Sydney Gregan: Dis tyd om af te skei

Kinders by die munisipale swembad van Orania
Deel op

Die Afrikanervolk beleef tans ‘n hernieude aanslag op sy voortbestaan as selfstandige volk, dit wil sê as ‘n volk wat geregtig is om sy eie identiteit volkome uit te leef. Daardie identiteit sluit in sy eie waardes, kultuur, verering van sy heldedom, eer en respek vir sy eie geskiedenis, sy strewe om die hoogste ideale in die werksplek te bereik, vryheid van spraak en uitdrukking, vryheid van assosiasie, vryheid om dít wat hy glo te verkondig, en dies meer.

“‘n Staat waarin die Afrikaner homself soewerein kan regeer en sy eie ideale kan uitleef, is die enigste opsie in Afrika vir die oorlewing van die Afrikaner”

Enkele voorbeelde van bogenoemde sluit in dat die Afrikaner tradisioneel geglo het dat volke in vermoëns verskil wat betref intelligensie, waardes, toekomsverwagting, en so meer. Dit maak die een nie “beter” as die ander nie, maar anders. Sou jy dit in vandag se Suid-afrika verkondig, is jy ‘n rassis met al die nadele wat dit meebring. Sou jy dr Verwoerd of Dr Malan vereer of huldig, gryp jy terug na apartheid en is jy eweneens gedoem tot verguising en verbanning uit die “hoofstroom”. Kry jy sewe en meer onderskeidings in matriek word jy steeds weggewys by universiteite weens regstellende aksie; wys jy op die leuens van rasse-gelykheid of durf jy om na die voordele van afsonderlike ontwikkeling te verwys, word jy gesnoer en uitgesluit. Wil jy as Blanke met Blankes assosieer word jy dit verbied. As jy weens jou geloofsoortuiging jou uitspreek teen die beoefening van sodomie, is jy ‘n hater en sal die Gelykheidshof jou beboet of selfs tronk toe stuur. Vertoon jy die pragtige ou Suid-Afrikaanse vlag in die openbaar, loop jy die gevaar van botsing met die gereg. Die voorbeelde is legio.

Wat dus gebeur, is dat die Afrikaner se identiteit hom stelselmatig ontneem word. Hy mag nie meer sy eie identiteit uitleef nie en word gedwing om ‘n nuwe identiteit te omhels. Boonop moet die Blanke telkens toesien hoe sy eie verkleineer word en die swartes verheerlik word. Die waansin van “Black Lives Matter”, met die noodwendige implikasie dat blankes se lewens minder werd is, is die jongste sprekende voorbeeld hiervan.

Nou is dit so dat talle organisasies hulle sedert 1994 beywer het daarvoor om die Afrikaner op die een of ander wyse te hulp te snel. Hier word gedink aan politieke partye soos die HNP en die Vryheidsfront, asook ander organisasies soos Orania, Solidariteit, Afriforum, en talle ander. Sommige het hulle fokus op die herstel van die “ou” Suid-Afrika gevestig en ander op ‘n nuwe staat vir die Afrikaner. Ander weer het gefokus op “interne selfbeskikking” vir die Afrikaner binne die huidige bestel waar klem gelê is op regte wat deur die Grondwet erken word, asook internasionaal erkende regte soos vervat in verskeie besluite en handveste van onder meer die Verenigde Nasies. Laasgenoemde organisasies was in ‘n sekere mate suksesvol om individuele gevalle van vergryping teen individue reg te stel in die howe. Eersgenoemde organisasies was uiteraard onsuksesvol omdat dít wat hulle beoog het ‘n drastiese ingryp in die politieke orde teweeg sou bring.

