Suidpunt: Nee, Afrikaans het nie ‘Solarpunk’ nodig nie

Voorstelling van 'n 'Solarpunk'-gemeenskap
Deel op

As jy nou al absoluut sat gelees is aan die alewige distopiese fiksie in Afrikaans wat 26 jaar gans te laat geskryf is (wat uit daai jare vandag as profetiese werk sou geloof kon word), skep moed: In hierdie week tweet my een geliefde skrywer van Bellville een ou wat die vier kwadrante van Punk uitbeeld volgens polities-ekonomiese punte: Atompunk, Dieselpunk, Cyberpunk en… Solarpunk. Dit was op 5 Mei 2020:

‘Solarpunk’ het ek nog nooit in my lewe van gehoor nie, en die Engelse (7 Mei 2019), Sweedse (24 Oktober 2019), Spaanse (2 Februarie 2020), Portugese (25 Februarie 2020), Duitse (7 Maart 2020), Franse (21 Maart 2020) en Hollandse (23 Maart 2020) Wikipedia het skynbaar ook eers onlangs daarvan te hore gekom, soos ek uit die nuwe Wikipedia-artikels kan aflei in die onderskeie tale (sien die datums toe artikels geplaas is tussen hakies). Dit verskil van die drie vorige punk-genres omrede daar nie gefokus word op al die verderflike foute en neerslagtigheid van die samelewing nie, maar alleen die prag, toekomsverwagting en entoesiasme.

En tog, die hele storie dra eintlik nou al ‘n ruie baard, want in Brasilië het die gelyknamige titel reeds in die vroeë 2010’s verskyn (party bronne sê 2012, ander weer 2014). In Portugees, natuurlik.

Solarpunk beeld hierdie futuristiese toringhoë woonstelle in ekodorpe en -stede uit met klimop-ranke, daktuine, vertikale tuine, buurttuine, bobbejaantoue, vlinders, parke en ‘n utopiese voorstelling van die paradys wat uiteindelik op die mensdom neergedaal het. Vreeslik idealisties. Uiteindelik hemel op aarde. Terug na die Tuin van Eden, waar die mens gestel is om dit te bewerk en te bewaak. Diegene wat glo in die vooruitgangsgeloof (wat Deterministies glo die mens is, gegrond op die evolusie en deur uit sy foute te leer, op pad om ‘n halfgod te word ) en agteruitgangsgeloof (gegrond op die Dekadentisme, wat glo die mensdom het met die eeue al hoe afvalliger en verdorwe van sedes geword hoe langer hy uit die bos gekruip het) kan albei nou bladskud.

‘n Stralende toekoms: natuurlik werk alles met sonkrag en ander vorme van hernieubare energie. Die dae van fossielbrandstof is verby. Die kunswerke straal van ‘n hartroerende optimisme wat ‘n mens se oë laat traan van blydskap (of is dit die sonsteek?). Daar word gekyk hoe die mens by hierdie nuwe tegnologiese wonders sal aanpas ensomeer. Maar ook het mense teruggekeer om op volhoubare wyse hul eie groente in kommunale opset te kweek, tot almal se vreugde.

Tog, aangesien die persoon hierdie Solarpunk onder “Leftist Libertarianism” indeel (wat vir my ‘n totale antitese is), is daar maar net die vae voorgevoel wat mens kry. Iets soos die roemryke Hangende tuine van Babilon wat ‘n paar duisend jaar gelede in duie gestort het. Dus, ‘n nuwe Babilon wat herbou word net om later weer te verbrokkel? Grens dit aan Sonaanbidding? Genoeg gewese beskawings daarvan as bewys, sou ek sê.

Ook, verneem ek, bly dit nie by ‘n literêre genre nie – Solarpunk het ondertussen ‘n politieke beweging geword.

“We are solarpunks because the only other options are denial or despair.” [Lui die kenmerkende dichotomiese deuntjie] “At its core, Solarpunk is a vision of a future that embodies the best of what humanity can achieve: a post-scarcity, post-hierarchy, post-capitalistic world where humanity sees itself as part of nature and clean energy replaces fossil fuels.”

Lapidêr gestel: suiwer Kommunisme.

