Leon Lemmer: Leon Wessels oor hoe om ‘n verloopte Afrikaner te word

Leon Wessels
Deel op

Leon Wessels het voorheen drie boeke gepubliseer: Die einde van ‘n era – bevryding van ‘n Afrikaner (1994), My regte! Jou regte? – kom ons praat (2006) en Vereeniging – die onvoltooide vrede (2010; Amazon Kindle $10,92). Ek het laasgenoemde boek bespreek en onder meer geskryf: “Hy het die nuwe Suid-Afrika gewen, maar in die proses sy siel as Afrikaner verloor” (Praag 20.10.2013). Wessels se jongste boek is: Encountering apartheid’s ghosts: From Krugersdorp to Constitutional Hill (Naledi, 2020, R275; Amazon Kindle $11,99). Ooreenkomstig die mode en anders as voorheen, publiseer Wessels dus nou in Engels. Baie van wat in die 2010-boek staan, insluitende woordelikse vertaling, kom in die jongste boek voor. Barney Pityana skryf: “Leon Wessels remains an enigma to anyone who is seeking a textbook account of a change-maker or a transformer” (Kindle 114). Wessels is dié toonbeeld van ‘n verloopte Afrikaner. Verloopte: weggeloop, gedros, mislukte, verliederlikste (HAT). Apartheid spook by Wessels, maar die geweld, terrorisme en gewoon onbeskaafde gedrag van die ANC-kamerade skeel hom min. Die klem is op hoe sleg die blankes, veral die Afrikaners, is. In Wessels se oë kom die swartes feitlik skotvry daarvan af.

Die Kindle-weergawe van die boek is op 7 April op Amazon se webwerf beskikbaar gestel. Pityana se voorwoord is gedateer 21.03.2020, Wessels se nawoord Maart 2020 en daar word selfs verwys na die aankondiging op 23.03.2020 (foutiewelik as 15.03.2020 aangedui) van die instelling van grendeltyd vanaf 27.03.2020 deur Cyril Ramaphosa (4638). Op 9 April is ‘n onderhoud, wat Gert van der Westhuizen met die outeur via die internet gevoer het, gepubliseer (“Die spoke van apartheid,” Netwerk24). Tensy die teks vroeër aan hom beskikbaar gestel is, kon Van der Westhuizen onmoontlik die boek vóór die onderhoud klaar gelees het. Hy gaan op sy kenmerkende oppervlakkige manier met die boek om. Die berig gee publisiteit aan Van der Westhuizen, die outeur en die boek. Wat vir hierdie twee mense ook van groot belang is, is dat Afrikaners en apartheid uiters negatief voorgestel word. Geen wonder dat iemand soos Chris Jones daarop aangedring het dat die manuskrip gepubliseer moet word nie (6185). Dit herinner aan die verregaande twak wat Jonathan Jansen op die voorkant van die 2010-boek geskryf het: “Moenie sterf voordat jy saam met Leon Wessels koffie gedrink het nie.”

Waarop Wessels se pleidooi neerkom, is dat Afrikaners volledig (Suid-)Afrikane moet word; dat hulle, ooreenkomstig die ANC se wens, deel van en oorwegend soos die verswelgende swart meerderheid moet wees. Dit sou glo op grond van gedeelde waardes bereik kon word. Die eie kultuur van minderheidsgroepe word glad nie in afdoende mate gereken nie. Geen minderheidsgroepsregte – “laager rights” volgens Pityana (114) – word erken nie; wel dominerende meerderheidsregte. Dat Afrikaners sonder hulle goedkeuring in hierdie haglike situasie beland het, is vir Wessels ‘n bron van trots. Hy was immers deel van die klein groepie blanke Afrikaanssprekendes wat mandaatloos aan swart mag oorgegee het. Hiervoor vra hy nie verskoning nie. Hy vra wel oor en oor verskoning vir apartheid en ons beweerde slegte of donker verlede.

Volgens Wessels se insig is die hede oneindig beter as die verlede; dus, swart oorheersing op alle terreine is beter as die blanke politieke beheer van weleer. “It is difficult for me to understand why Afrikaners can’t just be themselves and embrace the South African diversity without kicking up a storm” (6034). ‘n Kort antwoord is: Omdat Wessels se Afrikaners dan nie meer Afrikaners nie maar eerder Afrikane sal wees; dus dat Afrikaners dan sal moet word soos Wessels deesdae probeer om te wees. Hy noem homself “an African and an Afrikaner. I am a liberated Afrikaner” (6176). Anders as wat hy dink, stel hy vir Afrikaners nie ‘n navolgenswaardige voorbeeld nie.

Die voorwoord is heel gepas deur ‘n swartmagaktivis, Barney Pityana, geskryf. Volgens Wessels is hy ‘n “intellectual giant” (1618). Hulle ruil komplimente vir mekaar uit. In die voorwoord word Wessels “a larger than life character” genoem (38). Hoekom? “Leon was not defensive about his past” en “[he] fitted perfectly into the ethos [of the South African Human Rights Commission]” (87). Met ander woorde, as menseregtekommissaris (van 1999 tot 2009) was Wessels die spreekwoordelike nuttige idioot vir die ANC-regime. Boonop het hy oordadige vergoeding vir sy dienste ontvang. Ek herinner my dat Wessels as enigste blanke saam met sy swart mede-menseregtekommissarisse by ‘n skool in die Waterberg opgedaag het. Die blanke ouers was tereg bekommerd, bv oor die veiligheid van hulle kinders, toe swartes hulle skool ingeneem het. Van Wessels se kant was daar geen simpatie hoegenaamd met die blankes se onverdiende lot nie. Saam met sy swart kollegas het hy ‘n verenigde front teen die blankes gevorm. In sy boek swyg Wessels oor hierdie gebeure. Soos Pityana dit stel: “We became comrades and partners in nation building” (96).

Dwarsdeur die boek word al Wessels se “prestasies” van skooldae af tot op hede gelys. Hy het rekord gehou van gunstige kommentaar wat oor die jare oor hom gelewer is. Ter selfverheerliking haal hy graag daaruit aan. Hy het klaarblyklik oor ‘n lang tydperk aantekeninge oor gebeure gemaak. Hy benut hierdie inligting wanneer hy boeke skryf. Daar is dus ‘n soort geroepenheid by hom. Maar hy het nie geweet wat hy sou word nie; dus hoe buitensporig hy sou ontaard nie. Pityana skryf: “He turned out differently from his fellow Afrikaners” (105), wat bevestig dat Wessels wesenlik ‘n nie-Afrikaner geword het. Wessels het die punt bereik waar hy skynbaar gewetenloos (tradisionele) Afrikaners kan verdoem. Hy beskryf homself as ‘n “gradualist” (6068). Hy noem nie of hy kan swem nie, maar “gradualist” beteken in sy geval dat hy die vermoë het om saam met die stroom te dryf. Hoe die wind waai, bepaal wat hy is. Byvoorbeeld, hy was twintig jaar lank ‘n lid van die Afrikaner-Broederbond, maar het in 1994, toe lidmaatskap onlonend geword het, uit die Broederbond bedank (5887). Dat daar opportunisme by Wessels is, is myns insiens nie te betwyfel nie. Deel van sy aanspraak op (misplaaste) roem is dat hy die eerste NP-minister was wat vir apartheid om verskoning gevra het (289, 4608), naamlik in 1990 (320).

