Suidpunt: En sê nou Suid-Afrika was ‘n Franse kolonie?

Deel op

Stel jou voor: Engeland en Holland word albei in die laat-1700’s en vroeë-1800’s tussen die akkers geskop. Kaapstad word herdoop tot Le Cap en die stadsbeplanning met ‘n Franse hand dienooreenkomstig met sorg uitgelê. Die sogenaamde “Kleine Parys”, van minder as ‘n eeu tevore, het nou werklik ‘n nuwe afsetgebied van Franse verbruiksgoedere geword. Die ‘Breerivier’ (soos dit aan die begin bekend was), of ‘Breederivier’ (soos dit later taalkundig reggestel is) word ‘Fleuve Large’.

As die Afrikaanse letterkunde besig is om ‘n verstarring en stagnering te beleef, dan moet mens waaragtig bietjie handjie begin bysit.

Daar was miskien Karl Kielblock met Lafras Cuyper, ‘n karakter wat persoonlik deur die einste Napoleon Bonaparte gevra is om Franse skipbreukelinge te gaan red, maar selfs die Sestigers, wat pens en pootjies hul in die Franse letterkunde verdiep het, kon glad nie ‘n Franse Suid-Afrika in hul stoutste drome oproep nie. Ook nie Louis C. Leipoldt wat soveel navorsing oor die Hugenote gedoen het nie. Ook nie Marita van der Vyver met haar Franse briewe – Pos uit Provence en soveel Suid-Afrikaners wat in Frankryk gewoon, of halfjaarliks daar gewerk het nie. Sulke mense behoort mos van beter te weet, want hulle ken ‘n ander werklikheid; maar nee! So diep was hul eie denke in ‘n groef, die mag van die gewoonte, ingedryf.

Ek is werklik diep, diep teleurgesteld in die Afrikaanse letterkunde. Is dit regtig so moeilik om ‘n ander Suid-Afrika voor te stel? ‘n Suid-Afrika waar alles rondom jou steen vir steen afgebreek en voor jou oë geplooi kan word, as alles dan bloot ‘n konstruk is? Om nugter na ‘n ander werklikheid te kyk? Om te besef hoe anders dinge kon verloop het? Om skielik uit jou knusse baarmoeder van die gewoonte geruk te word, die vrugwater wat alle kante toe spat, in ‘n Suid-Afrika wat deur en deur nou skielik Frans is?

Toe, gaan uit. Uit by die deure uit, en kyk rondom jou.

Kyk na die naambordjie van die koffiehuis, die internetkafee, die reklamebord, die superette op die hoek, die burokrasie, die televisiekanale, die polisievangwa wat verbyry, die Albert Camus op T-hemde (“je me révolte, donc je suis”), die koerante, die radiostasies, die lamppale, die straatname, die argitektuur… jy mag dit nou alles in Engels ervaar, maar wat as dit Frans was?

Sit nou jou Franse bril op. Doen dit. Nou.

Sou jy kon aanpas? Hoe sou jy rigting vra? Weet jy nog wie jy is? Alles word radikaal voor jou oë hergebore — ‘n Franse Renaissance. Jou hele geskiedenis word sienderoë herskyf.

Wat sou dit vir Suid-Afrika, en veral vir die Afrikaner, beteken het?

Boukuns

Wat my heel eerste opgeval het is dat die Franse hul huise by die klimaat aangepas het. Daar is nie ‘n soort ersatz-imperiale argitektuur, soos die grou en donker herehuise van die Randhere in Parktown, Johannesburg, wat heeltemal onprakties en uit koers is met die sonnige klimaat van Suid-Afrika nie.

Ek het vantevore die volgende artikel probeer vertaal uit die Franse Wikipedia (“Architecture à La Réunion”) vir die Afrikaanse Wikipedia (“Boukuns van Réunion“); en plaas dit hieronder:

Die villa-tipe huise, wat in hul tyd aan die rykes behoort het, bestaan uit verskillende dele. Die een deel was beplan rondom die daglewe buite: bedags het die arbeiders buite en om die huis gewerk. Hierbuite vind mens die kookskerm met sy houtvuur, die sanitêre geriewe, die tuin en veranda. Die ander huisdeel is ingerig vir die aandlewe: die slaapvertrekke en binnenshuise eetkamer.

Tydens die kolonisering van die eiland was daar geen boumeester nie; elke eienaar en sy arbeiders het maar die huis na goeddunke gebou met die middele wat tot hul beskikking was. Wel belangrik hier was die ventilasie om die somerhitte draagliker te maak. Die huis is dus op ‘n fondasie gebou wat ‘n natuurlike lugstroom deurlaat, danksy heelwat belugtingsopeninge.

Op die oog af vertoon die gebou simmetries, maar eintlik het die arbeiders sonder ‘n argitek byderhand bloot ‘n streep deur die grond getrek en alkant twee identiese dele gebou. Dit het in wese reghoekige huise opgelewer.

