Leon Lemmer: Frans Cronje oor Suid-Afrika se vooruitsigte

Dr Frans Cronje van die Instituut vir Rasseaangeleenthede
Deel op

Frans Cronje is die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasse-aangeleenthede (IRA). Hy het onlangs ‘n boek gepubliseer: The rise or fall of South Africa: Latest scenarios (Cape Town: Tafelberg, 2020, 256p, R290; Amazon Kindle $13,34). Die IRA is in 1929 gestig en beskou homself as die grootste standhoudende dinkskrum oor Suid-Afrikaanse aangeleenthede, veral die politiek en ekonomie. Sedert 1958 het die IRA ‘n Britse eweknie. Dit lyk asof die plaaslike IRA daarin slaag om in ‘n groter mate as die Britse IRA ‘n ewewigtige benadering te handhaaf, dus sake nie by voorkeur uit die oogpunt van nieblankes te benader nie.

Ek het voorheen geskryf oor die outobiografie van die vorige IRA-hoof (1983-2014), John Kane-Berman (Praag 23.06.2017). Hy het hom uitermate sterk teen die blanke bewind, by name apartheid, uitgespreek. Ná 1994 kon hy hom (voorspelbaar) ook nie verlekker in die ANC-regime nie. Hierdie tendens word deur Cronje voortgesit. Sodanige strategie hou, in die woorde van Kane-Berman, die volgende voordeel vir die IRA in: “It gave us a legitimacy for our work in the post-apartheid era.” Dit is die uitoefening van ‘n beter opsie as dié van bv oud-Broederbonders soos Willie Esterhuyse en Leon Wessels wat voortgaan met loftuitinge vir die ANC-regime.

Cronje skryf: “On the extreme right wing of South Africa’s many divides, there is a view that apartheid was not so bad because it killed only a relatively small number of people – relative to traumas experienced in other parts of the world” (Kindle 346). Volgens ANC-propaganda het Suid-Afrika weens die blankes ‘n “donker en bloedbevlekte verlede”. In werklikheid is die tweede helfte van die vorige eeu plaaslik gekenmerk deur die dood en verwoesting wat veral deur die ANC/UDF/SAKP gesaai is. Cronje gaan voort: “Similarly, black living standards and so, too, life expectancy increased over the period of colonial and white administration in South Africa” (350).

Dan volg die IRA se standpunt: “Apartheid’s great evil must not be sought in the body count or living standards of its victims, but instead in how that system stripped its victims of dignity over generations” (350). Polities byderwets hou Cronje die veel hoër getal dooies as gevolg van ANC-handeling nie teen die ANC nie. Op hoeveel waardigheid kan iemand aanspraak maak wat deur Nelson Mandela se MK-terroriste gedood is, of ‘n plaasboer wat in navolging van daardie terroriste vermoor word? Sedert 1994 word menswaardigheid by die veroordeling van apartheid oorbeklemtoon. Tans kan werkloosheid en afhanklikheid van staatstoelaes in groter mate menswaardigheid aantas, maar ook dit word die ANC-regime nie toegereken nie.

Een van die groot bates van Kane-Berman se boek is die klem wat hy op die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie plaas; dat die ANC-regime steeds aktief stap vir stap revolusionêr op pad na ‘n kommunistiese staat is, iets waaraan weinig aandag in die hoofstroom-inligtingsmedia gegee word. “If Ramaphosa was seriously intent on reform, his endeavours would be blocked by the Twin Dogmas. Dogma One is racial nationalism, which maintains that the highest good in South African society is the achievement of racial transformation” (Rian Malan in Cronje 56). Dit is eintlik ‘n uitdrukking van anti-blanke sentiment of rassisme. “Dogma Two is the doctrine of National Democratic Revolution, the Marxist-Leninist thesis inherited from the Soviet Union, where private property was regarded as theft and the state owned everything” (61).

