Suidpunt: Die Afrikaner in sy soeke na egtheid

Illustrasie: Natalia Lavrinenko
Deel op

Afrikaans is nie slegs woorde nie. Afrikaans is ook ‘n leefstyl. Vandag kyk ek na twee tendense in die hede en verlede en hoe dit Afrikaans raak. Eerstens vergelyk ek die binnehuisversiering van die 1980’s en begin-2020’s, gevolg deur die ersatz-kultuur van die Franssprekende elite van die 1800’s.

Binnehuisversiering van die 1980’s en die begin-2020’s

Die buurvrou het onlangs haar hele huis van ou tydskrifte begin leegmaak. Almal Rooi Rose uit die laat-1970’s en vroeë-1980’s. Soos mens deur die tydskrifte blaai, is dit nie soseer die modes wat my opval nie, want heel onlangs nog het jy soortgelyke nabootsings in die uitstalvensters van boetieks gesien. Modes herhaal mos. Wat my wel opgeval het is die Afrikaans op die etikette, die gesin wat nog die fokuspunt was, maar bowenal: die binnehuisversiering en tuinbou.

Karin Hougaard se “Lui telefoon”-musiekvideo is ‘n skoolboek-voorbeeld van die 1980’s.

So skryf ek aan ‘n afgetrede binnehuisversierder op Wikipedia, met die gebruikersnaam Racheltjie de Beer, want ek sukkel werklik om die logika daarvan te begryp.

So beskou ek die vroeë 1980’s:

Die binnenshuisversiering het ‘n verskoning gesoek om ‘n onooglike varing of klewerige klimop in elke liewe kamer op ‘n hoektafeltjie staan te maak. Boonop in ‘n blinkgepoleerde geelkoperpot wat om die een of ander rede nooit sal roes nie. Moontlik om die karige meubilering te verdoesel wat getuig van ‘n nypende staatsamptenaar-salaris. En tog was daar géén spoor van minimalisme nie!

Die ideaal was blykbaar ‘n gesonke spierwit bad tussen strengvierkantige pikswart teëls met spierwit bryvulling (“grouting”) wat tog te mooi kontrasteer met ‘n deursigtige glas limonade waarvan die waterdamp afbiggel (dit het egter ook elke voetwasemspoor met ‘n aanklag uitgewys!).

Ander huise het donkerblou, maroenrooi of kakiegroen baddens gekry tussen roomkleurige teëls wat pas by die liggewende geel gloeilampe. Wit mure vir binne was duidelik te koud en te hard. Diegene wat die natuur vrye teuels in die huis wou gee, het soms ‘n kolossale rotstuintjie in die badkamer gepak wat die-hemel-alleen-weet op ‘n manier skoongemaak moes word. Rottangstoele en roosblare, draperings geel-en-wit, ligpienk-en-wit het saam met die potpourri en jasmyn die arme huisbewoners genoeg hooikoors besorg (my ma het nou nog hierdie sitkamerkussinkies met gedroogte gegeurde blomme in die middel). Iewers moes daar nog plek wees vir ou boeremeubels of familie-erfstukke ook, soos die embuiatafel.

Ander tydskrifuitgawes het hul toevlug geneem tot roomkleure of Sinutab-pil-pienk, of die oordaad van blompatrone – op novilon of vinylaire (veral Marley-teëls wat elke stofkorrel wys) – découpage van gedroogte blomme teen plastiekpotte, nog selfs meer blompatrone teen die gordyne op – genoeg om ‘n hiperaktiewe ADHD-kind twintig rondtes om die huis te laat hol voor slaaptyd. Asof die huis nie reeds donker genoeg was met die rolblindings nie, is die verbleiking nogmaals getemper deur tweekleurige sonskerms van materiaal wat voor elke venster gemonteer is. Ook die geriffelde ruite by die voordeur of vooraansig was soms geel, bitter selde pienk.

Net soms het ‘n standbeeld van die een of ander Romeinse god by die voordeur jou ingewag, maar opvallend genoeg is die hele lewe wat mens hier sien ‘n wêreld sonder die televisie (met die vier kanale+), sonder internet, sonder rekenaar, sonder selfoon, sonder tablet… kortom: die lewe was buite! Dit is ook opvallend dat mens hierdie een teëladvertensie in die tydskrif gekry het waar ‘n dame, omring deur kroonblare, soos ‘n Grieks/Romeinse godin langs ‘n swembad (met die juiste teëls!) uitgebeeld word. Die teëls was ontwerp deur Gianni Versace. Hierdie goddelike element kom ek later by terug.

As mens nog gedink het die huis het in ‘n oerwoud ontaard, waag dit buite! Jy stap by ‘n kwekery in. Broodbome en strelitzias (en papirusplante ook?) was hoogmode en as jou tuin, al was dit ook in die Karoo, nie oor ‘n bont roostuin, orgideë, rolbalbaan-grasperk, swaar witgeverfde marmeragtige potte, ‘n swembad of waterbruggie met spartelende visse benede, ‘n kleurwiel van hibiskusblomme en bougainvilleaspesies, van digte, welige watersuipende tropiese eksotiese smaak getuig het (wat die vibracretemuur bedek het) as onthaalplek vir ‘n Sondagbraai tussen vriende nie… dan was jy seker met iets anders doenig op ‘n Saterdagmiddag. Daar is in die biblioteke ‘n magdom tuinboeke in Afrikaans, en almal dateer min of meer uit hierdie era (miskien met Keith Kirsten uit die vroeë 1990’s).

