Karel Combrinck: Skoorsoek

Andrzej Duda en Donald Trump by die Withuis
Deel op

Die ou aardbol van ons word by die dag ‘n gevaarliker plekkie om op te leef. Pas het pres. Trump die geleentheid van ‘n staatsbesoek aan die VSA deur die Poolse president, Andrzej Duda, gebruik om aan te kondig dat hy die Amerikaanse troepemag in Duitsland gaan verminder en ‘n sekere persentasie daarvan na Pole gaan verskuif. Hierdie verskuiwing sal, luidens die gesamentlike verklaring van mnre Trump en Duda, gepaard gaan met die oorplasing van wapentuig waaronder hommeltuie (drones). Lesers mag weet dat hommeltuie in staat is om kernwapens te dra.

As rede vir die troepeverskuiwing voer mnr Trump aan dat dit sal geskied omdat Duitsland, na sy mening, nie sy verantwoordelikhede teenoor die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) nakom nie. Volgens hom is Duitsland se finansiële bydrae tot die onderhoudskoste van NAVO te gering, wat ‘n groter las op die skouers van Amerika plaas om die veiligheid van Duitsland teenoor Rusland te verseker. Terselfdertyd koop Duitsland aardgas ter waarde van miljarde euro van Rusland aan. Aldus die argument van mnr Trump.

Feit is egter dat Duitsland geensins in ‘n konflik met Rusland betrokke is nie en sy veiligheid ook nie op enige wyse deur Rusland bedreig word nie. Die Duitsers sal tog seker beter weet as die Amerikaners of hulle veiligheid in gedrang is of nie. Hierdie eienaardige sienswyses van mnr Trump is natuurlik ‘n rookskerm vir die werklike rede, naamlik dat die Amerikaners Duitsland wil dwing om Amerikaanse skalie-gebaseerde gas te koop wat hulle teen astronomiese koste produseer en teen ‘n verlies verkoop. Om hierdie rede het die VSA dan ook onlangs sanksies gehef teen maatskappye wat betrokke is by die bou van die gaspypleiding (Nord Stream) tussen Rusland en Duitsland.

Vir enige objektiewe waarnemer spreek dit vanself dat Duitsland nie die gas by Rusland koop ten einde Rusland ter wille te wees of om Amerikaanse belange te benadeel nie, maar bloot omdat hulle die gas nodig het en dat dit in hulle belang is om dit te te koop waar dit vir hulle ekonomies die voordeligste is. Dit is natuurlik ook waarskynlik dat die Amerikaners probeer verhoed dat die gasvoorsiening interafhanklike bande tussen Duitsland en Rusland mag versterk.

Daarby moet gevoeg word dat daar ná die ineenstorting van die kommunistiese blok in Oos- Europa en dus ook ná die beëindiging van die koue oorlog, weinig bestaansreg meer vir NAVO is. Om dié rede het Rusland dan ook die kommunistiese teenvoeter vir Navo, nl. die Warskouverdragsorganisasie ontbind. Amerika het egter verkies om NAVO te laat voortleef wat uiteraard vir hulle ontstsaglike koste op die hals haal, koste wat hulle nou van ander NAVO-lidlande probeer verhaal onder die voorwendsel dat NAVO hierdie ander lande se veiligheid waarborg.

Die Russiese ministerie van buitelandse sake het die beplande verskuiwing van Amerikaanse soldate na Pole vergelyk met die missielkrisis van 1962 toe die Sowjetunie probeer het om missiele in Kuba te vestig, wat op ‘n nippertjie na tot ‘n wêreldoorlog gelei het. Heel onlangs is ‘n reuse- NAVO- militêre oefening in Pole, Georgië en die Baltiese state waaraan 37 000 soldate sou deelneem, deur die koronakrisis in die wiele gery. Die VSA werk ook jare lank reeds aan ‘n missielstel in Oos-Europa om die sogenaamde Iranese bedreiging die hoof te bied. Soos enigeen op ‘n landkaart kan sien, is Pole byvoorbeeld duisende kilometer van Iran verwyder.

Dit is dus duidelik dat ‘n plofbare situasie in sentraal- en Oos-Europa aan die ontwikkel is. Dit is ook duidelik dat die situasie die gevolg is van direkte Amerikaanse bedreiging van Russiese veiligheidsbelange.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.