Leon Lemmer: Oor Het Jan Marais Nationale Fonds en die Universiteit Stellenbosch

Deel op

Onlangs is ‘n verslag gepubliseer van ‘n onderhoud wat Murray La Vita met Erna Meaker gevoer het (Netwerk24, 21.10.2020). Meaker is die nuwe voorsitster van die trustees van Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF). Soos deesdae by universiteitsrade word daar geredeneer dat die voorsitter (verkieslik) ‘n beleggingskundige moet wees. Die wese van ‘n universiteit en van HJMNF word daarmee tot dié van ‘n sake-onderneming gereduseer. In werklikheid is dit in albei gevalle wenslik – en in die hedendaagse Suid-Afrika noodsaaklik – dat die voorsitter verskynsels soos kultuur, politiek, ideologie en propaganda grondig moet verstaan. Wanneer dit nie die geval is nie, soos tans by twee Stellenboschse instansies, HJMNF en die Universiteit Stellenbosch (US), raak hulle die spoor byster.

Meaker noem dat haar man, Paul, ‘n kleinseun van Paul Sauer is. Haar pa, Dirk Hertzog, het saam met Anton Rupert die Rembrandt-groep gestig. Die Afrikaanse taalstryder, JHH de Waal, was haar ma se broer. Haar oupa was die oudste broer van JBM Hertzog. Daar is ook ‘n familieverwantskap met (Onze) Jan Hendrik Hofmeyr. Met Meaker se afkoms is daar nie fout te vind nie. Haar en haar man se voorgeslag was behoudende Afrikaners en dus pro-Afrikaans. Maar sy noem dat haar broer, Edwin Hertzog, die medestigter van MediClinic is. As voorsitter van die US-raad het hy myns insiens sy afkoms versaak en ‘n leidende rol in die verengelsing van die universiteit gespeel.

Soos die mode by Afrikaansinstansies en heeltemal te veel Afrikaanssprekendes geword het, is Meaker nie bereid om vir Afrikaans te baklei of veg nie; blykbaar selfs ook nie om haar daadwerklik (of militant) vir Afrikaans te beywer nie. Afrikaans moet glo nie in mense se kele afgedruk word nie, al is dit presies wat die ANC-regime doen en ook Wim de Villiers aan die US. Meaker toon dat sy eintlik glad nie afdoende begrip het vir die benarde situasie waarin Afrikaans verkeer nie. Dit maak haar, om dit sag te stel, minder geskik om as ‘n HJMNF-trustee te dien, om van die voorsitterskap nie te praat nie.

‘n Onomstootlike vereiste waaraan ‘n HJMNF-trustee moet voldoen, is dat hy/sy die wil van Johannes (Jan/Jannie) Henoch Marais (1850-1915) so getrou moontlik moet uitvoer. Jan Marais het die aanvangskapitaal van £40 000 vir HJMNF bemaak. Hy het ook £100 000 vir Het Jan Marais Fonds (HJMF) nagelaat, wat in 1918 die stigting van die US moontlik gemaak het. Marais was ‘n ondersteuner van JBM Hertzog. Albei was onmiskenbaar sterk pro-Afrikaner en pro-Afrikaans. Ná sy dood is Marais in De Kerkbode ‘n “Afrikaander van den ouden, echten stempel” genoem. Dit is die twee ononderhandelbare vereistes waaraan iedere voorsitter en trustee van sowel HJMNF as HJMF moet voldoen: onmiskenbaar Afrikaner en Afrikaans.

La Vita het die onderhoud met Meaker in haar hoedanigheid as die nuwe HJMNF-voorsitster gevoer. Sy het die feit opgehaal dat Edwin Hertzog haar broer is. In die konteks van die onderhoud was dit noodsaaklik dat sy haar baie duidelik van haar broer se ondersteuning van die verengelsing van die US moes gedistansieer het. Onderaan die artikel het ek op Netwerk24 soos volg gereageer: “Erna Meaker se broer, Edwin Hertzog, het ‘n leidende rol in die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch gespeel. Volgens Pieter Kapp se boek, Maties en Afrikaans (2013), was Hertzog se standpunt dat Afrikaans ‘nie die voorwaarde vir die voortbestaan van die US [is] nie’ (bl 114) en dat die stigtingsbeginsel van Jan Marais dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US moet inneem nie, ‘nie van bepalende belang [is] nie’ (bl 164).” Met ander woorde, Edwin Hertzog het hom aangematig om Marais se stigtingsvoorwaarde vir die US te minag. Dit is ‘n standpunt wat iedere HJMNF- en HJMF-trustee as absoluut onaanvaarbaar en oneties moet verwerp. Maar Meaker het dit nie in die onderhoud gedoen nie.

