Leon Lemmer: ‘n ‘Slokkie’ met NP van Wyk Louw

Deel op

Die volgende boek is onlangs gepubliseer, Vuur in sy vingers: Die verreikende invloed van NP van Wyk Louw (Hermanus: Hemel & See Boeke, 2020, 288p, R250), met Ampie Muller en Beverley Roos-Muller as bydraende redakteurs. Beverley was 22 jaar lank (p 14) Ampie se derde vrou, nadat hy die vorige twee aan die dood afgestaan het. Die boek het verskyn “ter herinnering aan die digter NP van Wyk Louw (1906-1970) in die vyftigste herdenkingsjaar van sy afsterwe” (5). Dit is seker vanjaar se enigste verdienstelike huldeblyk aan ‘n groot Afrikaner. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het ‘n doodsonde gepleeg deur Jeremy Vearey, ‘n oud-Robbeneilander, te versoek om vanjaar se NP van Wyk Louw-gedenklesing te lewer. Daarin word Louw in Kaaps as “Boeta NP” aangespreek. Sy vriende het hom Wyk genoem. Ek volstaan met Louw.

Vearey se teks is op LitNet (19.06.2020) beskikbaar. Hierdie onbesonne uitnodiging toon hoe loslit die Akademie deesdae met Afrikaners en Afrikaans omgaan. Albei het klaarblyklik hulle heiligheid verloor. Ander sogenaamde Afrikaansinstansies het hulle al dermate van Afrikaners gedistansieer dat dit vir hulle onnodig geword het om Louw te gedenk. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument het as ‘n agentskap van die ANC-regime se Departement van Kuns en Kultuur niks ter huldiging van Louw gedoen nie, al het Louw die ontwerp van die Taalmonument grondig beïnvloed.

Die boek is redaksioneel goed versorg en ‘n pragtige produk. Die teks word aangevul met tersaaklike foto’s. Aanduidend van die tyd waarin ons leef, was dit skynbaar onmoontlik om ‘n hoofstroom-uitgewery te vind wat bereid was om die boek te publiseer. Naspers/Media24 publiseer deesdae eerder ‘n prulboek oor ons geskiedenis, soos The lie of 1652 (Praag 10.10.2020), of die uitlatings van ‘n vlak wêreldburger, soos In my vel (Praag 1.09.2019), of ‘n boek waarin terrorisme verheerlik word, soos Jeremy vannie Elsies (Praag 26.05.18), om van Bird Island nie te praat nie. Soos deesdae dikwels met Afrikaanse nie-fiksie gebeur, is die publikasie van die Louw-huldigingsbundel deur ‘n subsidie van die LW Hiemstra Trust moontlik gemaak (4).

Diegene wat bydraes gelewer het, het Louw geken of is deur hom beïnvloed. Die samestelling van die bundel het in 2015 begin (14) en het jare in beslag geneem. Die gevolg is dat verskeie bydraes postuum gepubliseer is. Dit sluit vir Ampie Muller (1930-2019), Louw se skoonseun, in. Ek het vir Muller leer ken kort nadat hy, voordat hy 30 jaar oud was (41), tot professor in sielkunde bevorder is. Later was ons kollegas aan ‘n ander universiteit. Ek was ‘n enkele keer in die jare sewentig by hom aan huis in Tamboerskloof, toe hy met sy tweede vrou getroud was.

Ek onthou hoe geskok ons was toe Muller se eerste vrou, Ria (1932-1964), Louw se oudste kind, op 32-jarige ouderdom oorlede is. Muller moes toe na hulle drie klein kindertjies omsien. Reeds jare voor die Dakar-safari in 1988 het Muller hom vir toenadering tot die ANC beywer. Muller het klaarblyklik nie besef dat dit vir die ANC nie soseer om toenadering gaan nie, maar om algehele magsoorname. Sy derde vrou, Beverley, het as mede-verligte dit ook nodig gevind om met die ANC in ballingskap in 1989 in Lusaka kennis te maak (15). Sy skryf, soos deesdae die gewoonte is, van “our painful history” (62). Die Muller-egpaar se standpunt is: “Ons is … bewus van die behoefte aan transformasie en bowenal die insluiting van diegene wat voorheen uitgesluit was” (16).

Louw se mate van politieke verligtheid is glad nie met die Mullers se oorverligtheid vergelykbaar nie. Dit is ‘n hinderlike kenmerk van die boek. Byvoorbeeld, in die voorwoord word daar verwys na Louw se “weerlegging van die basiese beginsels van Afrikanernasionalisme” (11). Dit het glo tot gevolg gehad dat “hy deur die apartheidsregime ontken is” (11). Louw het seker nooit die latere smeerterm “apartheidsregime” gebruik nie. Hy is nie deur die Nasionale Party-regering ontken nie; hoogstens misken – gedagtig aan Hendrik Verwoerd se kritiek in 1966 op ‘n opvoering van Die pluimsaad waai ver (eers in 1972 postuum gepubliseer) en die afwesigheid van ‘n regeringsverteenwoordiger by Louw se begrafnis (11). Louw was krities oor enkele aspekte van die Nasionale Party-regering se beleid maar dit is (hoogs) oordrewe om te beweer dat hy die basiese beginsels van Afrikanernasionalisme weerlê het.

Hou ‘n elementêre feit in gedagte: Louw se politiek strek tot 1970 (‘n halfeeu gelede) en dié van sy skoonseun, Muller, tot verlede jaar. Ian Raper het Louw geken en verwys tereg na sy politieke ‘verligtheid’ tussen aanhalingstekens (168) omdat hy die graadverskil erken. Die ANC het in 2005 postuum aan Louw erkenning gegee met ‘n toekenning (11), glo vir “letterkunde en die bevordering van die regte van Afrikatale” (77) – “regte” en “Afrikatale” is tipiese ANC-voorkeure. Dié toekenning is gedoen kort ná die dood van Truida Pohl (1913-2004), Louw se tweede vrou. Ek dink nie sy sou tot die ANC se verering van Louw ingestem het nie. Huldiging deur die ANC-regime sou myns insiens eerder vir Louw in sy graf laat omdraai het. Die teks van die redakteurs van hierdie bundel kan die verregaande indruk wek dat Louw se politieke oortuigings nader aan dié van die ANC as die Nasionale Party was. Ek sou eerder beweer dat Louw se standpunt teen die terroristiese ANC soos volg, in Louw se woorde, geformuleer kon word: “dat ons nie kon gebuig word / soos húl geweld dit wou” (179).

