Sydney Gregan: Word jy nog begeester deur 16 Desember?

Deel op

Op 16 Desember sal die Afrikanervolk weer die Gelofte herdenk. Dit wil somtyds voorkom of baie volksgenote die dag herdenk asof hulle blomme op ‘n geliefde se graf gaan plaas. Of dalk om hulle gewete te sus. Want wat na die 16de gebeur, vertel wat talle Afrikaners betref, ‘n verhaal van traak-my-nie-agtigheid en argeloosheid oor die erfenis en toekoms van die Afrikaner. So asof die doodsklok vir die volk van weleer gelui het en daar nou maar bloot na ‘n ekonomiese leefruimte in die veelrassige nuwe Suid-Afrika gesoek moet word.

Dit is dán wanneer ‘n mens besef dat die diepgang van die gebeure van 16 Desember by baie verbygegaan het. Dit is die diepte van die gebeurtenis wat langdurige waarde daaraan gee en nie die blote feit van ‘n militêre oorwinning oor die Zoeloes op daardie dag nie. Bloot militêr gesien is daar selfs die skeptici en kritici wat beweer dat die 469 manne beter toegerus was as die sowat 12 000 Zoeloes en derhalwe nie eers aan daardie faset veel waarde wil heg nie.

Daarom behoort die militêre van die historiese dag nooit in afsondering gesien te word nie, want dít alleen kan nie langdurige begeestering by ‘n volk opwek nie. Die gebeure wat Bloedrivier voorafgegaan het, het ewigheidswaarde vir diegene wat bereid is om dit in te sien en deel van hulle lewens- en wêreldbeskouing te maak. Bloedrivier is nie ‘n dag nie, maar die kulminasie van ‘n strewe wat in God sy hoogtepunt gevind het.

Die trekkers in Natal was op die vooraand van 16 Desember op ‘n geestelike laagtepunt. Die gebeure rondom Italeni, Bloukrans en Weenen; die bloedvergieting, leiertwis, pessimisme, angs en nood, het die hele Groot Trek op ‘n mespunt laat balanseer. Kaalvoet oor die Drakensberge ja, maar was alles dan verniet? moes seker die vraag by baie van daardie mense gewees het.

En dan is die vraag watter faktore het dan die deurslag bepaal? Eerstens glo ek die onwrikbare geloof by daardie mense wat geanker was in, soos hulle dit self gestel het, die “Almagtige God”. By al hulle gebreke en al die kritiek wat mens kan lewer moet moet mens eenvoudig in stomme verbasing en verwondering staan dat hulle moed en hoop so vas geanker was in hulle geloof. Hulle het in totale afhanklikheid van God gelewe. Dit was ‘n opregte Godsgeloof en nie ‘n platvloerse klein- of bygeloof nie. Ja, geen sakpasgeloof nie. Dit was die grondslag van hulle hele bestaan.

Tweedens, en omdat hulle geloof so sterk was, kon hulle die terugslae en die storms weerstaan. ‘n Ewigheidsgeloof kan die daaglikse houe hanteer en sal, selfs in tye van diepe ellende en smart, ‘n volk dra deur baie diep driwwe en verhef tot baie groot hoogtes. Feit is hulle het gebid en was in lewende gesprek met hulle Heiland. Hulle was dalk van die wêreld verlate, maar het ‘n onlosmaaklike lewende band met God gehandhaaf. Dit het hulle gedra deur die pessimisme, die angs en verdriet; ja en selfs die vrees wat hulle moes ervaar het.

Dit is egter die derde faktor wat baie mense vandag miskyk. Die trekkers het ‘n leier in die persoon van Andries Pretorius gevind wat, soos ons gesien het, menslik gesproke feitlik onkreukbaar was en wat dapperheid betref, sonder gelyke. Leierskap in sulke tye speel, soos wat die ganse geskiedenis bewys, ‘n deurslaggewende rol. Leiers wat nie wik nie, wat nie terugdeins nie, wat nie by die vyand aanlê of toenadering soek nie. Pretorius het geweet daar is net een uitweg: verslaan die Zoeloes! En dít het hy in sy voorbeeld na woord en daad met onderskeiding gedoen – tot begeestering van sy manne en vir geslagte lank. Dit het die kroon op die gebeure geplaas.

Die wyse waarop die Voortrekkers die oorwinning beleef het, vertel van ‘n gesindheid van dankbaarheid en nederigheid, eerder as van selfsug, hoogmoed en selfverheffing. Ja, hulle het besef wie en wat die deurslag gegee het.

