Suidpunt: Tot lof van ons rokers

Foto: Radu Florin vanaf Pexels
Deel op

Van ‘sjiek’ tot ‘kommin’ binne slegs minder as drie dekades. Eeue se kultivering en kweek, binne dertig jaar ongedaan gemaak. Boekdele is geskryf en uitgegee oor die nut en verbou van tabak binne Suid-Afrika en Rhodesië; vandag bloot handleidings toe onder die as. Ons voorvaders moes om voorskotte bedel vir ‘n bietjie twak (maar Ouma het ook self darem lekker gestook). Van ons grootste genieë het hul wonderskone woorde met kankerstokkie in die hand neergepen. As jy onkundig was, kon jy gaan pyp opsteek by die wyses. Party siele het gebewe soos ‘n koggelmander wat pypolie ingekry het. Ander moes gaan pyp uitslaan. Selfs Jan van Hunks het die duiwel laat omkap in die rookwedstryd. En glo my, daardie oom kon die pyp rook. Soos ‘n skoorsteen. Selfs tannie Emsie Schoeman se Goeie Maniere en Etiket bevat ‘n afdeling hoe jy daardie sigaar tussen jou duim en wysvinger by jou oor moet rol om daardie krakerigheidjie te hoor – te veel is te droog; geen krakerigheid is te vogtig. Dis die kuns.

En nou?

Jy bars in ‘n hoesbui uit as die Amerikaanse Popular Mechanics maar twéé sigaretadvertensies bevat. Nee, Suid-Afrikaanse tydskrifte mag lankal nie meer adverteer nie. Die Durban July ook nie. Die vinger van die staat is alomteenwoordig: die winkelsentrum jaag rokers weg. Die eens statige sekretaressie moet soos ‘n dronk hoer haar bene om ‘n lamppaal gaan vleg om ‘n skyf in te kry. Koop jy die produk, hy vloek jou uit! Die dominee en voorsitters put genot daaruit om die preek en vergaderings nou 4 uur langer te maak net om jou rooklus te tart! Op skool is die sinkhok vir die rokende seuns op die plaasskool van tydens die Britse koloniale era lankal afgebreek: nee, onderwysers moet maar liefs buite die skool gaan rook. Brandstigter, anargis, kindermoordenaar – dit is nou jy daai!

Hoe rook dit vir jou?

Ek skryf as iemand wat in ‘n huis grootgeword het met twee strawwe rokers. Ek moet my ouers dankbaar wees vir die twee pakkies (soms meer) Satin Leaf Ultra Mild per dag wat met die blou dampe my ‘n passiewe roker gemaak het. Die waarskuwings op die pakkies  was die eerste woorde wat ek sommer saam met die Kinderbybel leer lees het. En haai, ek kon, want dit was nog in Afrikaans! Volgens die statistiek en waarskuwings in die hoofstroommedia behoort ek nie eers my eie naam te kan skryf nie. Nou hoe onnosel moes ons voorsate darem nie gewees het nie?

Ek het hoegenaamd nie sleg op skool gevaar nie, inteendeel, ek was permanent onder die top tien. Maar ek is my ouers dankbaar. Diep dankbaar. Het hulle my nie so bestook nie, dan sou geen onderwyser met so ‘n geniale duiwel soos ek kon huishou nie! Gedenk maar wat Langenhoven oorgekom het, soos Kannemeyer ons vertel in Langenhoven: ‘n Lewe (1996):

Daar bestaan ‘n algemene wanopvatting dat Langenhoven dikwels van sy werke voltooi het terwyl hy sterk onder die invloed van alkohol was. Gedeeltelik het hy self aanleiding tot die storie gegee.

[…]

By geleentheid het ‘n aantal Oudtshoornse vroue wat met die kerk te make gehad het, met hom oor sy drankgebruik gaan gesels. Hy het geduldig, sonder om iets te sê, na hulle geluister. Toe hulle klaar was, het hy, terwyl hy na die boekrak agter hom beduie, geantwoord: ‘Dames, in my dronkenskap het ek die boeke geskrywe wat julle hier sien. Wat het julle in jul nugterheid gedoen?’

Presies, ja. Wat doen die staat in sy nugterheid?!

In hierdie rubriek het ek, as nieroker, my laaste bietjie breinselle bymekaargeskraap om apologeties teenoor ons arme rokers op te tree in hierdie tyd van beproewing (dit is, as jy nog nie na selfverboude papegaaislaai oorgeslaan het nie).

Ons moet strewe na neutraliteit. Hoor die anderkant aan!

