Leon Lemmer: Flip Buys se ‘Die pad na selfbestuur’

Flip Buys
Deel op

Cor Ehlers besin oor Afrikaner-selfbeskikking in sy boek, ‘n Heimat vir Afrikaners: Die tiende provinsie (Praag 9.02.2020). Hy wys op die agteruitgang van die land sedert 1994 en bied ‘n padkaart aan vir die voortbestaan van Afrikaners as ‘n Westerse volk. Hy skram weg van die term “volkstaat” of “tuisland” en noem sy voorgestelde gebied vir die territoriale selfbeskikking van Afrikaners eerder die tiende provinsie. Hy poog om ras of kleur en regsheid te vermy. Met die oog op plaaslike en internasionale erkenning moet die kultuur, dus eiesoortige leefwyse, van Afrikaners eerder beklemtoon word. Om Afrikaners teen verswelging te beskerm, moet hulle aangemoedig word om hulle in groter konsentrasies in sy voorgestelde tiende provinsie te vestig. Die meer gekonsentreerde (her)vestiging van Afrikaners is ook die kern van Flip Buys (kyk hier onder) se oorlewingsplan. Ehlers skryf: “Afrikaners is polities ontmagtig omdat grondgebied nêrens in Suid-Afrika só afgebaken is dat hulle die meerderheid in ‘n spesifieke deel van die land vorm waar hulle ten minste tot op provinsiale vlak groepsoutonomie geniet nie” (Kindle 1587).

Ehlers is krities oor AfriForum omdat daardie instansie bv aanvoer “dat Afrikaners nie reg is vir selfbeskikking nie” (518). Nou blyk dit uit ‘n boek geskryf deur die voorsitter van die Solidariteit Beweging dat die term “selfbestuur” (wat ‘n administratiewe konnotasie het) bo “selfbeskikking” (wat ‘n politieke of staatkundige konnotasie het) verkies word; klaarblyklik om taktiese redes, want soos Ehlers dit stel: “Dit is sinloos om selfbeskikking na te streef wat nie uit die staanspoor gemik is op volle onafhanklikheid met internasionale erkenning nie” (3150). In hierdie rubriek bespreek ek vervolgens Flip Buys se boek, Die pad na selfbestuur: Anderkant die mislukking van staatsbestuur (Centurion: Kraal Uitgewers, 2019, 402p, R450). Soos uit die newetitel blyk, is Buys net so krities oor die ANC-regime as Ehlers. Maar Buys weerhou hom daarvan om die oorgangsproses te verdoem. Maar dit is hoe ons in ons huidige haglike situasie beland het.

By Buys is daar ‘n goeie skeut optimisme; dat ons moet aanbeweeg en die beste probeer maak van die gemors waarin ons is; dus om te red wat daar te redde is. Volgens sterrekundiges kan niks uit ‘n swartkolk (“black hole”) ontsnap nie. So ‘n kolk kan vir die plaaslike blankes ‘n realistiese beeld van hulle situasie bied; hoewel hulle darem steeds die onverkwiklike opsie van emigrasie het. Maar ‘n mens moet die moontlikheid van lig in die stikdonker, dus van beter omstandighede vorentoe, probeer voorsien, anders sou dit sinloos wees om met die maak van planne voort te gaan.

Die indruk wat Buys by my wek, is ten minste ‘n mate van onbekeerdheid tot die Afrikanersaak en ‘n oorversigtigheid om die fundamentele boosheid van die ANC te erken. “Mandela het almal verseker dat daar nooit weer verdrukking van een groep deur ‘n ander sou wees nie” (p 96). Dit word genoem sonder om duidelik te sê dat Mandela doelbewus gelieg het. In 1997, tydens Mandela se ANC-leierskap, is bv op die verderflike beleid van rasverteenwoordigendheid besluit (260). Ek dink ook daar kan nie met reg enige twyfel wees dat die “skikking” van 1990/94 mandaatloos uitgevoer is nie; dus dat die blankes, insluitende Afrikaners, uit hulle toekoms verneuk is. Die mandaatloosheid van hierdie gebeure, dus dat die blanke kiesers tydens die 1992-referendum vir magsdeling – en nooit vir magsoorgawe nie – gestem het, word bv deur Hermann Giliomee onderskryf.

