Jaap Kelder: ‘Koronakrisis maak belastingweerhouding wettig’

Mnr. Jaap Kelder. Foto: Praag.
Deel op

“Daar was in die verlede al baie mense wat gesê het dat ons ons belastingbetalings van die regering moet weerhou op grond van SEB, diskriminasie en swak en/of nie-dienslewering,” skryf mnr. Jaap Kelder wat al verskeie suksesvolle hofsake teen munisipaliteite gevoer het waar plaaslike belastingbetalers geweier het om te betaal weens administratiewe foute of gebrek aan dienslewering.

Hier volg die res van Kelder se verklaring

Dit was nog altyd die NBU (Nasionale Belastingbetalersunie) se standpunt dat sodanige weerhouding onwettig sou wees en dat weerhouders met boetes en rente bestraf sou kon word tot so ‘n mate dat dit ‘n weerhouder finansieel sou kon uitroei.

Met die regering se ondeurdagte optrede mbt. die bekamping van die koronavirus het dit tot enorme krisisse mbt winsgewendheid en kontantvloei by baie firmas en individue gelei.

Die uwe is onder diegene wat ook deur die regering se optrede direk geraak is en gevoglik het ek ‘n skrywe aan die SAID gerig waarin ek hulle in kennis stel dat ek voorlopig nie meer BTW gaan betaal nie.

Ons het dus nou grondige en wetlike redes om ons betalings aan die SAID op te skort vir solank as wat ons redelikerwyse kan bewys dat die weerhouding gefundeerd is.   Om te vra hoe lank is om te vra hoe lank ‘n stukkie tou is!

Die regering is natuurlik ook heeltmal bewus van die feit dat hulle die ekonomie nou behoorlik opgefoeter het en ons haal aan uit Ramapokker se toespraak op die 21ste.   “PAYE payments that can be deferred will be increased to 35%”.  Dit geld egter net vir firmas met ‘n omset van minder as R100m per jaar.   Weens die regering se gedwonge sluiting van firmas is ons van mening dat almal wat BTW en LBS-bedrae moet oorbetaal die volle bedrag wettiglik kan weerhou.   Verder het Ramapokker verklaar dat “No penalties for late payments will be applicable if they can show they have been materially negatively impacted in this period”.

Ons het ook verder ons huiswerk gedoen deur die weerhouding na ons advokaat, wat ook die Kostersaak suksesvol vir ons hanteer het, te verwys vir sy kommentaar. Alhoewel hy dit nie in sy antwoord vermeld nie, het hy telefonies met ons bevestig dat hy die aangeleentheid op sy beurt weer met ‘n senior advokaat, wat in belastingsake spesialseer, bespreek het en dié het ook sy goedkeuring aan die voorgestelde weerhouding toegesê.

Daar is natuurlik altyd die moontlikheid dat die SAID, net soos die munisipaliteite,  eensydig sal optree en weerhouders gaan aanpak en gelde uit belatingbetalers se rekeninge gaan trek.  Dit is dan ook waarom ons die SAID gewaarsku het om dit nie te doen nie.

Sou die SAID geld uit ons rekening trek sal ons dit in die hof beveg.   Die prosedure wat ons sal volg is dat ons op daardie stadium dit op ons poslys sal versprei.   Almal wat op daardie stadium geld weerhou, sal uitgenooi word om aan die hofaksie as applikante deel te neem.   Om die hofaksie te befonds sal elke deelnemer versoek word om afskrifte van sy LBS en BTW aan ons te stuur tesame met ‘n betaling van 5% van die bedrag wat van die SAID weerhou is.

Aangesien  persoonlike inkomstebelasting 39% en BTW 25.8% — in totaal dus 64.8% van die totale begrote staatsinkomste vir die huidige jaar uitmaak —  kan hierdie weerhoudingsaksie nogal ‘n wesenlike verskil maak en ons in ‘n meer gunstige bedingingsposisie plaas sou daar in die toekoms  oor selfbeskikkng onderhandel moet word. He who pays the piper calls the tune. Bygesê natuurlik dat daar aangeneem kan word dat die aksie beduidende steun van die belastingbetalers gaan kry en ons nie weer met ‘n klomp lamsakke gaan sit nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.