Sydney Gregan: Die revolusie in snelrat

Deel op

Dr Anthea Jeffery se aanvanklike werk The People’s War (2009) is waarskynlik deur min mense gelees (676 bladsye), alhoewel dit van groot belang is vir die verstaan van ons politieke situasie. In 2019 het sy ‘n verkorte uitgawe daarvan die lig laat sien wat, soos mens dit graag wil noem, “verpligte leesstof” is vir elkeen wat werklik wil verstaan wat in ons land aan die gang is. Veral die laaste hoofstuk daarvan is ‘n meesterlike opsomming en vertolking van die ware oogmerke van die ANC en hulle hanteerders, die SAKP, met hierdie land.

“…the story of the people’s war is the key to understanding how the ANC gained its hegemonic grip over the new South Africa. It is also the key to understanding a host of adverse social phenomena that continue to plague the country. Among other things, the ANC’s success in making South Africa ‘ungovernable’ in the decade up to 1994 is a major factor in the persistent vandalism, destructive protests and seeming contempt for authority that persist to this day”.

—Anthea Jeffery, The People’s War, 2019

In 1978 het die SAKP/ANC ‘n besoek aan Viëtnam gebring en onder andere met die “meester”-strateeg, generaal Vo Nguyen Giap beraadslaag hoe om deur middel van ‘n revolusionêre “volksoorlog” die mag te gryp. Dit is dan ook met groot sukses geïmplementeer deur onder meer die politieke opposisie uit te skakel voor die 1994-verkiesing en die land “onregeerbaar” te maak. Dit het doeltreffend daarin geslaag om ‘n geweldskultuur te skep terwyl die blaam op die “apartheidsregering” en partye soos Inkatha geplaas is. Met die opposisie behoorlik geneutraliseer het die “nuwe” Suid-Afrika soos ‘n ryp appel in die skoot van die ANC geval – om nooit weer uit die kloue daarvan te ontsnap nie.

Die volksoorlog se doelwit is om die Sowjet-geïnspireerde Nasionaal Demokratiese Revolusie (NDR) deur te voer. En wat is die doel van die NDR?:

“… to take South Africa, by gradual and incremental steps over four decades or more, from a free-market system to socialism and then communism.”

Danksy die “volksoorlog” het ons nou ‘n “hollowed-out democracy, a shell without substance”. Jeffery wys ook op die feit dat die oorgangsgrondwet en die huidige grondwet deur die ANC beskou word as:

“…nothing more than temporary agreements that reflected the balance of forces prevailing at the time – and that could always be changed once the balance of forces had shifted sufficiently to allow this”.

Wat ons dus het as gevolg van die suksesvolle “oorlog om die nasie” is ‘n post-apartheidera sonder ‘n doeltreffende opposisie en sonder konstitusionele meganismes om mag af te wentel en te versprei en belangriker nog:

“without a commitment by the ruling party to regard even the final constitution as binding upon itself”.

Die ANC se beheer oor die land is trouens nou van so ‘n aard dat dit met gemak van die eerste na die tweede fase van die revolusie kan beweeg. Die eerste fase was natuurlik die “nasionale bevryding” en die tweede, alhoewel verskans deur ander mooiklinkende terme, volbloedsosialisme en daarna, kommunisme. Die strategie van die NDR het “only one possible outcome”, die verwesenliking van ‘n sosialistiese samelewing.

Ten einde hierdie oogmerke te bereik is dit noodsaaklik vir die ANC om volle beheer oor die myne, industrie, banke en ander monopolieë te verkry. Die SEB (Engels: BEE)-wetgewing is ‘n belangrike metode om dit te bewerkstellig. Beheer oor die “levers of power” in die vorm van die openbare uitsaaier, die media, die privaatsektor, die universiteite en alle ander entiteite wat die klimaat (van opinie) kon wysig, moes verkry word. Daarin is reeds volkome geslaag. In 1997, by die ANC se konferensie in Mafikeng is boonop blatant gestel dat beheer oor hierdie “centres of power” sal vereis dat “cadre [deployment] policy” gevolg sal moet word ten einde te verseker dat die ANC ‘n leidende rol speel in al hierdie instellings. Die ANC het dus sy mag gekonsolideer sodat, ongeag die geraas oor korrupsie en verantwoordbaarheid, dit meedoënloos kan voortgaan om die land op ‘n sosialistiese pad te plaas.

