Volkstaat sal nie uit die lug neerdaal nie

Deel op

ImageDie huidige debat oor parlementêre deelname deur Afrikaners is 'n teken dat ons politieke bewussyn besig is om te ontwaak, waarvoor ons PRAAG se webtydskrif moet bedank. Vanweë sy onverbondenheid slaag die PRAAG-werf daarin om eerlike menings van verskeie bydraers te ontvang en om daardeur 'n beter begrip te kry van hoe ons mense werklik voel.

Deel op

Dalk sal dit nou goed wees as ons bietjie vertoef by die word "selfbeskikking" asook die begrip van "vryheid". 'n Senior lid van die ANC het eendag by 'n konferensie in die Kaap beweer dat Afrikaners ook van apartheid bevry is, dat hulle vry is binne die mees liberale grondwet op aarde en dus geen selfbekikking benodig nie.

Waarop ek hom vra: "Nou waarom kan ons nie ons eie skole beheer nie? Waarom dan nie ons eie skoolkurrikula opstel nie? Waarom mense aanstel wat geen woord Afrikaans kan verstaan en aan ons kinders voorskryf wat hulle mag leer en nie mag leer nie? Wat van ons geskiedenis, ons letterkunde, ons gedigte en ons liedereskatte?"

Vryheid beteken vir my om nie onder beheer van ander persone of instansies te staan nie, om nie deur arbitrêre regulasies ingeperk te word nie, en om my eie denke volgens eie aard mondelings of skriftelik te formuleer en sonder beletsel na ander oor te dra. Dan is jy vry van die bande wat burgers soos marionette beheer.

Selfbeskikking is die som van al die regte wat gesamentlik deur 'n gemeenskap besit word om aan daardie gemeenskap die reg te verleen om sy eie toekoms volgens sy eie aard, sonder die toedoen van enige ander gemeenskap of owerheid, self uit te werk en na te streef.

Beperkings word altyd geplaas op vryheid. Die vryheid van ander persone kan negatief geraak word deur jou vryheid. Enige mens kan sy motor oral heen bestuur, solank hy binne die spoedbeperking en verkeersreëls bly, anders word ander padgebruikers se veiligheid deur jou vryheid van beweging bedreig.

Selfbeskikking van een gemeenskap word egter nooit deur dié van 'n ander bedreig of ingeperk nie. Ek sou sê dat dit die wesenskenmerke van vryheid en selfbeskikking is.

Die gesamentlike regte van gemeenskappe en die vryheid om dit volgens eie aard saam uit te leef, is die reg wat Afrikaners nou moet opeis. Die Suid-Afrikaanse grondwet, soos hy tans geskrywe staan, maak dit moontlik om nou reeds selfbeskikking van 'n gevorderde aard te beoefen, maar dan moet die gemeenskap homself as 'n volwaardie gemeenskap organiseer.

Die semantiek van die Grondwet veroorsaak dat heelwat verwarring by mense oor die begrippe minderheidsregte en gemeenskapsregte bestaan. Nêrens word daar van minderheidsregte in die Grondwet gepraat nie, maar slegs van gemeenskapsregte. Hieronder word godsdienstige, kulturele en taalgemeenskappe bedoel. Terwyl daar in die Afrikaanse politieke semantiek van volke gepraat word, word in die Europese Unie se protokolle van minderhede en minderheidsregte gepraat. Dit skep verwarring by diegene wat hierdie kwessies in Engels wil debatteer.

Die sleutel tot selfbeskking lê daarin dat Afrikaners moet aandring op die skeiding tussen organe van die burgerlike samelewing en van staatsinstellings. Ek het by dr. Christo Landman, voormalige Kommissaris van die Artikel 185-Kommissie, gaan kers opsteek en hier is sy vertolking daarvan:

  • Dit is 'n fout om uit die Grondwet, 1996, af te lei dat dit vir minderheidsgroepe voorsiening maak.
  • Die term minderheidsgroepe het 'n etniese inslag.
  • Etnisiteit herinner aan apartheid, sal die opstellers van die Grondwet redeneer.
  • Die Grondwet maak wel op allerlei wyses voorsiening vir die regte van georganiseerde gemeenskappe.
  • So word 'n duidelike onderskeid gemaak tussen organe van die staat (a.239) teenoor organe van die burgerlike samelewing (a.31(1)(b)).
  • Nie net is daar gesagsverdeling tussen die organe van die staat (wetgewend, uitvoerend en regsprekend) nie, maar ook mag die organe van die staat nie in die interne bevoegdheid van die organe van die burgerlike samelewing inmeng nie.
  • Die georganiseerde organe van die burgerlike samelewing word in a.185 nader bepaal deur 'n Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe.
  • Artikel 185 en die 185-Kommissiewet 19 van 2002 maak voorsiening vir die registrasie van rade. Alhoewel die 185-Kommissie kan help met die daarstelling van Rade, is en bly dit die plig van organe van die burgerlike samelewing om tot Rade oor te gaan.
  • Rade is privaatregtelike instellinge wat by die publiekregtelike 185-Kommissie bloot om registrasie vra.
  • Die reg op godsdiens word in a.15 en die reg op taal en kultuur in artikels 30 en 31 omskryf.
  • Om 'n gemeenskapsreg te kan bevorder en te kan beskerm moet omskryf word wat met taal, godsdiens en kultuurgemeenskapsregte bedoel word.
  • Artikel 234 maak voorsiening vir die grondwetlike aanvaarding van ander regte as individuele regte, soos omskryf in hoofstuk 2 van die Grondwet.
  • Dit behoort die 185 se plig te wees om taal-, godsdiens- en kultuurregte te omskryf en in terme van artikel 234 by die Parlement te laat goedkeur as deel van die Grondwet van SA.
  • Die aangestelde Kommissarisse sedert 2004 was onbevoeg om hierdie taak te verrig en dit is my submissie dat die Voorsitter 'n politieke opdrag gehad het om Rade te laat skipbreuk ly.

Die 185-Kommissie het liederlik gefaal om sodanige regte te formuleer. Insgelyks het die burgerlike organe nagelaat om dan in die afwesigheid van prestasie deur 185 sodanige regte te omskryf.

Ons het dus te make met 'n lam regering wat nie rigting het nie en slap gemeenskapsorganisasies wat hulself nie in verteenwoordigende rade wil organiseer om hul plig teenoor toekomstige geslagte na te kom nie.

Hieruit kan mens aflei dat die ANC-regering willens en wetens die grondwet volgens hul eie agenda vertolk en die land se kultuurgemeenskappe laat Gods water oor Gods akker loop terwyl elkeen van 50 Afrikanerorganisasies die volk op sy eie wil red.

As Afrikaners nie eens in staat is om hul gemeenskapsregte op te eis nie, kan hulle die volkstaatdroom maar op hul mae skryf. 'n Volkstaat sal nie uit die lug op hulle neerdaal nie.

free casino gamblingДанильченко Юрий Брониславович Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.