Leon Lemmer: Afrikaners bestempel as onfatsoenlike mense

Andrew Harding
Deel op

Andrew Harding, ‘n Brit, is sedert 1991 ‘n joernalis. Hy het eerstehandse kennis van baie lande, insluitende talle Afrika-lande. In 2009 het hy die BBC News se Afrika-korrespondent geword. Harding woon in Johannesburg. In 2018 is die volgende boek van hom gepubliseer: The mayor of Mogadishu: A story of chaos and redemption in the ruins of Somalia (298p, Kindle $13,79). Onlangs het nog ‘n boek van hom verskyn: These are not gentle people: A true story (Johannesburg: Picador Africa, 2020, 236p; Kindle $13,00). Hierdie boek is die onderwerp van hierdie rubriek. Normaalweg lees ek nie fiksie nie, veral nie speur- of misdaadverhale nie. In die nuwe Suid-Afrika het ons immers met ‘n oordaad misdaad te make. Daar is oorgenoeg berigte oor misdaad in die massa-inligtingsmedia. Hierdie boek is egter nie misdaadfiksie nie. Dit is op werklike gebeure gebaseer, soos in die newetitel aangedui.

Daar is rede om die BBC ideologies net so min soos die SABC te vertrou. In hierdie verband kan verwys word na die boeke van Robin Aitken, Can we trust the BBC? (2013, 181p; Kindle $14,16) en The noble liar: How and why the BBC distorts the news to promote a liberal agenda (2020, 237p; Kindle $11,49) en David Sedgwick, BBC: Brainwashing Britain? How and why the BBC controls your mind (2018, 395p; Kindle $3,97) en The fake news factory: Tales from BBC-land (2020, 374p; Kindle $6,06). Ideologies is daar ‘n gaping tussen die oortuigings van baie Afrikaners en wat deur die SABC, MultiChoice en Naspers se Media24-publikasies aangebied word. Insgelyks verskil baie luisteraars en kykers in Brittanje en elders in die wêreld met die siening of menings wat deur die BBC versprei word.

Tydens die blanke bewind in Suid-Afrika het buitelandse joernaliste ‘n slegte reputasie by veral Afrikaners gehad. Hulle het onrus gestook, plaaslike gebeure verwronge – gewoonlik baie slegter as wat hulle was – voorgestel en hulle feitlik deurgaans vir ‘n swart politieke bewind beywer. Nadat diesulkes die land en sy inwoners onberekenbare skade berokken het, het hulle na hulle lande van herkoms verkas. Wat vir buitelandse joernaliste van belang was, was om hulle werkgewers te plesier en gewetenloos hulle eie loopbane te bevorder. Objektiwiteit en die ewewigte aanbieding van feite was nie hoog op die agenda nie.

Daar is dus rede om Harding se boek skepties te benader. Des te meer omdat die titel op Afrikaners betrekking het. Die vrou van ‘n Afrikanerboer, wat moordverdagte nommer 1 in hierdie boek is, het ‘n Skotse ma (Kindle 2731). Daar is dus ‘n mate van afstand tussen haar en egte Afrikanerboervroue. Dit is by haar wat die gedagte opkom om Boere/Afrikaners te karakteriseer soos in die boektitel weergegee: “These are not gentle people” (2803). Sy hou nie van haar skoonpa se “old-fashioned sterness – the cruelty of it” nie (2754). Deesdae mag nieblankes eintlik nie op ‘n soortgelyke ongunstige manier gekarakteriseer word nie.

Harding se boek word as nie-fiksie aangebied. Dit handel oor twee swartes wat na bewering op ‘n plaas by Parys in die Vrystaat deur ‘n groep Afrikanerboere vermoor is. Dit is by hoë uitsondering dat blankes swartes vermoor. Die teenoorgestelde gebeur dikwels. Enersyds kan daar geredeneer word dat so ‘n gebeurtenis (wit op swart moord) juis daarom nuuswaardig is. Andersyds kan sulke publisiteit as deel van die hedendaagse (haat)veldtog teen blankes, veral Afrikaners, beskou word. ‘n Mens kan jouself afvra: Waarom skryf buitelandse joernaliste nie met dieselfde ywer en oortuiging oor die vlaag plaasmoorde op blankes, veral Afrikaners, nie?