  1. Rokers is die maklikste mense onder die son. Verjaarsdae is so eenvoudig. Veral nou nog met Pa. As jy nie weet wat om vir hom te kry nie, is hy maar te diep dankbaar vir die karton sigarette of aansteker wat hy in elk geval uit sy eie sak moes koop. Nee, hy sal dit nie gaan inruil nie. Beslis nie. Want dit is nie soos ‘n hamer wat hy reeds het nie. Dis ook nie soos rekenaartoerusting wat verouder nie. Ook nie soos soetgoed wat nie juis na sy smaak is nie. Ook nie soos lugtyd waarop die prys gedruk staan nie. Ook nie soos koffie wat reeds op die inkopielysie staan nie. Ook nie soos ‘n boek wat hy nooit sal lees nie (hy is ook nie van die leestipe nie). Ook nie soos ‘n hemp wat in die kas sal vergeel van nooit dra nie. Rookgoed is eie goed.
  1. My moeder het in 2003 opgehou rook. Met behulp van Nicorette (wat sy tot vandag nog kou), ‘n vuil asbak (wat haar longe sou versinnebeeld), ‘n skuldgevoel dat sy van haar kinders geld roof, en haar geloof. Sy het vir die Here gevra om haar so ‘n renons te gee in rook dat sy nooit ooit weer haar mond aan ‘n sigaret sal sit nie. Haar gebed is verhoor. Té goed. Nou gaan sy byna dood van elke buurman se kaggelrook! Die wintermaande bid jy om van die kollektiewe rookskuld wat die hele dorp en groeiende informele nedersetting dra, net om die somermaande gouer om te bid van die veldbrande en stof. En sommer die herfs ook as naskrif, want dan begin die boere weer die graanlande skoonbrand. Muskiete het skynbaar ook ‘n liefde vir nikotienvrye bloed begin ontwikkel, want Moeder kan nie onthou van soveel muskietbyte in haar ganse lewe soos nou nie. Maar mens kan mos nou nie op jou woord teruggaan nie!
  1. Ek kan nie glo iemand verf hul kamermure wit nie. Dis so koud. So doods. So, asof mens die laaste bietjie lewe van mense wat was, doodverf. In hospitale bly daar nie eens ‘n nat kol agter nie. Daar mag geen spoor van jou bestaan agtergelaat word nie. Jy was nooit daar nie. Jy bestaan nie. Hierdie steriele bestaan maak my bang, want het die Middeleeue nie darem meer as ‘n handvol palimpseste agtergelaat nie? Waarvoor was ons dan hier?

Maar met genoeg rokers in die huis kry jy sommer gou-gou ‘n gesonder mensliker kleurtjie terug, sonder om ‘n binnehuisversierder in te roep. Wit word mettertyd room. As jy die saak wil bespoedig, moet jy net meer gereeld kerriegeregte ook maak. En tjips bak. Sien, die mure kan praat! Die vertel ‘n storie! As die verf goed genoeg is om ‘n eeu te hou, sal jy kort voor lank ‘n nog huisliker bruine café soos in Holland kan besoek. Swart gerook deur kom-en-gaan geslagte mense wat hul koffietjies in samesyn geniet het. Hulle laat almal ietsie agter. Jaar in en jaar uit. Dis nou tradisie! Wat ‘n argeologiese vonds!

