Sydney Gregan: Gaan die Internasionale Strafhof die knie buig voor Amerika?

Die Internasionale Strafhof in Den Haag
Deel op

Die Internasionale Strafhof (ICC) in Den Haag het op 1 Julie 2002 begin funksioneer kragtens die Statuut van Rome, ‘n multilaterale verdrag. 123 state het hulle tot dusver aan die gesag van die hof onderwerp waarvan Suid-Afrika een is. Die VSA en Israel is nie partye by die Statuut nie. Daar is 42 state wat nie die verdrag onderteken het nie.

Die hof het jurisdiksie om internasionale misdwye soos volksmoord, misdrywe teen die mensdom, oorlogsmisdrywe en misdade van aggressie te ondersoek. Sou ‘n staat nie self sodanige ondersoek in sy eie land onderneem nie, het die hof die bevoegdheid om dit op eie houtjie te doen. Die hof het egter nie universele jurisdiksie nie en kan slegs misdrywe ondersoek in lidstate, of indien die Verenigde Nasies ‘n saak na die hof verwys.

Tot dusver is 45 individue deur die hof veroordeel waaronder die voormalige Soedanese president, Omar al-Basjir, die Keniaanse president Uhuru Kenyatta en die voormalige Libiese president Muammar Gaddafi.

Onlangs, op 30 Junie 2020, is ‘n klagte ingedien deur ‘n regsprofessor van Middlesex-universiteit, professor William Scabas, teen president Donald Trump, die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu en Trump se adviseur Jared Kushner, namens vier Palestyne wat in die Wesoewer (Palestina) woon en wat behels dat Trump en kie:

“are complicit in acts that may amount to war crimes relating to the transfer of populations into occupied territory and the annexation of the sovereign territory of the State of Palestine.”

Die hof moet nou besluit of die klagte ondersoek behoort te word. ‘n Voorlopige ondersoek sal eers gedoen word waarna ‘n besluit geneem sal word. Trump se antwoord op die stappe wat die ICC teen die VSA wil neem was om ‘n nasionale noodtoestand (“National Emergency”) af te kondig ten einde Amerikaanse (en Israelse) burgers te beskerm en te vrywaar van aanspreeklikheid voor die hof. Sy rede is dat:

“… any ICC attempt to investigate, arrest, detain or prosecute any personnel of the United States or its allies (Israel) without consent to the court’s jurisdiction ‘constitutes an unusual and extraordinary threat to the national security and foreign policy of the United States.’”

Trump se deklarasie magtig die bevriesing van bates van die hof se amptenare, reisverbiedinge en strek dus wyd. Reeds is kennis geneem van Israel se voorneme om die Wesoewer te annekseer ten spyte van die feit dat dit op ‘n duidelike oortreding van die internasionale reg sou neerkom.

Schabas se aanklag voer aan dat Trump se ondersteuning vir Israel se voorgenome annekasasie ‘n oorlogsmisdaad daarstel as sou dit tot gevolg hê om die bevolkingsamestelling van die Wesoewer te verander teen die wil van die Palestyne wat boonop nie eers in die saak geken word nie. Israel het intussen sy voorgenome anneksasie onbepaald uitgestel.

Artikel 49 van die 4e Geneefse Konvensie stel dat ‘n

“occupying power shall not deport or transfer parts of its own population into the territories it occupies.”

Die Statuut van Rome verklaar dat indien ‘n besettingsmag op direkte of indirekte wyse van sy bevolking na die besette gebied verplaas, dit op ‘n oorlogsmisdaad neerkom.

Sewe-en-sestig onafhanklike spesialiste wat deur die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie aangestel is, het in ‘n verklaring gesê dat Israel se anneksering van die besette gebiede ‘n ernstige oortreding van die Handves van die VN en die Geneefse Konvensie daarstel en ook van die beginsel dat geen gebied deur middel van mag of oorlog verkry mag word nie.

