Suidpunt: Waarom moet ek Afrikaans leer?

Deel op

Afrikaans is een taal uit 6 500 tot 7 000 in die wêreld.

Die redes wat aangevoer word om mense uit ander tale na Afrikaans te nooi is betreklik negentiende-eeus.

As jy Latyn wil bevorder, vra niemand of dit die mooiste, soetste taal is nie. Ook word nie gekibbel oor identiteit nie, want Latyn behoort aan almal. Taal is ‘n kode.

Om te sê jou moedertaal is Afrikaans help ook nie meer nie – want party se voorgeslagte was Duitsers, Switsers, Hollanders, Franse, Skotte, Pole, Engelse of Italianers. Dan is Afrikaans maar heel toevallig.

Petrus van Eeden voer in Afrikaans hoort by Nederlands aan Afrikaans is ‘n dialek wat nooit tot Standaardtaal bevorder moes geword het nie, en hy gee geldige redes daarvoor .

“Wat kan Afrikaans my dan bied wat ander nie kan nie? Watter nut bied die taal?”

Aangesien ons Afrikaanse Departemente tot dusver nie ‘n bek verrek het om hul kliëntebasis uit te brei nie, sal ék.

Ek probeer in hierdie opstel kyk uit ‘n utilitêre oogpunt na taal, binne ‘n diverse taalomgewing.

1. Afrikaans help jou om nugter en ruimer te dink

Stel jou ‘n taal voor waar daar geen boek oor ‘n sekere onderwerp bestaan nie. Jy het nou elke biblioteekkatalogus of Google Scholar en Google Books deurgewerk, maar niks gekry in daardie taal nie. Wat maak jy nou? Kom ons maak daardie taal Afrikaans.

  1.       Heel waarskynlik sal jy slegs Engelse bronne raadpleeg, wat beteken jy het nie intellektueel verder gevorder as ‘n tiener wat ‘n hoërskooltaak wil klaarjaag nie. Die sogenaamde “mark” van inligting daarbuite, vernaamlik in Engels, bied maar net ‘n ligte weergawe van die diep donker werklikheid wat in ander tale daarbuite verhul is (soos ‘n ysberg, ja); die spesialiste in hul betrokke vakgebied weet dit maar alte goed. Met die heel eerste oogopslag in die Suid-Afrikaanse werke in Engels, sal jy eerstens hoogs waarskynlik vasstel dat daar geen, maar géén werke uit ander tale bestaan in die bronnelys nie. Dit behoort klaar vir jou te sê daar is hoogs waarskynlik deurslaggewende inligting wat ontbreek. En dit sal beslis jou finale beslissing negatief beïnvloed. Dis reg, soek verder.
  2.       Tweedens moet jy jou die vraag afvra of die betrokke werk gegrond is op opinies, of primêre bronne. ‘n Primêre bron, soos ‘n hofsaak, sal jy jou byvoorbeeld nie kon verlaat op die indrukke wat ‘n hofverslaggewer (die groentjies van die koerantbedryf) in ‘n koerantberig geskryf het nie. Jy sal hierdie hofverrigtinge en (stenografiese) transkripsies elders moet gaan soek. En verkieslik, as jy ‘n leek is, ‘n regskenner moet nader om die saak vir jou mooi uit te pluis wat die agtergrond was, die gees van die wet, ens. Teen hierdie tyd weet jy nou dat jy nie alles kan glo wat jy lees nie, want daar is te veel detail wat ontbreek. Ook kan jy nie bronne gebruik wat gegrond is op hoorsê nie.  Jy kan dus tereg vra: watter gesaghebbende bronne ontbreek? Wanneer is iets toetsbare konkrete en kontroleerbare feite, en wanneer raak iets bloot spekulasie? ‘n Mening? Bloot ‘n saadjie wat geplant word? ‘n Kitsantwoord?
  3.       Derdens moet jy vasstel of die skrywer bloot besig is om lugkastele rondom één oorvereenvoudigende veronderstelling te bou. Daarvan kry jy genoeg. Ek dink ons kan Erich von Däniken as klassieke voorbeeld gebruik. Met sy oerruimtevaartteorie, waar die menslike beskawing deur ruimtewesens beïnvloed is, gryp die meneer na elke strooihalm om sy saak te onderskraag. Jy sal geen teenvraag vind nie, met ander woorde, sy teorie moet dus uit die staanspoor “reg” en “onweerlegbaar” wees. En dieselfde “lugkastele”-bou kry jy in Suid-Afrikaanse werke en veral koerante ook. Hoeveel van daardie werke wat so te velde trek teen Apartheid het Verwoerd aan die Woord I en II êrens in hul bronnelys? Hmmm? Die bevooroordeelde skrywers wonder nie eers of hulle op ‘n dwaalspoor is nie, hul siening moet net korrek wees. Dis soos ‘n kind wat ‘n blokkie in ‘n koeëlronde gat met ‘n hamer probeer inmoker. In Afrikaans is dit ‘n gegewe dat die dood veelvuldige oorsake kan hê.
  4.       Is hierdie standpunte of werk aan albei kante van die politieke spektrum gestuur om beoordeel, aan albei kante getoets, aan albei kante vooraf bespreek te word? Hoe weerlegbaar is hierdie feite? Hoe wyd is daar onderhoude gevoer? Hoe neutraal was die vrae?
  5.       Ten slotte net dit: as jy ten minste bewus is dat daar ander tale en ander sienswyses daarbuite bestaan wat teenoor mekaar te staan kom, kom ons maak dit 72 pro/72 contra, sal jy weet daar kan onmoontlik nie vir ‘n hoogs ingewikkelde saak ‘n kitsoplossing of oorvereenvoudiging kom nie.
Schalk Pienaar

Om dit reguit te stel: as jy slegs in ‘n eentalige wêreld rondtas en ronddool, dan strek dit tot jou eie nadeel.

Selfs die liberaalste Schalk Pienaar (Schalk Pienaar:  10 jaar politieke kommentaar (1975), gebundel deur Ton Vosloo) het in twee bydraes die eenogigheid van die Suid-Afrikaanse Engelse veroordeel. Hy sê op 19 Julie 1970 (bl. 46-47):

Daar is aan Engelssprekende kant in die afgelope dekades ‘n baie verblydende toename in tweetaligheid. Maar moenie dat ons die betekenis daarvan oorskat nie.

Die vermoë en bereidwilligheid van toenemende getalle Engelssprekendes om Afrikaans in die praktiese lewe van die land te gebruik is te verwelkom. Maar by hoeveel van hulle gaan tweetaligheid verder as dit?

Toe ek nou die dag die huldebetuigings aan Van Wyk Louw in die Engelse koerante lees, kon ek ‘n wrange gevoel nie onderdruk nie. Groot Afrikaner van wêreldformaat, het dit gelui.

In sy dood word hy geprys, maar hoeveel Engelssprekendes het hom in sy lewe gelees, of het ook maar die minste plan om hom ná sy dood te lees? Trouens, hoeveel Afrikaanse boeke hoegenaamd staan op die rakke van Engelssprekendes? Hoeveel Engelssprekendes lees selfs Afrikaanse koerante?

Elke gemeenskap het die reg om volgens sy eie beste denke beoordeel te word. Ek wil beweer dat die Afrikaanse leierskorps oorgrotendeels in staat en bereid is om tot die beste denke van Engelssprekende Suid-Afrika deur te dring, en dat dit andersom nie die geval is nie.

Oorweldigend kry Engelssprekende Suid-Afrika sy inligting oor Afrikanerdenke uit ons Engelse koerante. Ek vrees dat selfs ons beste Engelse koerante daarin spesialiseer om die historiese karikatuur van die Afrikaner by hul lesers te laat voortleef.

En hul lesers is, op ‘n uiters klein minderheid na, nie in staat om uit te breek uit die bande van oorlewering, gesterk deur bande van die moderne propaganda nie.

Hy gaan selfs sover om die Engelse van ‘n laermentaliteit te beskuldig (21 Julie 1974, bl. 84-85):

Die Afrikaners het ‘n lang tradisie van openlike geskil wat soms heftig en bitsig kan word en op verskeie terreine al dramatiese skeurings veroorsaak het. Daarvoor word dikwels opregte en ewe dikwels vrome trane gestort op die tema van broederstryd, “die vyand” ammunisie in die hand stop en al so vort.

Dit is waar dat op hierdie manier al situasies ontstaan het was liewer vermy moet gewees het. Maar in die geheel beskou, het uit hierdie tradisie van openbare debat ‘n taai gemeenskap gegroei wat sy storie ken en sy ding kan doen. Oop vir alle winde, het hy op die duur teen wind bestand geraak. Hy laat hom nie wegwaai nie. ‘n Mens sou dit “‘n demonstrasie van die demokrasie se krag” kan noem.

Oorkant die taalgrens bestaan hierdie tradisie nie, behalwe op ‘n manier in Natal, waar Engelssprekende Suid-Afrika hom in mindere mate as elders “bedreig” voel deur die Afrikaanse meerderheid in die land. Hierdie laermentaliteit het, om dit sag te stel, onafhanklike en vernuwende Suid-Afrikaanse denke in daardie wêreld nie bevorder nie.

[…]

Daar is Afrikanermites oor Engelssprekende Suid-Afrika wat vir laasgenoemde nie vleiend is nie en wat werklik nie bestaansreg het nie – of beter gestel, nie meer bestaansreg het nie. Maar dat hulle bestaan, daaraan is Engelssprekende Suid-Afrika waarlik nie sonder skuld nie.

Die beeld van ‘n geslote groep, saamgebind deur ‘n afkeer van die Afrikaner se lewensopvatting, deur eentaligheid en in elk geval deur gebrek aan belangstelling onmagtig om die Afrikaner nugter te beoordeel, bereid en selfs gretig om nie-blanke hulp in te roep om hulle van die Afrikaner te verlos, dit is ‘n historiese maaksel van daardie gemeenskap self. (Hopelik onnodig om te sê, ek praat in veralgemenings wat ten opsigte van die minderheid onregverdig is.)

Dit werk natuurlik na twee kante toe ook. Die bate van die Afrikaanswees is juis dat die spreker die Engelse so goed ken. T.J. Haarhoff skryf in sy Briewe aan Reinhard  (p. 136) aan boord die Théophile Gautier:

Hoe maklik rasse-misverstand is, kan jy gou hier aan boord bespeur. ‘n Hollander kla by my dat kolonel B. verskriklik ongemanierd teenoor hom was; die kolonel, ‘n fyn en eersteklas kêrel, is totaal dronkgeslaan en weet nie wat aanleiding tot die indruk kon gegee het nie; vir my is dit so duidelik as die dag dat dit die ou kwessie is van oorgeërfde gewoontes wat deur vreemdelinge verkeerd vertolk word.

“Die Engelse,” mompel die Hollander, “is soos perde; edele diere, maar elkeen staar ongesellig voor hom uit. Hulle is sonder gevoel.” Hierdie laaste opinie is foutief! Hulle is tot oorlopens toe vol gevoel, maar in die geval van die “Public School”-kêrel verbied sy stoïcynse opleiding enige vertoon daarvan.

Dieselfde sal jy opmerk in die wyse hoe ‘n vraag gestel word. In die Kontinentaal-Germaanse en Slawiese wêreld gebruik jy die imperatief (bevelwoord) sonder voorbehoud. Soos: “Gee gou vir my die suiker aan, asseblief man”. Die woordjie ‘gou’, ‘aan’ en ‘asseblief man’ versag klaar die sin amper drievoudig. Die Engelse kom met ‘n lang ommehaal: “Would you be so kind as to pass me the sugar, please?” Op Quora lees ek die volgende juweeltjie van ‘n Pool:

And what I enjoy the most in Britain, the question from the boss: “Do you want to go and bring me the reports?” Your normal answer is a smile and “Yes of course”. Do you really want to? My answer was “No, I don’t. But I assume it wasn’t a question but a command?” Almost got fired that day, hehehe. And that would be it – we are simply strict and direct.

2. Afrikaans is die sjibbolet van plaaslike produkte

Ek kom nou die dag op die blou Royal Dansk-koekblik in Checkers af. ‘Danish Butter Cookies’ verseker die blik my, maar maak nie saak hoe ek bo of onder, links of regs soek nie, daar staan nie ‘n enkele woord verder Deens op nie. Kun på engelsk. Dan begin mens werklik wonder en twyfel. Hier in die Overberg kry jy nog sakkies melk met keurige Afrikaans op, Bokomo Weet-Bix met al elf tale op, Kers- en verjaarsdagkaartjies in Afrikaans – die kanse vir die plaaslike koper wat Suid-Afrikaanse produkte wil koop dat hy die Chinese mark byvoorbeeld sal ondersteun is skraal. [Nou goed, die inhoud bly onseker].

Ons ken die staaltjie wel van Europa wat in tonnemaat ‘n verskeidenheid vars vrugte, Produced in Lesotho (!), ingevoer het tydens hul handelsboikot teen Suid-Afrika tydens Apartheid… Gelukkig het ek ook nog nooit op Googlevertaalde Afrikaans op produkte uit China afgekom nie.

