om sy kwetterende metgesel op sy neus te laat kyk nie: u moet weet, hy is immers ‘n geleerde man!

Ander kere, soos dr. Dan Roodt in Moltrein maak (bl. 69-70), praat twee vreemdes in Parys met mekaar in Frans totdat die een sê, “mais je suis sud-africaine, je viens du Cap” en die ander “C’est pas vrai! Moi aussi! Je viens de Pretoria”, gevolg met die vraag: “Jy is nie dalk boonop Afrikaans nie?” Van toe af slaan hul albei in hul moedertaal, Afrikaans, oor.

Ons gebruik deesdae Google Translate en ander vertaalprogramme soos Reverso.net as ons vreemde tale teenkom.  Persoonlik voel ek dit is nie meer die 1990’s nie. Ek voel eintlik uiters gevlei as ‘n skrywer my met ‘n ander taal onkant betrap, want die boodskap word uitgestuur: “liewe leser, ek het so ‘n hoë dunk van jou, hier is ‘n hele paar eksotiese sinne in [enige Oosterse dialek] vir jou om mee te speel vir ekstra leesplesier”.

As mens die eksotiese woorde baie, baie spaarsamig en sorgsaam soos speserye sou gebruik (nie te veel nie!), kan mens dan net ‘n voetnota byvoeg? Of ‘n glossarium agter? In Peter Berling se boekie van 1 278 bladsye (Der Schwarze Kelch: Roman) word 64 bladsye afgestaan aan “Anmerkungen”. Ek bedoel nou as mens graag wil begin voorberei vir die volgende kompetisie in 2021?

Machiel Viljoen:

Jy maak ‘n goeie punt, Suidpunt – ek kan insien dat dit ‘n teks kan bevorder en selfs optower.  Dit was egter nog nooit ‘n faktor gewees in enige inskrywing nie.  Deelnemers wil nóóit (ons ontvang dikwels navrae juis oor dié saak) ander tale gebruik nie.  Alleen maar Engels.  En dit gaan nooit oor speserye nie, dit gaan áltyd daaroor om ‘n gesprek te laat klink “soos dit daagliks op straat gehoor word sodat die leser makliker daarmee kan assosieer” – asof iemand dink dat mens nie reg sou kon verstaan as dit maar bloot in regte Afrikaans sou wees nie.

Die ander moontlikheid is dat iemand juis ‘n Engelse karakter in ‘n teks wil voorstel.  In Deon Meyer se onlangse werk, Koors (hy skryf nie veel wat as wetenskapfiksie bestempel kan word nie, en dié een is so op die drempel), is die Engelse teks talle bladsye lank (ek sou raai amper die helfte van die ganse boek).  En natuurlik kan elke Afrikaanse persoon dit lees en verstaan (ek twyfel of elke Engelse persoon dit sou kon lees en dit ook verstaan), maar waarom? In so ‘n soortgelyke Engelse teks, indien die skrywer etlike bladsye sou wou deurgee waar iemand in Russies, Duits of Afrikaans aan die woord sou wees, sou die vreemde taal eenvoudig vir die leser in Engels geskryf word en bloot met aanhalingstekens of in kursief aangedui word – dis immers dan tog ‘n Engelse boek.

En die Engels voeg min by tot die begrip of konteks van die verhaal of die dialoog.  Tewens, wanneer van die vroeëre Afrikaanse boeke uit die wetenskapfiksieboekeskat gelees word, is dit nie net heerlik om nie ‘n énkele Engelse woord te sien nie, maar verfrissend om te sien hoe skrander die skrywer die taal aangewend het om nie net die idee oor te dra nie maar ook om die leser in staat te stel om die omstandighede te visualiseer.  Baie moderne Afrikaanse skryfwerk onderneem om ‘n Engelse sin, woord-vir-woord na Afrikaans om te skakel – deur nie eens aan die woordorde te torring nie (amper ‘n tipe transliterasie). Ons samelewing het verander in mense wat in Engels dink deur Afrikaanse woorde te gebruik (of wat Afrikaanse woorde gebruik om Engelse sinne meer te vorm) – en hoe jonger die skrywer, hoe meer algemeen raak hierdie verskynsel.  In ‘n gesprek sou dit soms gevra word wat die Afrikaanse woord vir ‘n sekere Engelse woord is – die werklikheid is dat daar dikwels nie ‘n gepaste woord as sodanig is nie, maar eerder dat die sin verander behoort te word om ‘n dienooreenkomstige Afrikaanse weergawe van die Engels te wees.  Hierdie punt kom duidelik na vore wanneer ‘n Engelse teks vergelyk word met een wat deur ‘n vaardige Afrikaanse vertaler oorgesit is – die sinne se konstruksie verskil, en selfs die paragrawe se samestelling sien anders daaruit.

Daar is ‘n reuse verskil tussen ‘n storie optooi met vreemde woorde of frases hier en daar, en die taal bloot swak en onsuiwer gebruik.  En dis die tweede van dié twee moontlikhede waarteen ons gekant is – nie die eerste nie.

So, in opsomming sou ek sê dat ons gerus die reëls kan aanpas vir die redes wat jy aanvoer, maar dat dit kwalik ‘n verskil sal maak aan dít wat ons as inskrywings ontvang.  Ons het nog nooit so ‘n geval gehad of eers ‘n navraag daaroor gekry nie.

Vraag 4

Suidpunt: Een van die ouer kompetisievoorwaardes is ook:

Inskrywings wat enige elemente van godslastering en die uitermatige gebruik van skelwoorde en uitgerekte sekstonele bevat sal onderhewig wees aan diskwalifikasie.

 

En as mens in Frans vloek? Tel dit ook?

Nou kyk, ek doen al lank navorsing in my vrye tyd oor sensuur en selfsensuur. Ek kan dus verstaan as mens ‘n boek of verhaal toeganklik en geskik wil maak vir ‘n 12-jarige of ‘n 10-jarige. Want wat het die kind anders om te lees? As mens weet wie die teikenleser is, dan weet mens hoe om dubbelsinnig genoeg te skryf om sowel die kind as die volwassene te vermaak.

Oor die seks: tensy seker in ‘n langdurige voortplantingseksperiment, in ‘n laboratorium, soos tog so oorbekend in van die ontvoerdes se getuienis op ‘n ruimtetuig in Whitley Streber se boek Communion (of, moontlike drogbeelde, of wensdenkery, of verlange, of growwe fantasieë (?) in Elizabeth Klarer se outobiografie), of ‘n relaas oor ‘n robot-gigolo se doen en late, kan ek ook nie insien wat dit eintlik met wetenskapsfiksie uit te waai het nie.

Tog, mens het seker ook die nodige diskresie hoe ver mens kan skimp en ogies maak. Anders sit jy met twee verstokte houtbeeldjies op ‘n intrige-skaakbord wat net rondgeskuif word. Daar is geen bindende gevoel of emosie nie.

Maar bewoording het ‘n sekere betekenis en vir elke mens ‘n ander geladenheid of selfs funksionaliteit, dubbelsinnigheid, trippelsinnigheid, veelsinnigheid, en dit raak al hoe moeiliker vir mens om die punt te bereik waar jy sê: “dit is nou heeltemal onfatsoenlik en oorbodig”. As voorbeeld, laser-arsenaal oorgehaal in albei hande:

“Kom uit daar, jou tweegatjakkals!”

“Kom uit daar, jou vervlakste maaifoedie!”

“Kom uit daar, jou wetter!”

“Kom uit daar, jou satang!”

“Kom uit daar, jou bliksem!”

“Kom uit daar, jou donder!”

“Kom uit daar, jou poeph–!”

“Kom uit daar, jou moersk—!”

“Kom uit daar, jou klein k—!”

 

Elke woord hierbo roep beslis ‘n ander gevoel op.

Hoe weet die beoordelaars dus waar om die perke te stel? Of, soos gestel word, moet jy maar net die webmeester kontak as jy onseker is?

Machiel Viljoen:

Ek skat so, ja.  Die een ding wat jy duidelik uitwys is dat ons reëls ver van volmaak is.  En ek gee toe dat jy op ‘n tegniese vlak korrek is.  Maar in praktyk is dit nie juis iets waarmee ons veel paaie kruis nie.  Mense wil meestal bloot blatante vuil taal inwerk wat ydellike gebruik, anatomiese terme of seksuele terme (waarvan die F-woord met sy vele wisselvorme natuurlik ‘n gunsteling is) behels – onder die vaandel dat dít is hoe mense deesdae praat.

Baie skurwe tipe woorde laat ons gewoonlik maar deurglip – d.i. woorde uit die weer, algemene skel- en kras woorde, ens.

Ek vermoed dat ons maar ‘n algemene verbod probeer plaas omdat dit té tegnies raak om presies elke denkbare kras woord en konteks daarvan te probeer definieer. En baie sou argumenteer dat ons onvermoë om dit behoorlik te omskryf beter hanteer sou kon word deur liewer niks hieroor te sê nie en dit eerder aan die skrywer oor te laat.

Maar uit wat ons tot nou toe gesien het, sou dit eenvoudig lei tot ‘n versameling verhale waarin daar dikwels growwe misbruik voorkom (dikwels sonder enige funksionele nut of waarde – eenvoudig maar om een van die karakters van die ander te onderskei as ‘n vuil bek) of wat só vulgêr of banaal is dat ons dit sal móét sensor – dink nou maar aan neerhalende verwysings na ras of geslagsoriëntasie wat ook maar deel uitmaak van hierdie kwessie.

In praktyk sou ons egter, in alle waarskynlikheid, al jou voorbeeldsinne hierbo toelaat behalwe altemit die laaste twee…

Ons bly nou maar van mening dat vuil taal, soos vele ander vergrype, sonde verteenwoordig wat ons nòg kan ondersteun en verdra, en nòg ons naaste kan toelaat om dit te pleeg en ons platform te gebruik as podium om dit ten toon te stel of ander te beïnvloed.  Selfs die openbare uitsaaier skram weg van dié slaggat, en mens moet hard gaan soek na gevalle waar jou laaste twee voorbeeldsinne op RSG gebruik sou word – selfs tydens ure wanneer 10- of 12-jariges nie sou luister nie.  Nou waarom dan inskrywings oor ‘n ander kam skeer?