Die gedagte wat by mens opkom vir hierdie opkomende middelklas van die 1970’s/1980’s was: as jy nie jou eie privaateiland kon besit nie, dan kon jy steeds jou woonhuis tot ‘n paradys omtower. En waarom nie? Suid-Afrika se klimaat was perfek om hemel op aarde te bring.

Selfs in Malawi sê Kotie Bastiaanse, dis nou die eggenote van die Suid-Afrikaanse ambassadeur (Cornelius Bastiaanse), wat versot is op tuinwerk en in die kort tydjie “reeds wonders in die tuin verrig” (Rooi Rose, 27 September 1978, bl. 20):

“Oor die algemeen groei plante geil hier”, sê sy. “Tog aard sekere struike en plante soos azaleas en begonias nie hier nie. Kannas word weer tot drie meter hoog. Planttye is ook hier anders as in die Republiek. Ek eksperimenteer dus nog. Hier om en by Mei het die madeliefies byvoorbeeld al klaar geblom.”

Mev. Bastiaanse het ook ‘n suksesvolle groente- en vrugtetuin aan die gang. Sy het gou uitgevind dat tropiese vrugte soos papajas, veselperskes en ook vye goed in die egalige klimaat van Malawi aard.

In ‘n beskutte deel van die tuin het sy orgideë geplant en ‘n ou, omgevalle boomstomp blyk ideaal vir bromeliades en sekere soorte orgideë te wees.

Die ambassadeursvrou spog ook reeds met ‘n roostuin, asook ‘n hoekie vir vetplante en aalwyne. Tussen die inheemse bome is sy besig om ‘n tuin vir veldblomme te skep.

Ek laat my nie vertel ons huidige ambassadeurs en ambassadrises sal hul verwerdig om hul vingers in die grond te druk nie!

Dus, vanwaar kom hierdie liefde, amper besétenheid van tuinmaak vandaan teen die laat-1970’s en vroeë-1980’s? Dis deesdae amper ‘n sterwende kuns!

Die hele tema is vir my amper iets van: Om te soek na die paradys, ‘n soort Neo-Victorianisme/Neo-Gothic, ‘n soort teenvoeter vir die kaalgestroopte modernisme of selfs buurtverval in die stedelike gebied, om karakter terug te bring in ‘n tydperk waar juis die individualiteit aangeval word, of dalk was dit selfs die “hortus conclusus” wat die aardse paradys (Eden) kan versinnebeeld, die simbool van kultuur. Die Grieks-Romeinse invloed is miskien ‘n vae herinnering hoe broos kultuur kan wees (want het hierdie ryke nie ook tot ‘n val gekom nie?). Dit kan natuurlik ook wees dat die tuin bloot die toevlugsoord of tydverdryf was wat die internet vandag bied.

In my een voorgeskrewe derdejaarsbundel in Afrikaans uit die 2000’s word daar selfs in detail beskryf oor ekospiritualiteit (wat natuurlik ook deel van die hele “terug na die natuur”-veldtog van die 1970’s was wat Suid-Afrika toe eers bereik het, miskien saam met die Chinese maanpoort of “moon gate”) wat die tuin aanbetref (veral die Zen-Boeddhisme, soos verwoord deur Breyten Breytenbach).

Nietemin, die snoeiskêr is ondertussen vir die selfoon verruil. Watertekorte en gevolglike boetes het ‘n einde gebring aan die welige blomtuin. Die huise is of heeltemal kaalgestroop tot net die noodsaaklike, of miskien totaal impulsief oordonder deur mosaïekkruise en kokketielhokke à la De Kat of Vrouekeur… Kom ons sê maar net: “it’s paradise lost”.

Tot ‘n sekere mate kan ‘n mens nog die “kaalgestrooptheid” van die 2010’s en 2000’s verklaar (luiheid, die soeke na al hoe meer lig en deursigtigheid, beweeglikheid/mobiliteit, makliker skoonmaak, minimalisme). Maar die 1980’s bly vir my ‘n absolute raaisel.

Racheltjie herinner my toe ook aan die ekonomiese opbloei en dat smaak en geld nie noodwendig hand aan hand loop nie. Wat wel opval is die Universiteit van Stellenbosch wat destyds ‘n baie moderne ingesteldheid gehad het:

Groot was my ontnugtering gevolglik toe ek in die vroeë tagtigerjare Interieurontwerp op Stellenbosch geswot het en blootgestel is aan die wonderlike style en meubels van vele ander tydperke, in die besonder die Moderne Beweging en die Bauhaus. Ons dosent destyds het ook nie geskroom om die style en gewoontes van die tagtigs as absolute kitsch te degradeer nie. Dit het my lank gevat om ‘n sekere mate van empatie te ontwikkel met mense se besittings en dat dit dalk vir hulle iets beteken, selfs al gril ek my morsdood vir die gebrek aan styl en kreatiwiteit. Soms is dit belangrik om saam met raad en riglyne ook sensitief te wees vir ander se “kosbaarhede” en die dinge wat vir hulle sentimentele waarde het.

Mnr. en mevrou doktor so-en-so het ook ‘n invloed op die smaak van die volk uitgeoefen, sê sy.

Maar natuurlik, ja! Hoe kon ek daai een vergeet het? Reisaandenkinkies! ‘Ek en my man, dr. X, was mos Egipte toe, kyk net die mooi tapyt wat ek saamgebring het en papirusrol van gedroogde piesangmâché’. Die 1980’s was deels ook bietjie nydige vertoonsug… want rondreis as jy uit Suid-Afrika was, al was die wisselkoerse heel goed, klink amper na ‘n sprokie.

Terwyl ons nog oor die 1980’s gesels, speel Enya se fleurige “China Roses” en “Tea-House Moon” in my kop.