Onteiening sonder vergoeding (EWC) en die Nasionale Gesondheidsversekering (NHI) is verder stappe in hierdie proses om ‘n sosialistiese staat te skep. Die doel van EWC is nie om grond in die hande van swartes te plaas nie, maar om die ANC die eienaar van die grond te maak sodat dit beheer oor die “gebruikers” daarvan kan behou. Niemand minder as Ramaphosa is die groot voorstander van EWC; dit terwyl blanke liberaliste al hulle hoop op hom gevestig het om die land weer “op koers” te kry na die Zuma-bewind.

Jeffery wys op die belangrike feit dat die SAKP nie Ramaphosa se kandidatuur vir presidentskap (van die ANC en die land), sou gesteun het as hulle nie seker was van sy toegewydheid aan die NDR nie. Dus, blanke liberaliste het verniet miljoene spandeer om ANC-lede om te koop om vir Ramaphosa te stem – hy was reeds in die sakkie van die SAKP! Pas nadat Ramaphosa verkies is, verklaar hy in Januarie 2018 die noodsaaklikheid daarvan om die NDR te bevorder; iets wat die Blanke sakemanne wat hom befonds het seker met ‘n wrang smaak in die mond gelos het; tensy hulle natuurlik deel van die uitgelese elite is wat vir hulle eie belange sal sorg in die tweede fase van die revolusie.

Watter verdere stappe word beoog ingevolge die NDR?

  • Die inlywing in die 1996-grondwet van verskanste sosio-ekonomiese     regte (soos belowe in die Freedom Charter);
  • Die sistematiese verswakking van die magte van die parlement     (grotendeels reeds bewerk deur die “Disaster     Management Act” waar die beheer van die land in ‘n uitgesoekte groepie se hande geplaas is en waarvan hulle baie moeilik gaan afstand doen);
  • Volgehoue aanslae teen die regbank in die naam van “transformasie”;
  • Verdere kaderontplooiing deur die ANC om beheer te verkry oor ”all key levers of power”;
  • Verdere SEB-wetgewing om privaat ondernemings se outonomie verder af te breek;
  • Nasionalisering van water en minerale regte;
  • Arbeidswetgewing wat, in plaas van werkloosheid hok te slaan, werkloosheid bevorder;
  • Die NHI wat privaat mediese fondse wil vernietig en daarmee saam die     private mediese bedryf;
  • Die erodering van outonomie op skool- en universiteitsvlak met verlaging en vernietiging van standaarde;
  • Die volgehoue afhanklikheid van 17 miljoen (en steeds groeiend)     bevoordeeldes van maatskaplike toelaes van die staat vir hulle daaglikse oorlewing;
  • EWC as die finale slag om finale beheer te kry en die bestaande ekonomie     te vernietig.

Jeffery stel dit onomwonde:

…land expropriated without compensation will be owned by the state, not transferred to black South Africans. This is the fraud at the heart of the EWC idea. EWC will empower the government, not the individual, and will be used as a patronage tool and to deepen dependency on the ANC”.

Die NDR is die sleutel om te verstaan wat in die afgelope 26 jaar van ANC-bewind gebeur het. Maar min blankes besef wat die eerste en tweede fase van die revolusie werklik behels. Vir die gemiddelde blanke is dit blykbaar ondenkbaar om te glo dat die ANC eenvoudig niks voel vir die meerderheid mense in hierdie land nie en dat dit ideologies gedrewe is om die land te verswak en selfs te vernietig ten einde sy doelwitte te bereik. Vanuit die SAKP/ANC-perspektief is daar ‘n “compelling logic” met die NDR-strategie:

“If the economy was thriving and millions of well-skilled South Africans could easily find well-paying private sector jobs outside of state control, the ANC would soon lose its grip on power.”