Billikheidshalwe moet ek noem dat Meaker in hierdie opsig ‘n tradisie voortsit wat ongelukkig in onlangse jare by HJMNF wortel geskied het. Haar voorganger as voorsitter was Niel Krige, ‘n US-dosent, en vóór hom Andreas van Wyk (US-rektor 1993-2001). By geleentheid het ek met Van Wyk op LitNet swaarde gekruis omdat hy my verkwalik het toe ek vir Wim de Villiers oor sy voorkeur vir Engels gekritiseer het. Christo Viljoen (US-viserektor 1993-1998) was baie meer uitgesproke as Van Wyk in sy kritiek op De Villiers. As oudrektor het Van Wyk vir De Villiers as rektor skynbaar te veel gerespekteer, al moes hy in sy hoedanigheid as HJMNF-voorsitter dit glad nie gedoen het nie.

Waarvoor Van Wyk nie genoeg begrip toon nie, is die kardinale fout wat die US tydens sy ampstermyn as rektor gemaak het toe Engels naas Afrikaans as onderrigtaal gevestig is. Dit was heeltemal onnodig om dit ten behoewe van blanke studente te doen. Dit was ook absoluut ongewens om Engels as onderrigtaal uit te bou om soveel moontlik nieblanke studente te trek. Dit is nie om akademiese redes gedoen nie maar om die ANC-regime ter wille te wees. Dit het as direkte gevolg gehad dat die US sedertdien al hoe meer verengels en verswart het. Deur die wêreldtaal Engels naas Afrikaans as onderrigtaal in te voer, bring op die lange duur noodwendig die verswelging van Afrikaans mee. Dit is wat aan al die eens Afrikaanse en (latere) tweetalige plaaslike universiteite gebeur het. Dit is ook wat aan al die plaaslike Afrikaanse skole gebeur as hulle Engels as onderrigmedium toelaat.

Suiwer akademies-wetenskaplik is daar geen afdoende rede in die hemel of op die aarde waarom die US nie met ‘n enkele onderrigtaal, naamlik Afrikaans, kon voortgaan nie. In sy aanvangsdekades was dit vir die US ‘n stryd om Engels met Afrikaans as onderrigmedium te vervang omdat twee onderrigtale talle probleme in die praktyk veroorsaak. Die meeste universiteite het net een onderrigtaal. As ‘n student aan ‘n universiteit wil studeer, moet hy by daardie onderrigtaal aanpas. Daar behoort nie van die universiteit verwag te word om by die student se voorkeurtaal aan te pas nie. Die (swart) studente wat die ANC-regime vir onderrig in geneeskunde na Kuba stuur, word verplig om in Spaans te studeer, al is Spaans (feitlik) van nul en gener waarde in Suid-Afrika. Sulke studente behoort eerder verplig te word om Afrikaans magtig te word omdat dit ‘n nuttige kommunikasiemiddel in Suid-Afrika is. Dit is baie goedkoper om in Afrikaans in Suid-Afrika te studeer as in Spaans in Kuba.

Die slinkse ANC-regime subsidieer net een onderrigtaal aan ‘n universiteit. Deur Engels naas Afrikaans as onderrigtaal in te voer, het die US homself in ‘n kryptangsituasie laat beland. Die persepsie het ontstaan – nie sonder rede nie want die ANC-regime is wat hy is – dat Engelsonderrig deur die staat gesubsidieer word en dat die US self fondse vir Afrikaansonderrig moes vind. Dit het die misleide Willie Esterhuyse in 2007 genoop om “die ryk Afrikaners [te] veroordeel omdat hulle nie geld vir onderrig deur Afrikaans wou voorsien nie” (Kapp bl 158). Op sy kenmerkende manier soek Esterhuyse die fout by Afrikaners en nie by die ANC-regime nie. Daar behoort eerder geredeneer te word dat Afrikaans die US-onderrigmedium is wat van owerheidsweë gesubsidieer behoort te word en nie Engels nie.

Die ampstermyne van Chris Brink (2002-2007), Russel Botman (2007-2014) en Wim de Villiers as US-rektor is deur toenemende en versnelde verengelsing gekenmerk. Reeds in 2002 het HJMNF-trustees dit oorweeg om steun aan die US in te kort omdat Brink die US-onderrigtaal ondergeskik aan sy diversiteitsbeleid, oftewel transformasie, gemaak het. Teen 2004 het HJMNF sy naam gestand gedoen toe besluit is om sy bevordering van Afrikaansbelange oor die land as geheel te versprei. Minder geld sou dus voortaan na die US gekanaliseer word.