Vraag 5

Suidpunt: Wie dink u is die varke in die verhaal waarom die Afrikaanse wetenskapsfiksie so ‘n stadige opgang beleef het? Ek verskoon onmiddellik die universiteite, want in my tweedejaar (2010) het ons Afrikaanse wetenskapsfiksie as marginale Afrikaanse literatuur behandel. Die voorgeskrewe werk was C.J. Langenhoven se Loeloeraai en “Die Miljardplaatjies” en “Fofelooi is Sjorsjor” deur P.C. Haarhoff. Dus: is dit moontlik die uitgewers, soos Eben van Renen (2012) al genoem het, wat so uit pas met die leserspubliek se smaak is, die lesers se intellek onderskat, of volgens ‘n bepaalde doktrine moet werk, of so winsgedrewe is om die “laagste gemene deler” (middelmootliteratuur) te soek om die grootste omvang geld in te oes, dat hul selfs die manuskrip van ‘n fantasieskrif soos Harry Potter sou afgekeur het? As dit waar is, lê daar nog hoeveel goeie manuskripte daarbuite wat ons eintlik ontsê is.

Machiel Viljoen:

Ek wonder of daar ooit ‘n vark is – ek dink nie eintlik so nie.  Ek dink bloot dat ons (die Afrikaanse diaspora van die Europeërs) onsself nooit werklik deel gevoel het van die ruimtewedloop wat die Verenigde State en die Sowjetunie meegesleur het en wetenskapfiksie daar laat ontplof het nie.  Hier het dit nooit regtig ‘n vername veld geword nie – nie vir skrywers of lesers nie.  Op dieselfde noot, daar is baie min belangstelling by ons Afrikaanses in die veld van superhelde – ons het maar enkele voorbeelde daarvan. Weereens, dis bloot maar (histories) iets wat in die VSA en Japan gebloei het.

Wetenskapfiksie in Afrikaans was nog nooit (onlangs) iets wat besonder winsgewend was nie.  Amper sonder uitsondering is die skeppers van Afrikaanse wetenskapfiksie bloot entoesiaste wat graag wil deelneem of iets nalaat – hulle is ook gewoonlik amateurskrywers sonder enige opleiding of ervaring in skryfkuns. Kommersiële skrywers vind nie juis wetenskapfiksie ‘n besonder winsgewende vertakking nie, en probeer soms hul hand een of twee keer daarin en fokus dan liewer op ander moontlikhede.

Maar is dit verkeerd?  Móét Suid-Afrika byvoorbeeld ‘n internasionale bofbal- of yshokkiespan hê wat ons internasionaal kan verteenwoordig, of is dit aanvaarbaar dat enkele skole dit speel en dat dit nie op provinsiale of nasionale vlak bedryf word nie.  Is dit nie maar ‘n geval dat dit bloot die verbeelding van enkeles aangryp wat dan daarby inval nie?  Dalk verteenwoordig wetenskapfiksie bloot maar ‘n breukdeel van die verbeelding van die Afrikaner-samelewing.  Deesdae is daar so baie Engelse wetenskapfiksie (Sci-Fi, Syfy, SF), dat diegene wat daarvan hou dit bloot in Engels lees (want hul kan), en dit sou ‘n daadwerklike poging verg (meer nog as in enige ander vorm van fiksie) om bekwaam te raak in die lees of skryf van sodanige materiaal.

Ek wens dit was anders, maar die koers waarteen Afrikaanse wetenskapfiksie geskryf word lyk min of meer konstant sedert die ontstaan daarvan – en dit bly ‘n klein deel van die totale aantal gepubliseerde Afrikaanse werke wat oor daardie tyd die lig gesien het. Waarom dan ‘n tipe eugenese toepas om die psige van die Afrikaner te probeer wysig?

Vraag 6

Of is dit die lesers wat die varke in die verhaal is? Is die Afrikaanse leser nog nie gesofistikeerd genoeg nie? Die onmiddellike vraag is dan: wanneer gaan dit dan nou eendag regkom?! Dis al 96 jaar sedert Afrikaans erkenning geniet. Of moet ons gelate aanvaar:

“Maar ‘n volk leer stadiger as ‘n enkeling.” – P.C. Schoonees, Rondom die Woordeboek, 1958, bl. 84.

Kyk, jy kry mos die mens wat op ‘n fossiel sal afkom (wel, diegene wat nie oopoë daaroor sou struikel nie), afbuk, dit optel, en bloot êrens op ‘n boekrak vir die mooiheid staanmaak om stof te vergader.  Soos die res van sy boeke. Dit is net nog ‘n versamelaarsitem. Hoeveel mense sal ‘n fossielkenner aan die universiteit kontak, ‘n foto of twee stuur, verwys word na ‘n deskundige, om uiteindelik die naam “Australocoelia tourteloti” te wete te kom? En daarna, met die prikkelende nuutverworwe kennis (want die naam ‘Australocoelia’ beteken min of meer Suiderhemel in Nieulatyn) – sal hierdie persoon na https://paleobiodb.org/navigator/ gaan, die einste ‘Australocoelia’ intik, en dan met ‘n skok besef: “Magtig! Hierdie groep is nie alleen in die Karoo, Knysna en Worcester te kry nie, maar daar is ook spore in Suid-Amerika. Die kontinente was een: nog ‘n puntjie vir Alfred Wegener!”. Opeens is daardie stuk nuttelose, nietige, brose brokkie aarde met skulppatrone op in sy kleinigheid van groot en besonder diepe betekenis.  Vastelande word verbind waar telefoonpale oor oseane nie meer kan nie. Daar is ‘n oergeskiedenis wat nou oor onbekende kontinente strek waar ewe onbekende tale en volke vandag wemel en maal. Die wêreld word rond, van soveel verskeidenheid, as maar net die stuk grond aan die voet van die berge waar die ding opgetel is. Die wêreld is skielik groot! So wyd gespan soos die hele sterbesaaide gewelf van die nagtelike suiderhemel…

Maar vir die leek bly dit net ‘n mooi klip. En dis al wat hy sal bly.

As mens Martie Preller se boek Hart van Zeebak (2004) lees, en jy kyk na van die ou resensies in die hoofstroomkoerante uit die jaar 2005, dan is dit vir my so duidelik soos daglig dat niemand nog kon insien die teks brul Jungiaanse sielkunde nie. Want die agtergrond is net nie daar nie. Niemand het skynbaar Preller se ander werke of haar kommentaar of skryfgids bekyk nie. En dus kry die boek ‘n swak of middelmatige punt. Mense lees goed te letterlik en kan die boek dus nie na waarde skat of beoordeel nie.  Moet die skrywer dan nou maar ‘n “bylaag” elke keer agterna begin byvoeg vir die onleerbare leke? Dis tog wat Preller gedoen het met In die tyd van die Esob – ‘n Gids (2000) vir haar Sanlam-pryswenner van 1996. Of moet mens so skryf dat die teks steurend “didakties” voorkom, soos daar al van Langenhoven se Loeloeraai gesê is? Of bied wetenskapsfiksie juis die geleentheid vir mense vanaf kleintyd om werklik te leer wat “uitlegkunde”/”hermeneutiek” beteken?

Machiel Viljoen:

Ek het nie die vrae vooruit gelees nie (ek antwoord hulle een-een soos ek afbeweeg), so ek sien ek het al gedeeltelik hieraan geraak in die antwoord op die vorige vraag – en in die eerste vraag.  Nietemin, ek dink dis wensdenkery om te dink dat mense (op groot skaal) die moeite sal doen om die nodige woordeskat aan te leer om ‘n vertakking van letterkunde te benut wanneer daardie mense reeds toegerus is om dit in Engels te lees waar daar ‘n feitlik onuitputbare bron beskikbaar is.

Wat egter wel verstommend geslaagd is, is wanneer die skrywer algaande die nodige nuwe terme in die teks invoer deur dit telkens aan die leser uit te lê deur is stukkie dialoog of beskrywing – soortgelyk aan hoe nuwe karakters of unieke omgewings in ‘n verhaal ingevoer word.  Die skrywer moet dus nie die nuwe woord (tensy dit ooglopend bekend is) net begin gebruik asof dit maar net soos elke ander Afrikaanse woord is nie, maar dit uitlê deur van ‘n geskikte letterkundige metode gebruik te maak.

Ek dink dis juis waarom gewone skrywers en hul tegnieke nie sondermeer sukses met wetenskapfiksie het nie – die aanslag moet anders wees, en dit verg oefening om vaardig te raak daarmee sodat dit nie vir die leser geforseerd voorkom nie.

Vraag 7

Suidpunt: Dan ook – is die skrywers nie dikwels maar self aandadig aan die ondergrawing van die Afrikaanse wetenskapsfiksie nie? Van die produkte wat deur van die uitgewers se drukkers gestoot is was dikwels net ‘n maklike storietjie vir ‘n maklike geldjie. Die verhaal is so yl, dit word met onsinnige woordekraam ‘n sware miskraam. En woeps! In die drom. Dit was een boek te veel. Dit word later die een teleurstelling na die ander, beskuldigings van uitbuiting, Boereverneukery, volksverraad, en so kry die genre, en weer eens Afrikaans in sy geheel, net nog ‘n lelike klad op sy naam.

Machiel Viljoen:

Dalk is jy reg.  Ek sien die saak egter anders.  Baie skrywers in dié veld droom nie van geld of rykdom nie.  Dis dikwels maar ‘n entoesias wat ‘n storie in sy kop het wat hy graag wil deel.  En met die nuwe verwikkelinge soos e-boeke, selfuitgewery, ens. raak dit al makliker om ‘n storie voort te bring en te deel. Maar, omdat dit nie meer deur ‘n groot uitgewery gaan nie, is die hersiening en verbetering van die produk dikwels maar treurig.  Ek dink die meeste mense besef nie hoe belangrik dit is om iets te laat proeflees en verbeter nie – jy moes eers ‘n slag daardeur gegaan het om die waarde daarvan in te sien. John Coetzee het my ‘n kykie agter die skerms van sy wêreld gegee deur my stap-vir-stap deur ‘n behoorlike proses van “boekmaak” te vat.  En spesifiek dít, die herhaaldelike iterasies van nasien en verbetering, is waarom die skrywer uiteindelik maar ‘n klein persentasie (tipies minder as 10%) van die verkope in sy eie sak kry – want die uitgewery het reeds so ongelooflik baie ure in die skrywer se skepping belê deur hul eie personeel aan te wend om die gehalte van die werk te poets en te verbeter tot ‘n produk wat hul eie naam nie skade sal aandoen nie.