Wessels probeer ‘n saak daarvoor uitmaak dat hy in sy jeug nie deel van Afrikaner-politiek, spesifiek die Nasionale Party en apartheid, was nie. “We were outsiders and not part of the politics of the country” (361). “My family and I were so detached from politics that I did not know how to answer my friends when they asked whether I was a Nat or a Sap (402). “My parents never became embroiled in the English-Afrikaans squabbles” (470). Wessels se ma het van Hendrik Verwoerd gesê: “He talks too much” (939). En haar seun, Leon, beweer waaragtig “Verwoerd was not the intellectual giant he was made out to be” (5175) terwyl daar algemene eenstemmigheid behoort te wees dat Wessels intellektueel nie naastenby so begraafd is as wat Verwoerd was nie. ‘n Mens kan met ‘n stok aanvoel dat Wessels, soos bv Willie Esterhuyse en Ton Vosloo, in ‘n Sap-gesin grootgeword het. Soos FW de Klerk (Autobiography, 1998, p 20) dateer Wessels sy verligte aanslag terug tot toe hy saam met die kinders van plaaswerkers gespeel het (372). Hy het toe reeds Nkosi sikelel’ iAfrika gesing (413) – voorwaar ‘n mens wat sy tyd vooruit was. Vandaar vorder hy tot by kollektiewe skuld vir die blankes. Maar in sy boek is daar nêrens sprake van kollektiewe skuld by die swartes nie. Wessels het Elsa Joubert se Poppie Nongena-boek (1978) gelees. “I then realised that I was also responsible for her [Poppie’s] suffering. I could not say, ‘Well, it was not me or my generation who concocted this draconian system'” (536).

‘n Mens kry ‘n voorsmakie van hoe Wessels later sou ontaard wanneer hy met verwysing na die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) skryf: “The embittered Boers and their struggle to reestablish themselves and to protect their culture and heritage and, at a later stage, the preservation of the Afrikaans language would have a lasting effect on the future politics and development in the country – a ghost that has only partially been exorcised today” (843). Afrikaner-erfenis, -kultuur en -taal word dus deur Wessels as spoke uit die verlede geag wat uitgedryf moet word. Dit is waarom hy uitbundig vrolik was toe daar op die sotlikheid van elf amptelike tale ooreengekom is. Afrikaans was die enigste taal wat baie aan status ingeboet het en Engels het in die praktyk in oorheersende mate eintlik die enigste amptelike taal geword.

Oor die Bantoe-onderwyswet (1953) skryf Wessels: “This Act also meant the end of the independent church and mission school system. Years later this would be regarded as brutal and a fatal mistake” (963). In werklikheid het die NP-regering ‘n groot verbetering in die skool- en tersiêre onderwys van nieblankes bewerkstellig, soos bv Hermann Giliomee duidelik aantoon. Swartes is bv nie van hulle kultuur vervreem nie. Dat Wessels daarop ingestel is om sy lesers doelbewus te mislei, blyk wanneer hy Hendrik Verwoerd soos volg aanhaal: “There is no place for him (the Bantu) in the European community above the level of certain forms of labour” (963). Onmiddellik daarna het Verwoerd egter gesê: “In sy eie gemeenskap is die deure egter vir hom oop” (Hermann Giliomee, Die laaste Afrikanerleiers, 2012, p 69). Vóór hierdie aanhalings het Verwoerd gesê: “Die Bantoe moet gelei word om sy eie gemeenskap in elke opsig te dien” (69). Giliomee wys daarop dat dit ‘n geykte slenter is om Verwoerd se woorde onvolledig aan te haal. Dit is gewoon ‘n skande dat Wessels dieselfde doen. Hy wek die indruk dat hy in sy pogings om Afrikaners sleg voor te stel, nie omgee om hom aan immoraliteit/oneerlikheid skuldig te maak nie. As iemand wat graag vir die swartes om verskoning vra, behoort Wessels in hierdie geval vir al sy lesers, ongeag hulle ras, geslag, ens, om verskoning te vra. Dit spreek eintlik vanself dat Verwoerd nie in 1960 drie staatsuniversiteite vir swartes (Fort Hare, Zoeloeland en die Noorde/Limpopo) en later talle ander tot stand sou gebring het as swartes gedoem was om net ongeskoolde arbeid te verrig nie.

As ‘n mens die boek, Native life in South Africa (1916), van Sol Plaatje (1876-1932), een van die eerste ANC-kamerade, lees, is dit duidelik dat die swartes se griewe tot die Anglo-Boereoorlog terugdateer word. Die swartes was dislojaal jeens die Boere. In ruil vir die swartes se hulp, het die slinkse Britte gelyke regte aan hulle belowe. Ná die oorlog het niks hiervan tereg gekom nie. Met uniewording in 1910 het slegs die Kaapprovinsie met beperkte stemreg vir nieblankes voortgegaan. Daarna het die wet op swart grondbesit in 1913 gevolg, waarvolgens amptelik met gebiedskeiding in die vorm van reservate of tuislande begin is. Die swartes, soos die bruines, wou nie hulle eie heil in hulle eie gebiede uitwerk nie. Dit moes opsluit saam met en tussen die blankes gedoen word. Aanvanklik is die leiding van die blankes aanvaar, maar weens opstoking en hulle getalle-oorwig, wou die swartes al hoe meer beheer oorneem terwyl terselfdertyd van die blankes verwag is om die stutwerk te doen; vandaar die mentorskap en vennootskap wat tot op hede van die blankes vereis word, maar sonder erkentlikheid vir die prestasies en opofferings van die blankes.

Wessels noem dat aanvanklik net op stemreg vir “civilised Africans” aangedring is, maar met die ANC se African Claims van 1943 is die deuntjie verander na “all adult citizens” (1192). Vir die formulering van hulle eise was die swartes aangewese op die stutwerk wat deur die Amerikaanse en Britse Atlantic Charter van 1941 verskaf is. Rusty Bernstein (1920-2002) het die Freedom Charter (1955) van die Congress of the People geformuleer. Dirkie Smit en Jaap du Rand het die Belydenis van Belhar (1986) vir die Verenigende Gereformeerde Kerk opgestel. Al drie hierdie dokumente dui op die onontbeerlike (mis)leiding wat blankes verskaf het. Op ‘n soortgelyke manier was Wessels, saam met FW de Klerk, Roelf Meyer en Dawie de Villiers, betrokke by die grondwetlike onderhandelinge en die daarstelling van dokumentasie wat tot die mandaatlose politieke magsoorgawe van die blankes gelei het.

Sedert 1913 het die swartes op ‘n al hoe groter deel van Suid-Afrika aanspraak gemaak. Albert Luthuli (1898-1967), wat nie eens in Suid-Afrika gebore is nie – hy was ‘n 10-jarige inkommer – verskaf ‘n aanduiding van die soort redenasie waarmee vorendag gekom is: “Surely they must give at least 75% of the land to Black people … Why can’t they understand that I am not 75 per cent, but 100 per cent South African?” (1217). Wessels misbruik Luthuli se drogredenasie as aanleiding vir die volgende stelling: “Let’s create a constitutional dispensation where we can all be 100% South Africans” (1236). Wat het in die praktyk gebeur? Dit is deesdae vir onlangse swart inkommers makliker om op suiwer rassistiese gronde eersteklas burgerskap te verkry as vir blankes wie se voorgeslagte sedert 1652 hier is maar van wie verwag word om met tweedeklas burgerskap tevrede te wees.

Oor die Sharpeville-gebeure (1960) vertel Wessels dat daar 20 polisiemanne en 20 000 protesterende swartes was (1236) en dat dit plaasgevind het nadat 9 konstabels twee maande vroeër wreed deur swartes by Cato Manor vermoor is (1258). Te Sharpeville is drie polisiemanne met klippe raakgegooi. Toe is traanrook gebruik en daarna knuppels. Hierdie optrede was oneffektief, gevolglik het die polisie uit selfverdediging begin om twee minute lank te skiet. 69 swartes is gedood en 180 beseer. ‘n Geneesheer, Jack Friedman, het beweer dat omtrent 70% van die 52 dooies wat hy ondersoek het in die rug gewond is (1248). Dit is, in soverre dit waar is, maklik verstaanbaar: Die voorste linie van die aanvallers is van voor geskiet en dié agter hulle het omgedraai en probeer vlug. Maar hoe word hierdie gebeure gewoonlik opgedis? Ongewapende (nie klipgooiende nie) swartes het van die polisie gevlug maar is in die rug geskiet. Die ANC-regime se Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) het bevind “that the police actions at Sharpeville constituted ‘gross human rights violations in that excessive force was unnecessarily used to stop a gathering of unarmed people'” (1270); dus, die 20 polisiemanne moes eerder dood gewees het.

