‘Covidpreneurs’: ANC-kaders skep R2,2 miljard

'n ANC-straatpartytjie
Deel op

ANC-kaders het soos hiënas op die Covid-19-noodfondse toegesak. Net wat persoonlike beskermingstoerusting betref, is daar sprake van R2,2 miljard wat na twyfelagtige transaksies en ondernemings gevloei het. Dié onthullings kom op die vooraand van ‘n verdere R70 miljard wat moontlik teen môre deur die IMF (Internasionale Monetêre Fonds) aan Suid-Afrika geleen gaan word.

Die spesiale ondersoekeenheid is besig met ‘n ondersoek aangaande 90 maatskappye wat tenders van die Gautengse gesondheidsdepartement ontvang het. ‘n Verdere R30 miljoen se onwettige tenders in Kwazulu-Natal verkeer insgelyks onder die vergrootglas, tesame met ander in die Oos-Kaap.

Die diefstal met tenders is so erg dat selfs die voorsitter van die Swart Sakekamer, Sandile Zungu, sou gesê het: “Dis nie meer swart sake nie, dis diewe.”

In ‘n onderhoud met die Sunday Times vandag, het Zungu hom soos volg uitgelaat:

“Die hele ding lyk so oneerlik en vuil, ‘n mens twyfel of dit ooit aan die nasionale tesourie se regulasies oor die noodaankope van voorrade en dienste sal voldoen.”

In een geval in Kwazulu-Natal, is watertenks van 5 000 liter by skole geïnstalleer teen ‘n koste van R28 000 per tenk terwyl soortgelyke tenks vir minder as R5000 in die handel beskikbaar is.

In die Oos-Kaap in die sogenaamde “OR Tambo-distrik”, is R168 miljoen voorgeskiet aan ‘n groep tenderpreneurs vir ‘n water- en rioolprojek sonder dat enige werk ooit agterna geskied het. Die munisipale bestuurder word glo tans aangekla.

In die dieselfde munisipale distrik, OR Tambo, wat na die gelyknamige ANC-terroris vernoem is, het ‘n maatskappy genaamd Phathilizwi Training Institution ‘n bedrag van R4,8 miljoen ontvang, blykbaar vir ‘n “Covid-19-bewusmakingsveldtog” terwyl die land onder vlak-4-inperking verkeer het. Die maatskappy het glo met 6 400 mense “gepraat”, maar niemand kan so iets onthou nie.

In Pretoria het Tshepang Phohole sowat R5,7 miljoen van die werkloosheidsversekeringsfonds ontvang wat vir 1 400 mense bedoel was. Hy en sy familie het egter die geld op motors, huisverbeterings en grafstene uitgegee. Phohole, sy vriendin en drie ander is blykbaar in hegtenis geneem en aangekla.

Nog ‘n tender van R37 miljoen is kragtens die noodregulasies deur die departement van openbare werke en infrastruktuur uitgereik om die heining by die Beitbruggrenspos met Zimbabwe te herstel. Groot dele van die baie swak opgerigte heining is egter gesteel en enigiemand, waaronder sigaret- en ander smokkelaars, loop gemaklik heen en weer oor die grens.

Die ANC-president, Cyril Ramaphosa, se eie woordvoerder word insgelyks genoem as een van die “covidpreneurs”. Op die lys van maatskappye wat geld onder die noodmaatreëls ontvang het, verkeer ‘n onderneming genaamd Royal Bhaca, wat aan die eggenoot van Ramaphosa se woordvoerder, Khusela Diko, behoort. Volgens ‘n berig in verlede week se Sunday Independent het Royal Bhaca, wat aan Bhaca King Thandisizwe Diko behoort, twee kontrakte met ‘n gesamentlike waarde van R125 ontvang. Blykbaar bestaan daar ‘n “noue verbintenis” tussen die Diko’s en die Gautengse LUR vir gesondheid, Bandile Masuku se familie, vandaar die “sake” wat die provinsie met Royal Bhaca gedoen het.

