Gustav Venter: Ons moenie nou terugdeins op Senekal nie

André Pienaar en ander betogers op Senekal
Deel op

Ek is ʼn groot ondersteuner van Willem Petzer, maar ek dink hy toon ʼn paar blindekolle hier wat ons duur te staan kan kom. Ek dink eerstens nie hy verstaan die mediaoorlog nie. Ons gaan nooit, nooit, ooit aangeprys word deur die hoofstroommedia nie. Hulle gaan ons óf ignoreer, óf uitkryt as die belhamels. Vergeet nou maar daarvan om die media se guns te wen.

Kyk maar na die mediareaksie op Bronkhorstspruit: ʼn Temerige paar ou storietjies oor die protes en toe ʼn gloeiende propagandastuk oor Cosatu wat “standpunt inneem teen Plaasmoorde.”

Dan wat skaregedrag betref: Willem het die kundigheid van veterane tot sy beskikking en die eerste reël is: Bly kalm. En die tweede reël wat hiermee gelykstaan, is: Moenie ʼn duim terugdeins nie. Retireer net ʼn aks en dit sal chaos wees. In sy scenario storm die EFF en die Boere val terug. Dit sal ʼn kolossale taktiese flater wees. ʼn Skare kan baie vinniger storm as wat mense kan terugval. Dit sal chaos wees, mense sal val en aan die genade van die EFF oorgelaat wees. Mense sal ernstig beseer wees of selfs sterf.

As ons nie kans sien om ons man te staan nie, moet ons nie gaan nie en moet ons die terrein aan die EFF afstaan. Dan beheer en regeer hulle ons en moet ons plaasmoorde maar sluk.

Willem se plan berus op twee dinge wat ons nie kan beheer in so ʼn situasie nie: Eerstens dat die polisie sal wil en sal kan ingryp. Skares het die polisie hierdie jaar al dikwels op loop gesit. En as hulle nie die EFF gestuit kan kry nie, is die Boere se formasie verbrokkel en het hulle net een ding om hulleself mee te verdedig en dis hulle vuurwapens. Dís wanneer daar ʼn slagting gaan uitbreek.

Tweedens reken Willem dat as die Boere vreedsaam terugdeins en die EFF verwoed storm, die Boere die morele hoëgrond toegesê sal word deur die pers. Vergeet dit. Hulle sal die EFF miskien roskam, maar hulle sal die Boere ewe lustig striem en as die ware sondebokke uitwys. Vergeet van die pers en hulle sienings. Hulle is ʼn gespuis en sal nooit aan ons kant wees nie.

So wat móét ons doen: Ek stel voor dat ons letterlik ʼn streep op die grond trek en teenoor mekaar onderneem om nie daaroor te gaan nie. Daar is ʼn voorstel dat ons ʼn blik rooi verf in ʼn streep oor die grond uitgiet, simbolies van die bloed van Brendin Horner, Wilmientjie Potgieter, Annette Keneally en duisende ander martelaars.

As ons aan ons kant van die streep bly, bevredig dit al die vereistes van goeie beeldbou.

Maar sou die EFF deur daardie rooi beweeg, moet ons vasstaan. Hierdie reëling sal dit ook vir die polisie makliker maak om die situasie te bestuur.

Willem sê tereg dat Senekal vir ons ʼn ongekende momentum gebied het. Nou moet ons net erken, hartseer soos dit is, as dit nie was vir die inval by die landdroskantoor, die uitgedryfde Nyala en uitgebrande vangwa was nie, het niemand werklik kennis daarvan geneem nie.

As ons dink ons is net met ʼn openbarebetrekkinge-oefening besig, het ons in 26 jaar niks geleer nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.