Maar wat beweer Buys? “Die grondwetlike skikking … deur die meeste Afrikaners gesien is as die billike verruiling van meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming. Die swart meerderheid sou hul regmatige regte kry sonder dat die Afrikanerminderheid syne sou verloor … Die meeste Afrikaners se destydse aanvaarding van die nuwe bedeling het nie beteken dat afstand gedoen is van die historiese strewe na kulturele vryheid nie. Die nuwe bedeling is bloot as die beste manier gesien om dit te verwesenlik en in die proses ook die uiteenlopende historiese vryheidstrewes van swart en wit te versoen” (344-345).

Dit is ‘n skewe voorstelling van sake. Die 1992-referendumvraag was bloot of met die grondwetlike onderhandelinge voortgegaan kon word. As FW de Klerk eerlik was en direk gevra het of die blanke kiesers tot swart meerderheidsregering instem, sou hy sleg verloor het, soos meningsopnames uit daardie tyd baie duidelik maak. Van die wigte en teenwigte wat De Klerk herhaaldelik belowe het, het (feitlik) niks tereg gekom nie. Dit was reeds in die 1993-Oorgangsgrondwet duidelik en glashelder in die huidige 1996-Grondwet. Rina Venter (Praag 26.10.2019) vertel dat De Klerk se strategie was dat alles wat destyds tydens die onderhandelinge met die ANC verkeerd geloop het, in die Grondwet reggestel sou word.

Buys stel in hierdie opsig die teenoorgestelde standpunt: “Die feit dat die Grondwet ruimte vir selfbeskikking maak, laat die vraag ontstaan of dit ooit deel van ‘n oplossing vir Afrikaners kan wees” (225). Mettertyd het dit geblyk dat nie eens die blankes se eiendomsreg behoorlik verskans is nie. In elk geval: Meerderheidsregering met algemene, gelyke stemreg in ‘n eenheidstaat maak dit vir die swart kiesers moontlik om met hulle getalsoorwig die Grondwet na willekeur te verander. Verder het Thabo Mbeki kort ná die 1994-verkiesing onomwonde verklaar dat die ANC hom nie gebonde voel aan enige ooreenkoms wat met die NP-regering tydens die onderhandelinge aangegaan is nie omdat die ANC toe nie vry was nie. “Die ANC het by die grondwetlike onderhandelinge toegewings gemaak om die mag te kry, en het stelselmatig daardie mag gebruik om hul oorspronklike doelstellings te verwerklik” (99).

Al laat hy na om De Klerk te verdoem, toon Buys soms realistiese insig. “Die meerderheid gaan altyd in die versoeking wees om ‘n presterende minderheid se bates te vat, sy instellings oor te neem, en hulle vir hul eie mislukkings te blameer. Daarom bly dit onverantwoordelik vir ‘n minderheid om vir hul toekoms staat te maak op die verdraagsaamheid van die meerderheid. Geen grondwet, politieke stelsel, hof of selfs militêre mag kan ‘n magtelose minderheid blywend verskans teen die gevolge van die oorheersing van die meerderheidsgroep nie. Die hoogs opgeleide deel van die minderheid gaan bloot begin emigreer na veiliger en gelyker weivelde, wat tot die ondergang van die hele volk kan lei” (79). Dit is dus sinloos om soos De Klerk te redeneer dat nie net by die letter nie, maar ook by die gees van die Grondwet gehou moet word. Die immorele ANC kan nóg met die nakoming van die letter nóg met dié van die gees vertrou word. Die punt is dat De Klerk en sy mede-onbekwame onderhandelaars versuim het om hulle bevredigend van hulle taak te kwyt.