Maar sou ons eerder wou hê dat die bydra liewer glad nie bestaan het nie?  Is geen boek beter as ‘n swak boek? Hoewel sekere bydraes veel te wense oorlaat, deel dit dikwels tog ‘n interessante storie-idee of interessante konsepte as elemente van die skepping wat as artefakte deur ander skrywers gebruik of uitgebou kan word.  Dit voel vir my dat ‘n mens soveel moontlik moet aanmoedig aan die produksiekant en versigtig te werk moet gaan aan die kritiek en filterkant van die produksielyn.  Baie kritiek, hoe edel ook al die bedoeling, gee dikwels aanleiding tot ‘n algehele staking in deelname – en dít is altyd ‘n tragedie, siende dat daar in elk geval so min is wat hoegenaamd ‘n poging aanwend om by te dra.

Vraag 8

Suidpunt: Wat sou u sê sal die groot deurbraak in Afrikaanse wetenskapsfiksie weer oplewer soos met dr. P.C. Haarhoff in die 1970’s-1980’s? Goed, hy was ingenieur van beroep en ‘n hoëkop daarby. Daar moet seker karakterontwikkeling wees (en daarom moet jou aantal karakters so min moontlik wees), daar moet ‘n deeglike intrige wees, daar moet aksie wees, daar moet humor wees, daar moet ‘n duidelike mikpunt/doelstelling wees waarna gestreef of op afgepyl of op afgestuur word. En verder is daar die ou spreekwoord: rem tene, verba sequentur (ken jou storie, en die woorde volg [vanself]).

Ek sou egter meer wil hê: as ‘n wetenskapsfiksieboek geen filosofie as stramien of onderbou het nie, dan is dit vir my ‘n storie oor ‘n buitjie reën. Het Afrikaanse wetenskapsfiksie sulke filosofie al opgelewer? Ja, dit het. Ongesiens, ja. Ek weet nie hoe uniek dit is nie, maar dit het ‘n onuitwisbare indruk op my gelaat.

Planeet Malustra (Juan Sabie, 1981) skets ‘n samelewing waarheen aardlinge teen hul wil uit Australië ontvoer word (16 Junie 1979). Daar aangekom op Malustra, kom die aardlinge so ‘n beskaafde en uitgestrykte leefwêreld (waar alles elke keer perfek en seepglad verloop) teë dat hul net nie daarby kan aanpas nie. Onder andere, vir die geringste knik in die skedule of gedagteonderbreking hap hulle na mekaar. Ook voel hulle alles bekom hulle net te maklik, hulle wil ‘n stryd “vir” iets voer, hulle wil voel wat hul verkry moet met meriete verdien word. Om dit eenvoudig te stel: hulle voel te onbeskaafd en onwaardig in die nuwe wêreld.

Dis ‘n filosofie wat mens lank laat nadink. Baie lank laat nadink en herkou. Want waarvoor leef ons dan? Tog om ‘n makliker, skoner, beter en doeltreffender leefwêreld agter te laat vir ons opvolgers en nakomelinge, natuurlik. En dan, as die mens uiteindelik nou hierdie hipotetiese volmaaktheid bereik het? Dan lyk die nageboorte soos die deursnit twitterati: uitgevrete, ongeletterde, onbeskaafde lummels, altyd nors, altyd suur, altyd kwaad, altyd ontevrede, altyd onvergenoegd, altyd aan die skel en kyf, altyd aan die beledig, altyd aan die skoorsoek, altyd sonder ‘n lewe, sonder ‘n doel en boonop ongoddelik lui, leeg en bedorwe… dit is dan wanneer jy besef Juan Sabie was vir sy tyd heeltemal in die kol!

Machiel Viljoen:

Sjoe – Planeet Malustra was my heel eerste wetenskapfiksieboek wat ek ooit in Afrikaans gelees het. Ek het dit in die veld opgetel waar iemand ‘n spul boeke weggegooi het en dié boekie was tussenin.  Wat ‘n plesier.  Wie sê morsjorse is ‘n euwel?

Ja, Suidpunt, ek stem só volledig saam met jou.  En dis gedeeltelik juis dít waarom ons hierdie jaar besluit het op ‘n novelle as kompetisie – sodat ook juis dít ontwikkel kan word.  ‘n Kortverhaal is ongelukkig, wel, kort.  En baie deelnemers het in elk geval nooit verstaan dat ‘n kortverhaal nie bloot ‘n précis van ‘n langer storie is nie, maar ‘n unieke letterkundetipe in eie reg.  Meestal wil deelnemers bloot maar ‘n kort storietjie skryf teen ‘n wetenskapfiksie agtergrond – en dis tog duidelik nie die doel nie.  Só, kom ons gee ‘n bietjie meer ruimte vir denke, karakterontwikkeling – en hopelik filosofie…

Ek moet darem net ook sê, dat hoewel filosofie heerlik is om teë te kom, daar darem wel soms ‘n blote vermaaklikheidswaarde is wat ook uiters bevredigend kan wees – dink maar aan die Engelse werke van Adams en Pratchett onderskeidelik.  Of lees die hoogs vermaaklike boek van Pieter Verwey, Clint Eastwood van Wyk en die Moordenaarsklok – uitnemend goed (al is die taalsuiwerheid voorwaar ‘n jammerte).

Vraag 9

Suidpunt: Gepraat daarvan. Te midde van die oumensies wat almal afskaal of afsterwe en hul erfstukke vir ons los op Gumtree, BidorBuy, Kakkerlak, Facebook en ander tweedehandse vlooimarkte vir ‘n Reliek-Raap… pla iets my. Geweldig. Dit is nou al algemene kennis dat die Renaissance moontlik gemaak is omdat die akademici in die Weste tekste uit Arabies vertaal het; eers deur die logika in die klaskamer beredeneer en toe maar later op ekspedisies gegaan om die waarheid tussen die stof en puinhope met ‘n kwassie af te poets. Afgesien van die oorloë en stamgevegte, moord en brand in die Middeleeue, het die papier in die nat en vogtige weer ook nie juis ‘n ewigheid gehou nie.

In Blik op die Middeleeue (bl. 208) staan uit die hand van J.H. Potgieter geskryf:

Alhoewel die Arabiere geen geniale innoveerders op kulturele gebied was nie, was hulle die erfgename van die ou beskawings wat in Mesopotamië en Egipte en ook aan die oostelike strande van die Middellandse See bestaan het. Na hulle militêre verowerings van hierdie gebiede neem hulle die belangrikste kenmerke van hierdie ou kulture op, verwerk dit en deur middel van die Arabiese taal bewaar hulle dit vir die geslagte wat sou kom.

Wat my egter interesseer, afgesien van die Keiser van Mongolië wat Bagdad se biblioteke laat afbrand het en niemand, maar niemand weer gepoog het om ‘n biblioteek op te bou of in ere te herstel nie, is dit die hiërogliewe wat vir eeue aaneen onvertaald gebly het totdat ‘n Fransman, dis nou onse heer J.F. Champollion, opgedaag het.

Dink u in: vir eeue, nee, millennia lank bly daar mense rondom die Nyldelta. Maar nee, dis Pierre Francois-Xavier Bouchards wat in 1799 hierdie Rosettasteen aan die lig bring, Champollion was toe maar 9 jaar oud, maar het reeds Grieks en Latyn op daardie ouderdom baasgeraak om Homerus en Vergilius te lees. Op 19-jarige ouderdom ken hy Persies, Ethiopies, Sanskrit, Zend, Pahlavi en Arabies. Só lyk ‘n wêreld sonder nivellerende Uitkomsgebaseerde Onderwys wat genii se geesdrif temper. Op dieselfde ouderdom werk hy aan sy eerste Koptiese woordeboek (Kopties is ‘n afstammeling van Oeregipties). En dit was met die laasgenoemde taal waarmee hy die hiërogliewe ontsyfer het. ‘n Lewende wonderwerk! Die volledige Franse teks kry mens hier (1828).

Maar vir my gaan dit daaroor: wat de duiwel het die afgelope duisende jare dan gebeur? Hoe kon die kennis van hiërogliewe so maklik in die vergeetboek geraak het? Dat niemand belangstelling getoon het nie? Dat niemand die Rosettasteen vroeër ontdek het nie? Dat niemand uit die puin van vorige brande en aardbewings probeer red het wat daar nog te redde was nie? Dat niemand gedink het: “watter kennis kan ons uit die Farao’s se grafkelders te wete kom?”

En dit bring ons by Afrikaans vandag. Met al bogenoemde in gedagte, het u ‘n greintjie vertroue in die Afrikaanse jeug om Afrikaans eendag verder uit te bou? Of te herontdek? Of dink u die werk, geesdrif en chronologie van Afrifiksie vergoed klaar hiervoor?

Machiel Viljoen:

Nee, ongelukkig is Afrifiksie nie ‘n piramiede nie – dit sal nie bly staan nie – dit weet ons beide.  Dis ‘n verskynsel in tyd – uitgedink en geïmplementeer deur enkelinge wat toevallig gebore is tydens die ruimteprogram en wat nooit groot geword het nie. Wat ‘n nis deel in belangstelling en wat pro-Afrikaans, pro-Afrikaner en pro-Boer is, en tog nie spesifiek anti-ander is nie.  Wat ‘n behoudende siening deel wat geanker is in die protestante geloof en volkstrots.  Wat graag droom maar nie liggelowig is en dít wat die hoofstroom aanbied sondermeer aanvaar nie, maar agterdogtig is oor die kontemporêre agenda – wat egter tog nie toelaat dat die werklikhede van ons bestaan inmeng met ‘n goeie verbeeldingsvlug nie.

Kan die jeug gered word, ten minste in terme van Afrikaans?  Goeie vraag.  Almal sukkel hiermee, die Franse, Russe, Afrika-tale – en definitief Afrikaans.  Engels is eenvoudig só dominant dat al die ander daaronder ly. Frans en Russies is inherent meer immuun hierteen – hoewel hul Engelse woorde assimileer laat hul Latynse of Slawiese sinsbou (onder andere) nie regtig toe dat die sin self Engels naboots nie.  Die opname van Engelse woorde is hoofsaaklik beperk tot selfstandige naamwoorde siende dat die naamvalle van bv. werkwoorde, bywoorde en byvoeglike naamwoorde nie juis toelaat om die gebruik daarvan te verengels nie.

