Karel Combrinck: De Klerk doen dit weer

Deel op

Êrens op die internet sien ek in ‘n koerantberig ‘n foto van FW de Klerk met die opskrif:  “Ek sal dit weer doen .” Ek het nie die berig gelees nie, want ek was bang vir naar word. Om te weet wat De Klerk sou doen as hy weer die kans kry, het ‘n mens nie ‘n koerantberig nodig nie en behoef ‘n mens ook nie te veel verbeeldingskrag nie. Jy hoef net maar rondom jou heen te kyk en te wonder, is die man dan totaal gek?

Die lys dinge wat mnr De Klerk sou herhaal as hy weer die kans kry, is oneindig : Geleidelike uitmoor van ons mense, uitrangering van witmense, veral wit mans uit die werkplek, aftakeling van ons ekonomie (pas weer ‘n afgradering van die RSA se kredietwaardigheid na benede rommelvlak, ‘n erestatus wat die land maande lank reeds beklee), ineenstorting van plaaslike regering, verval van groot staatskorporasies soos die SABC, die SAL en Eskom, vernietiging van ons taal en kultuur, diefstal van ons grond, korrupsie op feitlik elke vlak, jammerlike agteruitgang van infrastruktuur, paaie en brûe, kortom, rampspoedige wanbestuur van ons land op bykans elke gebied.

“Bravo,” sê mnr De Klerk, “ek doen dit weer.”

Maar nou, net ‘n paar woorde oor die ergste verraad van mnr De Klerk., naamlik die oorhandiging van ons weermag aan ons vyand, die ANC, wat ons vir jare geteister het met terrroriste-aanvalle in onder meer restourante en kerke. Dit is byna ondenkbaar. Mnr De Klerk het ons verdedigings- en polisiemag aan die ANC geskenk met alles wat dit behels : wapentuig, vegvliegtuie, pantservoertuie, wapenstelsels met al die tegnologie wat daarmee saamgaan en wat ons oor jare opgebou het, insluitende ‘n kernpotensiaal. En dít alles gedoen met ons belastinggeld.

En, kom ons vergeet veral nie die jongmense, dienspligtiges en staandemaglede, wat hulle lewens nou tevergeef geoffer het in die stryd teen die ANC en hulle buitelandse bondgenote.

Mnr De Klerk sê: “Ek voel vere. Ek doen dit dit weer.”

Deur ons Weermag en Polisiemag aan die ANC te oorhandig, het mnr De Klerk ons die vermoë ontneem om ons te verdedig en ons uitgelewer aan geweldenaars wat ons mense byna na hartelus uitmoor en verkrag — veel meer as voor mnr De Klerk se oehoeroe. Terselfdertyd het hy die ANC se vermoëns om ons te oorheers eindeloos versterk. Vir die persoon wat by uitstek verantwoordelik was vir ons veiligheid, naamlik die Staatspresident, is dit ‘n onvergelyklik laakbare daad. Trouens dit is sekerlik die mees uiterste geval van verraad in die geskiedenis van die mensdom. Sonder om melodramaties te probeer wees: hy het die swaard van die volk gelê in die skoot van ‘n kommunistiese terroris.

Om te dink ons het eens leiers gehad soos Genl Hertzog, dr Malan, adv Hans Strydom en dr Verwoerd. En voor hulle was daar ook nog  Genl De la Rey en Gen Christiaan de Wet. In hulle tyd was daar ook verraaiers, maar wie onthou hulle nog? Genl Smuts was ook ‘n verraaier, nie so erg soos De Klerk nie en kyk wat het van hom geword.

Waaraan ‘n mens jou met sekerheid kan troos, is dat die tyd mnr De Klerk sal inhaal en beoordeel volgens sy verdienste en hom sal verdoem tot die verfoeilike verraaier wat hy is. Want niemand, nie eers jou vyand nie, het enige respek vir ‘n verraaier nie. Miskien sal van ons daardie heuglike dag nie belewe nie, want mense neem tyd om te verstaan, maar verstaan sal hulle uiteindelik  en so seker soos daglig sal mnr De Klerk en sy rommeldemokrasie op die vullishoop van die geskiedenis eindig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.