Ná 1994 het dit spoedig duidelik geword dat die nuwe Suid-Afrika ‘n distopie is. “Die ‘wonderwerk-skikking’ van 1994 het in ‘n gewone meerderheidsregering ontwikkel wat dreig om in meerderheidsoorheersing te ontaard” (61-62) – “dreig” of is dit reeds volskaals die geval? “Demokrasie sonder kulturele vryheid [is] … net vryheid vir die demografiese meerderheid … omdat elke deel van minderhede se lewe deur die meerderheid oorheers word. Demokrasie gaan immers oor die vryheid van almal en nie oor regte vir die meerderheid nie” (62). Wat ons beleef, is die “transformasie van die samelewing deur staatsmag … die herskepping van die samelewing volgens rasse-wetgewing … Hierdeur is wit mense in die praktyk tot tweederangse burgers afgradeer” (62). In Buys se boek word gesonde insigte soos hierdie afgewissel met oorversigtige formulerings wat die indruk van pogings tot ‘n (te groot) mate van politieke byderwetsheid wek.

Dat 1994 ‘n katastrofiese ramp vir die blankes was, word deur Giliomee in sy voorwoord erken: “In Suid-Afrika het wit mense in 1994 die mag onherroeplik verloor” (10). “Ná die oorgang in 1994 het die Afrikaners in ‘n sekere sin ineengestort” (13). Ek is nie ‘n onkritiese bewonderaar van kolonialisme nie, maar Giliomee toon reeds op die eerste bladsy van sy voorwoord dat hy te veel van die “ons” na die “hulle” oorleun wanneer hy noem dat kolonialisme die inheemse bevolkings “ontwrig” het, sonder om ewewigtigheidshalwe die kolonialiste se groot teenprestasies te noem (7). Daar mag van “blankes” gepraat word, maar die gelykluidende woord “swartes” moet glo nie gebruik word nie. Blykbaar moet dit “swart mense” wees; dus die beklemtoning van swartes se menswees, maar nie ook dié van wit mense nie. Giliomee dui sy verwerping van die woord “swartes”, wat in ‘n aanhaling voorkom, met “sic” aan (9). Buys doen dieselfde (300).

Die vvv-refrein in Buys se teks is: “Afrikaners [het] die reg op vrye, veilige en voorspoedige voortbestaan;” dus “die reg op voortbestaan [as] ‘n kultuurgemeenskap” (19). “Die meeste mense het veelvoudige identiteite. So is die Afrikaners ook Afrikane, Suid-Afrikaners en Afrikaanssprekendes” (19). Die Afrikaanheid word ingevryf met: Ons “het in Afrika Afrikaners geword” (27; ook 19). Dít ontken ek nie, want ons is nie steeds bv Hollanders, Duitsers of Franse nie. Insgelyks ontken ek nie dat Hollands plaaslik Afrikaans geword het nie. Maar daar is ‘n wesenlike Europeesheid in Afrikaners en Afrikaans wat vreemd in Afrika is. Daarom is dit my standpunt dat Afrikaners nie noodwendig Afrikane is nie. Ons kan ‘n volkstaat of tuisland op ‘n ander kontinent skep en Afrikaners bly.

Giliomee haal JD Kestell aan: “‘n Volk red homself” (15). Buys skryf: “Ons sal self verantwoordelikheid vir ons toekoms moet neem” (22). Die skepping van ‘n volkstaat of tuisland plaaslik of elders kan myns insiens deel hiervan wees. “Selfbeskking” word glo met “regse praatjies” (210; ook 214) en ‘n “volkstaat” geassosieer, gevolglik verkies Buys die woord “selfbestuur” (211), spesifiek gemeenskapselfbestuur (213), dus iets op ‘n kleiner skaal en klaarblyklik staatkundig minder onafhanklik as ‘n volkstaat. “Onafhanklike selfbeskikking is nie … prakties haalbaar of werkbaar nie” (215).

