Spook en Maraai se dinge

Deel op

Of die hedendaagse Afrikanerpolitiek nou vir jou lyk na Johann Wingard se verhaal van twee partye of soos vir Anton Barnard na iets wat 'n Machiavelliaanse maneuver benodig – vir my lyk dit al hoe meer sinoniem met die toestand hier by my aan't huis. Hier heers 'n volle demokrasie. Ons is drie inwoners – ek en die hond en die kat. Maar: omdat die viervoetiges in die meerderheid is, regeer hulle.

Deel op

Niemand wou die wollerige brakkie hê nie, toe sy ma se mense opregte foksterriërs geadverteer het, en Spokie het as 'n pasella saamgekom toe ons sy sussie gekoop het. Hy is die lief-dierbaarheid vanself en die beste geselsgenoot wat mens kan verlang. Hy is vreeslik vol fiemies oor wat hy in sy bek sit. Ook maar goed, want dit het sy lewe gespaar toe sy sussie gevrek het van die vleis vol gif wat die boosdoeners oor die draad gegooi het. Hy is versot daarop om saans te gaan stap en om saam in die bakkie te ry. Trouens, enige bedrywigheid laat hom opgewonde op sy agterpote rondtrippel. Sy vreugdevolle gesiggie elke keer wat hy my by die hek verwelkom as ek tuis kom, maak van hom iets besonders in my lewe. 

Marietjie-Maraaitjie het as 'n geskenk gekom. Sy is deur 'n mens-ma met 'n spuitjie van heel kleins af grootgemaak, nadat 'n motor haar ma doodgery het. Sy glo alles wat uit blikkies en pakkies kom, is vir katte soos sy bedoel. Saam met haar in die boks was 'n sak 'Royal Canine' waarvan sy gelewe het gedurende die eerste weke. Die rojale prys daarvan pas egter nie so mooi in my begroting in nie en ons twee het 'n kompromie aangegaan op die pakkies katkos waarop staan "fine cuts". Sy ly geensins honger nie, daarvoor dring sy hopeloos te veel op versorging aan. Sy vang die laaste tyd vreeslik graag muise, maar nie om te eet nie… 

Die knaagdiertjies word aangedra huis toe, vir klein-speeltyd. Hulle word rondgeklap en gejaag, van die sitkamer na slaapkamer, na kombuis – en dis nou hier waar die Spook-en-Maraai-dinge begin. Spokie glo hy woon die langste in die huis en hy het die meeste sê, daarom tree hy dan altyd grootdoenerig toe. Die kat word weggeboender. Soms trap hy haar sommer met sy een poot plat, as sy nie gou genoeg die beheer van die situasie aan hom oordra nie. Hy vang dan die muis in sy bek, net om dit weer uit te spoeg. Die muis vlug gewoonlik – maar word dan gou weer gevang. Sou die muis in 'n gleufie of hoekie beland, waar die hond nie kan in nie, word dit met sulke regop blaffies uit beveel. Hy doen dit met 'n houding wat enige politikus op die verhoog jaloers sou laat word. Maraai sluip dan gewoonlik so op die agtergrond rond, maar sy sorg dat sy net op die regte moment weer inspring om die muis te dwing om so gou moontlik ander planne te maak. Sodra die muis dood is, verloor die twee belangstelling en laat dan die werk vir my om van die ongedierte ontslae te raak. (Ek is mos in die minderheid, ek moet mos sorg dat dinge in orde bly.) Muise moet veel meer van taktiek verstaan as wat algemeen bekend is, want heel dikwels het die "dooie" muis verdwyn teen die tyd wat ek met die besem en skoppie aankom. Kort daarna begin die spel dan van voor af, want die muis sit gewoonlik nie te lank stil nie. Maar, as hy roer… Maraai piets net so paar maal met haar stert en gaan haal dan die muis uit sy nuwe wegkruipplek. Sy glo nie daaraan om 'n setel af te staan nie, sy neem altyd deel om te wen!  