Die veranda (stoep) is die fokuspunt. Dit vorm ‘n terras aan die voorkant van die huis, en vertoon sodoende die weelde, swier en rykdom straat se kant toe.

Die huis word afgerond deur ‘n tuin vol inheemse plante uit die bos. Hier kry mens gewoonlik ‘n kweekhuis met orgideë, anthuriums en verskeie varingspesies.

En as jy mooi kyk is dakspane gebruik vir die muurbedekking (op ‘n eiland wat dikwels onder siklone moet deurloop) — is dit moontlik dat Suid-Afrikaanse huise min of meer dieselfde sou lyk?

Metrieke stelsel

Suid-Afrika sou nie eers tot Daan Desimaal in die jare 1960 moes wag om uiteindelik na kilometers en kilogram om te skakel nie. Die metrieke stelsel is reeds in 1799 voorgestel, maar eers later in 1837 as die standaard aanvaar. Aan die Kaap? Miskien ‘n bietjie later. Maar, liewe Moses!, beslis nie meer as ‘n eeu later nie. Nooit sou ons aan die linkerkant van die pad bestuur het nie — soos die res van die wêreld sou ons aan die regterkant van die pad met ‘n Renault gery het. Die rekenaar-toetsborde met die volmaakte Franse uitleg sou tog so maklik deur Afrikaners oorgeneem kon word: jy sou nooit ooit hoef te sukkel met Ctrl+136 vir ‘n ‘ê’ nie. Ook sou jy nie meer met die driepunt-kragprop sukkel nie, maar wel met die Euro-tweepunt.

Voedsel

Anders as ons eertydse toekomstige volksmoeders wat deesdae soos hokvarke hul logge Amerikaanse rol-modelle op TV agterna honk, sal die gemiddelde vietse Afrikaanse dame, in navolging van haar Franse rolmodelle, vandag 35 keer aan ‘n happie gekonfyte brioche kou met die kom oggendkoffie agterna (want ‘n beker is dit nie). En, om die oggend op die regte manier te begin, sou sy haar vader soos ‘n vlermuis in die dakkamer uitrook met haar Gauloises-sigarette.

In die verblindende Afrikason sal sy, met haar lunettes rondes noires, vir middagete onder die prieel aansit en ‘n slaaitjie, soppie of paté geniet, vir die entrée. Gevolg deur vleisies en vissies, met aartappeltjies, broodjie, rysies, pastatjies en groentetjies, ‘n olyfie opsy, vir le plat principal. Met, ter afronding, die dessert. Alles perfek volgens die voedselpiramide uitgewerk.

En die aand? Dalk iets soortgelyks, wie weet.

Regstelsel

Napoleon sou beslis ‘n einde aan die Romeins-Hollandse regstelsel gemaak het en Le Cap sou die nuwe Code civil des Français ingevoer, aangeneem en die oue heeltemal vervang het. Dit sou nie wees soos die Engelse “Common Law” wat eenvoudig bo-op die Romeins-Hollandse Reg soos ‘n pleister geplak is nie. Ek het niks meer daarop te sê nie. Geen haan sou ooit ‘n weer daarna gekraai het nie, buiten ‘n paar kapokkie-historici.

Hoewel, toe die Nazi’s alles wat volksvreemd was uit hul stelsel geboender het (daarvan was die Romeinse Regstelsel en die Klassieke een), het van die professore aan die Regsfakulteite die Romeinse reg in die ander lande (soos Amerika) weer onder die stof gaan uithaal en, net vir ‘n tydjie lank, bestudeer. In Suid-Afrika, soos ons met die Britse onafhanklikheid gesien het in 1961, het die staat die Romeins-Hollandse reg selfs verpligte leerstof gemaak — en daarvoor moes jy Latyn op skool of universiteit geken het. Sedert 1965 tot November 1994 was Latyn ‘n pligvak soos deur die Staat voorgeskryf. Dus, as Suid-Afrika onafhanklikheid van Frankryk sou gekry het — sou ons weer die Romeins-Hollandse regstelsel van voor af waardeer het?

Die toekoms en hede is in noue kontak met die verlede

Terwyl Engelse tuine besoedel is met nagemaakte Venusstandbeelde en omgekantelde pilare sonder dak, het ek nog nooit soveel verwysings na die Griekse en Romeinse gode gevind soos in Franse boeke nie, seker ‘n teken van die klassieke opvoeding. Nou die dag lees ek in ‘n Franse kinderboek (La porte, deur Anthony Luc Douzet): “Die reën stroom oor jou vel, die trane van die ou gode sleur jou mee in hul onveranderlike pyn/verdriet.” [La pluie ruisselle sur votre peau, larmes des anciens dieux vous entraînant dans leur peine immuable]

Dis half asof hierdie Franke van weleer, ja, ‘n volksgroep wat eens ‘n soort Wes-Germaans verwant aan Oudnederlands gepraat het, hul beskeie verlede met mag en mening uit die geskiedenisboeke weggeskryf het — en nou die erfenis as die volbloedkinders van die Romeine en Grieke aangeneem het. En volwaardig gelatiniseer het; maar in die proses die aangeleerde Volkslatyn so goed opgeneuk het om ons Frans te bied. En daaroor boonop trots voel! Net een ander land se inwoners het hul ook verbeel hulle is direkte afstammelinge van die Romeine (en wat óók hul eie Mengelduits goddelooslik opgeneuk het!), en dit is die ouens van Engeland. Ja-a, selfs meer volbloed-Romein is hulle as die Italianers self! Net Bart Nel bly trou aan homself.

