Karel Combrinck: Ontwaak jy wat slaap

Deel op

Ons Westerse beskawing is oor die eeue aan talle bedreigings blootgestel. Bedreigings van buite, maar dan veral, die ergste van almal: die bedreigings van binne. En as ons sê bedreigings van binne, dan bedoel ons daarmee die verskynsel dat mense hulle wil tot voortbestaan, verloor. Die beste voorbeeld hiervan uit die geskiedenis was die verval en ondergang van die Romeinse ryk. Maar daar is steeds nog die bedreigings  van buite ook en die grootste hiervan is  die knaende uitbreidingsdrang van die Moslemwêreld .

Die stryd tussen die Christen- en die Moslemwêreld strek oor eeue tot sover terug as die geboorte van die profeet Mohammed in 571. Kort na sy dood het die Moslemverowerings van reusagtige gebiede in Noord-Afrika, die Midde-Ooste, en die Verre-Ooste ‘n aanvang geneem. Binne die bestek van twee eeue het die Moslems vanuit hulle tuisvesting op die Arabiese skiereiland hulle heerskapy uitgebrei na (huidige benamings): Egipte, Libië, Algerië, Tunisië, Morokko, Spanje Israel , Irak, Iran, Sirië, Turkye, Oos-Europa en groot gebiede in die Verre-Ooste tot aan die grens van Indië. Vandag het bv. Indonesië die grootste Moslembevolking op aarde.

Vir ons van belang is dat tot en met die Moslemverowerings, die oorgrote meerderheid van die wêreld se Christenbevolking in Noord-Afrika gewoon het. Die Moslems het hieraan ‘n einde gemaak en sedertdien het die Christenteenwoordigheid in hierdie lande tot onbeduidende minderhede gekwyn. Deur die geskiedenis het die Westelike Christenbevolkings van tyd tot tyd daadwerklike pogings aangewend om die Moslemuitbreiding hok te slaan, maar dikwels, het hulle net kop gegee.

Na hulle verowerings van die sesde en sewende eeu het Moslems (Arabiere en Turke) talle skuiwe gemaak in die rigting van Sentraal- en Wes-Europa. Soms het hulle hulle teen sterk weerstand vasgeloop. By ander geleenthede , soos byvoorbeeld nou, sonder enige weerstand hoegenaamd.

Van 711 tot 1492 was Spanje in die hande van die Arabiere. Kort nadat hulle Spanje oorrompel het, het die Arabiese (Moslem-) veroweraars verdere invalle in Frankryk onderneem, maar daar, nadat hulle 500 km ver gevorder het, is hulle in 732 by die stad Poitiers voorgekeer deur Karel Martel en na Spanje teruggedryf. In 1492 het die Christelike Spanjaarde na agt eeue se stryd teen Moslemoorheersing die besetters finaal uit hulle land verjaag.

In 1463 het die Turke Konstantinopel, die hoofstad van die Oos-Romeinse ryk en ook van die Christelike wêreld van daardie tyd oorrompel. Konstantinopel is vernoem na die eerste Romeinse keiser wat die Christelike geloof aangeneem het. Bitter ironies was dat die Turkse inname van Konstantinopel, (voortaan bekend as Instanboel), moontlik gemaak is deur die plundering van die stad enkele jare tevore deur die Kruisvaarders wat die stad se vermoëns om homself te verdedig onherroeplik verwoes het. Die val van Konstantinopel het die deure wyd oopgegooi vir Turkse verowering van die hele Oos-Mediterreense en Oos-Europese gebied.

In 1529 vertrek ‘n reuse- Turkse vloot in die rigting van die Wes-Middellandse See. Hulle word by die slag van Lepanto in die Golf van Korinte (nie ver van Athene nie) deur ‘n koalisievloot van Christelike lande oortuigend verslaan.

Die slag van Lepanto in 1571, voorstelling deur ‘n onbekende Engelse skilder

Dwarsdeur die 17de en 18de eeue het die Turke volhardend probeer om Wene in te neem en sodoende hulle pad oorland na Wes-Europa oop te maak. In 1716 is hulle pogings finaal die nek ingeslaan deur die Oostenrykse veldheer, Prins Eugen.

