Brief: Enkele opmerkings oor Jakes Gerwel se nalatenskap

Gerwel en Mandela
Deel op

Op 13 deser het ek op die ondergenoemde artikel van Melt Myburgh gereageer deur my opmerkings na LitNet te stuur. Hierdie teks is egter nie gepubliseer nie. Ek stuur dit dus hiermee na Praag vir moontlike publikasie. Ek het die teks intussen met verdere inligting aangevul, wat ná die oorspronklike teks volg.

oo0oo

Melt Myburgh se artikel, “Jakes Gerwel se soet nalatenskap vir Afrikaans” (LitNet 9.07.2020), is in deurslaggewende opsigte selektief oor Jakes Gerwel (1946-2012). Aanvullende inligting kan ‘n meer realistiese beeld tot gevolg hê.

Ek het vir Gerwel geken. Oor sy marxistiese oortuigings was hy uitgesproke. Sy doktorale proefskrif was “deeply influenced by two contrasting strains of progressive thought, Black Consciousness writing and Marxist theory and literary criticism” (John Higgins, Academic freedom in a democratic South Africa, Johannesburg: Wits University Press, 2013, p 227). In ‘n onderhoud in Augustus 2012 het Gerwel gesê: “For me Marx’s thinking still provides the best analytical tools for understanding societies in conflict, societies of inequality, and societies seeking change” (241). Ook: “Clearly understanding the world is an important form of changing the world and Marx himself is an exemplar of that” (249).

Toe Gerwel die rektor van die Universiteit Wes-Kaapland (UWK) was (1987-1994), was Jaap Durand ‘n vise-rektor. In sy outobiografie skryf Durand: “Met sy aanstelling as rektor het hy [Gerwel] sy besonderse intellektuele vermoëns ingespan om die UWK bekend te maak as ‘the intellectual home of the left'” (Jaap Durand, Protesstem: Oomblikke van herinnering, Wellington: Bybelkor, 2016, p 191). Met ander woorde, Gerwel wou die universiteit transformeer in ‘n verlenging van sy eie politieke oortuigings. Dit druis lynreg in teen akademiese vryheid, waarvolgens ‘n universiteit soos ‘n markplein moet wees waar die vrye uitruiling van idees nie net moontlik is nie, maar ook aangemoedig word.

Durand skryf; “Jakes het die daaglikse administrasie van die universiteit, insluitende die bouprogram, aan my oorgelaat” (191). Wat het Gerwel as rektor dan gedoen? Hy het hom by voorkeur met die politiek besig gehou. Durand verwys onder meer na twee buitelandse reise wat hy en Gerwel onderneem het: na Lusaka in Zambië in 1986 en Dakar in Senegal in 1987; in albei gevalle om gesprek met lede van die ANC te voer. Hulle vernaamste kontakpersoon in die ANC was Thabo Mbeki. “Ons het nagte om met hom gesels en na video’s gekyk wat in Suid-Afrika verbode was” (191). Gerwel en Durand het in 1990 ook ‘n besoek aan Rusland gebring. Wie het die reis- en verblyfkoste vir hierdie buitelandse reise betaal? Die antwoord is: die UWK, dus eintlik die “apartheidsregime”. Hieromtrent is daar geen rwyfel nie. Durand noem daardie reise “besonderse geleenthede wat ek deur die universiteit se bemiddeling beleef het” (190). By geleentheid het Gerwel Fidel Castro se Kuba gesoek. By sy terugkeer het Gerwel gesê dat hy nie sou omgee om daar te woon nie.

Die subsidiëring van Gerwel se politieke aktiwiteite deur die “apartheidsregime” strek verder. Ton Vosloo vertel in sy outobiografie dat hy Gerwel destyds dikwels op lughawens in die buiteland raakgeloop het. “Eers baie later sou ek uitvind Jakes was so in die stilligheid ‘n koerier van die ANC, met boodskappe na kamerade in die buiteland” (Ton Vosloo, Oor grense: ‘n Lewe in die media in ‘n tyd van verandering, Jeppestown: Jonathan Ball, 2018, Amazon Kindle 3608). Ek dink dit was immoreel om van die UWK of NP-regering te verwag om uitgawes verbonde aan die politieke bedrywighede van Gerwel en Durand te dra. Maar dit toon aan die mate waarin die NP-regering universitêre outonomie eerbiedig het; iets wat sedert 1994 glad nie meer bestaan nie. Selfs Durand erken: “Die [NP-]regering het sover moontlik die indruk probeer skep dat hulle aan die UWK ‘n sekere mate van onafhanklikheid gun en dat hulle nie sonder meer sou inmeng met die besluite van die Universiteitsraad oor die algemene rigting wat die universiteit moet inslaan nie” (121).