‘n Mens kan jou baie dinge inprent en verbeel, en soms werk dit ten goede. Mense wat die verlede en filosowe en skrywers uit die 1600’s en selfs die Middeleeue aanhaal, het die neiging om die “onvoorsiene” orkaan, die histerie, die groot skrik van die hede, af te plat tot ‘n buitjie motreën. Want het die Franse nie al alles gesien en beleef en opgeteken nie? En sou hulle, die nakomelinge (ten minste in gees?) van die Romeine en Grieke, presies dieselfde foute maak as hul onverskrokke vaders en sogende moeders?

Soos ook vandag in die biblioteke, sou ons boekrakke van bo tot onder vol Franse werke wees, met hier en daar, ‘n snaaksigheid, ‘n Afrikaanse boekie wat uit die hoekie skamerig loer.

Godsdiens

Wat sekerlik tot ‘n bespoedigende Groot Trek sou kon aanleiding gee, is die Rooms-Katolieke Kerk wat eers in die Kaap en later na die platteland sy parogieë sou uitbrei. Wat die onmiddellike nakomelinge van die Hugenote hiervan sou dink, kan ek my maar net voorstel. As jy Katoliek moes wees om ‘n staatspos te vul, sou dit ‘n interessante wending teweeggebring het. Is die staat sekulêr, dan kon Protestante ewe maklik in die staatsdiens opgeneem word, solank hulle net Frans kon praat.

Ons weet egter dat die Boer/Afrikaner by sy eie kerk gehou het (al was bywoning seker een keer ‘n maand of kwartaal, weens die afstande), en selfs al het ons oor en oor nuwe golwe uit Amerika onder die Engelse bewind destyds beleef, het die kerk voortdurend vermanende traktaatjies uitgestuur wat hul lidmate verbied het om met hierdie sektes enigiets mee te doen te hê. So is mens bewus van De Mormonen in Zuid-Afrika, eene waarschuwing aan allen, die de waarheid, in Christus Jezus, liefhebben deur J. Beijer, wat reeds in 1863 uitgegee is. Stel jou voor hoeveel traktaatjies teen die Roomse Gevaar onder die Franse bewind nie daar sou gewees het nie. Die Evangeliebewegings en herlewings uit Amerika dink ek nie sou die Afrikaanse lidmate ongesiens laat verbygaan het nie.

Ek glo egter, as die Franse soortgelyke wetgewing as die Engelse sou afgedwing het op die grense vir die Grensboere, dat die Kerke in Frans moet preek en dan nog belastings sou verhoog het, sou jy weer ‘n Groot Trek gekry het. En ook daar sou die Kaapse kerk vir oulaas gefemel het: jy moet die owerhede gehoorsaam!

Wat die jongman wel van sy Calvinisme spoedig sal laat bekeer het, is die naakstrande in Desember. ‘n Vry algemene gesig wat mens nou, benewens in die National Geographic, ook op Struisbaai sou kon gadeslaan. Want dis wat Franse doen. Vir die Franse beteken dit natuurlik niks: was hul moeders immers nie die Griekse nimfe wat onder watervalle gebad het nie? So skoon, so puur, so natuurlik, so ongeskonde, so engelrein… soos in ‘n Timotei-advertensie. ‘n Oefenterrein vir die toekomstige beeldhouer wat ‘n paar ekstra rondings van die godinne moet boetseer met sand.

En wat dan van Transvaal en die onafhanklikheid van die Kaap?

Ek het die vermoede die Kaap sou maar klein gebly het en hoofsaaklik handel gedryf het met luiperdvelle en volstruisvere vir Paryse modehuise. Of iemand sou ‘n bakoorjakkalsie as eksotiese geskenk vir Josephine gestuur het. ‘n Mens lees maar net iewers dat sy vir manlief Napoleon op ‘n stadium gevra het om tog asseblief weer slawerny in te stel, want haar pappa en mamma op Martinique se suikerrietplantasie is nou nie meer so winsgewend soos dit voorheen was nie. Al is ‘n standbeeld van haar opgerig, het die kop vele male daarna spoorloos verdwyn.

Sou ons ‘n Franko-Boereoorlog gekry het? Oor die algemeen was Frankryk se houding dat die kolonies eerder ‘n las as ‘n bate is. Soos in Holland se geval met Indonesië is daar nie veel ekonomies in die kolonies belê nie, daar is nie so intensief gemyn soos ons met die Belgiese Kongo vind nie. Bonaparte het ook nie van assimilasie gehou in die kolonies nie, want sou jy diegene gebore in die kolonies Franse burgerskap (en -verantwoordelikheid) gee, sou dit beteken dat hulle op die lange duur later die kolonies self begin regeer, en nie die Franse nie. En dít wil jy nie hê nie.

