Sydney Gregan: Wat beteken die nuwe ‘normaal’?

Deel op

Meeste, indien nie almal van ons nie, kan nie wag dat alles weer na “normaal” terugkeer nie. Daardie dag wat ons weer met ons lewens kan voortgaan soos wat ons dit goeddink. Wat ons weer kan kerk toe gaan op Sondae, ons beroepe onbelemmerd kan beoefen, ons kinders weer kan skoolgaan soos voorheen, ons aan sport kan deelneem en na ons gunstelingsport op televisie kan kyk. Ons sien reikhalsend uit dat alles sal terugkeer na “normaal”.

Steeds verbysterd oor wat met ons gebeur het en te midde van ‘n oorvloed van leuens wat aan ons opgedis is en steeds word, glo ons steeds daar sal ‘n dag kom waarop alles weer soos voorheen sal wees. Maar nou hoor ons dat ons in “fases” regeer sal word en dat “ongehoorsaamheid” kan beteken dat jy en jou stad of dorp weer maklik na ‘n “erger” fase verplaas kan word. Ons is dus wat ons bewegingsvryheid betref, volkome afhanklik van ‘n regering wat in 26 jaar alles waarop hulle hulle hande gelê het, vernietig het. Hulle sal bepaal hoe ons vryheid gaan lyk. Wat “normaal” is aan ‘n toestand wat deur die grille en giere van ‘n onbevoegde en idiotiese regering bepaal word, is vir my moeilik om in te sien. Dit word boonop gedoen terwyl niemand kan aandui wanneer ons van “die virus” ontslae gaan wees nie. Intussen moet ons blykbaar op die bona fides van ‘n regering staatmaak wat juis nie vertrou kan word oor enige saak nie.

Ek is van mening dat hierdie regime (so genoem weens hulle onwettigheid) soveel genot uit hierdie tirannieke maatreëls put dat hulle kwalik daarvan sal wil afstand doen. Wat is dan lekkerder vir ‘n magsugtige regime as om, sonder debat, en onder die vaandel van “the virus kills”, regulasie na regulasie uit te vaardig? Boonop, met ‘n winter op hande, onbeholpe toetsing, areas wat onbeheerbaar is vanweë die opeenhoping van mense in dikwels haglike toestande, en ‘n inenting wat as redding beskou word, maar wat klaarblyklik eers oor 12 tot 18 maande beskikbaar gaan wees, kan daar nie sprake wees van normaliteit wat gaan terugkeer in die maande wat voorlê nie.

Mense besef nog nie dat hulle met die aanvanklike grendeltydperk (lockdown) toestemming gegee het vir ‘n toestand wat nie sonder grootskaalse verset reggestel sal kan word nie. En boonop is niks van dít wat onderneem is deur die regime bereik met die aanvanklike drie weke en enige tydperk daarna nie. Paniek en vrees het goeie gesonde verstand en logika eenvoudig verdring en sou ons byvoorbeeld na fase 3 beweeg en daar is ‘n toename in besmettings (veral by skole), verwag ek dat ‘n verskrikte publiek (sonder veel teenstand) eenvoudig soos skape weer na fase 4 en selfs 5 gelei sal word. As hulle maar net kan rook en drink by die huis… Dat hulle en hulle kinders se immuniteit juis verswak het terwyl hulle in hulle huise weggekruip het, het by meeste verbygegaan. Dat mens eenvoudig die gevare van die lewe moet trotseer terwyl jy elke veiligheidsmaatreël tref wat getref kan word, maar die plig en die verantwoordelikheid het om te werk, het eweneens by meeste verbygegaan. Nee, nou is ons uitgelewer aan die genade van ‘n magshonger elite en het ons die wil om ons eie toekoms te bepaal, klaarblyklik verloor.

Wat ingesien moet word, is dat hierdie “pandemie” beplan is. Daar is ‘n oorwig van getuienis tot dien effekte. Bill Gates, die WHO en Big Pharma het, in samewerking met ander rolspelers ‘n troefkaart gespeel wat hulle dalk self nie kon indink so suksesvol sou wees nie. Nie net enkele state nie, maar die ganse wêreld het geval vir die leuen dat ons te doene het met die dodelikste virus wat die heelal nog getref het en dat dit die drakoniese maatreëls regverdig wat nou lukraak aan elkeen opgelê word. Nou word ons tot in die fynste besonderhede gemonitor met “toeps” en selfone en ‘n polisiestaat waar krygswet geld en van menseregte dadels gekom het.