Moet ons hierdie kunsstroming in Afrikaans toelaat? Liewer nie. Onthou, Solarpunk beteken rebellie teen die establishment en kapitalisme, dit werk dekolonisering aan die hand, en is op sigself ‘n teenkultuur: “Solarpunk wants to counter the scenarios of a dying earth, an insuperable gap between rich and poor, and a society controlled by corporations. Not in hundreds of years, but within reach.”  Soos apporpedia.org dit ook stel: “It will need to be a synthesis of leftist thought: anti-capitalist, anti-hate, anti-fascist, and anti-hierarchy.”

Bonne Junon, quelle merde tu parles? Anti-hate – hoor net wie práát! Solarpunk is in die éérste plek gebou op haat! Jy háát die kapitaliste en jy háát die vernuf wat sakemanne en ingenieurs aan die dag lê, wat jy nooit in jou dag des lewens sal bereik nie. Keer maar sommer nou met jou skoffel terug lande toe, tu paysan!

‘n Mens lag jou dood vir naïewe uitlatings soos “diverse communities from around the world adopt the name and the ideas, and build little nests of self-sustaining revolution”, juis omdat ‘n revolusie van nature selfvernietigend is en sy eie kinders opvreet, soos Danton destyds tydens die Franse Revolusie al so gesê het. My magtig, die grootste van alle rewolusies, die Kommunisme, het sienderoë nooit in Rusland of Sjina verwesenlik nie (dit het trouens nooit verder as sosialisme gevorder nie), laat staan nog gevou?! Die Nywerheidsomwenteling was nie ‘n gedwonge omkeer nie, dit het natuurlik gebeur soos masjiene uiteindelik mense begin vervang het en rustof uit koloniale lande maklik te kry was. Die vraag na produkte het toegeneem, en mense is daarin voorsien. Soos dit vandag nog gaan.

“Solarpunk culture includes all cultures, religions, abilities, sexes, genders and sexual identities.”

Wat daar eintlik staan: “Jy kan van enige kleur en geur wees soos ‘n diverse bont straatbrak wat deur sy eie teefmoer op die sypaadjie uit haar baarmoeder verwerp is by geboorte, dit is ons betekenis van ‘diversiteit’ binne ons laermentaliteit. Let egter wel: Ons hou egter nie van ‘n ‘diversiteit’ menings nie; veral nie dié soort wat ons eenogige retrokommunistiese denkwyse kritiseer waarop ons geen antwoorde het nie. Ons hou nie van oop gesprekke nie, want ons raak kwaad want dit wys hoe dom, agterlik en onvoorbereid ons is.” Soos jy vandag op universiteit kry, ja.

“Solarpunk emphasizes environmental sustainability and social justice.” Aai tog. Hier begin ons al weer met die nimmereindigende bekgeveg rondom identiteitspolitiek om mense ‘nader aan mekaar te bring’ en “hande vat” (jig, haal sommer dadelik die handseep uit). En ek dag ‘n woordeboek skryf wat sprekers van twee tale nader aan mekaar sal bring sou beter werk?

Solarpunk omskep ‘n doodgewone middel wat elektrisiteit opwek dus tot ‘n politieke strydwapen.

Kritiek

Nommer 1: Dit maak nie ‘n bloue duit saak of jy brandhout, vuursteen, swawelstokkies, olie, petrol, kernkrag of metaangas-uit-perdemis stook nie, ook nie of jy jaloers waak oor jou plekkie onder die son nie; dit verander nie die mens se gedrag nie. Dit is maar weer ‘n hoë nadruk op die uiterlike, die leë dop, eerder as die inhoud.

Volgens Solarpunk kan elkeen sy eie sonkrag benut en is dus onafhanklik van enige maatskappy en regering – elkeen het dus ewe veel mag en is daarom gelukkig want almal is gelyk en het gelyke kanse. Al val my kolletjie grond in ‘n skaduryke gebied met swak grond wat nie soveel oeste oplewer soos joune nie. En al kyk jou woonstel warm noord en myne na die yskoue suide in die winter… [soos geboue maar gemaak is…]

Dit is ‘n uiters materialistiese siening (dit is sommer sonneklaar!) wat lankal saam met die Ystergordyn en Berlynse Muur verbrokkel het. Ek bedoel, ons sien sonpanele reg rondom ons opdoem by elke winkelsentrum. Ons sien de laaste HOP-/GEAR-huisie met songeisers. Het dit die mensegedrag enigsins verander? Nee, dit het nie. Het die misdaad afgeneem? Nee, dit het nie. Die mens het tegnologie getem, nie andersom nie.

