Sydney Gregan: Is die afstigting van die Wes-Kaap werklik ‘n haalbare opsie?

Deel op

Dr Corné Mulder van die VF Plus het onlangs in ‘n toespraak by die Kaapstadse Persklub gestel dat “ons” toekoms in ‘n onafhanklike Wes-Kaap lê. Meer bepaald dan dat daardie provinsie selfbeskikking deur middel van sesessie (afstigting) moet oorweeg en ‘n onafhanklike staat moet word.

Hy het aangevoer dat 71% van die inwoners nie wil hê dat die ANC oor hulle moet regeer nie en dat die ANC maar hoogstens 36% van die mense aldaar sedert 1994 kon oorreed om vir hom te stem, ‘n persentasie wat intussen kleiner geword het.

Ek het reeds in ‘n vorige artikel daarop gewys dat afstigting van ‘n gebied (en daarmee saam onafhanklikheid) die tussentydse aangewese opsie vir die Afrikaner is. Of die Wes-Kaap, soos hy tans daarna uitsien, egter die oplossing is, kan bevraagteken word. Dít vanweë die etniese samestelling van die provinsie. Boonop kan dit nie daarop aanspraak maak dat dit ‘n “Christelike staat” sal wees nie, iets wat die nasionale Afrikaner nog altyd voorop gestel het. Dit is hoogstens ‘n gebied wat baie beter regeer word as die ander in Suid-Afrika juis omdat dit nie deur die ANC regeer word nie. Die ANC het finaal bewys dat dit nie in staat is om ‘n welvarende land soos die RSA te regeer nie. Dit maak net op swart getalle staat om aan bewind te bly en sal elke taktiek denkbaar gebruik om dit in die toekoms ook te doen.

Juis omdat die Wes-Kaap minder swartes as Blankes en Kleurlinge het, kry die DA dit reg om daar die regering te wees. Sou daardie getalleverhouding verander, kan die prentjie dalk dramaties omswaai. Die Wes-Kaap word dus deur die voorstanders van sesessie (afstigting) van daardie gebied gekies uit ‘n pragmatiese oogpunt en duidelik nie uit ‘n etniese of Christelike oogpunt nie.

Die vraag is of dit genoegsame rede is vir afstigting en of dit aan die behoeftes van etniese groepe in daardie gebied sal voldoen? Wat sal immers die gemeenskaplike band wees as die “anti-ANC”-faktor eers verwyder is?

Tans beywer onder andere CapeXit en die Cape Independence Advocacy Group hulle vir die onafhanklikheid van die Wes-Kaap. Blykbaar het CapeXit nou al meer as 560 000 lede.

Mulder se uitlating dat:

“Without independence, the Western Cape has no prospect of ever realising its political will; the Western Cape will be sentenced to lifelong imprisonment in an open democracy within an arbitrary colonial construct, where a majority will continue to dominate minorities”

is betekenisvol gesien in die lig van Afrikaner-nasionaliste se waarskuwing voor die oorgang in 1994 dat die Afrikaner nooit in die nuwe Suid-Afrika sy politieke wil sal kan afdwing nie en daarom nie moet toestem tot die nuwe bedeling nie. Ons is inderdaad tot lewenslange aanhouding binne ‘n Afrika-diktatuur verdoem.

Die belangrikste vraag is wat die internasionale reg bepaal oor afstigting en daarmee saam wat die groot moondhede soos die VSA, China, Rusland en Brittanje se houding sal wees.

Die internasionale reg se houding oor afstigting is somtyds teenstrydig aangesien dit in die een asem selfbeskikking (en ook afstigting) erken, maar in dieselfde asem baie sterk klem lê op die territoriale integriteit van state (state se grense mag as ‘n reël nie verander word nie). Dis juis op hierdie territoriale integriteit van Suid-Afrika wat die ANC klem sal lê om sy beheer oor die Wes-Kaap te behou. En die ANC sal natuurlik kan staatmaak op die steun van al die ander Afrikastate wat ook ‘n struikelblok sal wees, aangesien die Wes-Kaap twee-derdes van die lidstate van die Verenigde Nasies se steun (erkenning) sal moet verkry om lid van die VN te word, benewens die steun van die groot moondhede.