Die Germaanse tale daarenteen is eenvoudig té soortgelyk en leen hulself by uitnemendheid daartoe om enige Engelse woord direk in (byvoorbeeld) ‘n Afrikaanse woord te vervang sonder dat die betekenis van die sin diepvreemd of onverstaanbaar raak.

Tans sien ek die bedreiging van Afrikaans op twee fronte.  Die eerste is die versuim van die aanwending van Afrikaans vir hoër funksies soos akademiese, professionele en vak-spesifieke gebruik gepaardgaande met die realiteit dat dit toenemend nie meer as besigheidstaaldeur talle instansies aanvaar word nie – dink sommer aan etikette van produkte op ‘n winkelrak.  In die tweede plek is dit ‘n gevaarteken wanneer die gebruikers van die taal (veral die jongeres) nie meer idiomaties praat nie.  Wanneer my kinders vroeëre Afrikaanse wetenskapfiksie lees kom dit telkens na vore dat hul oor ‘n tipiese Afrikaanse uitdrukking, spreekwoord of idioom struikel alvorens dit aan hul verduidelik word. Die gevaar is nie bloot in terme van begrip nie, maar ook dat nuwe uitdrukkings (ens.) nie meer gevorm en tot die taal toegevoeg word nie – ‘n teken van agteruitgang.

Ek dink dit sal ‘n wonderwerk verg vir ons jeug om hierdie golf teë te werk, veral waar daar geen nasionale poging vir daardie doel bestaan nie – maar ek glo in wonderwerke, en die meeste van die Afrifiksie-gemeenskap glo ook daarin (ons het ‘n opname gemaak 🙂 ).  Glo en hoop – en ons elkeen moet doen wat ons kan…

Vraag 10

Suidpunt: Met die uitsondering van C.J. Langenhoven se Loeloeraai wat veral vir die gebruik op universiteit herdruk is, lyk dit nie of daar enige nuwe lewe in ou tekste geblaas word nie, hoewel ek hoop Protea Boeke sal eendag werk daarvan maak. Daardie ou tekste, uitgelewer aan die elemente, sal met verloop van tyd skaaf, skif, verkrummel, verpoeier en vergaan. Dus, moet mens maar ‘n rakkie by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns reserveer en inrig waarop elke liewe kopie van Afrikaanse wetenskapsfiksie kan staan? Of moet mens, kompleet soos die monnike van ouds by Nag Hammadi in Egipte, ‘n reuse uitgevoerde erdepot vat en die Afrikaanse boeke diep in die vogvrye Karoo gaan begrawe? ‘n Soort tydkapsule? Vir ‘n duisend jaar om te verloop totdat ‘n bokwagtertjie hopelik per ongeluk, en heel toevallig, die eerste pot met ‘n knal stukkend gooi?

Machiel Viljoen:

Dalk.  Maar ek wonder of dit gered hoef te word indien Afrikaans self te gronde sou gaan.  As vertaalde werke sal die meeste daarvan nie ‘n skouspelagtige toevoeging maak tot die internasionale skat van wetenskapfiksie nie.  Daar is hordes meer Engelse wetenskapfiksie wat self deur tyd uitgewis gaan word omdat ander Engelse werke dit eenvoudig oorskadu.

Hierdie werke (waarna jy verwys) bestaan vir die Afrikaner – dis ons skat.  As die Afrikaner nie meer is nie, is dié werke waarskynlik ewe irrelevant.

Hopelik gebeur die teenoorgestelde: die Afrikaner floreer en sy taal word ‘n onafskeidbare aspek van hom waarin sy skrywers talle fantastiese verhale skryf wat saam met ander tale s’n op die rak kan staan – straks ‘n hoër rak, wie weet.  Wetenskapfiksie is niks sonder drome en verbeelding nie…

Vraag 11

Suidpunt: Skep wetenskapsfiksie na u mening nie soms valse verwagtinge nie? In Agon en die donker planeet – John Coetzee (1993) kom ons nou wel ‘n draagbare kamerafoon teë (in die boek wel ‘n bonkige “videofoon” genoem; bl. 54), maar dis amper 2025 en ‘n boek van Dorling Kindersley uit my kinderdae het my hand en mond belowe ons sal binnekort stuurlose motors hê en ‘n robot in elke huis. Ek sleep egter nog steeds die 1850 W Electrolux agter my aan wanneer ek stofsuig; op sekere gebiede het die tegnologie selfs stagneer. Maar wag u nie self ook al reeds ‘n klein ewigheid op ‘n stralerpak nie?

Machiel Viljoen:

Kom ek gee twee antwoorde, dan kies jy self watter een die meeste met jou praat…

Antwoord 1:

Baie van die tegnologie staan inderdaad stil, veral in terme van meganika.  Tans, anders as 25 jaar gelede, bestaan daar nie meer ‘n supersoniese passasiersvliegtuig nie.

Op ander gebiede gaan dinge werklik vinnig vooruit –nanotegnologie, nuwe materiale, genetika, digitale produkte en dienste, hommeltuie, ens.

My huis het kameras en ek hou vergaderings oor ‘n rekenaarnetwerk waar ons mekaar kan sien, ‘n swartbord kan deel en ‘n aanbieding gedoen kan word.  ‘n Slimfoon herken sy gebruiker deur sy eienaar se gesig te eien en weier toegang vir ander wat poog om dit te gebruik.  My vriend kuier (weens COVID) met sy vriende elke Woensdagaand oor ‘n netwerk en speel ‘n vasvra speletjie – en drink afsonderlik elkeen ‘n glasie wyn.

En dan is daar die planne van Musk – ‘n kolonie op Mars en nog wat.

Om nie te praat van die nuwe wapentuig wat jou laat sidder nie. Eksoskelette, robotkrygers, swerms hommeltuie, hipersoniese missiele, ens.

Miskien het wetenskapfiksie en die werklikheid bloot verskillende roetes gekies by ‘n vurk in die pad…

Antwoord 2:

Verloop dinge (die ontwikkeling en pad wat die wêreld tans inslaan) op hul eie koers sodat dinge spontaan gebeur bloot volgens vordering wat dit vooraf gegaan het?  Of word die hele affêre in ‘n spesifieke rigting gestuur?

Waarom sou ‘n mens in die eerste plek ‘n robot wou hê?  Is dit nie maar bloot om jou te dien of iets vir jou te doen nie?

Maar wat daarvan as jý die robot is?  Is ons nie besig om, soos ‘n robot, iemand anders te dien nie?  Maar wat sou iemand wou hê dat ek vir hom moet doen?  Dalk sou hy graag wou hê dat ek vir hom geld moet gee.  Of dalk vir hom moet stem.

Om mý as ‘n robot te gebruik sou hulle my moes kon programmeer (of beheer) om vir my instruksies te gee – ‘n beheerstelsel.  Maar is dit nie reeds hier nie?  Is die sosiale media, gedryf deur my rekenaar, vriende en slimfoon, nie presies dít nie?

Ek het Swart-Vrydag ‘n paar goedjies aangeskaf wat ek andersins nie sou doen nie.  Drie jaar terug het ek nie eers geweet van Swart-Vrydag nie, maar dié jaar het hul robotjie in die ry gaan staan met sy maskertjie en geldjies oorhandig.

Wetenskapfiksie skep nie valse verwagtinge nie, dit strek eenvoudig nie wyd genoeg nie – en dit het ‘n totaal ander uitgangspunt, naamlik dat die wêreld ‘n vrywillige gedoente is wat aan homself oorgelaat is om te ontvou soos dit wil.  Wetenskapfiksie is dalk ‘n bietjie naïef. Ons is dalk eerder besig met 1984 van Orwell

Vraag 12

Suidpunt: Weet u, toe ek ‘n tiener was, het ek gereeld reklameboekies van Nokia-selfone versamel.  Ek kon vir dae lank net dagdroom hoe lekker dit moet wees om een van hierdie mooi skeppings te besit. Veral die Nokia 7610 het my mond laat water. En nou? Toe ek voor Erfenisdag hierdie jaar ‘n Samsung A10s koop, besef ek met die grootste verbystering hy kan meer as al my droomfone saam doen. Al my tienerdrome is nou daarmee heen! Dit was pure verniet! Maar wat sou u in die toekoms graag meer wil sien verder ontwikkel? Ek bedoel nou iets soos ‘n hommetuigtaxi, byvoorbeeld? Ek staan klaar in verwondering oor Google Lens waar jy jou foon oor ‘n vreemde taal soos ‘n vergrootglas hou, en dit vertaal die woorde sommer daar en dan: ‘n ruim verbetering as mens ‘n taal met ‘n ingewikkelde skryfstelsel soos byvoorbeeld Chinees wil leer.

Machiel Viljoen:

Ek is ‘n ingenieur van beroep, so tegnologie en ons interaksie daarmee lê na aan my hart – ek sal graag ‘n gedagte of twee met jou hieroor wil deel.

Waarom sou ons wou weet wat in Sjinees geskryf is?  Haal dit nie juis die geheimenis uit die lewe nie?  Of om virtueel ‘n plek te besoek – wat is die nut daarvan?  ‘n Speletjie waar ek as held die hart (en liggaam) van die begeerlikste seksgodin verower, sonder dat ek iemand het wat saam met my ‘n onbekende plek kan besoek, saam met my die ure op die lughawe verwyl en saam die moltreinstelsel van Moskou probeer ontsyfer terwyl ek met die bombastiese persoon in die kaartjiekantoor probeer redekawel, is hol en leeg.

Ons leef tans in ‘n tyd waar kennis en inligting ons hoogste vorm van vermaak geword het.  Daar is ‘n video oor net mooi elke saak gemaak – gereed vir my om te verslind.  Maar is dit bloot kennis, of is dit kennis wat verpak is in die perspektief van die persoon wat dit saamgestel het?  Is die kennis neutraal of is dit terselfdertyd ook eintlik propaganda?  En bestaan dit ooit uit feite of is dit hoofsaaklik persepsies met ‘n selektiewe feit hier en daar as garnering in die slaai van misinformasie?