Sedert 1994 bestaan daar plaaslik bloedweinig akademiese vryheid. Vóór 1994 het dosente dikwels luidkeels op akademiese vryheid aangedring. Net soos Afrikaansdosente deesdae ‘n gewoonte daarvan maak om nie vir Afrikaans in die bres te tree nie, lyk dit asof (feitlik) alle dosente gelate aanvaar dat akademiese vryheid iets van die verlede is. Sedert 1994 het die regering universitêre outonomie doelbewus vernietig. Universiteite word openlik met die opskorting van hulle staatsubsidies afgedreig as hulle dit sou waag om nie regeringsbevele uit te voer nie. Anders as voorheen is daar by geen universiteit sprake van daadwerklike verset teen hierdie wantoestand nie.

‘n Groot leemte in Myburgh se artikel is ‘n gebrek aan duidelikheid oor Gerwel se rol in Afrikaans. Voordat Gerwel die rektor geword het, was hy ampshalwe ‘n Afrikaansdosent. Weens sy preokkupasie met revolusionêre ANC/SAKP-politiek het hy hom egter nie geroepe gevoel om juis (of spesifiek) Afrikaansletterkunde (of -taalkunde) te doseer nie. In sy eie woorde: “I was teaching Sociology of Literature” (Higgins 250). Sy amptelike gebrek aan doseerentoesiasme vir Afrikaans as sodanig volg uit sy ideologiese verknogtheid aan die ANC/SAKP. Hy sê: “I think if the ANC had come to power through a revolutionary seizure of power, we probably only would have had English as an official language” (Higgins 240). Met die erkenning van elf amptelike tale het die ANC met ‘n draai bereik wat hy wou hê, naamlik dat Engels sedert 1994 in die praktyk as eintlik die enigste amptelike taal funksioneer.

Die skade wat Gerwel Afrikaans aangedoen het, strek veel verder. Weens sy verknogtheid aan die ANC/SAKP wou hy die UWK, wat in 1960 as ‘n etniese universiteit vir bruin mense tot stand gekom het, transformeer in ‘n universiteit vir by uitstek die meerderheid Suid-Afrikaners, dus swart studente. Swart studente, selfs diegene sonder matrikulasievrystelling/universiteitstoelating is aangemoedig om na die UWK te kom. Hulle koms het nie sonder (sterk) weerstand uit bruin geledere geskied nie. Swart studente was spoedig in die meerderheid op die kampus en het daarop aangedring dat onderrig uitsluitlik in Engels verskaf moet word, terwyl die UWK tradisioneel ‘n oorwegend Afrikaansmedium universiteit was. Ooreenkomstig die wens van die ANC/SAKP is aan hierdie eis toegegee.

Die feit dat die UWK deesdae uitsluitlik ‘n Engelse universiteit is, is by uitstek aan die ywer van Gerwel en Durand te wyte. Die verantwoordelikheid vir die verskaffing van Afrikaansmediumonderrig aan bruin studente is sodoende op die Universiteit Stellenbosch (US) afgeskuif. Die US het graag bruin en veral swart studente toegelaat maar sy verantwoordelikheid kragtens Jan Marais se stigtingsvoorwaarde, naamlik dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels mag beklee nie, is al hoe meer geïgnoreer. Anders as voorheen is nóg die UWK nóg die US deesdae bastions van Afrikaans.

