Sydney Gregan: Helen Zille se mistasting

Helen Zille
Deel op

Helen Zille skryf op 11 Augustus op politicsweb onder die opskrif “Why South Africa became a Criminal State” dat indien ons ooit wil verstaan hoe die ANC ‘n “plundermasjien” geword het, mens eers moet verstaan hoe dinge saamgestel was.

Die hutsmerk #VoetsekANC som die gevoel op van waarskynlik derduisende denkende kiesers in hierdie land wat (uiteindelik) insien dat die ANC eintlik maar net een doel het en dis om alles voor die voet in te palm (en te verorber) waarop hulle hulle hande kan lê. Hulle voel vir die mense van hierdie land niks. Begrippe soos demokrasie en menseregte word net gebruik om die wêreld te flous terwyl ANC-kaders elke dag kyk wat daar nog oor is om te plunder.

Seker die finale bewys dat die ANC ‘n veer voel vir die land is die strooptog met Covid-19-fondse terwyl werkloosheid en gepaardgaande armoede toeneem en ‘n hongersnood dreig. Ace Magashule het boonop die onmoontlike vermag deur vir Jacob Zuma verby te steek as die mees haatlike figuur in die land met ‘n vermetelheid wat net geen perke ken nie. Byna uitdagend het hy gestel dat daar niks fout is daarmee dat sy seun die “tender” vir maskers en seep by die Vrystaatse provinsiale regering gekry het (net om onmiddellik ‘n BMW van R2 miljoen aan te koop) nie.

Die korrupsie oor 26 jaar beloop miljarde rande en die einde is nie in sig nie. Wat die situasie tans baie erger maak is, soos Zille dit stel:

“the callousness of looting donor funds provided to protect people from a potentially deadly illness, reflects the extent of the ANC’s moral depravity”.

Hoe het dit dan in 26 jaar ontvou tot by hierdie toestand? Wel, te midde van ‘n grondwet wat beskou is as die “mees gevorderde” ter wêreld en die pretensie van ‘n “reënboognasie”, is die realiteit dat ons regeer word deur ‘n klomp kriminele wat juis die wette van hierdie land gebruik het om hulleself te verryk.

Die ANC het, soos Zille tereg daarop wys, korrupsie gewettig. Hulle het dit openlik onder almal se neuse gedoen met die steun van die liberale pers en met ekonome en maatskappye wat maar net te gretig was om self in die buit (of die krummels wat rondval) te deel. Zille stel dit prontuit:

“What’s more, these institutions not only failed to protect us. They actually facilitated this downward trajectory.”

“Broad-Based Black Economic Empowerment” (BBBEE), soos gekonseptualiseer en geïmplimenteer deur die ANC (met die steun van die liberale pers en groot geld) het korrupsie gewettig en moreel aanvaarbaar gemaak. Teenstanders daarvan is as rassiste uitgekryt dog is die waarheid dat meer as 100 wette hierdie monster in ons samelewing ingevoer het onder die dekmantel van “rasseverteenwoordigendheid” terwyl die ANC dit gebruik het om sy kaders oral te ontplooi.

Heel gepas stel Zille dit soos volg:

“The factions in the ANC are not driven primarily by political or ideological differences, but by intense contestation for control over these funding sources. After 26 years, the South African state has become a web of competing criminal syndicates, posing as a government.”

Kiesers is verkiesing na verkiesing vir die gek gehou om te glo dat swartes deur BBBEE “bemagtig” is. Die waarheid is dat dit ‘n ANC-elite so bemagtig het dat dit bykans onmoontlik lyk om die situasie nou reg te stel. Die werkloosheidsyfer kan op 50% staan na die Covid-19 fiasko en derduisende besighede moes sluit terwyl die vetkatte van die ANC eenvoudig meedoënloos voortgegaan het met drakoniese en waansinnige maatreëls wat nooit bedoel was om “lewens te red” nie, maar veel eerder om hulle verskanste posisies verder te beskerm en te bestendig.