Verloopte Afrikaners soos FW de Klerk en Leon Wessels dateer hulle verligtheid terug tot in hulle prille jeug toe hulle met bruin plaaskinders gespeel het. Die redakteurs van die boek haal dieselfde laai met Louw uit, met as bonus dat die klonkies “bruin Afrikaners” genoem word (11). Dit was destyds ‘n algemene verskynsel dat blanke en bruin kinders saam op plase gespeel het. Dit gee nie ‘n aanduiding van die verligtheid van die blanke kinders of hulle ouers nie.

Maar die redakteurs gaan verder: “Louw was met afgryse vervul deur die Nazi-besetting van Europa, wat enige oorblywende vrae wat hy nog oor die Nasionale Party gehad het, verwyder het” (11). Dit kan gelees word asof Louw hom reeds aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) van die Nasionale Party gedistansieer het. ‘n Kenmerk van die periode tussen die twee wêreldoorloë was dat intellektuele, plaaslik en elders in die Weste, onseker was of hulle hulle by die Nazi’s of die kommuniste moet skaar. Daar was toe immers nog nie duidelikheid oor hoedanig hierdie twee ideologieë in die praktyk sou funksioneer nie. ‘n Buitengewoon heldersiende intellektueel soos George Orwell (1903-1950) het aanvanklik die kommunisme omarm terwyl sy tydgenote, soos die Louw-broers – NP van Wyk en WEG (Gladstone) – aanvanklik heelwat simpatie met die Nazi’s gehad het. Dit het ook vir baie ander Nasionale Party-lede gegeld. Reeds in die aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog is baie Afrikaners egter deur die Nazi’s ontnugter. Die Nasionale Party het homself spoedig neutraal in die stryd verklaar. Daar kan geen sprake wees dat Louw hom toe reeds van die Nasionale Party gedistansieer het nie.

Die redakteurs gaan egter polities byderwets voort om Louw so aanvaarbaar moontlik in die nuwe Suid-Afrika voor te stel. Die jongste waarborg vir onbesproke verligtheid by blankes is mos dat jy ‘n slavin, of ten minste ‘n nieblanke, as voorouer moet hê. Louw se “genetiese bande met die bruin mense”, sy “‘kleurvolle’ genealogiese agtergrond” kom dus ter sprake (12; ook 69). Ampie Muller se oudste kind, Anneke, het, ingebed in die verligte politiek van haar pa, glo “dekades lank” oor Louw se voorsate navorsing gedoen (12). Suid-Afrika word gekarateriseer as: “Land van kleurobsessies en geheime familiebande!” (76). “Om te kan bevestig dat die ‘Groot digter’ net soos al die ander taalgenote wat hom na aan die hart gelê het (die bruin Afrikaners) van gemengde afkoms was, is ‘n uiters belangrike historiese en literêre narratief” (77).

Beverley Muller gaan selfs verder: “Dit is die moeite werd om aan Breyten Breytenbach se woorde te dink, wat hy drie jaar ná Louw se dood uitgespreek het: ‘Ons is ‘n bastervolk met ‘n bastertaal. Ons aard is basterskap” (78). Op grond waarvan word Louw tot ‘n baster verklaar? Anneke het bevind “dat minstens vyf van Louw se voorsate slawe was” (73). Waarop kom dit neer? “Van Wyk Louw se voorsate (in persentasies) … 2.15 slawe,” met geen ander nie-blanke bloed nie (72). Anders as Beverley en Anneke (en seker ook Breyten) verklaar ek Louw onbetwisbaar blank. Louw se afkoms word om hedendaagse politieke redes in hierdie boek doelbewus erg verdraaid voorgestel.

Die boek moet nie uitsluitlik beoordeel word vanuit die redakteurs se verligte invalshoek nie. Daarmee het hulle Louw polities probeer annekseer. Maar die boek in sy geheel is ‘n wonderlike leeservaring waarin ‘n mens Louw as mens en as kunstenaar, dosent, ens, leer ken. Hy was aanvanklik ‘n dosent in die opvoedkunde aan die Universiteit Kaapstad (1929-1949), maar vir die doeleindes van hierdie boek is van belang sy professoraat in Afrikaans aan die Universiteit Amsterdam (1950-1958) en die Universiteit van die Witwatersrand (Wits, 1958-1970). Die boek bevat baie inligting wat nie verlore mag gegaan het nie. Die leser leer Louw ken as iemand wat nie dogmaties was nie. Hy het waarde aan twyfel geheg (13). Hy was lief vir katte (16), ens.

Ampie Muller vertel dat Louw ‘n “voortreflike skut” (32) en ‘n “gedugte stapper” (30) was. Maar hy was ‘n onbeholpe motorbestuurder (95). Louw het bv nooit tydens sy verblyf in Nederland ‘n motor bestuur nie (30). Ná sy terugkeer in Suid-Afrika het hy vir hom ‘n nuwe Mercedes aangeskaf (40). Anders as die Nederlanders het Louw “self nooit daar fietsgery nie” (34). Maar hy was lief vir reis (34). “Hy het van grappe gehou, veral van woordspel” (31). Hy was “‘n intens private persoon” (32) met ‘n “wonderlike kalmte” (46). Ampie skryf: “Ek het hom nooit as ‘n kerkganger geken nie” (36). Hy was nooit ‘n man ryk aan materiële goedere nie, maar hy het ‘n “enorme kennis” gehad. “Hy was vir ons ‘n wandelende ensiklopedie” (34). “Hy was ‘n entoesiastiese maar onsuksesvolle kok” (40). Hy het “nie baie omgegee … oor wat hy aangetrek het nie” (45).

