Karel Combrinck: Haatmakers

Deel op

Ons hoor van die môre tot die aand van ” haatspraak “, ‘n foefie wat uit linksliberale Amerika hierheen oorgewaai het. ‘n Mens kan haas nie jou mond meer oopmaak nie sonder dat jy op die een of ander manier aan haatspraak skuldig is. Haatspraak teenoor swartes natuurlik. Teen wittes kan ‘n mens maar sê wat jy wil. Wie op aarde het al soveel haatspraak ervaar as die Afrikaner? Tog is dit nie haatspraak wat in hoofsaak verantwoordelik is vir die haglike betrekkinge tussen wit en swart Suid-Afrikaners nie.

Die meeste van ons het die een of ander tyd in ons lewe swartes geken wat ‘ n mens kon respekteer — goeie ordentlike mense op wie jy kon staatmaak en vertrou. Uit die tyd van die bosoorlog weet ons dat hulle moedige en lojale vegters en gewaardeerde kamerade aan ons kant was. ‘n Mens plaas nie sommerso jou lewe op die spel nie. Ek kan nog goed onthou die dag toe ons as jong amptenare die staatsbegrafnis vir oudpresident Jim Fouché moes reël en toe, op die laaste oomblik, dosyne tuislandleiers en hulle senior ampsdraers vir die begrafnis opgedaag het. Dít het vir ons as organiseerders hoofbrekens besorg, maar aan die ander kant was dit aanduidend van ‘n gevoel van warmte jeens die Suid-Afrikaanse regering en witmense in die algemeen..

Hoe het dit dan gekom dat wit en swart Suid-Afrikaners mekaar vandag so te sê voor die voet wantrou en verag? Die antwoord lê natuurlik by die ANC-regime en die wittes wat hulle aan die bewind gestel het. Hulle is dié wat ons kan beskryf as die haatmakers.

Veel skadeliker as haatspraak is die begrip haatmaak. Wat ‘n mens sê, is belangrik en het gevolge, maar meer nog as die dinge wat jy sê, is dit die dinge wat jy doen wat mense mekaar laat haat. Hoe lui die Engelse spreekwoord: Sticks and stones may break my bones but names can never hurt me. Dade weeg swaarder as woorde soos almal weet, behalwe vir die haatdraende en wraaksugtige regime.

Wat het meer antagonisme tussen die rasse veroorsaak as die verderflike beleid van SEB oftewel Swart Ekonomiese Bemagtiging, (Black Economic Empowerment), nog ‘n Amerikaanse konkoksie? SEB beteken dat kundige en ervare witmense by die duisende uit die werkplek gerangeer is, met die gevolglike ineenstorting van noodsaaklike openbare dienste, onder meer kragvoorsiening, wat die land tot op die afgrond gevoer het met rampspoedige gevolge vir die ekonomie en daarmee saam kwynende werksgeleenthede waaronder almal ly, wit en swart . Dit gebeur natuurlik in ‘n “nuwe” nie-rassige Suid-Afrika en ten spyte van ‘n grondwet wat rassediskriminasie verbied.

Dan kom nog daarby die misdaadontploffing waarvan, nie uitsluitlik nie, maar meesal blankes die slagoffers is. Ook hier is die oorsaak terug te voer na SEB, d.w.s. die wittes wat uitgeskakel is uit die polisiediens ten gunste van die korrupte en onbevoegde polisiediens wat ons ken.  Daarby kom nog die doelbewuste en volgehoue propaganda van die regime oor baie jare wat swartes laat glo dat wittes hulle iets skuld. Wittes is naamlik verantwoordelik vir die gemors wat die ANC-regime van die land gemaak het.

En die ergste natuurlik, is die stelselmatige uitroei van ons mense op plase, maar ook in die stede. Geen dag gaan verby nie sonder dat daar berigte is van moorde, verkragtings en aanrandings van witmense. Of die regime hieraan aandadig is, kan ons nie met sekerheid beweer nie, maar daar is wel aanduidings dat hulle voete sleep met arrestasies en vervolgings. Vir seker is die ANC-regime aanspreeklik vir die afskaffing van die kommandostelsel wat elders op Praag en YouTube bespreek word en wat vir baie jare die veiligheid van ons mense op die platteland verseker het.

Kom ons noem nog enkele voorbeelde van haatmaak : die ANC-bemoeienis met die aard van ons skole en universiteite en dus met die opvoeding van ons jongmense en kinders, die doelbewuste pogings tot uitwissing van ons taal, die aftakeling van ons kulturele erfenisse, die beskadiging en verwydering van standbeelde van figure wat ‘n vooraanstaande rol in ons geskiedenis gespeel het, die verdraaiing en vervalsing van die geskiedenis self (waaraan sommige blankes lustig meedoen), die feit dat ‘n boer wat ‘n bietjie te energiek betoog het na aanleiding van die moord op ‘n jong plaasvoorman, vervolg word terwyl honderde swart betogers wat links en regs moor en roof en brand skotvry uitgaan, die feit dat ‘n standbeeld in ‘n tradisioneel Afrikanerdorp beplan word vir die rampokkervrou Winnie Mandela, die feit dat ‘n weersinwekkende skepsel soos Robert McBride senior poste in die staatsdiens, waaronder die polisiediens kan beklee ten spyte van sy rekord van moord en misdaad, die naamsveranderings van ons dorpe en stede, die diefstalle van miljarde rande deur ANC-bewindhebbers uit die staatskas m.a.w. ons belastings, noodlenigingshulp aan mense wat skade gely het weens Covid-19 wat net aan swartes gegaan het, (d.w.s. die gedeelte daarvan wat nie gesteel is nie), die onteiening van grond sonder vergoeding, die beplande berowing van ons pensioenfondse om finansiële tekorte van ‘n bankrot gesteelde en wanregeerde staat te vergoed.

Iewers moet ons die lys staak, maar daar is nog veel meer. Al hierdie aksies is op die een of ander manier bestem om witmense uit die samelewing te elimineer , dus uitdelgingshandelings. Haatspraak, al is dit so erg soos “kill the boer  kill the farmer”, kan ons nog op ‘n manier verwerk, maar die daadwerklike uitmoor van ons mense gaan die pot laat oorkook, soos so pas in Senekal gebeur het. Die las word by die dag ondraagliker en daarmee saam groei die haat.

Enigeen met ‘n bietjie verstand en oë in sy kop behoort te kan sien Suid-Afrika is op die rand van ‘n tragedie. As daar ooit versoening tussen wit en swart Suid-Afrikaners sou kom, en ons weet, die kanse daarvoor is skraal, dan moet die inisiatief uitgaan van die ANC. Hulle regeer die land, hulle besit die mag en hulle moet die moed aan die dag lê om toenadering tot wit Suid-Afrikaners te soek. Dit kan met ‘n gesanik oor die verlede nie geskied nie. Wat vereis word, is dade wat die sake hierbo genoem, daadwerklik hanteer: Indiensneming op grond van kwalifikasies en bekwaamheid, nie op grond van ras nie, ‘n regmatige lewensruim vir ons taal, beter beskerming van ons mense veral op plase en geen onteiening van grond sonder vergoeding nie. Wat kan hulle verloor deur dit te doen, terwyl ons almal daardeur net kan wen?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.