Mý droom, as antwoord op jou vraag, is as volg.  Ek sou graag ‘n wêrelddeel wou sien wat só afgesonder is, dat niemand ooit ‘n kiekie daarvan vir ‘n ander kan wys of ‘n video daarvan kan (of mag) maak nie.  ‘n Plek waarvan iemand jou persóónlik (in die vlees) moet vertel of wat jy persoonlik (fisies) self moet besoek. Waar die tegnologie só geslote is dat dit nie met enige van ons s’n versoenbaar is nie.  Waar jy die taal (of woorde daarvan) moet leer om daar jou eie weg te vind, want ons vertalers kan dit nie vertaal of die skrif daarvan ontsyfer nie.  Waar jou reis dus ‘n avontuur is met interessante kos, mense, plekke, ervarings en dinge waarvan jy ander self sal moet vertel wanneer jy terug kom – sonder dat jy vir hulle iets daarvan kan wys (of hulle vir jou).

Baie van ons huidige tegnologie vernietig die inherente geheimenis wat die wêreld vanmelee ingehou het – nes die skok wanneer kinders besef daar is nie feë of ‘n Kersvader nie.  Waarom sou ons alles wat noodsaaklik is om self (in persoon) te leef, reis, ervaar en ontdek, wou laat verdamp sodat ek dit op my foon kan sien en beleef deur ‘n ander se menings en perspektiewe.

Tegnologie moet ons lewens vergemaklik, maar dit mag nooit die misterie of die avontuur daaruit verdryf nie – min van ons kry dit reg om hierdie onderskeid te maak.  Almal is so ongelooflik ingelig deesdae, oor net mooi enigiets, dat die meeste dink hul kan (en behoort) daarom ‘n mening daaroor te hê wat met ander gedeel moet word.  Die delusie is so algeheel dat hul nie eens oorweging daaraan skenk om self eers ‘n paar boeke daaroor te soek en te lees nie, en asseblief tog net nie iemand te gaan opsoek wat daarvan weet en hulle daaroor uitvra nie.  Alles moet met Google (soekenjin, kaarte, vertaler, ens.), Wikipedia of YouTube ontrafel word.  Gesprekke word gereduseer tot tekste op WhatsApp en Twitter en jy hoef my nie persoonlik te leer ken nie want jy ken my reeds deur Facebook, Instagram, ens.  In plaas van verbeter, takel tegnologie ons lewens, ervarings en verhoudings af.

In plaas van ophef en verbeter sal tegnologie ons ervaring van die lewe eerder verdun, afwater of besoedel – en ons boonop oortuig dat ons beter daaraan toe is as gevolg daarvan.

Om met my motor op te styg en werk toe te vlieg is ‘n ongelooflike droom, maar om dit op my televisie, slimfoon of 3D-bril na te boots, is eintlik net ‘n lokval waarin baie trap.  Dis die eiland van die Lotus-eters waar Odusseusse soldate wou gaan rus het en dit toe nie weer wou verlaat nie.  Ons tegnologiese toekoms lê in die werklike avontuur van verkenning en ervaring van ons wêreld en nie in die nagebootste digitale simulasie van ‘n kunsmatige werklikheid nie.  Wetenskapfiksie moet dien as saad en aansporing tot die avontuur van ontdekking en ervaring – nie as plaasvervanger nie.

Die huidige gang van tegnologie plaas ons in die holodek van ‘n ruimteskip waar ons voorgee dat ons lewe – terwyl die brug van die ruimteskip onbeman is.

Vraag 13

Suidpunt: In Langenhoven se boek, maar ook feitlik enige boek wat oor verlore beskawings of ruimtewesens handel, word die mens feitlik verbied om sekere gevorderde tegnologie terug te neem na menslike beskawing, aangesien “die mens nog nie gereed is hiervoor nie” of “die mens se gees nog saam met die tegnologie moet ontwikkel” of “die mens noodwendig die tegnologie sal misbruik”. Hierdie “maklike einde” raak net vir my nou lekker afgesaag, want dit lyk nie of die mensekarakters die ruimtewesens op ‘n enkele tegniese puntjie reghelp nie: ons, as suigelinge, is in sonde ontvang en gebore tussen tegnologie en die wetenskaplike wonders waarvoor ons nie een gewerk het nie; en ons moes maar net daarby aanpas en ons eie maak. Wat my betref kon die fiets in die Middeleeue al ontstaan het: hoe ekonomies, dit spaar immers hooi vir ‘n perd. Ek bedoel, ons sien hoe platgeskiet en agterlik het Suid-Korea van 1950 gelyk en hoe dit vandag daar uitsien. Wat dink u daarvan? Voel die ruimtewesens maar net bedreig deur die Wet van die Remmende Voorsprong?

Machiel Viljoen:

Dis ‘n goeie punt, en ja, ek is geneig om daarmee saam te stem.  Eintlik is dit so ‘n afgesaagde troop dat dit mens telkens opnuut verbaas dat ‘n skrywer dit vir die soveelste keerweer insleep.  Maar dit is bloot my instinktiewe reaksie op jou vraag.

Miskien moet mens vir ‘n oomblik aan een of twee moontlikhede oorweging skenk.

Ek pas uiterse dissipline toe sodat een van my kinders nie my vuurwapen aan die hande kan kry nie.  Ek doen dit want my pa het dit ook gedoen toe ek ‘n kind was en omdat ek al soveel keer met tragiese stories gekonfronteer was oor die gevolge wat dit gehad het toe ‘n kind ‘n wapen per ongeluk ontdek het en hoe absoluut die gevolge was op die lewens van soveel mense.  Daardie programmering het my so ver laat gaan dat ek nou nie eens meer ‘n wapen besit nie.

Sou ek egter onbewus wees van die bestaan van iets soos ‘n vuurwapen omdat ek slegs ‘n knopkierie geken het, en skielik gee iemand vir my ‘n pistool of handgranaat, wonder ek of ek steeds die nodige voorsorg sou afdwing – al sou ek op ‘n kognitiewe vlak verstaan wat die teoretiese gevolge kon wees.

Indien Shaka deur ‘n vriendelike VVV ‘n paar kernwapens as geskenk ontvang het, wonder ek of hy met dieselfde omsigtigheid daarmee sou omgaan as die huidige supermoondhede.  Sou hy nie dalk meen dat dit die oplossing vir sy probleme was sodat hy vir eens en altyd met die Boere kan afreken nie?

Toe daar maar één nasie was wat die atoom getem het, toe gebruik hulle dit summier op hul vyande.  Twee keer! Asof die eerste keer nie reeds genoeg van ‘n indruk op hulle gemaak het nie.  Maar toe die geswore vyande ook daarvan het, is albei skielik uiters versigtig. Hulle het reeds die effek daarvan gesien en weet dat hulle self met die skerpkant daarvan te doen kan kry.

Sou die VSA dit (kernwapens) nooit ontwikkel het nie, en dieselfde vriendelike VVV gee een oggend vir Stalin so 20 of so, wonder ek of hy sou dink dat dit oneties sou wees om sowat die helfte daarvan teen hoë spoed in die VSA af te lewer.  Maar omdat die ontwikkeling relatief langsaam was en beide kante daarvoor moes wedywer, het albei uit vrees (weens hul groeiende insig komende uit die resultate van hul chroniese toetse) besef hoe algeheel die gevolge van ‘n impulsiewe handeling sou wees – ‘n besef wat bes moontlik afwesig sou wees as hulle dit nie self ontwikkel het nie.

Ons samelewing is dikwels nie voorbedag op die negatiewe effekte van nuwe tegnologie nie – veral wanneer dit baie vinnig ontwikkel het.  Daar is (redelik) streng regulasies oor kloning en genetiese ingenieurswese, maar basies niks oor die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie nie – te midde van Musk se herhaaldelike waarskuwings aan die regering van die VSA.  Die feit is dat ons nog nie reeds die lelike gesig van dié tegnologie gesien het nie – en wanneer ons dit wel raaksien is dit dalk te laat en is daar nie meer salf aan te smeer nie.

Ons eie, en ons kinders se verhoudings ly erg onder die nadelige effekte van sosiale media, en een studie na die ander waarsku daarteen.  Tog kry weinig van ons dit reg om dit selfs maar in ons eie lewens af te skaal en te reguleer.  Dit het eenvoudig te vinnig gekom en ons het nie geleidelik, oor geslagte heen, daaraan gewoond kon raak nie – dis soos ‘n geskenk.  En, net soos my voorbeeld van die vuurwapen, verstaan ons die gevaar bloot op ‘n kognitiewe vlak – ons doen egter weinig daaraan.  Ons speel in die komedie mee, geblinddoek met die lamfer-lap wat selfs die son ‘n skadu gee…

Maar ek moet erken, dié troop in wetenskapfiksie raak regtig vermoeiend en ek wens ook dat hulle ‘n bietjie meer oorspronklikheid aan die dag kan lê met storielyne…

Vraag 14

Suidpunt: Is daar van die Afrikaanse wetenskapsfiksieboeke wat u dink ‘n vertaling werd is? Of, dink u, soos Jan Rabie in Buidel geskryf het oor vertaling (bl. 83-86):

En weet u, soms wil ek my teks eintlik onvertaalbaar hê. Ja, dis die gevoel wat ek soms oor my gekastyde taal kry. Om in ‘n oorvol, oorluide, oorveralgemeende wêreld ‘n klein hoekie onvervreembaar my eie te hê.  En las seker ook by toekrampende ouderdom, of seergemaakte trots omdat my boeke nie méér aandag in oorsese vertalings gekry het nie. Hoe ook al, soms voel ek in my ‘n intense behoefte om my Afrikaans vir myself te hou, om my boeke so verinnig, plaaslik, Afrikaans as moontlik te skryf dat hulle eintlik onvertaalbaar moet bly. Miskien ook uit irritasie wanneer die soveelste eentalige neul: “Why don’t you translate your book for Onrast?” [Onrus] Dit is juis op so ‘n oomblik dat ek ook die beneukte blydskappie voel: Goed so, laat my boek so Afrikaans wees dat jy dit in Afrikaans moet lees. […]

Machiel Viljoen:

Ek dink, soos jy seker kan aflei uit vorige antwoorde, dat hierdie woorde van Rabie nogal byval vind by my.  Tog, soos ek reeds aangedui het, is die letterkundige waarde van wetenskapfiksie in Afrikaans nie besonder groot nie, en is die skrywers daarvan dikwels maar amateurs.  So, hoewel hul boeke nie altyd waffers is nie, is die stories en ander elemente daarin dikwels nogal oorspronklik en vindingryk.