Wim de Villiers het op 1 April 2015 sy dienstermyn begin. 30 Mei 2015 was die honderste herdenking van die dood van Jan Marais. Die US het amptelik niks gedoen om erkenning hieraan te gee nie. Dit is aan HJMNF oorgelaat om ‘n kranslegging by Marais se graf te doen en ‘n huldigingsbyeenkoms in Marais se eertydse huis by Coetzenburg te hou. By daardie geleentheid is eksemplare van Pieter Kapp se pragboek, Nalatenskap sonder einde: Die verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers,(2015, 216p – Praag 25.11.2015) aan die genooide gaste uitgedeel. Dit was uitsluitlik ‘n HJMNF-inisiatief. Die US het amptelik niks in hierdie verband gereël nie.

Op 12 November 2015 het De Villiers sy voorstel vir die verengelsing van die US uitsluitlik in Engels aan die US-senaatslede gestuur. George Steyn, wat sedert 2012 die voorsitter van die US-raad is, het hom aanvanklik (in ‘n mate) teen De Villiers se verengelsingsinisiatiewe verset. Daar was meer onlangs ook tekens van wrywing tussen Steyn en De Villiers oor die aanwysing van Edwin Cameron as US-kanselier. As gay- en vigsaktivis en ANC-kameraad kan Cameron myns insiens kwalik as ‘n geskikte rolmodel vir (alle) studente beskou word. De Villiers smeek eintlik om kortgevat te word, maar die US-raadslede is oorwegend ANC-gesind, onder meer omdat die getal raadslede wat deur die minister van hoër onderwys aangewys word tydens De Villiers se ampstermyn van drie tot die maksimum van vyf (as ek reg onthou) vermeerder is. Daardie minister is Blade Nzimande, die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. Die US-raadsamestelling verduidelik (dalk) ook waarom De Villiers se ampstermyn as rektor sonder meer vir ‘n verdere vyf jaar verleng is. By De Villiers se uittrede op 31 Maart 2025 sal Afrikaans hoogswaarskynlik glad nie meer as ‘n US-onderrigtaal bestaan nie. Marais se hoop op ‘n kosbate Afrikaner- en Afrikaansnalatenskap aan die US sou dan volledig vernietig wees. Dit is kwalik moontlik om te glo in watter mate Suid-Afrika en daarmee saam die US sedert 1994 ontaard het.

Die mate waarin die De Villiers-US die US-stigtingskenker geminag, het nie net in 2015 duidelik geblyk nie, maar selfs in groter mate tydens die US-eeufees in 2018. De Villiers het, sover bekend, hom toe nooit eens verwerdig om Marais se uitdruklike stigtingsvoorwaarde, dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie, in die openbaar te noem nie. Ek verkwalik HJMNF-trustees dat daar van hulle kant in die openbaar geen luide beswaar teen De Villiers se swye opgeklink het nie. Dit is ‘n onverteerbare onreg wat die De Villiers-US die Marais-nalatenskap aangedoen het. Waarmee die US, wat Afrikaans betref, veral sedert 2002 besig is, is fundamenteel oneties. Elizabeth Marais (1867-1953), Jan Marais se eggenote, was ná sy dood bykans vier dekades lank intens meelewend by die US betrokke. In minder as ‘n halfeeu ná haar dood het drie US-rektore van 2002 af agtereenvolgend gepoog om Jan Marais se Afrikaans- en Afrikanernalatenskap te vernietig. Sulke gedrag dui op baie dik ANC-gedienstige velle. Tydens Marais se begrafnis is by sy graf gesê: “Stellenbosch zou haar rechterhand moeten vergeten als het vergeten zou wat Jan Marais voor haar was.”

Sedert die dood van Jan Marais is dit die dure plig van HJMNF-trustees om volgens sy wense namens hom te praat en te handel omdat hy dit nie meer self kan doen nie. Hulle (relatiewe) onaktiwiteit in hierdie opsig, hulle onwilligheid om (kompromisloos) vir Afrikaans te veg, het nie by Meaker begin nie. Dit kom al ‘n lang pad. Dit is onverskoonbaar. Deel van die probleem is dat mense wat US-personeellede was of is, as trustees aangestel word. Veral sedert 1994 beteken dit dat so ‘n trustee twee here met uiteenlopende belange probeer dien – een wat al hoe meer Engels- en die ander wat Afrikaansgeoriënteerd is. Dit is onmoontlik om aan die wense van sowel Wim de Villiers as Jan Marais te voldoen. Die oplossing is dat besluit moet word dat geen trustee voortaan ‘n US-personeellid mag wees nie. HJMNF moet heeltemal onafhanklik van die US hervestig word.

