ANC en VF Plus besit saam ‘n tweederdemeerderheid

Deel op

Soos 'n ander skrywer vermeld het, is dit werklik verblydend om te sien dat daar soveel deelname aan ontledings ná die verkiesing is. Was dit nie vir die VF+ se powere vertoning nie sou dit seker nie so wees nie, so ten minste het dit een goeie gevolg gehad. Dit is veral Johann Wingard en Anton Barnard se jongste rubrieke wat my inspireer om die debat verder te voer. Beide noem die interessante moontlikheid dat die VF sigself om strategiese redes skaar met die ANC. So 'n verhouding sou baie interessante moontlikhede inhou. Ek wil egter waarsku daarteen dat die VF+ nie versmelt met die ANC indien so 'n opsie moontlik sou word nie. Ons het gesien wat gebeur met partye (soos die NNP) wat versmelt met die ANC. Hul leiers raak gehate figure en hulle moet die ANC se beleid in die geheel opneem.

Deel op

'n Samewerkingsooreenkoms tussen die VF+ en die ANC mag alleen gebeur as dit beteken dat die Afrikaner se belange streng en konsekwent daardeur gedien word. Dit is dus absoluut noodsaaklik dat die VF+ 'n party in eie reg bly. Die VF+ se identiteit as Afrikanerparty is die belangrikste bate wat dit het. Dit is die enigste party wat aanspraak daarop kan maak dat dit namens Afrikaners praat.

Om die akkoordmodel beter te demonstreer, maak dit sin om na die huidige Nieu-Seelandse regering te kyk. Die Nasionale Party het einde verlede jaar die Arbeidersparty by die stembus verslaan. In Nieu-Seeland is dit die praktyk dat die twee groot rolspelers nl. die Arbeidersparty en die Nasionale Party, met die vorming van 'n regering, alliansies met kleiner partye aangaan. Dit maak 'n breë konsensusregering moontlik. Hoewel eerste minister John Key se Nasionale Party met hul oorwinning verlede jaar meer as voldoende stemme gewerf het om gemaklik op hul eie te regeer, het hierdie sentrumregse party 'n allianse met die minderheids-etnies-linkse Maori-party aangegaan. Behalwe dat hierdie reëling die NP se beeld versterk as 'n demokratiese instelling wat in belang van die totale bevolking regeer, skep dit ook vir hulle 'n veilige agterdeur. Laat ek verduidelik: In Nieu-Seeland is die termyn tot die volgende algemene verkiesing slegs drie jaar. Te midde van die huidige wêreldekonomiese krisis gaan dit baie moeilik wees vir John Key se regering om aan die verwagtinge van kiesers te voldoen. Sou nóg die NP nóg die AP in die volgende algemene verkiesing 'n volstrekte meerderheid verkry, het die NP goeie alliansievennote wat dit die nodige meerderheid kon gee om weer die regering te vorm.

Die twee partye het dus nie saamgesmelt nie maar wel 'n samewerkingsooreenkoms onderteken waarna verwys word as 'n "confidence and supply agreement". In ruil het die Maori-party enkele kabinetsposte ontvang, bv Maori-sake. Terselfdertyd het die NP afstand gedoen van sy aanvanklike plan om die histories gewaarborgde Maori-setels van die parlementêre lys te verwyder.

Behalwe dat 'n soortgelyke reëling tussen die VF+ en die ANC enorme voordele vir Afrikanerselfbeskikking kan inhou, kan dit ook strategiese voordele vir die ANC inhou. Laat ek hieronder lys:

1) Die mees voor die hand liggende voordeel is dat so 'n samewerkingsooreenkoms die ANC die tweederdemeerderheid, wat daardie party so intens begeer, sal gee.

2) In die huidige ekonomiese krisis gaan die falende staatsmasjienerie van die ANC net selfs meer sukkel om dienste te lewer. Soos Anton Barnard reeds genoem het, kan ANC-stadsrade se dienslewering, met die hulp van Afrikanerkundiges, gelig word tot dieselfde vlak as waarvoor die DA sigself tans op die skouer klop.

3) Met Afrikaners aan Zuma se kant en die nodige toegang tot hulpbronne gaan die liberale Afrikaanse en Engelse establishment waaronder die DA, die pers ens. opdraende pad beleef, mits ons ons kundigheid reg aanwend.

4) Afrikaner- tegniese deskundiges, sowel plaaslik as in die diaspora, kan gewerf word om ontwikkelingsprojekte en industrieë op te rig waaruit die ANC-staat direkte voordeel sal trek. Sulke projekte kan selfs staatsbesit wees en sodoende bevredig dit die ANC se linkse alliansievennote. Weens die rol wat Cosatu en die SAKP gespeel het in die verkiesing van Zuma as ANC-president, sal hy 'n manier moet vind om hulle tevrede te hou.

5) Laastens sou mens kon argumenteer dat die ooreenkoms heelwat Afrikaner-DA lede van die parlement, provinsiale wetgewers en stadsrade voldoende kan beïndruk sodat hulle met die volgende verkiesing na die VF+ sou verpas. Hulle sou egter eers moet sien watter voordeel so 'n ooreenkoms vir die Afrikaner inhou. Tot die ANC se bevrediging sou dit die DA se greep op sekere streke kon beëindig.

Die voordele wat 'n amptelike akkoord met die ANC vir die Afrikaner inhou, is sekerlik voor die hand liggend. Dit gaan ooglopend rondom Afrikanerregte en selfbeskikking. Die verkryging van 'n ministerie van Afrikanersake soortgelyk aan ander lande waar etniese minderhede (bv die Maori's in Nieu-Seeland, die Duitsers in België, e.a.) hul eie sake bedryf, sou die doelwit wees. So 'n regeringsdepartment kan die volgende mandaat geniet:

1) Die verkryging van landwye en eksklusiewe beheer oor Afrikaneronderwys binne 'n eie sake-model;

2) Die verkryging van landwye en eksklusiewe beheer oor alle Afrikaner-musea, -monumente en ander kultuurgoedere;

3) Die implementering van Afrikanerpolitieke selfbeskikking binne 'n eie geografiese gebied met duidelike doelwitte en 'n tydsraam wat die heersende party vooraf onderteken;

4) Die toekenning van 'n aansienlike begroting aan die ministerie van Afrikanersake vanuit die nasionale begroting waarmee ons bg. kan implementeer;

So 'n Afrikanerprojek kan egter alleen slaag as alle Afrikanerorganisasies wat sigself vir Afrikanerselfbeskikking beywer daarby betrek word. Hoewel die VF+ die amptelike voertuig kan wees, sal dit nie werk as die VF+ 'n ekslusiewe benadering neem en net hul eie strategiese vennote daarby betrek nie. So 'n projek sou 'n kans gee vir die VF+ om veld onder die breë Afrikanerbevolking te wen, maar slegs as dit by wyse van insluiting en konsensus te werk gaan. Die VF+ sal 'n Afrikanerberaad van enersdenkende organisasies moet byeen roep. Terselfdertyd sal die VF+ sy voelers na die ANC moet uitsteek. As 'n breë front kan Afrikaners dan met Zuma se ANC in gesprek tree. Dit is egter van kardinale belang dat die VF+ sy oënskynlike verleentheid oor Afrikanerselfbeskikking afskud.

отбеливание зубов zoomФильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.