3. Afrikaans dien as skansmuur teen ‘marxistischer Quatsch’

Ek wonder soms of Afrikaans die enigste taal ter wêreld is waar jy die duiwel van marxistiese media moet betaal om in sy poel van swawel en vuur te gaan b(r)aai. Die duiwel het sommer homself gebind! Dit beteken die internet is ‘n ope hemel vir die konserwatiewes. Die baan is vry. Dit beteken wie ook al ‘n Afrikaanse woord google, sal heel waarskynlik eerste by ‘n Afrikaanse konserwatiewe webwerf uitkom. Diegene wat lank genoeg in die Oosblok gely het, sal die nuwe paradys verwelkom.

Barend Strydom, die Wit Wolf, skryf in sy gelyknamige outobiografie (1997:23) oor die sedelike verlaging wat die Kommuniste al jare vir die Weste beplan het:

Hoe die Kommuniste hierdie beginsel toepas, vind ons in The U.S. Congressional Record, waarin sommige uitgestippelde doelstellings van die Kommuniste vervat is, naamlik:

1. Kry beheer oor die kommunikasiemiddele, infiltreer veral die pers en kry beheer oor redakteursverslae, boekoorsigte en beleidmakery.

2. Takel die kultuur en kulturele uitdrukking van die volk af.

3. Beheer kunskritici en direkteur van kunsmuseums – “Ons plan is om aakligheid, afstootlikheid en betekenislose kuns te bevorder…”

4. Ondermyn patriotisme deur volkshelde en leiers van die verlede af te takel.

5. Vernietig alle sedelike norme deur pornografie en onsedelikheid in boeke, tydskrifte, rolprente, beeldradio (TV) en die vrye pers te bevorder.

6. Elimineer alle wette wat onsedelikheid beheer deur dit as “sensuur” te bestempel en die “skending” van vrye spraak en die vrye pers.

7. Verkry beheer oor sleutelposisies in die radio, beeldradio en rolprente.

8. Beskou die gesinslewe as ‘n skadelike instelling. Moedig vermenging en egskeiding aan.

9. Beskou homoseksualiteit as aanvaarbaar, en vermenging as normaal, natuurlik en gesond.

10. Sypel die kerke binne en vervang openbare godsdiens met “sosiale godsdiens” (social-gospel). Minag die Bybel en beklemtoon die noodsaaklikheid van intellektuele volwassenheid wat nie ‘n godsdienstige stut nodig het nie (want ons is tog maar álmal dieselfde).

Met ander woorde, dit is polemiese onderwerpe wat werklik nie om lewe en dood, melk en brood handel nie en geen edele hoë ideale koester wat bo die gemeenskap uitstyg nie. Ek dink Oswald Spengler het iets gemompel van tekens, eerder simptome van oorbeskawing – voor die agteruitgang intree.  Onderwerpe wat mense nie meer laat opkyk na die onbereikbare sterre nie, en dus maar laat voortploeter en vervuil in die ondermaanse drek en modder en beswaddering.

Sulke sienings kan aangevul word met kommentaar uit Francis Grim van Aksie Morele Standaarde se Gepoogde verkragting van Suid-Afrika (1974).

Onder andere het die Kommunistiese Party in Italië oor losbandige teaterproduksies gesê (p. 22):

Ons is daarin geïnteresseerd om hierdie soort spel aan te moedig en is ook bereid om toneelspelers wat in sulke stukke optree, as kampioene van die vryheid van die kunste aan te prys. Ons wil sulke produksies aanmoedig, en moet mense aanleiding gee om soortgelyke stukke te skep wat seksueel selfs nog meer uitdagend is. As ‘n taktiese beleid is ons doelwit om ‘n onderneming te steun wat pornografies is en wat geheel en al vry van enige beperkings of gewone morele kodes is. Die regisseur en toneelspelers is soos miere wat vrywillig en sonder koste van ons kant eet aan die wortels van die bourgeois gemeenskap. Hoekom sal ons hulle werk probeer stopsit? Hoekom sal ons hindernisse in hulle weg lê?

Ek wil net graag ‘n paar punte hierbo uitsonder, wat juis met hierdie “wegbereiding vir die Kommunisme” in die Weste skerp kontrasteer in die Sowjetunie.

Les romains de la décadence – skildery deur Thomas Couture (1815 – 1879)

Jou Afrikanerhelde word deur sy eie pers onderploeg. Want Annie Lotrie het die onvergeeflike sonde begaan om in 1888 met ‘n Martini-Henri-agterlaaier one-maca, two-maca, three-macarena tiental gewapende Matabeles dood te skiet toe haar vader gewond is (en boonop soos Neo van The Matrix die aankomende fluitende koeëls gemis het), en Dirkie Uys het ook sy gewonde vader verdedig teen die Zoeloes in 1834 (al is hy ook dood). Jy sien, vir die Afrikaner is hierdie kinders albei helde in gesinsopset, familieopset en volksopset, maar… dit val nou nie juis binne die kader van “nasiebou” nie, sien. Jy wil tog nie die ander volke laat sleg lýk, ekskuus, laat sleg voel nie.

Die Sowjetunie, net soos vandag se Russiese Federasie, maak egter géén geheim wie hul helde is nie, ook diegene wat die ‘onbeskaafde’ Mongole en Hunne in vetlampie se tyd hand en tand beveg het. Daar word trouens ‘n opgewekte rockliedjie gesing oor die vroegste Russiese beskawing wat deur vyandelike magte omsingel is. Die woorde wat refrein: “gee my ‘n ros, ja, ‘n goeie swaard!”

Oor die betekenislose kunste: die Sowjetunie het juis vanaf 1934 tot 1991 die Sosialistiese Realisme bevorder. Dink stralende, lewenslustige jongvroue met kopdoeke in sonnige sonneblom- of heidelande. Idillies. Google gerus en verlustig jou daarin – want dit is daadwerklik mooi. Vreemd genoeg het die kuns wel vae trekke van die Impressionisme, juis waarteen die Sowjets te velde getrek het. Maar van realisme is daar egter geen sprake nie:

Yet, we fail to see how Socialist realism was “realism”. Realism should depict things the way they are, and Socialist realism was not depicting reality, but the idealistic vision of a communist empire. It was showing how utopia looks like, and it didn’t have anything in common with real, everyday life of Stalin’s Soviet Union. In a way, since it was depicting the world that didn’t exist, Socialist realism should be called Socialist Surrealism.

Die Sowjetunie het juis van die strengste sensuur op sy eie mense toegepas. En van die musiekgroepe anderkant die Fascismemuur in Berlyn is natuurlik as “besonder skadelik” beskou. Hier is die oorspronklike lys in Russies uit 1986.

Sosiaal-realisme in die Sowjetunie

Oor homoseksualiteit: volgens die Duitse Wikipedia is twee mans (of meer) wat seksueel met mekaar verkeer het, en van die daad skuldig bevind is, vanaf 1933 tot 1993 vir tot vyf jaar gevangenisstraf of dwangarbeid gevonnis. Hierdie skuldiges is dikwels kragtens Artikel 121 van die Sowjetunie ook bykomend of onverwags na die psigiatriese inrigting gestuur vir verdere ‘behandeling’. Dikwels val hierdie vonnis bloot regime-teenstanders te beurt. Tussen 1934 en 1991 is tussen 60 000 tot 250 000 mans veroordeel. Die Sowjet-samelewing kon geen inligting oor homoseksualiteit uit openbare bronne bekom nie; dit is trouens as openbare onderwerp heeltemal doodgeswyg. Interessant: in 1921, omtrent drie jaar ná die Russiese Rewolusie, is homoseksualiteit gewettig. Maar in 1933 weer terug verander soos onder Tsaarbewind. Waarom? [Terloops, dis dieselfde jaar toe bestialiteit/soöfilie in Denemarke gewettig is. Sedert 2015 is dit weer onwettig en vier maande gevangenisstraf is by skuldigbevinding jou voorland.]

Is dit dan nou ons liewe Kommuniste wat in die gelykheidsgodin glo soos die Evangelie? Is dit nie die grootbekke oor die ontsaglike diktatuur van die Weste en die Witmonopoliekapitaal nie? Ek dink dit is onbeantwoorde vrae wat die SAKP en EFF ons verskuldig is, maar waarop hul self geen antwoord het nie.

O, ja, nog iets – ekobeheptheid. In die Weste word tot vandag toe nog snot en trane gehuil oor elke liewe hondepisbossie wat uitgespit word, en elke muskiet en brommer wat in die vensterbank drooggebak lê van die son en styfskop. In Sowjet-Rusland is die magasyne sommer leeggemaak op die wolwe – 40 000 tot 50 000 binne net een jaar, sedert die 1960’s jaarliks 15 000  – en binne twee dekades of wat is die wolfbevolkings weens hul dinamiese, aanpasbare sosiale struktuur en ruim landskap maar weer voltallig. Vandag het die wolwe weswaarts begin druk en trek; in Holland vrees party ekoloë daar is, ten spyte van die verwildering en verpoldering, nie eens genoeg vrylopende hert meer om ons harige vriende mee gelukkig te hou nie. Al koer die Partij voor de Dieren se hartjie bly oor elke ou welpie wat tandjies kry, die wolwe sal oplaas ‘n lang en uitgerekte hongerdood sterf. Of door een auto, 180 op de A2. In Denemarke het Jutlandse boere reeds stilswyend die roer begin politoer.

So kan mens die een vergelyking na die ander ophaal.

‘n Mens staan versteld hieroor. Die Hamer en Sekel wapper lankal nie meer oor die Kremlin nie. Die Internationale se woorde is vergete. Die Berlynse Muur het geval. Kommunistiese Partye het in Europa ‘n anachronisme geword: uitgedien soos videowinkels. Die Italiaanse Kommunistiese Party is morsdood en reeds in ‘n kalkbestrooide vlakgraf eerloos weggebêre.

Leningrad en Stalingrad se name staan nie meer nie. Die wapen waarmee die hele Westerse samelewing omver gewerp moes word, hoort soos ‘n Kalasjnikof in ‘n museum. Verlate verfverkrummelde geboue in die Russiese Federasie, Kazakstan en elders stort een na die ander in duie soos die geldkraantjies toegedraai is. Verlore Sowjet-drome is vandag ‘n vae figment van gister. Juis nou dat ‘n mens sonder visum Rusland kan besoek, behoort sulke monumente juis trekpleisters te word. Haman het vir Mordegai ‘n galg laat oprig, en toe…

Maar nee! Jou Westerse media volg onwetend soos pligsgetroue apparatsjiks (of eerder, robotte) die program wat vir hulle geskryf is deur ‘n anti-Westerse en anti-Kapitalistiese samelewing wat lankal in die niet opgelos en verdwyn het. En steeds dikteer hierdie spookhand van ‘n gebalsemde hand uit Lenin se mausoleum wat in ons Afrikaanse dagblaaie moet staan. Niemand vra waar dit vandaan kom nie, niemand vra wat die einddoel daarvan is nie. Die anachronisme word net deurgevoer. Dis soos ‘n kind wat met ‘n landmyn speel of ‘n bottel gif drink uit die Tweede Wêreldoorlog.

Nee, erger: dis soos ‘n Von Däniken-dokumentêr (of Indiana Jones and the Kingdom of the Crystal Skull, heel simbolies met kommuniste as antagoniste) waar die Asteke duisende jare lank hulde en menseoffers bring aan gode (ruimtewesens) wat maar per ongeluk hier ‘n noodlanding op aarde kom maak het (vermoedelik het die Asteke die doel van orgaanoorplanting of ‘nuwe hart’ verkeerd verstaan?). Met behulp van die mense het die ruimtewesens ‘n landingstrook en beheertoring gebou (bietjie primitief, maar die Tenochtitlan is ‘n goeie radiomas), en in ruil is die mense met spesiale middels en tegniek genees en bietjie lewensfilosofie geleer. Die ruimtewesens het toe maar weer met ‘n ligskag opgevaar en het saam met die ander in ‘n ruimteskip verkas. En is nooit weer gesien nie. In die volksmond bly hierdie verhaal van “gode” agter wat eendag sal terugkeer behoue. So duur die menseslagting op die offeraltaar net meedoënloos voort… jaar in, jaar uit… in die hoop dat die gode eendag sal terugkeer.

D’averro: wie is nóú verkramp, as ek mag vra?

***

Gelukkig is Afrikaans te klein en te jonk om oor sulke luukshede te tob. Ons weet mos hoe dit gaan eindig. Dit gaan ons lankal nie meer aan nie; op ons karvele is daar ‘n wêreld daarbuite om te gaan verken.

Nee, sulke goedkoop politiek is bedoel vir die twitter-gemaal van die Engelse, Amerikaanse, Russiese, Franse, Spaanse en Duitse kultuur wat reeds ‘n oorversadigde punt bereik het en hopeloos te veel tyd en geld op hande het. Daardie volke het elke boek en DVD ter wêreld klaar vertaal/oorgeklank op hul boekrak en sit nou ledig en verveeld vir mekaar grommend en loer. Laat hulle mekaar maar uitmoor. Hou jou daaruit!

Het ons nie sedert die 1700’s juis hierdie vlaag op vlaag modegiere in die akademie en godsdiens beleef nie? En wat het gebeur? Dit het sy loop geneem, tog oorgewaai en op niks uitgeloop. Soos die hutsmerke aan die regterbalk op twitter – dis niksseggend. Die Afrikaners wat soos modeslawe agterna gedraf het, het net hul tyd, energie en geld gemors. Dit is vandag slegs ‘n vae kantaantekening, ‘n voetnota in die geskiedenisboeke. As jy dit dan weet, liewe leser, waarom de donder dan meedoen?