Wat ons moet besef, is dat die huidige ANC-regime voortstu na ‘n samelewing wat gekenmerk sal word deur ‘n sosialisme wat deur die staat afgedwing sal word. Dit sal volkome outokraties wees met ‘n ingryp selfs in private ondernemings (soos BEE getuig), kerke (soos die verbod op die verkondiging van Bybelse waarhede getuig), private huishoudings (soos die verbod op die vertoon van die ou vlag getuig), skole (soos die afdwing van ‘n volksvreemde kurrikulum en die sing van die volksvreemde nasionale lied getuig). Die huidige grondwet bied, soos ek al talle kere aangedui het, geen redding vir die Afrikaner wat hierdie sake aanbetref nie, maar dien juis as rubberstempel om hierdie ideologie af te dwing. Boonop is dit ‘n staat wat gekenmerk sal word deur die blatante bevoordeling van die swartes ten koste van die Blankes onder die dekmantel van die die “regstel van die ongeregtigheid van die verlede – apartheid”. Daar is geen einddatum vir hierdie proses nie. En sou jy aandui dat dit (“regstellende aksie”) gedoen word juis omdat die swartes (as groep) nie in staat is om, wat baie sake betref, dieselfde vlakke in dieselfde omstandighede te bereik nie (ondanks die feit dat dit die waarheid is), is jy gedoem as rassis tot die asblik en loop jy, soos reeds daarop gewys, die risiko om met die gereg te bots. Die waarheid word dus gesnoer.

Laat daar dus geen twyfel wees dat die Afrikaner geen kans het om sy eie identiteit in hierdie staat uit te lewe en sy Bybelse opdrag om sy talente ten volle te ontwikkel, ten volle uit te leef nie. Wat bly dus oor? Daar is net een van twee moontlikhede: Die herstel van die ou Suid-Afrika bedoelende dat aan elke volk gegee moet word wat hy tradisoneel besit het kragtens historiese vestiging op grondgebied. Hier word gepraat van die beleid wat onder dr Verwoerd nagestreef is, naamlik die partisionering van Suid-Afrika. Dit is uiteraard verrykend en sou die onwaarskynlike gebeur dat die Afrikaner die mag vandag kan bekom en hy dit sou wou implementeer, sal dit ‘n bloedbad veroorsaak en sal die geïndoktrineerde wêreld met sy diaboliese magte wat hom dryf, onmiddellike ingryping verwag. Alhoewel ek in hierdie opsie glo juis vanweë die geregtigheid daarin vervat, en talle ander redes, is dit eenvoudig so dat dit nie tans haalbaar is nie. Partisionering deur die Afrikaner of deur enige ander internasionale organisasie is eenvoudig nie tans deel van die internasionale agenda nie.

Wat oorbly, is afskeiding deur die Afrikaner in sy eie grondgebied. In die internasionale reg word dit sesessie genoem. Die Vryheidsfront het hom aanvanklik (al is dit dan net in sy uitlatings) daarvoor beywer alhoewel die klem later in die party na ander sake (interne selfbeskikking) verskuif het. Tans is daar verskeie bewegings wat hulle hiervoor beywer en is dit so dat professor Carel Boshoff en die latere Oraniabeweging reeds vir baie jare die gedagte koester. Hierdie uitgangspunt gaan van die gedagte uit dat dit onder meer onmoontlik is om, gegewe die verloop van tyd, veranderde denkpatrone, geografiese redes, bevolkinsgaanwas, en so meer, partisie toe te pas en dat die Afrikaner dus moet “afstand” doen van die “res” van Suid-Afrika en deur middel van meerderheidsbesetting van mense in ‘n gebied wat eenders dink, ‘n nuwe staat moet skep wat dan met verloop van tyd kan afskei van die bestaande staat (Suid-Afrika).

Ek is oortuig dat dit tans die enigste haalbare opsie is. My voorbehoud is dat daar nie afstand gedoen moet word van die herstel van die “ou” Suid-Afrika nie (daar is baie redes daarvoor waaronder dié in die internasionale reg), maar dat, ten einde die Afrikaner se identiteit en oorlewingsvermoë as aparte en selfstandige volk te behou, dit dringend noodsaaklik is dat hy kragte sal saamsnoer binne ‘n eie grondgebied.