“Wat Buys versuim om te doen, is om hiërargies oor sy genoemde veelvoudige identiteite uitsluitsel te gee. Hy skryf waaragtig ‘dat nie een noodwendig belangriker as die ander is nie'”

Buys word soos volg deur ANC-propaganda geïntimideer: “Die probleem is dat Afrikanerselfbeskikking in die vorm van die afskeiding van ‘n sogenaamde volkstaat, in Suid-Afrika ‘n verregse kleur gekry het en met ‘n vasklou aan of terugkeer na apartheid vereenselwig word” (219). “Hoewel die eertydse groot volkstaatplanne nie haalbaar is nie, kan interne selfbestuur in ‘n ylbevolkte gebied van ‘onder’ af ontwikkel, soos die plan wat Orania het om van dorp- tot stadsgebied te ontwikkel” (222). Buys se “model kom neer op groeiende selfbestuur en is ver verwyder van die rassevolkstaatkaarte van vroeër” (222). Kortom, Buys ontken ras maar erken eiesoortige kultuur/lewenswyse in sy planne. Sy plan kan glo net werk “as dit van enige sweem van rassisme ontkoppel word” (222-223).

Wat Buys versuim om te doen, is om hiërargies oor sy genoemde veelvoudige identiteite uitsluitsel te gee. Hy skryf waaragtig “dat nie een noodwendig belangriker as die ander is nie” (24; ook 27). “Iemand kan dus met groot vreugde gelyktydig ‘n goeie Afrikaanssprekende, Afrikaner, Suid-Afrikaner én Afrikaan wees sonder dat daar enige hiërargie of botsing bestaan” (27). Ek, daarenteen, is primêr ‘n Afrikaner/Boer en daarom noodwendig Afrikaanssprekend. Identiteite soos Suid-Afrikaner en Afrikaan is in my geval opsioneel. Buys beweer selfs “groeplidmaatskap is vrywillig” (24) terwyl Afrikanerskap in my hart en niere ingeweef is. Toegegee, die groeplidmaatskap vir verloopte Afrikaners, bv hanskakies, is aan verandering onderhewig. Hulle identiteit is soos ‘n vlieër – dit hang af van die rigting waarin die wind waai.

Van vrywillige groeplidmaatskap gly Buys na “selfdefiniëring” (25), wat deesdae die euwel insluit dat ‘n mens self oor jou geslag kan besluit, al is dit teenstrydig met wat jy met jou eie oë in die spieël sien. ‘n Onderskeid word tussen geslag (“sex”) en geslagtelikheid (“gender”) getref. Jou LGBTQIA+-status is anders as hoe jy oënskynlik is. Selfs blankheid mag glo “nie [as] ‘n diskriminerende geslote definisie gebruik [word] nie” (26). “Die term ‘wit volk’ van die Verwoerd-era [is] lankal uitgedien” (27-28). Dus, teoreties kan enigeen homself bv blank verklaar. “Dit was nie in die verlede korrek om bruin mense op grond van hul ras [van die blankedom] uit te sluit nie” (26). In die praktyk is dit egter ‘n ander storie. As genetiese blankes hulleself ter selfbevoordeling swart verklaar, sou die ANC-regime geen erkenning daaraan gee nie. Hierdie ANC-kamerade verdeel die plaaslike bevolking steeds in dieselfde vier rasgroepe as tydens apartheid. Ten spyte van al die polities byderwetses wat beweer dat daar nie so iets soos verskillende rasse is nie, bv dat ras ‘n “konstruk” is, of dat daar net een ras, naamlik die menseras, is, bewys die ANC-regime daagliks, getrou aan die apartheidsresep, dat daar in Suid-Afrika vier (maklik) identifiseerbare rasse is. Hierdie rasse word vir bevoordelingsdoeleindes hiërargies, van positief na negatief, soos volg gerangskik: swart, bruin, Asiaties, blank.