Nog ‘n swartman met politieke verbintenisse, Sicelo Buthelezi, het drie tenders met ‘n gesamentlike waarde van R873 miljoen van die provinsie Gauteng ontvang. Buthelezi is ‘n voormalige voorsitter van die ANC se Sandtontak en was voorheen ‘n “raadgewer” van die vorige LUR vir gesondheid in Gauteng, Qedani Mahlangu. Sicelo Buthelezi se maatskappy heet HSB Mercantile.

Buthelezi ontken egter dat daar enige belangekonflik by die tenders betrokke was. Volgens hom het hy “laas in 2012 vir die departement gewerk”. Toe die Sunday Times hom vra of hy wel geld ontvang het, het hy geanwoord: “Sekerlik is daar ‘n konstante verhouding maar ek kan nie sonder my kliënt se toestemming enige besonderhede bekendmaak betreffende my maatskappy se rol as diensverskaffer aan hulle nie.”

‘n Ander ANC-kader, Thabiso Lekoana, se naam verskyn eweneens op die lys van covidpreneurs. Sy maatskappy, LNG Scientific, het R113 miljoen se tenders van die Gautengse gesondheidsdepartement ontvang. Hy het bevestig dat hy met die departement “sake doen”.

Die verband tussen ‘n platemaatskappy en die verskaffing van gesondheidsgoedere is nie so helder nie. Maar in die geval van Ntsikelelo Khatyana, wat bande het met die voormalige tesouriergeneraal van die ANC-jeugliga, Reggie Nkabinde, het dit vir hom ook ‘n tender verkry. Khatyana is die uitvoerende beampte van die platemaatskappy, Mabala Noise, wat aan Nkabinde behoort. Dit het Khatyana in staat gestel om vir sy eie maatskappy, Olwe2 Project Management Consultancy, ‘n R17-miljoen-tender van die Gautengse gesondheidsdepartement te verkry. Hy wil egter nie met die media daaroor praat nie.

Die lof van die ontslape swart sakeman van Soweto, Richard Maponya, is al dikwels besing. Nou het die naam van sy dogter, Chichi Maponya, egter opgeduik as een van die begunstigdes van gesondheidstenders in Gauteng. Haar maatskappy, Maponya Medical Solutions, waarvan sy een van drie direkteure verteenwoordig, het nie minder nie as drie tenders met ‘n totale waarde van R267 miljoen tussen 30 Maart en 3 April vanjaar ontvang. Sy reageer nie op boodskappe nie.

‘n Woordvoerder vir die Gautengprovinsie, Thabo Masebe, het erken dat die spesiale ondersoekeenheid tans die lys tenders ondersoek. Volgens hom het die Gautengse gesondheidsdepartement “rampbestuurregulasies gebruik om diensverskaffers aan te stel, terwyl daar van streng tenderprosedures afgewyk is. Amptenare van die Gautengse ouditdepartement het probleme raakgesien met kontrakte wat etlike miljoene rande beloop”. Volgens die ouditdepartement het die bedrae buitensporig gelyk en wou dit voorkom asof die proses nie billik was nie.

‘n Vorige werknemer van die SAUK, Kaizer Kganyago, doen tans diens as woordvoerder vir die spesiale ondersoekeenheid. Hy sê: “Ons span is nou reeds hier (by die Gautengtesourie) vir ‘n week of meer. Hulle het reeds vasgestel dat daar 90 maatskappye betrokke is. Dis bloot by die gesondheidsdepartement waar dit gaan om persoonlike beskermingstoerusting. As een so ‘n kontrak R125 miljoen werd is en daar is 90 van hulle, verteenwoordig dit baie geld.

“Ons kyk veral na aankope en nakoming van die tesourie se regulasies. En daardie regulasies is baie spesifiek as dit by pryse kom. Daar was ‘n duidelike regulasie en raamwerk wat deur die nasionale tesourie ingestel is. Ons kyk of mense dit nakom, onder andere,” het Kganyago verklaar.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.