Tog twyfel ek of dit eintlik veel van ‘n bydrae sou maak in Engels byvoorbeeld.  Ek dink terselfdertyd ook nie dat dit skade kan doen nie.  Van die heel moderne werke is wel deur die skrywers self in Engels vertaal, soos die Anna Atoom-reeks boekies vir kinders (Elizabeth Wasserman).  Maar by van die vroeëre werke was dit nogal raar – Seuns van die Wolke (August van Oordt) is in Engels vertaal, en Leon Rousseau se Fritz Deelman-reeks is in Nederlands vertaal.  Maar hierdie is uitsonderlike gevalle.

Aan die ander kant moet ek toegee dat die talle wetenskapfiksie wat uit Europese tale na Afrikaans vertaal is, wel ‘n groot bydra in Afrikaans gemaak het en dié veld verder gestimuleer het.  Dis jammer dit vind nie juis meer plaas nie.  In fantasie het Narnia, Harry Potter en Heer van die Ringe relatief onlangs in Afrikaans verskyn – wetenskapfiksie suig maar aan die agterspeen wat dit betref.

Vraag 15

Suidpunt: Nou internasionaal: ek kry die indruk in Nederland, gegewe nou die bevolkingsgrootte en leserspubliek, gaan dinge nogal benard met hul eie wetenskapsfiksie, veral omdat Nederlands boonop oorspoel word met vertalings. Tog, ek het al die Afrikaanse vertaling van die elegante Tonke Dragt (Toringhoog en myle breed, wat in 2018 ‘n Hollandse herdruk beleef het) gelees en dit was glad nie sleg nie. Dis net ‘n gesukkel om Nederlandse tekste in die hande te kry, véél moeiliker as Duitse boeke; een titel wat my nogal laat nadink het is Overstroomd (2015) deur Eva Moraal – moontlik die Benelux van die toekoms [reeds vertaal in die Engels Currents en die Duits Zwischen uns die Flut] soos op Goodreads gestel word:

“We bevinden ons in de tijd na de Grote Overstromingen. Het land is verdeeld in veilige, droge gebieden, en terreinen die gevaar lopen als het water weer stijgt. Ook de bevolking left strikt gescheiden: de Drogen vormen de rijke elite, de Natten het werkvolk dat een hard bestaan leidt om te overleven – en van waaruit steeds sterker verzet optreedt.

Nina is een Droge, de dochter van de Gouverneur. Tijdens de laatste overstroming is haar school getroffen en haar zusje verdronken. Daardoor is ze gedwongen om, zij het onder een andere naam, lessen te volgen op een school in het Natte gebied.

Op school wordt ze verplicht om met Max, een Natte, een werkstuk te maken. Wat met wederzijdse achterdocht begint, groeit al snel uit tot een fascinatie voor elkaars wereld en een ontluikende vriendschap. Maar de situatie is complex. Max’ vader is omgekomen bij de laatste overstroming, en er worden vraagtekens gezet bij de rol die de Gouverneur daar bijspeelde. Max’ broer Li is nauw betrokken bij een gewelddadige verzetsgroep.

In afwisselende hoofdstukken lezen we door de ogen van Max en Nina hoe de situatie escaleert en uitmondt in een onontkoombare apotheose.”

Ag, hemeltjie … soveel bloedvergieting, knoeiery, voortploetery en vergoddeliking op ‘n lappie modder, terwyl ‘n hoogliggender Frankryk tog so naby wink, nè?

Het Afrifiksie miskien in die verlede al voelers uitgesteek na Nederlands Contactcentrum voor ScienceFiction (NCSF)? Of glo u die gewone Afrikaanse leser is steeds te bang om aan ‘die taal van die Bybel’ te vat? Dat ons nog nie heeltemal daarvoor reg is om soos die Swede, Dene en Nore boeke onder mekaar oor en weer uit te ruil nie?

Machiel Viljoen:

Ons het nie.  Dalk iets wat ons laat links lê het.

Dankie daarvoor.  Ons sal dit op die agenda plaas vir die nuwe jaar– daar is niks om te verloor nie en dalkies net slaag dit.

Ons het so iets probeer met ‘n Engelse wetenskapfiksieklub hier in SA – gesetel in Kaapstad.  Sonder sukses.  Ek is steeds verstom daaroor…

Vraag 16

Suidpunt: As u so deur die Italiaanse Wikipedia-artikel kyk rakende Italiaanse wetenskapsfiksie, sou u sê ons het ongelukkig baie van die cultura alta (hoë kultuur) misgeloop, of eerder gelukkig die bak spaghetti-pasta vrygespring? Om nou die koring van die kaf te skei?

Machiel Viljoen:

Ek dink nie jy kan van Europese afkoms wees sonder om ‘n dosis wetenskapfiksie in jou erfenis te hê nie.  Almal van ons het dit.  Seldsaam in die nie-Europese kulture.  ‘n Kommentaar een maal gelees waarin die bewering gemaak was dat dit ‘n definiërende eienskap is (al is dit nie ‘n uitsluitlike een nie) en dat dit kwalik onder Indiane, stamme uit Afrika, Suid-Amerika, Australië, Eskimo’s,ens. voorkom.  Hulle het egter wel legendes, mites, sprokies, fabels en fantasieë.  Die Oosterlinge het egter self ‘n goeie dosis hiervan weg.

Die Italianers was nog altyd uiters skeppend, en ten spyte van hul huidige ekonomiese gesukkel maak hul tot vandag toe nog van die beste sportmotors en motorfietse.  Hul modes is tot vandag toe van die mees toonaangewende in die wêreld.  Hul siviele ingenieurswese is eenvoudig asemrowend, argitektuur, Venesië met sy gragte, van die beste paaie op aarde in die Romeinse tyd, ens.  En die verbeeldingryke wapentuig en strategieë van die Romeine self.  Dit is dus vir my geen verrassing dat hul ewe skeppend met die wetenskapfiksie omgegaan het nie.

Maar ek twyfel of wetenskapfiksie enigsins as deel van die Afrikaner kultuur bestempel kan word – vergeet nog van hoë kultuur.  Dié wat dit nastreef is dalk eerder ‘n rariteit…

Vraag 17

Suidpunt:  Ek weet mens kan by Groep7 van die Afrikaanse wetenskapsfiksieboeke aankoop. Ek moet bieg ek het, tot my spyt, nog nie Eben van Renen of Gerrit van Dijk se boeke gelees nie, maar ek het wel François Verster se boeke op verskeie plekke in die hande gekry; met laasgenoemde se boek Deur na Nebula Nege is ek mee hoogs tevrede. Ek het eers sy boek in ons dorpsbiblioteek gekry en my toe voorgeneem om die boek te koop. En ek het ook.

Maar nou: jy het nou die manuskrip geskryf, dit is steeds mooi afgerond, die hoofstroomuitgewers het jou ego gekrenk deur die teks af te keur en nou sit jy met die gekrabbel in jou hand, sopnat gehuil van die trane. En so sleg is dit darem nou wragtig ook nie, selfs jou skoonma moet dit toegee. Wat nou? Moet jy jou arbeid op Amazon.com gaan oplaai en as gratis proeflopie (veral as dit jou debuutwerk is) die waters toets? Of moet jy maar deurdruk en die privaatuitgewer met die platinum kredietkaart probeer omkoop?

Machiel Viljoen:

Groep 7 is formidabel.  Hulle is professioneel en uiters behulpsaam.  En verstommend bekostigbaar.  Ek twyfel of die platinum uitgehaal hoef te word.  Jy kan self besluit wat jy gedoen wil hê.  Proeflees, bladuitleg, bind, papier tipe, ens.  En jy betaal bloot volgens jou behoefte.  Onthou, hulle druk nie ‘n opgaaf daarvan nie – hul lys dit bloot.  Wanneer ek Eben se boek bestel, druk en bind hul vir my presies een enkele eksemplaar en pos dit vir my – hulle kry hul deel en die skrywer kry syne.  So maklik soos dit.

Ja, volgens my is dít die manier.

Die vangplek is egter, soos voorheen vermeld, dat die meeste nie insien hoe belangrik die nasien en proeflees stappe eintlik is nie, en daarom is sommige boeke se gehalte substandaard.  Maar dit gebeur eweneens met ‘n e-boek as jy nie versigtig is nie.

Onthou weereens:  die meeste wetenskapfiksieskrywers skryf nie met rykdom as hul hoofdoel nie.  Anders sou hul van die begin af hul hand eerder aan iets meer lonend geslaan het.  Hulle doen dit vir die talle ander redes waarom mense skryf.  En Groep 7 maak dit vir amper elkeen moontlik.  En kom ons wees eerlik – ‘n papier boek bly nou maar net ‘n absolute plesier (en bly behoue vir jare op ‘n boekrak wat te betwyfel is van ‘n e-boek…).

Vraag 18

Suidpunt: As mens deur die lys Afrikaanse wetenskapsfiksie kyk… dan wil dit my voorkom of die meeste skrywers in die verlede die genre as ‘n penneproef gebruik het, ‘n soort rofwerk. Elkeen waag sy hand daaraan, maar dit bly ‘n bysaak, ‘n sybaantjie. ‘n Figment, ‘n hipotese wat dan op skrif gestel en uiteindelik in ‘n storie uitgebou word. Dit het sy voordeel: dit is ‘n vrye genre wat nooit deur ‘n sekere groep gekaap of besit is nie. Ek bedoel nou soos die eenvormigheid en herhalende, voorspelbare kenmerke van die Sestigers of Grensliteratuur in die Afrikaanse kringe – met ander woorde: ‘n literêre kringetjie eien die literatuur aan hulself toe. Sou u sê Afrikaanse wetenskapsfiksie is eintlik allemansbesit of bied groter diversiteit?

Machiel Viljoen:

Jy is reg –ons het nog nooit ‘n wetenskapfiksieskrywer opgelewer nie.  Die groot name het elk enkele werke tot stand gebring, en die onbekendes ook elk enkeles maar het toe algeheel opgehou sonder om eens na ander velde toe oor te skakel.  Maar ons het nooit ons eie Asimov, Verne, Clarke, Heilein of Wells geproduseer nie – voorwaar ‘n jammerte.

