Elma Potgieter: Ek kom van ver af

Deel op

My naam is … Afrikaans.

Ek moet erken … ek is nie absoluut seker wanneer ek gebore is nie.

My wortels lê verspreid van die land van die middernagson tot hier aan die suidpunt van die donker kontinent.

Maar ek het my naam gekry op 8 Mei 1925.

Dit beteken ek is vanjaar 95 jaar oud.

Gelukkig word ek beskou as nog jonk – blykbaar die derde jongste Germaanse taal wat amptelike status het.

En dis hier waar die knoop lê.

Op hierdie oomblik in tyd geniet ek amptelike status, maar vir hoe lank nog?

Want net ‘n naïewe of onverskillige mens sal dink dat ek vrolik, vry en onbekommerd voortleef.

Voëlvry is nader aan die waarheid. Dit weet ek in die diepte van my siel.

Daar is ‘n prys op my kop wat my hart soms benoud laat klop en my keel van hartseer laat pyn.

Die prys is onberekenbaar en die gevoel op ‘n manier kruipend, ontasbaar – ‘n gevoel wat opstand in my laat opstu.

Want dis ‘n godetaal en ‘n Godstaal wat hier tot stand gekom het – familie van die “woeste Wikings” wat gode aanbid het en Wes-Europa en Engeland geterroriseer en verower het.

Waarom sê ek dit: Kyk na my woord: dogter. In Ysland praat my halfsuster van dottir. In Sweeds sê nog ‘n halfsuster datter. In Duitsland sê ‘n ander suster Tochter; Engels noem haar dogter daughter.

Maar die “woeste Wikings” beïndruk ook met hulle deursettingsvermoë en gevoel vir die estetika.

‘n Kruisbestuiwing vind plaas met gelowiges in een lewende God en uiteindelik vestig Protestantse plaasboere, hoofsaaklik van Duitse afkoms, hulle op uitnodiging van die Nederlandse-Oos-Indiese kompanjie hulle aan die Kaap. Hulle vlug weens godsdiensvervolging in Europa eers na die Lae Lande en werk daar op plase wat nie aan hulle behoort nie – ellende vir ‘n murg-en-been-boer wat baas op sy eie plaas moet en wil wees.

Toe aanvaar die boerevlugtelinge die uitnodiging van die Kompanjie om hul eie plase te kry en in Suid-Afrika te kom boer – maar as Vryburgers.

Vryburgers?

Waarom dié voorwaarde?

Want vreemde regerings en gepaardgaande onvoorspelbare politiek het die godsdiensvlugtelinge vir goed afgeskrik van regering en regeerders.

Hulle voorwaarde dus vir vestiging aan die Kaap van 1657 af – Vryburgers – of ons bly waar ons is.

Hulle praat ‘n vereenvoudigde volksduitse of – dietsetaal en in Suid-Afrika vereenvoudig dit nog meer. Dit word ‘n taal wat soet klink en reguit kommunikeer.

Dit is my ontstaansgeskiedenis in ‘n neutedop.

Ek het gefloreer in die eenvoud van uitdrukking, gepraat deur vry mense met vryheid van beweging en van denke.

My sprekers was vryheidsliewend en onderwerp hul doen en late vrywillig aan God en sy gebod.

Om dit te doen waarvoor jy lief is – diere en plante te teel en te kweek onder vrye omstandighede waar jou doen en late alleenlik deur die Tien Gebooie van die Bybel voorgeskryf word, was onweerstaanbaar.

Maar in die “Nuwe Suid-Afrika” waar Engelstaligheid afgedwing word deur alle staatsinstansies en groot korporasies met Engelse benamings “geseën” word … word almal gedwing om my óf geradbraak te praat óf my (stief)sustertaal Engels te pleeg.

Daar is twee reaksies wat na vore kom: ‘n Voormalige joernalis Chris Louw het in 2009 na bewering sy eie lewe geneem ná uitsprake soos:

Ons mense is gatvol daarvoor om vermoor te word! En dan verwys ek nie net na haataanvalle in ons huise en op ons plase nie. Dit ook, ja. Maar ek praat van die listige moord op taal, kultuur, geskiedenis, waardes, selfs menswees. In die 15 jaar van demokrasie het Afrikaners bykans uit die openbare oog verdwyn. Ons deelname aan die openbare lewe word stelselmatig afgetakel om ons aandeel in die bevolkingsamestelling te reflekteer: 6%. Dit is wat ons standpunt vandag werd is.

`n Druippunt.”

“Hy het Maandag om 14:07 in `n e-pos aan Tim du Plessis, redak­teur van Beeld, geskryf: ‘Ek is net gatvol. Daar’s nie sin in om voort te ploeter nie; eerder vroeër dood as later.’ Du Plessis het hom vergeefs gebel en ge-SMS.”

Maar ek, Afrikaans, wil nie doodgaan nie – veral nie vermoor word nie.

Die stryd om hier te kom was hewig – selfs bloedig…

Wat word van my as niemand my meer praat nie?

Die tweede opsie is dus: Werk en woeker.

Werk voortdurend daaraan om ons kinders bewus te maak van my oorsprong en die wonder van die woord.

My bestaan behels nie net kommunikasie nie. My woorde raak nie net die bewuste aan nie.

Dit raak die kollektiewe geheue aan.

Luister na dié gekose groep woorde:

Dis die blond, dis die blou:
dis die veld, dis die lug;
en ‘n voël draai bowe in eensame vlug – dis al.
Dis ‘n balling gekom oor die oseaan, dis ‘n graf in die gras, dis ‘n vallende traan –
dis al.

Ek glo nie ek hoef vir enigiemand te verduidelik waarop dié gestroopte gedig deur Jan F E Celliers sinspeel nie.

Wat is die woord wonderlik. Wat is taal wonderlik.

Ek, Afrikaans, is die wonderskoonste, mees vaartbelynde taal in die ganse wêreld wat teen wil en dank hier aan die suidpunt van Afrika as ‘n selfstandige taal ontwikkel het uit vele Germaanse tale.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.