Herwinning wat op Donderdagoggende op ons dorp uitgesit word is ook net ‘n bykomende roetine, ‘n mag van die gewoonte; en ook net omdat ons gratis sakke (behoort te) kry en minder swartsakke op ‘n Maandag vir die vulliswa moet uitsit wat andersins onnodige onkoste is. Daar is geen euforie daaraan verbonde nie. Net so, vir ons in Suid-Afrika, het sonkrag geen politieke bymotiewe nie, ons is net gatvol van beurtkrag. Met meer as voldoende kragvoorsiening soos tydens Apartheid sou byna niemand hierdie rigting ooit ingeslaan het nie. Met oorgenoeg watervoorsiening, sonder om nog te droom van waterbeperkings, sou mense tot meer as 30 kiloliter per huishouding per maand verbruik of water na naburige lande uitvoer, soos Israel maak.

Niemand val in aanbidding voor hommeltuie neer nie, maar daar sal diegene wees wat dit net ‘n nuttige middel vind om kospakkies skelmpies mee af te lewer, of die honde aan ‘n leiband mee te gaan stap as die staat mense soos misdadigers onmenslik begin inkluister, byvoorbeeld.

My reënmeter kan vir my slegs ‘n aanduiding gee of dit werklik nodig is om die tuin nat te maak of nie (as dit oornag gereën het); waarom wil ek nie tuin natmaak nie? Want ek kan my tyd en bronne beter benut, vanselfsprekend. Maar so lewensveranderend werk hierdie keëlvormige stuk plastiek nou wragtig ook nie dat ek ‘n roman oor hom sou skryf nie.

Party mense hou van sweis. Ander hou van tuinmaak en met die bure gesels. Ander is meer gepla wat in ander lande aangaan, en gaan slegs tuin toe as dit werklik nodig is. Sien: smaak verskil.

Nommer 2: Van die resensies op Goodreads is teleurgesteld oor die distopieë in ‘n genre wat veronderstel is om optimisties te wees. Ek praat nou van Solarpunk: Histórias ecológicas e fantásticas em um mundo sustentável. Onderduimse politieke gekonkel duur in die kortverhale steeds voort soos dit tans in die werklike lewe in Brasilië ook afspeel. Vir my is het die Brasiliaanse skrywers net doodgewoon realistieser geskryf as jou liggelowige klein blinkoog kommunis-in-wording. Met vriendelike verwysing na nommer 1 hierbo.

Die Brasiliane behoort mos te wéét! Hulle het vir klein Lula de Silva (Lulinha paz e amor) gehad wat belowe het om die volk te verenig onder sy sosialistiese bewind. Die media, die akademiese elite en bekendes het die publiek probeer wysmaak deur geld van die rykes te vat sal die armes uiteindelik ryker word. Maar dit was net De Silva (president vanaf 2003 tot 2011) en trawante wat uit die politiek en sakebedryf voordeel getrek het. Sy opvolger, Dilma Rousseff (president vanaf 2011 tot 2016), was glad nie beter nie. Inteendeel: die staat het onder haar moederlike sorg enorme skuld aangegaan (‘stimulus’), die minimumloon moes styg, asook maatskaplike toelae (‘sosiale geregtigheid’, sien ‘social justice’ hierbo), en hoër uitbetalings aan die amptenary (‘belegging in die toekoms’), hopeloos te veel aanstellings in die staatsdiens en staatsbeheerde maatskappye (‘goeie bestuur’). Kortom: die belastinginkomste kon nie byhou met die staatsbesteding wat vier keer die bedrag was nie. Dit was ook bitter moeilik vir beleggers uit die buiteland om enigsins ‘n onderneming in Brasilië te open, byna onmoontlik om eiendom te registreer en ‘n uiters ingewikkelde belastingstelsel om mee te sukkel. Die moord- en roofsyfer het ook allermins verminder en die onderwys en mediese sorg bly pateties (2017). So sê Felipe Moura Brasil, rubriekskrywer van die Veja-tydskrif. Daardie vyftien jaar sosialisme het die land ongelooflike skade berokken, sê hy.