Maar, op 'n dag het Maraai vir ene meneer Slimjan de Muis hier aangebring. Met sy spitsgevreetjie het hy dadelik gesien hy kan die twee teen mekaar afspeel en al die pad voordeel uit die situasie trek. Tot my goed gemikte hou met die besem om hom disnis te slaan, was mis. Hy het my net een kyk reguit in my oë gegee met sy blink kraalogies en gou onder die kas in verdwyn. Na 'n rugbreeksessie van kaste skuiwe, het ons al drie die soektog na hom laat vaar. Meneer Slimjan het homself tuis gemaak. Sy spoor van verwoesting het sommer baie gou, sterk en duidelik deur die liasseerkabinet en die kas onder die wasbak geloop. Ek het dit naderhand ernstig oorweeg om vir hom gif uit te sit, want nie een van ons kon hond haar af maak met hom nie.

'n Hele paar dae later, toe ek die stoofplaat op 'n keer aanskakel, sien ek net blou vlamme. Omdat dit nog 'n tydjie voor maandeinde is, besluit ek om maar so aan te sukkel, voordat ek dit laat regmaak – daar is darem nog twee plate wat werk. Die volgende oggend is die bad se water te warm vir my toe ek inklim en wil ek net gou bietjie koue water laat byloop, maar toe my linkerhand aan die kraan raak, ruk dit my. Ek probeer los, maar die kraan klou… en die krag ruk. Ek besef ek kan dit nie toelaat nie en probeer los. My hand kom egter nie los van die kraan af nie en die krag ruk aanhoudend deur my lyf. Ek wil los, maar ek kan nie. Ek probeer weer. Ek is lam van skrik. Ek kry niks reg nie. Ek gil. Vir sekondes voel ek of ek gly, iewers na benede… en vir oomblikke voel dit so goed! Toe ek besef ek gaan my bewussyn verloor, gryp ek my linkerhand met my regterhand en met 'n desperate pluk ruk ek myself van die kraan los. My arm voel of dit uit sy potjie geruk is. My lyf gloei van skok en ek is oral seer. Teen die tyd dat ek tot verhaal kom, weet ek – Slimjan het sy intrek in die stoof geneem en die huis se krag hardloop nou net waar dit wil! 

"Kom kyk, Hier's die sondebok!" roep die elektrisiën my, toe hy meneer de Muis die volgende dag stokstyf tussen die stoof se elektriese bedrading kry. "Nee jy' t dit mis, hier staan skuldige nommer twee…" Ek wys na die hond wat my stertswaaaiend staan en aankyk. "Ek wonder waar die eintlike skuldige een is… sy's seker op 'n jagtog, op soek na die volgende een …" Op die daad is ek woedend. Ek het nou genoeg gehad van Spook en Maraai se dinge. Wat genoeg is, is genoeg! Ek haal sommer my wrewel op die brak uit: "Wat dink jy? As die krag my doodgeskok het – sou jy en Maraai in enige ander huis so rojaal sou kon regeer soos hier? Hê? Ek sal darem graag wil weet." 

Spokie lig sy een voorvoet in 'n vraagteken op – skoon verleë – hy verstaan nou glad nie waaroor dit gaan nie. Hy bedoel dan altyd alles so goed! Die man wat aan die stoof gewerk het, kyk my vraend aan. "Ja, toemaar dis 'n lang storie." Ek sug: "Ek weet dit gaan my nou nêrens bring om die hond te skop nie. Dis eintlik alles net my eie skuld. 'n Mens laat jou nie deur viervoetiges regeer nie." 

Terug in die huis nadat ek die elektrisiën gaan afsien het, kry ek vir Maraai waar sy ewe ongeërg op die kas sit, besig om haar gesig te was. Haar hele houdinkie kompleet asof sy vir my wil sê: deur saam te werk, kan ons meer regkry. 

укладка ламината по диагонали фотоАлександр Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.