Ek het op 5 deser ook die Die Swart Kat-DVD’s uitgehaal wat ek by ‘n meubelhandelaar op Hermanus gekoop het en die dekor met aandag bestudeer. Dis tydsdokumente op sigself. Soos hierbo genoem het die kleredrag my nie eintlik opgeval nie. Nie die rooi Addidas-bofbalpet of die toerygseilskoene nie, nog minder die laag-op-laag-T-hemde, geruite knoophemde met denimbroeke wat netjies bo die heupe sit (wat nog die diep donker ruie kloof agter van die 2000’s versteek). En die snorre? Hmmm… Movember? Die lang hare by die mans was nogal vreemd, maar met die Coronovirus-inperkings het ook hier nuwe lewe ingeblaas.

Maar tog, soos die Rooi Rose-tydskrifte, voel alles byna na ‘n onwerklikheid. Jode van Johannesburg en ‘n dwelmhandelaar-Japannees wat hul SAUK-Afrikaans so mooi suiwer besig! En hier is Annette Engelbrecht hard aan die werk om ‘n digte bos hibiskus van blomme vir die tafel te stroop (en Borrie se hand te klap wat re(i)k na ‘n roosterbroodjie). Michélle Botes met bokstertjies. Ja werklik, géén satellietskottels of rekenaarskerms of ‘n koeksel drade in sig nie. En ja wragtig, daar staan die welige ruikers in geelkoperware op die kantmateriaal in al sy skitterende prag! (Middelklas of by die Rykes, dis orals!). Die beblomde teëls in die kombuis staan vas. Die bruin kussings met kerriegeel sonneblomme op die spierwit tuinstoele is vir ewig in my kop afgeëts. So ook die byna naatlose plaveisel van grys stene sonder ‘n sprietjie onkruid (of ou kougom) tussenin. Swaar goue olielampe by die kaggel, wat nooit sou brand voor beurtkrag nie, met ‘n palmboom wat bid en smeek vir ‘n bietjie sonskyn in die hoekie vir eensames. (Goud)omraamde afdrukke van die Ou Meesterskilders of ongebruikte porseleinborde met een of ander oermotief is orals te vinde. En borsspelde! En ysterkatels!

Dit is nie dat mens iemand ‘n tafeltjie van egte rooshout misgun met onverkrygbare ivoorinsetsels nie. Dit is ook nie dat jy spoeg op iemand se loodswaar trousseaukis nie. Ook sou ek nie die goedige huisvrou die plesier wil ontneem om met Brasso haarself eers swartgroen te besmeer voordat daardie koperpot uiteindelik haar blinkvol oë laat traan van die skitterende lekkerkry nie. Tot 6 maande later weer.

Dit gaan vir my eerder oor hierdie massavervaardigde namaaksels van erfstukke “waarin jy nou ook kan deel”, wat “almal” skielik moes hê, wat orals in hierdie tydskrifte skielik geadverteer en so maklik verkrygbaar was – en eintlik maar net ‘n las en in die pad was. Ook die muurborduursels (tapisserieë). Die goed het bloot as versiering gedien, stof vergaar en net nog ietsie geword waaroor Jannie in sy verbitterde kinderjare raas sou kry. Toe ek een tydskrif oopmaak en ek kyk na die oordadige kant wat so broos soos spinnerakke in ‘n slaapkamer vaskleef, sien ek in die foto is ‘n skuifraamvenster. Die foto-onderskrifte het orals, so huiwerend oortuigend met ‘n stywe kopknik, die woorde “baie mooi” nagemaak. En deur die skuifraam kyk jy in die grou drieverdieping-skakelwooneenhede oorkant die straat vas, waarvan die kombuis onder straatvlak geleë is. Ek kon net grinnik, want die oorsaak van al hierdie boosheid is geëien: Londen, waar anders?

Ek is alte bewus van dr. Dan Roodt se hekel in die Randlords van ouds se Engelse herehuise van Saxonwold, wat hoegenaamd nie, nes sy inwoners, by die omgewing aangepas het nie: dit is gewoon uit Brittanje gaan spit en op eie bodem ingeplant. Daaroor skryf hy in sy boek Raiders of the Lost Empire (2014):

When one looks at the older houses built in the supposedly “posh” suburbs of Johannesburg, like Parktown, Westcliff and Saxonwold, I am often amazed at how ugly they are. Every Frenchman or Italian or even Dutchman […] would simply burst out laughing at these large, anachronistic homes that are completely out of place in our climate. If you compare the best of what the so-called “Randlords” who became fabulously rich from gold and diamonds could build in Johannesburg, with our Cape Dutch architecture of the seventeenth and eighteenth centuries, one may well appreciate just how limiting ersatz and imitation really are. For the English or those pretending to be English in Johannesburg were precisely copying English architecture meant for a cold, rainy climate. They were mostly oblivious to our warm, dry, hospitable climate with its endless succession of sunny days. For centuries, we have lived and spent time outdoors, in the open, under trees or on a stoep, the wide veranda that characterised most Afrikaner farm houses. They saw that, but preferred the dark, overgrown hovels of their native England or, if they were not native to England, what they imagined England to be.

Al sou die moderne argitektuur die gewenste medium wees om by die omgewing aan te pas, gebeur dit alte dikwels egter ook nie. Die produk wat jy kry is bloot ‘n vistenk.