Tereg word in Myburgh se artikel gewag gemaak van Gerwel se gebruik van die woord soomloos. Ek het Gerwel se aandag op die foutiewe gebruik van die woord gevestig. Teen die einde van sy lewe het hy van naatloos gepraat. Daar is dikwels teenstrydighede in wat iemand enersyds amptelik en andersyds in sy privaat of persoonlike hoedanigheid doen. Afrikaanssprekendes wat Engels as hulle huistaal verkies het, soos Adam Small en Franklin Sonn, het Gerwel verkwalik omdat hy, anders as hulle, sy kinders Afrikaans grootgemaak en hulle onderrig aan Afrikaanse skole toevertrou het. In daardie opsig het Gerwel nie toegelaat dat sy liefde vir sy moedertaal deur sy politiek verdun word nie. Hy was ook ten gunste van die behoud van twee van die vyf Afrikaanse universiteite, al het hy in hierdie opsig self so ‘n slegte voorbeeld by die UWK gestel.

Daar is gesê dat Gerwel in sy laaste jare spyt was dat hy die leiding geneem het om die UWK in ‘n eentalig Engelse instansie te transformeer. Berou het te laat gekom. Dit lyk asof die skade wat Afrikaans gely het, nie ongedaan gemaak kan word nie.

oo0oo

Ek maak van hierdie geleentheid gebruik om die bostaande teks soos volg aan te vul.

Die UWK het die voorreg gehad om vir Andries de Kock (1930-1999) meer as twee dekades lank as universiteitsbibliotekaris te hê. Hy was ‘n mens van onbesproke karakter en voortreflike professionaliteit. De Kock het in 1990 afgetree. Leon Lemmer het by ‘n vorige geleentheid na hom verwys: “Oor etniese logika, ter huldiging van Andries” (Praag 4.08.2018). Sowel Gerwel as Durand het vir De Kock geken; nie net toe hulle in die rektoraat gedien het nie, maar ook vóór dit toe hulle UWK-dosente was. Gerwel se vrou, Phoebe, het ‘n aantal jare as assistente in die UWK-biblioteek gewerk. Ek dink sy behoort net die hoogste respek vir De Kock te hê.

Durand se vrou was ook in diens van die UWK-biblioteek, maar nie soos mev Gerwel in die hoofbiblioteek nie. Randu Durand was die bibliotekaresse in die Teologiebiblioteek. In sy outobiografie noem Jaap Durand dat sy vrou ‘n “besonderse verhouding met die studente opgebou” het (p 148). Die studente het “hulle dikwels tot haar gewend … onder meer om skuiling in die biblioteek te soek” (149). Die studente waarna verwys word, is mense wat hulle aan misdadige gedrag op die kampus skuldig gemaak het, bv die uitgooi van ruite met klippe. Mev Durand het haar aan regsverydeling skuldig gemaak deur hierdie studente teen arrestasie deur die veiligheidsmagte te beskerm. Vir hierdie doel het sy die geriewe van die Teologiebiblioteek misbruik. Dit spreek vanself dat dit nie ‘n biblioteekfunksie is om die veroordeling van misdadigers te voorkom nie.

Een van die gevolge van die Soweto-opstand was dat 1976 ontaard het in ‘n buitengewoon gewelddadige jaar op die UWK-kampus. “Aan die einde van 1976 is Randu ewe hoflik in kennis gestel dat haar pos in die biblioteek afgeskaf is” (149). Hiervoor verwyt Jaap Durand vir “die baie konserwatiewe hoofbibliotekaris, ‘n sekere mnr De Kock” (149). Durand se grief het ‘n naloop gehad. Kort nadat De Kock afgetree het en Gerwel en Durand onderskeidelik die rektor en ‘n viserektor was, het Gerwel die UWK-biblioteekpersoneel na sy kantoor ontbied. ‘n Mens sou dink dat Gerwel dit andersom sou doen, dat hy na die hoofbiblioteek sou gaan as hy die personeel wou toespreek, maar dit sou nie so duidelik getoon het wie baas op die kampus is nie.

Gerwel het toe teen De Kock uitgevaar; nie omdat daar enige beswaar teen sy uitmuntende professionaliteit was nie, maar bloot omdat De Kock nie Gerwel en Durand se buitensporige entoesiasme vir die ANC/SAKP onderskryf het nie. ‘n Meer konserwatiewe of behoudende politieke ingesteldheid as sy eie is nie deur Gerwel geduld nie. Die UWK moes immers in “the intellectual home of the left” getransformeer word. Ek beskou daardie byeenkoms as uiters verwerplike kleingeestigheid van Gerwel. Dit toon duidelik dat dit vir Gerwel en Durand in die eerste plek eerder om revolusionêre politiek as akademiese oorwegings gegaan het. ‘n Biblioteek wat doeltreffend funksioneer is ‘n onontbeerlike bate op enige universiteitskampus, maar dit was in hierdie geval klaarblyklik van sekondêre belang.