Trump het op 11 Junie 2020 verklaar dat die hof geen jurisdiksie oor enige Amerikaanse burger beskik nie en dat hulle voorgenome optrede die soewereiniteit van die VSA aantas. Hy het ook daarop gewys dat die VSA nie ‘n party by die Statuut van Rome is nie en nog nooit tot die jurisdiksie van die hof toegestem het nie. Alhoewel Bill Clinton die Statuut onderteken het, het George W Bush in ‘n ongewone stap die VSA se handtekening “onttrek” in 2002. Wat wel so is, is dat burgers van die VSA aanspreeklik gehou kan word vir misdrywe in state wat wel ‘n party by die Statuut van Rome is. So kan die VSA byvoorbeeld vir dade in Afghanistan aanspreeklik gehou word, wat dan ook tans deur die hof ondersoek word.

Op 20 Desember 2019 het die hof se aanklaer Bensouda bevind dat daar redelike gronde is dat Israelse magte oorlogsmisdade in die besette gebiede (Palestina) gepleeg het. Die vraag is egter of die hof jurisdiksie het om oor misdade in Gasa en die Wesoewer te bereg. Regslui is van mening dat Palestina minstens beperkte internasionale status (“limited international personality”) het. Israel self het al erkenning aan die Palestynse Bevrydingsorganisasie gegee deur ooreenkomste met hulle te sluit waaronder die Oslo-verdrag, wat hulle status bevestig. Palestina word deur 138 van die 193 VN-lidstate erken.

Mike Pompeo, die VSA se staatsekretaris, het intussen die “renegade-court”, soos hy die hof noem, begin dreig. Die VSA het ook ‘n American Service-Members Protection Act, wat hulle magtig om enigeen wat deur die hof aangehou word eenvoudig te gaan haal (“extradite”), ‘n nogeens verbasende ontkenning van die internasionale reg, waaronder die soewereiniteit van state.

Israel, wat ook nie ‘n party by die Statuut van Rome is nie, voer aan dat Palestina nie ‘n staat is nie en dat die hof dus nie jurisdiksie het nie. In 2012 het die VN aan Palestina nie-lidwaarnemerstatus gegee en Palestina het die Statuut van Rome onderteken. Die Internasionale Assosiasie van Demokratiese Regslui (IADL) het ‘n amicus-brief aan die ICC gerig en hulle versoek om hulle jurisdiksie oor Palestina te bevestig:

“The ICC’s normative power and legal authority will be strengthened by confirming its jurisdiction over the State of Palestine, including the West Bank, East Jerusalem and Gaza, and opening an investigation into the Palestinian situation. Thereby the equal rights of all peoples to justice for international crimes will receive much-needed affirmation.”

Sewe-en-sestig lidstate van die ICC het in ‘n gesamentlike verklaring hulle steun aangedui vir die hof as ‘n onafhanklike en onpartydige instelling en dat die hof hom nie deur dreigemente van stryk moet laat bring nie. Tien van die 15 lede van die VN se Veiligheidsraad het eweneens in ‘n verklaring hulle:

“unwavering support for the Court as an independent and impartial judicial institution”

aangedui en dat die hof:

“preserve its integrity undeterred by any threats against the Court, its officials and those cooperating with it.”

Twee van hierdie vyf state is Frankryk en Brittanje.

Tyd sal leer hoe ver die hof sal kom met state soos Israel en die VSA wat, wanneer dit by die vervolging van Afrika-diktators kom, nie ‘n steen onaangeroer laat om daardie diktators voor die hof te laat bring nie, maar indien hulle self in die beskuldigdebank staan, die hof as ‘n boendoehof beskou wat nie die reg het om hulle te vervolg nie.

Ook hier by ons vind ons die bykans komiese situasie dat die ANC eintlik graag wil onttrek van die Statuut van Rome (waarskynlik omdat hulle besef dat hulle optrede teenoor die bevolking en veral teenoor Blankes op ‘n vorm van volksmoord neerkom), en inderdaad sulke pogings aangewend het, maar terselfdertyd alles in hulle vermoë doen om die hof sover te kry om op te tree teen “apartheidsmisdadigers”!

Die internasionale reg word deur magte soos die VSA as ‘n speelbal gebruik om hulle eie agenda te bevorder en sou die ICC se voorgenome stappe teen die VSA misluk, sal dit bevestiging wees van hierdie feit. Die vraag is dus of die internasionale gemeenskap die vermoë het om die VSA tot orde te bring, of nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.