Daar is ‘n boek geskryf deur Anthony Elson, Globalization and Development: Why East Asia Surged Ahead and Latin America Fell Behind, wat elke keer benadruk dat Suid-Amerika hoofsaaklik uitvoerlande van rustof gebly het, en hul staatsowerhede deurtrek was met korrupsie en nepotisme (glo ‘n erfstuk van die Katolieke bestel, wat Protestante kolonies onder Engelse en Hollandse bewind glo gespaar is), daarom kon hulle nie groei nie. Hulle het nooit nywerheidslande geword soos Suidoos-Asië nie.

Tog is dit ook nie so eenvoudig nie. ‘n Joernalis en ondernemer woonagtig in Hongkong, Stephen Vines, skryf weer in The Years of Living Dangerously: Asia from Financial Crisis to the New Millennium (2000), die Asiatiese state en ondernemings buitekant Japan het:

1) ‘n valse rooskleurige beeld van die markte aan die Weste voorgehou om buitelandse beleggers te lok. Ook het heelwat mense vir mekaar oor en weer gunsies bewys, wat maar ewe korrup is.

2) probeer om ‘n familiesaak te bly, ongeag hoe groot die onderneming raak, met die gevolg dat die beste en kundigste persone nie in die regte poste aangestel was nie. Geen aandeelhouer sou ooit soveel insae hê soos die familie nie. Groot ondernemings is soos ‘n eenmansaak bedryf. Ook het familiesake glad nie gespesialiseer nie, maar besighede links en regs opgekoop en uitgekoop waarvan die familielede as bestuurslede van hierdie konglomerate absoluut onkundig was, totaal buitekant hul vakgebied.

Chinese motorfietshandelsmerke

3) bowenal nie, soos Japan, geweldig baie moeite gedoen en geld uitgegee op navorsing en verbetering van die produkte nie. ‘n Mens verkoop nie iets voetstoots nie – iets waaruit Suid-Afrikaanse maatskappye gerus kan leer! Die geld is egter opgepot in vaste eiendom (of uitgegee op allerhande luukshede en blinkgoed), maar nie teruggeploeg in die onderneming en sy produkte nie. Japan het egter ook sy eie bloutjie geloop: hy het weens sy markversadiging ‘oorgespoel’ en so fabrieke in Sjina oopgemaak (omrede die arbeidskoste in Japan te hoog geraak het), met die Sjinese staat se toestemming. Motorfietse (ek dink dit was die Honda Cub). Groot fout: op ‘n manier het die patente uitgelek en volgens Japan’s Motorcycle Wars deur Jeffrey Alexander was daar teen 2002 tot 400 ongelisensieerde vervaardigers doenig in Sjina wat motorfietse op Japanese patente gebou het, wel met minderwaardige plaaslike onderdele. Daar is selfs bevind uit ‘n steekproef van 1 300 motorfietsmodelle met ‘n enjin kleiner as 125 cc was 90% daarvan roofkopieë. Dit sê veel van sakevertroue in daardie land. “Copying alone is a technological dead end that will turn only short-term profits, and firms that rely solely upon copying will ultimately fall by the wayside just as they did in Japan during the 1950s and 1960s.” Japan het inderdaad kort na die oorlog wel tydelik self patente uit die Weste gebruik, maar sedertdien het hy uit sy foute geleer en naam gemaak.

Dus, in die res van Asië het die ekonomieë in die laat 1990’s vir ‘n wyle in duie gestort weens bogenoemde drie punte. Die vraag is nou, het Asië, Suid-Amerika en die mensdom uit sy foute geleer? Dit help nie om foute oor die hoof te sien nie.

Hoekom wil dit vir my voorkom of die Solarpunks nie die waarheid, soos die son, ‘n slag in die oë kan kyk nie?

Nommer 3: Sulke optimisme herinner aan die Belle Époque, en hierdie ongekende ekonomiese bloei in Frankryk was kort voor die hele wêreld in die Eerste Wêreldoorlog gedompel is. Opbloei en inkrimping is ‘n universele verskynsel, ook in ‘n “volhoubare” omgewing waar “rusperiodes” (wat ‘n eufemisme vir insinking, resessie en depressie het ek nie nou bedink nie?) voorkom. In hierdie rusperiode is daar mense wat swaarkry, terwyl ander gedy. C’est la vie.

Nommer 4: Tegnologie is wonderlik, maar dit kan ook hoogs vertragend werk as daar ‘n vinniger metode reeds bestaan wat goed werk. Mense is kwaad in spitsverkeer, omdat hulle weet daar is vinniger metodes om van punt A na punt B te kom, of dit nou per helikopter of lugskip is.

