Leon Lemmer: Oorlewing in ‘n Britse konsentrasiekamp

Deel op

Daar is twee onderwerpe waaroor ek nie graag lees nie: die lyding van die Boerevolk tydens en ná die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die hedendaagse vlaag plaasmoorde. Sulke inligting laat my bedroef en woedend. Nogtans het ek verskeie boeke oor albei hierdie gebeure gelees. Hierdie rubriek handel oor die ABO. Dit herinner my aan my ouma Liebenberg (oorlede in 1948) aan moederskant wat nooit ‘n goeie woord vir “die Engelse” gehad het nie. Die Liebenbergs het wreedaardige lewensverliese en groot ontberings tydens die Groot Trek en daarna, insluitende die ABO, ervaar. In die Maggie-boek (kyk hier onder) is ‘n Liebenberg-gesin op ‘n foto in die Howick-konsentrasiekamp te sien (Kindle 472).

By ‘n vorige geleentheid het ek Anna Barry se dagboek oor die ABO bespreek (Praag 4.09.2016). Ek het aangetoon hoe Ena Jansen in haar voor- en nawoord die Barrys se Afrikanerskap verdag maak om haar eie anti-Afrikanergesindheid aan die lesers op te dring. Ná Elsa Joubert se dood het Jansen hoë lof vir haar gehad (LitNet 15 en 24.06.2020). Soos by ander anti-Afrikaner-elemente is daardie lof nie uitsluitlik deur Joubert se mate van literêre verdienste gemotiveer nie. ‘n Groot skeut is myns insiens ontlok deur Joubert se verwerping van die Afrikanerdom. Oor Joubert se anti-Afrikanergesindheid kan daar geen twyfel wees nie (Praag 10.06.2017 en 2.12.2017).

Wat die Barry-boek betref is vir die doeleindes van hierdie rubriek die onderskeid tussen ‘n hen(d)sopper (iemand wat die eed van neutraliteit afgelê het en dus onderneem het om nie voort te veg nie) en ‘n joiner (iemand wat die eed van getrouheid aan die Britse kroon gesweer en saam met die Britte teen die Boere kant gekies, bv geveg, het) van belang. Hensoppers is as lafaards beskou. Sommige joiners het as National Scouts militêre diens gedoen. Die joiners is hanskakies, verraaiers en uitverkopers genoem. Hierbenewens was daar die “wilde” Boere of bittereinders (wat tot die einde van die ABO geveg het); bannelinge (krygsgevangenes wat deur die Britte in veral die buiteland aangehou is, bv op/in Bermuda, Ceylon/Sri Lanka, Indië en Sint Helena); vlugtelinge (bv hensoppers wat tydens die ABO in Basoetoland/Lesotho gaan skuil het); en “mak” Engelse (Britte/Engelssprekendes wat hulle vóór die ABO as bv boere en handelaars in die Oranje-Vrystaat en Transvaal gevestig het en die Boerekant gekies of ten minste hulle neutraliteit gehandhaaf het).

Die bittereinders en bannelinge het ná die ABO in Afrikanergeledere hoë agting geniet. Die oud-Boerekrygsgevangenes het onder dwang die getrouheidseed afgelê. Hulle is nie vrygelaat en toegelaat om terug te keer na Suid-Afrika voordat hulle die eed afgelê het nie. Omdat dit nie vrywillig gedoen is nie, is daardie eed ingevolge die internasionale reg nie geldig en toerekenbaar nie. Bannelinge is dus nie hieroor verkwalik nie. Die hensoppers is gouer en veel meer geredelik as die joiners terug in die Afrikanerdom aanvaar. Hensoppers het immers nie teen die Boere geveg of (noodwendig) vir die Britte kant gekies nie. Baie van hulle het uit moedeloosheid die stryd gewonne gegee maar daarna steeds die Boerekant op ander maniere ondersteun. Dit was bv die geval met Anna Barry se pa, wat ‘n vlugteling in Basoetoland was

Anna Barry noem tereg dat die Britte die konsentrasiekampe eufemisties “refugee camps” of vlugtelingkampe genoem het. Met hierdie benaming het die Britte valslik voorgegee dat die Boervroue en -kinders by hulle veiligheid kom soek het, terwyl die waarheid is dat hierdie vroue en kinders met geweld uit hulle huise en van hulle plase weggevoer is. Wat Barry ook beklemtoon, is dat die Britte met die ABO die Afrikaners wou uitroei of uitdelg. Sedert 1994 is die Afrikanerdom in ‘n soortgelyke situasie, soos ek hier onder aantoon.