Helen Zille meen dat die ANC sy revolusie in twee stadia wil voltrek: “First establish control of the institutions of a bourgeois democracy [1994] and then … move to the second stage of the revolution, to achieve the socialist nirvana” (296). Verandering in ANC-beleid, veral radikale verandering, is volgens Cronje feitlik buite die kwessie omdat die ANC-staatshoof nie naasteby die beweegruimte van ‘n hoofuitvoerende beampte het nie. “The ANC has a collective consciousness, and almost 100 people in its senior leadership structures need to find consensus on what the party should do” (1422). “Party unity is prioritised over reform … The ANC may have an inbuilt immunity to reform” (1431).

Die beste IRA-bydraes is myns insiens deur ‘n navorsers by die Instituut, Anthea Jeffery, gelewer met boeke soos The truth about the Truth Commission (1999) en veral People’s War: New light on the struggle for South Africa (2009, Kindle $9,19) en BEE: Helping or hurting? (2014, Kindle $16,10). Die lees van laasgenoemde twee boeke is noodsaaklik vir ‘n deeglike begrip van die fundamentele boosheid van die ANC. Dit is waarskynlik om hierdie rede dat min publisiteit aan hierdie werke gegee is. Die plaaslike universiteite is alewig op soek na mense aan wie hulle eredoktorsgrade kan uitdeel. Maar omdat hulle almal agter die ANC aan kruip, sal sodanige erkenning vir Jeffery se deeglike navorsing haar nie beskore wees nie.

Onlangs het ek geskryf oor Bruce Whitfield se boek, The upside of down: How chaos and uncertainty breed opportunity in South Africa (2020, Kindle $9,65) (Praag 20.06.2020). Cronje se boek handel oor wesenlik dieselfde onderwerp. Die verskil tussen die twee boeke is enersyds dat Whitfield oorwegend optimisties en Cronje oorwegend pessimisties oor Suid-Afrika se vooruitsigte is. Myns insiens is Cronje se insig beter en meer realisties. Andersyds is Whitfield se boek die dikwels oppervlakkige siening van ‘n enkele individu terwyl Cronje se standpunt gebaseer is op dié van ‘n groep mense wat grondige navorsing gedoen het. Maar die mensdom is geneig om optimisme bo pessimisme te verkies. Ek het die indruk dat Whitfield se boek meer publisiteit en moontlik ook ‘n beter afset geniet.

Moenie dink dat wat uit die IRA kom sonder meer vir bv Afrikaners aanvaarbaar is nie. Dit was nie vóór 1994 die geval nie en ook nie sedertdien nie. Wat in Cronje se boek opval, is dat die kulturele oorlog wat die ANC-regime met soveel oorgawe teen die blankes, veral die Afrikaners, voer, glad nie aangespreek word nie. ‘n Mens soek tevergeefs na werklike erkenning vir wat die Afrikanerdom in Suidelike Afrika tot stand gebring het. Oor Afrikaans is daar nie ‘n enkele woord nie. ‘n Liberale standpunt word verkondig: dat as alle volwassenes in ‘n eenheidstaat gelyke stemreg het, hoef die resultaat nie die volslae gemors te wees wat ons tans ervaar nie.

Tydens die bewind van Nelson Mandela en Thabo Mbeki (1994-2008) het dit glo veral ekonomies beter met die land as in die latere jare van apartheid gegaan. Maar die ekonomie was in die jare tagtig sleg daaraan toe weens die ANC/UDF/SAKP se grenselose geweld, oftewel terrorisme, asook ander lande se ondersteuning van die ANC met bv handelsboikotte teen Suid-Afrika. In die Mandela/Mbeki-era het die entoesiastiese buitelandse steun vir die ANC voortgeduur. Wat tydens die blanke bewind opgebou is, bv die infrastruktuur (2454), was toe nog nie afgebreek nie. Eskom kon toe steeds meer as genoeg elektrisiteit teen billike koste lewer (812), ens.