Teen die aanvang van 2020’s is dit vir my ewe interessant waarmee die nuwe middelklas hulle nou besig hou. Die voorgestelde meublement is, moontlik omdat almal nou in huurhuise bly en voortdurend moet verhuis, die absolute bloedlose minimum (seker die oorblyfsels wat nog nie weggesteel is nie). Mure met roomkleur het plek gemaak vir ‘n ysige wit of duifgrys om ons kleurlose en verbeeldinglose bestaan binne die een of ander sosialistiese inrigting uit te beeld: want orals lyk die dekor presies dieselfde, en teen ‘n prys.

Die kristallampe het begin verdwyn vir enkele energiebesparende LED’s. Bruinkleurige en houtmeubels is met ‘n dik laag wit toegeverf. Te midde van hierdie doodverf van die verlede of trouens alle lewe, kry jy van die duurste die beste volkleur 8K-televisie(s!) en ander elektriese toerusting (met slegs ‘n 2-jaar-waarborg) en draagbare elektroniese toebehore om by die immer in Bewegung-kultuur aan te pas en die lewe draagliker en kleurryker te maak. Voeg nog ‘n goedkoop skynwerklikheidsbril (VR) by die versameling, vir die nimmereindigende ontvlugting na die kuberruim, en jy’t ‘n bevolking wat heeltemal tred met die werklikheid verloor het. Maar welkom in die hede, ek is seker jy voel klaar tuis. Net jammer sonder krag staan hierdie wêreld botstil…

Pleks van vorentoe te beweeg, beweeg ons progressief agteruit. Ons sit met yskoue porseleinteëls, meestal sonder ondervloerse verhitting – ‘n fout wat die Romeine ook soms duur te staan gekom het (party villae rusticae het wel ‘n hypocaustum gehad) in Engeland en waarom die Angel-Saksers vir jare lank in takkrale en houthutte sonder skoorstene gebly het totdat die Franse Normandiërs dit as hul roeping beskou het om die Engelse op te voed betreffende die kos, boukuns, mode, fynproewersmaak, interieur én taal, hoewel die sending tragies misluk het. Terug na die hede: nie tevrede met porseleinteëls nie, is daar hierdie gelamineerde vloere wat na die eerste was of so begin skif. En die goed lyk altyd vuil! Maar troos jou daaraan, luiaard: anders as met die Kaap-Hollandse huise, hoef jy nie meer elke jaar die kamer van alle meubels te ontruim en die skuurmasjien uit te haal voordat jy die warm, ryk, duursame geelhoutvloere vernis nie. En die welriekende aroma by die jaarlikse smeer van beesmisvloere: jy hoef jou nie meer te bevuil nie.

Skilderye is klein, lig, of meestal heeltemal afwesig, net soos die huisbewoners se geskiedenis. Dit kon netsowel net nog ‘n ongegradeerde oord of goedkoop oornagplek op lekkeslaap.co.za gewees het.

Nodeloos om te sê is die Smal en Breë Weg nie meer in die voorhal om jou op die regte koers te hou nie, ook nie die gehekelde Onse Vader-gebed nie, en ook nie die lewensgrootte Familiebybel met familiename wat oopgeslaan lê by Psalm 23 nie. ‘n Rosyntjiegesig Ouma- en Oupagrootjie Brombeer (taai gebrei onder die sadistiese Afrikason) grom nie meer Calvinisties op ‘n portret nie, met die gevolge dat die kinders en kleinkinders nie ‘n benul het van swaarkry of die geduldige klein-klein begin nie, laat staan nog hul nederige herkoms. Selfs in sommige Romeinse huise het ‘n marmerborsstuk van die stamvader gestaan wat vermanend na jou geloer het. Die porselein-koffiemeul uit 1720 en ander erfstukke word vandag teen ‘n appel en ‘n ei verkoop om die studentelening te help afbetaal, of… eenvoudig net onverskillig weggegee of van ontslae geraak weens die “energie” wat die ding afgee.

En die tuin? Miskien twee vetplantjies omring deur ‘n vloer vol los skerp eina-eina klippertjies (sodat jy saans die skelms kan hoor grits-grits aankom…), met min speelplek vir die kinders. Buitendien, die paradys is lankal nie meer privaat nie en dit word deur die sekuriteitskompleks se tuiniers in stand gehou, dit het niks met jou uit te waai nie (daarvoor is jy buitendien te besig met jou aanlynlewe en in die verkeer vas te sit, want daar’t weer ‘n trok by Macassar omgedonder), behalwe die maandelikse heffings op die rekeningstaat. In die huis self sal daar ‘n piepklein bietjie groenigheid skaam-skaam in die oorverligte vertrekke sy koppie uitsteek, ironies genoeg in ‘n tydperk waar die wêreld ekobehep is.

En tog, te midde van al hierdie indrukwekkende minimalisme, sien ek nêrens ‘n enkele boekrak(kie) in sig nie. Nie eens vir kookboeke nie (maar natuurlik, niemand kook nie). Nogal vreemd as mens in ag neem dat soveel kosbare en gewigtige werke beslis nie as e-boeke daarbuite beskikbaar is nie en ons almal weet goeie produkte is nie altyd die nuutste die beste nie. Uit ‘n steekproef op Property24 het ek ook gesien daar is duidelik meer privaatkroeë (vir die rojale onthale) en private ondergrondse wynkelders (om kollegas, familie en vriende tydens kwarantyn te hulp te snel, natuurlik – daar’s altyd ‘n uitweg!) as boekerye te sien, veral by die duurste paleise langs die kusdorpe waar jy meer “geletterdheid” sou verwag. Laat staan nog ‘n biblioteek soos Steve Hofmeyr s’n!