Onlangs is die volgende boek van Margaretha (Maggie) Jooste (1886-1962) gepubliseer: Maggie: My lewe in die kamp (Kaapstad: Tafelberg, 2020, 112p, R290; Amazon Kindle $13,34). ‘n Engelse weergawe, vertaal deur die outeur, is gelyktydig gepubliseer. Fransjohan Pretorius het die inleiding geskryf en blykbaar ook as die redakteur opgetree, bv met verduidelikende invoegsels in die teks en die voorsiening van die eindnote. Pretorius skryf: “Die leser word in ‘n haas ondenkbare wêreld van ontbering en wanhoop ingetrek” (Kindle 54). Tog was daar deur dit alles “die moedhou-volksgees” (54). Pretorius takseer die teks as “merkwaardig ewewigtig” (59). “Daar is geen pretensie of aanstellerigheid in dié teks nie … Dit is so reguit en eerlik. Wat ‘n mens ook aangryp is die verwarrende medemenslikheid van dit alles” (64).

Die nawoord is deur ‘n kleinneef van Maggie, Graham Jooste, geskryf. Hy verwys na Maggie en haar ouers se “vergewensgesindheid” jeens die Britte (1213). Maggie se pa, Jakobus, is in 1925 oorlede en haar ma, Anna, ‘n dekade later. Maggie se pa was vóór die oorlog ‘n welgestelde wamaker en hoefsmid op Heidelberg in die Transvaal. “Maggie se vader se eens florerende wamakersbesigheid het [ná die ABO] agteruitgegaan toe die spoorweë goedere sowel as pos op ‘n gereelde grondslag vanaf die Rand begin vervoer het en die posdiens met koetse en perde gestaak is” (1222). Hy moes toe rondval en allerhande werk doen om sy gesin te onderhou.

Die teks van die boek is in 1962, kort vóór Maggie se dood, voltooi maar eers 58 jaar later gepubliseer. Genadiglik het hierdie inligting nie verlore gegaan nie. Maar haar ma se ABO- en ander herinneringe het nie behoue gebly nie. Maggie skryf: “Ná die oorlog was dit vir ons wonderlik om al die briewe weer te lees. Ma het almal aan een van die broers gegee en ook ‘n boek waarin sy baie van haar lewensondervindings neergeskryf het, maar helaas, iemand het alles verbrand!” (590). Ordentlikheidshalwe noem Maggie nie watter een van haar broers hierby betrokke was nie.

Die ABO het op 11 Oktober 1899 uitgebreek. Maggie se pa, Jakobus, en haar twee ouer broers, Cornelis en Gert, het op kommando gegaan. Gert is gevange geneem toe generaal Piet Cronjé op 27 Februarie 1900 oorgegee het. Hy is na Sint Helena verban. Jakobus is op 4 Desember 1901 gevang en was ‘n krygsgevangene op Bermuda. Op 23 Junie 1900 het die Britte Heidelberg beset. Die Britte het op enigiets wat hulle begeer het, beslag gelê, bv die Joostes se meubels. Op 6 Desember 1900 is Maggie se ma, Anna, en haar ses kinders (van die oudste tot die jongste: Maggie, Jakobus/James, Robert, Helena/Dolly, Herietta/Hettie en Gertina/Gerrie) in vuil veetrokke na ‘n konsentrasie- of interneringskamp in Pietermaritzburg vervoer. “Die onsekerheid oor wat voorgelê het was ondraaglik. Die arme hulpelose vroue, bejaarde en siek mense en kinders kon nooit droom watter smart en ellende op hulle wag nie” (269). “‘n Hele paar van die kinders het op dié [drie dae lange] tog in die trokke gesterf” (306). In Pietermaritzburg is hulle in tente gehuisves.

Van 26 Januarie 1901 tot kort voor 26 Oktober 1902 was hulle in die konsentrasiekamp op Howick. Daar was nie plek vir die twee oudste kinders op die beddens in die tent nie, gevolglik “moes ek en James onder die eettafel op die grond slaap met net ‘n Kakie-kombers onder ons” (417). Hulle het beperkte kombuisware en min klere gehad. Eintlik van omtrent alles te min, bv kos, sodat hulle honger gely het. Daar was egter baie siekes en dooies in die kamp. “Daar was elke dag ‘n lang stoet van wenende vroue met swart houtkissies wat na die begraafplaas gedra is” (599).