Sedertdien was daar “a roughly 500 per cent increase in electricity tariffs over the past decade” (1109). “According to the World Bank, a utility of [Eskom’s] size should employ roughly 14 250 personnel, but Eskom’s staff totals 30 000 more” (1109). “Eskom’s inefficiency and unmanageable debt have now grown to the point where they threaten to bring about the collapse of the entire economy” (1114). Maar staatskuld as sodanig het ook die hoogte in geskiet. “Debt levels … have doubled over the past decade” (1449). Die staat bestee te veel geld en die kamerade steel te baie van die staat. Die ANC is “an extraordinarily corrupt political party” (3353). Verantwoordelikheid vir sowel die swak ekonomiese resultate in die jare tagtig as die ekonomiese insinking in die Zuma/Ramaphosa-era, soos vergestalt in rommelstatus, moet voor die deur van die ANC gelê word.

Soos Solidariteit/AfriForum probeer die IRA sy selfbeeld met eie propaganda bou. Byvoorbeeld, die IRA “rose to become the most influential anti-apartheid think-tank in the world” (196; ook 3611) en “Our track record is of getting such predictions right” (187), asook: “We have achieved a great deal in the 25 years of our democracy” (1632). “There is nothing that gives my colleagues and me more pleasure than to publish research reports, tell the media, or advise clients here and around the world about the progress South Africa has made since 1994” (1644). Cronje beweer bv: “The charge that education was better under apartheid is wrong” (1706). Hy noem dan die hoër getal swart skoliere wat deesdae matriek slaag, asook die groter getal swart studente aan universiteite (1706) – waar die uitsaksyfer hoog is. Hy gebruik dus ‘n kwantitatiewe maatstaf om tot ‘n kwalitatiewe gevolgtrekking te kom.

Die IRA was so goed en versiende dat hy Nelson Mandela as regsstudent aan Wits gefinansier het (200). “He had been studying for the LLB for seven years and had failed the final year three times” (David James Smith, Young Mandela, London: Weidenfeld & Nicolson, 2010, p 68). In Mandela se outobiografie staan: “My performance as a law student was dismal” (Long walk to freedom, London: Abacus, 1995, p 104). In hierdie geval kan die IRA se goedertierenheid dus nie akademies geregverdig word nie.

Ander mense waarop die IRA roem is Denis Hurley, Stanley Mokgobo en Helen Suzman (Cronje 205). Dit is duidelik dat Afrikaners moeilik in hierdie geledere sal inpas. Die IRA som sy standpunt soos volg op: “We stand for classical liberalism, an effective way to defeat poverty and tyranny through a system of limited government, property rights, a market economy, freedom of speech, individual liberty and the rule of law” (225). Dalk klink dit nie te sleg nie, maar daar word skynbaar geen ruimte vir bv groepregte en kulturele verskille in etnisiteit gelaat nie. Daar is ook geen werklike besorgdheid oor die belange van Afrikaners en Afrikaans nie. Maar Cronje skryf darem: “People and the communities should have the ultimate say over how the schools, clinics and police stations in their communities are run” (234). Dit is ‘n meer aanvaarbare benadering as dié van Panyaza Lesufi maar onhaalbaar terwyl die ANC-regime in sy huidige gedaante die politiek in hierdie land dikteer.

Cronje distansieer hom van “demagogic right-wing movements” soos dié van Viktor Orbán in Hongarye (243) wat die Hongaarse kultuur teen vreemde inkommers wil beskerm. “The great bulk of public opinion in the country [South Africa] is in favour of the pendulum swinging back to the moderate and the pragmatic” (312). “Liberal democracy … transcends ethnicity and race” (286). Cronje glo hieraan. Hy dink dat die meerderheid Suid-Afrikaners dieselfde waardes deel (1558). Hy voorsien bv die moontlikheid van ‘n anti-sosialistiese, “centre-right” (1594, 3150), “multiracial” (1599),”black-led conservative party” (1558), wat uiteraard ‘n onverkwiklike voortsetting van die blankes se (politieke) onderdanigheid sal noodsaak. Cronje is selfs bereid om sy voorkeur aan hierdie scenario te gee. “My reasoning is that South Africa is a broadly moderate to conservative society that might retain the basic trappings of liberal democracy” (3217).