Dieselfde behoort met die ander Marais-fonds, Het Jan Marais Fonds (HJMF), te gebeur. Volgens Marais se voorskrifte moet HJMF nege en HJMNF ses trustees hê. Aanvanklik was daar ‘n groot mate van oorvleueling; dus dat trustees van die een ook trustees van die ander fonds was. Mettertyd het HJMF heeltemal in die US-administrasie versand geraak en uit die openbare oog verdwyn. Oor die HJMF skryf Pieter Kapp in sy boek oor Jan Marais: “Die fonds het sy onafhanklikheid van die US afgestaan en sy rekening by Nedbank gesluit en dit na die US se interne rekening oorgeplaas” (bl 175). Kapp kon nie vasstel wie toe HJMF-voorsitter was nie, om van wie die ander agt trustees was nie te praat nie.

In die lig van die minagting wat Marais deesdae in US-geledere te beurt val, is dit (hoogs) onwaarskynlik dat die US steeds HJMF volgens Marais se voorskrifte bestuur en administreer. Hoe vollediger die verengelsing, des te minder die reg van die US om finansiële voordeel uit HJMF te trek. Dit is myns insiens die dure plig van HJMNF-trustees om HJMF uit die kloue van die US te bevry en sorg te dra dat dit heeltemal vry van US-beïnvloeding bestuur en geadministreer word. Dit is onwaarskynlik dat die US sy Marais- neseier vrywillig sal afstaan. Dan behoort HJMNF-trustees die moed van hulle oortuiging te hê om met regsoptrede HJMF heeltemal onafhanklikvan die US te maak. Dit verg bereidwilligheid om te baklei vir wat reg is; iets waarvoor Meaker klaarblyklik nie kans sien nie.

Die US het uit die Victoria Kollege ontstaan. In die eerste helfte van die vorige eeu het die US die moeisame pad van ‘n oorwegend Engelse na ‘n Afrikaanse inrigting geloop. In die nuwe Suid-Afrika het die US terugwaarts beweeg en doelbewus direk teen die wense van Jan Marais in ‘n oorwegend Engelse inrigting geword. By die huidige US-bewind weeg die wense van die ANC-regime swaarder as dié van Marais. Maar dit is (ten minste teoreties) moontlik om die US te hertransformeer deur te herhaal wat voorheen vermag is; dus om die US van sy huidige oorwegend Engelse opset te hervorm totdat dit weer ‘n oorwegend – verkieslik uitsluitlik – Afrikaanse inrigting word. Wanneer dit bewerkstellig is, kan die twee Marais-fondse hulle verbintenis, ooreenkomstig die wens van Jan Marais, met die US hernu. In die voorsienbare toekoms behoort die Marais-fondse hulle egter baie duidelik van die US te distansieer. Dit is immers wat Jan Marais (ongetwyfeld) sou gedoen het.

Michael le Cordeur is sedert 2012 ‘n HJMNF-trustee. Hy sorg dat hierdie trustees op diversiteit of multikulturaliteit aanspraak kan maak. Daar is drie redes waarom Le Cordeur nie ‘n trustee moet wees nie: Hy is nie pro-Afrikaner en pro-Afrikaans nie (wel pro-Kaaps) en hy is ‘n US-dosent. Weens die hedendaagse ontaarding van Afrikaansinstansies het Le Cordeur al as raads- of direksielid of trustee in die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die Afrikaanse Taalraad (ATR) gedien. Hy was selfs die ATR-voorsitter en die onder-voorsitter van Rachel’s Angels, waar net nieblankes engelstatus kan verwerf. In die nuwe Suid-Afrika is dit ‘n oorbekende situasie: Geen instansie mag eksklusief blank wees en op grond van ras of kleur diskrimineer nie. Maar eksklusief nieblanke of swart instansies, wat blatant teen blankes diskrimineer, word onder die vaandel van “regstelling” of transformasie as heeltemal in orde beskou. Dink in hierdie verband ook aan die DAK (Doman, Autshumao, Krotoa) -netwerk. As uitgesproke ANC-kameraad het Le Cordeur geen probleem hiermee nie.