Wanneer ‘n buitestander oor Suid-Afrika skryf, kan dit die voordeel van groter objektiwiteit hê; dus dat die verslaggewer in mindere mate emosioneel betrokke is. Maar dit kan ook gebeur dat buitelandse stereotipes die relaas deurslaggewend beïnvloed. Wat in Harding se guns tel, is dat hy swart Afrika in redelike mate ken, dat hy reeds bykans ‘n dosyn jare in Suid-Afrika woon en goed oor plaaslike gebeure ingelig is. Hy is lank genoeg hier en het genoeg insig om skepties oor byvoorbeeld die ANC te wees. Hy verwys na ‘n “fractured country” (3084), dus ‘n land wat, soos ons weet, die ANC tot in die grond wou afbreek ten einde die politieke mag te bekom. Ná 1994 sou die ANC-regime met die heropbou van die land begin. In werklikheid was en is daar in vele opsigte eerder agteruitgang en kroniese verval. Byvoorbeeld: “Parys still felt like an optimistic place; not like so many of those inert, half-deserted farming towns which seemed to have had the life relentlessly sucked out of them for the past two decades” ( 2260). In die boek word (sarkasties) hierna verwys deur die siening van een van die blanke regsgeleerdes op te haal: “The genial conviction that South Africa, and the world at large, was going to the dogs” (1570).

In sy “Author’s note” aan die einde van die boek skryf Harding “I’m not taking sides” (3049). Sy status as buitestander word ook erken toe een van die betrokkenes hom met “Hello, Englishman” groet (3049). “I’m an outsider, a stranger poking around, trying to understand a community wrestling with painful divisions” (3052). “I was looking for a subtler tale – one that could capture some of the deeper complexities and challenges of modern South Africa” (3055). “Parys may well be the nearest thing I’ve come across to a microcosm of South Africa” (3064).

Harding het hierdie projek met groot toewyding deurgevoer. “I have visited Parys and Tumahole [the black township] more than a hundred times” (3061). Hy het onderhoude met talle van die betrokkenes gevoer. “I wanted to write a piece of narrative non-fiction, constructed entirely from the raw material I’ve gathered, enabling all those involved in a painful, tortuous tale to tell it from their own perspectives” (3066). Maar dit lyk asof al wat ‘n swarte is meer guns as blanke regsgesindes in sy oë vind. Hier onder word regsgesindes gekke (“fools”) genoem.

Terwyl ek die boek gelees het, het ek afgekom op stellings, bv oor die gemoedstoestande en motiewe van mense, wat kwalik aan die outeur bekend kon wees. Maar dit was (meesal) vertolkings wat geredelik aanvaarbaar was. Harding erken dat sy mededelings deels gebaseer is “on people’s memories, on first or second-hand accounts, and have been reconstructed and woven into a work that inevitably involves elements of subjectivity and even artistic license” (3078). Daar is ongetwyfeld heelwat kosmetiese byvoegings. Myns insiens is dit die enigste manier waarop hy ‘n geronde, onderhoudende relaas kon lewer. Hierin het hy uitmuntend geslaag. Ek het my verwonder aan die bekwame manier waarop hy die inligting in vloeiende teks gesistematiseer het. Maar dit sou interessant wees om kommentaar oor die boek te kry van mense wat intiem by die saak betrokke was.