Teen die einde van sy boek kom Cronje met groter realisme vorendag: “The hard reality is that the odds against South Africa’s success are considerable” (3516). Daar is by Cronje ‘n groot mate van ontkenning van (diepe/onoorbrugbare) kulturele verskille. Henry Kissinger, daarenteen, dink liberale demokrasie “would be impossible to achieve in Africa” (286). Cronje verwys na ‘n IRA-opname waarin bevind is: “Among respondents in general, 54 per cent agreed that South Africa is a country for black people in which white people must take second place” (2164). Volgens hierdie meerderheidsmening is daar in die nuwe Suid-Afrika dus nie sprake van rassegelykheid nie; iets wat duidelik uit die toepassing van die ANC-regime se beleid blyk.

Wat Cronje doen, is om die ANC/SAKP se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) met die IRA se liberale demokrasie te kontrasteer (84, 400). “The counterweight to sosialist ideology or NDR thinking can be found in the liberal tradition” (191). Eersgenoemde word voorgehou as die roete na die verderf en laasgenoemde as die weg na saligheid. Die NDR gee uitdrukking aan die wese/kern van die ANC. Die NDR is in 1962 deur die SAKP en in 1969 deur die ANC aanvaar (93). “The doctrine of the NDR is based on Lenin’s theory of imperialism, which held that the wealth of the colonial powers arose solely from their oppression and exploitation of the colonised. From this foundation, Lenin argued that the purpose of anticolonial revolutions must always be to dispossess the coloniser and then embrace communism, failing which the colonised could never be free” (93). “The greatest uncertainty facing South Africa, in our estimation, will be the ideological evolution of policy. Will a future government embrace liberal structural reforms or rather persist in executing NDR ideology?” (2875).

Getrou aan sy anti-blanke oriëntasie word die blanke bewind van 1910 tot 1994 deur die ANC as “colonialism of a special type” beskou (97). Ons “bevryding” in 1994 en die ANC-regime se jaarlikse Vryheidsdag (27 April) sal daarvolgens dus eers werklik ten volle gevier kan word as die 1994-revolusie in ‘n heeltemal kommunistiese Suid-Afrika vergestalt word. Desnieteenstaande is daar blankes, insluitende verloopte Afrikaners, wat steeds hoë lof vir FW de Klerk se mandaadlose politieke magsoorgawe het.

Wanneer ek Naspers/Media24-publikasies lees, val dit op hoe hoog Ramaphosa (feitlik) deurgaans aangeslaan word. Hy is glo baie beter as sy voorganger, Jacob Zuma. “Cyril” word voorgehou as dié groot hervormer van die ANC. Sodanige illusie bestaan nie by Cronje nie. “We wonder whether the ‘great reformer’ exists at all” (1409). “South Africa’s larger corporations have lost confidence in the man” (874). “Today, a relatively small minority of South Africans are confident about the future of the country” (1369). Volgens Cronje is dit duidelik dat Ramaphosa vir die behoud van sy pos aan die “hard-left” (88), bv klipharde kommuniste, in die ANC uitgelewer is (163). Waarmee die Ramaphosa-regime gevolglik besig is, is “to enforce race-based policy ever more harshly and punitively” (2458).

Op 10 Julie vanjaar het die ANC-regime in ‘n omvattende dokument sy ekonomiese transformasiebeleid bekend gestel. “Dit meld dat regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse gewysig moet word om finansiering vir infrastruktuurprojekte te kry; dat die Reserwebank volkome in besit van die staat moet wees; en dat grondhervorming op ‘n groter skaal moet plaasvind” (Die Burger, 11.07.2020, p 1). Volgens Dirk Kotzé is die grondwetlike onafhanklikheid van die Reserwe Bank glo nie in die gedrang nie. Amerika se reserwe bank is bv volkome in staatsbeheer. Kotzé meen die plan beteken nie die radikale ekonomiese groep in die ANC het die oorhand gekry nie. Hy word soos volg aangehaal: Inteendeel, “dit is eerder die vingerafdrukke van pres Cyril Ramaphosa en die ‘handjievol’ ekonome in die ANC wat duidelik op die dokument te sien is … mense soos Tito Mboweni en Ramaphosa [loop] op dun ys en moet hulle sake mooi bestuur. Hulle kon dit met dié dokument regkry.” Kotzé verwerp hiermee Cronje se siening van Ramaphosa of, wat heel moontlik die geval is, hy het nog nie Cronje se boek gelees nie. Kotzé is ‘n politieke kommentator en nie ‘n ekonoom nie.