Gertina was siek aan skarlakenkoors en was ‘n jaar en nege maande oud toe sy sterf. “Die tannies [het] my gehelp om ‘n kissie van plankies te maak. Ma het ‘n paar jaarts moeselien (kaasdoek) laat koop en vir haar ‘n mooi wit doodskleedjie gemaak en ook die kissie binne en buite daarmee oorgetrek” (604). “Daardie dag was daar sewe [dooies] wat na die kerkhof gedra moes word … Later het Ma ‘n ou stuk klei gekry en met ‘n skerp spyker haar naam [Gertina s’n] daarop geskryf. Die meeste grafte is maar so gemerk. Haar graf was binne ‘n paar jaar so met gras toegegroei en verspoel dat ons nie met sekerheid kon sê presies waar sy weggelê is nie” (608).

Hettie het ‘n soort aansteeklike siekte gehad. Die Jooste-gesin is toe tydelik in ‘n afsonderingskamp geplaas. Hulle het daar gebly totdat Hettie se siekte opgeklaar het. Op pad daarheen het hulle die Transvaalse of Zuid-Afrikaansche Republiek [ZAR] se volkslied, “Kent gij dat volk vol heldenmoed,” gesing (643). Die vraag kan gestel word: Het die Afrikanervolk deesdae nog (in dieselfde mate) heldemoed? Op 16 Desember, Dingaans/Gelofte/Versoeningsdag, het inwoners die groot Vierkleurvlag van die ZAR laat wapper. Op grond waarvan kan die kommunistiese, terroristiese, wraaksugtige ANC-regime en sy meelopers, soos die nasionale sportliggame, hulle aanmatig om die vertoning van die vorige landsvlag te verbied? Die ANC-regime is in laaste instansie nie eens ‘n wettige owerheid nie omdat die meerderheid blanke kiesers nooit tot swart meerderheidsregering ingestem het nie. Afrikaners behoort die onvervreembare reg te hê om die kultuurgoedere wat vir hulle waardevol is, soos hulle landsvlag, volkslied en moedertaal, Afrikaans, te koester.

Op ‘n stadium is Maggie se ma na ‘n hospitaal in Pietermaritzburg en was daar sprake dat haar been afgesit sou word. Maggie het haar heftig hierteen verset. Die dokter het toe belowe “om nog ‘n ruk te probeer om die been te red” (737). “Haar been het stadigaan beter en sterker geword, maar het eers meer as ‘n jaar later – toe ons weer skoon, gesonde kos kon eet [dus ná die ABO] – heeltemal herstel” (779). “Ek het op 1 Maart 1902 sestien jaar oud geword en kon toe vir die eerste keer sedert Januarie 1901 ook ‘n klein stukkie vleis kry” (858).

Vir geld het Maggie se ma die Britse verpleegsters en onderwyseresse se klere gewas en gestryk. Met dié geld kon sy bv ‘n primusstofie koop. Sy het ook klere vir haar gesin en vir van die ander geïnterneerdes gemaak met ‘n naaimasjien wat sy met haar spaargeld gekoop het. “Met die geld wat Ma met naaldwerk en was … [en] stryk verdien het, het sy meestal medisyne en ontsmettingsmiddel[s] gekoop” (705). Maggie se broers en susters “was siek, honger en koud” (576) en het soms ook natgereën. “Ons verdriet en angs en lyding was ondraaglik” (623). “Vandag het min mense genoeg simpatie om daarvan te wil hoor of daaraan te dink. Ek wil niemand veroordeel of bitter wees nie, maar ek kan nie ons erge lyding en ontberings vergeet nie” (576). “Ons het altyd by die doringdraadheining gaan staan om te kyk as die treine met krygsgevangenes verbyry op pad na Durban, van waar hulle weggestuur is” (581).

Die Britte het as deel van hulle beleid van verskroeide aarde op die Boervroue druk uitgeoefen om hulle mans en weerbare seuns te ontmoedig om met die oorlog voort te gaan, maar die vroue het nie toegegee nie. Toe hulle die tyding van die Vrede van Vereeniging, 31 Mei 1902, kry en hoor dat die Boere die oorlog verloor het, was die geïnterneerdes en die bannelinge verslae. Al die opofferings en ontberings was tevergeefs. Cornelis was ‘n bittereinder (een van 20 779) terwyl Gert en later Jakobus van onderskeidelik Sint Helena en Bermuda teruggekom het. Tydens die ABO het die Jooste-gesin nooit hulle lot by die Britse oorwerheid bekla of om gunste gevra nie. By sy terugkeer van Sint Helena het Gert borsspelde wat uit droë sopbene gekerf is vir sy ma en susters gegee.