Jy voer verniet jou kruistog op twitter, hoeveel mense het jy al bekeer? Daar word gedurig gesê die volke moet met mekaar gesels en luister. Maar kom nou, ons weet waarop dit gaan uitloop. Elkeen het net sy eie standpuntjie, steek hardnekkig daarby vas, en die hele storie ontaard in ‘n moddergooiery, verwyte, uittarting en die selfoonmaatskappye wat lag-lag hope geld maak uit jou kosbare data. Skryf eerder ‘n ordentlike boek of artikel. Diegene wat spog met hul hoeveelheid volgelinge (korreksie, kykers) maak hul bowendien skuldig aan argumentum ad populum. 2 miljoen volgelinge beteken nog nie jy het gelyk nie. Jy moet daadwerklik ‘n aandagvraat na kitsroem wees as jy so laag wil daal.

Soveel negatiewe energie. Die sleutelbord op jou selfoon of rekenaar kon veel nuttiger ingespan geword het.

Word eerder ‘n gód in Afrikaans!

4. Afrikaans maak van jou ‘n god

Ek het met heelwat Duitsers, Engelse, Franse en Hollanders die afgelope dekade gesels wat by Afrikaans betrokke is. Dit wil vir my voorkom of Afrikaans meer soos ‘n vakansie langs die see, of ‘n soort uitspanplek vir hulle is. Weg van die gemaal, weg van die gesketter en geruis. Weg van die stadsgraffiti. ‘n Skoon nuwe lei. Hierdie taal kan hulle soos ‘n sandput gebruik, al hul kragte daarop toespits en onverhinderd gestalte aan hul werk gee. En geniet! Hierdie mense beskik seker oor al die kennis ter wêreld, maar voel oorbodig, is miskien selfs soos ‘n oorlas deur hul eie mense (kultuurgemeenskap) of deur binnekringpolitiek uitgestoot en uitgesluit. Dink maar aan 50 Wiskundeonderwysers by een enkele hoërskool. Wat volg is die “oorspoel- of oordrageffek” (spillover) soos mens in die ekonomie ook kry.

Nou ontdek hierdie individue ‘n leë plekkie op dié wêreldrond waar daar wel mense is wat bereid is om na hulle te luister en vrae te vra. En natuurlik kry hierdie mense eiewaarde of voel ten minste weer mens. Ek dink dit is wat Afrikaans bied wat groot tale nie kan nie (al is daar maar ‘n handjievol Afrikaners wat kan saampraat oor allerlei onderwerpe). Daar is ook ‘n nugterheid, want hul voel nie so “omgeëllie” oor Afrikaans, soos ons wat die taaldiskriminasie, die erns van die saak, aan ons eie bas voel nie. En jy het daardie bedaarde raad tog nodig. En die ekstra paar hande en boeke uit oorsee is van onskatbare waarde. Die meeste buitelanders is plat op die aarde, wil ook nie voor in die koor wees nie (hoe jammer…), maar verkies eerder om agter die skerms te werk, bly op die randgebied en meng allermins met die hoëkoppe.

Miskien moet ek dit so stel: as jy in Afrikaans deeglike niefiksie of fiksie téén die hoofstroom skryf, hoe dikker hoe beter, is die kanse goed dat die boek nie weer herdruk sal word nie. Dis jammer. Máár jy kan seker wees jou boek gaan oor 200 jaar heeltemal vóósgelees wees; en indien nie, sal ‘n roofkopie êrens op die internet rondsweef. Dis mos verbode, en verbode vrugte smaak mos vorentoe! Daar sal met die moderne internet en boekmarkte altyd iemand wees op die uitkyk vir ‘n boek in Afrikaans oor ‘n sekere onderwerp of genre.

Wat in Afrikaans se voordeel tel is die ‘agternaperspektief’. Ek dink byvoorbeeld aan Heilna du Plooy se verwerkte proefskrif, Verhaalteorie in die twintigste eeu (1986), wat in ‘n neutedop die ontwikkeling, uitbou en diskoerse opsom van die strukturalisme. Dit is nie ‘n besonder dik boek nie, maar dit spaar baie tyd as wat dit die Afrikaanssprekende student sou kos en moegmaak om elke liewe boek in die geskiedenis eers deur te werk. Dis nou wel die bloed en konfetti opvee van die debatpartytjie in Europa en Amerika (wat toe tog wel op niks uitgeloop het), maar Du Plooy het nie haar tyd gemors nie, want daar was nog niemand wat hierdie deel van die letterkunde uitvoerig behandel en selfs studentevriendelik gemaak het in Afrikaans nie.

Ek dink André P. Brink, die ou prima donna, moes hom eerder van sy knorrige politiek en pruttelrige pogings afstand gedoen het en maar liewer by vertalings uit fleurige Frans gehou het. Ek sit byvoorbeeld hier met Michel Strogof (1876) deur Jules Verne wat deur ene Chris van Lille (dis nou Brink) vertaal is in 1969 (op heuglike 34-jarige ouderdom). Met die oorspronklike Frans op die rekenaarskerm en die boek voor my, leer mens hoe ‘n Fransman dink en hoe jy die woorde in Afrikaans kan oorsit. Dit help my baie met my Franse studies. Natuurlik is die vertaling nie so lugballon-lig en plek-plek ligsinnig soos ons Jules Verne nou al so goed ken met sy ironiese woordespel nie. Die Frans pas by Verne se “beweeglikheid” en “vlugvoetigheid” van sy karakters, altyd op reis, altyd aan die beweeg, vinnige tempo.

En dan het ons my gunsteling-omie: professor emeritus Gerrit van Wyk Kruger. Ek glo nie hy weet seker wat blackface beteken nie, maar wat maak dit überhaupt saak? Hy is een van die min wat nog Grieks en Latyn ken! Ek was heel toevallig op Gordonsbaai by daardie boekehuis in Kusweg (met Mercedes op die dak) toe ek op Die Griekse ou Komedie: Aristophanes (2019, 305 pp.) afkom wat so stil-stil verskyn het. Dit is asof die skrywer op sy hoë ouderdom, in sy vroeë tagtigs, al sy kennis nou neerskryf terwyl sy kragte hom dit toelaat. ‘n Mens kan brokkies van die inligting daarin vervat gemaklik op Wikipedia deel wanneer die tyd reg is. Dit is nog skietgoed in die Afrikaanse arsenaal. Hy stel die voorbeeld vir ons afgetrede akademici wat Afrikaans wil bevorder.

En dan, dit verstom my hoe wetenskapsfiksieboeke (soos Deur na Nebula 9 en Inversium deur François Verster), wat nie ‘n dag se advertensie gekry het in die hoofstroommedia nie, voortdurend by ons plaaslike biblioteek uitgeneem en in omloop is (ek praat nou van vóór die noodtoestand afgekondig is). Sulke boeke het ‘n beperkte druk, en tog is die gewildheid verhoudingsgewys, en gegewe hul stil-stil verskyning, besonder hoog, want die gehalte van die boeke is beter as dié van uitgewers wat volgens ‘n skoolse kriterium werk om polities korrek te wees en so middelmatigheid bevorder. ‘n Aantreklike voorblad kan wragtig nie alles red nie. Ook Moltrein deur Dan Roodt word nog voortdurend uitgeneem, en ek bedoel – dit is immers 16 jaar later.

Dit is ook selde, indien ooit, dat jy in Afrikaans vier of vyf vertalings van een boek sal kry, maar selfs in Nederlands verloop nuwe vertalings teen ‘n slakkepas. De Instituten van Justinianus (1941-vertaling deur advokaat Oltmans uit Latyn) op my boekrak verskyn eers meer as tweehonderd jaar ná die laaste vertaling in 1734 deur Cornelis Ortwijn (Cornelius Ortwinius), volgens die voorwoord. Hoekom eers in 1941 weer? Eenvoudig. Die wet van Godwin: reductio ad Hitlerum. Die tydsgees het ‘n nuwe vertaling genoodsaak. Volgens Paul van Warmelo (Die oorsprong en betekenis van die Romeinse Reg, 1978, pp. 209-210):

Die Romeinse reg is dus onherroeplik verbind aan die idee van ‘n Europese beskawing. Daar waar inbreuk gemaak word, kom die Romeinse reg in die gedrang en word dit ‘n speelbal van die politiek. So in die Fascistiese Italië was die gedagte dat die vroeë Imperium Romanum moet herleef. Dus moes die Romeinse reg en die studie daarvan aangewakker word as die reg van die imperium. Daarteenoor Duitsland, in die gees van die N.S.D.A.P. , waar uitdruklik neergelê is dat die Romeinse reg uitgeskakel moes word. Hierdie reaksie in Duitsland het as voordelige kant vir die Romeinse regswetenskap gehad dat, alhoewel die Romeinse regswetenskap in groot mate afgebreek was, het baie vlugtelinge die wetenskap in Engeland en Amerika gaan voed waar die Romeinse regswetenskap nooit buitengewoon hoog gestaan het nie.

En hierdie gebeurtenis kon juis later daartoe aanleiding gegee het om Latyn vir voornemende regstudente in die wet van Suid-Afrika in 1965 as pligvak te veranker (wat sou voortduur tot 1994). Wat ook weer aanleiding gegee het tot prof. Henri Gonin wat die wetboeke op sy hoë ouderdom in Afrikaans vertaal het. Dit het ‘n interessante rimpeleffek.

Ek herinner my ook aan die (outo)biografieë uit die 1940’s, soos dié van predikante, wat soos nog ‘n legkaartstukkie van die Suid-Afrikaanse geskiedenis pas.

Met ander woorde: as mense tevrede is met jou werk, sal hulle dit aanhou gebruik. En eendag selfs nuwe werke met die oue [joune] vergelyk. Dit maak nie saak hoe gering jou werkie in Afrikaans is nie – dit is soos skulpe, bamboes en seewier op die strand wat van tyd tot tyd deur die getye weer uitgespoel, teruggetrek en weer uitgespoel word. Daar sal altyd iemand wees wat een of ander tyd jou werk sal raaksien, afbuk, optel, herontdek of oor navraag doen.

5. Afrikaans-kennis maak vertaling eintlik oorbodig

As daar aangevoer word dat Engels die universele taal is wat ander tale oorbodig maak, dan sal die intellektuele elite stik van die lag. En ‘n paar druppels peperduur Romanée-Conti per ongeluk op die Persiese tapyt mors.

By ‘n boekwinkel op die Strand kom ek af op The Lost Journal of Indiana Jones (2008). Dit is eerder ‘n plakboek vol uitknipsels, want ‘n joernaal het ek my meer woordryk voorgestel. Maar iets hinder in die silinder. Indiana Jones is glo 27 tale magtig, waaronder Italiaans. Hoe kom dit dan dat hy die “English edition” van La Gazzetta di Venezia lees noudat hy meer grys op die slape het? Selfs die kaart van Venesië is in Engels! In die jare voor die internet, waarin die verhaalgegewe afspeel, sou jy geen oomblik laat verbygaan om Italiaanse leesstof te versamel nie.

Hoekom vertaal Jones tekste uit Latyn, Frans en Duits in sy ‘joernaal’ vir homself in Engels? Ek kan jou verseker, ‘n akademikus wat oor vele tale en talente beskik sal hoegenaamd nie die moeite doen nie. Die opsomming van ‘n boek sal hy wel in sy moedertaal skryf, gewoonlik as hy wil keer dat hy die inhoud vergeet. Of skielik ‘n woord of sinsnede sal oproep en vergeet op watter bladsynommer dit nou weer was (‘n boekmerk help ook). Vir my is die toppunt van onnoselheid waar Jones die hoogs geheime Latyn op die Tempelier se skild in Engels op die volgende blaaie vertaal. Waarom op dees aarde sou jy dit doen? ‘n Joernaal kan immers wegraak, deur die Nazi’s of Kommuniste gesteel word…

Wie ook al die boek geskryf het, maak van prof. Indiana Jones, die erudiet en argeoloog-avonturier, net ‘n windbuks. [Maar dit weet ons lankal. Ja, ek weet die boek is vir die Engelssprekende gehoor geskryf wat nie van beter weet nie!]

Dis so goed ek vra ‘n Afrikaner om elke liewe dingetjie op die internet wat hy vlot in Engels of Hollands of Duits kan lees vir homself in Afrikaans oor te skryf. Dit is mos onsinnig!

T.J. Haarhoff skryf wel soms die Afrikaanse vertaling van party Griekse of Latynse tekste in die briewe gerig aan sy gestorwe vakgenoot Reinhard Kottich, maar dit is anders. Haarhoff stel dan uitdruklik iets soos: “nou hoe sou mens dit in Afrikaans stel?” So nou en dan stel hy wel sy Afrikaanse artistieke vermoëns op die proef. Agterin die bundel briewe is ook ‘n hele glossarium wat al die Latyn en Grieks “vir die skoolgaande jeug” verklaar, wat vir jou sê die vertaling van Grieks en Latyn tussen vakgenote is onnodig. Die boek is dan ook aan die Helpmekaar Hoër Meisieskool (Johannesburg) voorgeskryf in 1943.

Op soortgelyke wyse kan mens jou afvra of vertalings van Afrikaanse tekste, in welke vorm dan ook, in Suid-Afrika werklik altyd nodig is.