Maar terselfdertyd wonder ek of dit ooit in allemansbesit (soos jy dit stel) is.  Die feit is dat amper geen van hierdie werke vir die gewone man op straat beskikbaar is nie. Biblioteke het selde eksemplare en dié wat nog het verkoop jaarliks hul ouer boeke tot niks daarvan op hul rakke sal oorbly nie.  Amper niks wat meer as ‘n paar jaar oud is kan in die algemene handel verkry word nie.  Dis slegs die tweedehandse handel waarop jy kan terugval – en dit klink of jy ook al van daardie kanaal probeer gebruik maak het – dis ‘n gesukkel van die eerste water en jy is afhanklik van dit wat toevállig beskikbaar raak en wat ewe toevallig oorleef het.  Ek soek vir jare al tevergeefs na sekere werke wat skynbaar nóóit weer gesien gaan word nie – hoe hartseer is dít?

Ek het ‘n maand of so gelede ‘n wetenskapfiksieboek tweedehands ontdek wat totaal onbekend was tot op hede en wat skynbaar nog nooit in die formele tweedehandse boekhandel beskikbaar geraak het nie.  Dis ‘n boek wat deur ene Kobus Maritz geskryf is en in 1966 deur die Afrikaanse Pers-Boekhandel uitgegee is met die titel Tydvlug 2200.  Nou hoe op aarde is dit moontlik?  Wil jy my sê dat daar net een enkele eksemplaar daarvan nog bestaan wat die dekades oorleef het.  Was die opgaaf wat gedruk was dalk regtig baie klein?  Dankie tog dis gevind – ons kan ons rekord dienooreenkomstig opdateer, maar wie sal dit ooit weer kan lees as net één daarvan wat nog oor is?

Daar is feitlik geen van hierdie werke wat ooit in herdruk gaan nie, behalwe vir een of twee (soos Loeloeraai) – so die meeste mense sou geregverdig wees om die mening te huldig dat Afrikaanse wetenskapfiksie eintlik nie bestaan nie (en ek het al telkens hierdie stelling gehoor by mense wie se monde oophang wanneer ek die teendeel uitwys).  Gerhardus het ‘n moedige poging aangewend met Thompson Uitgewers wat talle nuwe werke laat verskyn het en verskeie ouer werke as klassieke Afrikaanse wetenskapfiksie uitgegee het.  Maar dis ook nou iets van die verlede.

En ek dink dít is een van die waardevolle eienskappe van Afrifiksie – ons is so ver van volmaak af dat dit mens bewoë laat, maar ten minste is dit (vir solank dit duur) ‘n tipe monument en rekord van Afrikaanse wetenskapfiksie (en fantastika in die algemeen).

Maar my punt is dit:  amper niemand het toegang daartoe nie, en daarom kan mens kwalik sê dis in enigiemands-besit – wat nog te sê van allemansbesit.  Jy moet hemel en aarde beweeg om ‘n verteenwoordigende monster van dié skat onder oë te kry…

(Dis terloops ook een van Afrifiksie se oogmerke vir 2021 – om ‘n begin te maak om dié desperate situasie te probeer verander.)

Vraag 19

Suidpunt: Ek het vergeet om te vra: het u enige voorkeure wat Afrikaanse wetenskapsfiksie aanbetref? Nie alleen boektitels nie, maar wat sou u graag in ‘n boek wil lees?

Machiel Viljoen:

Baie mense dink dat die enigste manier waarop ‘n werklike bydra tot wetenskapfiksie gemaak kan word, is om iets te skryf.  En natuurlik is dit uiters waardevol en ons moedig dit ten sterkste aan.  Maar ‘n ander manier waaraan daar dikwels nie gedink word nie, is om van die prominente wetenskapfiksie uit ander tale na Afrikaans te vertaal.  Dit maak ‘n ongelooflike bydra, en verg bloot ‘n goeie Afrikaanse aanslag en vereis nie die vermoë om self ‘n storie te kan skep of met die nodige verbeeldingryke inhoud vorendag te kom nie.  Ek het onlangs ‘n aantal van Shakespeare se werke in Afrikaans uitgesnuffel en gelees – wat ‘n fees.  En talle daarvan is deur blote amateurs vertaal.  My grenslose dank aan elkeen wat só ‘n taak tot uitvoer bring.  So, ek sou graag van die groter wetenskapfiksiewerke in my moedertaal wou lees, soos Asimov se Foundation.

Daar bestaan ook ‘n ander idee jeens wetenskapfiksie – iets wat telkens oor die dekades heen in ander tale na vore gekom het, naamlik die idee dat wetenskapfiksie as spieël gebruik kan word sodat die huidige bestel daarin kan kyk en eienskappe van hulself daarin kan raaksien wat gevaarlik, skandelik of ongewens is.  Maar in Afrikaans kom dit nie juis voor nie (nugter weet waarom).  En omdat dit nie spesifiek oor Suid-Afrika of iemand werkliks handel nie, kan daar gekritiseer word sonder blaam of vervolging (tot op ‘n punt natuurlik).  Ons huidige werklikheid is op ‘n koers wat baie bekommer, maar tog word dié moontlikheid nie juis aangewend nie – ek sou só ‘n kommentaar oor ons samelewing wou lees in die vorm van ‘n goeie stukkie wetenskapfiksie.

Vraag 20

Suidpunt: Wat dink u persoonlik van die oerruimtevaartteorie? (Ancient Astronaut Theory – dink maar Erich von Däniken).

Machiel Viljoen:

Ag jong, dis net nóg ‘n interessante idee in die wetenskapfiksie (of hipotetiese wetenskaplike filosofie).  Maar ek wonder altyd waarom al hierdie vreemde moontlikhede oorweeg word.  Uiteindelik skuif dit bloot die probleem van een punt na ‘n ander – soortgelyk aan panspermia.

Geen van hierdie hipoteses spreek uiteindelik die werklike probleem aan nie, naamlik: “hoe het dit nou eintlik ontstaan?”  En of dit nou hier was waar dinge begin het, of daar waar dit begin het en toe op die een of ander manier hierheen gekom het, die aanvanklike vraag bly onbeantwoord.  Ek gee toe dat die idee daarvan interessant is insigself, maar dit help kwalik om ‘n antwoord te gee vir iets wat nie werklik die vraag was nie.

Die twee raaisels waarop beide dié wat die skeppingsleer sowel as dié wat die wetenskaplike verklaring aanhang van mekaar verskil, is die idee van die oerknal en die idee van die ontstaan (en ontwikkeling) van lewe.  En vele oulike teorieë faal daarin om hierdie vrae te beantwoord.  Soos die een wetenskapprofessor by geleentheid in ‘n debat gesê het vir ‘n aanhanger van die skeppingsleer aangaande die oerknal: “gun ons net die één wonderwerk en die wetenskap sal die res verduidelik”.

So, dis ‘n vrugbare idee vir wetenskapfiksie, maar dis eintlik maar al…

Bonusvraag

Suidpunt: Is daar enige vraag wat niemand u al gevra het nie, wat u al so lank brand om te beantwoord?

Machiel Viljoen:

Dalk.  Die vraag sou iets in die volgende trantlui:  “waarom is jy persoonlik, as Afrikaanssprekende, so begeesterd deur wetenskapfiksie – dis dan ‘n atipiese eienskap vir ‘n Boer…?

My antwoord sal iets langs die volgende lyne geskied.

Dit alles begin met ‘n slag.  ‘n Tipe oerknal self – ‘n slag so luid dat dit deur die eeue heen weergalm.  Die kerk skeur in Europa.  Europa word ‘n kruitvat wat hul ganse bestaan bedreig en talle word uitgemoor of soos diere gejag.  ‘n Aantal kry dit reg om plek te bekom op die weinige ontsnappingstuie om hierdie nagmerrie uit die hel te probeer ontsnap.  Ouers stuur hul kinders op hierdie ontsnappingstuie – wetend dat hul kinders waarskynlik nooit hul bestemming sou bereik nie, dat hulle hul kinders nooit weer sou sien nie, en dat hulle self (die ouers) binnekort self gevang, gemartel en vermoor sou word.  Maar dié kans, hoe klein ook al, is hoop – en dis beter as geen hoop.(In my eie stamregister is daar ‘n twaalf- en dertienjarige meisie en seun wat op die hawe aan mekaar getroud raak om na mekaar om te sien, hul ouers te groet en die reis te begin – ‘n reis om die vlam van hoop in hul ouers se harte te laat brand.)

Baie maak dit nie en vergaan in storm na storm wat eintlik te veel is vir die tegnologie van die tuie waarin hul vlug.  Maar, feitlik ondenkbaar haal sommiges dit.  Land.  ‘n Plek waar die monsters nie meer op hulle jag sou maak nie.  Maar, vir blote kinders, hoe oorleef jy op ‘n stukkie grond wat aan jou oorhandig is, terwyl daar net núwe monsters is – siektes, vyandige volke, roofdiere, ongenaakbare klimaats­omstandighede, uitbuiting deur ander…  Tog weereens is daar dié wat dit maak en oorleef.

Oorlog kom egter vinnig vanuit die oosgrens – niks minder nie as ‘n toneel uit ‘n Tolkien-film met duisende Uruk-hai wat roof, moor, plunder en veg soos besetenes.  Al word die vyand telkens verslaan, hergroepeer hul maar net weer, en ‘n volgende oorlog ontketen.

Dan word die plaaslike regering oorgeneem – een van die grootste koninkryke op hul planeet besef die strategiese waarde van die nuwe kolonie en sak toe op die buitepos met gevegstuie en troepe wat die vorige regering oorweldig.  Die nuwe regering is drakonies en misbruik hul mag.  Sommiges kan dit nie aanvaar dat hulle weereens onderhewig sal moet wees aan dieselfde tipe oorheersing vanwaar hulle onlangs ontsnap het nie.  Talle besluit om weer te wyk, weg van die bietjie infrastruktuur en beskerming van die gemeenskap.  Primitiewe ontsnappingstuie word gebruik vir die doel – aangepaste vragtuie huisves gesinne wat met karige besittings in karavane saamtrek – aangedryf deur trekdiere beur hul om los te breek uit die greep van oorheersing waarvoor hul nie kans sien nie.