Vir eeue na die val van Konstantinopel  was die Turke in beheer van Griekeland en die Balkanstate totdat hulle tydens die Griekse vryheidsoorlog van die vroeë negentiende eeu verdryf is, met die uitsondering van die grondgebied aan die Westelike oewer van die Bosforus waar onder meer Konstantinopel (die huidige Istanboel) en die oudste belangrike gebou in die Christelike beskawing, nl. die Katedraal Aya Sophia, geleë is. Die Aya Sophia is terloops pas deur pres. Erdogan van Turkye tot moskee verklaar.

In ‘n onlangse artikel het Leon Lemmer die profetiese boek , Omsingel die laer van die heiliges deur Jean Raspail bespreek wat handel oor die omsingeling van die Europese beskawing deur hordes uit die derde wêreld. Profeties is dit nie heeltemal nie, want dit is gegrond op sy waarnemings van verwikkelings voor — en tydens — die skrywe van die boek. Tog is dit merkwaardig hoe dinge gebeur presies soos hy dit in 1973 voorsien het. As beskrywing van wat nou besig is om te gebeur, is “oorstroming” moontlik ‘n meer akkurate beskrywing  as “omsingeling”. ‘n Vyand wat jou omsingel kan jy nog beveg, maar teen dié wat jou binnegesypel het, is jy magteloos.

Vandag beleef ons die klakkelose aanvaarding van miljoene Moslems uit Turkye en Noord-Afrika in bv Frankryk; dié land sit tans met ‘n bevolking van meer ses miljoen Moslems. En in Engeland, Nederland en Duitsland is die situasie nie veel beter nie. Hierdie instroming sou vanselfsprekend nie moontlik gewees het sonder die goedkeuring, en selfs aanmoediging van opeenvolgende Europese regerings nie. Dink vir ‘n oomblik maar aan mev Merkel wat ‘n jaar of wat gelede die instroming van miljoene “asielsoekers” uit die derde wêreld as ‘n “geleentheid vir Duitsland” beskryf het. (Eine Chance fur Deutschland).

Daar is boeke te skryf oor die maniere waarop die Westerse beskawings besig is om hulleself af te takel. Die groot vraag is natuurlik waarom hulle dit wil doen. Daar is meer as een moontlike verklaring. Een is dat ‘n beskawing wie se einde begin nader kom, die neiging het om met die naderende katastrofe te flankeer. Nog ‘n moontlikheid kan wees dat ‘n beskawing wat so’n laagtepunt bereik het soos die huidige Weste, verkies om ‘n vinnige einde daaraan te maak ten einde weer van voor af te begin of om selfs heeltemal te verdwyn. En dan is daar natuurlik die sterk moontlikheid dat iemand besig is om die situasie te manipuleer ten einde voordeel daaruit te kan trek en te kan oorheers.

Maar as daar dan nou wel ‘n ontwaking in Europese lande sou kom oor die snelle oorname van hulle lande deur Moslem indringers, dan gebeur dit, ironies genoeg, danksy die optredes van die Moslemekstremiste self. Ten einde die artikel nie te lank te maak nie, noem ons net kortliks enkele onlangse gevalle :

  • 2015: Aanslag teen die Paryse hekelpublikasie Charlie Hebdo. 12 mense gedood en 11 verwond.
  • 2015: Aanval op die Paryse nagklub Bataclan. 130 mense dood en 413 beseer.
  • 2016: ‘n Moslembesetene jaag met ‘n vragmotor in ‘n skare feesvierendes in die stad Nice in. 86 mense dood en talle beseer.
  • ‘n Week of wat gelede word ‘n Franse onderwyser in Parys voor sy skool, ten aansien van talle skoolkinders deur ‘n Moslem maniak onthoof.
  • En pas weer word drie vrouens in ‘n kerk in Nice keelaf gesny.