6. Afrikaans se voortbestaan is vir Engels (en welke ander tale dan ook) se eie beswil

Hamel (2013) kyk uit ‘n Franssprekende oogpunt na Engels as die enigste wetenskapstaal. Volgens hom is Engels ‘n ouroboros wat besig is om sy eie stert op te vreet.

Volgens hom word vergeet van artikels wat in Frans vertaal word, wat juis op duursame wyse Frans versterk en selfs uitbrei; ook word uit die oog verloor dat ‘n artikel nou wel in Engels geskryf mag wees, maar dit kom vanuit ‘n Franse en Franstalige gemeenskap, dat die wérk in die laboratoria of op straat in Frans onderneem word, wat gevoed word deur wetenskaplike produksie in Frans; ook die onderwys geskied in Frans, hoewel daar uit ‘n verskeidenheid bronne (ook vreemdtalige tekste soos Duits) geput word.

Omrede hierdie gee-en-neem uit die makro- en mikro-omgewing belangrik is, behoort meer moeite gedoen te word om ‘n volhoubare harmonie daar te stel, ‘n soort etiese pligsbesef, ‘n maatskaplike verantwoordelikheidsin, waarin jy “teruggee” aan die gemeenskap waaruit jy put (bv. Frans aan die Franse gemeenskap, bv. deur die ontwikkeling van vakterminologie), anders word dit ‘n soort monokultuur wat niks in die taalakker terugploeg waaruit slegs gemaai word nie. Die voedingsaarde van Engels (by name ander tale en kulture wat maar te gewillig in Engels publiseer) word juis sodoende net leeggesuig.

Dis soos ‘n kolossale bloekomboom wat al die water en minerale opsuig en die ander plante rondom hom laat vrek.

Volgens Hamel is elke liewe eentalige model uiters ongeskik – juis omdat dit hier eerder, anders as wat sedertdien lank deur die Franstalige en Spaanssprekende wêreld toegepas word (juis oor die taalminderhede wat in die verlede verdruk is), om mag gaan, en nie om die ondergestelde tale te verdedig nie (in die Franse en Spaanse skole word benewens plaaslike tale ook buitelandse tale aangebied). Die eentaligheid van Engels gaan sy moedertaalsprekers op die lange duur ook duur te staan kom, juis omdat die aanleer van ander tale ‘n mens leer om buite jou eie klein wêreldjie te dink, om die grense te weerlê en nugter/wetenskaplik te dink. Maar noudat die buitelanders die werk vir hom doen, is die buitelanders besig om indirek hul eie kultuur te ondermyn, wat die hele makro-omgewing sal skaad.

Hamel stel eerder veeltalige groeipunte voor waaruit ander tale ook voordeel kan trek (soos uitruilprogramme tussen Frans-Spaans-Italiaans-Portugees). Dit dien as die goue middeweg tussen die “Franse Pool” (wat Frans as internasionale wetenskapstaal wil bevorder) en die “Engelse Pool” (wat druk op ander plaas om te swig voor hom as internasionale taal).

Met Afrikaans is dit niks anders gesteld nie.

7. Afrikaans dien as kruk op universiteit

Of die professore en hooggeleerdes wat slegs skynbaar Engels magtig is dit nou wil hoor ofte nie, die studente verstaan dikwels hoegenaamd nie ‘n enkele woord wat in die studiegidse staan nie. Dikwels omrede die Engelse vertalings (soos uit Frans of Duits) waaruit ondeurdag en so mildelik aangehaal word absoluut power is. Of omrede die proffies hulself nie eens in Engels kan help nie. ‘n Teks uit die pen van Gérard Genette, Satre, Lacan, De Saussure, dokters, ingenieurs… te veel nuanses wat verlore gaan wat ‘n knopingspunt in die oorspronklike werk vorm. En die studente sal dit gou genoeg vir jou sê.

In my voorgraadse jare het van die studente (wat hul werk in Engels ingelewer het) gekla hoe moeilik, lomp, vaag en omslagtig die een Engelse studiegids geskrywe is. Dit het hulle genoop om die Afrikaanse gids af te laai (en selfs mekaar op die internetforum aangeraai om dit te doen), bloot om te probeer verstaan wat op dees aarde daar aangaan. En hulle was heel tevrede met die aanbieding en die eenvoud van die Afrikaanse bewoording. Met die twee boeke naas mekaar op dieselfde skerm kon die vrae makliker beantwoord word.

Maar wat nou as daar geen Afrikaanse gids was nie? Soos dit wel vandag die geval is?

Ek kom nou die dag in Gordonsbaai af op ‘n studiegids uit 1993, wat die ooreenkomste en verskille tussen Homeros se Ilias en Vergilius se Aneïs bespreek. Op bl. 27 van die UNISA modulegids CCU201 staan daar:

Die voorgeskrewe boek vir hierdie afdeling is The Aeneid of Vergil, translated by A.Mandelbaum. […] Ons kan ook die uitstekende Afrikaanse versvertaling aanbeveel van N.A. Blanckenberg Vergilius: van Wapens en ‘n Man. […] sowel as die prosavertaling van J.T. Benadé Vergilius: Die Aneïs.

Nou wonder ek… sou die Engelssprekende student van die geleentheid gebruik maak om ook die Afrikaanse tekste deur te werk, of is die Afrikaanse student die enigste wat hierdie tweetalige voordeel sal benut? Vandag met die internet is daar boonop nog Duitse, Franse, Italiaanse, Russiese en Hollandse vertalings almal gratis en toeganklik.

Dit het my ‘n dure les geleer. Want selfs vandag nog as ek ‘n Wikipedia-artikel uit Duits in Afrikaans vertaal, kyk ek na, sê nou maar, die Deense of Franse vertaling (ander kulture) of ek nie miskien ‘n ander nuanse misgekyk het nie. Onthou, vertaling is interpretasie, en ‘n Fransman of Deen sal anders na die bronteks uit die buurland kyk. Indien daar wel ‘n ander uitkyk bestaan, kontak ek die skrywer, net om doodseker te maak. Daarna sal ek ‘n kollega vra of hy verstaan wat ek geskryf het en of dit pas by die oerteks. Meer as een maal het my veeltalige Frans-Duits-Engels-Afrikaanse kollega aan my gesê ek gee die teks beter in Afrikaans weer as wat dit daar in Duits staan.

Dit bring ons by die volgende punt.

8. Afrikaans vergemaklik die vloei van inligting en spaar tyd

Daar is ‘n groot verskil om 16 miljoen soekresultate deur te sif en slegs 327. Van hierdie 16 miljoen is absoluut nuttelose gebrabbel, spieëlbeeldwebwerwe, onbruikbare masjienvertalings, kwetsende kommentaar op Twitter en Facebook. En dan weet jy nog nie eens of die inligting korrek is nie. Geniet maar jou naald in die hooimied soek.

Afrikaans bied jou die geleentheid om daardie één sinvolle artikel te skryf wat onmiddellik die nommer 1 op die lys sal word. Help gerus ander mense tyd spaar. Daar is derduisende ander onderwerpe en vakgebiede wat vir Afrikaans nog braaklê.

9. Afrikaans is sinoniem met markdiversifisering, markuitbreiding,  nismarkte en welvaartskepping

Onlangs kyk ek na ‘n gesprek tussen die taalaktivis Dan Roodt en die ekonoom Chris Hart op YouTube.

Hart sê die Afrikaners het na afloop van die Eerste Wêreldoorlog en die Groot Depressie nié, soos die huidige stand van sake is onder die ANC-bewind, die Engelse maatskappye vir hulself begin toeëien volgens ‘n puntekaartstelsel nie. Nee, geskoei op Old Mutual stig jy Sanlam en geskoei op Barclays Bank stig jy jou eie Volkskas.

Met ander woorde: Op so ‘n patroon kan jy as’t ware die mark verdubbel en selfs meer geleenthede en ‘n wye markkeuse skep. En werksgeleenthede. Dit laat my amper dink aan die Versuiling in Nederland waar Katolieke, Protestante, Liberales (die klassieke soort) en Sosialiste slegs met hul geesgenote gaan sake doen het. Dit het aanleiding gegee tot die stigting van wie weet hoeveel verskillende universiteite en instansies wat vandag nog bestaan. Onenigheid bring sy voordele.

Daar steek waarheid in wat Hart sê, maar wees versigtig. Uit Inleiding tot die Ekonomie (1951, Schumann en Franzsen) haal ek net die volgende:

Jy het in Suid-Afrika voor 1860 hoofsaaklik dorps- en streeksbanke op die platteland gekry. Meer divers kan jy jou nie indink nie. Soos mens jou maar kan indink is daar ook spesiale geld onder die tafel deur wat aan familie en vriende uitgeleen is, geen takkantore om risiko’s te verdeel nie, geen beperkings op die hoeveelheid kontant wat uitgegee is nie, en boonop – geen publikasie van kwartaallikse balansstate nodig nie. Maar sulke banke was so te sê ongereguleerd, want die wetgewing was toe nog hondmak.

Al die depressies van 1865, wat so te sê niemand gevoel het nie, want die meeste was nog op plase selfonderhoudend en selfaangewese (eie seep van beesvet, velskoene), met kinders by dosyne gebore op die kooi van hooi…, die Diamantkrisis (1881) en Goudkrisis (1881-1890) was bloot banke wat hul deur die optimisme laat meevoer het en te veel geld uitgedeel het. En so hul vingers verbrand het.

Dus, die geringste knik en die dorpsbank stort soos ‘n kaartehuis in duie. Toe kom daar die Imperiale Banke wat voorsien in betalings op nasionale en internasionale vlak, wat die streeksbanke een na die ander uitkoop of inlyf – onder andere deur Standard Bank. Die “eenvoudige selfgenoegsame plattelandse en dorpsekonomie” was verby. Die voordeel van hierdie Imperiale banke was dat jy 4% rente verdien het op jou deposito’s (0,0% by die dorpsbanke) en die uitleenrente aansienlik laer was as die 12% vir die voorskotte van “dorpsbanke”.

Nou moes mense ook sedert 1865 begin belasting betaal op kontantonttrekkings/note-uitgifte, en so het die tjeks besonder gewild geraak – 82% van die Unie van Suid-Afrika het in 1929 en 83,4% in 1938 het tjeks eerder as kontant as betaling gebruik. Kompleet soos ons vandag – kontantloos – debiet-/kredietkaarte gebruik. Engeland se tjekgebruik was in Maart 1939 op 74,3%. In Kanada, Australië en Nieu-Seeland is die verhouding ook gewoonlik oor die 70%, terwyl in Swede, Switserland, Denemarke, Japan, Holland en Italië dit tussen 50% en 70% was. Die lande wat die potte vol silwer met hulle orals soos huisgode rondgedra het was Frankryk, Duitsland en Noorweë wat nog doer onder die 50% gelê het. In daardie opsig was Suid-Afrika reeds modern, selfs sy tydgenote ver vooruit.

Skrikwekkend, wel: in 1926 is 95% van die Suid-Afrikaanse bankwese beheer deur ‘uitlanders’.  Vernaamlik Standard Bank en Barclays (soos die streeksbanke een na die ander vrywillig of noodgedwonge ingelyf is of toegemaak het). Eers in 1940 het Volkskas sy deure oopgemaak (en sou in 2020 sy 80ste bestaansjaar gevier het); waarom die Afrikaner nie by Nederlandsche Bank (Nedbank) gebly het nie, weet ek nie. Dalk was hulle te volksvreemd. Die stigting van Volkskas volg nie verniet twee jaar ná die herdenking van die Groot Trek nie.

Met een ding sal ek ook saamstem: as ‘n Afrikaner nog ontuis en huiwerig sou voel om sy banksake in Engels te reël, of sy geld in “vreemde hande” oor te laat, dan sou Volkskas hom beslis gerus stel. Dis immers nie ‘n bank wat die “vreemde in” gaan weghol of die geldmag befonds nie (of watter ander stories kon rondgeloop het). En die bank had ‘n klinkklare visie.

Hierdie bedrywe in Afrikaans beteken outomaties meer werkskepping, meer geld vir die staatskas en minder mense wat van sosiale toelaes afhanklik is. Terselfdertyd beteken dit die geld gaan nie slegs na één poel van één burokraties-monolitiese maatskappy (en daardie één baas hand-om-die-blaas met die regering) nie, maar word vryelik versprei en verdeel.

Ek dink byvoorbeeld aan die dame in Roodepoort wat vanuit haar huis deur die internet (met ‘n besonder knap rekenaarstelsel) byna nie kan voorbly met die besendings van tweedehandse Afrikaanse boeke nie. Haar mark ís vernaamlik Afrikaanse boeke. Sonder Afrikaans sou sy geen bestaan kon maak nie.

Ek dink ook aan die versekeringsmaatskappy wat geld belê in die Afrikaanse taal. Sonder Afrikaans sou hy nie bestaan nie.