Die internasionale reg maak wel voorsiening daarvoor dat in geval van sogenaamde mislukte state (“failed states”), dit is nou state wat nie meer die nodige legitimiteit van die inwoners daarvan geniet nie, daardie state (gebiede) aanspraak kan maak op afstigting. Wat word daarmee bedoel?

Indien ‘n staat of gebied sou kon aanvoer dat die inwoners daarvan se sekuriteit nie meer deur die regering daarvan gewaarborg kan word nie, verkry dit ‘n remediërende reg op sesessie (“RRS”). Dit is losweg gebaseer op John Locke se “Right to Revolution”, waar indien ‘n groep se regte vertrap word deur die soewerein, daardie groep die reg verkry om ‘n nuwe soewerein te soek. Sesessie sou dan een van die metodes wees om dit te verwesenlik. Waar die regering dus nie sy kant van die sosiale kontrak nakom nie, verbeur hy sy legitimiteit oor daardie inwoners (van daardie gebied). ‘n Mens sou hier met groot sukses kon aanvoer dat die ANC (hetsy deur geweld in die Wes-Kaap aan te stook, hetsy deur bloot onbevoeg te wees om behoorlike sekuriteit daar te verskaf) sy legitimiteit daar verloor het.

Sou die gebied wat wil afstig boonop kon aanvoer dat dit baie beter in staat as as die ANC is om sekuriteit vir sy inwoners te verskaf, maak dit sy saak vir afstigting net soveel beter. Die RRS word gekomplimenteer deur die Verantwoordelikheid om te Beskerm (“Responsibility to Protect”) (“R2P”), die idee dat die soewerein die absolute verantwoordelikheid het om sy inwoners te beskerm. ‘n Staat se soewereiniteit is dus afhanklik van die legitimiteit wat dit in die oë van die inwoners verkry juis deur die inwoners te beskerm. Die VN lê al meer klem op hierdie faktor soos dan ook gesien is in die afstigting van Suid-Soedan van Soedan waar die argument juis was dat Soedan nie meer in staat was om Suid-Soedan se inwoners te beskerm nie.

Die ANC-regering het minstens passief die regte van die Wes-Kaap se inwoners ondermyn (alhoewel baie beweer dat dit selfs aktief ondermyn is — wat die saak vir afstigting nog sterker maak). Sou die Wes-Kaap kan aantoon dat sy eie veiligheidstrukture baie beter daartoe in staat is om sy inwoners te beveilig, word sy saak net sterker. In die oë van die meerderheid (71%) van die inwoners is dit klaarblyklik die siening en verskaf dit legitimiteit aan die regering van die Wes-Kaap.

In 2019 het die internasionaal bekende Gallup ‘n opname gemaak onder 175 000 volwassenes in 144 state deur hulle onder meer uit te vra oor vertroue in die polisie, veiligheid in woonbuurte, persoonlike ervaring met diefstal en roof en aanranding. Net Liberië, Aghanistan, Venezuela en Gaboen het swakker as Suid-Afrika gevaar. Dit is gevolglik nie bloot propaganda deur organisasies soos Afriforum en andere wat aanvoer dat ons land baie onveilig is nie, maar feite gerugsteun deur statistieke en die persepsie wat onder mense leef. ‘n Saak is dus uit te maak dat die Wes-Kaap in elk geval nie meer die R2P vanaf die RSA-owerheid geniet nie en grootliks self sy sekuritiet moet behartig. Wat sou in elk geval van sekuriteit in hierdie land word sonder die private sekuriteitsfirmas wat in elk geval meeste van die SAPD se take oorgeneem het nie en waarvoor die burgers uit eie sakke ten duurste moet betaal?