Waarmee Buys besig is, is om te veel aan polities byderwetsheid toe te gee, deur bv Afrikanerskap af te water. “Begrippe soos ‘Afrikaner’ of ‘volk’ is in die ou bedeling om politieke redes misbruik of dikwels in ‘hoofletters’ geskreeu, maar die kulturele ‘moord’ op ‘n kultuurgemeenskap as gevolg van die verlede kan tog nie geregverdig word nie” (27). In die huidige omstandighede is dit juis nodig om nog harder as in die verlede vir die heil en behoud van die Afrikaner en Afrikaans te “skreeu”. Pleks van die ANC se wanvoorstelling van die verlede te aanvaar, behoort alle Afrikaners, insluitende Buys, eerder die baie voortreflikhede in ons verlede by die ANC-kamerade tuis te bring; des te meer deur die verlede met die onverkwiklikhede van die hede te kontrasteer. Ook word die absolute breuk in die Afrikaner se geskiedenis in 1994 glad nie genoeg beklemtoon nie. Dit was louter dwaasheid. “Dit is soos om ‘n boom af te kap en dan te dink jy sal steeds die vrugte en koelte kan bly geniet” (178).

‘Is Afrika ‘n regverdigbare rede vir Afrikanernasionalisme? Dit lyk asof Buys op twee stoele probeer sit.’

Eintlik besef Buys dat hy op die verkeerde pad is; dus dat hy polities te verlig probeer wees. Hy voer die volgende eierdans uit: “Die goedbedoelde aandrang dat Afrikaners eerder opgeneem word in ‘n breë Suid-Afrikaanse of selfs Afrikaanse groep het ongelukkig onbedoelde gevolge. Afrikaners het vir té lank hul bande met Afrikaanssprekendes van ander groepe afgeskeep, en daardie bande moet dringend versterk en uitgebou word. Maar om ‘n volksgroep tot ‘n taalgroep te reduseer, beteken dat daar afstand gedoen word van ‘n hele stel internasionaal erkende regte – soos die reg om besluite te neem wat die groep se voortbestaan en identiteit [bv hulle taal] raak” (29).

Tereg skryf Buys: “Ons mag maar aan ons eie kant wees” (31), maar hy bly nie altyd daar nie. Hy bepleit “kulturele patriotisme of [én?] gesonde en ewewigtige Afrikanernasionalisme” (32), maar hy hou nie deurgaans daarby nie. Sy weifeling blyk reeds uit sy kwalifisering van Afrikanernasionalisme in die vorige sin. Later skryf hy: “Ons [moet] … ‘n gesonde Afrikanernasionalisme ontwikkel, want [!] dit is ‘n voorvereiste vir ‘n gesonde Afrikapatriotisme” (391). Is Afrika ‘n regverdigbare rede vir Afrikanernasionalisme? Dit lyk asof Buys op twee stoele probeer sit.

Volgens ‘n berig deur Gert van der Westhuizen streef Buys en Solidariteit volksveelheid eerder as volkseenheid na. Buys wil ‘n kultuurakkoord met die ANC aangaan, hande vat, brûe bou, ens (“Solidariteit streef ‘volksveelheid’ pleks van volkseenheid na,” Netwerk24, 10.10.2019). Sy fokus is klaarblyklik nie sterk genoeg op Afrikaners en Afrikaans gerig nie. Buys noem Afrikaans “een taal met vele kulture” (315). Nêrens spreek hy egter sy kommer oor die gehalte/suiwerheid van hedendaagse Afrikaans uit nie. Hy laat hom hier, soos in ander opsigte, lei deur wat as polities byderwets geag word. Tog slaan sy onderliggende gesonde Boersheid soms deur: “Dit is siek dat ‘n rassistiese twiet deur ‘n wit mens meer opspraak maak as al hierdie plaasmoorde saam” (320). “Die boere is ‘n mikrokosmos van die Afrikaner, en wat met hulle gebeur is tekenend van die groter gebeure” (324).

