Mulderbroers moet liefs professore word

Deel op

Anton Barnard se Gedagtes oor 'n toekomsvisie vir die VF+ is baie deurdag en goed gestel.

Goed genoeg om kommentaar en ook wat kritiek te lewer.

Behalwe wat hy oor Orania skryf stem ek met die meeste saam.

Deel op

Synde 'n verstokte HNP-er moes dit my eintlik koud laat of die VF+ wel of nie oorleef nie. Die VF het egter 'n rol te speel en wel vir die jonger geslag (nou nog) Afrikaners.

Jong mense dink radikaal. Hulle wil skree vir 'n span en deelneem aan 'n sport, al is dit 'n verkiesing. Die HNP neem nie deel aan hierdie sport nie en sal dus nooit 'n massa jong mense agter hulle kry nie. Die VF+ neem egter wel deel en kan en moet daardie taak vervul.

Jy skets die probleme duidelik. Saamgevat: Die VF+ is 'n middel-van-die-pad party. Vir transformasie, maar nie soos nou nie. Ens. Hulle is te redelik en sonder vuur en passie.

Jou raad aan die VF: Hou op louwarm te wees, sal egter op dowe ore val, want die huidige VF+ kan nie anders nie. Die kern van die probleem, wat jy (uit ordentlikheid?) nie noem nie, is naamlik die twee gebroeders Mulder wat die VF+ oorheers en sy beeld bepaal.

Ek het geaarsel om dit so reguit te stel want die Mulders is, myns insiens, veral as ek hulle families sien, agtenswaardige en ordentlike burgers van die samelewing. In die politiek en ter wille van die toekoms van die Afrikaner moet mens daar egter aan verby sien.

Die Mulders is beroepspolitici en maak uit die politiek 'n bestaan. Hulle mis helaas die vuur en passie wat nodig is om 'n politieke party met sukses te lei. Hulle mis ten enemale die charisma van 'n Eugene Terreblanche of 'n Helen Zille. As hulle die VF+ bly lei sal die party voortploeter tot hulle aftrede. Dit is ook die enigste en ernstige rede dat al die stemmers in die buiteland Mulder en die VF+ so wreed in die steek gelaat het.

Anton vra dat die party sy beleid duideliker moet stel, soos om te sê wat hulle met "Vryheid vir die Afrikaner" bedoel en hoe hulle 'n volkstaat wil vestig, ens.

Anders as intellektuele stel die jongere garde, en eintlik die hele volk, glad nie belang in definisies en 'n duidelike uitspel van beginsels nie. Hulle wil dat 'n leier kragdadig optree en dreig: Ons eis.., ons wil.., anders gaan ons.., ens. Dit sit nie in die Mulders se bloed nie (deesdae praat mens van gene).

Wat hulle wel doen, is beeldpoets ('n pragtige Afrikaanse woord).

Aan die Universiteite van die Vrystaat en Pretoria (met Stellenbosch is ek nie op die hoogte nie) maak die VF+ met elke studenteraadsverkiesing skoon skip tot bedroewenis van die bestuur van daardie universiteite.

Onmiddelik duik dr Pieter op om saam met daardie jong mense vir 'n foto te paradeer. Asof hy aandadig aan die studente se sukses is. Daardie sukses is ondanks hom en die kieser voel sulks instinktief aan.

'n Ander keer sien mens Mulder parmantig langs Mbeki staan nadat hulle sogenaamd (asof die ANC hom enigiets van Mulder en sy VF+ aantrek) samesprekings gevoer het. Is ek die enigste een wat hom aan daardie foto vererg het?

Ter wille van die Afrikanerjongmense en dus die Afrikaner se toekoms sou my raad (wat waarskynlik net so op dowe ore sal val as joune) wees: Geagte here Mulder, kry 'n professoraat aan Potch of 'n ander universiteit en bly die VF+ van agter die skerms van goeie raad bedien.

Wat Orania betref, verskil ek hewig van Anton Barnard wat skryf dat dit "kennelik 'n interessante eksperiment (was), maar ongelukkig het dit nie gewerk nie".

Orania het weliswaar nie die groei getoon waarop ons almal gehoop het nie. Tog bestaan Orania en lewe.

Dit word, sover ek kan beoordeel, goed bestuur en is goed georganiseer. Daar is 'n infrastruktuur. Dit is 'n Volkstaat in die kleine.

Wat die toekoms betref, kan enigiets gebeur, al sien ek nie dat Orania sommer tot niet sal gaan nie. Hulle grootste probleem vir nywerheidsontwikkeling is die groot afstand teenoor die markte.

As daar egter eers net een Afrikanerondernemer of desnoods 'n Portugees sou wees, wat strontsiek is vir Cosatu, stakings, misdaad, die rassetelkaart, bemoeienisse van die Departement van Arbeid en ander frustrerende amptenary, hom daar vestig en werkers nodig het, en hy maak 'n sukses daarvan, kan hy die katalisator wees vir verdere vestigings en moontlike vinnige uitbreiding.

Goed, jy glo dalk nie in drome nie, maar jy glo tog wel dat Suid-Afrika verder afwaarts kan daal. Omstandighede kan so verander dat hierdie droom bewaarheid word.

Dan bespiegel jy oor die moontlikheid van 'n volkstaat, dalk êrens in die Wes-Kaap of 'n deel van Pretoria. Ek weet nie hoe mens die samewerking van die ANC-regering hiervoor sal kry nie.

Jou vergelyking met die Palestyne en die Baske se gedeeltelike selfregering gaan nie op nie. Daardie twee volke het histories al hul eie geografiese gebiede. Die Afrikaner moet dit nog soek.

Op die oomblik is daar, behalwe Orania, nog twee klein volkstate, naamlik Kleinfontein oos van Pretoria en die een by Balmoral. Almal het maar hul eie probleme, maar as jy op 'n Sondag deur Kleinfontein sou ry, sou jy verbaas wees oor wat jy daar sien. Behalwe die dorp met 'n wildpark is daar ten suide nog 'n gebied met kleinhoewes. (Ek besit 'n nog onbeboude een daar).

In die brosjure van Kleinfontein word gepraat van die ideaal van 'n Gemenebes van vrye Boere-Afrikanervolkstate. Daardie ideaal (nou in jou woorde:) beteken vir my 'n visie van "regering deur Afrikaners, oor Afrikaners, vir Afrikaners".

Ek glo in en ondersteun daardie ideaal.

современную люструАлександр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.