Maar Gerwel se misbruik van die UWK vir nie-akademiese en spesifiek pro-ANC/SAKP-bedrywighede strek verder. Onkoste vir politieke doeleindes, gedebiteer teen die UWK, is nie ontsien nie. ‘n Opgeleide terroris, die marxis Jeremy Vearey, vertel in sy boek, Jeremy vannie Elsies (Kaapstad: Tafelberg, 2018), van sy en ander ANC-kamerade se vrylating van Robbeneiland op 9 Junie 1990; ‘n gevolg van FW de Klerk se dwase toespraak op 2 Februarie 1990. “Professor Jakes Gerwel se seremonie ‘n paar dae later vir al agt en twintig van ons in die Universiteit van Wes-Kaapland se hoofsaal was ‘n statige affêring, kompleet met ANC-leiers wat met protokolbelaaide aplomb voorgestel is as verteenwoordigers van die ‘government in waiting’. Daar was wel slagspreuke van ‘Viva ANC’ en strydliedere wat my aan die ou UWK-hoofsaal se massavergaderings herinner het, maar dit was nou baie bedaarder en formeel. Dis ‘n nuwe revolusionêre era dié, die leierskap het geland en hulle is in beheer. Dinge word nou anders as waaraan ek gewoon was, gedoen” (Kindle 1605).

Dít was die situasie in 1990 op die UWK-kampus weens die pro-ANC/SAKP-ywer van mense soos Gerwel en Durand, wat ‘n akademiese instansie tot die uiterste misbruik het ter bevordering van hulle eie politieke ideale. Vearey roem bv daarop dat hy veel meer kwaad gedoen het as wat in sy hofsaak ter sprake gekom het en wat tot sy vonnis van sewe jaar tronkstraf, waarvan vyf jaar opgeskort is, gelei het (1247). Hy en sy mede-kamerade word vereer en onthaal vir misdade deur ‘n instansie wat veronderstel is om opvoedkundig bedrywig te wees.

Wat opgeval het toe Gerwel en Durand in die UWK-retoraat gedien het, was dat Durand gepoog het om polities selfs meer radikaal links as Gerwel te wees. Dit was omdat Durand, anders as Gerwel, as blank geklassifiseer was en hy dus alles moes uithaal om te bewys dat hy onteenseglik ‘n toegewyde ANC/SAKP-kameraad is. ‘n Rol soortgelyk aan dié van Durand word tans deur André Gaum, die enigste blanke kommissaris in die ANC-regime se Menseregtekommissie, vervul.

Vanjaar, op die vooraand van Mandela-dag, 18 Julie, het die viserektor van die UWK, Vivienne Lawack, ‘n lofrede op “Tata Madiba” gelewer (Bolander 15.07.2020, p 6-7). Die UWK was glo die eerste universiteit wat ‘n eredoktorsgraad aan Mandela toegeken het; reeds in 1990. Dit was uiteraard van Gerwel en Durand te wagte. Lawack skryf: “In the mid-1980s, under the leadership of Prof Gerwel, UWC openly defied the apartheid university policies by declaring itself the intellectual home of the democratic left that openly sided with the struggles of the oppressed.”

Lawack noem ANC-kamerade wat in 1990 deur Gerwel in skyn-akademiese poste aan die UWK aangestel is sodat hulle ‘n inkomste kon hê totdat hulle in 1994 in die Mandela-kabinet opgeneem is: Kader Asmal, Dullah Omar en Zola Skweyiya. Wat is die UWK deesdae? “One of the few outstanding black institutions in our country.” Hiervolgens is die UWK steeds ‘n etniese universiteit. Voorheen was dit ‘n universiteit vir bruines. Deesdae is dit ‘n universiteit vir swartes. Wat dieselfde gebly het, is rassediskriminasie.

—Johannes Comestor

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.