Oor die ontaarding van Afrikaansinstansies het ek al dikwels geskryf. Ontaarding is al dermate die geval dat talle van hulle, soos die SBA, ATKV, ATR en DAK, weens hulle verknogtheid aan en vertroeteling van Engelsbesoedelde Kaaps en hulle afwysing, of ten minste skeptisisme, oor Standaardafrikaans, in werklikheid die ondergang van Afrikaans bevorder. Sedert die diensaanvaarding in Junie 2016 van ‘n ANC-aktivis, Michael Jonas, as die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), geld dit ook in buitensporige mate vir die ATM. In hierdie twee tradisioneel Afrikaanse heiligdomme in die Paarl het sowel Afrikaans as die blanke personeellede bedreigde spesies geword. Hierdie situasie het die blanke museumkuratrise, Chantelle de Kock, onlangs genoop om oor die inwyding van die Taalmonument in 1975 te beweer dat “die meeste sprekers van Afrikaans nie toegelaat is om dit by te woon nie” – volgens Izak de Vries se verslag (LitNet, 13.10.2020). Le Cordeur het voorheen (doelbewus) valslik beweer dat hy nie toegelaat is om die monument-inwyding by te woon nie.

Op De Kock se bewering het ek op 13 Oktober soos volg gereageer: “Chantelle de Kock, die kurator van die Afrikaans Museum, beweer ‘dat die opening van die Taalmonument 45 jaar gelede omstrede was omdat die meeste sprekers van Afrikaans nie toegelaat is om dit by te nie.’ Dit is inderdaad so dat die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes, wit en bruin, nie by daardie gebeurtenis teenwoordig was nie. Maar wat sy waarskynlik bedoel, is dat bruin mense nie by die opening toegelaat is nie. Dit word egter weerspreek in ‘Die Afrikaanse Taalmonument: Van konsep tot gestalte,’ ‘n publikasie wat op die ATM-webwerf beskikbaar is. ‘Verskeie bruin skrywers en verteenwoordigers van ander sektore van die bruin gemeenskap [is] genooi en ‘n beduidende aantal van hulle, asook groot getalle bruin skoolkinders, het die verrigtinge bygewoon’ (bladsy 8).” As skoolkind kon Le Cordeur dus, as hy wou, die gebeure eerstehands ervaar het.

Op 15 Oktober het Leopold Scholtz soos volg op De Kock se bewering gereageer: “As ek reg onthou, was daar wel deeglik ‘n kleinerige groep Afrikaanse bruin mense by die opening van die Taalmuseum* teenwoordig.” Scholtz het dit nodig gevind om ter wille van die waarheid te reageer omdat my bostaande kommentaar aanvanklik teruggehou is en eers na verloop van sowat ‘n week gepubliseer is. By LitNet is dit geykte praktyk om lesersreaksies voor publikasie te “modereer”. Dit kan die weiering van publikasie insluit. ‘n Mindere vorm van sensurering is om kommentaar waarvan LitNet nie hou nie, dae lank terug te hou en dan by die oorspronklike datum te publiseer. Sulke kommentaar word dan min gelees omdat baie LitNet-lesers net van die jongste lesersreaksies kennis neem.

[* Die monument teen Paarlberg en die museum in Pastorielaan in die Paarl is op dieselfde dag, 10 Oktober 1975, ingewy.]

Ek vra my af: Waarom is Scholtz se kommentaar dadelik gepubliseer en myne, wat wesenlik dieselfde sê, word dae lank teruggehou? Kan dit geregverdig word as ‘n meningsforum, soos LitNet, wegskram van die waarheid? Des te meer as onthou word dat LitNet destyds geloods is met die voorneme dat sensuur vir hom uit die bose sou wees. In die huidige geestesklimaat kan sensuur die heil van Afrikaans en die beeld van Afrikaners ernstig benadeel. Dit is byvoorbeeld heeltemal moontlik dat die ATM-opset tans sodanig is dat die webwerfpublikasie waarna ek hierbo verwys, onttrek of aangepas kan word. Dit sou ‘n vervalsing van die geskiedenis wees.

Ek kom reeds ‘n baie lang pad met LitNet maar sy sensuurbeleid, wat sekerlik periodiek verander, kon ek nog nooit deurgrond nie. Op dieselfde dag, 13 Oktober, toe ek bogenoemde kommentaar oor die De Kock-uitlating geskryf het, het ek in ‘n ander reaksie veel meer fundamentele kritiek op die ATM uitgespreek. Ek het verwag dat my teks moontlik deur LitNet teruggehou of geweier sou word, maar tot my verbasing is dit dadelik gepubliseer. Dit gee ‘n (realistiese) beeld van die toestand waarin die ATM verval het maar wat skynbaar geen kommer hoegenaamd by ander Afrikaansinstansies wek nie. My kommentaar op De Vries se artikel lui soos volg:

“Daar word beweer dat die ATM-raad van agt lede verteenwoordigend van Afrikaanssprekendes is. Maar daar dien net een of twee wit mense in hierdie raad. Is dit verteenwoordigend? Op die ATM-webwerf is daar ‘n foto van die personeel. Daar is blykbaar net enkele wit mense. Is dit verteenwoordigend? Kyk na die teks en foto’s [in De Vries se artikel] hierbo. Wit mense is die uitsonderings. Is dit naastenby ‘n spieëlbeeld van Afrikaanssprekendes? My indruk is dat wit mense (doelbewus) deur die ATM gemarginaliseer word. Is dit deel van die dekolonisering van Afrikaans waarvan Elvis Saal [die voorsitter van die ATM-raad] melding maak? Is dit taalkundig sinvol om Christo van Rensburg se stelling te herhaal dat Afrikaans ‘n halfeeu voor 1652 ontstaan het, of behoort ons ons eerder af te vra of dit nie (bloot) ‘n uitdrukking van politieke byderwetsheid is nie? Wit mense het ongetwyfeld die grootste bydrae tot Afrikaans gelewer en hulle is sekerlik die lojaalste ondersteuners van Afrikaans. Die artikel hierbo wek ‘n heeltemal ander indruk.” Verwys ook Johannes Comestor se artikel: “Afrikaans: Vind daar onteiening plaas?” (LitNet 25.08.2020).

LitNet en Rapport is die publikasies wat Kaaps as geradbraakte Afrikaans in die grootste mate bevorder en natuurlik ook Son, wat, anders as sy Engelse eweknie, in die Wikipedia beskryf word as ‘n “mixed Afrikaans-language South African tabloid.” Son is nie op Netwerk24 toeganklik nie. Hopelik dui dit daarop dat Naspers/Media24 hom darem in ‘n mate van Son distansieer. Maar behoort hierdie instansies en almal wat belang by Afrikaans het nie ernstig te besin oor hoe Engelsbesoedelde taalgebruik die toekoms van Afrikaans saboteer nie? Behoort HJMNF ‘n instansie soos die SBA finansieel te ondersteun? HJMNF se skenkings aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is meer sinvol.

Die mate waarin Le Cordeur en LitNet saamspan om Kaaps te bevorder, blyk byvoorbeeld uit ‘n onlangse artikel deur Le Cordeur: “‘n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum” (LitNet 19.10.2020). Ek het op 22 Oktober die volgende (redelike/gematigde) kommentaar daarop na LitNet gestuur, maar op 1 November was daar nog geen aanduiding dat dit gepubliseer sou word nie.

“Soos dikwels voorheen is Michael le Cordeur beswaard oor die stigmatisering van Kaaps. Hy beklemtoon graag dat Kaaps ‘n gelykwaardige variëteit van Afrikaans is. Wat hy nie verreken nie, is die groot Engelskomponent in Kaaps. In hierdie opsig is Kaaps nie net sulke goeie Afrikaans soos die ander variëteite nie – veral nie so gesuiwer van onnodige Engels soos Standaardafrikaans nie. Engelsbesoedelde Kaaps stel ‘n slegte voorbeeld wat al hoe meer deur ander Afrikaanssprekers nagevolg word. Die uiteinde kan wees dat Afrikaans as ‘n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is, tot niet gaan. Kaaps kan nie gestandaardiseer en as ‘n skoolonderrigtaal erken word terwyl enige Engelse woord deel van sy woordeskat is nie. Wat nodig is, is dat alle Kaapssprekers en alle ander Afrikaanssprekers aangemoedig word om hulle taal van onnodige Engelsinvloed te suiwer. As in Kaaps op sy nie-Engelse taaleie gekonsentreer word, kan die stigma beëindig, dit makliker gestandaardiseer en ‘n erkende skoolonderrigtaal word. Die voortbestaan van Afrikaans sal dan veel beter gedien word as wat tans die geval is.” Op grond waarvan sou die LitNet-redaksie dink dat lesers teen hierdie opmerkings beskerm moet word?

Die lakmoestoets vir ‘n Marais-fondstrustee is of hy/sy Jan Marais se wens, dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie, onderskryf. In hierdie opsig het Le Cordeur homself gediskwalifiseer. Hy het onomwonde verklaar dat die verengelsing van die US by hom “geen hartseer” wek nie (LitNet 13.11.2015). Daar kan geen twyfel wees dat so ‘n houding lynreg teen Jan Marais se wense ingaan nie. Die beginsel wat Marais vir sy befondsing van die US neergelê het, behoort ook vir skole te geld. Net skole wat eentalig of hoofsaaklik Afrikaans is, behoort deur HJMNF finansieel ondersteun te word. Skole behoort vooraf deur HJMNF gewaarsku te word dat sodra Engelsonderrig groter afmetings as Afrikaansonderrig aanneem, sy finansiële ondersteuning beëindig sal word. Op hierdie manier sal die heil van Afrikaans ten beste gedien word.