Sharpeville was ‘n protes wat deur die PAC gereël is. Hierna het die PAC groter erkenning en ondersteuning in die buiteland as die ANC geniet. Dit het die tafel gedek vir die Soweto-opstand in 1976 toe die ANC skoolkinders voorgestoot het sodat hy sy verlore prestige in die buiteland en plaaslik kon herwin. Gewoonlik word die Soweto-opstand voorgestel as ‘n protes teen skoolonderrig in Afrikaans. Tot sy eer skryf Wessels: “It soon developed into a rebellion against the parents colluding with Apartheid, teachers administering corporal punishment, habitual drunkenness ‘that dulled political awareness'” (1555). Dit het dus nie net oor Afrikaans gegaan soos meesal beweer word nie, maar oor allerhande griewe.

Nelson Mandela het besluit om die 1996-Grondwet by Sharpeville te onderteken. Daarmee het hy sy solidariteit met en sy dankbaarheid teenoor die PAC vir hulle gewelddadigheid betoon. Die ondertekening by Shapeville kon egter geensins bydra tot versoening met die blankes waaroor Mandela graag hoog opgegee het nie. Pleks van bedenkinge te hê, het Wessels met groot graagte hierdie ondertekeningseremonie bygewoon.

Met die Marikana-menseslagting (2012), waarin 44 mense gedood en 78 beseer is, het die ANC-regime uiteindelik agtergekom dat dit soms onmoontlik is om ‘n skare swartes te beheer. Ook in hierdie geval is beweer dat die meeste slagoffers in die rug geskiet is. Die Sharpeville-slagting word deesdae jaarliks op 21 Maart as Menseregtedag en die Soweto-opstand op 16 Junie as Jeugdag herdenk. Die ANC-regime het ‘n museum op albei hierdie plekke opgerig, maar nie by Marikana nie. Dit illustreer die soort waardes wat die ANC aanhang en waarmee Wessels geen fout vind nie. Hy verwag dat alle Afrikaners hiermee genoeë moet neem.

Soos die gebruik by ANC-aktiviste geword het, herhaal Wessels onkrities die bekende leuen wat Mandela in die Rivonia-verhoor (1964) kwytgeraak het asof dit evangelie is: “I have fought against black domination” (1354). Wessels verskaf uiteraard geen voorbeelde van hoe en waar Mandela teen swart oorheersing geveg het nie, want daar is nêrens voorbeelde hiervan te vinde nie. Van Mandela se belofte van “equal opportunies” (1366) is daar, wat die blankes betref, ook nie sprake in die nuwe Suid-Afrika nie. ‘n Blanke kan maar berus die waarheid hiervan toets deur om ‘n pos in die staatsdiens aansoek te doen. Sulke aansoeke word dikwels afgewys al is daar vakatures wat nie met swartes gevul kan word nie.

Die kommunis, Bram Fischer (1908-1975), is tronkstraf vir onder meer sabotasie opgelê. Die oorverligte Helen Suzman (1917-2009) “remarked after visiting Fischer in hospital that she had no idea why ‘the Government remained afraid of one bedridden and incapacitated man'” (1401). Hierdie dwars opmerking bied later ‘n springplank aan Wessels om vir ‘n Britsgebore aktivis in die bres te tree: “It was impossible … to explain to anyone how the detention without trial of Helen Joseph [1905-1992] – an 80-year old woman and staunch supporter of the ANC – could be a threat to state security” (2186). Dieselfde drogredenasie kan teen Mandela se aanhouding geopper word. Maar vanaf Mandela se vrylating in 1990 tot die algemene verkiesing in 1994 is meer mense as ooit voorheen in die ANC/SAKP se terroristestryd gedood.

As die vrylating van ‘n enkele mens nie die land deurmekaar kan krap nie, waarom word Janusz Walus (gebore in 1953) nie vrygelaat nie? Hy is sedert 1993 in die tronk. Sy aanhouding duur reeds langer as dié van Mandela, terwyl hy, anders as Mandela, vir die dood van slegs ‘n enkele mens verantwoordelik gehou kan word. Hoe in sy skik Wessels met Mandela is, blyk uit die volgende: Ná die moord op die militante kommunis, Chris Hani (1942-1993), het Mandela, voordat hy enige bewese steun by die kiesers gehad het, oor die televisie en radio gemoedere probeer kalmeer. Wessels kom dan met hierdie insig vorendag: “This was the moment in my opinion that Nelson Mandela became the de facto Head of State” (4115). Hoe kan ‘n mens soos Wessels daarna (maar ook vóór dit) met onderhandelinge vertrou word wat ten minste aanvanklik veronderstel was om blanke belange te beskerm?

Maar die verrotting gaan dieper. “The fragile stability forced the negotiating partners to reach an agreement on a date for the election – 27 April 1994” (4115). Dit was die toppunt van onnoselheid. Die dood van Hani is deur die ANC tot die uiterste uitgebuit. Dit het die NP-onderhandelaars vir die soveelste keer onder druk laat swig. Daar is heeltemal voortydig op die verkiesingsdatum ooreengekom. Hierna het die ANC-onderhandelaars die taktiek gevolg wat hulle by die Viëtnamese kommuniste geleer het: Sloer met ooreenkomste oor alle belangrike sake tot kort voor die keerdatum en oefen dan druk vir die aanvaarding van julle standpunt uit. Dit is bv hoe Afrikaans as amptelike taal grootliks (in die praktyk) in die slag gebly het.

Arthur Chaskalson (1931-2012), wat die hoofregter van die Konstitusionele Hof was (1994-2001), het verseker dat hy Fischer se lessenaar in daardie hof gebruik (1416), wat ‘n aanduiding van die mate van sy onpartydigheid kan gee. Volgens Wessels se insig was Chaskalson egter ‘n “giant legal eagle” (1663). In 2004 het die ANC-kruipende Universiteit Stellenbosch ‘n eredoktorsgraad postuum aan Fischer toegeken (1416). Dit toon duidelik hoe erg hierdie eens Afrikaner- en Afrikaanse universiteit binne ‘n dekade ontaard het. In 2013 was daar blyke dat Fischer se twee dogters, Ruth en Ilse, minder onredbaar links as Wessels was. Hulle het na die ANC-regime verwys as “this lot that are now ruling us” (1428).

Die woord Afrikaners is deesdae, anders as voorheen, skynbaar ‘n verbode term in Naspers/Media24-publikasies, tensy jy Afrikaners slegsê. Die meer “inklusiewe” neologisme, Afrikaanses, word wel soms gebruik. Ná 1972 is al hoe meer aan die eise van die swartbewussynsbeweging toegegee en is die term nieblanke met swart vervang (1502). Getrou hieraan skryf Wessels in ‘n aanhaling “non-Whites (sic)” (1042). Maar dit is glad nie altyd duidelik of swart bruines en Asiate insluit nie. Wanneer dit die geval is, behoort die lomp frase “generies swart” gebruik te word, hoewel die drie rasse/etnisiteite (swart, bruin en Asiaat) nie eenders is nie, behalwe in die sin dat hulle nieblank is. In simboliese logika word A en -A (nie A nie) gebruik, wat duidelik maak dat die een die ander heeltemal uitsluit. Dit is die duidelike voordeel wat blank (A) en nieblank (-A), asook swart (swart swart) en nieswart (blankes, bruines en Asiate), het. Duidelikheidshalwe volhard ek dus met die tradisionele betekenis van hierdie woorde. “Coloureds” word deur Wessels tussen aanhalingstekens geplaas (1555, 1576). Ek praat van bruines (as teenhanger vir blankes) of soms van bruin mense, wat die mensstatus van bruines beklemtoon, hoewel dit ongewoon is om die frase blanke mense teë te kom. Dalk is dit omdat blankes hulle mensstatus oor baie eeue onmiskenbaar bewys en gevestig het.