Ons moet daardie tipe van ons volk vandag vergelyk met dít wat ons tot ‘n groot mate is en geword het en rondom ons waarneem. Waarin lê ons lewe verankerd? In ons daaglikse oorlewing of in ons daaglikse dankbaarheid? In ‘n materiële toekomsverwagting of in ‘n Godsverwagting van ‘n lewe anderkant hierdie lewe? Kan ons nog praat van ‘n onwrikbare geloof in die “Almagtige God”, bedoelende Hy wat oor alles regeer en ook oor ons volk se toekoms? Feit is, indien daardie geloof nie onwrikbaar is nie; maar deur stormpies en rukwinde soos Covid-19 en “menseregte” omgewaai en meegesleur word, sal Geloftedag vir ons geen begeestering inhou nie, maar vir seker slegs hoogstens ‘n gewetenswroeging wat baie maklik deur ander aktiwiteite verdring sal word. Dit is immers wat die woorde “in totale afhanklikheid van God” beteken. Die 1961-grondwet het gepraat van “In nederige afhankheid van die Almagtige God”. Wonder ons nog hoekom ons in hierdie situasie verkeer met ‘n Grondwet wat spog “Ons die mense”? As jou hoogste wet in jou land God minag, vra dan nie verdere vrae oor jou toekoms nie!

‘n Bygeloof en ‘n kleingeloof het as neweprodukte hoogmoed, verwaandheid, arrogansie, selfsug, eersug – iets wat ons samelewing vandag ten ene male kenmerk. Wanneer jou afhanklikeid in jou “menseregte” gesetel is in stede van in God, dan is daar geen diepgang meer in jou bestaan nie. Dan word selfs kerkbesoek ‘n formaliteit eerder as ‘n opregte behoefte om jou afhanklikheid te bevestig en te bestendig. Hoe oppervlakkig het alles nie geword nie! Ons het trots op ‘n verlede vervang met hoogmoed en selfverheffing in nietige gebeurtenisse soos om ‘n “World Cup” te wen en mekaar dan “high fives” te gee na die tyd terwyl Bok van Blerk “De la Rey” in die agtergrond sing, net om ons nog ‘n bietjie “moed” te gee. Maar dan die vraag: Vir wat sal ons dan daardie moed aanwend?

Wat die derde faktor betref, is ons soekende na ‘n Afrikanerleier vandag wat nie gemeensaak maak met die vyand nie; wat nie praat van “ons” Grondwet nie, wat in woord en daad die Afrikaner sal lei uit hierdie moeras omdat hy self bo alle verdenking staan. In ‘n Godsgeloof verankerd en wat die vryheid van sy volk in ‘n eie vaderland begeer. Dis tog waarom die Voortrekkers getrek het – om vry en soewerein te wees in ‘n land van hulle eie.

Om jouself te betuig uit hoofde van ‘n verankerdheid in God en jouself te handhaaf teenoor die vyand vereis dat jy grense sal trek tussen jou en daardie vyand. Is ons nog daartoe in staat en bereid? Of het menseregte ons so sag gemaak dat ons in ons verwardheid nie eers meer vriend van vyand kan onderskei nie? Vergeet daarvan om “tyd te koop” en te hoop dat die vyand homself sal uitbrand of die “meerderheid” sal begin insien dat “dinge” behoort te verander. Beginselvaste mense koop nie tyd nie en wag nie dat ander sal insien wat verkeerd is nie. Die uur van afrekening is soos 16 Desember nou elke dag van ons lewe en nie meer ‘n bepaalde dag in die toekoms nie.

Is daar ‘n beter bewys van die hopeloosheid van ‘n toekomsverwagting as die geprewel na elke plaasmoord dat dit nou “genoeg” was?

Ek het begin deur te sê dat 16 Desember slegs weer waarde op die 17de én daarna sal hê as ons dit ‘n roeping maak, eerder as ‘n dag om te herdenk. As ons die grondslag van ons bestaan suiwer hou. As ons soos die manne van Bloedrivier op die almag van God vas-vertrouend sal lewe en bou.

Dis slegs dan wanneer ons met alle eerlikheid sal kan onderneem: “Gee ook ons die krag o Here om te handhaaf en te hou!” Mag die God van Bloedrivier, ja die God van alle eeue, ons volk tot besinning bring in hierdie ewe droewige tyd as in 1838. Terwyl daar nog tyd is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.