Louw se stoflike oorskot is veras, maar die as is nooit gaan haal nie, gevolglik het hy nie, soos sy wens was, sy laaste rusplek in die Verlatekloofpas naby die familieplaas van sy jeug, Gunsfontein, by Sutherland gevind nie (27, 51). Dit dui dalk op ‘n disfunksionaliteit in sy gesin. Dit kan met Louw se buite-egtelike verhouding met Sheila Cussons (1922-2004) tydens sy verblyf in Nederland te make hê. Sy het haarself eerder as ‘n skilder beskou, maar van 1942 af Afrikaanse gedigte gepubliseer. Dit lyk asof hulle geesgenote was. Cussons het bv die Rooms-Katolieke geloof aangeneem terwyl Louw lank oorweeg het om dieselfde te doen (240), maar dit sou hom dalk (te veel) van tradisionele Afrikaners vervreem het.

Dit is maklik om hulle verhouding te veroordeel. Cussons het in 1950 van haar man, C(Christoffel)JM Nienaber (1918-1988), geskei terwyl Louw en Pohl met hulle huwelik voortgegaan het omdat hy “ten alle koste sy familie bymekaar wou hou” (38). Maar albei het voorheen geskei. Louw se eerste vrou (1930-1937) en moeder van Ria en Nakkie, was Joan Wessels (1906-1975). Pohl was met Fred le Roux (1913-1984) getroud (1935-1940) en het geskei sodat sy in 1941 met Louw kon trou. Hulle het twee kinders, Reinet en Peter, gehad. Al het Cussons moontlik ‘n duurder prys as Louw weens hulle verhouding betaal, vind ek dit aangrypend dat sy in 1982, ná die verbrokkeling van haar tweede huwelik en 12 jaar ná Louw se dood, gesê het dat sy vir Louw liefgehad het (239).

Louw is in Sutherland gebore en het daar (49) en later in Kaapstad op skool onderrig in Engels ontvang (52); ook aan die Universiteit Kaapstad. Sy pa was ‘n prokureur wat hom en sy gesin in Desember 1920 in Kaapstad hervestig het. Hulle huis in Sutherland is deesdae die Louw-museum. Louw het sowat 14 jaar op Sutherland gewoon en sy jonger broer en mededigter, WEG (Gladstone) (1913-1980), net sowat 7 jaar. Wat ek eienaardig vind, is dat Gladstone en sy vrou, die komponis Rosa Nepgen (1909-2000), ten spyte van Gladstone se kort verblyf op Sutherland, in die agterplaas van die Louw-museum begrawe is (58). Maar ek moet byvoeg dat Louw se pa daardie huis eers in 1925 verkoop het. Die Louw-gesin het aanvanklik dikwels vakansies op Sutherland deurgebring en ook op Gunsfontein en die winterplaas Boesmanshoek (hulle ma se ouers, die Van Wyks, se familieplase) (59).

Dit is bekend dat Gladstone as Afrikaner meer konserwatief en behoudend as sy broer was. Toe Gladstone dosent in Afrikaans aan die Universiteit Rhodes in Grahamstad was (1944-1957), het die studente hom soms getreiter deur ‘n Union Jack oor sy huis se voorhekkie te hang. Dit het glo nie lank geduur voordat Gladstone uitgestorm het, die vlag afgepluk en vertrap het nie.

Van Wyk Louw was ‘n begaafde leerling, van wie gesê is: “Good at composition. Less good at spelling” (54-55). Op 8-jarige ouderdom het hy begin om gedigte te skryf (66). Wat hom in sy literêre vorming gehelp het, is ‘n “well-read mother” (52). “From a very young age they [four Louw brothers] were taken to the local library which was full of English and Nederlandse books” (57).”He would always believe it was his special good fortune to be born at a time when the language was young, ‘unspoilt, free of Anglicisms'” (65).

‘n Broerskind van Louw haal hom soos volg aan: “Ek kom om vir ‘n volk te pleit / wat klein naas al die volke staan – / dat hulle naam nie sal verklink / en tot die stiltes gans vergaan” (82). Net ‘n egte Afrikaner sal dit skryf.

Die uitgewer, Koos Human (1931-2018), wat met Louw se tweede oudste kind, Nakkie (1933-1984), getroud was, verwys na Louw se liefde vir brandewyn (86, 87) en sê: “Hy het selde oor sy [skryf]werk gepraat … Vir geestigheid het hy groot agting gehad en daarmee saam spitsvondigheid” (87).

Peter (gebore in 1950), Louw se enigste seun, noem dat sy pa “versigtig-skepties teenoor die sielkunde … gestaan het … Sy uitgangspunt het gepas by ‘n betreklik introverte, analitiese persoonlikheid soos syne, wat sover as wat sy latere roem dit toegelaat het, jaloers oor sy privaatheid gewaak het” (89). “Vir my ma [Truida Pohl] was Van Wyk Louw ‘n fundamenteel onkenbare, onbegryplike wese. Telkens as mens dink jy weet hoe sy kop werk, dan kom daar iets nuuts vorendag wat al jou veronderstellings ondermyn, het sy op ‘n slag gesê. En as mens dr Jaap Steyn se biografie van Van Wyk Louw lees, moet jy met haar saamstem” (90).

Peter skryf: “Ek het geleer om, as ek ouerlike simpatie nodig gehad het, eerder by my ma aan te klop” (92). In Amsterdam het Louw “hom in ‘n mate van die gesin afgesluit [en] … geweldig hard gewerk” (91) – Ampie Muller dink Amsterdam was “die hoogtepunt van sy [Louw se] loopbaan” (38). Peter skryf voorts: “In Suid-Afrika het ek my pa ervaar as die beskermende en hardwerkende broodwinner in die huis, maar ook as die hartlyer nadat hy in 1961 ‘n ernstige hartaanval gehad het en dikwels siek was … Ek sal my verhouding met hom nie as besonder warmhartig beskryf nie … Ons was albei betreklike introverte en onderhewig aan die tipiese gesinsdinamika waar die moeder-seunverhouding sterker as dié van vader-seun was, en omgekeerd het my suster [Reinet] en vader beter gebind … Dit was asof die liefdesonmin van die Nederlandse jare tussen my ouers nooit gebeur het nie, en geoordeel aan hulle klaarblyklike gehegtheid aan mekaar in die Johannesburgse tydperk [1959-1970], was dit vir my moeilik om te glo toe my ma my ná sy dood daarvan vertel het” (94). Peter sal sy pa nie as ‘n “gesinsman” beskryf nie (94).