Ek het hierdie boek met die nodige omsigtigheid benader. Daar is elemente wat my gehinder het. Harding verwys na ‘n “rundown farmhouse” (75), ‘n “stout” boervrou (75), ‘n “stout” boer (197), ‘n ander een wat “portly” is (2303), “a farmer … haul himself and his stomach out of a white pickup” (203), daar is “four well-fed [Afrikaner] men” (316) wat ook beskryf word as “overgrown schoolboys in their shorts and short-sleeved shirts, big hands clasped … beneath an undulating range of stomachs” (322). Oor een van hulle word later geskryf: “his stomach drooping between his legs” (955). Geeneen van die swartes word so negatief beskryf nie. Een van die ander beskuldigdes het hom skuldig aan “fights in town, drunk driving” gemaak (326). Laasgenoemde twee Afrikaners word beskryf as: “A couple of characters with a reputation as local scoundrels and lousy farmers, always making excuses, and always [!] drinking and fighting” (958). ‘n Mens kan sulke beskrywings as (oordrewe) stereotipering beskou. Maar hulle kan (in ‘n mate) waar wees. Minder oortuigend is “two [drunk] white men beating a black man” (507) om ses-uur in die oggend in ‘n straat in Parys. “This instinct to punish, to klap the blacks” (510). Die Indiër-landdros dink: “This was … a very, very, very racist town” (513).

Wat oortuig, is wanneer ‘n Boervrou, gedagtig aan familie in Nieu-Seeland, dink: “Maybe it was time to abandon the farm, and South Africa” (249). Aan haar man sê sy: “I don’t see any future. It’s not going to get any better. I just want to go to a place where it’s safe for the children – where I know they’ll have a future” (252). “They were just trying to be good employers in a country where race, and wealth, and language, and history made everything … so damned complicated” (280).

‘n Swart huishulp werk “always for white bosses. Since from when we were slaves” (137). Haar man werk as ‘n “garden boy … She knew ‘boy’ was a deliberate insult, but it wasn’t her language … they [were] … indignities that mostly seemed easier to shrug off” (141). ‘n Swart man sê: “A black person’s life is cheap, even in his own country” (538). “Apartheid has created monsterism” (541). Ook: “Parys is not for blacks. We are not welcome here – we are not treated as human beings” (597). Hier skryf die outeur uit die oogpunt van swartes. Hy het van ‘n swart tolk gebruik gemaak om inligting van die swartes te bekom (3088).

Die landdros in Parys is “a slim Indian woman” (312). “She came from an energetic family and had been an ambitious student” (348). In die boek word sulke vleiende beskrywings nie vir Afrikaners gebruik nie, maar dit is moontlik dat wat van hierdie Indiër gesê word, waar kan wees. Uiteraard word ook die volgende waarheid genoem: “During the apartheid era people like her … had not been allowed to live [in the Free State]” (351). “She had a new boyfriend, a white man, an Afrikaner” (513). Waarvan hierdie Indiër hou, is “he didn’t watch rugby, or obsess about Afrikaans music or movies, or braaiing, or any of the other defining traits of so many of the white men in this town” (519). Dit klink na die stereotipering van Afrikaners.

Oor die hoërskool in Parys skryf Harding: “[The] classes were mostly segregated by language, which meant the races were still nudged apart” (866). “The high school … is no longer segregated in the old-fashioned sense, but the class photos in the dark hallways reveal the extent to which language now performs a similar function. Afrikaans for the whites. English for the blacks. Many of Tumahole’s new elites – politicians, civil servants, teachers, police – send their children here to be educated by what remains an exclusively white teaching staff, something which the current headmaster suspects may be ‘part of the appeal'”(1615). Inderdaad.

Die swartes verkies dat hulle kinders blanke onderwysers het omdat hulle goed gekwalifiseerd en meesal toegewyd is en daagliks voorbereid en betyds vir hulle klasse opdaag en naskoolse pligte deeglik uitvoer. Wat taal betref is die Afrikaanssprekendes sekerlik op onderrig in hulle moedertaal geregtig. Die swartes verkies uit eie keuse Engels as onderrigmedium. As dit apartheid in die klasse veroorsaak, behoort die Afrikaanssprekendes nie daarvoor verwyt te word nie. Rasse-integrasie sou nie noodwendig beter akademiese of sosiale resultate lewer nie. Tradisievastheid kan ‘n bate wees. Die primêre skool op Parys dra steeds die naam HF Verwoerd (1618). Hierdie skool is ‘n sieraad – kyk die webtuiste.