Dit het niks met armoede te doen nie, maar eerder ‘n klasseverskil. By Engel & Völkers is daar sulke peperduur hipermoderne skeppings in veral Spanje (op Mallorca!) en Italië gekry. Ons praat nou van oor die 6 tot 52 miljoen Euro per huisie, waar dit oënskynlik ‘n skande is om nie aan hierdie “standaard” (‘n kamer, of ten minste ‘n hele muur vol boeke) te voldoen nie. Want la bella signorina wil langs la piscina met haar occhiali da sole neri in il sole caldo lê en lees, natuurlik. Ag Suidpunt, jy bluf jouself – dis stinkryk sakemanne uit Duitsland wat hul fantasieë op bouplanpapier verewig, verwesenlik en uitgeleef het. Maar maak ‘n ander halfrond dan werklik so ‘n hele wêreld se verskil in denke?

Waarom ontbreek hierdie element dan by ons rykes in Suid-Afrika se moderne huise? Gaan kyk maar ‘n bietjie in die Kaap rond by die eiendomsagente en stel die prys op ‘n minimum van R15 miljoen vir ‘n enkele huis. Ag, hoekom nie – kyk is mos vry op die webwerwe? Trek gou jou mooiste nommertjie aan, Mevrou, en ons ry gou-gou deur Kampsbaai, Bishopscourt, Higgovale, Constantia, Oranjezicht, Llandudno, Rondebosch… Laat ons bietjie kyk hoe die rykes leef en laat ons gedagtes gaan: Daar’s plek vir biljartkamers, plek vir ‘n gimnasium, ‘n instapklerekas, ‘n solarium, ‘n jacuzzi, ‘n konservatorium, ‘n koffiekroeg, ‘n teekamer, ‘n teetuin, ‘n zentuin, ‘n poeierkamer, ‘n krokhok (“granny flat”), ‘n pikdonker tuisteater, ‘n sauna, selfs ‘n tennisbaan (!), of “man cave”, maar ‘n biblioteek, leeskamer, -sáál, of selfs studeerkamer? Aikôna! Hoe teleurstellend. Is dit dan nou ons sogenaamde elite, wat die toon van kultuur moet aangee? Die draers en bewakers van beskawing? “Defenders of the Faith”? Selfs sekere ministers is aan hierdie gebrek skuldig. Is hulle eenvoudig net “te besig” vir lees (dieselfde verskoning wat ek by skoupoppies in die boekwinkels hoor), of was die lagie vernis van mnr. Pasryk nog altyd maar dun? Gee daardie gedrogtelike (“charming”) Saxonwold-kasarms met uiters swak kleurskemas, slawekwartiere (“staff accommodation”) en bedenklike loodgieterswerk hierdie bietjie eer: van die Engelse Randlords het darem ‘n biblioteek op die bouplanne laat inteken, soos Property24 se foto’s getuig. Of moet ek eerder die “what they imagined England to be” bedank?

Wat het van kultuur geword?

I cannot move, I’m standing.
Numb and frozen.
Among the things I love so dearly.
The books, the paintings and the furniture,
Help me – ABBA, “The Visitors”, 1981

As die 1980’s ‘n grillige oordaad was, desperaat op soek na iets tasbaars, vastigheid, ‘n ankerpunt en letterlike vasklouplek of selfs vergrýpe op die werklikheid (sens de la réalité), het hierdie té vér gevoerde moderniteit ons kom ontwortel van alle kultuur, menslikheid, geskiedenis en die werklikheid. Sodra jy jou van die geskiedenis losmaak, kan jy maar weet dieselfde deurgetrapte paadjie gaan maar weer geloop word.

Is daar dan nêrens ‘n maat nie?

Die Fransman Jacques Tati was sy tyd vooruit. Hy het reeds in 1958 met sy Oscarwenner, Mon Oncle, gespot met die (skrikwekkend eietydse!) moderne interieur en argitektuur van Villa Arpel wat te ver gevoer word en hoe die 1) meubels uiters ongemaklik is, 2) alles juis vertragend werk, 3) en juis daarom inbreek maak op die gesin. Die huise, moet jy weet, is sonder ironie presies dieselfde duifgrys (“pigeonhole people?”) as vandag! Teenoor hierdie steriele en kleurlose omgewing wat klokslag moet verloop en waar niemand met mekaar praat nie, kontrasteer Monsieur Hulot wat in ‘n ouderwetse, raserige en selfs effe vervalle buurt bly vol hartlike maar arm en tradisievaste Franse sukkelaars, sonder tydsbesef, wat altyd lus is om ‘n geselsie aan te knoop. Dan moet mens jou die vraag afvra wie die normaalste is?

Uit al die wonings wat ek al deurgekyk het, sal die Afrikaner sy egte kultuur weerspieël deur hom die vryheid te gun om:

  • Die paradys te probeer skep wat hy nog altyd wou hê (ek sou sê die moeite met die tuin was die pluspunt van die 1970’s en 1980’s)
  • Absolute matigheid met die versierings voor oë te hou (binne en buite)
  • Nie sy geskiedenis dood te verf of ‘n karikatuur van te maak nie, maar om trots te wees op sy outentieke erfstukke en die familie en vriende
  • Die geskiedenis van die gebou tot sy volle reg te laat kom, het Racheltjie vir my gesê
  • Nie blindelings Europese, Britse, Amerikaanse of Oosterse style uit pure sentiment na te jaag wat nie met ons omgewing akkordeer of geheel en al onprakties of onvolhoubaar is nie. As jy nou werklik geen eg het aan die Afrikatemas met sy rooi mure, houtmaskers, ystervarkpenne of daardie kamer wat lyk asof daar tarentaal geslag is nie, volg jou eie gesonde verstand.
  • Kleure te kies wat mooi harmoniseer, maar wat nie skel, te koud of te donker is nie
  • Miskien tog ruimte te laat vir ‘n klein boekrakkie of wat.
  • Die waarheid en egtheid van die omgewing te soek, sonder om gerief in te boet.