Peter skryf oor sy pa: “Hy was die mees onpraktiese mens wat ek ooit geken het” (95). Peter verwys verder na Louw se “enorme intellek, kreatiwiteit, fotografiese geheue, ensovoorts, ook ‘n sterk en klaarblyklik vreeslose persoonlikheid en ‘n sekere beperktheid of lompheid in sy hantering van mense as individue; op sy moeilikste in sy verhoudings met die vroue in sy lewe” (95). “Hy was nie ‘n mens-mens nie … [Daar was] tye van intense energie waartydens hy ook geskryf het, gevolg deur ontsettende depressies … Daar was ook ‘n ouwêreldse eerlikheid, ordentlikheid en noukeurigheid … Verder ‘n onblusbare intellektuele nuuskierigheid … Hy het ‘n MA in Duits gehad en sy Latyn was só goed dat hy tydens ‘n oorsese reis ‘n gesprek met ‘n priester in dié taal kon voer” (96).

Peter verwys na Louw se strewe na ewewig en na sy waardering vir die wêreld en sy skoonheid, maar hy het terselfdertyd ook waarde geheg aan askese en eenvoud (97). “Hy het geglo dat die liberalisme sowel as nasionalisme, op hul eie, inherente risiko’s inhou, maar suksesvol gekombineer kan word. In vandag se terme het hy dus ‘n stelsel van individuele regte in samehang met groeps- en minderheidsregte, soos taal- en kulturele regte, voorgestaan” (97). Peter noem dat Afrikaans “in die nuwe [politieke] bedeling drasties agteruitgaan … Uiteraard is hierdie afgang ‘n bedreiging vir Van Wyk Louw se nalatenskap, en om sy onthalwe is ek bly dat hy nie meer daar is om te sien hoe die taal in die nuwe bedeling veld verloor nie” (97).

Ampie se jonger broer, die joernalis Piet Muller (gebore in 1938), verwys na die anglisismelose “plaasafrikaans” waarmee Louw grootgeword het (101). “Hoewel Louw hoegenaamd nie in die konvensionele sin van die woord godsdienstig was nie, was hy diep spiritueel, met ‘n duidelike mistieke inslag” (103). “Dit is minder bekend dat Louw op ‘n tydstip Rooms-Katoliek wou word, wat tot ‘n hewige briefwisseling met sy broer, Gladstone, gelei het” (104). Louw was “die fyn, sensitiewe en byna verwondbare mens agter die strak gesig” (99).

Hendrik Verwoerd se kritiek op Pluimsaad het van Louw “die Groot Buitestaander” gemaak. “Sy verhouding met die Broederbond het ook killer geword, wat moontlik ‘n rol gespeel het in sy besluit om ‘n rustende lid te word” (107). “Miskien was [MT] Steyn vir hom [Louw] die beliggaming van die idee dat ‘n mens nie ‘n volk lief het om sy grootsheid nie, maar veral ook oor sy ellende en sy ‘blote moontlikheid'” (104). Hy het opgehou “om koerante te lees en net na die hoofnuus oor die radio [ge]luister” (101). “Louw het hom self al meer verstote en vereensaam gevoel … Wanneer sy Afrikanerskap en sy lojaliteit teenoor Afrikaans en die Afrikaanse kultuur bevraagteken word, het dit hom diep gekwets” (107).

“Afrikaanse kultuur” – nie Afrikanerkultuur nie – want Louw het geskryf: “Die bruin mense is ons mense, hoort by ons” (102). Of soos Johan Degenaar dit gestel het: “He chose language and not race as the basis of Volk” (66). (Moeder)taal is inderdaad ‘n belangrike deel van kultuur, maar daar is ander beduidende kultuurverskille tussen blank en bruin wat myns insiens nie goedsmoeds geïgnoreer kan word nie. Selfs oor Afrikaans is daar nie eenstemmigheid by blankes en bruines nie. Dan is daar ook die bruin elite se oordonderende dislojaliteit jeens Afrikaans. Bruin mense is nie ‘n homogene ras- of kultuurgroep nie en daar is groot klasverskille onder hulle. Alle bruin mense is dus nie met Afrikaners assimileerbaar nie, bv Moslems. Maar dat bruines kultureel nader aan die blankes as die swartes is, behoef geen betoog nie.

Volgens Piet Muller: Louw se “gesondheid het gestadig agteruit gegaan. Hy is selfs in die geheim Kaap toe [in 1968] om toetse te ondergaan om te sien of hy ‘n geskikte kandidaat vir ‘n hartoorplanting sal wees. Die uitslag was ongelukkig negatief” (107).

Reinet (gebore in 1946), Louw se jongste dogter, vertel dat haar pa “telefone gehaat” het (110). Sy en haar broer, Peter, het nooit Sondagskool bygewoon nie (111) en “aanmening was iets waaroor sy kinders self kon besluit” (112). Maar “toe Beyers Naudé [toe nog ‘n lid van die Broederbond] predikant van die NG-gemeente Aasvoëlkop geword het … het die hele gesin gegaan bloot omdat Pappa soveel bewondering vir sy preke had” (111). Louw was “lief vir goeie gruwelverhale” en sy “kinders is van kleutertyd met boeke gebombardeer … Verjaardae en Kersfees het jy ‘n boek gekry” (113). Bioskoop toe gaan het “selde gebeur” (113). Louw het “‘n uiters rustige geaardheid” gehad. “Jy het hom min kwaad gesien” (114). In die geval van meningsverskil: “Syne was geen oorhaastige woorde nie, maar geestig, rustig, koelbloedig, vernietigend. Bowendien in suiwer en verstaanbare taal” (114-115). Hy het “verdedig wat hy liefhet” (115).