‘n Staat waarin die Afrikaner homself soewerein kan regeer en sy eie ideale kan uitleef, is die enigste opsie in Afrika vir die oorlewing van die Afrikaner. Afrika is ongenaakbaar teenoor minderhede wat nie wil assosieer of konformeer met die meerderheid nie. Daarvan het ons oorvloedige bewyse selfs in ons eie land. Is daardie minderheid boonop Blank is die houding teenoor hom vyandig tot by die punt van vernietiging. Blankes word dikwels vermoor net omdat hulle Blank is en vir geen ander rede nie.

Die beweging wat tans in veral die Wes-Kaap momentum kry, wil die gebied laat afskei met die inwoners wat tans daar woon, dit wil sê ongeag die samestelling daarvan. Dit bied natuurlik kortpad tot die vestiging van ‘n staat. Volgens die huidige uitgangspunt in die internasionale reg sal ‘n staat erken word as hy ‘n grondgebied het, ‘n regering, ‘n bevolking en die vermoë om internasionale betrekkinge aan te knoop (deur ander state erken word), aldus die Montevideo-konvensie van 1933. Vir ‘n nuwe “afgeskeide staat” sal daar ook ‘n referendum moet plaasvind waarin die meerderheid moet aantoon dat hulle ten gunste van sodanige stap is. In Suid-Soedan bly daar minstens 10 verskillende etniese groepe maar hulle het ‘n referendum gehou waarin meer as 98% ten gunste van afskeiding gestem het en sodoende het Suid-Soedan die 193e lidstaat van die VN geword.

Ek is daarvan oortuig dat dit hier by ons geensins so maklik gaan wees nie. Daar is te veel rolspelers wat ‘n stokkie gaan steek voor die afskeiding van ‘n stuk grondgebied vir enige volk (of dan saamgestelde groep), en om baie redes. Die Wes-Kaap word soos enige ander deel van die land as ‘n integrale deel van Suid-Afrika beskou en sal die beginsel van “territoriale integriteit” van die land soos hy tans daarna uitsien (dus, met sy huidige grense) eenvoudig opgehaal word as synde die rede waarom so ‘n gebied nie mag afskei nie. Die ANC se land wat oorbly sal uiteraard ook baie sleg afsteek by die nuwe staat (die Wes-Kaap) en benewens die afguns sal hierdie staat sy hande vol hê om immigrante uit sy land te hou. Grense sal dag en nag bewaak moet word. Daar sal werk wees in daardie land, terwyl die ANC-land maar net verder oor die afgrond gaan tuimel. Daar sal vrede wees terwyl onrus, stakings, oproer en geweld in die moederstaat net sal toeneem. En watter nuwe “burgers” gaan hierdie staat toelaat en watter gaan weggewys word of gaan daar aanvanklik ‘n totale afsperring wees?

Alhoewel die saak dus dringend is gegewe die huidige versnelde vreswakte toestand in Suid-Afrika, is ‘n blote afskeiding van ‘n gebied problematies. As dit net ‘n geval is dat daardie inwoners “moeg” is vir die huidige toestand in die land, gaan dit op die lange duur en in die praktyk nie voldoende wees om die integriteit en toekomsverwagting en solidariteit van daardie staat te waarborg nie. ‘n Staat moet ‘n strewe hê wat veel meer insluit as ‘n ekonomiese strewe of die wegvlug van ‘n staat wat besig is om te faal.

Orania, of dan enige Afrikanerstaat, wat met veel meer samebindende faktore natuurlik ontwikkel tot ‘n soewereine staat het ‘n veel groter kans op oorlewing juis vanweë al die faktore wat dit as eenheid saamsnoer waarvan die grootste is die feit dat dit deur net een etniese groep bewoon en regeer sal word. Maar ook Orania gaan te staan kom voor die realiteit dat die bestaande staat vyandig sal staan teenoor ‘n Blanke staat en boonop ‘n staat wat ook die bestaande staat sal oortref wat betref ontwikkeling, rus en vrede, wet en orde, en so meer. En dan natuurlik die argument om alle argumente te beeïndig – die territoriale integriteit van die bestaande staat wat nie geskend mag word nie.