Ek dink Transvaal sou weens die ontdekking van goud ‘n ongekende bloei beleef het, die Krugermiljoene word ingeploeg in die motorbedryf sedert die eerste Benz aangeland het (want ons wil nie “die vloek van die hulpbronne” op ons laat uitwoed nie). En die res hoef ek nie oor te skryf nie; Steve Hofmeyr het reeds Die verste uur (2011) geskryf: hoe Transvaal sou gelyk het as hy die Anglo-Boereoorlog gewen het. In hierdie geval is daar net geen oorlog meer ter sprake nie.

Hongkong, Suid-Afrika (tot 1994), Australië, Kanada, Nieu-Seeland, Singapoer en selfs die Verenigde State van Amerika, en durf ek sê selfs Israel is van die blinkste sterretjies van die voormalige Britse Ryk wat jy kry. Maar tot vandag toe het nie een van Frankryk se voormalige kolonies (met die uitsondering van Quebec) geweldige vooruitgang getoon nie, juis omdat hulle, soos Holland op ‘n stadium, te hoogs gesentraliseer was: alles word gedoen in en rondom Parys. Frans-Guyana en Réunion is bloot Frankryk se Krugerwildtuine. Krugerwildtuine met wuiwende palmtakke en golwende see. En ‘n lanseerplek vir vuurpyle.

Maar ek dink nie Frankryk is altyd die remskoen nie.

Voortdurend hoor mens uit oorde, soos Madagaskar, dat Frankryk sy voormalige kolonie se vooruitgang om elke hoek en draai probeer ondermyn en kelder. Hoe weet ek nie, want in 1975 het Madagaskar dit sommer self reggekry. Ratsiraka het sosialisme deurgevoer en alle betrekkinge met Frankryk verbreek. Vol vermakerigheid en astrantheid, want dis mos die Sowjetunie wat in die verte koppie knik uit die Kremlin.

Dit het die einde van hul ekonomie beteken, want die Franse tegnici en beleggers het hul koffers gepak, toegeknip en op ‘n streep gewaai, vinniger as wat ‘n Concorde deur die klankgrens kan baan. In 1977 is die ekonomie heeltemal kapot en toe word daar maar stert tussen die bene besluit om ‘n pro-kapitalistiese stelling in te neem en soos ‘n skoothondjie op die ruggie te lê vir ‘n maagkrappie, voor géén ander wêreldmoondheid wat ‘n gekoude been van die tafel af na sy kant toe sal gooi nie, behalwe Frankryk. Ja, die háátlike Frankryk!

Nog politieke woelinge volg en hy word uitgestem. En raai, die einste Ratsiraka vlug toe as banneling na Frankryk. Ja, die háátlike Frankryk!

Wat sê die Keniaanse The East African in 2018? ‘n President is in 2009 glo uit die kussings gelig “because he was trying to break France’s grip on the country.” Hoe? Deur Engels in skole in te voer (en die Franse taal sodoende te verswak), deur sake vir Franse ondernemers te bemoeilik om hul geld in die land te belê (werkspermitte) en deur die Franse ambassade in 2008 te sluit. Haai, soos julle in 1975 ook probeer doen het? Certaines personnes ne comprennent jamais.

Mense die reg ontsê om geld in ‘n land te belê (“The French business community encountered difficulties in renewing visas and work permits.”) — wat de donder?

Ook is daar ‘n Rus, ene Anastacia Promskaya, van die Anti-globalistebeweging van Rusland, wat in 2015 aanvoer Frankryk dwing sy voormalige kolonies om hom eerste in elke transaksie te ken, en op daardie wyse probeer hy hulle sodoende leegmelk. Sy vergeet egter, soos mens in Stephen Smith se boek Negrologie lees, dat dit hoofsaaklik Franse ‘nieregeringsorganisasies’ en veiligheidsmagte is wat die meeste infrastruktuur en basiese dienste van Afrikalande (weens hul onbevoegde regerings) nog op ‘n manier in stand probeer hou. Seker maar dieselfde as wat China doen, want geen ander land sien daarvoor kans nie? Sou jy? Dat Frankryk dus van die geleentheid gebruik maak om eerste in die saak geken te wees, en stemme te koop vir die volgende VN-vergadering, is seker maar billik?

En nou maak dit ook seker sin waarom Frankryk op ‘n stadium so vriendelik was teenoor Apartheid-Suid-Afrika: ja, laat die Amerikaners en Britte julle maar haat en sanksies instel, dè, hier is ‘n eersteklas-kernkragreaktor. S’il vous plaît manipuler avec soin. Sorg net asseblief dat jy vir my ‘n paar ander dingetjies doen. Dis net goeie besigheid.