Toe Wessels in 1974 die politiek wou betree “I was not a signed-up member of the National Party” (1701). Sy posisie was dus soortgelyk aan dié van Denis Worrall (gebore in 1935) toe hy in 1974 ‘n NP-politikus wou word (Praag 23.03.2019). Albei persone het geblyk meer oorverlig te wees as wat die partystrukture toegelaat het. Daar is destyds profeties van Wessels se kandidatuur as parlementslid vir Krugersdorp gesê: “This man cannot be trusted with the future of the NP” (1701). In 1974 het die opportunistiese Wessels daarin geslaag om lid van die Afrikaner-Broederbond te word (5887). Toe John Vorster by geleentheid van die swartes sê, “they will swamp us,” is Wessels se stiksienige kommentaar: “I knew that Vorster had not impressed anybody with his last comment” (1809). In 1990/94 het dit geblyk dat Vorster die heilige waarheid gepraat het. Wessels, daarenteen, spreek hom ten gunste van “unrestricted democracy” uit (1818). By hom is daar skynbaar weinig sensitiwiteit vir die belange van die blankes of Afrikaners as minderheidsgroep.

Waarvoor Wessels sy mes dwarsdeur die boek in het, is “right-wing racists” (bv 1827; ook 1857). “I loved it when [PW] Botha drove the verkramptes from their foxholes” (1995). Regses word telkens as “arrogant” beskryf (bv 1995, 2005, 2014) terwyl hulle bloot ‘n ander en verantwoordeliker of meer behoudende standpunt as Wessels huldig. Hans Strijdom word sonder meer ‘n rassis genoem (2080). Connie Mulder’s “statement that discrimination was as outdated as slavery impressed me” (1962). As lid van die NP-regering is Wessels op sy talle buitelandse reise gekonfronteer met opmerkings soos: “Look at the outdated racism on your statute books” (2205). “I realised how silly and cosmetic the walls between people are” (2235). Die punt wat Wessels mis, is dat daardie buitelanders hulle verligte monde oor die Suid-Afrika van weleer kon uitspoel sonder om die risiko te loop dat hulle onder ‘n ANC/SAKP-regime gebuk sou gaan. Hulle sit steeds knus in die buiteland met ‘n blanke regering, wat waarskynlik doeltreffender en minder korrup as die ANC regeer.

“The lily-white communists and I are just as far apart as the right-wing Afrikaners in Krugersdorp and me. They are also lily-white, but I loathed their racial, Nazi-type politics. It dawned on me that I was closer to some people of colour than the white communists or Nazis. Skin pigmentation is not the determining factor when one makes political judgements. What matters is whether people subscribe to the same values” (2244). Om oorspronklike idees van Wessels te verwag, is om hom te hoog aan te slaan. Hy het sedert 1990 dikwels sonder weersin hand om die blaas met kommuniste verkeer, maar voortgegaan om regse Afrikaners te verfoei. Hy skryf bv: “I was thrilled about the opportunity to rub shoulders with the Cubans and Russians” (3291).

Waarom sou Wessels op ‘n afgesaagde manier na lelie-wit mense verwys, asof dit ‘n skande is om blank te wees, maar nooit van bv roet-swart mense praat nie? Wessels sal seker nooit tot die insig kom dat dit buitensporig oordrewe – eintlik gewoon vals – is om apartheid met Nazi-politiek te vergelyk nie. Maar dit gaan nie vir hom om waarheidsgetrou te wees nie. Dit gaan vir hom om blankes sleg te sê. Velkleur of pigmentasie was nooit die primêre norm vir onderskeid tussen mense nie. Die eintlike norm is kultuur, dus verskille in dink en doen, verskille in leefwyse, wat inderdaad op verskille in waardes gebou is. Maar Wessels dink die 1996-Grondwet is wonderlik terwyl dit rassediskriminasie teen die blankes tot in die oneindige toelaat; selfs vereis. Daar is geen keerdatum vir hierdie diskriminasie nie. Dit is onwaarskynlik dat die swartes ooit moeg vir hulle eie bevoordeling sal raak. Maar soos die ANC-kornuite beweer Wessels, hoogs waarskynlik valslik, dat swart bevoordeling bloot ‘n verbyganende “intermediate phase” is waarvoor apartheid die skuld kry (5552).

“The right-wingers were not impressed with the recommendations of the Wiehahn and Riekert Commissions [1979] to recognise trade unions and relax influx control measures … The acceptance of the … recommendations had far-reaching consequences” (1986). Maar daar is geen aanduiding dat Wessels besef dat dit dié aanleiding was waarom blanke politieke beheer in 1990/94 in die slag gebly het nie. Die swartes het ekonomiese burgerskap verkry, kon staak en protesteer en voortaan Suid-Afrika inneem en lamlê. Daar was ‘n ander keerpunt wat ook vir Wessels ontgaan: Die gelieg deur ANC-kamerade, met Mandela aan die voorpunt, oor die Boipatong-slagting in 1992, toe Inkatha-lede ANC-ondersteuners ‘n welverdiende loesing gegee het. Dit was ‘n keerpunt in die grondwetlike onderhandelinge. Op sy kenmerkende immorele manier het die ANC die oorhand in die onderhandelinge verkry deur die skuld vir die Boipatong-slagting valslik maar suksesvol op die NP-regering te pak. Wessels verkies om hom nie hieraan te steur nie en eerder die ANC te benader asof die leiers eerbaar is.

Anders as vir lede van die ANC en SAKP het Wessels geen liefde of agting vir tradisionele Afrikaners of sogenaamde regses nie. Hy skryf oor sy “final parting of the ways between me and the right-wing Afrikaners … ‘My people’ were not only Afrikaners any longer; ‘my people’ are the ones that share my values. Race and colour would henceforth not be the determining factors” (2456). Hierdie keerpunt het in 1987 daadwerklik in Wessels se lewe gekom. Dit is nie net Wessels wat sy rug op behoudende Afrikaners gedraai het nie. Die NP het in die nuwe bedeling sy rug op die allerskandaligste manier amptelik op sy tradisionele ondersteuners gedraai. “In 1998 the Commissioner of Police, General Johan van der Merwe, said, ‘No policeman will ever vote for the National Party again.’ He made this statement after the NP had made its position clear before the Truth and Reconciliation Commission (TRC) that the party will not suppport a general amnesty for unauthorised human rights violations committed during the time of conflict in South Africa … Police officials made no secret of the fact that they were going to support the CP [Conservative Party]” (2540). Wie tree hier eerbaar op? Van der Merwe wat sy personeel teen wraak – eerder as weerwraak – probeer beskerm, of Wessels en die NP wat hulle vir Desmond Tutu en sy ANC-wolwe gooi? Dit klink asof Wessels steeds ‘n mate van ‘n gewete of agting vir Afrikaners het wanneer hy skryf: “Proud soldiers and police officers on their knees before the TRC, pleading for amnesty was not a pretty sight” (4747). Maar dit is die NP wat versuim het om blankes teen hierdie vernedering te vrywaar. “A total of 5 392 amnesty applications were refused, granting only 849 out of the 7 111” (4713).

Die ondergang van die blanke bewind, gebeure waarin Wessels ‘n rol gespeel het, word voorgestel as ‘n nastrewingswaardige ideaal. “[PW] Botha could not take us over the finishing line. He flinched! Not only did he lose momentum, he lost control of the forces he had unleashed” (2091). FW de Klerk het in veel groter mate as Botha beheer oor die situasie in Suid-Afrika verloor. De Klerk het gedink hy sou met redelike mense met ‘n beskaafde Westerse oriëntasie onderhandel en nie met ‘n klomp immoreles wat (letterlik) ten alle koste politieke beheer wou oorneem nie. Wessels sien geen kwaad daarin om te onderhandel met terroriste, insluitende kommuniste, wat geweld nie wil afsweer nie. Rina Venter toon oortuigend aan dat Wessels & kie se grondwetlike onderhandelinge, eintlik toegewings, deur die ANC/SAKP se voortgesette en verskerpte gewelddadigheid gedikteer is (Praag 26.10.2019).