Hiermee kom ek aan die einde van die eerste deel van die boek waarin gesins- en familielede die woord voer. In die tweede deel kom ander stemme aan die woord, voordat die redakteurs teen die einde terugkeer. Ooreenkonstig die verligte ingesteldheid van die redakteurs, staan Adam Small (1936-2016) in die tweede deel eerste in die ry met sy dwaalstories. Hy trek los met sy kenmerkende gekla: “My eie Afrikaanswees is deur die rassiste van ons letterkunde (wat, soos die armes, altyd by ons is) deurlopend … tersyde gestel” (118). Small noem dat Louw “self g’n kuns bestudeer of beoefen het nie” (121) terwyl die letterkunde as kuns beskou kan word en dit bekend is dat Louw ‘n bietjie geskilder het (269). Louw was “‘styf in die knie’ … en nie maklik vir aanbidding te vinde nie” (120). By Louw was daar die oortuiging van “die onvoltooidheid van alles” (120).

Wat van belang in Small se bydrae is, is twee Louw-aanhalings. “As my Afrikanerskap in twyfel getrek word, kan dit nog seermaak, bitter seer” (118) en dat opstand “net so noodsaaklik in ‘n volk is as getrouheid, dat dit nie eers gevaarlik is dat ‘n rebellie misluk nie; maar waarlik gevaarlik is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan” (117-118). Sedert 1994 het daar nog glad te min protes uit Afrikanergeledere opgeklink. Daar is die wesenlike gevaar dat ‘n hele geslag Afrikaners, dus drie dekades, sonder daadwerklike protes verby kan gaan. Gelukkig is daar in die jongste tyd roeringe in Afrikanergeledere, ‘n ligte lente, wat momentum kan kry.

Antjie Krog, gebore in 1952, pas nie in Afrikanergeledere nie. In haar bydrae is daar net twee sinne waarop ek die aandag vestig en wat haar gesindheid openbaar. “Die mens met wie ek sy [Louw se] gedigte die volhoudendste kon deel, was daardie mees passievolle poësie-minnaar van Afrikaans, Jakes Gerwel. Hy wat (ook) die land meer liefgehad het as wat die land hom (soms) liefhad” (125).

Die Nederlandse letterkundige, Hans Ester (gebore in 1946), ‘n Wits-student van Louw, skryf: “Uitwisseling pleks van stelling is die basis van wat Van Wyk Louw ‘die oop gesprek’ genoem het. Die bereidheid om te luister, te leer en indien nodig, om teen te spreek, is ‘n onmisbare element van die menslike samelewing” (153).

Die komponis, Hendrik Hofmeyr (gebore in 1957), noem Louw “die Goethe van die Afrikaanse letterkunde” (154-155). Die meeste van Louw se verse is, volgens hom, “so volkome en volmaak dat hulle hoegenaamd nie om musiek vra nie” (155).

Ian Raper, een van Louw se Wits-studente, skryf: “Louw het dikwels laatmiddag langs die gholfbaan gaan stap; hy het geloop en skryf” (163). Louw “was baie sterk gekant teen sensuur” (164). Hy het baie respek vir C Louis Leipoldt as digter gehad (165). “Louw se begrip van smaak was gebaseer op eenvoud, in elke opsig. Soos Matisse s’n. Vir gedigte was die eis, onder andere ‘onmiddellikheid’ … Hy het dikwels gepraat en geskryf oor nederigheid” (166). “Hy het volgehou dat ritme ‘die asemhaling van betekenis’ is, en dat een enkele woord reeds ‘n gedig kan wees” (167). PG du Plessis was ‘n geesdriftige aanhanger van die belangrikheid van ritme in literêre taal, bv in Louw se Raka (237).

Volgens Raper het Louw “nie gedink daar is enige sisteem van denke wat glyvas is nie. Streng dink is heilig, maar veral die menslikheid, die uitsonderlikheid is betekenisvol” (167). Louw het “telkens aangedui hoe gevaarlik afsondering is; hoe sleg ‘n volk of taalgroep homself dien met paranoia, deur sy taal of sienings ter wille van ‘oorlewing’ op ander af te dwing … [dus] die gevare van stolling in die eie aard … Hy was geen groepsdenker nie, nie een van dié wat ‘wíl dat alles aan sy aard gelyk word’ nie” (169). Teen die omgekeerde sou Louw myns insiens sekerlik ook gekant gewees het: dat alles na die aard van die meerderheid gebuig word, dat wat Westers is verafrika moet word, soos ons sedert 1994 ervaar.

Jaap Steyn, Louw se biograaf, sê dit nie direk nie, maar dit is bekend dat Truida Pohl geweier het dat JC Kannemeyer as biograaf optree uit vrees vir wat hy van veral die Cussons-sage sou maak. Raper is een van die wat nie sy samewerking aan Steyn gegee het nie. PG du Plessis het wel saamgewerk maar tot sy eer gesê uit lojaliteit jeens Louw “hy nie oor alles gaan praat nie” (175). Steyn skryf: “Vriende en familie was baie sensitief oor die politiek [soos ook uit hierdie bundel blyk]. Louw was ‘n Afrikanernasionalis, ook ‘n Broederbonder en aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog, soos baie Afrikaners, redelik pro-Duits – nie omdat hulle pro-Nazi was nie, maar omdat hulle anti-Brits was” (176).

Louw skryf: “Binne ‘n klein bedreigde volk moet die ware nasionalis kritiek en aansporing in ‘n fyn ewewig hou” (177). Volgens Louw het ‘n mens sy volk lief “nie omdat hy heerlik en die beste volk op aarde is nie; jy het hom lief om sy ellende” (177-178). “Hy ontken … dat nasionalisme ‘n vorm van beperktheid, engheid en egoïsme is” (178). Nasionalisme sluit in die reg om “jou onderwys te ontvang in ‘n taal wat jy verstaan” (178). Louw onderskei tussen “die imperialistiese nasionalisme van die groot nasies … en die verdedigende nasionalisme van die volkere wat teen dié soort nasionalisme in verset kom (soos die … Afrikaners)” (178). Die ontstaan van ‘n Afrikaanse nasionalisme skryf Louw toe aan “die strewe van die Afrikaners om ‘n volk met ‘n eie taal te bly” (178).