Mettertyd het die outeur my nogtans in ‘n beduidende mate van sy bona fides oortuig en het die boek ‘n meevoerende en aangename leeservaring gebied. Dit was eintlik ‘n onbegonne taak om deurgaans tussen feit en fiksie te onderskei. Dit is die verhaal van ‘n (vermeende) aanval laatmiddag op 6 Januarie 2016 op ‘n bejaarde Boer deur twee swartes wat geld geëis het. Die Boer word beseer, maar nie ernstig nie. Die Boere in die omgewing reageer op sy alarm. Hulle vang die swartes en rand hulle aan. Die Boere se gedrag is onder meer beïnvloed deur die wrede moord enkele jare tevore op ‘n blanke egpaar wat ‘n winkeltjie op een van hierdie plase bedryf het. Suid-Afrika is “a country where farmers had every reason to feel under threat” (2780). Die polisie kom die twee aangerande swartes dieselfde aand haal. Dit is moontlik dat hulle op pad na Parys verder beseer is. Albei sterf en vier Boere word voor die hof gedaag. Later kom nog twee beskuldigdes by. Die hofsaak sloer jare lank. Uitspraak is eers op 8 Mei 2020 gelewer (2809) en vonnisoplegging was vir Augustus 2020 geskeduleer (2921).

Die ANC-regime wil alles dikteer wat in Suid-Afrika gebeur. Wat Harding duidelik aantoon, is die hedendaagse politieke inmenging in regssake. Die ANC het met toesprake ‘n politieke demonstrsasie van die een swarte se begrafnis gemaak (526) en die EFF van die ander swarte s’n (538). Oor eersgenoemde: “The event was being broadcast live on SABC and some local politicians – and one or two national figures – were there to attend. Selected dignitaries stepped forward to comment on the killings and to condemn white racism” (583).

Van die grootste bates van die boek is dat dit aantoon hoe verpolitiseerd die regstelsel sedert 1994 geword het; hoe dit ooreenkomstig die wense van die ANC teen blankes misbruik word. ‘n Regsgeleerde vir die aangeklaagdes se siening is:

“This case was about politics. Pure and simple. White farmers were under attack in South Africa, and not in some random, criminal way. Not at all. It was an organised campaign to get them off the land, to blame them for the failures of the ANC government” (1588).

Daar word verwys na ‘n ander hofsaak in Coligny oor ‘n 16-jarige swarte wat na bewering sonneblomsaad op ‘n plaas gesteel het en dood is toe hy van ‘n bakkie afgeval het. Twee blanke mans is van moord aangekla. “The authorities were still investigating the incident when senior ANC politicians … told the crowds … this was a race crime and white South Africans needed to understand that they were all visitors in this country” (1883). Die weerklank wat die Coligny-saak in blanke geledere in Parys gehad het, was “that [ANC] politicians were, as usual, trying to whip up racial hatred in order to deflect attention from their own spectacular failings. The ANC never bothered to visit white farmers who’d been attacked” (1892). Onlangs was daar ‘n uitsondering hierop by Senekal.

Die swart aanklaer “intended to charge all four [of the original] accused with premeditated murder” (338). Hy het ook borgtog teengestaan. Die Indiër-landdros is nie Afrikaans magtig nie en verwag dat almal by haar Engels moet aanpas eerder as wat sy by haar werkomgewing aanpas (357). Maar die plaaslike blankes “had … come to accept this young Indian woman as part of the furniture” (504). In die hofsaak word van ‘n tolk gebruik gemaak (2158). Buite die hof is daar ‘n skare swartes, ANC- en EFF-ondersteuners (597), wat sing: “Shoot the Boer! Shoot the farmer!” (594). Apart is daar ook ‘n groep Afrikaners wat “Die Stem” sing en die Transvaalse Vierkleurvlag laat wapper (610). Hulle vertoon “posters claiming that white farmers were victims of an ochestrated genocide” (610). ‘n Plaaslike dominee het glo gewapende blanke regsgesindes oorgehaal om nie moeilikheid te veroorsaak nie (2768).