  1. Ek mis die dae toe restaurante rooksones gehad het. Dit was nog voor die werklike drakoniese wette deurgevoer is. Ek onthou in die Spur op Hermanus destyds (vroeë 2000’s) was daar ‘n rooksone waar ek by my ouers gesit het, agter ‘n halftoe skuifdeur. In die Wimpy op ons dorp ook. Anderkant die glasdeur het die eetplek gewoel, geraas en gewemel van kindertjies wat skrillend rondhol, messe en vurke wat raakkap en skraap en monde wat nom-nom-nom. Maar by ons, asook ‘n ander gesin by hulle tafel in die vertrek, was dit rustig en stil. En. So. Eksklusief. Dit kon geen Master Card koop nie. Ek sal dit nooit vergeet nie. Dit was absoluut fantasties. Die stilte, of nee, miskien was daar tog ‘n bietjie musiek. Die feit bly staan: jy kon jouself daadwerklik hóór dink.
  1. So kinders wat rook is ‘n skande? Dis nie wat ons wetenskapsjuffrou die dag gedink het toe haar eie aansteker opraak nie. Die bunsenbrander moes aangesteek word vir ‘n proef, die les moet voortgaan. Sommer op die ingewing van die oomblik, om tyd te spaar, vra sy: “Het iemand van julle ‘n lighter?” ‘Ja, Juffrou’, kom die een rooikopdogter aangedraf. Almal kyk op (want dis duidelik hoekom), maar die juffrou laat met ‘n onderdrukte glimlag die saak verbygaan. Die les kon ongesteurd voortgaan.
  1. Die hele rookkultuur het ontsettend baie nut vir die motoriste beteken. In die ou motors kry jy nog plastiek- of chroom-asbakke langs die agterdeure wat sommer as ‘n gerieflike vullisblikkie ook dien vir lekkergoedpapiertjies of sneesdoekies en so. Jy het dit in die Mercedes so gekry, jy het dit ook so in die nederige Volkswagen Golf gekry. Die gloeiwarm sigaretaansteker kon in ‘n tyd van nood ook nuttig aangewend word [as kind het ek nie eens geweet hoe dit werk nie], en agter daardie sigaretaansteker was die veilige aansluiting vir die elektriese pompe en selfoonlaaiers. Vandag het jy satellietnavigasie, plek vir tydskrifte, plek vir jou selfoon, plek vir jou bierblik (oop, waarskynlik), plek vir jou sonbril, armstut, reling om jou baadjie langs die venster te hang, ‘n leeslampie, selfs sitplekverwarmers en klimaatbeheer om die hitte van onder te waardeer… maar geen asbakke meer! Nou kyk, my moeder kan sê mansmense is so onprakties, hulle kan nie eens wasgoeddrade op ‘n bouplan inteken nie – maar noudat vroumense karre begin ontwerp: wat ‘n ramp! Wat ‘n sanitêre probleem! Waarom moet ek nou met die verdomde papiertjies in die hand sit tot en met die volgende drom? Dis nie Europa hier nie! Te veel moeite, ons gooi dit sommer by die venster uit en skep werk vir ons medemens. Gee die troostelose, eindeloos-eentonige Karoolandskap bietjie meer kleur.
  1. Uit ‘n volstruispoot kon jy ‘n eksotiese asbak laat regop staan wat jou gaste in vervoering sou hê. Asbakke het mens in die mooiste kleure gekry. Party was van swart glas wat volgens streng geometriese vorm uitgekerf is, trots met die Mercedes-Benz-wapen op. Ander, soos dié van Firestone, het ‘n allemintige rubberband (tyre) om die glas gehad: haal jy die glas uit, kan jy kontantnote binne-in die band wegbêre. Sommige was van beskeie erdewerk of goedkoop plastiek. En dié van koper sal mens liewer in jou sitkamer wil uitstal, eerder as gebruik. Op skool het van die kinders asbakke uit koeldrankblikkies gemaak, met die randte wat so omkrul. Elke vakansieoord of pretpark het sy eie logo op asbakke gedruk (as reklame). Jy kon selfs ‘n asbak as sentimentele aandenking koop, van ‘n groot internasionale gebeurtenis, soos mens met sierlepels sou maak. Waarvoor gebruik mens vandag asbakke? Wel, jy kan blomsaad daarin droog; jy kan blomblare soos potpourri daarin droog; jy kan lekkergoed daarop uitstal; jy kan jou bottel yskoue water daarop neerplak sodat jou embuiatafel nie watermerke kry nie (ek het nog nooit ‘n liefde vir doilies en matjies gehad nie)… dus, eintlik meer as wat jy met jou ouma se kosbare pierings sou aanvang. Ek dink ook maar net aan al die werksgeleenthede wat die vervaardiging van asbakke kon skep. Bowenal kan asbakke as kollektebordjies dien: ek is seker die munte sal met teerheid hanteer word.
  1. Rokers is lewensredders! In the South African Book of the Road van die AA (1988, p. 96), staan daar: “Treating tick bites: Apply the glowing end of a cigarette, or a burning match, to the tick’s body; this will make it fall off. Do not try and pull the tick out as it may leave its head behind, causing infection.”