Maar Wessels skryf: “We had to overcome our own phantoms before negotiations could begin in all earnest … a lasting solution would require the participation of the ‘terrorists’ in a negotiating process, and nobody was going to settle for second-rate citizenship” (2105). Wessels verwys hier na swartes wat nie tweederangse burgers wou wees nie. Wessels & kie is egter tydens die onderhandelinge dermate ore aangesit dat dit die blankes is wat sedert 1994 vir lief met tweederangse burgerskap moet neem. Ewe koel praat Wessels van ‘n “negotiated revolution” (811). Hy en sy mede-hensoppers (veral FW de Klerk, Roelf Meyer en Dawie de Villiers) het nog nooit verskoning gevra vir wat hulle die blankes, veral die Afrikaners, en bowenal die land aangedoen het deur ruggraatloos en mandaatloos aan die bose ANC en SAKP oor te gee nie.

Krugersdorp is Wessels se woonplek. Dit was ook die kiesafdeling wat hy vir die NP in die parlement verteenwoordig het. Deesdae word die plek Mogale City genoem. Die huldiging van Paul Kruger se nagedagtenis is deur dié van Khosi Mogale, “forefather of the Tswana people” (5868), vervang. Daar is, so kenmerkend van die ANC-mentaliteit, ‘n standbeeld vir Mogale in Mogale City opgerig (5868). Daar is gepoog om dit soos volg te regverdig: “We all are Africans, White and Black. You may want to imagine yourselves to be Europeans, but you are Africans, because the Cradle of Humankind is in Mogale City – we all come from here” (5877). Nou mag ‘n mens seker nie noem dat daar mense (deesdae rassiste genoem) is wat beweer dat (van) die slim Afrikane eeue gelede uit Afrika na Europa getrek het nie. Wessels vergelyk ‘n histories blanke en ‘n steeds swart woonbuurt in Mogale City soos volg: “The two areas – Dan Pienaarville and Munsieville – represented two different worlds. The one represented the privileges of the past; the other wanted to forget the past. The one was afraid of the future; the other for the first time had a future” (2410).

Sedert 1990/94 het nieblankes hulle op groot skaal in histories blanke woonbuurte gevestig. Eens blanke skole en universiteite is op ‘n soortgelyke manier binnegedring en selfs oorgeneem. Swart woonbuurte, skole en universiteite het swart gebly. Die revolusie wat Wessels help bewerkstellig het, het swartes nie ontsetel nie, maar blankes drasties ontheem. Dit is dus te begrype dat blankes na die verlede hunker en oor die toekoms bekommerd is. Dit is vermetel van Wessels om op ‘n geykte linkse manier voor te gee dat wat blankes gehad het of nog het, deur hom “privileges” genoem, vanweë bevoorregting was en is. Baie blankes het hard gewerk om na verdienste welvarend te word. Baie van hulle het veel harder as Wessels gewerk en hulle het nie die luukse gehad om op die belastingbetalers se koste oral in die land en wêreld rond te flenter, soms met vrou en al, nie. Wessels beweer dat hy as parlementslid so min betaal is, dat hy in die skuld was (1885). Tensy hy nie weet hoe om met geld te werk nie, het hy sekerlik nie as adjunk-minister, minister en veral as ANC-menseregtekommissaris arm gebly nie. Sy vrou Tersia, ‘n onderwyseres (602), was van 2009 tot 2014 ‘n lid van die Gautengse Provinsiale Raad (4623); nogal vir die Cope-party. In die nuwe Suid-Afrika bly (oor)vergoeding vir oorverligtheid nie maklik of altyd agterweë nie. Wessels beweer dat hy nooit ryk was nie (5454). Dit hang af van wat ‘n mens as ryk beskou. Nelson Mandela het in sy lewe bitter min gewerk maar weens die valse waardes wat by sommige hoogty vier, het hy stinkryk geword.

Wessels is een van die baie slagoffers van Mandela se paaiery oor die blankes, veral die Afrikaners, se politieke magsverlies. “I now understood why he was treated like royalty; people expected to see a person who looked and acted like a bloodthirsty terrorist. But his old-fashioned charm and charisma disarmed and overwhelmed everyone” (3450). Toe Wessels in 1991 die adjunk-minister van buitelandse sake was, het hy die arrogansie (wat hy so graag van regse Afrikaners toedig) van Mandela eerstehands ervaar. Gevangenes in Bophuthatswana, toe nog ‘n onafhanklike tuisland, was op ‘n hongerstaking. Mandela het besluit dat hy hier wil inmeng. Geeneen van hierdie gevangenes mag glo sterf nie, terwyl Mandela terselfertyd nie ‘n flenter omgegee het hoeveel dooies die ANC se gelyklopende gewelddadige magstryd met die IFP oplewer nie. FW de Klerk, as staatshoof, en Pik Botha, as minister van buitelandse sake, moes deur Wessels op Mandela se bevel op ‘n Saterdagaand geskakel word; ook Lucas Mangope, die president van Bophuthatswana. Mandela het oor hulle almal baasgespeel terwyl hy nog geen bewese steun by enige kiesers gehad het nie. Sy twyfelagtige roem en gevolglike arrogansie het op geweld, terrorisme en veral buitelandse propaganda berus. Soos tydens die grondwetlike onderhandelinge het Mandela ook hier sy sin gekry deur toegang tot die gevangenes te verkry. Dit blyk toe dat daar geen sprake van was dat enigeen van hulle sterwend was nie (kyk hoofstuk 11). Maar die bevooroordeelde Wessels verloor nie sy respek vir Mandela nie.

Die mandaatlose oorgawe aan swart mag het in 1991 met Kodesa begin. By die eerste byeenkoms “Mandela moved from one delegation to the other and greeted them like a statesman. ‘Good morning. Good to see you. How are you?’ He acted like the host that had invited everyone to his function” (3818). Maar die naïewe Wessels verkies om steeds nie te sien waarmee die arrogante Mandela besig is nie. Mandela wil die land vir die ANC en SAKP oorneem sodat swartes bevoordeel en blankes (en dus die land) benadeel kan word. Wessels is een van diegene wat deur FW de Klerk benoem is om tydens die grondwetlike onderhandelinge weerstand teen magsoorname deur die terroriste en kommuniste te bied. Volgens eie erkenning het Wessels egter van die begin af aan hierdie booswigte oorgegee. Dit was omdat hy ANC-propaganda vir soetkoek opgeëet het. “The white cause was a lost cause before the negotiations had even commenced. The damage inflicted by past injustices, associated with white privilege, were immeasurable. White power, white exclusivity, was so discredited that well-meaning concepts such as self-determination, power-sharing, checks and balances and veto rights in a consensus-seeking government could not sugar coat the injustices of the past” (3828). “In my mind there was never room for the concept of self-determination advocated by the conservatives because it was nothing more than a sugar-coated white ‘homeland’ (volkstaat) idea” (3880).

In die Afrikanerdom word dit algemeen aanvaar dat die NP se onderhandelinge ‘n volslae mislukking was. Soos Wessels het ‘n onderhandelaar soos Roelf Meyer skouspelagtig gefaal. Maar dit maak nie ‘n duik in wat Wessels hom oor homself en Meyer probeer wysmaak nie. “Roelf Meyer was the right man to support FW de Klerk and lead the NP negotiating team to achieve the NP objectives. He did not have a match in NP circles” (3837). As Meyer dié reus in NP-geledere was, is dit maklik te begrype waarom die onderhandelinge tot die ondergang van die blanke bewind gelei het. In hierdie tyd het ‘n blanke kieser in ‘n brief aan De Klerk tereg gevra: “Can you trust this Leon Wessels?” (3920).