Die Ersatz-kultuur van die Franssprekende Belge in die 1800’s

Met die verbrokkeling van die Oostenrykse Ryk en die Franse revolusioniste wat aspirasies onder die Belge gekweek het om hul eie oorheersing te vestig, het ook Napoleon bygedra om die nasionale geskiedenis van België in ere te herstel. Die Belgiese nasionale sentiment (en politici) bly egter lojaal aan die Franse Ryk. Hierdie lojaliteit duur voort toe Willem I, Prins van Oranje-Nassau, die Nederlandssprekendes (alle dialekte) onder hom probeer verenig in die Verenigde Koninkryk der Nederlande wat vanaf 1814 sal voortduur tot 1830. Al slaag hy gedeeltelik daarin om die Nederlandssprekendes te verenig, span die Katolieke en Liberales in ‘n verenigde front saam tot die Belgiese Revolusie uitbreek in 1830.

Al vanaf die Oostenrykse heerskappy het Frans ook tot die Vlaamse bourgeoisie as voorkeurtaal deurgedring, wat verder versterk is onder die daaropvolgende Franse regime. Al was die politici en die ryk self nie gekant teen Vlaams nie, was hulle voorstanders vir die verspreiding en uitbou van Frans deur hom as taal van openbare instellings in die wet te veranker, en van die Belgiese skrywers voer aan die opgevoede Vlaming en die Waal het albei ‘n geweldige hoë agting vir Frans gehad, die taal van die bevryding. Die hoi polloi hou hulle maar besig met dialekte. Willem van Oranje het, met die totstandkoming van die Verenigde Nederlande in 1814, sy volste reg uitgeoefen om Nederlands hier te bevorder. Al het die taalkundige eenwording misluk (die Katolieke Vlaming het hom onderskei van die Protestante Hollander op kulturele en godsdienstige en selfs taalgebied) het hierdie vereniging mettertyd ‘n Vlaamse bewussyn laat ontwaak weens die voorreg om Nederlands by instellings onder die Koning van Nederland se bewind te geniet, asook die onderwys wat hy in hierdie streek laat ontwikkel het. Dit is ook Willem I wat Latyn versterk het aan die Vlaamse universiteite. Voorheen met die Franse anneksasie in die tydperk van Napoleon is die Universiteit van Leuven, toe nog die enigste instelling van hoër onderwys in Suid-Nederland, eenvoudig in 1797 deur die Directoire gesluit; in sy plek maak inrigtings van die tersiêre onderwys oop in Luik (die wetenskappe) en in Brussel (die letterkunde, wetenskap en regswese). Omtrent ‘n derde van hierdie dosente was toe afkomstig uit Frankryk, en dan was daar nog die nie-Franse dosente wat ook hul opleiding (gedeeltelik) in Frankryk gekry het.

Ek doen al lank in my vrye tyd navorsing oor die redes waarom mense van die onderskeie lande almal afstand gedoen het van Latyn. Ek weet nie of mens dit as die hoofredes moet aanvoer nie, maar die kern van die saak van België vind ek hier in “Latin versus languages modernes en Belgique (1840-1850)” deur Christophe Bertiau (2017).

Verfrissend van hierdie teks is die totale afwesigheid van die kenmerkende klasse- en rasse- en genderstryd wat van ons Suid-Afrikaanse kultuurmarxistiese universiteite verwag word.

Al is die pro en contra van Latyn in die openbare gebruik baie logies beredeneer, voer die skrywer aan, as jy verby die persoonlike belange kyk van die taalstryders aan weerskante van Frans en Latyn, vind mens agter al hierdie besluite ‘n veel dieper tweespalt tussen die sogenaamde ‘Anciens’ en ‘Modernes’ in hul denkrigtings. Die groot botsings was by die voertale van die universiteite, die taal van die apteekboeke asook op die plaatjies van die standbeelde.

Die ‘Anciens’ (ek noem hulle sommer Goue Oues) het ‘n klassieke humanistiese tradisie gehad; hulle het geglo mens moet bou op die mooiste werke van die geskiedenis uit die mensdom wat as model moes dien. Hierdie model kan geëwenaar of oortref word. Hulle was nie remskoene nie, maar het juis die vooruitgang geloof, want die wetenskap was immers bestem om voortdurend op verbeter te word: die toekoms behoort beter te wees as die verlede. Net soos die Moderniste was hulle ook alte bewus van die hede wat van die verlede geskei word. Maar op een fundamentele puntjie het hulle met die Moderniste kom staan en verskil: die aandrang op en die belang van die historiese konteks, van ‘n uiteenlopende diversiteit van sedes en gewoontes. En dit was juis hierdie historiese nugterheid waarom die Anciens hul kon beroep op die skrywers uit die jaar toet, om die huidige samelewings voortdurend krities te betrag: want die geskiedenis herhaal homself keer op keer.