Hoewel bruin mense kultureel nader aan die blankes en Afrikaanssprekende bruines nader aan Afrikaners as swartes en Asiate is, is daar etniese verskille. “Taal- en kultuurgemeenskappe [is] nie dieselfde … nie” (31). Hy onderskei dus tussen “Afrikaanssprekendes en Afrikaners” (317). Maar Buys versuim om hierdie onderskeid te handhaaf wanneer hy soms van “Afrikaanse” pleks van “Afrikaner-” skryf, bv “Afrikaanse leefwyse” (193, 303), “Afrikaanse bestaan” (194) en “Afrikaanse kultuurkarakter” (305). Volgens die ANC se amptelike rasformule is 9% van die bevolking blank en 9% bruin. Dit maak dus sin om “bande” tussen die blankes en die bruines te versterk sodat hulle gesamentlik beter weerstand teen verswelging deur die 80% swartes kan bied. Maar daardie samewerking moet, wat die blankes betref, ter bevordering van blanke belange geskied en nie ten koste daarvan nie. Dit beteken onder meer dat blankes en Afrikaanssprekende bruines hulle gesamentlik daartoe kan verbind om die heil van Afrikaans te bevorder. Maar die blankes moet die moed van hulle oortuiging hê om ordentlike – dus so suiwer moontlike nie-Engelse – Afrikaans, bv Standaardafrikaans, van die bruines te verwag/vereis. As die bruines op die bevordering van geradbraakte, Engelsbesoedelde Afrikaans, bv Kaaps, aandring, is samewerking nie die moeite werd nie omdat dit tot die uiteindelike vernietiging van Afrikaans sal lei.

In die UDF-era het baie bruines hulle as anti-blank en baasboikotters bewys. Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) sit hierdie tradisie voort deur enige onderhandelinge met die oog op eenheid met die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) onderhewig aan die vooraf ongekwalifiseerde aanvaarding van die Belhar-belydenis te maak. Insgelyks behoort Afrikaners van bruines te verwag dat hulle hulle tot lojaliteit jeens ordentlike Afrikaans verbind, anders word die prys van samewerking te hoog. Deesdae word dikwels beweer dat die meeste Afrikaanssprekendes bruin is, maar dan word sprekers van die brouseltaal Kaaps daarby ingereken. “Alexis de Tocqueville het … gesê dat die meerderheid slegs die minderheid sal aanvaar as hy dít prysgee wat vir hom die waardevolste is” (30). Dit is presies wat Afrikaanstaal- en -letterkundiges en sogenaamde Afrikaansinstansies, soos die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taal- en Kultuurverenging (ATKV), deesdae doen deur eerder Kaaps as Standaardafrikaans te bevorder en nooit Afrikaanstaalsuiwerheid te bepleit nie. Op hierdie manier gaan Afrikaans nie oorleef nie. Giliomee het gewaarsku “dat die kans dat Afrikaners en Afrikaans in die een-en-twintigste eeu kan verdwyn, nie meer vergesog is nie” (18).

Op enkele uitsonderings na is my kommentaar tot dusver eintlik grootliks deur die voorwoord, inleiding en eerste hoofstuk in Buys se boek gedikteer. Ek sal my betoog dus meer selektief en bondig moet voortsit. Ter aanvulling van my bespreking kan Deon Geldenhuys se oorsigtelike, gunstige resensie van Buys se boek gelees word (LitNet 19.12.2019). Let ook daarop dat ek soms Buys-aanhalings gebruik om self so ‘n bietjie te improviseer. Die Solidariteit Beweging is daarvoor bekend/berug dat hy homself oorgraag oordrewe positief adverteer. Buys se boek is geen uitsondering nie, maar ek staan geen ruimte hieraan af nie. Inligting word onnodig dikwels in die boek herhaal; iets wat ek probeer vermy.

Die bevolkingsamestelling van Suid-Afrika, veral die oorwig swartes, het die plaaslike geskiedenis ingrypend beïnvloed; vandaar bv die beleid van rasse-segregasie/apartheid. Die demografie is ook bepalend in die hede en sal die toekoms deurslaggewend beïnvloed. Buys skryf tereg: “Demografiese inligting [is] die basiese data en beginpunt van toekomsbeplanning” (49). Hy is op minder vaste grond as hy byvoeg: “Bevolkingsveranderinge is die oorsaak én die gevolg van die 1994-oorgang” (49). Deurlopend was daar buitensporige aanwas by swartes, wat die politieke druk op die blanke bewind uit daardie geledere verhoog het, maar die 1994-oorgang is in groot mate ook te wyte aan die verregaande onbekwaamheid en ruggraatloosheid van die NP-onderhandelaars. Maar Buys het deels reg: Sedert 1994 het Suid-Afrika demografies ingrypend verander weens die instroming van onwettige inkommers, wat die nieblanke komponent verder vergroot het en allerhande vreemde etnisiteite/kulture hier laat beland het.