Die NP-kabinetslede wat nie onderhandelaars was nie, het tereg min of geen vertroue nie in Wessels, Meyer en Dawie de Villiers as onderhandelaars gehad. “In National Party circles the atmosphere was tense and polarised between the fulltime negotiators and the other colleagues in cabinet. Every time I returned from Kempton Park and joined my cabinet colleagues … they looked at me askance if I were the enemy” (4018) – sekerlik omdat die onderskeid tussen die NP-onderhandelaars en die ANC/SAKP hoe later, hoe meer vervaag het. Die uiteinde was dat die NP in 2005 in die boesem van die ANC verdwyn het (4465). “The NP … disappeared without honour” (4526), volgens Wessels. Kabinetslede is sover moontlik in die duister gehou oor die skouspelagtige droogmakery wat tydens die onderhandelinge in die naam van die NP gepleeg is, soos wat bv Rina Venter later duidelik gemaak het. Wessels se insig is: “The cabinet epitomised the past while Kempton Park [the negotiations] represented the future; the one the dead, the other the living” (4027) – met Wessels wat trots medeverantwoordelik vir die dood van die voorspoedige, beskaafde, Westerse Suid-Afrika van weleer is. Hy erken dat naas hulle drie as onderhandelaars daar in die kabinet van 23 eintlik net Pik Botha was op wie se steun hulle in ‘n mate kon reken (4037). Hulle het nie eens altyd van FW de Klerk se ondersteuning verseker gevoel nie. Maar dit moet nie in die guns van De Klerk tel nie. In ‘n groot mate was daar ‘n gebrek aan (duidelike) leiding van De Klerk se kant af. Hy het nooit eens aan hierdie belangrike onderhandelinge deelgeneem nie. Die land en al sy mense is op ‘n skinkbord aan die ANC/SAKP gegee. ‘n Slegter getuigskrif vir Wessels as sy aanspraak, “FW never repudiated me” (4056), is kwalik denkbaar.

Maar die afgrond word al hoe dieper. Die Parlement (Nasionale Vergadering en Senaat) is ná die 1994-verkiesing in die Grondwetskrywende Vergadering omskep (4319). Die ANC-meerderheid was in beheer. Dit is presies wat nooit moes gebeur het nie. Die ANC kon nou in ‘n groot mate na willekeur die Oorgangsgrondwet van 1993 verander, pleks daarvan dat daar vóór die verkiesing op ‘n finale of vaste Grondwet ooreengekom is. Cyril Ramaphosa is as die voorsitter en Wessels as die ondervoorsitter verkies. ‘n ANC-kornuit, Melanie Verwoerd, het aan Wessels gesê: “Any other nomination from the NP benches would not have been successful” (4328). Wessels beskou dit as ‘n kompliment en groot eer. In werklikheid toon dit dat hy in ANC-geledere as die verloopste van verloopte Afrikaners beskou is. Hy kon dus nuttig misbruik word.

Dat die ANC hom reg uitgekyk het, het dadelik geblyk toe hy aan Ramaphosa gesê het: “I know the Constitional Assembly elected me as deputy chairperson and not as a joint chairperson. I was taught that the task of the deputy chairperson is to assist the chairperson. That is exactly what I am going to do; I am going to support you” (4328). Algeheler oorgawe as dit aan die ANC is kwalik moontlik. “There was a great relationship between Cyril and me … I did not negotiate NP matters with him” (4338). Die groot vriendskap tussen Roelf Meyer en Ramaphosa word dus deur Wessels en Ramaphosa voortgesit. In albei gevalle was daar geen heil in vir die blankes nie. Geen wonder nie dat Mandela van Wessels gesê het: “He has played a major role in bringing about democracy” (4358) – met demokrasie wat ‘n eufemisme vir swart meerderheidsoorheersing is. Daar sou vyf jaar lank (1994-1999) ‘n regering van nasionale eenheid wees, maar die magshonger ANC het geweier om daardie tydperk te verleng. “Mandela had decided the time for majority rule had arrived” (4388). Dít toon onteenseglik hoe hard Mandela teen swart oorheersing geveg het.

As deel van Wessels se kameraadskap met die ANC, neem hy De Klerk kwalik omdat die NP voor die tyd uit die Regering van Nasionale Eenheid getree het. “Withdrawing from the GNU will undoubtedly be one of the negative entries on FW’s scorecard” (4397). De Klerk was selfs teësinnig dat hy en die NP-parlementslede ten gunste van die aanvaarding van die 1996-Grondwet stem (4397). Soos gebruiklik het De Klerk ook in hierdie geval toegegee. Wessels se holle redenasie is: “We had achieved sufficient victories during the negotiations and had everything to lose should we cast a negative vote” (4426). Dit is ironies dat “property rights” genoem word as een van die NP se prestasies of winste tydens die onderhandelinge (4446). Dus, die NP het genoeg veldslae gewen, gevolglik maak dit mos nie saak as hulle die oorlog skouspelagtig verloor het nie.

De Klerk se bedenkinge oor die Grondwet het hom daarna nie verhinder om voor te gee dat hierdie wet dié prestasie van die NP se onderhandelinge met die ANC is nie. Elke keer as blankes probleme onder sy aandag gebring het, het De Klerk triomfantelik gesê: Beroep jou op die Grondwet. Dit het dikwels nie die verlangde resultate opgelewer nie. De Klerk het dan die ANC verwyt dat die gees van die Grondwet nie eerbiedig word nie. Oor die letter van die Grondwet was daar al hoe minder entoesiasme, veral toe dit geblyk het dat selfs eiendomsreg nie na behore verskans is nie. Dit was die einde van De Klerk se skynbare entoesiasme oor die bepalings in die Grondwet.

Die Grondwet diskrimineer blatant teen die blankes terwyl die swartes blatant bevoordeel word. Wessels weet dit. Maar wat dink hy daarvan? “I was over the moon when the Constitution was accepted” (4446). “The signing ceremony [in Sharpeville] was the highlight of my [ill(ustrious?] political career. My participation, sitting next to Mandela and Ramaphosa and saying the final word of thanks, was the last political function in which I participated” (4498) – waarmee hy te kenne gee dat sy latere betrokkenheid by die Menseregtekommissie bo die politiek verhewe was. In Sharpeville in 1996 “De Klerk was not on the stage nor was he asked to make a speech … he was sitting in the sun and following the proceedings [spectacle?] as a spectator” (4517).

In 1996 was Mandela as staatshoof by daardie seremonie in Shapeville betrokke en Ramaphosa en Wessels omdat hulle onderskeidelik die voorsitter en ondervoorsitter van die Grondwetskrywende Vergadering was. Maar daar is ‘n kinkel in hierdie verhaal wat toon hoe uitermate geslepe die ANC is. As ondervoorsitter het Wessels Ramaphosa in alles ondersteun en dus geen weerstand gebied teen hoe die ANC die Grondwet wou bewoord nie. Om die skyn van solidariteit te wek en die vernederende nederlaag wat die NP (en by implikasie die blankes) tydens die onderhandelinge gely het, te simboliseer, het die slinkse ANC met die volgende skuif vorendag gekom: “I was asked to chair the final proceedings of the Constitutional Assembly” (4446). ‘n Verloopte Afrikaner het dus as die voorsitter opgetree toe die 1996-Grondwet finaal goedgekeur is. Soos die ondertekening van die Grondwet, ‘n hoogtepunt in Wessels se lewe.

Wessels het die WVK-heksejag gesteun, al beweer hy telkens in sy boek dat die nuwe Suid-Afrika nie daar is om (weer)wraak te neem nie. Hy het uiteraard voor die WVK getuig en graag om verskoning vir die blankes se apartheidsbeleid gevra. Dit laat hom verhewe bo ander voel. “I was infuriated with the great [!] PW Botha. His disgruntled non-appearance before the TRC was a missed opportunity” (4767) – om homself (onnodig) te verneder? Wessels wou klaarblyklik hê dat PW Botha, soos FW de Klerk later, (feitlik) sonder slag of stoot aan swart mag moes oorgee. “PW’s biggest diplomatic blunder was to sanction the South African Air Force to bomb the capitals of our three neighbouring Commonwealth countries – Harare, Lusaka and Gaborone” in 1986 (5124). Maar dit is juis op sodanige kragdadige manier wat Israel steeds daarin slaag om te oorleef, ten spyte van aanvalle deur terroriste.

