Karel Combrinck: Die skande van witwees

Lauren Southern in Australië
Deel op

Ons betreur op ‘n daaglikse basis die groot verraad van 1990. Of liewer, dié van ons wat nog kan treur, betreur dit . “Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos ‘n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies wat onderdanig geword het.”

Maar wat ons miskien mag vergeet, is dat die Westerse beskawing as geheel hom in dié betreurenswaardige posisie bevind. Wat kan dit beter illustreer as die onlangse wêreldwye spektakel rondom die “rassemoord” op die swart Amerikaner George Floyd.

‘n Dag na die dood van George Floyd, aan die hand van ‘n Amerikaanse polisieman, is die hele Westerse wêreld in rou gedompel, kompleet met massabetogings, mediahisterie en opruiende politieke opportunisme.

Die dood van George Floyd was dus nou ‘n “rassemoord “. Al wat van die voorval ‘n rassevoorval gemaak het, is die feit dat die polisieman wit was en die slagoffer swart. Daar was na ons wete geen ander aanduidings as dít van ‘n rassemotivering nie. Die regsondersoek mag miskien anders bevind, maar die regsondersoek het nog nie plaasgevind nie en die wêreld se media en politieke elite kon nie wag vir ‘n regsondersoek nie om te besluit dat dit wel ‘n “rassevoorval” was.

Wat beteken dít alles? Waarom gryp die wêreld se media- en politieke elite so ‘n voorval aan om te bewys hoe brutaal die witmens is en hoe onskuldig die swarte? Waarom moet hulle van ‘n voorval soos hierdie nou juis ‘n voorbeeld van anti-swart rassistiese geweldpleging maak ?

In ‘n onderhoud met die Franse dagblad Le Figaro sien die filosoof, Alain Finkelkraut, die gebeure wat op die dood van George Floyd gevolg het, as die ontplooiing van ‘n nuwe vorm van anti-rassisme wat minder gemoeid is met die waardigheid van alle mense as om die aard van die Westerse bestel soos ons dit geken het, te “dekonstrueer”, d.w.s. te ondermyn. Hy gaan voort om te sê dat die skande van blank te wees die skuldgevoel van die Westerse elite vervang het. M.a.w. vanaf die stadium waarop die witman skuldig gevoel het oor al die onregte wat hy die swartman aangedoen het, het ons nou beland in die situasie waar die witman skaam is omdat hy wit is. Hoe lank nog voor hy gaan skaam voel omdat hy lewe?

Die skande van witwees, ‘n illustrasie wat in die New York Times verskyn het

“Die skande van wit te wees.” Sê dit nie alles nie? Vat dit nie in ‘n neutedop saam die houding van die hordes anti-Afrikaanse Afrikanerintellektuele wat daagliks die ruimte van die linkse media gebruik om Afrikaners en die witman af te takel nie? Hulle het skaam geword om te lewe en kan nie verdra dat ander mense nog wil lewe nie!

‘n Geringe minderheid Westerse intellektuele begin daarop wys dat anti-rassisme vandag inderdaad ‘n vorm van rassisme geword het. Leef ons in Suid-Afrika nie daagliks saam met hierdie verskynsel nie? Word “regstelling” op grond van ras nie daagliks aangewend om swartes bo wittes te bevoordeel nie? Die Grondwet belet diskriminasie op grond van ras behalwe waar die regime vir politieke gewin dit as regmatig en regverdig beskou.

Kom ons dink maar ‘n oomblik na oor die slagspreuke rondom “diskriminasie”. Die woord diskriminasie word in aanhalingstekens geplaas omdat dit vandag ‘n spesiale betekenis verkry het wat met die oorspronklike betekenis min te make het, trouens ‘n teenoorgestelde betekenis het. In die meeste Westerse lande is dit verbode om diskriminasie op grond van ras te beoefen in die werkplek, sport, vermaaklikheid, ens. Dit beteken elke werkgewer moet byvoorbeeld bewys lewer dat hy nie wittes bevoordeel teenoor swartes nie en daar is inspekteurs wat op sakeondernemings spioeneer ten einde te verseker dat swartes wel aangestel word. Dit beteken dus dat ‘n werkgewer, om die beskuldiging van “diskriminasie” vry te spring, noodgedwonge swartes in diens moet neem, al is hulle nie vir ‘n bepaalde posisie gekwalifiseer nie en ‘n wit aansoeker wat wel gekwalifiseer is, moet weier. Dit wys duidelik hoe sg. “anti-rassisme” inderdaad rassisme word. Anders gestel, jy mag nie diskrimineer nie, behalwe waar dit tot voordeel van swartes is. Onnodig om te sê, sal geen inspekteur ooit spioeneer op ‘n onderneming wat wittes wegwys ten gunste van swartes nie.

Hieruit is dit duidelik dat die situasie onhoudbaar geword het. Die een of ander mag sal moet opstaan wat gaan halt roep, of die Westerse beskawing is tot ondergang gedoem. En dit lyk asof die Westerse beskawing in elk geval daarmee genoeë neem.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.