Daar is ‘n rede hoekom mense hul krag by die munisipaliteit laat aansluit, en dit is gewoon omdat dit tyd spaar. As jy elke oggend eers op die dak moet klim om jou daaglikse voëltjiepoef of lagie stof in wind en weer af te vee in jou sopnat pajamas net om te kan oggendkoffie maak, dink ek gaan jy op die ou end terugverlang na die koolstofpotte van Egipte. Moet tog net nie dat jou voet gly nie.

Slegs ‘n tuinier in murg en been, of iemand wat die saligheid ken van niksdoen, of ‘n proponent of apologeet van Afrikatyd is, sal 15 tot 30 minute lank wil hare kloof oor watter skille nou komposhoop toe moet gaan en watter na die wurmplaas (erdwurmreaktor) om wurmtee te maak.

Ek dink nie mense besef hoeveel tyd tuinwerk in beslag neem nie. En sukses is geen waarborg nie. Dit gaan vir my meer oor die týd wat onnodig verlore gaan.

Nommer 5: Nie almal sal gediend wees met bobbejane wat sommer self in die sitkamer kom tee skink nie. Ook nie met spinnekoppe wat ewe rats met die klimop hulself by die boudoir op Eenheid 21 van Verdieping 32 innooi, of die lastige muskiete wat hul teelaarde onder digte blare gevind het nie. Ek sal ook graag wil weet hoe mense die ruite met sulke onpraktiese argitektuur gewas kry. Ek wil liewer nie dink aan die brommers wat heerlik woel in die bemestingryke kweeklane op die grondverdieping nie. Aan die ander kant, middestad Johannesburg en omstreke leef klaar naby genoeg aan die natuur: vergewe van die rotte.

Estetika kom in hierdie genre, net soos by Steampunk, weereens voor die logika. Ek wil liewer nie dink aan die skade wat plantwortels aan die geboue oor die lange duur gaan aanrig nie. Jy plant nooit ‘n boom langs ‘n heining nie – met rede! Laat staan nog binne ‘n gebou!

En dink net hoe woedend jy gaan raak as die bure se sproeiers bokant jou woonstel nou juis moet aankom wanneer jy jou koerant buite op die balkon lees… En die al nimmereindigende blare opvee! Jy wil ook nie naby wees as daar ‘n skielike storm losbars en die stormafvoer in die straat benede ‘n blokkasie kry van die blare nie…

Nommer 6: Ek skryf nou die dag aan ‘n kollega op Wikipedia:

“Deesdae sien ek stoepe word al hoe meer toegebou met glas: dit hou die stof, misdadigers en verbygangers buite en laat die sonlig soos ‘n kweekhuis instroom in die winter. Terselfdertyd het jy ‘n portaal bygekry waar jy jou sambrele kan bêre. Ons het nog nie die skoene-uittrek soos in Japan en Noord-Europa nie. Daarvoor het jy mos ‘n mop en stofsuier.” […] “Die toegeboude stoep hou die vlieë ook sommer buite.” […]  “Dat ‘n orangerie (mooi woord wat ongelukkig nié in die WAT opgeneem is nie) nou so in Noord-Ierland gewild geraak het, is vir my verbasend; vroeër was dit slegs vir die welgesteldes beskore vir hul eksotiese invoerplante. En ja, my ma gebruik die toegeboude stoep om sensitiewe plante aan die lewe te hou (wat buite nie verskroei van die hitte nie, vrek van die dors), maar meer nog om die groente en vrugte “ryp” te maak; jou winkels koop die pere, mango’s en avokado’s heeltemal te groen aan, of laat dit ‘n ewigheid in die vrieskas bly. Los jy hulle in die yskas, vrot hulle binne ‘n week.”

Wat ek hiermee probeer sê: die gebruik van sonlig om ‘n soort kweekhuis binne jou eie huis te skep het niks met ekobewustheid of politiek te make nie. Die samelewing het van so ‘n aard verander dat jy meer ruimte en veiligheid nodig het. En mense hou van gerief. Dit gebeur op natuurliker wyse en word nêrens afgedwing nie. Dit is evolusionêr, nié revolusionêr nie.

Nommer 7: Die Solarpunk-gemeenskap is té plaaslik, té parogiaal, té regionaal en té plattelandsgesentreerd na my sin. Dis soos om terug te keer na ‘n tydperk voor die Nywerheidsomwenteling, na ‘n soort primitiewe bestaan. En dit laat my ongemaklik.