Maar ook in hierdie opsig ondermyn Le Cordeur die wense van Marais. In Le Cordeur se boek, Halala Suid-Afrika (2019 – Praag 4.04.2020), is daar ‘n artikel met die opskrif: “Is ons ‘n hindernis vir hulle wat wil leer?” (bl 72-76), wat op 6 Desember 2009 in Rapport gepubliseer is. Daarin verkondig Le Cordeur die ANC-regime se beleid waarvolgens skole rasgeïntegreerd moet wees. Dit beteken in die praktyk onder meer dat skole eentalig Engels maar nie eentalig Afrikaans mag wees nie. Engelse skole sluit glo niemand uit nie terwyl Afrikaans as onderrigtaal glo wel sommige leerlinge, veral swartes, uitsluit.

Le Cordeur verwys na die Hoërskool Ermelo wat van ‘n uitsluitlik Afrikaanse skool in ‘n tweetalige skool (Afrikaans en Engels) getransformeer is, met as bonus dat dit nou ook swart leerlinge het. Soos hier bo aangetoon, beteken dit dat die Hoërskool Ermelo spoedig/mettertyd oorwegend Engels en swart sal wees. Hierteen het sowel Le Cordeur as sy geliefde ANC geen beswaar nie. Dit is immers ook die pad wat die US en al die eens Afrikaanse universiteite met die seën van Le Cordeur en die ANC-regime loop.

Aan die begin van hierdie eeu was Le Cordeur ‘n omgangsinspekteur vir skoolonderwys in die Stellenbosch-omgewing. Die Laerskool AF Louw was ‘n eentalige Afrikaanse blanke model C-skool. Le Cordeur het voorgestel dat die skool begin om elke jaar in graad R 40 swart Engelse leerlinge in te neem, wat dan jaarliks na die volgende graad opskuif. Ná agt jaar sou daar agt swart Engelse klasse van graad R tot 7 wees. Teen die einde van 2009 het hy triomfantelik en oordrewe aangekondig: “Die leerlingtal het gestyg van 250 Afrikaanse leerders na 500 meertalige kinders. Afrikaanse leerders se Engels het drasties verbeter. En 250 Xhosa-kinders en hulle ouers [!] is nou Afrikaans magtig” (75). Hy noem dit ‘n “wen-wen oplossing” (74).

Uit die getal leerlinge kan afgelei word dat die skool in 2009 helfte wit (en bruin) en Afrikaans en helfte swart (en bruin) en Engels was. Le Cordeur vind dit wonderlik dat die druk op klaskamerruimte in die Primêre Skool Ikaya in die swart woonbuurt Kayamandi op hierdie manier verlig is. “‘n Slag [is] geslaan vir Suid-Afrika; meer nog vir Afrikaans. Deur konstruktief saam te werk met die owerhede is Afrikaanse onderrig aan AF Louw verseker” (75). Een van die redes wat Le Cordeur vir skooltranformasie aanvoer, is dat “so baie kinders met ‘n leë maag skool toe kom” (73). Hy verduidelik egter nie hoe die verengelsing en verswarting van die Laerskool AF Louw ‘n bydrae lewer om hierdie probleem op te los nie. Desnieteenstaande beweer hy dat almal met hierdie (briljante) voorstel van hom tevrede gestel is; dat almal gelukkig is (76).

Maar hoe lyk daardie skool deesdae, elf jaar later? Kyk op die skool se webwerf op die internet. Die skool is getransformeer van ‘n eens blanke skool na ‘n skool vir bruin en swart leerlinge. Van graad R tot 7 is daar drie klasse vir elke graad. Op elke vlak is daar een Afrikaanse en twee Engelse klasse. Met ander woorde, binne ‘n dekade het die Afrikaans/Engels-verhouding van helfte-helfte na tweederdes Engels en ‘n derde Afrikaans verander. Het Le Cordeur ‘n slag vir Afrikaans geslaan, soos hy in 2009 beweer het? Het die Le Cordeur/ANC-transformasie Afrikaansonderrig aan daardie skool verseker? Dit is vir my duidelik dat daardie skool dieselfde pad as ander eens Afrikaanse skole en universiteite loop; dat Afrikaans progressief uitgewis word. Dit toon weer eens dat Le Cordeur en die ANC-regime nie met blanke (veral Afrikaner- en Afrikaans-) belange vertrou kan word nie.