In ons veelgeroemde “jong demokrasie” stem die kiesers eerder volgens ras as op grond van beleid. “Vir ‘n opposisieparty om die meerderheidsteun te verwerf, moet hy soos die meerderheid word” (49). Dit is waarom die EFF beter as die DA geposisioneer is. Die DA probeer om sowel die meerderheid as minderhede ter wille te wees, wat ‘n onbegonne taak is. Demografie verseker dat die nuwe Suid-Afrika nag vir sowel die blankes as die land is. Slegs in homogene samelewings kan demokrasie heilsame gevolge hê. “Minderhede het wel stemreg, maar nie stemkrag nie. Daarom weeg die individuele regte van die meerderheid in die praktyk swaarder as die individuele regte van minderhede” (51). Die kultuurregte van Afrikaners word deur die ANC-regime as ‘n bedreiging vir nasionale eenheid gesien. Daarom word pogings tot eendersmaking aangewend; dus dat almal moet afrikaniseer en verengels. “Die ANC wil die multikulturele werklikheid van die land omskep tot sy beeld van ‘n monokulturele samelewing” (118).

“Die spanningslyne in die toekoms gaan bepaal word deur die ongelyke verspreiding van politieke mag en ekonomiese welvaart in die land” (55). Die kiesers is oral en op alle vlakke terwyl welvaart in kleiner konsentrasies en net op die hoogste vlakke voorkom. Die ANC-regime het geen probleem met te veel of merietelose swart welvaart nie. Byvoorbeeld, rasteikens word in die werkplek misbruik waar swartes onderverteenwoordig is. Die oorverteenwoordiging van swartes, bv in die staatsdiens, is vir die ANC-regime egter heeltemal aanvaarbaar (56). Waarteen die ANC dit het, is welvarende blankes wat glo nie deur harde werk, kundigheid, toewyding, ens, hulle besittings bekom het nie, maar (uitsluitlik) deur die uitbuiting van swartes. Vandaar die beleid van die herverdeling van rykdom; dus om die blankes te verarm en die swartes ryker te maak.

Buys noem dit “afvat met staatsmag” (52), maar eintlik is dit gewoon diefstal, dus soortgelyk aan korrupsie. Later noem hy dit wel diefstal (159). Dink aan die beoogde onteiening sonder vergoeding van blankes se eiendom. Van die gevolge van hierdie beleid is dat bykans 25% van die bevolking staatstoelaes ontvang terwyl 90% van die inkomstebelasting deur 10% van die bevolking betaal word (56). “Die punt is dat die demografie uiteindelik nie net die demokrasie bepaal nie, maar die ekonomie en grondverdeling ook sal probeer skik volgens die getallesamestelling” (57). “Die beginsel van verteenwoordigendheid het die werktuig geword wat die land en sy instellings die vorm van die bevolking laat aanneem, en rasseformules [bv 80-9-9-2% – 98] die metode waarmee dit bewerkstellig word” (58). Helen Zille het gesê dat “verteenwoordigendheid ‘n ander woord vir geïnstitusionaliseerde rassisme is” (98).