Cronje skryf: Tydens die ANC se Nasrec-konferensie in Desember 2017 “Ramaphosa was so hounded by the [Zuma camp] that he was forced into seeking sanctuary from the leftists (and surrendered much of the Cabinet to them), thereby stalling the prospects for ideological, and therefore economic, reform” (1396). “Two years after Nasrec the only major policy moves have been those that would reduce South Africa’s economic competitiveness” (1413). “We … would not be surprised if [Ramaphosa] turned out to be a one-term president” (1417). “The Ramaphosa government has backed down from most conflicts with public sector unions and may continue to do so. In the face of a determined onslaught from the more corrupt elements in his party, President Ramaphosa’s small band has sought support from the left flank of the party and, now in hock to them, has handed over control of much of the economic cluster in Cabinet to trade unionists and members of the SACP” (896; ook 988).

“One of the few things now holding the ANC together is the unwritten assurance that if you remain loyal to the party your loyalty may translate into cash payments from the state – in the form of everything from social grants for poor people to tenders for more senior party leaders and government officials … Reports from the Auditor-General suggest that since Ramaphosa came to power, levels of wasteful government expenditure have not reversed but appear to have increased” (900). Ramaphosa probeer ook om sy posisie as staatshoof te verskans met bv sy entoesiastiese propaganda vir die onteiening sonder vergoeding van blankes se eiendom en sy periodieke nydige aanvalle op blankes in die algemeen en Afrikaners in die besonder.

“One of the things that now holds [the ANC] together is cash. If you remain a loyal cadre and don’t rock the boat or criticise the leadership, you will be rewarded with access to cash via the state. This might take the form of tenders or business deals or an appointment to a job in the civil service. That is why austerity, cutting the size of the civil service, rooting out corrupt tenders, and selling state-owned firms is such a great difficulty for the ANC” (1454). Tans word die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ná volgehoue wanbestuur ontbind. Pleks van die saak daar te laat, wil die ANC-regime ‘n nuwe nasionale lugdiens daarstel. Die kans op sukses is skraler as die vorige rondte toe die kamerade ná 1994 bloot moes voortgebou het op die uiters suksesvolle SAL wat tydens die blanke bewind tot stand gebring is.

Cronje noem onteiening sonder vergoeding “the single most serious threat faced by the country given that such rights anchor substantive human liberty in every free and open society” (167). “If [the ANC’s] attempts to change the property clause in the Constitution succeed, it will have further opened the way to seizing pension funds and household savings to plug spending gaps, which, unless pension-fund holders start putting sufficient pressure on financial institutions, is a very real prospect” 936).

Soos RW Johnson voorsien Cronje dat die ANC-regime internasionale hulp van bv China of die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sal moet kry om hom uit sy skuldstrik te help. Dit sal meebring dat die ANC-regime nie vryelik kan voortgaan soos tans nie. “For many in the ANC, the IMF might be an ideological bridge too far” (945). Eintlik word alles in die ANC primêr deur sy dogmatiese ideologie bepaal en nie deur wat in die land se beste belang is nie. “Ideological dogma … override[s] policy pragmatism” (1077).

Wat dringend nodig is, is grondige strukturele hervorming, maar daartoe is die ANC klaarblyklik nie in staat nie. Daar is bv “no prospect of a ratings agency upgrade” (1001) – rommelstatus het vir die afsienbare toekoms (bv die 2020’s) gekom om te bly (992). “Moody’s … eventual decision to put South Africa into junk status is one we regard as long overdue” (1005). “South Africa’s economy is in real trouble” (1014). “In 2019 the South African economy grew at less than 1 per cent, while other emerging markets averaged growth rates of nearer to 5 per cent – a self-inflicted privation that can be ascribed in great measure to the policies of its government” (1018). “The next couple of years will be tough, and the downside risks are great – but the possibility of pulling out of the country’s present dive and growing strongly into the end of this decade, and then into the 2030s, is real” (3525).