Wessels skryf: “Apartheid was a crime against humanity. And we must look its brutality and crudeness in the eye” (4819). FW de Klerk word deur Wessels oor sy “mental block” verwyt omdat hy apartheid nie tydens sy WVK-getuienis ongekwalifiseerd veroordeel het nie. “If he [De Klerk] completely disavows apartheid as a crime against humanity, he will repudiate his father, Jan, who served in Hendrik Verwoerd’s Cabinet. De Klerk’s biggest fear is to be branded as having repudiated his father … He cannot bring himself to aggressively condemn the old Apartheid policies. I heard him say in meetings, ‘But they were good people'” (4819). Dit is wat Wessels klaarblyklik ontken; dus, tradisionele Afrikaners was sleg. As Sap was Wessels se pa na bewering beter as De Klerk s’n omdat Wessels senior nie apartheid gesteun het nie.

In sy eie oë strek Wessels se morele verhewenheid selfs nog hoër. Hy grond sy beweerde voortreflikheid onder meer op Desmond Tutu en joernaliste se beoordeling: “Tutu had publicly and privately expressed appreciation for my evidence. Furthemore, what I had told the TRC was reported and well received in the media” (5243). “After listening to the [TRC] submissions of Pik Botha, Adriaan Vlok and Roelf Meyer, I decided that we were not on the same page” (4977). Wessels ervaar dus deurlopend vervreemding, nie net van kerngesonde behoudende Afrikaners nie, maar ook van diegene wat eens Afrikaners was maar in minder mate as Wessels aan radikale verlooptheid ly. Hoe ver het Wessels nie afgedwaal van bv Constand Viljoen se standpunt nie: “To hell with the new South Africa” (5089). Pleks daarvan het Wessels besluit om hom vir veranderings te beywer; veranderings wat in deurslaggewende opsigte geblyk het nie verbeterings te wees nie.

In die nuwe Suid-Afrika hoef iemand soos Wessels, al is hy blank, nie erkenning en vergoeding vir dienste gelewer aan die ANC te ontbeer nie. Hy het, sover ek kan onthou, homself as ‘n moontlike kommissaris vir die Menseregtekommissie voorgestel. Daar is telefonies met hom ‘n onderhoud gevoer (5243) en “Mandela promptly confirmed my appointment” (5253). Iemand anders wat toe as kommissaris aangestel is, is Tom Manthata, “old stalwart, member of the UDF and Delmas trialist” (5304). Ter wille van die skyn (“tokenism”), hou die ANC daarvan as daar een blanke op ‘n keer as kommissaris in die Menseregtekommissie dien. Op die oomblik vervul André Gaum daardie rol. Dit is hoogs onwaarskynlik dat die ANC-regime ooit van hierdie resep sal afwyk deur meer blankes in hierdie hoedanigheid aan te stel. Die ANC sal eerder sonder gewete vir lief daarmee neem as daar geen blanke kommissarisse is nie. Maar Wessels gee voor dat daar geen bewustheid van of vooroordeel oor kleur in daardie deurlugtige geledere is nie. “At the Commision we had learned to look at the individual irrespective of a person’s pigmentation” (5791).

Daar word vooraf seker gemaak dat ‘n (blanke) menseregtekommissaris hartlik sal saamwerk. In die geval van Wessels was daar geen rede om hieraan te twyfel nie. “I took to the SAHRC like a duck to water” (5253). “It … did not take me long to realise that I had no appreciation for the extent to which racism had permeated our country” (5263). Dit is eintlik onnodig om by te voeg: In die praktyk is dit feitlik net blankes wat aan die kortste end trek. Wessels kom toe as kommissaris agter hoe slapgat en ondoeltreffend die nuwe staatsadiens funksioneer. “What upset me was the lack of commitment by some government officials” (5263). “The inability or unavailability – at least of some Cabinet Ministers – to react when big human rights issues were brought to their attention – was distressing” (5284). Hy kan gerus onthou dat dit nou hulle beurt is om op die belastingbetalers se koste dwarsoor die wêreld rond te reis, soos hy voorheen dikwels gedoen het.

Wessels het sy sterkste gif oorgehou vir gebruik in die laaste hoofstuk. “I was never interested in these questions nor later debates about ‘Who is an Afrikaner?’ I am an African from Afrikaner stock” (5783) – in daardie volgorde van voorkeur. “My roots are in South Africa and Africa feeds my spirit” (5838) – eerder as Afrikanerkultuur? Dat hy min, of geen behae nie, in die Afrikanerdom het, blyk uit sy afwysende frase “this Afrikaner thing” (5792). Hy sal nie van “this Black thing” praat nie. Daardie kant van die spektrum reserveer hy vir loftuitinge. Selfs die berugte grondwetlike onderhandelinge dank glo hulle oorsprong aan swart kultuur. “The negotiations and dialogue as we practice it in South Africa is an African phenomenon with a South African tang. The indaba (‘Let us talk’) was a typically African tradition that existed long before eye-to-eye negotiations commenced in South Africa” (5801). Hy wil as ‘t ware sê: As die blankes maar vroeër teruggegryp het na hulle mondelinge verlede, hulle era voor dokumentering (dus van lees en skryf), sou ons nie so lank met die wrede apartheidstelsel en sy nalatenskap opgeskeep gesit het nie.

Tydens ‘n konferensie het ‘n afgevaardigde van Nieu-Seeland gepraat van “people of European extraction” (5820). “This statement irritated me. Our own South African history with the former humiliating entrances and park benches marked for ‘Europeans’ and ‘non-Europeans’ evokes bad memories. In the face of Europe’s isolation policy towards South Africa, but especially as a result of the bitter Dutch and British attitudes, I have no interest in being a European. After all, Africa is where the future is” (5820). Waarvan? Voorspoed of ellende? “After much soul searching, I have to admit to being something of a Euro-African out of the Afrikaner walk of life. To me, this Euro label feels like disloyalty to Africa … [but] skin pigmentation does not have to be an impossible stumbling block if you want to be an African” (5829). Maar op die oomblik is blankheid ‘n onoorkomelike struikelblok in ons weg na gelyke regte met swartes. Ek gee die ANC-regime die skuld vir hierdie blatante rassisme, maar Wessels en ANC-kornuite sou seker verkies om die skuld op die nalatenskap van apartheid te pak. Wessels se benadering is voorbeeldig pigmentloos: “It is your heartbeat and the colour of your blood which counts” (5829). Ons weet dat ons almal se bloed rooi is. Maar die verskil tussen rasse en etnisiteite is nie primêr van liggaamlike aard (bv velkleur en bloedkleur) nie, maar kultureel, dus van geestelike aard.

Wessels som sy siening, nie sonder sarkasme nie, soos volg op: “There does not seem to be many of us [with a National Party and Apartheid past] left, because everyone [?] now claims that deep down they had been closet freedom fighters [terrorists?] and that they simply had no inkling of all the atrocities and the evils. However, despite all this baggage, I wish to live in harmony with my environment as a complete South African. And this is possible! Armed with this disposition and the knowledge of who I am and where I have come from, I look backwards – as well as forwards into the future” (5848). Ek vind dit eienaardig dat daar nooit by Wessels en sy geesgenote sprake is dat terroriste ongure bagasie het of spoke in hulle kaste nie en dat daar weens die voortreflik voorgestelde vryheidstryd, anders as by apartheid, skynbaar geen afkeurenswaardige nalatenskap, bv ‘n destruktiewe hiper-gewelddadige samelewing, is nie.

“After the democratic elections, I found it boring to be an Afrikaner among other Afrikaners. I want to be an Afrikaner among the others – a kind of Afrikaner diplomat. The goodwill I receive is overwhelming and the effort minimal – you must just leave your paternalistic attitude at home” (5887). “I don’t want to live in Melbourne or the old South Africa … I can’t emigrate” (5897). Hy sien kans om met verwaarloosde paaie en die misdaadgolf saam te leef: “They were ‘my potholes’ and ‘my criminals'” (5897). Dit lyk asof daar waaragtig niks is wat hom ‘n (gesonde) weersin in die nuwe Suid-Afrika sal laat ontwikkel nie. As bevryde mens (“liberated Afrikaner” – 5906) is hy van sulke negatiwiteit bevry; “liberated from the baggage of an immoral system of government” (5906). As iemand wat perde aangehou het en graag perdry, vind ons Wessels “galloping into the future” (5906).