In die afwesigheid van enige wil om die invloei van inkommers aan bande te lê, probeer die Europese regerings die probleem besweer met spoeg-en-plakmaatreëls wat maar net die uiteindelike ramp uitstel. Al die beklekkery en stertswaaiery van Westerse regerings stel die Moslems allermins tevrede. Inteendeel is daar miljoene Moslems wêreldwyd aan die betoog teen Frankryk en dit is wensdenkery dat hierdie oorverhitte atmosfeer nie na Europa gaan oorwaai nie. Vir hierdie situasie het die huidige en ‘n reeks vorige regerings net hulself te blameer. Daar is politieke partye, publikasies en indiwidue wat dekades lank reeds teen hierdie dreigende katastrofe probeer waarsku, maar hulle word deurgaans afgemaak as  “ekstreemregs” en dus ignoreerbaar. Daar is niemand so doof as hy wat nie wil hoor nie. Klink bekend nè?

Veral ontstellend is dat die Moslems, benewens die besetting van gedeeltes van Europese stede, ook voorskriftelik wil wees oor beleid buite die gebiede wat hulle vir alle praktiese doeleindes volledig beheer: Halaalkos in skoolkafeterias, selfs in openbare staatskole, Moslemskole waar kinders teen die Weste geïndoktrineer word, die toepassing van Moslemwette deur Moslemhowe, moskees om elke draai ten spyte daarvan dat Christene wêreldwyd uit Moslemlande verdryf word en geen Christelike kerke aldaar toegelaaat word nie.

Te midde van dít alles maak die Europese Unie en EU-lidlande net nog meer en meer regulasies en voorskrifte wat ” diskriminasie” teen die Moslem- en ander inkommers verbied. Dis asof hulle hul eie graf nie vinnig genoeg kan grawe nie. Die geykte argument is altyd “Ja, maar Moslems is nie almal radikaal nie.” Dit is so, maar hoe weet die Franse en ander Europese lande se polisie watter Moslems is radikaal, of potensieel radikaal en watter nie en as hulle weet, waarom vind die aanvalle dan plaas? Daar is natuurlik gevalle waar hulle wel duidelik geweet het dat ‘n bepaalde persoon ‘n radikaal is en hom nogtans vryelik laat rondloop het soos in die geval van die maniak wat die onderwyser onthoof het. En in elk geval, Moslems radikaliseer oornag.

Een van die redes waarom die Moslems so suksesvol is in hulle pogings om die Westerse wêreld te oorspoel, is dat hulle in sekere opsigte die waardes respekteer wat die Westerse samelewings lank reeds verwerp het: Hulle is konserwatief, hulle het die wil om te wen, hulle is familievas, geheg aan hulle geloof, hulle duld nie homoseksuele huwelike nie, hulle het hoër morele standaarde, hulle vrouens loop nie half kaalbas in die straat en selfs in kerke rond nie. In ‘n neutedop, in Europa is die moskees vol en die kerke leeg.

Natuurlik is daar dié in hulle geledere wat onskuldige mense vermoor en vermink en dis ‘n probleem — ‘n probleem vir ons, maar ook ‘n probleem vir hulle want die oorgrote meerderheid slagoffers van Moslemterreur  is ander Moslems. Lankal reeds het die Moslemwêreld tot die besef gekom dat hulle met ‘n frontale gewelddadige aanslag teen die Weste nie veel verder sal kom nie. Daarom het hulle eerder die strategie begin volg van geleidelike insypeling, want hulle het maar te goed verstaan dat die Westerse humanistiese samelewings teen die instroming van “arme drommels ” uit die derde wêreld nie bestand is nie. Enkele jare gelede het die Turkse president, Erdogan, tydens ‘n toespraak voor ‘n Turkse gehoor in Duitsland uitgeroep: “Dis nie nodig om Turkye as lid van die Europese Unie toe te laat nie. Turkye is reeds in Europa!”

Het die Europese beskawings ‘n kans om hulle teen hierdie dreigende oorstroming te verweer? Die kanse lyk uiters skraal, maar as daar dan tog ‘n kans is, sal dit in die eerste plek afhang daarvan of die Europese beskawings daarin kan slaag om eers die stryd teen hulleself te wen.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.