Dit beantwoord ook nie die vraag hoekom maatskappye, waarteen hierdie groepie tog so gekant is, in die eerste plek ryk word nie. Die kernreël van enige ekonomie is om die meeste met die minste geld en tyd te doen, aan vraag en aanbod te voldoen; dit handel alles oor optimalisering en evolusie. Soos ek gesê het, as die elektrisiteit- en watervoorsiening prima was en die koste laag, sou niemand eers gedink het aan ‘n sonpaneel nie. Jy sou mense moes smeek om dit aan te koop. Solarpunk, so tipies revolusionêr, neuk dwars in ‘n rigting in, want hy kan, dit moet net, maar waarheen, weet hy nie.

Terwyl Cyberpunk jou die geleentheid gun om ‘n soort bomenslike figuur met behulp van die kuberwêreld te word (dis die mooi kant van daardie distopiese genre), om jou hoogste potensiaal te bereik, smee Solarpunk jou absoluut soos snot gelyk met die aarde – jy sal nié bo jou medemens uitstyg nie, want dit bring ongelykheid en onmin mee.

Party mense hou van die kollektiewe gemeenskap, ander, soos ek, hoegenaamd nie.

Die modernisme gun juis mense die ruimte om met die minste moeite so beweeglik moontlik te leef. Jy sluit die deur agter jou met ‘n geruste hart toe en die stralervliegtuig staan gereed vir Singapoer. Dit is die bedoeling.

Die stedeling se tuine raak kleiner en verbruik minder water, omdat ons meer tyd voor die rekenaar wil deurbring (wat skakel met mense in Moskou, Londen, Rotterdam, Rome, Rio…) en ook omdat ons voortdurend op reis kan wees. Voedselproduksie word gewoonlik die lewenstaak vir kommersiële plase wat daarin spesialiseer en oor ruim middele, tegniek en tegnologie beskik om met die nodige deskundigheid die meeste te vermag met die minste geld. Die goue reël van die ekonomie word eerbiedig. Dit gee ook vir die tussenganger, die handelaar, die geleentheid om sy wins te maak [daarom is die aankoopprys van vleis byvoorbeeld net meer as R20/kg en betaal jy oor die R80/kg, om die koste te delg van ander produkte wat nie altyd verkoop nie. Want jy het die volste reg op keuse uit byvoorbeeld 20+ invoerkaassoorte op die rak]. Terselfdertyd is die regering ook veronderstel om ‘n ogie oor die standaarde te hou.

Wat sê die Solarpunk-Handves? “The objective is to promote self sufficiency and living within natural limits.” Met ander woorde, bestáánsboerdery? Geen cornu copia? Non? En wat dan nou van my ingevoerde Gouda uit Holland? Ek gaan nie my sakkies Cappuccino opoffer nie!

Maar nou het jy, vreemd genoeg van ‘n Groenlinkse standpunt, ‘n bedryf waar daar géén regulasies op die bedryf is nie (geen standaarde), ruilhandel plaasvind (daar gaan jou belasting nou…) en het almal streng gesproke oornag koelakke word, waar hy sy lappie grond volgens ‘n soort pagstelsel in die vorm van ‘n buurttuin (soos in Holland) by die staat huur. Maar, ten minste het almal nou gelyke mag. Dit laat my klaar weer wonder hoekom hierdie Solarpunk skielik so ontsaglik “mensvriendelik” is, terwyl Nederland juis verwildering aanmoedig op plase wat “onderdeur is”, sodat wilde herte daarop kan wei.

Tensy omstandighede van so aard is, soos in Suid-Afrika, wat mens natuurlik noop om jou eie groente en vrugte in jou agtertuin te kweek – dan moet die broodboom ongelukkig maar in die slag bly. As dit nie ‘n teken van besuiniging is of bloot ‘n kieskeuriger smaak (“my eie organies gekweekte koejawels smaak die beste”) in gunstiger tye nie, is dit eerder ‘n simptoom van wegholinflasie of voedseltekorte, wat eerder ‘n teken is van ‘n distopie, handelsverbod of oorlog. Van wanneer af is die distopiese leefstyl nou ‘n utopiese een, as ek mag vra?