Soos dr Anthea Jeffery in haar boek The People’s War dit stel (en nou deur Zille bevestig word), het die ANC dit 23 jaar gelede reeds prontuit gestel dat hulle bedoeling met die Nasionaal Demokratiese Revolusie juis staatskaping was.

Joel Netshitenzhe, ‘n ANC-“intellektueel” het in die ANC-mondstuk Umrabulo, in 1998 geskryf:

The aim of the NDR “is extending the power of the ‘National Liberation Movement’ over all levers of power: the army, the police, the bureaucracy, intelligence structures, the judiciary, parastatals, and agencies such as regulatory bodies, the public broadcaster, the central bank and so on”.

Die ANC het dus ANC-partybeheer van die ganse Suid-Afrikaanse staat verkry deur doodeenvoudig BBBEE toe te pas en alle fondse wat beskikbaar geraak het eenvoudig vir hulleself op te eis. Die stryd binne die ANC gaan slegs om beheer oor daardie fondse en nie om die belange van die mense van hierdie land nie.

Toe die DA die ANC hof toe gevat het oor die toekenning van Covid-19-fondse aan die hand van BBBEE-kriteria moes hulle van die regbank hoor dat die minister nie net geregtig was om dit so te doen nie maar deur die BBBEE-wetgewing verplig was om dit te doen! Hierdie hofuitspraak is finale bewys van die hopelose toestand waarin ons ons nou bevind. En dit word deur wetgewing (gerugsteun deur die grondwet) gemagtig!

Wat stel Zille voor as oplossing vir hierdie gemors?

“The only way out of this mess is to understand that no democracy can make sustained economic progress without actively striving to become a meritocracy, where people are appointed to positions, or win tenders, on clear, value-adding criteria, not their colour or their political contacts. And the only way we can get there is if the voters begin to understand why this is so important, and begin to vote for it.

Otherwise we must stop feigning shock that the looting continues.”

Ek is bevrees dis juis hier waar Zille as aartsliberalis mistas. Die (meerderheid) kiesers waarvan sy praat wil nie vir die DA stem nie. Daar is vir hulle niks te wen deur vir die DA te stem nie. Hulle wil juis vir die ANC stem in die (vae) hoop dat hulle ook in die buit kan deel. Hoe anders moet mens dit verklaar dat in 26 jaar en te midde van feitlik daaglikse beriggewing van ANC-korrupsie en -vergrype, die meerderheid steeds vir die ANC stem?

Die realiteit van meerderheidsregering in Afrika is dat ‘n elite hom telkens posisioneer binne die meerderheidsparty en dan sy posisie sodanig verstewig dat dit bykans onmoontlik is om hom uit die kussings te lig. Hier by ons is dit boonop deur wetgewing gedoen wat deur die “edele” grondwet gerugsteun word. Praat van verskans!

Nee, veel eerder lê die oplossing daarin dat die blanke al sy sake self sal moet bestuur waar hy kan en waar die geleentheid hom in die toekoms voordoen, homself sal moet afskei van die ANC-staat wat met verloop van tyd verder sal verkrummel en uiteindelik in duie sal stort. Want waar die ANC hom lelik gaan misreken is dat die blanke koei net sal aanhou melk lewer. Dit gaan nie gebeur nie. Blankes se geduld gaan opraak soos hulle geld opraak. Nog ‘n ANC-mistasting is dat die geldkraan nie sal opdroog nie. Daardie kraan gaan voor die ANC-vrate se neuse opdroog. Hulle sal, soos elke ander Afrikastaat, nie verstaan waarom dit gebeur nie. Hulle sal waarskynlik ook nie omgee nie en bloot die BMW langs die “stroois” intrek en om die pappot met ‘n deurtrekker gaan kniel en iets oor “apartheid” mompel.

Ja Helen, wie die lesse van Afrika nie wil leer nie is daartoe verdoem om dit weer en weer te beleef!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.