En as jy nog enigsins twyfel oor die markwaarde van Afrikaans: die Kerk van Sciëntologie, wat nogal berug is vir sy stywe ‘oudit’-pryse per sessie, het juis sy handleidings in Afrikaans laat vertaal. Niemand sou dit doen as daar geen potensiaal was om lidmate te werf nie. Forbes het ons ‘n groot guns bewys deur die Afrikanername te publiseer onder “die rykste Suid-Afrikaners”…

10. Afrikaanse boeke floreer hoe slegter die Suid-Afrikaanse ekonomie krepeer

In die Kaapse Bibliotekaris van April 2017, sê Nicol Stassen, uitvoerende hoof van Protea Boekhuis, wanneer daar na die mark vir gedrukte algemene boeke in Suid-Afrika gekyk word — universiteits- en skoolhandboeke uitgesluit — moet jy onderskei tussen ingevoerde en plaaslik gepubliseerde boeke. ‘Die internasionale Engelse aanbod verkoop verreweg die meeste, maar wat plaaslik gepubliseerde boeke betref, vaar Afrikaanse boeke baie beter as Engelses.’ Maar dan sê hy: ‘As jy ’n uitgewer in Suid-Afrika is, moet jy vaklektuur publiseer — in Afrikaans. Die verkope van plaaslik gepubliseerde Afrikaanse vaklektuur oortref dié van Engels verreweg.’

Hoe swakker die Rand/Dollar-wisselkoers, hoe duurder gaan jou buitelandse invoermark begin raak. Jy gaan dus twee keer na die prysetiket moet kyk voordat jy daardie glansomslag uit Amerika of Brittanje laat oplui. Of miskien sal jy liewer een tweedehands wil koop. (Dit bied natuurlik ook geleentheid vir die Afrikaanse Wikipedia om uit te brei, want die vraag na inligting gaan nie verminder nie…)

Soos ek op Wikipedia opgesom het uit ‘n artikel ook deur Marlene Malan, DeKat, van 2016:

Sowel Nicol Stassen as Melt Myburgh meen om ‘n boek in Engels te skryf met die oog op die buitelandse mark, waarborg nie baie geld of sukses nie. Melt Myburgh van Penguin Random House voer aan: “Ons sal dikwels ‘n niefiksietitel tegelyk in Engels en Afrikaans publiseer. Boeke wat in Engels verskyn, vind nie noodwendig nie, en eintlik relatief selde, ‘n tuiste in die buitelandse mark, omdat die markte en hul lesers se smake so dramaties verskil. Dikwels maak mense die fout om te dink as hul boeke in Engels is, gaan die buitelandse mark daarvoor val. Niks is verder van die waarheid nie.” Een sprekende voorbeeld is Carol Campbell se My Children Have Faces (2013) by Umuzi was ook as Karretjiemense (2013) verskyn het. Volgens Campbell self was daar teen die einde van 2015 maar omtrent 800 eksemplare van My Children Have Faces in die oorspronklike Engels verkoop, terwyl in dieselfde tyd 12 000 Afrikaans vertaalde kopieë van die hand gesit is. Volgens Nicol Stassen, uitgewershoof van Protea Boeke, gaan die vertalings ook dikwels gepaard met ander faktore soos gehalte, bekendheid van die boek, lesersmaak, faktore en vraagstukke waarmee die lesers hulle kan identifiseer of die bekendheid van die skrywer (en vertaler), asook in hoeveel tale ‘n boek reeds vertaal is.

Ongelukkig tref die swak Rand/Dollar-wisselkoers ook e-boekgebruikers swaar, afhangend watter toestel jy gebruik. Afrikaanse e-boeke op Amazon is ook nogal sterk aan die Rand/Dollar-wisselkoers gekoppel, terwyl platforms soos Google Play vryelik prysdiskriminasie toepas sodat diegene in Derdewêreldlande, dis nou Suid-Afrika, daaruit kan baat. Onthou, e-boeke is ‘n diens, nie ‘n boek met inherente waarde nie. Die kontrak verval met die dag van jou dood. Ná jou dood kan niemand die boek meer lees nie. En boonop, soos mnr. Leon Lemmer in ‘n kommentaarbalk oor Amazon vermeld het, en ek persoonlik ervaar het op Google Play: die inhoud van die boeke verander oornag. Dit spaar natuurlik so geld, anders moes jy elke keer ‘n nuwe uitgawe gaan koop, maar wat as jy die heel eerste weergawe wou gehad het? Of jou notas nou afgevee is?

Nadat ek die Vrouekeur se een artikel (9 November 2018) deurgelees het, lag ek my oor ‘n mik hoe mense ontstoke raak oor hoe duur nuwe e-titels is wat pas verskyn het op die rakke van Amazon. Ek kan nie glo hoe onnósel die besete Afrikaanse lesers is nie. Hulle is Pavlov-brakke vir reklame, dis ‘n tragedie! Mens, waarom moet jy nou onmiddellik ‘n e-boek gaan koop? ‘n Haastige hond verbrand sy mond. Dis nou nie asof die boek uit druk gaan raak nie? Gee kans vir die mense om genoeg negatiewe kommentaar te lewer. Teen daardie tyd is die boek ook doodgeanaliseer en die nuutjie het oorgewaai. As die verkope na drie maande of ‘n jaar afplat, dan sak die prys weer. En jou impulsiewe koopwoede sommer ook. Dis tog logies! Dink so daaraan: aan die anderkant van die ewenaar is die boek goedkoper vir ons buitelandse taalaanleerders…

Hou ook maar die uitskottafel by die plaaslike boekwinkel dop.  Verder kan jy altyd ‘n boek by jou plaaslike biblioteek teen ‘n minimale bedrag reserveer.

Ek verkies natuurlik om die middelman totaal uit te skakel en ‘n hoër bedrag vir ‘n gedrukte getekende kopie te betaal wat spesiaal aan my gerig is. Maar alleen as die boek homself bewys het. Gewoonlik het die skrywers ‘n paar ekstra kopieë oor wat hul gewoonlik vir geskenke kan gebruik as ‘n tuil blomme of bottel wyn nie vir die geleentheid sal deug nie (dis nou letterlik “iets van jouself gee”), en die Suid-Afrikaanse skrywerskring is maar bra klein. Die waarde van die boek sal aanhou styg en Afrikaans op die koop toe meer (ekonomiese) gewig gee. In ons onvaste digitale wêreld sal die argeoloë en boekhandelaars van die toekoms my beslis eendag dankbaar wees.

11. Suid-Afrikaanse Engels en ander inheemse tale is reeds deurspek van Afrikaans

Tensy jy in Londen bly, kan jy maar ophou Brits probeer praat. Jy sal dit nooit in der ewigheid regkry nie. ‘n Redelik lywige A dictionary of South African English (1978, 1980, 1987, 1991-1993) deur Jean Branford het lankal verskyn.  En jy sal verstom staan hoeveel Afrikaanse woorde daarin vervat is. Say again? The other side of South African English (2016) het ondertussen ook verskyn. Die medewerker,   dr. Malcolm Venter, skryf hierdie Afrikaanse teenwoordigheid egter toe aan Apartheid,

which kept whites apart from people of colour, thus minimising the opportunities for linguistic influence. With greater integration in schools and in society it is highly probable that the African languages will influence SAE to a far greater extent.

Aikôna. Ek glo dit vir geen oomblik nie. Dit is absoluut loutere twak. Om twee redes.

Nommer 1. Die taalverandering sou ‘n eeu tevore al plaasgevind het. En dit het nie. Waarom?

Branford se koerantberigte en boeke waaruit sy aanhaal dateer alte dikwels uit die 19de eeu tot 1970’s (die kopie wat ek het). Hou in gedagte: op 16 Augustus 1800 het die eerste eksemplaar van die Kaapsche Stads Courant en Afrikaansche Berigter / The Cape Town Gazette and African Advertiser immers verskyn, die begin van die Suid-Afrikaanse pers (‘n Wyse van spreke, Wessel de Kock, 1983, bl. 22).

En reeds in Proeve van Kaapsch Taaleigen in Changuion se oorbekende werk, Nederduitsche taal in Zuid-Afrika hersteld (1844), vind ons Anglisismes, wat duidelik vanaf 1806 of vroeër al in Kaaps-Hollands begin posvat het. Wil jy werklik vir my kom sê die Engelse was onomwonde vreeslik taalpuristies as hul deur die Afrikaans/Hollandssprekende platteland gereis het? Lank voor Apartheid?! En Afrikaners wat stad toe gegaan het om handel te dryf? Ek kan my nie indink dat Afrikaners, wat teen 1930 nie eens almal tweetalig was nie, absoluut geen, maar géén letsel gelaat het op die ‘suiwer Engels’ wat immers daarvoor berug is om elke leenwoord tot sy beskikking op te raap nie. Vra maar vir Frans. Vra maar vir Hindi en al sy ander kolonialiseerde tale. Sou hierdie Boeretaal geen invloed in Kaapstad hê nie?

Toe Branford se boek die eerste maal uitgegee is, was dit al 1978, 30 jaar ná 1948. Nooit gedink Afrikaans het sulke verswelgende taalinvloed op Engels binne so ‘n kort tydjie nie. Dit hou geen steek dat immigrante sedert 1950 toe eers met Afrikaners te doene sou kry nie. My grootouers van vaderskant was ‘rou’ Hollanders (Rotterdammers) wat genaturaliseer is, en tog praat en skryf ek en my pa Afrikaans. Afrikaans is toe lankal reeds gevorm en gestandaardiseer. Die nuwe stratum Suid-Afrikaanse Engels se impak sou ook nie anders gewees het op nuwe immigrante, soos uit Litaue, wat buitendien Engels moes aanleer nie. ‘Rou’ Engelse en hul kinders sou, net soos in Australië, ook met verloop van tyd maar aan die nuwe woordeskat, uitspraak en tradisie gewoond moes raak.

En lees met vrug die Duitse sendeling Hermann Theodor Wangemann se reisbeskrywing, Eine Reise-Jahr in Süd-Afrika, wat vergewe is met Afrikaanse woorde en sinne.  En snaaks genoeg, hierdie Wangemann skryf oor skole en Xhosas in die Kaap vóór 1868 (publikasiejaar). Dan praat ons nog nie eens van die Anglikaanse kerk, die Rooms-Katolieke Kerk, die Engelse sendelingskole waar Xhosas selfs Latyn geleer is nie. En Fort Hare University met Engels as voertaal! Van hoeveel eeue sonder ‘n stroom Xhosa en Zoeloe in die Engelse taal praat ons nou?

Nommer 2. Die taalkontak en die media onderskeidelik.

Hoeveel huishulpe het nie by die mense ingewoon nie? Of is selfs saam met vakansie geneem nie (want iemand moes tog die skottelgoed was?). Veral komend van die verligte Engelse wat mos roem oor hoe hul harte vir die onderdruktes gebloei het, sou ek juis meer Xhosa-woorde in die “Oos-Kaapse Engels” verwag het. Ek hoor dan nou die dag hoe ‘n bejaarde Engelse dame dan met die sakpakkers en kassiere in Xhosa praat, wel stadig, maar die aanhoorders luister aandagtig. Hier, in die Overberg! En my moeder se kollega, van huis uit Engels, het destyds vir Bantoe-administrasie in Kaapstad getolk, ook uit wat vandag die Oos-Kaap is afkomstig, gebore 1950’s (sy het met Xhosa-kindertjies as kind gespeel). In die hartjie van Apartheid!

Ek weet nie van jou nie, maar hoe meer tale mens onder die knie het, des te meer het mens die neiging om jou taal te verweef met daardie uitdrukkings waarvoor geen eweknieë in jou eie taal bestaan nie. Of net nie ritmies lekker op die tong loop nie. Die Duitse of Franse spreekwoord blits sommer ongevraagd uit die niet. Waarom sou Xhosa of Zoeloe ook nie?

Gepraat van: waarom het oudpresidente Mandela, Mbeki, et al. nog nooit voorheen o.a. Xhosaïsmes so taks ingewerk nie? Neem maar die holruggeryde ubuntu, byvoorbeeld. En, aangesien Branford hoofsaaklik haar werk van geskrewe dokumente bedien, wat het Nguni-sprekers gekeer om hul werke, met eksotiese couleur locale, by Simon & Schuster of Oxford University Press of trouens enige uitgewery in Engels uit te gee? Huh? Niks nie – daar was immers ‘n baie doeltreffende poskantoordiens. En wat van The Sowetan (sedert 1981), Drum (sedert 1951), The Star (sedert 1887!) asook ander Engelse streekskoerante? Briewe is tog geplaas van mense wat alle variëteite van Engels kon praat en skryf? Apartheid kon dit tog seker nie keer nie?

Blaai mens deur tweetalige Noord-Sotho- en Tswanawoordeboeke, spring die Afrikaanse leenwoorde soos vonke uit ‘n kampvuur, veral wat werksimplemente, meublemente, winkels en ‘n paar negosieware ens., betref. As Afrikaners dan nooit met hierdie taalgroepe omgegaan het nie, as gevolg van Apartheid, hoe het hierdie Afrikaanse woorde in hul taal dan beland? En omgekeerd? En hoe is die damme en paaie gebou sonder enige taalkontak? Dit maak mos nie sin nie.

Of het almal dan nou ‘n TV of radio (en dus blootstelling van Afrikaans) gekry? ‘n Luukse vir volkere wat onder Apartheid krepeer het, soos ons altyd goed laat verstaan word? Was al hierdie woorde reeds in die Hollandssprekende Zuid-Afrikaansche Republiek en Oranje-Vrystaat ingeburger, of kom dit heelwat later?