Uit Pretoria meng die ANC-regime van ‘n hoë vlak af in. Die Valke, die direktoraat vir prioriteitsmisdade, raak betrokke. Die plaaslike blanke polisie word nie in ANC-geledere vertrou nie. “In Parys the remaining white officers knew they just had to knuckle down and remember their pensions” (705). Hulle is glo “too ready to see the whole thing as a collective beating gone wrong, rather than as the brutal race crime” soos die ANC dit beskou (665). ‘n Kaptein van Duitse afkoms lei die Valke se ondersoek, bygestaan deur sy hoof in Bloemfontein, ‘n kolonel van gemengde afkoms: “Indian, and a little German” (711). ‘n Dosyn Valke het op Parys toegesak. Spoedig word ‘n blanke polisiekaptein tot ‘n mede-beskuldigde verklaar.

“The Hawks were under pressure, maybe even big political pressure” (847). Die Valke intimideer die swart plaaswerkers en rand hulle selfs aan ten einde inkriminerende verklarings teen die beskuldigdes te kry. “They had statements from more than a dozen black farmworkers” (922). Die Valke het ook die telefoongesprekke van (sommige van) die beskuldigdes afgeluister (2089). Die Afrikaners beskou die hofsaak as deel van “a rotten system that was trying … to scapegoat the white farmers” (919). “The Hawks weren’t interested in investigating the farm attack. It was typical. They only got excited when it was a white attacking a black, never the other way around” (966).

Toe die voorverhoor in Maart 2017 hervat, was daar ‘n nuwe aanklaer, “an unexpectedly senior one. JJ Mlotshwa was a deputy director in the National Prosecuting Authority, sent to Parys from Pretoria. For a simple bail hearing. It was unheard of. The clearest sign yet that this case was now being watched closely at the highest levels” (930). Mlotshwa is voorheen weens wangedrag van die rol van regspraktisyns geskrap maar is later deur die ANC-regime in hierdie pos herontplooi (2918). Die ANC se Jeugliga het klagtes oor die Indiër-landdros ingedien. “So had other people in the party. She needed to watch her step” (933). Die aanklaer vra dat sy haar as voorsittende beampte verskoon. Sy moes later plek maak vir ‘n ander landdros, Ronnie Mguni. Nog later het sy as landdros bedank “for the sake of her sanity” (2266). By een van die verhore “the new magistrate was late arriving. It was almost noon before the families headed inside to the courtroom” (1490). Die aanklaer het weer borgtog teengestaan vir die “brutal and diabolical murder” (1021). Hierdie keer het dit gegaan om borgtog vir twee blankes wat as beskuldigdes bygevoeg is. Borgtog is toegestaan.

Mettertyd ontwikkel daar tweedrag tussen die aangeklaagdes en ander blanke betrokkenes. Met die staatsaanklaer word ooreengekom dat ses van hulle staatsgetuies sal word (1646), wat ses beskuldigdes laat. Die beskuldigdes het almal onskuldig gepleit. Die beskuldigdes was oortuig daarvan dat omkopery plaasgevind het en beskou die staatsgetuies as “joiners” (2060). In die strafsaak, wat in Mei 2017 begin het, tree ‘n Afrikaanssprekende blanke vrou as regter op. Dalk het die staat die sterkte van sy saak oorskat. ‘n Advokaat vir die verdediging het van die regter gesê: “He liked this judge, respected her, but these days South African judges – especially the white ones – were wary about how they deal with the state, afraid they’d be accused of bias, and as a result didn’t intervene nearly as much as they should” (2039).

Die forensiese beampte kon aspekte van sy nadoodse verslag oor die twee swartes nie bevredigend in die hof verduidelik nie. Nalatigheid van die polisie en die hospitaalpersoneel kon tot die dood van die twee bygedra het. Hulle dood is dus nie noodwendig deur die beskuldiges en sommige van die staatsgetuies veroorsaak nie. Daar was ook naam- en dus identiteitsverwarring oor die twee dooies. Die staat se saak het dermate uitmekaar geval dat vier van die ses beskuldigdes nie getuig het nie maar bloot erken het dat hulle die twee swartes aangerand het (2515). Terwyl daar op die uitspraak gewag is “another white farmer had … been killed in the neighbourhood … the 24th local victim of a farm murder” (2783). Op die internet “whites … muttered, online, about the good old days in Rhodesia and clamoured for the world to acknowledge a genocide being waged against white farmers. Why did people only make a fuss when blacks were being killed?” (2787).