Die Moderniste was gefokus op die hier en die nou. Ja, nou is die beste oomblik in die geskiedenis wat daar was. Wat goed genoeg is vir ons, is goed genoeg vir die wêreld. Ten eerste was Frans die taal van die Koning Lodewyk van Frankryk. Dit is hy wat Frankryk tot op die voorpunt van menslike beskawing gebring het – ‘n ligbaken vir die res van die wêreld. Die Moderniste, deur die verering van Frans in België, maak hul eintlik indirek skuldig aan Keiseraanbidding (later sou dit seker ook omskakel in die gees van nasionalisme ens. ens. ens.). Die taal en kulturele bloei was in Frankryk, en Frankryk het sy wonders en roem in die wetenskap in wie weet wat alles gehad, danksy die Koning. Hierdie Moderniste lééf vir die oomblik, die hier, die nou, die oomblik van roem. Terwyl die ‘Anciens’ die ‘Moderniste’ van kortsigtigheid aankla (gemeet aan die ellelange geskiedenis wat nou net weer herhaal gaan word met Parys wat eers in ‘n tweede Rome gaan ontpop en dan deur die Gote binnegeval word), is die Moderniste glad nie beïndruk met hierdie verkrampte ou senings nie – kyk net die glorie, die vooruitgang!

Maar nou België, die eintlike land waarvoor ek nou antwoorde soek. België het absoluut niks gehad met hul stigting om op te roem nie. Frans was nie die taal van die gemiddelde Belg nie – alleen die elite s’n. Wat hulle vir hulself toegeëien het. Die nuut afgestigte België, beheer deur ‘n elite, baai egter in hierdie Sonnekoning van weleer én la République française se goue lig, deur te verlustig in ‘n invoerproduk, Frans, wat bloot ‘n simbool geword het: Frans het oor die vermoë beskik om die landgenote te verenig (altans, diegene wat tot die hogere klasse behoort het), maar waarop was hierdie glans gegrond? Alleen die “génie” geskep deur die Franse, die bure, waarop die Belge dus “tweedehands” geroem het, sonder om eintlik ‘n vinger te verroer.

Dit is die toppunt van ersatz wat ek in my lewe gesien het!

Maar noudat die tentoonstelling van Frans op Belgiese monumente nou bietjie meer nut moet kry (daar word ‘n ellelange debatvoering in die werk bespreek oor die taal op ‘n monument) in ‘n farmakopee, moet die elite nou skielik rekening hou met die Vlaminge en die prestige van Latyn. Latyn was die grootste bedreiging vir hierdie roemryke Franse beeld, al was die Franssprekende Belgiese elite self eintlik ewe elitêr en eksklusief soos Latyn – die pot kan die ketel nie verwyt nie.

Plek-plek het die diskriminasie dieselfde gebly, maar miskien net ‘n bietjie meer egalitêr: dit was slegs die hoogs geskoolde elite wat vroeër Latyn gebruik het in hul briefwisseling; nou is dit maar weer die Belgiese elite (maar met meer sprekers) wat Frans besig teenoor die ‘gewone volk’.  Plek-plek het die diskriminasie vererger, want nou het jy ‘n duidelike onderskeid gemaak, ‘n nuwe hiërargie geskep waar die een lewende taal en volk verhef is bo die ander; in hierdie geval Frans bo die Vlaams. Latyn was egter die struikelblok waar slegs die hoogs geskooldes aan die politiek kon deelneem; met die opkoms van die nasionalisme het jy toenemend ‘n al hoe meer inklusiewe gemeenskap begin kry, waarvoor Latyn as struikelblok die prys moes betaal.

Aan die een kant voel die hele “verbeelde gemeenskap”-ding (waar die Franskiljons, eerder as om hul as Belge te sien, bly voortteer op ‘n taal geskep deur die buurland se suksesse) net te belaglik om as rede sommer so te aanvaar, dis nou as jy jou blindstaar teen die klipharde logika. En tog… as hierdie vergesogte storie waar is, wat dan ontsettend baie diep strek, dan is die hele minderwaardigheidskompleks sonder twyfel die hoofrede vir die taalpolitiek wat jare daarna losgebars het, waar Vlaams vyandig verdruk en op neergesien is.

Hierdie hele “hoenderstront wat ghries word”/ “hoe kaler die jonker, hoe groter die pronker”-snobbery het dit my laat nadink oor die Afrikaner. Baai hy in die sukses van die Franse, die Engelse, die Amerikaners, die Hollanders, die Duitsers? Ek glo nie, want dan sou hy nie Afrikaans gepraat, geskryf of selfs gelees het nie.

Ek sou sê dit hou mens nogal plat op die aarde en nugter in lewensuitkyk.

Tot slot – egtheid vs. illusie in die individu

Die egtheid en onkreukbaarheid van “binne en buite” (interieur en tuin), en die soeke na egtheid en die waarheid “uit en tuis” (buitelands en binnelands) bly een van die belangrikste rigtingbepalers van kultuur. Die laaste kring binne hierdie twee sirkels wat ons kan trek is die binne en buite – die eerlikheid met jouself en die omgewing (wat die mens en samelewing insluit) – die kiem van kultuur in elke individu.

In dieselfde Rooi Rose van 27 September 1978 skryf Hennie Goosen onder die opskrif “Alles ‘n gejaag na wind?” (bl. 48 tot 49) dat die beeld van sukses so uiteenlopend is en soveel van mens tot mens verskil dat dit onmoontlik geword het om presies peil te trek.

Goosen noem onder andere ‘n ou skoolmaat (wat op skool nou nie juis aandag op akademiese vlak getrek het nie) wat ‘n ryk boer geword het. Hoewel Goosen soos ‘n mislukking gevoel het omdat hy nie soveel kapitaal kon wys nie, sien die boer dit anders:

“Suksesvol?” het hy gevra, “omdat ek ryk is? Ek maak geld ter wille van geld… en dit plaas my op die onderste trappie van die evolusie van die mens. Kyk liewer na die akademiese mense wat eerder kennis as geld bymekaarmaak. Hulle het ontwikkel op ‘n peil waar geld op sigself agterbly. Nee, laat daardie mense eerder van sukses praat.”