Let op die oorgang van “Afrikaanse” na “Afrikaners” omdat Louw blankes en bruines by albei ingesluit het, terwyl daar, anders as by tradisionele Afrikaners, nog nooit danige nasionalisme by bruines te bespeur was nie. Deesdae, veral by die ontwikkelde bruines, is daar nie eens lojaliteit jeens Afrikaans nie. Verengelsing is aan die orde van die dag, insluitende die verengelsing van Afrikaans. Steyn beweer: “Louw se nasionalisme was in later jare beslis nie Nasionale Party-nasionalisme nie” (179).

Die skrywer, John Miles (gebore in 1938), was ‘n dosent (1967-1970) in Louw se Departement Afrikaans aan Wits. Miles noem Louw “die stil man” en “vandag eer ek hom steeds verby die nasionale politiek as digter en denker” (188). Louw wou nie sy eie werk verduidelik nie. Hy wou wegbly van vertolking (189).

Die nie-Afrikaner, Karel Schoeman (1939-2017), noem dat Louw “een van die groot figure van Suid-Afrika bly en een van die handvol individue wat die bestaan van die Afrikaner en sy kultuur regverdig” (191). Louw was vir Schoeman “die grootste figuur in die Afrikaanse letterkunde … [en] ‘n gedurige voorbeeld vir almal wat hom probeer navolg, en uit eie reg ‘n uitsonderlike mens” (192).

Koos Kombuis (gebore in 1954) noem Louw ‘n “volksikoon” (197) en dat hy “kop en skouers uittroon in ‘n landskap wat weliswaar besaai is met talle baie goeie digters en woordkunstenaars” (198). “Dis asof hy reeds in die veertigerjare iets kon raaksien van die kulturele en eksistensiële dilemmas waarmee ons as volk in die een-en-twintigste eeu sou wroeg” (199). “Het hy as profeet ons probeer waarsku teen ‘n toekoms waarin ‘Raka, die dier’ sou oorvat, en ons samelewing dompel in anargie?” (202). Ja, ek dink so (Praag 20.04.2014).

Die regsgeleerde, Marinus Wiechers (1937-2018), skryf: “Politieke korrektheid het die oop gesprek deesdae geïnhibeer en versmoor” (215).

Die joernalis, Martin Welz (gebore in 1945), noem: “Met sy ernstige harttoestand is NP wyn en brandewyn verbied. Whisky was sy toevlug” (223). Ek het ‘n kollega gehad wat in dieselfde bootjie was. Hy het vertel dat, anders as ander alkoholiese dranke, whisky ‘n mens se are oopmaak. Ek het toe gesê dat as ‘n dokter sien dat hy iemand nie van drank kan afkry nie, hy dan maar toegee en toelaat dat whisky gedrink kan word.

Die armsalige Max du Preez (gebore in 1951) begin sy bydrae met: “Ek het my lewe lank ‘n irrasionele renons in Afrikanerhelde” (224). Die klem is seker op die woord “irrasionele”. Hy skryf voorts: “Eintlik ag ek Christiaan [de Wet] se broer Piet hoër as sy geliefde kryger-broer Christiaan, want dié ‘joiner’ sien ek graag as die eerste Afrikaner-andersdenkende van die twintigste eeu. En dan was daar darem ook Bram Fischer, die ou Vrystaatse kommunis, en Beyers Naudé, die struggle-dominee” (224). Dit is by diesulkes wat Du Preez hom skaamteloos skaar.

Du Preez skryf: Louw se “konsep van ‘lojale verset’ het my gefassineer, want as ‘n jong Afrikaner [!] in die 1970’s het ek die verset teen die Afrikaner-nasionalistiese establishment in my voel opdu, maar terselfdertyd geen begeerte gehad om te ‘detribalise’ nie. Tydens die onstuimige middel-tagtigerjare het ek gewens Louw was nog daar sodat ek hom kon vra: lojaal teenoor wie? Die ‘volk’? Maar soos deur wie gedefinieer? En: Wanneer is die tyd reg vir ‘dislojale verset’?” (225). Ek beantwoord Du Preez se vrae soos volg. Lojaal teenoor die Afrikanervolk soos gedefinieer deur Afrikaners; nie soos gedefinieer deur die ANC en sy meelopers, insluitende verloopte Afrikaners soos Du Preez, nie. Sedert 1994 was en is die tyd reg vir dislojale verset teen die ANC-regime. Die gebruik van ‘n onnodige Engelse woord in ‘n Afrikaanse teks, soos “detribalise”, het kenmerkend van Du Preez se skryfwerk geword. Sy huistaal is deesdae Engels.

Die volgende uitlating is ook tipies Du Preez: Louw het glo “uit die warmgepoepte binnekring van geleerde Afrikaners gebreek” (225-226). Sou hy dieselfde soort taal gebruik wanneer hy swart binnekringe beskryf? Nee, hy beperk sy onkiese, krasse veroordeling tot Afrikaners. Let op hoe Du Preez agterdog teen Louw probeer wek: “Dit het nie gehelp toe ek uitvind hy was ‘n lid van die Afrikaner-Broederbond nie, ook nie sy gedurige verwysings ns sy onherroeplike verbintenis tot die ‘volk’ nie. Toe moes ek boonop lees hy het in die jare dertig nogal ‘n affiniteit met die Nazi’s gehad en was glo vir ‘n kort tyd ‘n lid van die Gryshemde” (226). Louw het volgens Du Preez “nooit prontuit teen groter apartheid uitgepraat nie” (226).