Die WAT het trouens, selfs in die 1950’s en later, nooit begrippe uit die inheemse tale in die Afrikaanse woordeskat ontken nie. Ook nie in sy letterkunde wat op die platteland (en stad – vergelyk Barrie Hough se Droomwa) afspeel nie. Waarom sou hy? Hierdie tale word tot vandag toe nog nooit as bedreigend vir Afrikaans ervaar nie. Inteendeel, die Bantoetale, soos dit destyds bekend was, is op Afrikaanse skole in Transvaal nog lank voor die Soweto-onluste aangebied.

Ek glo wel Afrikaans is, soos vandag, oor ‘n wye plattelandse gebied versprei, wat beteken noue kontak met ander inheemse tale kon nie vermy word nie. Engels was hoofsaaklik tot die stede beperk. Maar weer – taal strek wyd en die pen is magtig. Die stedelinge het geen meer seggenskap as ek nie. Ek, hier op die platteland in die Wes-Kaap, het net soveel impak op Afrikaans as die Akademie gesetel in Pretoria, Gauteng. Hoeveel van ons gevierde skrywers was inderdaad boere, soos Etienne le Roux? Ook hulle het vorm aan die taal gegee. Waarom was dit dan in Suid-Afrikaanse Engels nie ook so nie?

12. Afrikaans is ‘n aanvullende smaak en vrye keuse

Die persoon wat gesê het “‘n biblioteek van vertalings is soos ‘n kunsgalery van afdrukke” het nog nooit oorklankings in sy lewe gehoor nie. Of sy ore sit op die verkeerde plek.

Ek kyk gereeld tekenprente in ander tale as Engels. Hoewel Antoine de Rivarol in sy De l’Universalité de la langue française gesê het die Franse taal is nie eintlik geskik vir musiek nie, weet ons in 1784 het hy hoegenaamd nie van beter geweet nie. Kabaretstukke wat in Engels geskryf is, klink net beter in Frans. Dis asof Frans gemaak is vir die kleinkuns, of eerder, die kleinkuns vir die Frans. Maar Frans klink met die regte bewoording en sanger veerlig en soepel, met huppel en swaaie, waar Engels gewoon net plat of swaar klink. Die refrein van ‘n onbekende Franse lied soos ‘Allez ciao!’ stuur my saam met die lirieke en Boeing hoog die wolke in.

So luister ek die Italiaanse weergawe van Paw Patrol se ‘Pups Save a Mer-pup’ (I cuccioli salvano una cansirena). Die sanggedeelte van die Duitse, Spaanse, die oorspronklike Engelse, Franse en Nederlandse weergawes laat maar veel te wense oor. En hier deur my oorfone duik ‘n Italiaanse diva in my geestesoog op met spierwit GoGo-stewels en sing in ‘n verruklike 1970’s-pop wat perfek by elke toneelskoot pas. En dit pas by Italiaans; nie daardie kattekraam wat hulle ‘Italiaanse kletsrym’ noem nie. So jammer die Italianers het hul goeie sin vir smaak verloor. Hul Europop het teen die vroeë 2000’s die ganse wêreld verower (nou wel met Engelse lirieke). Ek dink aan Eiffel 65, DJ Quicksilver, Gigi D’Agostino, Mabel… Hoe het hierdie arme volk dan so ontaard binne net 20 jaar?

Kortom: sekere musiek en sekere liedjies pas net beter by sekere tale en stemme, maar elkeen het sy eie smaak. So bevind Lüdemann (hy noem homself ‘n ‘buitestaander’) hoe Duits en Sesotho, isiZulu en isiXhosa van die beste koormusiek oplewer (hy kon beslis Swahili ook bygevoeg het), maar dat Afrikaans sy koortradisie, anders as sy poësie en popmusiek, verwaarloos en ongelukkig nog nie lewenskragtig vanuit eie bodem ontwikkel het nie, maar eerder verwerkte stukke uit Europa of volksliedjies bly. Volgens hom stem die Afrikaanse kenmerke redelik ooreen met Duits, en kan die taal, soos Duits uit die Middeleeue hom van die tradisionele Latyn losgewikkel het, ‘n skoenlapper word. Ek moet erken, Adeste Fideles klink dooierig teenoor Herbei, o, ihr Gläub’gen. Oordeel self.

Ek dink Lüdemann hy het ‘n redelike punt beet – en die potensiaal moet nog ontdek word. Dan weer – hoeveel geld steek daar in koormusiek? En hoe beïnvloed geld die ontwikkeling? Ope vraag.

Afrikaans het ook ‘n smaak/styl van sy eie. Dit verskil ook nie by vertalings nie. Kom ons kyk gou na Gustave Flaubert se Madame Bovary (1857):

La lune, toute ronde et couleur de pourpre, se levait à ras de terre, au fond de la prairie. Elle montait vite entre les branches des peupliers, qui la cachaient de place en place, comme un rideau noir, troué. Puis elle parut, éclatante de blancheur, dans le ciel vide qu’elle éclairait ; et alors, se ralentissant, elle laissa tomber sur la rivière une grande tache, qui faisait une infinité d’étoiles ; et cette lueur d’argent semblait s’y tordre jusqu’au fond, à la manière d’un serpent sans tête couvert d’écailles lumineuses. Cela ressemblait aussi à quelque monstrueux candélabre, d’où ruisselaient, tout du long, des gouttes de diamant en fusion. La nuit douce s’étalait autour d’eux ; des nappes d’ombre emplissaient les feuillages.

Emma, les yeux à demi clos, aspirait avec de grands soupirs le vent frais qui soufflait. Ils ne se parlaient pas, trop perdus qu’ils étaient dans l’envahissement de leur rêverie. La tendresse des anciens jours leur revenait au cœur, abondante et silencieuse comme la rivière qui coulait, avec autant de mollesse qu’en apportait le parfum des seringas, et projetait dans leur souvenir des ombres plus démesurées et plus mélancoliques que celles des saules immobiles qui s’allongeaient sur l’herbe. Souvent quelque bête nocturne, hérisson ou belette, se mettant en chasse, dérangeait les feuilles, ou bien on entendait par moments une pêche mûre qui tombait toute seule de l’espalier.

Nou volg die Hollander, C.J. Kelk, se vertaling (bl. 194 uit Die vertaling as kuns):

De zuiver ronde, purperkleurige maan rees aan de grens der weide nauwelijks boven de horizon uit. Zij steeg vlug tussen de takken der populieren door, waarachter zij zo nu en dan als achter een zwart, doorzeefd gordijn schuilging. Totdat zij in een verblindende blankheid in de ledige hemel verscheen, die zij met licht overgoot; en daar hield zij in, en wierp over de rivier een grote lichtplek, wemelend van duizenden sterren, en dit silveren licht scheen daar tot op de bodem toe als een slang zonder kop te kronkelen, bedekt met lichtende schubben. Ook geleek het op een soort monsterlijke kandelaar, waarvan over de gehele lengte druppen vloeibaar diamant afgutsen. De zoele nacht breidde zich over hen uit; het gebladerte ging schuil in dikke schaduwlagen.

Emma ademde met half gesloten ogen in gulzige teugen de frisse wind in, die op haar aan blies. Zij spraken niet met elkaar, daartoe waren zij te diep in beslag genomen door hun mijmering. Oude tederheden hadden hun hart weer in bezit genomen, verstommend en overstelpend als de rivier, die met evenveel zoetheid voortstroomde als de geur der seringen, die hun werd toegevoerd; ze vervulden hun herinnering met schaduwen, matelozer en droefgeestiger dan die der onbeweeglijke wilgen, die zich in een rechte lijn over het gras uitstrekten. Van tijd tot tijd bracht een nachtdier, een wezel of een egel, dat op de jacht ging, de bladeren in beroering of men hoorden bijwijlen een rijpe perzik zo maar van de leiboom op de grond ploffen.

En dr. F.P. van der Merwe se eie poging [‘Of my vertaling die beste is, is nie ter sprake nie, wat wel ter sprake is, is of dit korrekte Afrikaans is en ‘n korrekte weergawe’] op bl. 195:

Die maan doem groot en rond en purperrooi aan die anderkant van die weiveld op, gelyk met die aarde. Hy styg vinnig tussen die populiertakke wat hom plek-plek verberg, soos ‘n swart gordyn vol gate. Dan verskyn hy verblindend wit in die wolkelose hemel wat hy verlig. Hy styg nou stadiger en op die rivier gooi hy ‘n groot helder kol, waarin ‘n oneindige gewemel van sterretjies skitter. Dit lyk asof die silwerglans tot in die dieptes afkronkel soos ‘n koplose slang wat met liggewende skubbe bedek is. Dit lyk ook soos ‘n monsteragtige kandelaar, langs die hele lengte waarvan diamantdruppels saamvloei. Die heerlike nag rus oneindig om hulle en skadukolle vul die blare.

Emma maak haar oë halftoe en asem die vars windjie wat waai met diep teue in. Hulle praat nie met mekaar nie, want hulle is te diep versonke in hul mymeringe. Die teerheid van die eerste dae kom terug in hul harte, oorvloedig en stil soos die rivier wat daar vloei, met die sagtheid van die geur van jasmyn en skiet in hul herinneringe skaduwees uit onmeetliker en weemoediger as dié van die onbeweeglike wilgers wat lank uitgerek oor die gras lê. Dikwels roer een of ander nagdier, soos ‘n ystervark of ‘n wesel wat op die jag uitgaan, in die blare of so nie hoor hulle af en toe ‘n enkele ryp perske van die latwerk afval.

En die Duitse vertaling (uit Project Gutenberg):

Der Vollmond ging purpurrot auf, drüben über der Linie des flachen Horizonts, wie mitten in den Wiesen. Rasch stieg er hoch, und schon stand er hinter den Pappeln und schimmerte durch ihre Zweige, versteckt wie hinter einem löchrigen, schwarzen Vorhang. Und bald erschien er glänzend-weiß im klaren Raume des weiten Himmels. Er ward immer silberner, und nun rieselte seine Lichtflut auch unten im Bache über den Wellen in zahllosen funkelnden Sternen, wie ein Strom geschmolzener Diamanten. Ringsum leuchtete die laue lichte Sommernacht. Nur in den Wipfeln hingen dunkle Schatten.

Mit halbgeschlossenen Augen atmete Emma in tiefen Zügen den kühlen Nachtwind ein. Sie sprachen beide nicht, ganz versunken und verloren in ihre Gedanken. Die Zärtlichkeit vergangener Tage ergriff von neuem ihre Herzen, unerschöpflich und schweigsam wie der dahinfließende Bach, lind und leise wie der Fliederduft. Die Erinnerung an das Einst war von Schatten durchwirkt, die verschwommener und wehmütiger waren als die der unbeweglichen Weiden, deren Umrisse aus den Gräsern wuchsen. Zuweilen raschelte auf seiner nächtlichen Jagd ein Tier durchs Gesträuch, ein Igel oder ein Wiesel, oder man hörte, wie ein reifer Pfirsich von selber zur Erde fiel.

Gustave Flaubert, omstreeks 1860

Tussen dié twee gebroeders hierbo sien Afrikaans effe minimalisties daaruit – en ek hou daarvan so. Ek hou van die Nederlandse gekunstelde bewoording, en die spanning in die Duits wat opbou.

Dit gaan nie hier oor wie se vertaling uit Frans die beste is nie. Ek wil hê die leser moet aanvaar dat daarbuite ander style en smake, sinsbou en woordkeuses is om van te kies en mekaar aanvul. En elke mens gaan die tale verskillend ervaar.

Op een van my Paw Patrol-DVD’s staan duidelik op die afleweringslys in Nederlands onder twee episodes geskrywe “(Beschikbaar in alle talen behalve Frans)”, wat vir jou sê daar word in Europa darem nog die moeite gedoen sodat iedereen wat Engels (Amerikaans en Brits afsonderlik), Frans, Duits, Spaans, Italiaans of Nederlands wil hoor, die keuse mag uitoefen.

In Frankryk het jy die keuse of jy jou longe in Nederlands wil uitpraat – ‘n Franse tolk sal voorsien word. Vra vir professor Lotte Jensen en madame Marianne de Susbielle.

‘n Franse dame, ‘n Fries en ‘n Hollander kom in Parys byeen. Die Franse jonge dame ken nie Engels en Hollands nie, die Fries ken nie Frans nie, die Hollander praat Frans, Engels en Duits (en het ‘n kernwoordeskat van Russies en is goed onderleg in die Latyn en Oudgrieks). Oplossing: hulle praat al drie Duits met mekaar. Dis ‘n keuse.

Op my bordjie eetgoed is daar ‘n worsrolletjie, ‘n frikkadelletjie, ‘n bloubessie-muffintjie, ‘n pampoenpoffertjie, ‘n Hertzoggie, ‘n pasteitjie en ‘n stingeltjie pietersielie eenkant. So ervaar ek tale ook: soos ‘n vingerete, lig en altyd byderhand. Hoe meer daar is om van te kies, hoe aangenamer.

Wie dan, sal die mens die groot onreg aandoen om hom van hierdie keuses te ontsê, te beroof?

En van Afrikaans dan?

13. Afrikaans is ‘n ware brugbouer van tale

Ek kan werklik nie insien hoe op aarde Afrikaans ‘n bedreiging vir ander tale kan inhou nie. Ook, omdat hy dieselfde lot deel met Katalaans en vele ander tale daarbuite, bevind jy jou in goeie geselskap. As ‘n Katalaan sien jy vertaal sy artikels in Afrikaans, sien hy dit as ‘n liefdesgebaar – want geen ander taal buite Spanje doen eintlik veel om die Katalaanse kultuur buite sy grense te bevorder nie.