“The three most important areas of policy are those relating to labour, empowerment and property rights” (1028). In die geval van arbeid word die werkers oorbeskerm teen die werkgewers, wat as bose uitbuiters voorgestel word. “This rhetoric presented the private sector and entrepreneurs as inherently cruel and exploitative, and employees as vassals who needed to be protected from the ravages of employment” (2610). Minimum lone word afgedwing en vakbonde roep stakings, wat dikwels gewelddadig is, uit as die vergoeding van werkers nie teen hoër as die inflasiekoers aangepas word nie. Dit bring mee dat Suid-Afrika wat produksiekoste betref internasionaal onmededingend is. “In general, wages are too high and productivity is too low” (1118). “The most violent strike to date was in 2006, when 69 non-striking guards were killed [in a Cosatu strike. It] saw more people killed at the hands of union supporters, than the police would later kill at Lonmin’s Marikana strike in 2014” (1082); eintlik 2012, met 47 dooies. Cosatu-lede beweer: “Strike violence is necessary to achieve desired outcomes” (1086). Dit is wat die ANC, met Nelson Mandela aan die spits, hulle geleer het: dat geweld tot die gewenste resultate lei, dus lonend is.

Werkloosheid neem toe omdat dit vir werkgewers uiters moeilik gemaak word om werkers te ontslaan of selfs tydelik aan te stel. “The number of unemployed black South Africans increased from 1.6 million in 1994 to 5.9 million in 2019” (1068). “Among young people aged 15 to 24 … [unemployment] stood at a staggering 56.4 per cent. Among young black people, it was even higher” (1073). Daar is talle drakoniese bepalings oor werkure en -omstandighede, oortydbetaling, verlof met betaling, insluitende kraamverlof vir mans, ens. Die klem is op die regte van werkers; nie op hulle verpligtinge nie.

“Empowerment policies are split into two streams. The first is employment equity (EE) policy (which sets race-based targets in workforces) and the second is black economic empowerment (BEE) policy (which sets race-based targets for business ownership and the procurement of goods and services). Both have one thing in common, which is to bring about the assumed norm of ‘demographic representivity’ in terms of which the different gender, race, and related groups in a heterogeneous society are supposed to fan out into management positions, business ownership, and procurement contracts in keeping with their shares of the overall population” (1127). Die bevolking is 80% swart.* Dit word as norm by regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging gebruik; eintlik misbruik, want 50% van die swart bevolking is onder 25 jaar oud, het min of gebrekkige skoolonderrig en dikwels geen werkondervinding nie, sodat hulle kwalik poste bo die allerlaagste vlak doeltreffend kan beklee (1131).

[* Weens “natuurlike” aanwas en die invloei van inkommers sal daardie persentasie (80% swart) al hoe hoër neig. Die minderheidsgroepe sal al hoe meer verswelg word. Demografies is die blankes gedoem om ‘n al hoe meer onbenullige faktor te word wat toenemend aan die willekeur van die swart heersers se grille uitgelewer sal wees. Dit is die kern van die wan- of misdaad wat in 1994 teen die blankes met die mandaatlose politieke magsoorgawe gepleeg is. Die gebruiklike ná 1994 demografieresep was: 9% blank, 9% bruin en 2% Asiaat. Cronje pas dit soos volg aan: “9% white, 9.6% coloured and 2.6% Indian” (2281); dus, binne die minderheidsgroepe sink die blankes ook.]

Ingevolge swart ekonomiese bemagtiging (SEB) moet maatskappye 25% van hulle bates aan swartes verkwansel, sonder enige teenprestasie (1140). In die mynsektor is dit 30% terwyl steenkoolmyne 51% in swart besit moet wees om sake met Eskom te doen (1240). Swartes moet 60% senior, 75% middel en 88% junior bestuursposte beklee (1145). Die ideaal van gelyke geleenthede is eintlik met gelyke uitkomste vervang. Die ANC-regime “enforce pure equality of outcomes in all spheres” (2317). “This is the path that leads ultimately towards exodus (or worse) for minorities and national suicide for the majority” (2322). Maatskappye moet 80% van hulle goedere en dienste van ondernemings koop waarin swartes minstens ‘n kwart van die aandeelhouding besit (1145). Maatskappye wat oortree, kan met 10% van hulle omset beboet word (1149). Genade in die toepassing van SEB kan met skenkings aan die ANC en SAKP verkry word (1172). ‘n 2015-wet “removes any right to international arbitration and limits compensation for expropriation” (1248).