Die vraag is: wat sou Frankryk met die Kaap gemaak het? Sou ons selfs meer vooruitstrewend as Quebec geword het? Sou iemand eendag uit sy kantoor in Parys na die Eiffeltoring in die verte staar en sê (terwyl hy ingedagte sy bril afhaal en ‘n traantjie of wat wegpink): “ja-nee, ons neefs in Afrika is darem maar staatmakers: bloed kruip waar dit nie kan loop nie”?

Woordeboeke vir Afrika

Ek het onlangs op Gumtree vir my by ‘n Italianer ‘n Robert-Signorelli Dizionario bestel. Toe die pakkie by my aankom, was ek geskok hoe groot die woordeboek is. Dié tweetalige woordeboek is groter as my Pharos Afrikaans-Engels; dit is groter as die allernuutste Robert-Collins Frans-Engelse woordeboek (2 300 bladsye); dit is natuurlik ook dikker as die jongste Duits-Engelse woordeboek van Collins (2 100). Bid jou dit aan: dit is ‘n monster van 3 002 bladsye. Dit is ‘n simbool.

Wat hierdie Robert-Signorelli so spesiaal maak is die noue band en verweefdheid tussen hierdie sustertale. Want hulle is immers bure. Daar is voortdurende wisselwerking tussen hierdie tale. Wat in Italiaans verskyn, word net so vertaal in Frans, soos ek self op die twee Wikipedias gesien en beleef het. Die Franse mentaliteit is nie beperk tot ‘n eilandjie wat iewers ronddobber in die Noordsee nie. Die Franse dink soos Europeërs in die middelpunt, ‘n land omring deur Duitsers, Italianers, Spanjaarde, Katalane, en bietjie verder daarvandaan Portugese, asook daardie snaakse lot oorkant “die Mou” (want ons sou dit voortaan nooit die “Engelse kanaal” noem nie) – tale wat selfs in preprimêr aangebied word. Konstant bly jy bewus van ander wêrelde wat nog onontdek bly. En dit sien jy in die kurrikula in hul voormalige kolonies ook. In die Franse kolonies van destyds word Duits nog tot vandag toe aangebied op skool. Suid-Afrika is tans geseënd met ‘n Duitse bevolking, maar Duits kry jy eenvoudig nie eens meer in jou deursnit Afrikaanse skool nie. Dis pateties.

Sê nou net ons het ‘n Robert-Pharos Frans-Afrikaanse woordeboek gehad? Die hemel weet hoe die Engels-Afrikaanse woordeboek daar sou uitsien, maar ten minste kan mens van twéé tweetalige woordeboeke in Afrikaans praat wat voortdurend uitgebou sou word. En as ‘n Afrikaner Frans sou ken, hoe moeilik sal dit wees om binne ‘n maand of wat Italiaans baas te raak, of Spaans, of Portugees of… wat ‘n enorme wêreld sou vir die Afrikaner nie oopgaan nie! Suid-Afrikaners sou beslis meer in voeling met Europa se woelinge en verlede gewees het as vandag.

Tans bestaan daar net een wêreld vir ons Afrikaanse akademici en woordeboekmakers, en dis die een wat slegs Engels praat. ‘n Mens wil sterf van die voorspelbaarheid.

Wat van Afrikaans?

Afrikaans sou sonder twyfel ontstaan het en deur die Fransmanne erken word, want ons sien dit reeds met Korsikaans (soos ek in my vorige artikel genoem het):

Die ‘ontstaan’ van Afrikaans toon wel ‘n raakpunt met Korsikaans. Heel eerste kom die “nuwe” heersers af op ‘n dialek van ‘n taal. Dialekvorming en die ontstaan van dorps- en streekstale is so algemeen soos môre heeldag – ‘n moedertaalspreker, soos ek reeds tevore geskryf het, is meer gepla oor die bloutong onder die skape as om elke vyf sekondes na ‘n woordeboek te hol om tog die korrekte bewoording te gebruik. Taalverandering is normaal. Taalverloedering is wel iets anders.

Maar die uitsondering word gemaak – hierdie dialek word vir die een of ander rede óf sleggemaak (“Kitchen Dutch”) óf ‘n bastertaal genoem óf verkleineer óf word onderwerp aan taalpartikularisme. Enigiets word gedoen om hierdie dialek van die stamtaal te onderskei. En te skei. Dit kan wees omrede diegene wat nie in Suid-Afrika gebore is nie [net om duidelikheid: ek praat nie noodwendig van die gebore Franssprekendes op Korsika of gebore Engelssprekendes in Suid-Afrika nie], dikwels moeite het om hierdie dialek onder die knie te kry. Nie dat ek weet waaroor die bohaai gaan nie, want as jy Italiaans op Korsika [‘n klipgooi ver van Italië] sou praat, of Nederlands in Suid-Afrika, is dit ewe gangbaar. As jy nou regtig belangstel in die dialek kan jy ‘n taalboekie daaroor skrywe. Maar dikwels is die heerserstaal se sprekers net onwillig en dwars om enige ander taal aan te leer.