Du Preez se artikels word gekenmerk aan komplimente vir homself. Hierdie artikel is geen uitsondering nie. Sy koerant, Vrye Weekblad (1988-1994), was Du Preez se “geveg vir demokrasie, vryheid en gelykberegtiging” (226). Watter resultate het hy behaal? Swart oorheersing, korrupsie, rommelstatus, wetteloosheid, agteruitgang, verval, eindelose ellende, ens. Du Preez is glo in 1987 deur Afrikaanssprekende linkses uitgedaag “om ‘n koerant in Afrikaans te begin wat apartheid en onreg onbevrees sou oopvlek en uitwys … Ek het die uitdaging aanvaar as my eie weergawe van lojale verset” (227). Nou is die tyd oorryp vir Du Preez se dislojale verset teen die ANC-regime se rassediskriminasie en onreg, bv onteiening sonder vergoeding, ens. Maar hy is baie meer terughoudend in sy kritiek op swartes as sy verdoeming van Afrikaners.

Die politikus, Robin Carlisle, skryf: Louw “called for the inclusion of coloureds into Afrikanerdom. He reiterated his opposition to separate universities” (250). Een van Louw se Wits-studente, Virginia van der Vliet, skryf: “For Louw there was no way he could envisage territorial separation (or separate universities) for Afrikaans-speaking coloured people” (257). Wat Louw in die jare sestig op sy onpraktiese manier – kyk Peter Louw se opmerking hier bo – nie kon voorsien nie, is dat swartes ná oopstelling al die eens blanke universiteite sou verswelg en die eens Afrikaanse universiteite sou verengels terwyl die tradisioneel swart universiteite sou voortgaan om swart en Engels te bly. Swartes het ‘n keuse tussen inklusiwiteit en eksklusiwiteit wat nie aan blankes gegun word nie. Swart studente verkies Engels terwyl ‘n keuse tussen Engels en Afrikaans as onderrigtaal nie aan blanke studente gegun word nie. Louw het ook nie die massiewe dislojaliteit jeens Afrikaans by bruin studente voorsien nie. In die bruin elite is daar feitlik niemand wat ononderhandelbaar aandring op Afrikaans as onderrigtaal nie; nie aan universiteite nie en al hoe meer selfs nie meer in skole nie. Blankes kan eersdaags die meerderheid Afrikaanssprekendes word.

As joernalis het Ton Vosloo (gebore in 1937) heelwat skuld aan die ondergang van die blanke politieke bewind en dus ook aan die onverkwiklike situasie waarin Afrikaans hom bevind. Hy was die inisieerder van die Afrikaanse Taalraad wat hy doelbewus op so ‘n manier geskep het dat taaloorwegings (die bevordering van Afrikaans) nie voorkeur geniet nie, maar politieke oorwegings, naamlik versoening. Vosloo stel Louw voor “as die Afrikaner se gewete” en verwys dan na Louw se wens van “voortbestaan in geregtigheid” (251). Die punt is egter dat voortbestaan vir blankes in Afrika so problematies is dat hulle dit net met sogenaamde onregtigheid, naamlik apartheid, kon verseker. Geregtigheid word dan sinoniem met die selfdood van die blankedom in Afrika.

Vosloo skryf: “Louw was sekerlik die prominentste Afrikanerdenker van sy tyd” (252). In 1994 is die blankes, volgens Vosloo, hulle “selfbeskikking in geregtigheid ontneem” (253). Dit is ‘n onduidelike en moontlik teenstrydige formulering. Dinge word deurmekaar gegooi. Het geregtigheid in 1994 en daarna geskied? Ek dink nie so nie; nie naasteby nie; eintlik glad nie. “Ons is nou ‘n oop gemeenskap” (253). Regtig? Kan blankes maak en sê wat hulle wil? Is daar vryheid van assosiasie soos die 1996-Grondwet (artikel 18) veronderstel is om te verseker? Mag blankes sake-ondernemings, verenigings of woonbuurte hê wat swartes uitsluit? Nee, aan blankes word die vereiste van inklusiwiteit opgelê terwyl swartes na hartelus eksklusief mag wees. Is ‘n oop gesprek moontlik? In die Afrikaanse hoofstroom-inligtingsmedia, waar Naspers/Media24 die monopolie het, word regse menings nie geduld nie. Selfs woorde soos blankes, nieblankes en Afrikaners word vermy.

Louw het glo ‘n voorwaarde vir ‘n oop gemeenskap gestel: “Die oop gemeenskap, die ware demokrasie, moet jaloers waak oor sy oopheid” (253). Vosloo maak die saak nog meer duister met sy opmerking: “Na my oordeel beteken dit: Ons kan en wil nie onderhoriges in ons eie land wees nie” (253). Korrek. Maar dit is presies waar die blankes nou is. Hulle is onderhoriges. Suid-Afrika is nie ‘n oop samelewing nie. Dat Suid-Afrika “ons [die blankes se] eie land” is, word deur die nuwe bewindhebbers ontken. Algemene stemreg in ‘n “ware demokrasie” het vir die blankes nie oopheid tot gevolg gehad nie; nie daglig nie, eerder stikdonker nag.

Virginia van der Vliet, een van Louw se Wits-studente, skryf: “According to Truida, his wife, Louw found speaking in front of big audiences ‘afskuwelik’, relishing the small classes at post-graduate level. He was in reality, she said, terribly shy and nervous in front of large audiences” (259-260). Louw “believed that ‘die beste dosente vir die eerstejaars moet les gee'” (259). Daar is heelwat sin hierin. Die beste dosente is nie noodwendig die beste akademici en/of navorsers nie.

Ek het die beste tot laaste oorgehou, naamlik PG du Plessis (1934-2017) se bydrae tot die bundel. Hy het Louw baie goed geken. Hy is dié mens wat met Louw as skrywer en akademikus gewandel het. Ek beskou Du Plessis se Fees van die ongenooides (2008) as een van die beste romans in Afrikaans, maar hy en sy boek het glad nie genoeg erkenning ontvang nie. Du Plessis was ‘n Wits-student, -kollega en vriend van Louw. Volgens Truida Pohl was hy Louw se “aangenome seun” (243). Sy het die gedig, “Vier gebede by jaargetye in die Boland,” in Louw se handskrif, wat hy in 1937 aan haar gegee het, enkele maande ná sy dood aan Du Plessis geskenk (243). Du Plessis noem iets oor Louw wat ek nêrens elders teëgekom het nie: “Toe sy hart begin lol, het hy uiteindelik op ‘n half-opgeligte bed in sy studeerkamer geslaap” (236). Sy hartaanvalle was in 1961 en 1968. Eintlik was Louw dus vir bykans die hele duur van sy ampstyd aan Wits (1958-1970) ‘n siek mens.

