Brief: ‘Bikers is dalk nie boere nie,’ maar hulle is meer Boer as ou Nick…

Motorfietsryers van Bloemfontein kom in Senekal aan
Deel op

In antwoord op Nick Serfontein se neerhalende opmerkings oor die motorfietsryers op Senekal, die volgende.

Gewoonlik spreek ek ouer mense aan as oom, maar dit is vir my ‘n eretitel van respek. Iets wat ek nie dink jy verdien nie.

Nick, van landbou kan ek jou niks vertel nie. Ek glo mens moet krediet gee waar dit verdien word en jy het wragtag ‘n enorme besigheid gebou in die landbou. Welgedaan.

Nick Serfontein

Ek wonder as mense kyk na die foto’s van die Boerekommando’s wat teen die Britte baklei het, hoeveel van hulle maak dieselfde fout as jy ou Nick? Dink hulle ook dat daardie manne net landbouers was? Dink hulle ook dit was net bona fide boere, “ware boere” soos jy hulle noem, wat die wapen opgeneem het om die “landbourepublieke” te verdedig?

Ek is ‘n besigheidsman in die ou Transvaal, ek besit ‘n ysterperd en ‘n klein stukkie grond waar ek ‘n paar diere aanhou. Was ek darem welkom op Senekal? Of net as ek met die bakkie opdaag, nie met die motorfiets nie? Wat van al die jong manne wat in kakie daar was ou Nick? Bitter min van hulle is bona fide boere, ware boere soos jy dit noem. Hulle is prokureurs, rekenmeesters, bemarkers, gifsmouse en voormanne… Want sien, ou Nick, megalandbouers het bygedra tot ‘n klimaat waar duisende familieplase opgekoop is in groot besighede en dit het ons jong manne van eienaarskap in die landbou beroof… en die mense klap hande want kapitalisme knik sy kop…

Sien, ou Nick, terwyl groot boere fokus op opkomende boere vir politieke gewin is ‘n klomp van ons volkie se seuns nie dieselfde geleentheid gegun nie. Baie van hulle sit oorsee op stropers en trokke terwyl landbouprojekte van die staat tot niet gaan…

Ek sien darem jy is “half gatvol”. Ek is lankal heeltemal gatvol. Jy vra “watter verskil maak die ouens wat die blerrie rubbish in Senekal gemaak het”? Ek kan nie help om te wonder wat jy presies hiermee bedoel nie. Ek weet dat duisende mense honderde kilometers gery het op hulle eie onkoste om hulle ondersteuning te wys vir wat aangaan. Dit is nou voor ons geweet het ou Nick soek net “ware boere” daar…

Die bikers waaroor jy so gal braak — is eintlik goeie ouens ou Nick. Jy sal dalk nie weet nie, want jy het mos niemand se hulp nodig nie, maar die bikers het al miljoene rande se hulp geskenk aan talle organisasies wat boere in nood help… Die rubbish waarna jy verwys was hoofsaaklik lofsang en gebed. Maar jy het nou met een onderhoud ‘n klomp mense van mekaar vervreem… Ou Nick, jy moenie die goed verniet doen nie, die staat betaal mense om verdeeldheid onder ons volk te saai… Jy kan goeie geld maak!

Ou Nick, kom ons doen mekaar vandag ‘n guns. Ek sien jy het vir Cyril op whatsapp. Laat hulle ‘n wet vir ons maak dat ons onderskei tussen boer en Boer. Jy sien — jy is ‘n boer, ‘n landbouer en dit is goed, maar daar is ook ‘n Boervolk hier wat besig is om op te staan. Ek verstaan jy en ou Cyril wil niks hoor van volke nie, want volke het regte en dit is iets wat julle nie aan die groot klok wil hang nie. So as julle dalk die term landbouer kan gebruik en ons volk se naam Boer uit julle woordeskat haal, gaan dinge baie beter werk…

Want die Boere by Senekal, of hy nou ‘n biker of ‘n gifsmous of student is, het daarheen gegaan om te wys hulle is heeltemal gatvol, nie “half gatvol” soos jy nie. Jy, Nick Serfontein, ken nie jou eie mense se vrese, pyn en frustrasie nie. Jy het vervreemd geraak, want jy koop jou eie toekoms omdat jy genoeg geld het. Jy, Nick Serfontein, skep jou eie kultuur by Sernick waar jou woord wet is en jy vergeet dat daar mense daarbuite is wat deel is van ‘n ander kultuur…. Hulle noem daardie mense Boere.

Sien… mega-“boere” het landbougode geword. Die ander boere in die distrik is eenvoudig te klein om hulle stemme te laat hoor en op die ou end koop Sernick ook hulle grondjie. Dit is hoekom daar deur vriende van jou soos Dan Kriek idees op die tafel gesit is dat die 20% megaboere die land kan voer en die 80% familieboere opgeoffer kan word.

Ou Nick, jy vra waar was die bikers toe julle moes vuur slaan, in plaas van om dankie te se vir elke biker wat bygedra het tot die miljoene rande se skenkings wat nou daar afgelaai word. Jy praat van die cowboys wat wil vuis slaan, in plaas daarvan dat jy dankie sê vir die duisende mense, bikers ingesluit, wat in Senekal hulle mooi gedra het en die knieg gebuig het voor ons Hemelse Vader. Jy praat van die “bona fide” boere terwyl ons eie seuns oorsee op stropers sit omdat niemand hulle help om te begin boer nie. Ou Nick, jy wil landbou verlos van politiek… in Suid Afrika. Dalk moet jy jou eerder hou by boerdery?

Onderhoude soos joune met Willemien Brümmer dryf ‘n wig tussen ons mense in. Dit maak dat bikers en ander nie meer wil help nie. Hulle word uitgeskel en beledig deur die baaslandbouer. Dalk moet elke landbouer wat nie ‘n Boer is nie, ‘n groen lint om sy hek gaan hang dat ons kan weet waar ons nie welkom is nie.

Dankie aan elke persoon wat ons landbouers probeer ondersteun op elke denkbare manier. Dankie aan elke biker wat altyd gewillig is om te gee en deel te neem. Dankie aan elke Boer wat sy volk se fakkel dra in ‘n donker tyd. Dankie aan elke landbouer wat nog sterk staan in hierdie tyd. Weet asseblief dat Nick Serfontein nie namens ons praat nie.

Boeregroete,

—Alwyn de Klerk

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.