Ironies genoeg word geen onderskeid getref tussen Korsikaanse Frans (en kreool) en Standaardfrans of Suid-Afrikaanse Engels (en kreool) en Britse Engels nie. Frans is mos Frans en Engels bly Engels. Daarvoor sou ‘n mikroskoop oorbodig wees.

Dan begin die volk homself anders of uniek en veral broos en afgesonderd van die wêreld sien. Weer weet ek nie waarom nie, want met al die tekste in Romaanse, Germaanse en Slawiese tale en selfs Latyn daarbuite voel mens glad nie so op ‘n taaleiland vasgekeer of alleen nie. Elkeen het wel sy eie rasionele en irrasionele insigte op die plek waar hy hom bevind – en dis die rede wat die groot bindingsmiddel tussen lesers en eeue is. “Daar is lewe anderkant [dorpsnaam]”, is ‘n spreekwoord waarmee ek grootgeword het.

Dalk is dit Stockholmsindroom, dalk is dit die pers wat met herhaling op herhaling mense breinspoel. Want uiteindelik vind die skeuring tog maar plaas. Ons sien dit onder die Vlaminge wat ook onder Franse bewind was [en Brussel wat steeds verfrans] wat tog nie daardie “halfjoodsche” Hollands van die Nederlanders wou praat nie.

Maar die Franse pluk vir hul agterstewe ‘n lelike lang kweperlat. Afrikaans het geen manlike of vroulike woordgeslag nie, en sy grammatika is verby oorvereenvoudig. Dit is nie soos Hollands en Frans wat albei darem op gelyke voet taalkundig verkeer nie.

Is dit moontlik dat Afrikaans die hele oppervlak, selfs Le Cap, met verloop van tyd stilletjies sou oordonder en ingeneem het? Wat my net bekommer is die growwe volksetimologie wat in daardie Afrikaans sou uitbroei… die arme Frans sou daarna nooit weer dieselfde lyk nie! As “Bloukop die Leeu” uit Beaucoup de L’eau (“volop water”, ‘n plaasnaam) wortelgeskiet het, wat sou nie alles nog in Afrikaans geblom het nie?

Wat die invloed van Frans op Afrikaans betref, hoef ons seker net te gaan kyk na die Vlaminge. Die Franse wat ek al hoor Duits praat het, klink amper soos lopende olie op ‘n kettingsaag. Ek het nog nooit die Duitse taal so loperig, so roomglad, so geolie, so sonder wrywing gehoor nie. Te dierbaar.

Ongelukkig, moes Afrikaans moontlik eers dieselfde harde paadjie loop as Bretons en Elsassies. Of Vlaams in België. Dit sou maar net weer daartoe gelei het dat Afrikaans sy eie verenigings stig, en, soos in Holland (as jy boonop nog die Katolieke element hierby insluit) versuiling sou toepas: jy koop slegs by jou eie mense, jy woon slegs jou eie mense se kerk by, jy stem slegs vir jou eie mense, jy lees slegs jou eie mense se koerant, jy woon slegs tussen jou eie mense, jy trou slegs onder jou eie mense, jy bou sommer jou eie skole, universiteite, vakbonde, sportverenigings en hospitale ook. En jou werkslui? Slegs van jou eie kerkdenominasie. Jy probeer al hoe minder goed gebruik van jou vyand om so onafhanklik moontlik te wees. En jy maak ook sommer seker dit is alles van beter gehalte as jou vyand s’n.

En dan, uiteindelik, stel jý die vereistes! Nou is jy die baas van die plaas.

Ek dink die Boere-Romantiek onder die Vlaminge sou dan selfs sterker en hoër gebrand het.

Daar is natuurlik rillerverhale oor die lot van Bretons en Elsassies geskryf. Dit het alles begin by die Franse Rewolusie:

Die Revolusie het egter ‘n bewind aan die mag gebring wat, soos P. Geyl skryf “met schrikwekkende grondigheid” teen ander tale en dialekte opgetree het. “Een republiek, een taal” het die beleid geword. Die Franse taalwet van 1794 het bepaal dat Frans die enigste taal vir amptelike sake sou wees – in alle dele van die ryk, ook waar die mense dit nog nie so goed geken het nie. Ná ‘n oorgangstydperk het die sentrale regering die beleid streng toegepas. Die suidelike dialekte en ander tale van Frankryk is stelselmatig verdruk. Natuurlik kon die Franse owerheid onmoontlik al hierdie tale amptelik maak. Dan sou die staatsamptenare ook Oksitaans, Elsassies, Nederlands (vir die gebied Frans-Vlaandere), Bretons, Baskies en Katalaans moes leer. Maar die regering kon hierdie tale amptelike status gegee het in die streke waarin die mense hulle gepraat het. Vir taalverdrukking in die tuisgebiede is daar geen regverdiging nie. (Tuiste in eie taal, 1981, J.C. Steyn, bl. 32)

En sekere strafmaatreëls op skool klink bekend, al is dit nie donkie-ore nie:

