Brief: ‘n Kort geskiedenis van Suid-Afrikaanse universiteite

Gebou van die ou Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), tans University of Johannesburg
Deel op

Daar is baie goeie dinge uit die verlede wat sedert 1994 verswyg word; dinge waarvoor daar nie plek in die propaganda van die ANC-regime en sy meelopers is nie. Een daarvan is die Afrikaanse universiteite van weleer. Andersins is daar die kolossale bedrae wat die Nasionale Party- (NP-) regering, met Hendrik Verwoerd as inisieerder, in die oprigting en bedryf van universiteite vir swartes belê het.

Vóór 1994 was daar vyf Afrikaanse universiteite: Stellenbosch, Pretoria, Oranje-Vrystaat (Bloemfontein), Potchefstroom en die Randse Afrikaanse Universiteit (Johannesburg). Hulle was aanvanklik blanke universiteite, maar het in die jare tagtig begin om nieblanke studente toe te laat; eers nagraads en daarna ook voorgraads.

Vóór 1994 was daar vier Engelse universiteite: Kaapstad, Witwatersrand (Wits, Johannesburg), Natal (Durban en Pietermaritzburg) en Rhodes (Grahamstad). Hulle was aanvanklik hoofsaaklik blanke universiteite, maar het in beperkte mate nieblanke studente toegelaat om uitdrukking aan hulle afkeer van apartheid te gee. Natal het bv nieblankes as geneeshere opgelei en Rhodes het Chinese studente toegelaat.

Die enigste ander residensiële universiteit vir blankes was dié van Port Elizabeth sedert die jare sestig, wat aanvanklik party vakke in Afrikaans en die ander vakke in Engels aangebied het.

Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa, Pretoria) het in 1948 met die aanbieding van afstandsonderrig begin, aan blanke en nieblanke studente, plaaslik en in die buiteland. Afrikaans en Engels was die onderrigtale, maar die dosente en ander personeel was vóór 1994 oorwegend blank en Afrikaanssprekend. Unisa se roemryke akademiese en administratiewe verlede het dus in dieselfde jaar as die NP-regering ‘n aanvang geneem.

Vóór 1960 was daar ‘n enkele residensiële Suid-Afrikaanse universiteit vir nieblankes, Fort Hare (in Alice, Oos-Kaap), gestig in 1916. Naas plaaslike swartes het heelwat swartes uit swart Afrika hier studeer. Die onderrigtaal was Engels.

In 1959 het die NP-regering Fort Hare van ‘n Skotse kerkgenootskap oorgeneem. In 1960 het dit ‘n universiteit vir veral Xhosas geword. Terselfdertyd is begin met onderrig vir veral Sotho’s aan die Universiteit van die Noorde (Turfloop, tans Limpopo, by Pietersburg/Polokwane) en vir Zoeloes aan die Universiteit van Zoeloeland (KwaDlangezwa). Die onderrigtaal by al drie was en is Engels.

In 1960 is ook met onderrig vir Indiërs/Asiate aan die Universiteit van Durban-Westville begin. Die onderrigtaal was Engels. Terselfdertyd is met onderrig vir bruin studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland (Bellville-Suid) begin. Dit was amptelik ‘n tweetalige universiteit, maar in die praktyk is die onderrig meesal in Afrikaans aangebied. Vóór 1994 was die dosente en ander personeel oorwegend blank en Afrikaanssprekend.

Die universiteite Fort Hare, Noorde, Zoeloeland, Durban-Westville en Wes-Kaapland was etniese universiteite wat uitdrukking aan Henrik Verwoerd en die NP se beleid van afsonderlike ontwikkeling gegee het. Al hierdie universiteite, met die uitsondering van Fort Hare (wat skouspelagtig uitgebrei is), is teen enorme koste uit die grond opgebou en daarna hoofsaaklik met geld uit die sakke van blanke belastingbetalers onderhou. Die nieblanke studente het in die meeste gevalle studiebeurse van die NP-regering ontvang. Die klas- en verblyfgeld was minimaal. Unisa het ook ruim studiegeleenthede van hoë akademiese gehalte aan blankes en nieblankes teen uiters billike studiegeld gebied. Dikwels word die weeklaag gehoor van iemand wat beweer dat hy nie die geleentheid vir universitêre studie gehad het nie. Dit is louter bog.

Ná 1960 het universiteite vir ander swart tuislande gevolg: Transkei (Umtata) – met Fort Hare vir die Ciskei, Bophuthatswana (Mmabatho, Mafeking), Venda (Thohoyandou), Qwaqwa (Oos-Vrystaat). Die Mediese Universiteit van Suid-Afrika (Medunsa, Pretoria-Noord) is vir die opleiding van swart medici opgerig.

Vir stedelike swartes het die Vista-universiteit tot stand gekom met takke in bv Pretoria, aan die Rand en in Port Elizabeth. Universiteite vir swartes het deurgaans Engels as onderrigtaal.

Sedert 1994 het al die universiteite wat voorheen Afrikaans as onderrigtaal gehad het eentalig Engels geword. Die enigste twee wat in ‘n mate nog Afrikaans in onderrig gebruik, is die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (wat ook die Mafikeng- en Vaaldriehoek/Vanderbijlpark-kampus omvat) en Stellenbosch. Willie Esterhuyse geniet die skandalige onderskeiding dat hy die sabotasie van Afrikaanse universiteite begin het met ‘n artikel getiteld, “Can South Africa afford five Afrikaans universities?” (The Times Higher Education Supplement, 24.02.1995). Die technikons in bv Kaapstad, Bellville-Suid, Bloemfontein, Durban, Roodepoort en Pretoria is deur die ANC-regime tot tegniese universiteite verhef en in sommige gevalle by universiteite geïnkorporeer.

Die ANC-regime is knap met naamsveranderinge. Die universiteit in Port Elizabeth is na Nelson Mandela hernoem en dié in die Transkei na Walter Sisulu. Medunsa is ook na ‘n ANC-kornuit hernoem: Sefako Makgatho Health Sciences University. Die Randse Afrikaanse Universiteit het die Johannesburg University geword. Afrikaans het uit sowel die universiteit se naam as uit die klaskamers verdwyn.

Twee nuwe universiteite is in die nuwe Suid-Afrika gestig. Volgens die ANC-regime moet iedere provinsie ‘n universiteit hê. In Kimberley in daar die Sol Plaatje-universiteit (vernoem na een van die stigters van die ANC) en in Nelspruit die Mpumalanga-universiteit (Mbombela). Albei universiteite is eentalig Engels, al is die inwoners van die Noord-Kaap oorwegend eerder Afrikaans- as Engelssprekend.

Wat naas verengelsing kenmerkend van universiteite in die nuwe Suid-Afrika is, is (1) die verlaging van toelatingstandaarde vir studente, (2) die voorkeur vir nie-blanke, veral swart, studente by toelating, studiebeurstoekennings en koshuisplasings, (3) die voorkeur vir sowel nieblankes as vroue, veral swart, as dosente en ander personnel – by aanstelling en bevordering, (4) die verlaging van akademiese standaarde, (5) die agteruitgang van administratiewe doeltreffendheid, (6) die buitensporige koste van tersiêre onderrig – ‘n rektor kan meer as die staatspresident aan vergoeding ontvang, en (7) die skromelike afwesigheid van universitêre outonomie en akademiese vryheid.

—Johannes Comestor

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.