Uiteindelik is hul vry – weereens word daar oor begin, maar baie het omgekom op hul ontvlugtings­reise deur vyandige gebiede waar daar ook talle karnivoriese monsters op hul jag gemaak het – oor die Berg van Drake.  Maar vryheid was soet.  Hulle ontwikkel die nuwe gebied en ontdek skaars middele – grondstowwe só raar dat baie daarvoor sou moor.  Selfs bose moondhede.  Die sterk en bose ryk waaruit hul sopas losgebreek het wil nou die seldsame stowwe vir hulself inpalm, en hul gierigheid lei uiteindelik tot ‘n volskaalse oorlog – ‘n oorlog waarin die vlugtelingkinders maar ‘n enkele kryger het vir elke vyf vyandige soldate.

Vir jare hou die oorlog aan en die handjie vol krygers, die kinders van vlugtelinge, hou die sterkste moondheid van sy tyd in ‘n konflik gewikkel vir jare, en die vyandige oormag verloor meer as vier soldate vir elke vlugtelingkryger wat val. Uiteindelik, in desperaatheid, wend die bose owerheid hulself tot die mees immorele misdade wat tot nog toe in oorlogvoering toegepas was, misdade waardeur die vroue en kinders van die vlugtelinge uitgewis word (drie keer meer vroue en kinders sterf as hul mans wat in die oorlog geval het), sodat die vlugtelingkinders tot oorgawe gedwing word om algehele uitwissing deur volksmoord te vermy.

Maar die kinders van die vlugtelinge weier om te gaan lê.  Teen dié tyd het hul taal al so ontwikkel dat dit afsonderlik is van die ander.  Uiteindelik raak dit vir die bose moondheid te moeilik en duur om voort te gaan met die langafstand beheer van die vlugtelingkolonie en verleen hul teësinnig onafhanklikheid aan ‘n hardnekkige en rebelse spul uitvaagsels wat telkens weier om onder Europese bewind te staan.

Die nuwe regering van die voormalige vlugtelinge weier om geassimileer te word in die oorweldigende golf van dié wat nie deel was van hul eie voortdurende gevlug en verset teen meer gevorderde beskawings nie.  Hulle begin ‘n beleid om hulself te verskans teen die verstrooiing van hul identiteit en kultuur – ‘n beleid wat toenemend onaanvaarbaar sou word vir die regerings waarvandaan hul aanvanklik gevlug het.  Hierdie beskawings stuur dan ‘n nuwe veldtog van stapel – sonder die vlugtelinge af sodat hulle nie handel kan dryf nie.

Die vlugtelinge, gedryf deur ‘n oorweldigende begeerte om te bly voortbestaan in weerwil van die sameswering van ander, bring die offers wat nodig is om hulself te mag handhaaf – raak selfonderhoudend, ontbeer dít wat die internasionale gemeenskap weerhou, raak weerbaar, ontwikkel infrastruktuur, belê in opleiding en navorsing, raak leiers op gebiede van nywerheid, mynwese, elektrisiteit, wapentuig, medisyne, landbou, kernkrag, klandestiene handel, intelligensie, die ontwikkeling van bondgenoot­skappe, beoefening van kunste, ens. – en ontwikkel die jongste taal op die planeet tot op die hoogste sport van aanwending vir akademiese- en letterkundige toepassing.

Dan tree ‘n nuwe moondheid na vore, een wat voorheen neutraal was maar wat teen dié tyd een van die heel magtigstes op die planeet geword het, en tree toe tot ‘n nuwe oorlog met die voorsiening van  wapentuig, tegnologie en opleiding om ‘n nuwe golf van gewillige vegters toe te rus om oorlog te voer teen die vlugtelingbeskawing.  Weereens hou die vlugtelinge vol in ‘n lang en uitgerekte konflik met een van die magtigste nasies – een só magtig dat selfs die res van die wêreld nie gesamentlik teen hulle tot openlike konfrontasie sou toetree nie…

En dís waarom.  Dit is die antwoord op die vraag hierbo.  Die verhaal van die Boer is ‘n verhaal van suiwer wetenskapfiksie en fantasie.  ‘n Verhaal wat die verbeelding aangryp.  Dit kon net sowel deur Lucas of Tolkien uitgedink gewees het.  Die verhaal van ‘n handjie vol mense wat teen die mees onwaarskynlike stel omstandighede oorleef het.  En net soos in Tolkien en Lucas se werke is daar nog ‘n element teenwoordig – nie towery of die fors (van die Jedi) nie, maar die Lig wat hulle vergesel het.

Die vraag is nou:  “hoe gaan die volgende hoofstuk lyk in die verhaal van die vlugtelingkinders?

Reaksievraag:

Machiel Viljoen: Ek sou graag, Suidpunt, ‘n wetenskapfiksieverhaal uit jóú pen wou lees.  Jy het duidelik opleiding gehad en het ooglopend al heelwat oor hierdie veld gedink en opgelees.  Jy is in alle waarskynlikheid in ‘n beter posisie om ‘n werklike bydra te maak as die gemiddelde skrywer in dié veld.  En hoewel ek nie die waarde van die goeie werk wat jy doen wil minag of onderskat nie, voel ek dat dit juis persone soos jyself is wat ‘n werklike bydra (nie alleen resensies, onderhoude, ens. nie) kan maak en ‘n boek op die wetenskapfiksierak van Afrikaans kan nalaat.  Ék dink jy kan.  Ek hoop jy sal. Sien jy kans om jouself te ontbloot deur te waag in die kantlyn van Afrikaans – waar die waters troebel en gevaarlik is en die loon skamel?  Waar daar maar enkele name op ‘n lys verskyn vir hul passie en waagmoed…

Die meeste werke in Afrikaanse fiksie verg bloot behendigheid met die taal, want die stories is relatief gewoon – maar wetenskapfiksie verg meer.  Dit verg verbeelding en ‘n afwesigheid van talle grense wat baie laat huiwer – soos ‘n hoë voetbrug sonder ‘n handreling.  Min waag dit, want die beste stuurlui staan aan wal…

Suidpunt: Baie dankie. Om die waarheid te sê was ek ‘n paar jaar terug ‘n finalis in ‘n sekere nasionale dramaskryfkompetisie, met hierdie spesifieke genre, maar ek weet ook waar die foute ingesluip het (dit kon ek ná twee jaar nugter uitpluis). Te min humor en kwinkslae na my sin op daardie stadium, die spreekbeurte (eintlik metafisiese debatte) is te lank, die karakters lyk ook te veel op mekaar; want op daardie tydstip het ek eers my eie persoonlikheid werklik leer ken en dus twee INTJ’s met hul eie foute teenoor mekaar gestel (en te veel van die stereotipes probeer ontwyk – nooit ‘n goeie resep vir Jan Publiek wat maar die gewone melktert by die koffie soek nie). En natuurlik het die groot bestanddeel ontbreek: die metafoor (of ou sprokie) as troop of simbool. ‘n Dier of ruimtewese, of ‘n dier/ruimtewese se handeling, wat byvoorbeeld die hele mense-ontwikkeling of -verhoudings in die kleine weerspieël. Dink byvoorbeeld aan ‘n walvis wat weer te water (vry)gelaat word, teenoor ‘n (logge) vrou wat sê nou maar uit ‘n ongelukkige huwelik bevry is. Jy kan dit werklik nie miskyk nie, dit weeg darem te swaar in die intrige. Dis maar gebou op dieselfde jukstaposisie as twee minnaars wat vurig soen en die witwarm ketel wat met ‘n gefluit die ore laat tuit.

My grootste vrees is bowenal plagiaat. Dikwels as ek in ander tale soek na inligting wat ek vir ‘n Wikipedia-artikel versamel, kom ek op feite af wat al dekades voor my tyd al woord vir woord presies dieselfde op skrif staan as daardie “helder oomblik” wat ek gisteraand onder die stort beleef het. Net in ‘n ander taal. Dit is dus ou alge in ‘n anderman se kultuur se spreekwoordelike visdam wat deur die waterpomp aanhou in ‘n kringloop verkeer. En dan het mens nog nie eers boeke in eeue-oue tale soos Spaans of Portugees of Italiaans onder oë gehad nie. Of wat van tale soos Tsjeggies of Kroaties of Roemeens wat mens so dikwels oor die hoof sien? Sal ons ooit weet?

Verder hou ek my maar besig om strategieë te soek hoe mens Afrikaans kan uitbou.

Jy kry Afrikaners wat in Patagonië verspaans het, lui ‘n ondersoek twee maande terug by De Gruyter. Dis ‘n vraag wat lankal reeds beantwoord is. Wat’s nuut? Wat kan jy waaragtig nog byvoeg wat ons nie reeds in die Kaapse metro beleef en gesien het nie? Kinders wat hul pappie “dêrrie!” met so ‘n onmiskenbare plat Afrikaanse aksent.

Maar dan kry jy die Duitse taalkundige, wyle prof. dr. Ulrich Ammon, wat in so ‘n ryke kultuur van 80 miljoen mense grootgeword het, wat ‘n enkele artikel geskryf het in Galicies, ‘n onbekende taal benoorde Portugal. Daardie taal bestaan slegs uit 3,5 miljoen sprekers. Maar die onderwerp handel juis oor die bedreiging wat Engels as enkele wetenskapstaal vir die wêreldgemeenskap inhou (Algúns efectos do predominio do inglés como lingua internacional da ciencia e sobre outras linguas e os seus falantes, 1998). Wat sou die man tog besiel het? Almal publiseer tog in Engels!, sal die Hollanders en Dene jou ook toevloek. Wie de hel lees Galicies? Dis slegs eenmaal ook aangehaal! Dis waansinnig! Dis ‘n vraag wat nog nie beantwoord is nie. Dis stroomop. Dis nuut! Hoe verklaar jy dit? Maar wat wéét hý wat daardie Patagoniërs, Kapenaars, Hollanders en Dene nie weet nie?

Ek weet nie. Dalk ly ek nou eers aan die Dunning-Kruger-effek. Tans het ek nog te min antwoorde en lewenservaring, miskien skryf ek tog eendag weer iets. Iets met ‘n snoet, geronde ore, en ‘n stert.

 Suidpunt: Weer eens baie dankie vir die onderhoud, ek hoop Afrifiksie en die Afrikaanse Wetenskapsfiksie gaan van krag tot krag.

Machiel Viljoen:

Dankie.  Ek hoop om jou eendag te ontmoet, van aangesig tot aangesig – dalk vir ‘n koffie in ‘n eksotiese, ver plek – miskien iets soos ‘n kroeg op Tatoïen…

Voorspoed en seën met jou werksaamhede – mag jy ook, soos my en jou voorgangers, in die Lig wandel…

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.