En sodra jy daardie verpligtinge het, sit jy soos ‘n lyfeiene in die feodale tydperk van die Middeleeue vasgekluister aan jou lappie grond – want o, wee! – wie sal na my tuin omsien as almal hul eie boorde het om te onderhou? Moet tog nie dink by ‘n buurttuin is daar minder diefstal van groente nie: in Nederland is jou gedeelde lappie grond letterlik agter slot en grendel. Met rede.

“Our future must involve repurposing and creating new things from what we already have. Imagine “smart cities” being junked in favor of smart citizenry.”

Jy bedoel, mense neem die plek in van stemvee, masjiene of gedwonge gemeenskapsdiens en verpligte deelname? Hoe langer ek uit die skool is, hoe sieker raak ek van hierdie hoërskoolmentaliteit in die staatsdiens wat nooit sy tienertekkies gaan uittrek en grootword nie. Wat as ek nie deel van die “geborge gemeenskapsgevoel” wil wees nie, omdat ek my tyd in my eensaamheid beter kan benut as wat enigeen op die munisipale bestuur met hul rompslomp vir my kan voorskryf? Jy weet tog watter soort mens op die rade dien: gaan jy jou asem en tyd mors? Buitendien, dit staan my vry om te loop as ek nie van die dorp of stad hou nie. As die munisipaliteit my kundigheid nodig het, kan hulle my bel. Ek lewe nie in ‘n byekorf nie. Verder moet ons onthou dat niemand sy sterk punte beter ken as hyself nie – om vir enigiets anders in te willig maak van hom ‘n dilettant.  Kan almal boer? Kan almal ‘n vliegtuig vlieg? Ek vra maar net.

En gepraat van ‘slim burgerskap’: na soveel jare kan mense in Duitsland nou nog nie behoorlik glas van papier onderskei by die herwinningsblikke nie. Sterkte met die heropvoedingkampe, hoor!

Terloops, as jy tussen die Amish wil gaan bly, kan jy dit van ganse harte maar doen. Ek wil nie.

Nommer 8: Op die ou end gaan tegnologie ook maar afhang van die vervaardiger en die lithium- en silikon-ontginning, wat sal bly voortteer op die einste Moeder Aarde wat die Groenlinkes aanvoer verkrag word deur transnasionale gigamaatskappye. Jy kan snot en trane huil oor mynbou wat die omgewing skaad – jyself skryf sonder ironie jou betoog lieflik op ‘n rekenaar of selfoon gemaak uit elektronika, gemaak uit komponente wat gemaak is van verwerkte rustof, wat kom uit… raai? Myne!

Nommer 9: Of jy nou Atompunk, Dieselpunk of Cyberpunk gelees het – daar is om die een of ander rede, een of ander tyd, ad nauseum, dwelms by betrokke in die fiksie. Jy het tog werklik nie gedink daar sal by Solarpunk nié ‘n hektaar dagga in die burgemeesterstuin verbou word nie? Soos ek by Nommer 1 gesê het: tegnologie het nie die mens getem nie. Die mens het nou eenmaal die neiging om homself van homself te wil verlos. Dit kry jy in iedere samelewing. Miskien net met ‘n sonniger voorkoms.

Nommer 10: Onkruid en vergroening van damme floreer soos bemestingstowwe na varswaterbronne deursypel… Gedenk maar Hartbeespoortdam. Ons noem dit eutrofikasie. As jy Boer Jan wil speel en die dorp in ‘n hoenderhok wil omskep, moet jy weet wat die gevolge gaan wees.  Dis net in FarmVille en My Little City waar so iets nie gebeur nie.

Bonuspunt 1: Allemansgoed is niemandsgoed. In ‘n funksionele rasionele munisipaliteit word een of meer persone deur die stadsraad aangewys en besoldig om sekere werk voltyds te doen wat ander mense in staat stel om hul tyd produktiewer te benut. Dis die logiese ideaal.

As mens by die venster uitkyk vir die 8 munisipale werkers wat al 100 meter hiervandaan soos 28 persone opklink, sien ek swaar dae vir die munisipaliteit as Solarpunk werklikheid moet word. Één ou werk, die ander sewe lê op hul besems en pikke en praat ‘n sloot in die grond. Streng gesproke sou ek elke werker ‘n straat gee om te doen, elkeen afsonderlik. Want soos ek in die supermark opmerk, klos die rakpakkers ook almal bymekaar by die lekkergoedrak en praat dan te lekker, en dan moet jy, die klant, maar gedwee met jou winkelwaentjie met ‘n suutjiespoeperige “ekskuus, jammer, sorry” deurwurm om anderkant uit te kom.

