Brief: Afrikaner-afgrond?

Deel op

Mnr. FW de Klerk en die Nasionale Party het die beloftes oor magsdeling vir die Nuwe Suid-Afrika nie nagekom nie. Daar is swak onderhandel tydens die KODESA-samesprekings en die Afrikaner het na afloop daarvan aan die korste end getrek. Die ANC sou op die basis van een-man-een-stem alle mag in Suid-Afrika inpalm. Die Afrikaner establishment saam met die hoofstroom media het egter die grootste deel van die Afrikaner bevolking gepaai en dit is sonder veel weerstand so aanvaar.

Die mislukking van hierdie poging tot sogenaamde demokrasie is nou in 2020 vir meeste mense duidelik. As ons kyk hoe die Skepping kreun onder die rommel, die wydverspreide korrupsie en om nie eers te praat van die derduisende mense wat vermoor, verkrag en beroof is sedert 1994 nie, is dit genoeg om in sak en as te wil gaan sit.

Ons mag egter nie verslaan voel nie. Ja, Mnr. de Klerk en sy gevolg het ons verraai. Ons is gereduseer tot tweedeklasburgers in ‘n derdewêreldland wie se kultuur, taal en bestaan daagliks bedreig word. Wat staan ons nou te doen? Hier is sewe voorstelle.

  1. Fokus op die toekoms. Aan die verlede kan ons niks doen nie. Baie mense is mislei en voel verneuk. Die Groot Regter sal wel eendag kom en daar sal Geregtigheid wees. Dit is ons troos. Weet egter dat u en ek ook onsself sal moet verantwoord. Ons moet hand aan die ploeg slaan en ‘n nuwe dag tegemoet gaan.
  2. Veiligheid. Met ‘n al krimpende ekonomie gaan misdaad net verder toeneem. Ons kan dit egter beperk deur veiligheidstrukture in ons woongebiede op te rig. Óns is nou verantwoordelik vir ons veiligheid. Die staat het daarin gefaal om sy burgers te beskerm. Sluit aan by ‘n buurtwag of plaaswag. As daar nie een is nie, stig een. Die onus rus op jou. Niemand gaan dit doen as jy dit nie self doen nie. ‘n Gemeenskapsveiligheidstruktuur is ‘n wettige manier om jouself en jou geliefdes te beskerm. Vir meer inligting lees gerus Roland de Vries se boek Veiligheid vir die Gemeenskappe.
  3. Ekonomie. Daar lê ekonomiese swaarkry vir ons voor. Veral nou na die staat van inperking. Die skrif is aan die muur. Ons sal ons eie mikro-ekonomieë tot stand moet bring om te kan oorleef. Stig ‘n sakekamer in jou dorp of gemeenskap. Laat die Boerebesighede koppe bymekaar sit en planne maak om te verseker dat die plaaslike ekonomie staande bly of selfs groei. Ondersteun plaaslike Afrikanerbesighede al is hulle bietjie duurder. Ons het mekaar nodig om te oorleef, so probeer om elke Afrikaner op jou dorp te hou. Dit is nie onmoontlik om met inisiatief en ywerige hande armoede hok te slaan nie.
  4. Boikot. Laat hoe en waar ons ons geld bestee ‘n weerspieëling wees van ons waardes. Moenie Groot Besigheid en korporasies ondersteun wat nie jou belange op die hart dra nie. In ‘n gulsige poging om meer wins te maak ondersteun hulle globalisering en multikulturalisme? Dan moet jy nie van hulle produkte en dienste gebruik maak nie. Dit mag dalk minder gerieflik wees, maar darem sal jy nie jou eie ondergang finansier nie. Die laaste ding wat Groot Besigheid wil hê is selfstandige gemeenskappe wat na hulle eie behoeftes omsien. Hulle verkies eerder homogene identiteitlose verbruikers wat hulle maklik kan manipuleer. As jy orals hoort, dan hoort jy nêrens nie en sal jy slegs gedefinieer word deur die handelsmerk wat jy dra. Moenie hulle ondersteun nie. Dieselfde geld vir die media wat jy gebruik. Probeer ‘n radio- of TV-program stadig maar seker vreemde verhoudings te normaliseer? Om eerder hulle eie multikulturele propaganda aan jou op te dis as ‘n eerlike weerspieëling van ons gemeenskappe? Sit dit af. Dit is breinspoeling. Dink jy dit is per ongeluk? Hulle is besig om jou kultuur met ‘n lae dosis gif te vernietig. Moenie dit duld nie! Die internet is ons redding. Daar is baie konserwatiewe alternatiewe op die web. Ondersteun eerder hulle.
  5. Protesteer, Protestant. Protesteer! Die Afrikaner het ‘n ryk erfenis van verset. Skrifgetroue, beskaafde verset. ‘n Nederige weersin in verdrukking. Hetsy ons Europese voorouers wat nie die knie gebuig het voor die Katolieke Kerk nie, hetsy ons Boerevoorouers wat eerder weggetrek het van en later geveg het teen Britse Imperialisme. Nooit het ons gepoog om ‘n bestel omver te werp nie (dit sou teen ons Calvinistiese aard indreun) ons het eerder gepoog om dit te reformeer. Om ons samelewing volgens die Skrif te rig. Daarom maak jou stem dik. As die media weekliks honderde briewe ontvang van Afrikanermisnoeë, sal hulle gehoor móét gee. Ons moenie meer tevrede wees met polities korrekte drek wat in ons keelgate afgedruk word nie. As Afrikaners handhaaf ons ‘n hoër standaard. Laat jou stem geld. Ons moet ook die buiteland oorreed om glad nie meer in Suid-Afrika te belê nie. Hoe minder geld die ANC het om sy oneerlike planne uit te voer, hoe beter.
  6. Organiseer. Sluit by organisasies aan wat Afrikanerbelange bevorder. Moet egter nie dink jy kan net maandeliks ‘n finansiële bydrae lewer en agteroor sit nie. Raak betrokke op grondvlak. Reël self gemeenskapsinisiatiewe om julle woonbuurte skoon te maak van rommel, om by die skool Christelike onderwys te verseker, ens. Wees ook krities teenoor die organisasies wat sê dat hulle Afrikanerbelange bevorder. Strook hulle beleid nog steeds met jou waardes of speel hulle dalk nou ook ‘n politieke spel? Ruk hulle in die bek. Te veel Afrikanerorganisasies beywer hulle nou vir transformasie en wil inklusief vir almal en alles wees
  7. Selfbeskikking. Ondersteun selfbeskikkingsorganisasies soos die Verenigde Vryheids Alliansie (VVA) wat hulle beywer vir die sessering (afstigting) van die minderheidsgroepe in Suid-Afrika. Gee jou mandaat op www.ulacongress.com. As hulle twee miljoen stemme kry, dan maak die internasionale reg voorsiening dat ons kan afstig. Daar is ander organisasies ook. Selfbeskikking sal ons oorlewing verseker.

Dit sal goed wees as lesers nog self ‘n paar voorstelle kan byvoeg. Ons moet saamstaan, ons is Afrikaners! Ek en jy het nie besluit ons gaan Afrikaners wees nie, die Goeie Vader het ons hier aan die suidpunt van Afrika geplaas. Met goeie rede. Ons het ‘n taak om te verrig. Ons moet sorg dat ons gemeenskappe die teelaarde is vir Sy Koningryk. Mag Hy ons genadig wees en ons behoed, sodat ons Sy Wil kan laat geskied, nog vir geslagte aaneen.

—Albert de Villiers

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.