[…]

“Ek weet jy beskou jouself as ‘n mislukking, maar jy maak ‘n bestaan uit skryfwerk, en dit is jou lewe. Ek wou altyd graag ‘n digter gewees het. As ek een digbundel agter my naam gehad het, sou ek myself as ‘n sukses beskou het.”

So vra Goosen hom af wat van al die slim kinders in sy klas geword het. Die een veelsydige seun het selfmoord gepleeg – volgens sy onderwyser het hy hard geleer, maar die hoë slaagpunt het vir dié knaap ‘n illusie geskep, ‘n valse wêreld. In daardie wêreld kon hy alles oplos deur hard te leer en die vrae te beantwoord presies soos die eksaminator dit verlang het. Daar was ‘n soort orde en logika. Maar die werklike lewe daarbuite is chaos en daar is ontelbare mense met emosies en belange wat nie logies is nie – die lewe kan dus nie oorwin word “deur dit onder ‘n leeslig van buite te leer nie”.

‘n Ander klasmaat het vir hom ‘n materialistiese wêreld geskep (amper soos daardie bousels van Bishopscourt). Op die oog af lyk alles goed:

Jan het as ‘n vervoerkontrakteur begin en hy het aan die begin self gelaai en bestuur. Later het hy ‘n vloot voertuie gehad en vir hom ‘n kantoorkompleks laat bou. Hy het met ‘n mooi, skatryk meisie getrou en hy was meteens finansieel onafhanklik. Hy het ‘n seun en ‘n dogter en hy woon in een van daardie grasdak-herehuise wat net vir spesiale mense ontwerp en gebou word.

In sy motorhuise staan ‘n donkerblou Jaguar vir hom, ‘n Porsche vir sy vrou, ‘n Mercedes vir sy seun en ‘n Alfa Spider vir sy dogter. Die Volksraadlid ontspan in sy snoekerkamer, die burgemeester speel saam met hom gholf. Sy bankbestuurder ry na hom toe en kom spreek hom in sy klankdigte studeerkamer. Sy seun speel met sy seiljag en sy dogter jakker in Europa rond.

Stille waters, diepe grond – onder draai die duiwel rond:

Maar sy dogter is ‘n beatnik en sy seun is ‘n dobbelaar. Sy vrou drink skelm. Jan het ‘n huis, maar hy het nie ‘n huisgesin nie. Hy is ‘n broodwinner, maar hy is nie ‘n eggenoot nie, nog minder ‘n vader. Hy wou altyd vreeslik graag die liefde en respek van sy medemens gehad het. Maar hy weet hy het dit nie. Dié wat nie by hom kruip nie, dié haat hom. Hy weet nie hoe om sy geld te geniet nie. En al het hy geweet, sou dit hom nie gehelp het nie, want hy het suikersiekte. Hy moet homself elke dag inspuit. Sy vrou wil nie, dit laat haar gril. Sy is in elk geval te bewerig. Hy is soos Atlas. Hy dra die wêreld en hy weet nie waar om dit neer te sit sodat hy sy skof kan vryf nie. Sy enigste belangstelling was houtwerk, maar hy het nie tyd daarvoor nie. Hy het nooit tyd gehad nie. Hy was te besig om geld te maak. Geld was vir hom die sleutel tot sukses. Nou het hy ‘n kolossale goue sleutel, maar hy kry nie die deur nie.

Bogenoemde klink albei na hedendaagse sepiemateriaal; met ‘n kamera byderhand sou heelwat akteurs sonder werk sit. Die probleem is net: soos met ‘n sepie, hou die probleem net nooit op nie – want die kykers moet voor die kassie gehou word met stereotipe karakters.

In albei gevalle is die menseverhoudings agterweë gelaat en in albei voorvalle was daar weer sprake van ‘n illusie. Goosen kom uiteindelik tot die gevolgtrekking:

Een ding het nou begin duidelik word: sukses en mislukking is relatiewe begrippe. Hulle is so verskuifbaar soos ‘n pion op ‘n skaakbord. Daar is nie ‘n vaste identiteit nie.

Gaan vra maar vir mense wat is sukses en wat is mislukking. Jy sal nie by twee mense dieselfde antwoord kry nie. Al wat jy sal kry, is ‘n deeltjie van dié betrokke mense se lewensuitkyk.

‘n Mens skep dus vir homself ‘n beeld van sukses. Hy bou vir hom volgens daardie plan ‘n troontjie, hy gaan sit daarop en hy sê: ek is suksesvol.

So nie, voel hy dat hy ‘n mislukking is. Sy mislukking word ‘n galg en hy hang homself daaraan op. Maar hy bou self die galg!

[…]

Die lewe self verskaf klaarblyklik nie ‘n resep of patroon vir sukses nie. Dit is slegs die vae maatstaf van ‘n materialistiese samelewing. Dikwels is dit ‘n spook wat ’n mens vir jouself maak en teen wie jy resies hardloop.

Dit is in wese ‘n mensgemaakte ding. Jy kry vir jou ‘n ideaal, ‘n baken en jy streef daarna. En as jy dit bereik en jy ontdek dat dit alles ‘n gejaag na wind was, het dan nie na ‘n suksesvolle reis by mislukking gearriveer nie?

Al dink derduisende mense jy is ‘n sukses en hulle beny jou, maar jy is ongelukkig en ontnugter, wat is jy beter daaraan toe as die klerk wat vier en twintig uur kennis gekry het?

Dalk is dit die laaste puntjie: die Afrikaner en Afrikaans sal sodoende, met belangstelling, op veelsydige wyse die waarheid in verskillende velde gaan verken.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.