Dis natuurlik nie net Gaeliese kinders wat gestraf is omdat hulle op skool in die skoolpouse Gaelies gepraat het nie; in Bretagne moes die kinders wat Bretons gepraat het, as straf die vloere lek! (Tuiste in eie taal, 1981, J.C. Steyn, bl. 34)

En ook:

Die minderheidstale soos Bretons moes verdwyn, (want Frans was die taal van die Revolusie). Wie minderheidstale wou handhaaf, was reaksionêr. In 1794 het ‘n revolusionêre leier, Barrère, gesê: “Federalisme en bygeloof praat Laag-Bretons, emigrasie en haat vir die republiek praat Duits; die teen-revolusie praat Italiaans en fanatisme praat Baskies. In ‘n vrye volk moet die taal een en dieselfde wees.” Maar die aanhangers van die revolusie was groter fanatici as die Baske. Só het die prefekte van Finistère en Côtes du Nord hulleself in 1831 ten gunste verklaar van “die verarming  en verminking van Bretons deur alle moontlike middele en wel in so ‘n mate dat dit van een kommune na ‘n volgende onverstaanbaar sal word. Die behoefte aan kommunikasie sal die boer dwing om Frans te leer. Die Bretonse taal moet absoluut vernietig word.” Onderwysers is beboet en in die tronk gestop omdat hulle hul leerlinge Bretons geleer het. In 1845 is onderwysers op ‘n openbare vergadering meegedeel dat hulle aangestel is om die Bretonse taal dood te maak.

Nadat die Bretons in 1919, 1921 en 1925 gevra het dat Bretons ‘n onderwystaal word, het ‘n Franse minister reguit gesê: “Die Bretonse taal moet in die belang van die eenheid van Frankryk verdwyn.” ‘n Franse skrywer het gesê dat die gedagte van ‘n minderheid in Frankryk vir die sentrale regering “blasphématoire” (godslasterlik) sal wees.

[Sedert die revolusie] het Bretagne en Bretons agteruitgegaan. Die taal is afgeskeep omdat die sentrale regering die mag gehad het om met sy amptenare teen Bretons op te tree en demokraties kon besluit dat dit nie ‘n onderwysmedium mag wees nie. Parys kon, ook heel demokraties, ‘n ekonomiese beleid volg wat die tekstielbedryf, handelsvloot, ystergieterye en –fabrieke sou ruïneer en van Bretagne oorwegend ‘n landbouland maak. Werkloosheid het toegeneem en jong mense het die streek verlaat en verfrans.

[…]

Die Franse sentralisme was ook vir ander tale van Frankryk nadelig. Die revolusionêre van 1789 het Oksitaans, ‘n hoogstaande kultuurtaal, veroordeel as ‘n provinsietaaltjie wat ‘n struikelblok vir die nuwe revolusie-ideale van sentralisasie en Franse nasionalisme was. Vandag glo baie van die ouer mense vanweë onderwys-indoktrinasie hul taal is ‘n ongeleerde, verkeerde vorm van Frans.  Die Oksitaanssprekende gebied het ook, soos Bretagne, agteruitgegaan. Omdat die sentrale regering nie geïnteresseerd was in die “periferie” van Frankryk nie, het hy ook nie ontwikkeling aangemoedig nie. (Tuiste in eie taal, 1981, J.C. Steyn, bl. 354-355)

En laastens is ook geen sonnige kolletjie vir Duits gegun nie:

Duitse koerante in die Elsas word wetlik verplig om tweetalig te wees: ‘n kwart van die leesstof moet in Frans wees – onder meer alle artikels oor jeugsake en sport. Die koerante self moet Franse name hê. Die Duitse opskrifte by berigte moet nie groter wees as ‘n bepaalde lettertipe nie; vir groter letters is Frans verplig. As ‘n plek ‘n tweetalige naam het, is net die Franse vorm toelaatbaar. Oorklankings van rolprente uit Frans is verbode en by Duitse prente is Franse onderskrifte verpligtend. Met sulke maatreëls verminder die imperialistiese groep die intellektuele aantrekkingskrag van die benadeelde taal. (Tuiste in eie taal, 1981, J.C. Steyn, bl. 34, aangehaal uit ‘n werk van 1971)

Of dalk misgis ek my. Bretons en Elsassies was immers binnelandse aangeleenthede wat niks met die kolonies te doene gehad het nie. Watter invloed kon ‘n ou taaltjie 12 000 km daarvandaan dan nou hê op Parys? Ek bedoel, hoe op aarde kon die Franse owerhede keer dat al 350 tale binne een land in Noord-Afrika nie verder ontwikkel nie? En dit lyk ook nie of hulle met die tyd minder geword het nie. As jy enige taalatlas van Afrika oopslaan, dan sal jy ‘n hele boel Semities-Hamitiese tale vind (vernaamlik dialekte Arabies), so ook Bantoe-, Nilotiese, Guinese, Maleis-Polinesiese, Khoisan- en Soedannese tale, Hausa en uiteindelik Afrikaans, die enigste Indo-Europese taal wat bykans die hele Weste van Suid-Afrika beslaan.