Ek is nog van die gelukkiges in hierdie land wat ‘n brief aan die munisipaliteit kan skryf oor boomtakke  wat sulke sliertes oor die sypaadjie hang, wat jou eenvoudig dwing om in die pad te loop. Die hemel alleen weet hoe mense daar in Gauteng oorleef! Op die ou end neem die burgers maar self verantwoordelikheid en haal die snoeiskêre uit, terwyl hul elke maand hul doodbetaal aan erfbelasting aan dienste wat hul nooit kry nie. En dit lei tot:

Kommunistiese Kommune #3: elke burger van die dorp is ewe verantwoordelik vir die parkie en sypaadjies in sy buurt. Nou begin die groot moeilikheid. Want later gaan niemand weet waar hul verantwoordelikhede begin en ophou nie. Of erger: daardie droë hondebollie voor my huis is nie my verantwoordelikheid nie, want dis my buurman se hond wat elke aand uitbreek. ‘n Eeue-oue vete word op tou gesit wat die hele dorp in ‘n bloedbad dompel, 300 onskuldige vroue en kinders bly in die slag. En alles het by die hond begin.

Want ek sien naby ons huis het ‘n munisipale tuintjie ontstaan. Dit het as ‘n stokperdjie begin vir twee vrywillige stedelinge op die platteland met ‘n ekstra bietjie baie vrye tyd. Die ou kliphoop is omskep in ‘n lushof (sakkevol kunsmis is ingery), mooi beplant met ‘n paar mielies in die onomheinde oopte, met ‘n hele blommeryk. Selfs ‘n waterpyp is spesiaal deur die dorpsraad laat aanlê ter besproeiing en verfraaiing van die nuwe buurttuin (wat slegs deur hierdie mense omgesien word).  Wat gebeur? Die mieliekoppe word oornag afgesteel. Dis totáál ongewoon, want gewoonlik verdwyn die plant sommer wortel en tak. Jy kan jou ook indink wat sal gebeur as die vrywilligers eendag net nie meer daar is nie, of as die stokperdjie ouer as drie maande hul begin verveel. Dit is nie soos ‘n huis wat jy van buite af self sukkel om so mooi moontlik te probeer maak om teen ‘n wins later te verkoop nie; dis ook nie soos om pikkewyne te help skoonmaak nie. So… jy kan nie wérklik waarde of ‘n motief of dryfkrag aan hierdie buurttuin of allemanstuin koppel nie, want dit behoort aan niemand. So op die ou end word die plek toegegroei met onkruid en die munisipaliteit kom spuit alles maar weer dood. Terug by die begin.  Alles verniet.

Die mense, hoe edel hul bedoelings, kon eerder ‘n boek geskryf het wat ten minste nog 100 jaar iewers sal rondsweef.

Bonuspunt 2: COVID-19 en “sosiale afstand” het mense seker nou mooi geleer wat ‘n absolute doodgebore mislukking kommunale idees is.

Gevolgtrekking

Ek het besluit om Solarpunk nie ‘n Afrikaanse naam te gee nie, want dit is nie die benoeming in my taal waardig nie. Ek soek dit nie in my ongeskonde Afrikaanse woordeskat nie. Dit is deur Groenlinkses bedink om die middelklas totaal uit te wis, die proletariaat  tot diktatuur uit te bou en tot dwangarbeid te vonnis deur hul van kosbare tyd en smaak te beroof wat vir belangriker dinge aangewend kon word. Soos om hul gees te ontwikkel.

Die algehele indruk wat mens kry van Solarpunk is alles behalwe dié van ‘n vriendelike gesiggie. Dit pas eerder by dié van ‘n despoot of ‘n nukkerige tiener. Geen gesprekvoering of debattering word toegestaan of geduld nie. Dit is: “ek stel hierdie onmoontlike en onbillike voorwaardes, aanvaar dit of los dit”. Geen sakeman sal hom aan so ‘n gril steur nie en sy geld elders gaan belê; want aanvaar jy so ‘n persoon se aanbod, het jy ‘n pakt met die duiwel gesluit.

Kortom: hou wyd hiervan. Dis duidelik soos daglig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.