  1. Ekobewustes is tog so besorg oor die natuur. Chemiese middele, soos insek- en plaagdoders, is gif vir ons toekoms. ‘Organiese tuinbou’ is mos nou die volhoubare manier om ons nageslag ‘n gesonde aarde na te laat. Is ek reg? Nou… waarom sien ek fyn tabakstof so min op die supermark se rakke?
  1. Die brandalarms en brandblusstelsels is juis in ‘n tydperk in gebruik geneem toe daar so baie rokers in die gebou was tussen papierwerk. Ironies, nè. Noudat die rokers uit die geboue verban word, met al hierdie stelsels wat daar voorheen nie was nie, is daar egter steeds elektriese en elektroniese toebehore wat ‘n brandgevaar is. Ek is geneig om te dink dit was die rokers wat die brandblustegnologie na vore geskuif het, deurgedruk het, deurgevoer het, en die tegnologie juis daarom sy tyd vooruit was. En dis nou die dank wat hulle daarvoor kry?
  1. Niks irriteer mens meer as daardie vetterige taai handjies wat so aan alles moet klou en vuilvat nie. Nee, ek bedoel volwassenes s’n. Jou sierkussinkies, die tafelrand, die portrette, die orrel, die glase, die meubels, die gordyne… alles loop deur. Hande wat werk soos suiers! Nee, wat. Gee daai pote werk om te doen! “Hier, hou my sigaret vas.”
  1. Dis eintlik snaaks dat die volgende verhandeling nog nie aan die universiteitskomitee voorgelê is nie: “Sal ‘n vrou wat rook haar kinders minder lipstiffieblertse (en ‘n knou vir hul selfbeeld) gee as ‘n nieroker?”
  1. Met ontydige kragonderbrekings sal jy gou genoeg weet waar jy met iemand staan. ‘n Helder ligbaken waarteen niemand sal vasloop nie.
  1. Is ‘n roker ‘n ‘rebel’, of bloot ‘n ‘onafhanklike denker’? Dis bloot ‘n semantiese spel, liewe leser.
  1. Rokers is uitgeknip vir die diplomasie. So, daar hang nou die reuk van die dood in die sitkamer. Almal ruik dit. Dit ruik die ene verpulpte bene en hondekos. Ja-nee. Dis Wagter se winderigheid. En die kamertjie is klein. Die “brandskoon linne”-reuksproei is dolleeg. Wat nou? As jy iemand soos die koningin van Denemarke langs jou op die bank het, vrees nie. Die ou vrou het ‘n plan. Sy haal sonder ‘n woord uit haar handsak die vuurhoutjie, steek haar sigaret baie tydsaam aan en woeps!, verbloem is die stank met ‘n aangenamer swawelreuk. Niemand in die verleentheid gestel nie, nie eens die hond nie.
  1. Twee vreemdes deel ‘n oomblik op die balkon. Hoe begin die man ‘n gesprek met die aanvallige jong dametjie? Nee, hy gesels nie oor die bibberweer nie – dalk is sy ‘n ysprinses wat mal is oor die koue. En wat daarvan as die lugdruk 1 023 hektopascal is en die humiditeit op 82,9% staan? Hy kan nie nou al haar klere en mooi hare waardeer nie, dis gans te vroeg. Nee. Hy tuur eers die verte in, blaas bietjie stoom af, skraap al sy moed bymekaar en vra heel terloops: “Rook u, dame?” En dan kom daardie smeltblik (eintlik daardie aanbod in sy hand!) wat die jonge dame net nie sal kan weerstaan nie. Hoeveel verhoudings het nie so begin by hierdie aanknopingspunt nie?
  2. Om te sê rook maak jou dom, misgis jy jou. Dit maak van jou ‘n uitstekende rekenmeester, met ‘n lopende balansstaat hierbo in jou kop. Piet van Worcester skuld jou nog ‘n sigaret wat hy by jou kom bedel het, Fransien van Kaapstad so twee, Jan van George so vyf, Klaas van Oudtshoorn so nege; jou eie dorp is jou een-en-dertig sigarette verskuldig. En, nou ja, ‘n ander man wie se naam jy wonderbaarlik vergeet het skuld jý ‘n karton vol. Vir ons nierokers is dit ‘n haas onbekende wêreld, ‘n informele mikro-ekonomie in die kleine, maar eintlik werk dit soos ‘n bank wat ter goede trou werk. As jy nie skuld het wat jy afbetaal nie, is jou kredietwaardigheid nul. Mense is so by mekaar in die skuld met sigarette dat hulle nie sonder mekaar kan klaarkom nie!

Wie’t gesê rook kan nie help om ‘n nasie te verenig nie?

  1. Laastens. Niemand kan meer sê jy het nie jou lewe vir jou land opgeoffer nie. Jy het hope belasting betaal, jou liggaam verniel, jou siel verpand aan die grootste wettige dwelmkartel sodat klein Sipho’tjie kan brood en melk koop met die staatstoelae. Die een se dood is weliswaar die ander se brood. Maar “baie dankie”, kry die arme rokers nooit nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.