Ek kom elke dag ander mense op die internet teë en mens wonder dan alte graag: “Magtig, hoe sê mens in Spaans: ‘Man, jou werk is skitterend!’?”. Of jy sien ‘n Italianer in die kommentaarbalk skerts (en emoji’s blerts) met ‘n taalgenoot en jy wonder waaroor hulle so lekker saamlag. Of een Russiese opmerking op YouTube kry drieduisend opduimpies, en jy wonder verstom waarom.

‘n Lingua franca / verkeerstaal kan dit nie doen nie. Jy sal nooit werklik die agtergrond, die denke, die vrese, die humor, die manier van dink verstaan nie. Die volke ken hulself ook nie so goed om hul eie deugde en tekortkominge raak te sien nie. So iets kan ook nie in ‘n onderhoud opgesom word nie. Daar sal altyd ‘n afstand of ‘n stuk glas bly tussen jou en die ander persoon. Jy sal altyd die buitestaander bly. En dit is kosbare kodes en data wat sienderoë verlore gaan.

Met die uitsondering van Nieugrieks wat na Afrikaans uitgereik het (die naam is dr. P.L. Nicolaides), en Nederlands en Duits wat Afrikaans tegemoetkom, was dit in die meeste gevalle die Afrikaner self wat ander tale en kulture gaan besoek en so die eerste woordeboeke begin saamstel het.

Ek het ‘n formule self uitgewerk, x²-x, wat mens min of meer ‘n idee gee hoeveel woordeboeke nodig is sodat elke taal sy regmatige plek onder die son kan kry. 2 tale beteken 2 woordeboeke (Afrikaans-Duits; Duits-Afrikaans), 3 tale beteken 6 woordeboeke (Afrikaans-Duits; Afrikaans-Roemeens; Duits-Roemeens; Duits-Afrikaans; Roemeens-Afrikaans; Roemeens-Duits ) en so voorts. Nou, die EU het, sonder Russies, 24 amptelike tale, wat natuurlik 552 verskillende woordeboeke beteken.

Gestel daar is 6 500 tale daarbuite, dan praat ons van ‘n beoogde 42 243 500 tweetalige woordeboeke altesaam wêreldwyd in omloop. Vir Afrikaans (2 woordeboeke per taal) alleen sal ons dus betrokke moet raak by 12 998 woordeboeke.

Dink jou net die geleenthede in wat op ons wag! Natuurlik kry jy drietalige of meertalige woordeboeke, maar persoonlik dink ek nie duld sulke woordeboeke (in gedrukte formaat) ‘n omvangryke verskeidenheid uitdrukkings nie. En daardie uitdrukkings strek nogal wyd en almal kan meedoen.

Hierdie reistog bied ook die potensiaal vir selfontdekking. So moes ek mooi Afrikaans soek vir Latein ohne Mühe en Le latin sans peine. Dit is twee Assimil-pakkette wat Latyn soos ‘n lewende taal aanbied. Ek het lank gewonder… nee, moeiteloos pas nie. ‘Maklik’, ‘sonder slag of stoot’, ‘sonder probleme’ het my hoogs ontevrede laat besluit om by “Latyn sonder die moeite” te volstaan. Maande het verbygegaan totdat die frase “sonder sukkel” sommer uit die bloute by my opkom. “Latyn sonder sukkel” is nou sommer twee vlieë in twee tale met een klap. Natuurliker kan dit nie klink nie en buitelanders kan dit met vreugde gebruik. Ek sal dit miskien hoogstens as die standaard kan ophemel, maar ander kan gerus daarop verbeter, veral in die formele skryftrant. (En juis daarom hou ek nie van name deur die media bedink soos die hoogs oordrewe “Die goue seun” vir Uys Krige nie, want dit sê vir my niemand sal sy standaard ooit kan ewenaar of oortref nie, en nou kan alles maar bergaf. Nee, Krige het die standaard gestel, maar daar sal altyd iemand wees wat hom oortref).

So lees ek cum grano salis in Volksverraad “Die tyd sou ook leer dat die KP (net soos die AWB) ‘n rytuig sou word om die volkstaat-idee te bevorder” en “Onwetend van die agendas van Tienie Groenewald se Kom. Ops., het Boshoff as’t ware ‘n rytuig vir die Verligte Aksie-beweging geword.”

Ek weet nie, die WAT aanvaar ‘rytuig’, maar vir my is dit ‘n lompe vertaling vir vehicle. Ek dink aan middel, agent, medium, instrument, werktuig, en binne die konteks is die beste woord seker: Judasbok!

In die WAT kom ek ook af op die uitdrukking ‘’n Draad breek waar hy die swakste is’ en dan wonder ek hoekom hy nie in my tweetalige woordeboeke opgeneem is langs ‘A chain is only as strong as its weakest link’ nie.

Ek dink ons begin nou eers Afrikaans saam met die ander tale ontdek.

14. Afrikaans bied van die beste skole in Suid-Afrika

Ek hoef niks te sê nie – lees maar dr. Roodt se artikel “Stuur gerus jou kind na ‘n Engelse skool (nie)

15. Afrikaans het ‘n geskiedenis

Ek het net eenmaal ‘n koerant vir myself gekoop (op 23 Januarie 2008, Die Burger was R4,50), en toe nooit weer nie. Maar wanneer ‘n susterskind en hondjie die wêreld loop staan en bemors met water, kort jy koerantpapier en dis wat ek toe gaan soek in die motorhuis van my ouers. ‘n Foto van ‘n gapende visskelet in ‘n dolleë dam laat my op die plek stilstaan: is dit miskien die Aralmeer, die Kommuniste se grootste onverskoonbare ekologiese ramp op aarde denkbaar? Toe nie, dis die Ncqweba-dam, voorheen Van Ryneveldpasdam, Graaff-Reinet, Oos-Kaap. Die artikel is geskryf deur Elsabé Pienaar, gedateer 11 Januarie 2020 in Die Burger (bl. 6 tot 7 van die By).  Op ‘n baie klein stukkie in die koerant staan toe die volgende verdoemende teks:

Tydens die 1955-droogte het kommer ontstaan dat die hoë soutinhoud en warm watertemperatuur die oorblywende vis in die dam sou laat sterf. ‘n Grootskaalse net-operasie is op 21 Januarie 1956 van stapel gestuur en skares inwoners het van douvoordag af opgedaag om die pasella vangs van sowat 35 000 visse huis toe te dra. […]

In 2018 en 2019, toe die dam leeggeloop het, is daar, helaas, nie veel gedoen toe die geskiedenis homself herhaal het nie. Derduisende verrottende visse het inwoners wind-af van die dam se lewe vir volgende paar maande ontsier.

En eers in Oktober/November 2019 is die vrot vis toe verwyder; mosterd na die maal. Dit gaan egter nie vir my soseer oor die gebrek aan gesonde verstand om die water langer drinkbaar te hou nie (eintlik wel, want hoe kon die mense uit die jaar kruikie die moeilikheid self logies voorsien het, maar nou selfs nie eens die oudste burgers of alwetende tieners van die dorp nie?). Dit gaan vir my daaroor: ek laat my nie vertel dat géén enkele siel wat in 1956 selfs 20 jaar oud was hierdie gebeurtenis in 2018 nie vroegtydig (!) kon onthou en die jonges vanuit sy rolstoel kon aangesê het om iets aan die saak te doen nie. Iemand sou gehoor gee. Die 82-jariges wat ek ken is almal nog vlug van verstand, al is die liggaam bietjie onwillig. So, hoe dan nou? Ek gaan aanneem dit was die trae owerhede se skuld. Maar sou dit nie die geval wees nie…

Bogenoemde lyk dan op ‘n druppel water na die volgende uittreksel uit Dschungelkind (2011 herdruk; 2005), deur Sabine Kuegler. Die skryfster het as Duitse sendelingsdogter in die 1980’s op ‘n eiland naby Indonesië grootgeword wat vir jare lank gebuk gegaan het onder stamoorloë (met stokke en spiese). Haar vader het spesifiek die Fayu-stam bearbei. Haar boek is tot rolprent verwerk. Sy skryf onder die hoofstukopskrif ‘Rückwärtsgang’ (bl. 284-285):

Man weiß, dass ein Volk vom Aussterben bedroht ist, wenn das Wissen nicht von Generation zu Generation weitergegeben wird. Ich kann es heute noch nicht fassen, dass kein Fayu uns von den weißen Menschen erzählt hat, die in den 40er Jahren zu ihnen gekommen waren; die Erinnerung an jene Holländer war in »unserer « Fayu-Generation offensichtlich bereits verloren gegangen.

Es ist ja nicht so, dass sie keine Zeit gehabt hätten, einander Geschichten zu erzählen. Stundenlang saßen die Männer zusammen, erzählten von der Jagd oder vom Krieg oder sprachen lange Zeit kein Wort. Auf diese Weise geht das besondere Wissen, das ein Mensch sich zeit seines Lebens erarbeitet hat, verloren. Die nächste Generation muss wieder ganz von vorn anfangen. Langsam vergeht auch das Verlangen nach Wissen überhaupt, und alles, was bleibt, ist das Überlebensnotwendige.

[…]

Ich werde hin und wieder darauf angesprochen, ob es denn nicht besser gewesen wäre, wir hätten diese »glücklichen Wilden« in ihrem Paradies in Ruhe gelassen, um sie nicht schlechten Einflüssen auszusetzen.

Ich frage dann zurück, was es denn wohl für ein Paradies sei, in dem die Menschen einander abschlachten, weil sie in selbstzerstöririschen Traditionen gefangen sind? In dem Kinder tagtäglich in Angst und Schrecken leben?

Overgesetsynde:

‘n Mens weet dat ‘n volk op die randjie van uitsterwing staan as kennis nie van geslag tot geslag oorgedra word nie. Dit gaan nou nog my verstande te bowe dat die Fayu ons nie van die blankes vertel het wat in die 1940’s by hulle aangekom het nie. Die herinneringe aan daardie Hollanders was vir “ons” Fayu-geslag duidelik lankal reeds verlore.

Dis nou ook nie asof hulle nié die tyd had om stories te vertel nie. Urelank kon die mans bymekaar sit en jag- of oorlogstaaltjies uitruil, of dan weer vir ‘n lang ruk in stilte saam deurbring. Die besonderse kennis wat ‘n mens deur sy lewe opgedoen het gaan sodoende heeltemal verlore. Die volgende geslag moet dan maar weer heeltemal van voor af begin. Stadig maar seker is ook die dors na kennis net nie meer daar nie, en al wat oorbly is maar net die noodsaaklike ter oorlewing.

[…]

Ek word so dan en wan gevra of dit nie beter sou wees om die “gelukkige barbare” in hul paradys eenvoudig net met rus te laat om hulle van die slegte [Westerse] invloede te weerhou nie.

Dan stel ek die teenvraag: watse soort paradys is dit waar mense mekaar oor en weer uitmoor, terwyl hulle vasgevang sit in hul eie selfvernietigende tradisies? Waar kinders elke dag in vrees en bewing moet lewe?

Waarom wil jy elke keer dieselfde foute maak wat ander kulture (of jou eie) reeds gemaak het? Wat is die sin daarin? Al daardie notules by volksraadvergaderings, al die verslae in die argief… was dit dan om dowe neute?

Dit bring ons nou by die volgende:

“You don’t have to burn books to destroy a culture. Just get people to stop reading them.” ― Ray Bradbury
Ray Bradbury

Ek wil bogenoemde asseblief ‘n breër konteks gee: Nie alleen Afrikaans s’n nie, maar ook die sprekers van ander tale s’n wat nie Afrikaans ken nie.

16. Afrikaans het bloedsweet en onderhandeling gekos

Eers moes die Afrikaner homself oortuig dat Afrikaans sy moedertaal is. Afrikaans sou hoegenaamd nie tot stand gekom het sonder die Engelse nie (lees: Die opvallende raakpunt tussen Afrikaans en Korsikaans), daardie bietjie eer is die Afrikaners die Engelse inderdaad verskuldig. Ons sou steeds vandag Hollands gepraat het.

Ek hoef nie verder te skryf oor die taalstryd in skole in die eerste byna drie eeue nie, want daaroor het dr. D.H. Cilliers (1953) reeds uitvoerig uitgebrei in sy Die stryd van die Afrikaanssprekende in Kaapland om sy eie skool (1652-1939). Ek hoef ook nie tweetaligheid in die staatsdiens tydens Apartheid te behandel nie, want ek het reeds die taalstryder dr. H.J. Terblanche uitvoerig bespreek.

Maar het hul dan onnodig vir die taal baklei as almal net sou boedel oorgee? Wat was dan die sin daarvan?