As dit die Franse se doelwit was om die hele Afrika Frans te laat praat, het hy klaaglik misluk. Waarom? Want weer, soos met Portugees en ‘n sekere ander taal, het hy hoofsaaklik in die hoofsentra weggekruip. As die Franse taal hom in Le Cap sou skuilhou, sou hy glad nie ‘n duik maak op die periferie/randgebied nie. Afrikaans sou sonder probleme voortleef; ‘n middelvinger vir die Franse staat.

En Kaaps?

Kaaps sou beslis nie ‘n woord gepalataliseerde Engels gepraat het soos vandag nie, maar heelwat strelende Frans. En daarom sou die Franse Akademie hom ontferm het oor die Kaaps; sonder skroom die tongval as ‘n Franse kreool eien en onmiddellik hom in sy annale laat opneem het as “Frans” (of, so sou ons in Le Petit Larousse ook lees). Nié as Afrikaanse dialek nie. Dalk sou prof. Michael le Cordeur geld of ‘n skitterende medalje uit Frankryk gekry het, boonop met die rykste seën van Alliance française, om die leerlinge nou volwaardige Frans te leer praat en te assimileer. Die Afrikaanse Taalkommissie sou rustig en onverpoosd met hul woordeboekwerk kon voortgaan; die tweetalige Afrikaans-Russiese Woordeboek het teen hierdie tyd reeds sy derde uitgawe beleef (met ‘n standbeeld van pionier J.H. (Joy) Wagner wat voor die gebou opgerig is).

Invloed op die Afrikaanse werke

Soos ons op skool met klavierbegeleiding “Three Blind Mice” gesing het, hoe anders sou dit nie klink nie, met die veel vroliker “Sur le Pont d’Avignon, on y danse, on y danse…?” Soos mens ouer word, sou ons Afrikaanse Gesangeboek in die kerk meer by die Franse korale aangesluit het en minder by die Amerikaanse of Britse himnes.

Die buiteblaaie of omslagwerk, soos mens in die meeste Franse boekwinkels tot vandag nog vind (buiten die kinderboeke natuurlik), sou tweekleurig wees. Ek verkies dit eerder bo die buitensporig aantreklike skilderstukke, maar uiters, uiters vaal storie binne. Die Franse omslagwerk laat my trouens dink aan die huise in die Mediterreense en Noord-Afrika-streke: vaal en eenkleurig van buite, maar ‘n lowergroen lushof in die binnehof. Soos Fred de Vries skryf:

“Die boeke wat sedert 2000 by sy [Dan Roodt] se uitgewery, Praag, verskyn het, se voorkoms is eenvoudig maar smaakvol: wit omslag, blou letterwerk, geënt op die ontwerp van die Franse uitgewery Les Éditions de Minuit” (Rigtingbedonnerd, 2012, bl. 187).

‘n Sestigerbeweging sou in Afrikaans nooit posgevat het nie. Waarom sou dit, as jy daarvan in elke Suid-Afrikaanse koerant sou lees? Waarom sou jy jou van die Calvinisme wil bevry in Parys as jy dit sommer in Le Cap kan doen? Oor die eensydigheid waarmee hierdie eksperimentele prulstukkies in Afrikaans as die reine waarheid aangebied is (boonop as iets nuuts), kon die eenvoudigste Jan Alleman sommer in die koerant gou kyk hoe aan Franse universiteite die proffies van die Sorbonne mekaar te lyf gaan. Die debat hou in Frankryk nooit op nie.

Ook sou die Tagtigerbeweging (wat hul slegs toegespits het op die politiek in Suider-Afrika), as reaksie op die Sestigers, nooit plaasgevind het nie. ‘n Voëlvry-beweging met Sex, Drugs en Rock & Roll sou soos iets passé uit Woodstock klink. Omrede mens elke dag van Afrikasake in die Franse koerante sou lees, en die nuus sou trek vanaf so ver as Algerië tot in die Kaap, vanwaar dan nou hierdie vreeslike groot bohaai?

Die grootste bydrae wat die Franse letterkunde tot die Afrikaanse letterkunde direk en indirek sou lewer, is ongetwyfeld die loperigheid en vloei van die bewoording, asook die humor.

En dat RSG, Netwerk24 en kykNET meer uit Le Monde, Le Figaro, Libération sou aanhaal as uit die BBC, CNN of The Washington Post (“Nuus van alle uithoeke van die wêreld” is nou ‘n graad nader aan die waarheid). En heelwat minder nuus oor Hollywood sou verskaf, veral as al hul Franse sterre dan in Parys is. Jy sou ook beslis meer Franse musiek op elke Afrikaanse netwerk gehoor het. En miskien ‘n solo trekklavier op elke straathoek; tans, ‘n sterwende kuns.

Nou ja toe, ek wag vir daardie roman.

Verras my tog, dit is ‘n bevel!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.