PRAAG-YouTube groei snel

Deel op

Hoewel PRAAG reeds elf jaar lank oor ‘n YouTube-kanaal beskik, is dit in die verlede slegs sporadies benut. Einde Maart het ons egter die besluit geneem om meer gereeld YouTubevideo’s met nuus en kommentaar te plaas, wat tot ‘n toename in intekenare of volgers op dié kanaal gelei het. Vanaf Maart tot op datum het die intekenare op die kanaal met die URL youtube.com/praagtv meer as verdubbel tot die huidige 5 650.

“Ons is optimisties dat ons binne die volgende maand of twee die 10 000-kerf kan haal,” sê dr. Dan Roodt, direkteur van PRAAG. “Mense se gewoontes op die internet het verander en sosiale media, waaronder video’s, speel ‘n al groter rol. Ons voorsien meer wisselwerking tussen die PRAAG-webblad en die YouTubekanaal, asook Facebook en Twitter. Die PRAAG-Facebookblad staan op 11 000 en ons Twitterrekening op iets meer as 7000 volgers. Dit gee vir ons allerlei moontlikhede om artikels, video’s kommentare, Facebookplasings, twiets, ens. heen en weer tussen kanale te kommunikeer.”

Sommige video’s op die kanaal het meer as 10 000 kyke behaal, slegs enkele dae nadat hulle opgelaai is. ‘n Video met die titel, Die ANC gaan val: Wat kom daarna? deur Gustav Venter, het tot dusver 45 000 kyke behaal en is spontaan wyd en syd op sosiale media gedeel.

“Gegewe ons mandaat as taalstryders en om die Afrikaanse kultuur in die breë te bevorder, word spesifieke afdelings of snitlyste van die YouTubekanaal aan vermaak en letterkunde gewy,” sê Dan Roodt. ‘n Literatuurkafee met indringende besprekings oor die Afrikaanse letterkunde, boeke en idees, sal gereeld virtueel plaasvind en opgelaai word.

Klik op die prent om na die Literatuurkafeesnitlys op YouTube te gaan.

“Veral tydens die huidige grendeltyd is Afrikaners op soek na vermaak en afleiding, asook inspirasie, op die internet en ons wil graag daarin voorsien,” meen Roodt. “Op die Literatuurkafee en elders op die YouTubekanaal kan ons ook van die geskrewe inhoud op die PRAAG-webblad bespreek, soos byvoorbeeld Leon Lemmer se omvangryke artikels. Dit lei dan tot kruisbestuiwing tussen die geskrewe en die oudiovisuele media en boonop bereik ons meer as een tipe gebruiker, sowel lesers as videokykers.”

Twee boekvoorlesings word tans op die kanaal aangebied: Bodem deur Gustav Venter, asook ‘n klassieke speurverhaal in vertaling, Moord in die pastorie deur Agatha Christie.

Al die inhoud op die PRAAG-YouTubekanaal is tans gratis. Klik gerus op die intekenblokkie op https://www.youtube.com/praagtv!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.