Die Laerskool AF Louw-sage toon nogeens dat Le Cordeur nie ‘n trustee van HJMNF behoort te wees nie. As opvoedkundige tree hy (in groot mate) as hekwagter op wanneer HJMNF oor finansiële ondersteuning aan veral (eens) bruin skole besluit. Omdat die Laerskool AF Louw deesdae oorwegend ‘n Engelse skool is, behoort dit nie (meer) deur HJMNF ondersteun te word nie. Die skole wat tradisioneel bruin en Afrikaans was, verengels baie vinniger as die tradisioneel Afrikaanse blanke skole. Dit is omdat bruines in (baie) groter mate as blanke Afrikaanssprekendes Afrikaansdislojaal is, insluitende die Moslems van byvoorbeeld die Bo-Kaap, wat deesdae polities byderwets maar verkeerdelik as die bakermat van Afrikaans verheerlik word. Die hedendaagse oorwig van Engels aan die Laerskool AF Louw is (waarskynlik) nie bloot aan die toeloop van swart leerlinge te wyte nie maar ook weens bruines wat toenemend verkies om in Engels skool te gaan.

Een van my medestryders vir Afrikaans het onlangs die volgende gedagte in die midde gelê: Is die bruines steeds die meerderheid Afrikaanssprekendes? Die antwoord hang deels af van of Kaaps as ‘n variëteit van Afrikaans of eerder (en myns insiens tereg) as ‘n tussen- of brouseltaal beskou word. Die punt is dat die stadium in die nie te verre toekoms bereik kan word dat blankes die meerderheid Afrikaanssprekendes sal wees. Juis daarom moet daar jaloers oor die idiomatiese gehalte, die wesenlik nie-Engelse aard, van Afrikaans gewaak word.

Op 21 Oktober 2020, die dag toe La Vita se onderhoud met Meaker gepubliseer is, het ek soos volg aan HJMNF geskryf: “Geagte mevrou Erna Meaker, Ek skryf na aanleiding van die koerantonderhoud met u wat vandag gepubliseer is. Ek het dit by meer as een geleentheid sonder sukses onder die aandag van u voorganger [Niel Krige] gebring dat dit vir my heeltemal onaanvaarbaar is dat Michael le Cordeur ‘n trustee van die JMNF is omdat hy hom oopenlik ten gunste van die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch uitgespreek het. Iemand anders behoort as trustee vir byvoorbeeld kontak met skole vir bruines aangestel te word.”

Op 28 Oktober 2020 het HJMNF-sekretaresse, Henét de Villiers, soos volg aan my geskryf: “Beste Professor, Dr Michael le Cordeur lewer waardevolle insette as Trustee. Sy e-pos-adres is op die US se webblad. Ek stel voor dat u met hom u argwaan hanteer. Ongelukkig kan/gaan ons nie as tussenganger optree nie.” Argwaan is nogal ‘n groot woord vir ‘n sekretaresse om te gebruik. Agterdog of wantroue word bedoel. Dit is duidelik dat daar by HJMNF skynbaar geen of bloedweinig begrip is vir waaroor dit hier gaan. Dit is juis die Le Cordeur-insette wat met (groot) omsigtigheid benader behoort te word. Dit sou geen sinvolle doel dien as ek my besware privaat onder Le Cordeur se aandag bring nie. Dit is HJMNF-trustees wat standpunt moet inneem. Die bostaande uiteensetting kan hulle hopelik help om oor die rol van HJMNF te herbesin. Dit gaan by uitstek om Jan Marais se wense en die heil van Afrikaans.

Dit is die dure plig van HJMNF-trustees teenoor Jan Marais om nie, soos die Afrikaansinstansies wat ek hier bo noem, voorkeur aan byderwetse politieke oorwegings bo die belange van Afrikaans en die Afrikanerdom te gee nie. Hoekom voel dit vir my aljimmers asof ek ‘n stem roepende in die woestyn is? Dit is my oortuiging dat wat ek skryf kwalik sonder meer as bog verwerp kan word. Ek put my motivering om met die stryd ten behoewe van Afrikaans en die Afrikanerdom voort te gaan uit die volgende woorde van James Anthony Froude: “Even when a cause is lost utterly, and no rational hope remains, I will still go down, if it had to be so, with my spirit unbroken and my face to the enemy” (Praag 11.07.2020).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.