Om dus die bevolking afhanklik eerder as onafhanklik te maak, is van kardinale belang vir die ANC. Deur kaderontplooiing binne die openbare sektor en sowat 17-20 miljoen wat van hulle daaglikse brood afhanklik is van maatskaplike toelaes (uitgedeel en beheer deur die ANC), is die ANC ten volle in beheer van die revolusie. Die Covid-19-fiasko het die ANC se greep op die land boonop verstewig deurdat ‘n groot deel van die onafhanklik denkende middelklas ook nou tot bedelstand verlaag is en van die ANC afhanklik sal wees vir oorlewing.

Werkloosheid wat steeds groter word skeel die ANC-elite min; hulle eie poste is verseker (en verskans). Daarom dat hulle ook nie enige erg het daaraan dat die ekonomie skade ly as gevolg van die irrasionele en idiotiese inperkings nie; hulle salarisse word steeds betaal met die bykomende voordeel dat hulle nie eers op kantoor hoef te wees nie!

“… the more the NDP was implemented, the more the economy would be crippled and the more dependency upon the state will grow. Soon, the damage from the NDP would become self-perpetuating and increasingly difficult to reverse”.

Die woord “revolusie” het in sommige (links-liberale) kringe ‘n bekoring asof dit ‘n towerwoord is waarmee alles wat kwansuis verkeerd is, reggestel kan word. Min besef dalk dat dit ‘n totale omverwerping van alle bestaande strukture beoog en radikale verandering meebring. So asof ‘n nuwe samelewingstruktuur eensklaps kunsmatig gevorm kan word terwyl dít wat daar was eeue geneem het om te skep! Feit is dat daar deur die afbreek van orde en strukture ‘n vakuum onstaan waarin wetteloosheid, eerder as ‘n nuwe ordelike struktuur, beslag kry. Dit is wat nou in ons land ontplooi. Daar is geen gesag waarna opgesien word nie; geen gemene deler wat ons saambind nie, maar veel eerder ‘n veragting vir die regime en hulle vergrype deur diegene wat nog vir hulleself dink, terwyl die res in paniek en vrees lewe en ewe gedienstig elke belaglike regulasie en dekreet navolg asof hulle lewens daarvan afhang.

Wat is die lewens- en wêreldbeskouing van die nuwe Suid-Afrika? Dit is nie Christelik nie en beslis ook nie nasionaal nie. Dit is eerder onchristelik, barbaars en Gods- en naasteveragtend. Dit is omdat dit revolusionêr is want die wese van enige revolusie, aldus die Nederlandse denker en filosoof Groen van Prinsterer, is ongeloof!

Die (tweede fase) van die ANC-revolusie is besig om ons almal in te sluk al sal dit dalk ook sy eie kinders (die ANC) in die proses opvreet. Niemand van ons (tensy jy deel is van die elite wat die toutjies trek) gaan hieruit ongeskonde kom nie. Anargie, as noodwendige neweproduk van hierdie revolusie, dreig nou om heeltemal hande uit te ruk. Ontsag vir die lewe is lankal (soos met die Franse Revolusie) daarmee heen. Mense word soos wilde diere afgemaai en geslag. Eers wanneer ons besef dat hierdie bestel (revolusie) nie “beter” gemaak kan word of “hervorm” kan word nie, maar iets anders in die plek daarvan (of afsonderlik daarvan) daargestel sal moet word, sal werklike geesdrif onder ons mense kan posvat. Want dan sal ons weer ‘n gemeenskaplike deler hê: ‘n gemeenskaplike ideaal om na te strewe.

Intussen is ons besig om die branders met ‘n besem te probeer terugvee…

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.