Pleks daarvan om in ‘n laissez-faire/laat-Gods-water-oor-Godsakker-loop-mentaliteit te verval: waarom is soveel moeite in die eerste plek gedoen, dink jy? En met die vryhede rondom ons wat wel nog oorbly wat ons nog die ruimte laat om te skep – is die eentalige weg inslaan dan nou die dank wat ons voorgangers daarvoor moet kry? Ook diegene uit ander tale, soos Peter Blum, G.P.J. Trümpelmann en E. Elbe, A.C. Bouman, Olga Kirsch, die Gonins, die Hobson-broers, Topsy Smith (wat Engels grootgeword het), Claus Nordbruch, Jerzy Koch, Jochem van Bruggen, Rabbyn Moses Romm en andere wat hul die moeite getroos het om iets vir Afrikaans te doen? As ons nie dank aan ons voorgangers van die volk verskuldig is nie, ten minste dan aan ons gaste.

17. Afrikaanse grammatika is hondmaklik

Soos die wyse C.J. Langenhoven self skryf in sy A First Guide to Afrikaans (1926), ‘n werkie wat hy geskryf het “to express my very deep and sincere acknowledgment of the honour you did to my people, the service you rendered to your own, and the foundation of future greater goodwill and understanding you helped to lay for both, by your cordial and unanimous support of the amendment to our Constitution which made Afrikaans an official language of the Union” (p. 30):

The French language you could learn in a month if it weren’t for the verbs. In English the forms are very much fewer and simpler. In Afrikaans they are fewer and simpler still.

En, hoe beskeie van hom wat absoluut versot was op Latyn:

If you follow its guidance with moderate intelligence and reasonable diligence you will know more Afrikaans in six weeks’ time than I knew Latin after six years […]

Hy skryf ook in sy boek, Loeloeraai:

En daarop het sy met Loeloeraai se taalonderrig voortgegaan. Dit was ‘n goeie ding, dog ek, dat dit so getref het dat hy sy eerste aanraking met die aarde in Suid-Afrika gevind het. Sê nou hy was in Holland of Duitsland of Sjina te lande gekom, hoe sou hy ooit oor die onmoontlikhede van daardie ongerymde en onleerbare tale gekom het om te kan verstaan en hom verstaanbaar te maak? In Engeland sou dit nog op ‘n manier kon gegaan het sovér as die taal betref, maar natuurlik daar is die mense weer onmoontlik.

Ek verwonder my dus waarom Afrikaans nog nie ‘n stormloop beleef het nie.

Die ironie van hierdie punt is juis dat iets wat te maklik is, skynbaar as iets minderwaardig die minste aftrek kry. Ek dink daar moet ‘n naam vir hierdie soort paradoks wees, want toe ek Aardrykskunde op skool gehad het, het van die SkeiNat-leerlinge die vak té maklik gevind (die teorie) en op neergesien, en die Huishoudkundeklasleerlinge dit weer té moeilik (die kaartwerk). Op die ou end was daar uit ‘n matriekklas van oor die 100 slegs 7 wat die vak geneem het. Kan jy dit nou oorvertel?

Maar hierdie tendens vind jy reeds in dr. H.J. Terblanche se outobiografie in ‘n artikel uit Die Hoofstad van 12 April 1972 (p. 207):

‘n Tipiese voorbeeld van die houding van die meeste immigrante is die geleerde Engelse vriend wat ek ken. Hoewel hy reeds meer as 40 jaar in die land is, sê hy dat hy Afrikaans nie kan bemeester nie. Toe hy ‘n aantal jare gelede oorsee was in verband met navorsing kon hy egter Spaans in ‘n paar maande onder die knie kry. Feit is dat hy, soos duisende immigrante, Afrikaans nie wil praat nie.

So ‘n paar jaar terug, ek wil nou nie lieg nie, hoor ek op RSG se Praat Saam ‘n afgevaardigde wat Wes-Afrika gereeld besoek. Die naam het my nou ontgaan. Nee, haar Afrikaans is nie so goed nie (‘n duidelike Kaapse tongval, bat sies wêrrie iengliesj), so die gesprek duur maar rustig in Engels voort. En skaars ‘n halfuur later sê sy nee, die meeste gesprekke daarbo in Afrika geskied nog in Engels, maar sy is darem nou besig om Frans te leer.

Ek dag: ‘Vrou, as jy nie eens Afrikaans jou lewe lank kon baasraak nie, hoe wil jy nog die Frans aandurf’? In elke tweedehandse boekwinkel waar ek kom sien ek hordes Franse grammatikaboeke en woordeboeke onder die stof. Wat sê dit vir my? Met wapperende vaandels word Frans soos ‘n Nuwejaarsvoorneme aangepak, maar stil-stil druipstert so weer laat vaar. Want wie gooi woordeboeke weg? G’n mens is so volleerd nie!

Dan begin ek werklik ook wonder of die aanleer van Frans regtig sulke suiwer bedoelinge gehad het. Was dit oor die oppervlakkige ‘aansien’ wat aan Frans as die taal van die (korrupte) elite (dis nou die puntjie van die stronthoop) in Afrika kleef (en dat jy darem nog ‘in tel’ is), of wonder jy al lank wat in Molière, Diderot, Voltaire, Rousseau en andere se geskrifte staan? Of is die aanleer van Frans bloot ‘n modegier omrede die koningin van Engeland dit kan praat, en daarom die Engelse elite daarmee probeer byhou, en ook jý, die alewige naprater?

Dit is vir my juis lagwekkend hoe Afrikaanse satelliettelevisie nou baie kookprogramme in Frankryk uitsaai en ‘n paar briefies uit Provence per poskaart stuur, terwyl die Sestigers klipharde bene aan die Franse filosofie gekou het en vertalings by die honderde gedoen het om Afrikaans te bevorder. Jy kan hoegenaamd nie die twee mos vergelyk nie!

Of, soos dr. Roodt my eenmaal geantwoord het oor die klaarblyklike belangstelling in Frans hier te lande:

Ek vermoed dat die ontdekking van Parys deur Amerikaanse skrywers soos Hemingway of Norman Mailer heelwat hiermee te make gehad het. Dit was met ander woorde ‘n mode in die Engelse of Angel-Saksiese wêreld […]

Weer moet ek nou Latyn hierby insleep, as die liewe leser my dit sal vergewe: in Duitsland word mos gesê Latyn ondermyn die EU-ideaal om drietaligheid te bevorder (moedertaal + twee lewende tale). Die teenantwoord is juis dat die meeste Latynleerlinge in elk geval meer tale op skool kies as hul portuurgroep.

Waarom dus nie twee tale gelyk aanpak nie, as jy dan nou jou wil uitgee vir ‘n erudiet, iemand ‘in tel’? Waarom nie Afrikaans én Frans nie?

Dan weet jy steeds meer as die afgevaardigde. En sal boonop gouer vordering maak met die een. Jy weet goed watter een.

18. Afrikaans bied ‘n paar woordeboeke kosteloos op die internet

Dis reg, ja. Besoek https://viva-afrikaans.org/ . registreer en gaan jou gang. En as jy daar klaar is, hope ou handboeke wag op jou by Noordwes-Universiteit se Afrikaans Linguistic Books.

19. Afrikaans is vir eksotiese taalinvloede te vinde

Ek het reeds genoem van die Afrikatale waarvan die woorde ook al jare in die WAT vervat is.

Omrede Afrikaans ‘n jong taal is wat nog ruim taalleemtes met ander tale uit ander wêrelddele voel [en hulle met ons], hang dit van sy gebruikers af wat hulle met hom wil maak in die nuwe kleinerwordende wêreld.

Hulle kan hom so puristies maak soos Yslands (en die Hollands beoog deur Bond tegen Leenwoorden, wat egter geen probleem het om woorde by Afrikaans met omsigtigheid te leen nie).

Die sprekers kan egter, net soos die Hollanders, duisende Franse, Duitse, Engelse, Javaanse en Joodse leenwoorde na hartelus invoer [en die oorspronklike uitspraak in die proses deels uit onkunde, deels uit leedvermaak verkrag].

Of, soos die taalrade van Frans en Duits, die slagboom vir twintig jaar ‘n bietjie laat sak en eers kyk of nuutskeppings nie dalk wil werk nie. ‘Le boerewors’ word met grasie by ‘n dinee toegestaan.

In die Afrikaanse Standaardtaal probeer jy waar moontlik ‘n oormaat en oordaad Anglisismes vermy, maar niks keer jou om Franse, Duitse, Spaanse, Italiaanse, Russiese, Nederlandse, Tsjeggiese, Deense, Sweedse, Ierse, of selfs Japannese, Chinese of Koreaanse uitdrukkings in te voer nie.

Afrikaans ken byvoorbeeld “met die eerste lig” (teen dagbreek), wat so reg uit die Latyn kom, “prima luce”. Dit hinder niemand nie en is trouens deur Latynliewende Langenhoven self gebruik.

In Changuion se werk word “Schalten en Walten” nog gebruik, natuurlik uit Duits wat “handel na goeddunke” beteken. Dit het in onbruik geraak, maar ‘stewels’ en  ‘gans en gaar’ het behoue gebly. In die WAT is hoeveel Franse en Italiaanse leenwoorde opgeneem wat net nooit gebruik word nie.

Ek het reeds al die geleenthede en probleme van die herlewing van vergeetwoorde behandel.

20. Afrikaans help jou om ander tale te leer

Anne Baker het ‘n baie interessante bevinding gemaak:

Die groep wat heel goed behoort te vaar met die aanleer van Duits is diegene met Afrikaans (L1 – Moedertaal) – Engels (L2 – Tweedetaal) – Duits (L3 – Derdetaal ), juis omdat Duits veel nader aan Afrikaans is wat sinsbou en woordeskat betref en die sprekers inderdaad die minste probleme het met die bepaalde lidwoorde (die, der, das). Die Afrikaanse groep maak wel taalfoute deur sy Afrikanerismes en ingeburgerde Anglisismes. En die ‘um zu’ (om te)-sinsbou deur hiperkorreksie te vermy.

Die laasgenoemde probleem by Afrikaans kan maklik oorkom word.

Die Afrikaanssprekendes is gewoond aan die volgende:

Er ist nach Deutschland gefahren, um dort Deutsch zu lernen.

Hy het na Duitsland gery om daar Duits te leer.

Nou kry jy Afrikaanssprekendes wat “um” vermy, omrede jy sinne kry soos:

(af) Ek hoop om u weer te sien.

(de) Ich hoffe, Sie wieder zu sehen.

(en) I hope to see you again.

Duidelik is die “om” by Duits en Engels afwesig, en hierdie onreëlmatigheid verwar die Afrikaanssprekende nou ‘n bietjie. Maar die rede in Duits hiervoor is eenvoudig: daar is géén voorafgaande geskiedenis in die sin nie.

Vergelyk dit nou met:

(de) Ich bin nach Deutschland gefahren, um Sie wieder zu sehen.

(af) Ek het na Duitsland gery om u weer te sien.

(de) Ich bin hier, um Sie zu töten.

(af) Ek is hier om u te vermoor.

Hier het jy nou ‘n geskiedenis in die sin wat daaragter steek, en daarom gebruik jy um zu.

Probleem opgelos.

Diegene met Engels (L1) – Afrikaans (L2) – Duits (L3), put wel voordeel uit hul Germaanse taal, maar sukkel weer met die sinsbou. Dit blyk ook dat die Engelssprekendes selde of geensins van hul Afrikaanse kennis gebruik maak nie, moontlik weens die hoë dunk en prestige van hul eie taal, reken Baker. Hulle ervaar wel nie die hiperkorreksie soos die Afrikaanssprekendes met die “um zu”-vermyding hierbo nie.

Probleme ontstaan ook onder diegene met Zoeloe (L1) – Engels (L2) – Afrikaans (L3) – Duits (L4). Al het die Zoeloesprekendes dikwels Afrikaans geleer, gebruik hulle steeds Engels as kruk. By party skole mag hul net drie vakke neem en dus moet Afrikaans gelos word. Soos Baker duidelik stel: hier tel die stigmatisering van Afrikaans hoegenaamd nie. Die Engelse kruk word veral weerspieël in die sinsbou wat ‘n duidelike Engelse patroon handhaaf (Engels is dikwels die hoërskoolonderrigstaal van die Zoeloesprekendes, en Zoeloe die tweede taalvak, en Duits die derde). En benewens die Engelse patroon, word verkeerde Duitse woorde gekies wat woord vir woord uit die tweetalige woordeboek nageslaan is.

Byvoorbeeld:

(…) Der Vater mangel zu gefangen die hunde.*

(en) The father needs to catch the dog.

(de) Der Vater muss den Hund fangen.

Of

(…) Mein Vater ist arbeitet*

(en) My father is working

(de) Mein Vater arbeitet

Het meer mense maar hul Afrikaans gebruik, kon dit die taalaanleer soveel vinniger en sonder probleme bespoedig het.

Tot slot

Afrikaans het vir my geleer daar is altyd ‘n ander kant van die saak, en om teen oorvereenvoudiging te waak. Afrikaans het my geleer die waarheid is iewers daarbuite. Afrikaans het my geleer hoe groot die wêreld buitekant die dorpsgrense is. Afrikaans dien as kruk, skakel en aanvulling vir ander tale. Afrikaans kan woeker en belê met geld. Afrikaans het ‘n geskiedenis aan die suidpunt, in Europa, in Argentinië, Kanada, Australië en elders. Afrikaans is nog jonk en buigsaam. Afrikaans is eenvoudig. Afrikaans wéét wanneer hy ‘n doodloopstraat-onderwerp bereik het.

Afrikaans kan nog droom van ideale. Afrikaans is gereed vir die wêreld.

Ex Africa semper aliquid novi.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.