Maar daar is Afrikaanssprekende blankes met ‘n ander siening: “That kind of language was just being used to excite people, to stir up the right-wingers, to excite the sort of fools who’d come to town three years back looking for trouble during those early bail hearings, waving their old flags, clutching their rifles, and spoiling for a fight. The truth was simple – the farmers had guns and cash, and everyone knew it, and so they were tempting targets, white or black” (2793). Diesulkes “didn’t even like the term ‘farm attack’. It was just robbery, or violent robbery. Why politicise everything?” (2793). En die (swart) plaasaanvallers? Watter soort mense is hulle? Sekerlik onfatsoenlike mense. Dit is egter om dit te sag te stel. Maar selfs dít word nie in die boek gesê nie.

Die uitspraak sou vier dae in beslag neem. Op die eerste dag het dit gelyk asof die regter nog nie haar verslag en bevindings klaar uitgeskryf het nie (2806). Daar was verdere vertragings. Dit was eers in Mei 2020, ‘n jaar en twee maande ná afloop van die verhoor (2817), dat sy tydens die Covid-19-pandemie met ‘n verkorte uitspraak vorendag gekom het (2820). Die aanklaer het gehoop op twee veroordelings vir moord en vier vir manslag (2833). Selfs die regter verwar die twee slagoffers in haar uitspraak (2830). Sy bevind daar was “an attempt to downplay the seriousness of the witnesses’ own assaults while exaggerating those of the accused” (2836). Sy bevraagteken ook die wysheid van die ooreenkoms wat die aanklaer met die ses staatsgetuies aangegaan het. “Why not just take one of them as a state witness? Or better still, put them all on trial and leave the judge to make sense of the whole mess” (2839).

Die regter wys daarop dat die aanklaer in sy finale voorlegging aan die hof erken het “that there was no hard evidence of … direct intention when it came to the two murders … but … that they could and should have foreseen … that their violent actions might lead to the men’s deaths” (2852). Die regter bevind verder: “The state had simply ‘failed to prove common purpose between the respective accused'” (2861). Dit was dus nie “a collective assault that had led to the men’s deaths” nie (2858). Sy het verder gesê: “I am convinced that the state did not prove the counts of murder, nor the competent verdict of manslaughter – culpable homicide” (222). “But all five farmers were found guilty of … assault with intention to do grievous bodily harm. They would remain free on bail until late August [2020], when they’d be sentenced” (2921). Die polisiekaptein is vrygespreek. Die aanklaer het gesê: “The state would appeal this pathetic joke of a verdict” (2918). Die vonnis en of daar geappelleer is, word nie in die boek genoem nie.

Wat duidelik uit die boek blyk, is hoe die hoë koste van regshulp die ses aangeklaagdes finansieel geruïneer het. Vir die ses medepligtiges wat staatsgetuies geword het, is ook baie geld aan regshulp opgedok. Dit bly vir my ‘n skande dat in die regs- en mediese professies (insluitende veeartseny) sulke buitensporig hoë fooie gehef word. Daar is minimum maar geen maksimum fooie nie. Mense in krisis kan en word soms tot die uitsterste uitgebuit. Sedert 1994 beleef die plaaslike regsprofessie ‘n bloeityd omdat daar talle hofsake oor byvoorbeeld ondoeltreffende dienslewering en korrupsie is. Dit is dikwels die belastingbetalers wat hiervoor moet opdok. Besware oor die buitensporige koste van regshulp word egter selde geopper.

Die verpolitisering van die plaaslike regstelsel is dalk die belangrikste saak wat die boek onder lesers se aandag bring. Die blankes word sedert 1994 nie net polities benadeel nie, maar ook deur die regstelsel. Afrikaners wat hulle verset teen onreg en met reg opstandig word, soos tans in Senekal, moet bedag wees op die beduidende risiko’s wat hulle loop. Waarmee hulle te make het, is die onverkwiklike nalatenskap van die pateties mislukte NP-onderhandelinge in 1990/94.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.