Die skroewe word dikwels in die naam van “radikale ekonomiese transformasie” aangedraai (1193). Ingevolge die NDR gaan dit uiteindelik om “state power of and control over the national wealth” (1197). Die beoogde nasionale gesondheidsversekering kan/gaan meebring dat private mediese skemas sluit en hulle bates deur die staat oorgeneem word. Dit kan ook die einde van privaat hospitale en mediese praktyke beteken (1295, 1728). Die SAKP se uitgangspunt is: “social needs before private profits” (1299). Pensioenfondse en finansiële instansies kan vorentoe deur die ANC-regime verplig word om geld in sukkelende semi-staatsondernemings te belê (1299). Privaat spaargeld kan ook ten prooi van die ANC-regime val (1304).

“Property rights policy is the most important of the lot, as such rights anchor substantive human liberty in every free and open society and determine the extent to which a country attracts the risk-taking capital investment and entrepreneurship necessary to grow its economy” (1032). Wat die ANC-regime wil doen, is om bv blankes se plase sonder vergoeding te onteien, hulle staatsbesit te maak en hulle dan vir 50 jaar by voorkeur aan swartes te verhuur (1216). Sulke boere word dan eintlik staatsamptenare (1309). Dít terwyl “between 70 and 90 per cent of land reform projects have failed, with previously successful farms soon falling out of production” (1266). “The ANC’s refusal to grant them individual ownership … has barred them from raising working capital from the banks” (1271). “Because property rights are also intrinsic to human liberty in every free and open society, eroding those rights opens the way to eroding civil rights and the rule of law” (1472). Die ANC-regime het reeds water- en mineraalregte, insluitende olie en gas, sonder meer genasionaliseer (1235).

Die ANC word deurgaans deur sy ideologie aan die neus gelei. Wat noodsaaklik is, is wat Cronje “complete reversals” noem, “to give the country a chance at economic recovery … Policy reform must always be preceded by ideological reform” (1322). “Noam Chomsky said that ‘the smart way to keep people passive and obedient is to strictly limit the spectrum of acceptable opinion, but allow very lively debate within that spectrum'” (1331). Die ANC-regime, met die hartlike samewerking van die hoofstroom-inligtingsmedia, slaag uitmuntend hierin. Enigiets buite die polities byderwetse raamwerk word as bv rassisties,verregs of verlange na die verlede veroordeel. Die blankes het in werklikheid dikwels geldige redes om na die goeie ou dae terug te verlang.

Die nuwe Suid-Afrika is dus nie werklik die hoog geprese vrye samelewing soos die ANC-regime graag verkondig nie. Dit is ook nie ‘n oop samelewing nie. Die blankes se vryheid van uitdrukking word bv deur laakbare hofuitsprake aan bande gelê. Gedwonge rasse-integrasie word aan almal opgedring. Suid-Afrika sou ‘n meer voorspoedige land wees en die blankes sou meer gelukkig en lojaal wees as die lede van iedere ras- en etiese groep kon kies tussen enersyds rasse-integrasie en andersyds bv eie skole en woongebiede. Iedereen sou hom dan volgens sy voorkeur kon skik.

“In 2010, 8% of protests in the country were violent. That figure would increase steadily to peak at just under 25% in 2017” (1378). “Sasria (which provides special risk cover for public disorder, strikes and riots) reported in 2019 that the number of annual claims it received had gone up from some 2 700 to more than 5 400 over a twelve-month period” (1382). “In 2019 the Road Freight Association reported that over 1 300 trucks had been attacked, damaged, or destroyed by violent action over a period of twelve months and that almost one person per day was being killed in that industry as a result of such actions” (1387).