Die vrylating van die Jooste-gesin uit Howich is vertraag omdat Jakobus aanvanklik geweier het om die eed van getrouheid af te lê. Die gesin is eers op 26 Oktober 1902 op Heidelberg herenig. “Ons tuiskoms was ‘n skok! Pleks van ‘n netjiese en goed gemeubileerde huis kry ons net ‘n leë dop, vuil en verniel” (900). Maggie se eens pragtige ouerhuis was “leeg en vreeslik vuil en verwaarloos … Van die deure en vensters was uitgebreek vir brandhout. Al die meubels is verwyder” (844). “Natuurlik was daar van die Engelse geen vergoeding nie” (900) – tot op hede het die Britte nog nie eens verskoning gevra nie. Die Britse owerheid het werk by voorkeur aan die joiners gegee.

Die laaste deel van die boek handel oor wat ná die oorlog gebeur het en is gedokumenteer om hoofsaaklik Maggie se nageslag oor hulle familiegeskiedenis in te lig. Die Joostes het in 1902 nie die finansiële vermoë gehad om Maggie se ouerhuis te herstel nie. Dit is gevolglik verkoop en hulle het na ‘n meer beskeie huis getrek. Maggie is in Junie 1903 na die Bloemhof Seminarium op Stellenbosch waar sy 2½ jaar lank studeer en haar as ‘n onderwyseres bekwaam het. In 1916 is sy met Gawie Malan (oorlede in 1941) getroud. Hulle eerste kind, Bartel, is op 2½-jarige ouderdom oorlede. In 1922 is hulle dogter, Anna, gebore.

In 1959 “is ek vir die eerste keer sedert die oorlog weer terug na waar die Howick-kamp was … Van die kampterrein en die begraafplaas was daar niks meer te sien nie” (1113). Maggie is in 1962 op George oorlede toe sy by haar dogter, skoonseun en drie kleinkinders gewoon het. Toe was al Maggie se susters reeds dood. Net drie van haar broers het nog gelewe, naamlik Cornelis, James en Edmund/Eddie, ‘n laatlammetjie wat in 1903 gebore is. Sedertdien is hulle almal en seker ook Maggie se dogter oorlede. Hierdie mense het eens gelewe en die omstandighede wat hulle ervaar het, het sedertdien in baie opsigte radikaal verander. Dit laat my dink aan die gevleuelde woorde van JA Froude: “To what purpose the ineffectual strivings of short-lived humanity? Man’s life was but the shadow of a dream, and his work was but the heaping of sand which the next tide would level flat again” (Praag 13.06.2020). Danksy Maggie se dokumentering van gebeure het deel van wat die Jooste-gesin meegemaak het darem in hedendaagse geheues behoue gebly.

“Toe die uitgeputte Boerekrygers hul wapens [op 31 Mei 1902] neerlê, het ‘n gees van ongerustheid oor hul toekoms deur die bevolking gesypel” (1209). In 1948 het die Afrikaners hulle vryheid teruggekry toe die Nasionale Party die algemene verkiesing gewen het. Binne ‘n halfeeu is daardie vryheid mandaatloos deur FW de Klerk en sy onbekwame onderhandelaars verkwansel. Sonder om die Britte te wil komplimenteer, kan gesê word dat die toekoms in 1902 vir die Afrikaners dalk nie so donker kon gelyk het as vir die blankes sedert 1994 nie. Die Rooi Gevaar en die Swart Gevaar, wat deesdae deur misleide verligtes as mites afgemaak word, het gelyktydig toegeslaan.

Anders as in 1902 is daar skynbaar geen vooruitsig vir die Afrikanerdom dat die duister vorentoe ooit gaan wyk nie. Dit kan eerder nog donkerder word. Die Boere het die vertroosting gehad dat hulle ‘n daadwerklike en heldhaftige poging aangewend het om hulle vryheid te behou. Weens verraad in eie geledere is selfs daardie skrale troos nie vir hedendaagse Afrikaners beskore nie. Nog erger is die feit dat daar nie in afdoende mate ‘n gesonde afkeer is van die hedendaagse hanskakies (Afrikaanssprekendes met ‘n voorkeur vir Engels) en joiners wat gewetenloos, hartlik en opportunisties met die ANC-regime saamwerk nie.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.