Is ‘n Afrikanerrevolusie moontlik?

Deel op

ImageIn sy stuk ‘Afrikanerrevolusie sal wêreld laat sidder’ maak Johan Wiggil ‘n paar interesante opmerkings en aannames.

Hy skryf:  
“Uit gesprekke is dit vir my duidelik dat die meerderheid Afrikaners die Volkstaatgedagte ondersteun. Geen Afrikaner-organisasie kon sedert 1994 hond haaraf maak om die volkstaatgedagte gevestig te kry nie. Die 800 000 ondersteuners van die Vryheidsfront van 1994 het sekerlik gegroei inaggenome die toenemende ontnugtering met die verloop van die sosio-ekonomiese situasie in Suid Afrika.”

Ek het slegte nuus vir Johan Wiggil.  
• In 1994 was daar slegs 460,000 kiesers wat vir die VF gestem het, nie 800,000 nie.  
• Die VF het nie gegroei nie, maar weggekwyn sedert 1994.
• Al plek waar die meerderheid Afrikaners in ‘n gebied die volkstaatgedagte ondersteun is waarskynlik op Orania en Kleinfontein.

Verder skryf hy:
“Dit is nie nodig dat die Afrikanerorganisasies eers moet saamstaan voordat vir 'n volkstaat baklei word nie. Almal sal inval as 'n organisasie dit regkry om die wêreldmening te verander wat uiteraard neerslag sal vind by die SA regering. Ons moet grense trek en begin. Met aggressiewe bemarking binne en buitelands. Ons moet ten minste die steun van die Europese Unie, VSA en VN verwerf. Dan Roodt het grense voorgestel (ek weet nie of hy ernstig was daarmee nie), maar dit is wat moet gebeur. Die voormalige Volksfront het ook die volkstaat begrens.”

Hier kom nog meer slegte nuus:
• Elke voorstaander van die volkstaatgedagte wil die volkstaat in sy eie agterplaas hê. Aandrang op ‘n gebied werk verdelend in op Afrikaners.

• Oor ‘n tydperk van 3 jaar het die Volkstaatraad tientalle grense getrek na gesprekke met verteenwoordigers van allerhande organisasies en streke. Ons kon nooit werklik ooreenstemming kry nie. Die twee gebiede wat die meeste sin gemaak het was die noordelike en oostelike dele van Pretoria wat aansluit by die Wesrand en Hartebeespoortdam gebied. Volgens die 1996 sensus het Afrikaners byna twee derdes van die bevolking daar uitgemaak. Die ander gebied was die Noordwes Kaap. In 1996 was daar egter 122,000 kleurlinge en 12,000 blankes. My nie-amptelike voorstel was destyds dat daardie gebied tot ‘n Afrikaanse Taalstaat verklaar sou kon word. Die rede is dat vir ‘n Volkstaat, dit meer as 40 jaar sou neem vir Afrikaners om die meerderheid daar te vorm as hulle teen ‘n tempo van 8,000 siele per jaar soontoe verhuis, terwyl die plaaslike bevolking se natuurlike aanwas 2.5% per jaar sou wees. Dus sou mens nooit van ‘n Boere-Afrikaner Volkstaat daar kan praat nie, maar dalk wel van ‘n Afrikaanse Taalstaat. Ons het aanvaar dat dit nou nie meer moontlik sal wees om mense met geweld van een streek na ‘n ander te verskuif soos tydens die apartheidsjare nie.

• Behalwe vir die staat Israel, kon geen volk nog ooit ‘n ander volk se grondgebied as sy eie volkstaat oorneem nie. Die Jode was ‘n spesiale geval. ‘n Groteske internasionale gewete, was deur gebeure in Nazi-Duitsland veroorsaak. Boonop was Palestina ‘n Britse Kolonie en kon die Britte so ‘n projek suksesvol volvoer.

• Tensy die Afrikaanse organisasies saamstaan om ‘n strategiese plan, as die meerderheid van die volk se plan te aanvaar en almal daarby inkoop, is jy tot mislukking gedoem. Die faksietjie wat die revolusiegedagte sal ondersteun sal al twintig in die tronk beland soos die Boeremagmanne. Die res van die volk sal weier om betrokke te raak en hulself distansieer van die projek.  

• ‘n Revolusie is dus nie ‘n ernstige opsie nie. Wie gaan die gevegte voer? ‘n Groot veldheer het gesê dat jy slegs onwettig mag optree as jy weet jy kan die mag daardeur bekom. Kyk hoe sukkel die Tamil Tiere in Sri Lanka en die Tibetane in Groter Sjina om hul volkstate internasionaal erken en ondersteun te kry, om nie eens van die Palestyne te praat nie.

Jammer. Johan, daar is geen kitsoplossing vir selfbeskikking nie. Dis ‘n lang en moeisame pad en Afrikaners moet daardie pad stap vir stap betree.  

справка по болезни в вузлобановский александр игоревич харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.