Een van die gebeure wat gedreig het om Wessels se verligte glans ietwat te verdof, is die eenparige verslag wat in 2014 onder sy leiding oor inisiasiepraktyke op die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit opgestel is. Sy dogmatiese gevolgtrekking is: “Human dignity may never be impaired, initiation can never be condoned” (5937). Hy verwerp dus die mening van talle denkers wat aanvoer dat mense hul waardigheid en agting moet verdien. Volgens hulle is daar mense wat weens hulle gedrag nie agting werd is nie; dus, hulle handeling is sodanig dat ander mense dit onmoontlik vind om vir hulle eerbied te hê. Ek dink bv aan die landmynplanter wat tydens die ANC se terreuroorlog verantwoordelik daarvoor was dat die voorkop van ‘n pragtige jong meisie naby die Mosambiekgrens in die Oos-Transvaal weggeskiet is. Sy het lank in die Suid-Afrikaanse Hospitaal in Pretoria gely voordat sy genadiglik dood is. Gedurende daardie tyd het ek daagliks verby daardie hospitaal gery. My hart het na haar en haar naasbestaandes uitgegaan. Dit was en is vir my onmoontlik om enige agting of eerbied vir daardie terroris te hê of bv vir diegene wat hulle aan halssnoermoorde skuldig gemaak het. Maar sulke terreurdade word grootliks en doelbewus in Wessels se boek verswyg.

Daardie 2014-Wessels-verslag is teen Afrikaners gemik. “The traditions in residences dated from a pre-democratic … period when the PUK was overwelmingly White and Afrikaans. Activities to introduce first year students to their residences such as songs, dances and salutations to their hostels, senior students and house committee members – predominantly in Afrikaans – were inhospitable to students from other cultures” (5947). Toe die Potchefstroomse Universiteit blank en Afrikaans was, het hierdie probleem nie bestaan nie. Die probleem is ter viering van ons “vryheid” deur die ANC se beleid van gedwonge rasse-integrasie geskep. Die universiteitsraad het ‘n verslag aan Blade Nzimande, die kommunistiese minister van hoër onderwys, gestuur waarin erken word “the human rights of students were … abused” (5947). Aangesien dit hier gaan om ‘n eens blanke Afrikaanse universiteit was wat gevolg het, te wagte. “Nzimande was brutal in his assessment of the situation. He called the Potchefstroom Campus an ‘Apartheid enclave’ that is ‘a hostile and foreign environment for people who are not White Afrikaners’ and in urgent need of transformation” (5956).

Die reaksie in die geledere van behoudende mense op die kampus was onder meer: “Wessels was derided as a sell-out for his findings … He was depicted as malicious and set on destroying the Potchefstroom Campus, its culture and Afrikaans” (5956). Wessels skryf: “The ridiculous statements of extreme right-wingers like Dan Roodt ‘Leon Wessels is a servant of the British Empire’ were not taken seriously by anyone [?]. Most of the 1987 racists have mellowed. They have abandoned the k-boetie word and sanitised it by referring to those who hold different views as verraaiers or joiners. They do not want to be called right-wingers anymore because they believe that they have become the ‘new modern centre’. Their cause, however, is the same: Preservation of Afrikaans and Afrikaner culture with scant regard for the others” (5966).

Daar is myns insiens geen geldige rede of argument in die hemel of op die aarde teen die bevordering van Afrikaans en Afrikanerkultuur nie. Wessels verwag dat “die ander” (eerder) in ag geneem moet word, maar hulle neem geensins Afrikaners in ag nie. Hoeveel ministers praat Afrikaans in die openbaar? Hoeveel regeringsaankondigings is in Afrikaans? Hoeveel advertensies vir regeringskontrakte en poste in die staatsdiens is in Afrikaans? Hoeveel keer gebeur dit dat ‘n ANC-kornuit iets positiefs van Afrikaners en Afrikaans sê? Het die ANC al ooit dankie gesê vir die land wat in 1994 grootliks onverdiend in hulle skoot geval het maar van 1652 tot 1989 onder blanke leiding voortreflik ontwikkel is? Desnieteenstaande word versoening van die blankes verwag/vereis, maar hulle aankoms in hierdie land word nie eens meer met ‘n openbare vakansiedag herdenk en gehuldig nie.

In die politiek het Wessels se paaie van dié van meer gematigde verligtes geskei, soos hierbo aangedui. Wessels noem dat mense soos Flip Buys, Willie Spies, Koos Bekker, Leopold Scholtz en Theuns Eloff sy Potchefstroom-verslag gekritiseer het, gevolglik het hy sy vriendskapsbande met hierdie mense verbreek. Met terroriste en kommuniste het Wessels jare lank onderhandel, maar deesdae is hy nie bereid tot gesprekvoering met daardie blankes nie, selfs al is hulle polities verlig. “I felt enriched by this experience … it gave me an opportunity to reaffirm my values” (5976). “[His] core values [are] dignity and equality” (5696), wat albei bitter moeilik realiseerbaar is. Dat hy verkeerd kan hê en dat hy probeer om te radikaal of oordrewe verlig te wees, kom nie by hom op nie. Wessels het eerder nuwe vriende gemaak. “The new friends and I have a lot to talk about. The new friends have met my 1987 standard: shared values and not skin pigmentation, the language they speak, or their religious alignment” (5976; ook 6006).

“As time went by I felt relieved; I had purged the right people. The numbers that remained were the numbers of friends that believed in an inclusive South Africanism where there was space for everyone – also Afrikaners and Afrikaans. There was however no space for Afrikaner arrogance” (5987). Dit maak dit vir Afrikaners nogal moeilik om trots op hulle herkoms en kultuur, bv Afrikaans, te wees. Dit lyk asof die prys vir Wessels se nuwe Suid-Afrikanerskap vir nieverloopte Afrikaners te hoog is. Hy is ook nie danig begaan as die ANC-regime Afrikaans en Afrikaners minag nie. “The loss of the privileged position of Afrikaans and Afrikaners does not weigh as heavily as other issues the authorities face” (6006). Is dit nie strydig met die erkenning van menswaardigheid waaroor hy so hoog in sy Potchefstroom-verslag opgegee het nie?

Wat hy klaarblyklik as sy grootse visie beskou, word soos volg deur Wessels verwoord: “If you lauch yourself into a cause larger than yourself (your minority group), you serve the greater good and as a consequence you (your minority group) will benefit. If you aspire to promote a multi-lingual society, Afrikaans will also be a beneficiary; if you aspire to promote freedom of religion, you will find space to live your beliefs; if you advance the rights of all cultural groups it follows that your cultural group will benefit. The more space you create for others, the more space you create to be who you are” (6027). Onderliggend is daar Wessels se credo vir verlooptheid: “It is possible to leave your flock without relinquishing who you are” (5561). “I now know and more than ever before appreciate that old truism: ‘You must be the change you want to see in the world'” (5688).

In die praktyk is dit egter vir my duidelik dat die Afrikanerdom as minderheidsgroep met ‘n vyandige meerderheid te make het wat met verswelging en drakoniese maatreëls, asook die weerhouding van ondersteuning en selfs erkenning, Afrikaners se ondergang en uiteindelike vernietiging begeer. Dit sou fataal wees as Afrikaners verlei word om op ‘n oordrewe altruïstiese manier aan hulle eie ondergang mee te werk. Dit sou ‘n voortsetting van die dwaasheid van 1990/94 wees. Wat meer as ooit in Afrikanergeledere noodsaaklik is, is ‘n verenigde, sterk gefokuste front om ons erfenis, dus ons kultuur, insluitende ons taal, en vanselfsprekend ook ons voortbestaan teen die aanslae van die bose te beskerm.

Om op sy manier die benaming verraaier (“sell-out”) te verwerf, is volgens Wessels “a badge of honour” (6087). Wessels dink dat sy deurlopende groei in verligtheid teen 1987 die spreekwoordelike en bevrydende Damaskus-ervaring was. Ek kan maar net hoop dat die Wessels-1987-virus nie die Afrikanerdom tref nie. Dit sou dodelik vir ons voortbestaan en dus ook vir ons kultuur, insluitende ons pragtige Afrikaanse taal, wees.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.