Suid-Afrika word hoe later hoe meer as ‘n mislukte staat beskou. Daar is geen vooruitsig dat dit beter sal gaan nie. Inteendeel, alles dui daarop dat dit jaarliks slegter sal gaan. Dit sal seker die posisie van die Wes-Kaap geweldig versterk (en so ook ander gebiede) as bewyse gevind kan word van aktiewe ANC-betrokkenheid by misdaad teen gemeenskappe, eerder as net die passiewe laat-maar-gaan-houding wat tans aan die orde van die dag is.

Wat besef moet word is dat blote selfbestuur deur die Wes-Kaap deur die ANC op elke moontlike wyse ondermyn sal word. Dit is aan te beveel dat elke funksie van die owerheid sover dit moontlik is deur die gemeenskap self onderneem sal moet word om onafhanklikheid te bevestig en te demonstreer tesame met die strewe om volkome onafhanklik te wees. Die ANC sal skuil agter die territoriale integriteit van die land se grense en alles doen wat hy kan om die Wes-Kaap se strewe te verongeluk. As die ANC eers internasionaal as ‘n rowerbende gesien word wat onbevoeg is om die land te regeer, sal die onafhanklikheidstrewe van die Wes-Kaap verdere momentum verkry. Intussen kan die impasse wat deur die ANC se moedswilligheid veroorsaak word, negatiewe gevolge vir die strewe na onafhanklikheid hê.

Soos gesien is uit die voorbeeld van Suid-Soedan het die steun van veral die VSA bygedra tot die onafhanklikheid van daardie staat. Sonder steun van veral die VSA sal kwalik gevorder word. Die internasionale reg se benadering is daarom dikwels pragmaties en nie prinsipieel nie. Dit is asof elke geval anders benader word. Somaliland het net soveel reg soos Suid-Soedan op onafhanklikheid en erkenning en tog sukkel hierdie staat steeds om erken te word (en suksesvol van Somalië af te skei).

‘n Suksesvolle staat is een wat die monopolie het op die gebruik van mag in sy gebied (a successful state is one that has the monopoly on the legitimate use of force and thus a failed state is one which either loses the monopoly or the legitimacy). Die ANC is besig om dit (sy legitimiteit) te verloor in die hele land en nie net in die Wes-Kaap nie. Hoe kan gesê word dat die ANC beheer oor die land het as die SAPD private veiligheidsmaatskappye huur om hulle te beskerm en daardie maatskappye grootliks omsien na die veiligheid van derduisende buurte juis omdat die SAPD dit nie kan doen nie. So gesien verloor die ANC elke dag al meer van sy soewereiniteit, nie net oor die Wes-Kaap nie, maar oor die ganse land. Sy soewereiniteit erodeer daagliks. Tog kan hy waarskynlik staatmaak daarop dat hy keer op keer ingestem sal word by die stembus weens die persepsies wat by swartes leef en die verwagtinge wat by hulle gekoester word. As die ekonomie boonop verder in duie stort en die ANC van IMF-lenings afhanklik gaan word om die ekonomie te probeer red, sal die saak vir onafhanklikheid waarskynlik net groter word.

Dit bring my weer by die vraag of die anti-ANC-gevoel genoeg rede is vir die Wes-Kaap om onafhanklik te wees. Vir seker sal dit nie ‘n Afrikanerstaat wees nie en beslis ook nie ‘n Christelike staat nie. Dit sal waarskynlik poog om ‘n liberale staat te wees met ‘n handves van individuele regte en om dit wat in 1994 beoog is met die hele land, nou in die Wes-Kaap te verwesenlik.

Vir die nasionale Afrikaner kan dit hoogstens tydelike vrede en gemoedsrus bring aangesien sy strewe nog altyd was om oor homself in sy eie land te regeer. Om sy eie waardes uit te leef. ‘n Strewe om selfbehoud, selfverwesenliking, selfbetuiging en in volkome afhanklikheid teenoor die Almagtige God, soos die 1961-grondwet dit so pragtig verwoord het.

Benewens al die ander vrae is die vraag dus of ons ‘n pragmatiese tussentydse oplossing gaan aanvaar ten koste van ‘n werklik vrye Afrikanerstaat? Of beskou ons dit as ‘n stap in daardie rigting?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.