Dan volg hierdie gepaste kommentaar: “That such violence continues unabated suggests that the state is surrendering its monopoly on the use of violence in society” (1387). Die gewelddadige Suid-Afrikaanse samelewing is die nalatenskap van die ANC, sekerlik insluitende die voorbeeld wat Nelson Mandela gestel het, maar die skynheilige ANC verkies om nie eienaarskap hiervan te erken nie. In plaas daarvan word allerhande beweerde nalatenskappe van apartheid dikwels opgehaal en veroordeel.

Nadat skade aan openbare en privaat eiendom tydens geweldpleging aangerig is, volg daar gewoonlik geen veroordelings nie. Op hierdie manier word voortgesette geweld aangemoedig. Dit behoort absoluut verbode te wees om bv openbare paaie te versper en voertuie met klippe te bestook. Dit is ekonomiese sabotasie. Geen land kan voorspoedig wees as daar dikwels onsekerheid bestaan of paaie, selfs hoofweë, benut kan word nie. Cronje spreek nie hierdie probleem aan nie. Swaar strawwe kan verligting bring pleks van die gewilde retoriek dat mense die onvervreemdare reg het om te betoog. Betogings behoort ten minste vreemsaam en nie-ontwrigtend te wees.

By die lees van die misdaadstatistiek wat deur Croinje verskaf word, het ek my afgevra: Is dit moontlik om trots op (baie van) my mede-Suid-Afrikaners te wees? Nelson Mandela, daarenteen, het beweer dat die bevolking die land se grootste bate is. Dit lyk vir my asof dinge deur Mandela en ander polities byderwetses doelbewus erg skeefgetrek word. Neem bv kennis van die volgende 2018-uitlating van die ANC-regime se Menseregtekommissie: “‘Racism had been an integral feature of Western society for centuries’ and that ‘it continued to be the dominant world view, shaping South Africa since the colonial era'” (1915). Met ander woorde, blankes en blanke politieke beheer is noodwendig rassisties, of sinoniem met rassisme. En die ANC-regime se regstellende aksies en swart ekonomiese bemagtiging? Wat is dit anders as drakoniese rassisme ten koste van die blankes? Kontrasteer dit met: “One of the foundational ideals of the constitution is supposed to be non-racialism” (2296).

As klassieke liberalis sit Cronje egter sy seël soos volg op die pas voorafgaande: “Race and racism really do not matter much to South Africans and … the great majority of people respect one another across lines of race and class and wish to work together to build a better country” (1930). Daarna plooi Cronje dit verder soos volg: “South Africa’s politicians must continue to insist that race and racism are the primary reasons for poverty, unemployment and inequality in the country. If it gets out, let alone becomes broadly accepted, that South Africans get on well and mostly share the same values across lines of race and class, then South Africans will come to understand that the problems facing their country do not arise from the prejudice harboured by their fellow citizens, but rather from the ineptitude of their governnent” (2129).

Op die oomblik loop die ANC-regime twee groot risiko’s: bankrotskap van die staat en ‘n nederlaag by die stembus (1459). Cronje verduidelik wat die ANC kan doen sodat sy afnemende aanhang by die kiesers hom nie uit die kussings lig nie, bv deur koalisievorming met een of meer ander politieke partye, bv die EFF. “Both favour strong African nationalist ideologies that seek to organise society along lines of race” (1499). Die ANC kan verder die Grondwet tot sy eie voordeel verander (1468). Maar wat ek eienaardig vind, is dat Cronje hom daarvan weerhou om dieselfde (wesenlike) moontlikheid as sy voorganger, John Kane-Berman, te opper: “A party unscrupulous enough to use violence to gain power, is likely to be unscrupulous in trying to retain it” (Praag 23.06.2017). Daarenteen is Cronje se standpunt: “It is possible to change the South African government and to do so democratically” (3146). Al Cronje se scenarios “assume some form of ordered political activity” (1609). Dít terwyl die nuwe Suid-Afrika in chaos en geweld uitmunt. Dit lyk asof Cronje nie genoeg begrip vir die fundamentele boosheid van die ANC het nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.