Du Plessis verwys na Louw as “iemand wat ek grensloos bewonder het” (234) en “die grootste mens wat ek geken en bewonder het” (241). Du Plessis sluit sy bydrae af met die opmerking: “Die grootste voorreg van my lewe: om Van Wyk Louw te kon ken” (243). Hy noem Louw se klasse “Sokraties”. Dit het nie om dogmatiese stellings gegaan nie. Dit is in daardie klasse waar Du Plessis “die grootste waarheid by Van Wyk Louw geleer het: om ‘dalk’ en ‘miskien’ voor jou gewaagde stellings en waarde-oordele te plaas” (234-235).

Ek was geskok toe Gerhard van Huyssteen, die voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, op 19 November oorselfversekerd en uit die hoogte met allerhande hoogsaanvegbare stellings vorendag gekom het, soos dat die voortbestaan van Afrikaans glad nie bedreig word nie (gevolglik erken hy ruiterlik dat hy nie vir Afrikaans veg nie) en dat daar nie so iets soos anglisismes bestaan nie (gevolglik kan hy voortgaan om Kaaps as wonderlike, onskadelike Afrikaans op te hemel). Luister na die “Praat saam”-potgooi op die RSG-webwerf.

Du Plessis verduidelik dat daar oor Louw se digbundel, Tristia (1962), wat grootliks in Amsterdam geskryf is, die teenwoordigheid van Sheila Cussons hang. Namate Louw en Du Plessis se vriendskap gegroei het, het Louw hom al hoe meer in sy vertroue geneem. “Ek het geweet dat die vertroulikhede wat hy bereid was om met my te deel uit naggesprekke tussen twee mense kom en dus nie vir algemene konsumpsie is nie. Maar ek sal altyd onthou hoe sy stem gesak en sy oë versag het wanneer hy oor haar en hulle verhouding gepraat het” (239).

Louw was sedert 1934 ‘n lid van die Afrikaner-Broederbond (AB). Hy het Du Plessis as ‘n lid gewerf (236). Louw het Beyers Naudé se verraad teen die AB en die Afrikanerdom sterk afgekeur. Louw het hulle vriendskap verbreek deur aan Naudé, in Du Plessis se teenwoordigheid, te sê: “Beyers, ek en jy groet mekaar nie meer nie” (235). Vir Du Plessis het Louw gesê: “Hy kon sy verskille met die AB intern uitgemasel het, maar om na die Engelse koerante toe te hardloop, is verraad” (236).

By geleentheid het Du Plessis teenoor Louw beweer Afrikaners “is ‘n aanmatigende groepie mense – so min hier aan die verre suidpunt van ‘n agterlike kontinent. Waarop hy geantwoord het: ‘Hoeveel dink jy was die Grieke toe hulle ‘n beskawing geskep het?'” (236). Afrika is ongetwyfeld die agterlikste kontinent. Die kern van die ongedurigheid van die Afrikanerdom met die ANC-regime is die snelle agteruitgang sedert 1990/94 van (Europese/Westerse) beskawing. Hoewel Verwoerd vir Louw diep seergemaak het met sy aanval op Pluimsaad op Republiekdag, 31 Mei 1966, het die sluipmoord op Verwoerd op 6 September in dieselfde jaar vir Louw “diep geraak.” Hy het telkens gevra: “Waarheen is ons op pad?” Minder as vier dekades later het die antwoord geblyk te wees dat ons op pad na ‘n ramp was. Ná die betroubare en gesaghebbende leiding wat daar van Verwoerd uitgegaan het, het die Nasionale Party al hoe meer koers verloor.

Du Plessis skryf: “Die AB het vir my ‘n besondere bonus gebring. Dit het ‘n gewoonte geword dat ek Van Wyk Louw sou oplaai na die vergaderings toe. Ná die vergaderings, wanneer ek hom aflaai, het hy dan gevra: ‘Pieter, hoe lyk dit met ‘n slokkie?’ In sy studeerkamer, oor rooiwyn, het dan vir my die waardevolste gesprekke denkbaar gevolg” (236). “Slokkie” (ook op bladsy 243) is klaarblyklik ‘n omvorming van “slukkie”. Ek gebruik hierdie woord in die opskrif van hierdie rubriek omdat die Muller-bundel ‘n mondvol interessante en waardevolle inligting oor Louw bevat.

Die skryfster, Elsa Joubert (1922-2020), en haar man, Klaas Steytler (1922-1998), was anti-Afrikaner-gesind. Hulle was teleurgesteld toe David Pratt se sluipmoordpoging in 1960 op Verwoerd misluk het. In die 2017-vertaling van haar outobiografiese boek, Reisiger (2009), skryf Joubert: “We are shocked and upset when we hear that the Afrikaans actress and writer, Anna Neethling-Pohl and her producer sister, Truida Louw, stood watch the whole night in the passage outside the ward where Verwoerd was lying. NP van Wyk Louw (who is married to Truida) sat and waited in his car in the parking area. The word is that NP van Wyk Louw is a member of the Broederbond. Now it looks as though he is also a Verwoerd-man. I hear that MER [Maria Elizabeth Rothmann, 1875-1975] is a good friend of the Verwoerd family. She probably prayed hard for his recovery. So much for my writing to her asking her to lead us against Verwoerd! It’s no wonder she didn’t even acknowledge my letter” (Praag 10.06.2017). Ook oor Elsa Joubert: Praag 2.12.2017. Oor MER: Praag 5.08.2017.

Wat die voorafgaande, soos Joubert se kommentaar, aantoon, is dat Louw altyd genoeg – eintlik fundamenteel en onmiskenbaar – Afrikaner gebly het. Ons moet nie toelaat dat verlooptes daardie beeld skend nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.