Artikel 235 van die huidige Grondwet word deur die voostanders van afskeiding gesien as “toestemming” om so ‘n staat te skep. Dit is net gedeeltelik waar aangesien die artikel dubbelsinnig geformuleer is en boonop stel dat die huidige staat daartoe sal moet toestem (wetgewing te dien effekte sal moet aanvaar). Geen ANC-beheerde staat sal toestem tot so ‘n afskeiding nie, selfs onder internasionale druk. Suid-Soedan kon afskei omdat die grootste moondheid ter wêreld, die VSA, sy saak gesteun het en omdat die VSA daardeur die staat kon beheer om die staat se olie te kan beheer. Dit het nie gegaan om die edele motief van selfbeskikking nie, maar om die “edele olie” van die staat. Die ander faktore, waaronder godsdiensverskille tussen noord en suid is maar net gebruik om die eintlike motief te bedek. Uiteraard het Orania geen (ekonomiese) voordeel vir die internasionale magte nie, maar sal blote morele steun waarskynlik nie eers gevind word nie.

Dit is juis vanweë my eintlike uitgangspunt, naamlik dat die Afrikaner hom vanuit sy nuwe vesting sal beywer vir die uiteindelike herstel van sy tradisionele staat, dat die ANC-regime die staat van die Afrikaner as bedreiging sal beskou. Dit sal as ‘n plek van konsolidasie beskou word van waar die aanslag op die moederstaat gevoer sal word. Die Afrikaner sal hom uiteraad nie aggressief bewyer vir die verowering van enige grondgebied nie, daarom sal verkryging van grondgebied net gebeur omdat die bestaande Suid-Afrika heel moontlik dermate in anargie sal verval dat dele daarvan in elk geval ‘n “terra nullius” sal wees (soos tydens die Difaqane) wat weer opnuut beset kan word.

Dus, ek is ten gunste van “tussentydse afskeiding”, juis om dít wat oorgebly het van ons identiteit ten alle koste te behou, om te hergroepeer en ons kragte as volk te herwin, ons geloof en ideale uit te leef, mekaar te stimuleer en te bemoedig tot groter hoogtes sonder afguns of afdreiging en om reg te laat geskied aan die Bybelse opdrag om getrou te bly aan die roeping waarin jy sedert geboorte gestel is – binne jou eie volk.

Die huidige Suid-Afrika teer nog op die kapitaal wat die Afrikaner oor baie jare daargestel het met sy opbou van hierdie land. Daardie kapitaal word stelselmatig uitgewis. Noem dit wat jy wil en as jy geïntimideer en gebreinspoel is, voel dan skuldig en begin selfs te kniel, te huil en voete te was. Ek sien egter ‘n realiteit raak van ‘n volk wat gemelk, verneder, verkrag, geteister, belaster, verguis, beswadder, verniel, vermoor en vernietig word. Daardie agenda het nie ‘n sperdatum nie; dit eindig by die totale vernietiging van die Afrikaner. Die swart hand voer uit wat Milner en Kitchener en Oppenheimer ten doel gestel het toe hulle verklaar het dat die laaste spore van hierdie volk uitgewis moet word.

Net in sy eie land sal die Afrikaner oorleef en gedy. Daardie land is hierdie land. In die tussentyd sal ek my saam met almal wat ‘n stukkie daarvan soewerein wil verklaar, daarvoor beywer.

Dr SH Gregan, B.Com. LL.D. Die skrywer het sy doktorsgraad oor selfbeskikking en sesessie gedoen met die klem op Afrikanerselfbeskikking en het reeds meer as ‘n duisend artikels oor die onderwerp geskryf en onder meer in Rusland lesings gegee oor selfbeskikking.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.