Ten spyte van oorvloedige bewyse dat die virus in ‘n laboratorium geskep is (dus doelbewus), en dat die “pandemie” in besonderhede deur Bill Gates, die WHO en die John Hopkins-universiteit beplan is (Event 101), word sulke feite as “komplotteorieë” – die argument om alle argumente mee te beeïndig – afgemaak. Die elite het hiermee groter beheer oor ons lewens gekry en alle ekonomiese mededinging uitgeskakel. Deur boonop inligting oor die virus en die klaarblyklike infeksiekoers te beheer, sal gesorg word dat bevolkings nie uit die inperkings wat orals ingestel is, kan ontsnap nie.

Globaliste het reeds verklaar dat ons nie na “normaal” sal terugkeer nie. Intussen “juig” ons oor elke nietige verslapping van die drakoniese maatreëls, so asof dit enigsins bevryding bring. Praat van ‘n “tropmentaliteit”!

Industrie na industrie is besig om onder te gaan. Lugrederye, die toerismebedryf met al sy vertakkinge, die drankbedryf, tabakmaatskappye, noem maar op. In ‘n kwessie van drie maande is die wêreld se ekonomie op sy knieë gedwing. En elke nuwe dag gaan die situasie vererger. So sal net die grootste maatskappye oorleef en sal alle mededinging uitgeskakel word vir die groot monopolieë.

RW Johnson, die links-liberale politieke kenner en skrywer van verskeie boeke oor die katastrofiese nuwe Suid-Afrika skryf in Rapport van 24 Mei 2020 dat die ANC eenvoudig die res van die wêreld slaafs nagevolg het met die instel van inperkings terwyl die land nie die fiskale ruimte, openbare gesondheidstelsel en die hulpbronne het om dit te implementeer nie. So het die inperking net die infeksie vertraag en voorspel dit maande van verdere inperking. Cyril die Groot Verlosser word boonop deur elke breinlose Suid-Afrikaner geprys vir die waansin wat ons nou beleef. Johnson voorspel dat die inperking in duie sal stort. Indien dit sal gebeur, sal meeste van ons juig, maar ek is nie so seker dat die ANC van sy beheer sal wil afstand doen, selfs al gaan dit hoe sleg nie. Ons toestand lyk dus veel slegter as meeste ander state in die wêreld.

Volgens ‘n studie wat gedoen is en waar besighede gevra is oor die effek van die inperking, het net 6,7% aangedui dat hulle meer as drie maande se sluiting sou kon oorleef. Intussen word ons werkloosheidsyfer groter by die dag en word selfs voorspel dat 50% van alle Suid-Afrikaners werkloos gaan wees na hierdie waansin. Feit is ons loop ‘n tragedie tegemoet wat, indien ons dit nie self tot stillstand ruk nie, ons ekonomies gaan vernietig.

Daar is dus, of ons dit wil hoor of nie, net twee opsies vir ons oor: Onderwerping of verset. Verset is ‘n gelaaide woord en wanneer so ‘n keuse gemaak word moet dit met uiterste versigtigheid en oorleg benader word. Om te praat teen hierdie waansin is die begin van verset. Om te betoog teen hierdie kakistokrasie is die volgende stap. So sal verset ook in “fases” gedoen moet word. En ja, verset sal te alle tye vreedsaam moet wees.

Ons kan eenvoudig nie toelaat dat ons bestaansmiddele voor ons neuse weggevat word deur ‘n vyandige regime wat ‘n veer voel vir ons nie. En wanneer ons besef dat hierdie regime niks vir ons voel nie, en boonop net die agenda van die superryk elite uitvoer, sal ons ook besef dat hulle geensins bekommerd is oor ons gesondheid nie, maar dat dit alles gaan oor beheer. So word ons dan nou beheer deur ‘n inperking wat ook ons reg op lewe, reg op vryheid, reg op ‘n bestaan en talle ander regte eenvoudig vertrap het. Die geelwortel van ‘n  inenting wat kwansuis ons redding gaan wees moet aangesien word vir wat dit is – ‘n metode tot verdere beheer en die uitrek van ons verslawing en vernietiging in die proses. Ons sit dus en wag vir ‘n vyandige regime en ‘n Sataniese orde om ons te red. Ons sal wag en wag tot die perde horings kry…

Moet nie u hoop op ‘n “heropening” van die ekonomie vestig nie. Ook nie op makliker fases (soos fase 3) nie. Dit gaan nie hou nie. Dit is ook nie bedoel om te hou nie. Sou die eerste klomp skoolkinders die virus onder lede kry sal die juigkommando van die regime (news24.com en andere) sorg dat paniek en vrees weer alle rasionele denke verdring.

Nee, die nuwe normaal gaan ‘n lewe wees waar ons in fases van inperking hanteer gaan word. Soos diere. En as ons nie tot ons sinne kom en in verset teen hierdie waansin kom nie, sal ons dit verdien. En boonop te dankbaar wees oor elke verslapping wat ons meesters afkondig.

Ek is nie bereid om in so ‘n land te bly en te leef nie. Is u?

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.