“Mense voel meer tuis tussen mense van hul eie kultuur en die instellings wat daaruit voortspruit … maar … Suid-Afrika [het] nou deel van die [historiese] tuislande geword” (59-60); dus ‘n enkele groot swart tuisland terwyl die blankes geen tuisland hoegenaamd het nie. Insgelyks, op die vlak van munisipale bestuur “het die histories swart townships politieke beheer oor die voormalige wit dorpe oorgeneem” (206), gevolglik kry die dorpe al hoe meer die aanskyn van lokasies. Dít is die konkrete resultate van FW de Klerk se grondwetlike inisiatiewe. “Die ANC-beheerde munisipaliteite slaag nie daarin om doeltreffende dienste te lewer nie en swak munisipale bestuur het in die meeste dorpe die ekonomie afgetakel. In die proses het die belastingbasis gekrimp, terwyl die aantal mense wat deur middel van belastinggeld onderhou word, skerp toegeneem het” (208). Eiendomsbelasting en die koste van munisipale dienste word jaariks met meer as die inflasiekoers verhoog. Vir blankes is die betaling hiervan verpligtend terwyl dit (hoogs) opsioneel vir swartes is. Inligting oor hierdie verregaande en onvolhoubare wantoestand word grootliks verswyg, uitgaande van die valse veronderstelling dat hierdie nuwe opset regverdiger is as wat die vorige bedeling was.

“Wit mense in die algemeen en Afrikaners in die besonder is ‘n verspreide, oorpresterende, herkenbare … minderheidsgroep … Die beginpunt van ‘n demografiese uitdaging moet ‘n demografiese strategie wees. Hoe hoër die konsentrasie van Afrikaners in ‘n dorp, voorstad of streek, hoe meer gaan hierdie gebiede ‘n weerspieëling wees van Afrikaners se kultuur en siening van veiligheid,” (61), ens. Dit is die kern van Buys se voorstel: Afrikaners moet ter wille van kulturele (en dalk ook doodgewone) oorlewing meer gekonsentreed woon; dus as ‘t ware nieu-laers trek. Buys se plan is dus soortgelyk aan dié van Cor Ehlers. Met albei se pogings het ek groot simpatie. ‘n Mens kan immers redeneer dat albei boere is wat planne maak. Albei poog om ‘n opset te skep waarin Afrikaners meer tuis sal voel. Die lakmoestoets is egter of dit op die lange duur die uitwissing van die Afrikanerdom en Afrikaans gaan verhoed. Buys is nie heeltemal blind vir hierdie moontlikhede nie. Hy verwys na die dorp “Louis Trichardt, waar die toekoms reeds gebeur het … Tyd is uiteindelik die enigste verskil tussen hierdie noordelike en talle [alle?] suidelike dorpe” (252-253). “Die toekoms vereis [immers] dat ons in terme van geslagte … moet dink, beplan en optree” (254).

Is dit nie dalk ‘n geval van in die see urineer en jy jou dan troos met die gedagte dat al die bietjies help nie? Die golwe sal hierdie sandkastele vernietig; des te meer omdat dit sedert 1994 hoogwater vir swart mag is, al is dit laagwater vir die ekonomie en (Europese) beskawing. Buys kom ook by die kasteel-metafoor uit: Diegene wat sy selfbestuurplan “as ‘n onhaalbare lugkasteel sien, moet dit opweeg teen wat ander as ‘n onvolhoubare Suid-Afrikaanse sandkasteel sien. Selfbestuur bly die enigste antwoord op swak staatsbestuur” (243). Die werklikheid van verswelging en die onontwykbare gevolge daarvan veral op die langer termyn stem my so pessimisties dat watter ná-1994-planne ook al gemaak word, alles tevergeefs kan wees. James Anthony Froude (1818-1894) het geskryf: “To what purpose the ineffectual strivings of short-lived humanity? Man’s life was but the shadow of a dream, and his work was but the heaping of sand which the next tide would level flat again” (Herbert W Paul, The life of Froude, New York: Scribner/Good Press, 1906/2019, Amazon Kindle 3531).

“Liberale mense [het] die nare gewoonte … om linkse kommuniste aan die bewind te help bring” (136). Van die dinge wat my die droewigste stem, is eertydse Afrikaners, selfs Broederbonders, wat die kluts heeltemal kwyt geraak het. “Baie Afrikaners het getuimel vanaf ‘n oormatige selfvertroue [in die nuwe politieke bedeling] tot ‘n punt waarop hulle nie hulself ‘n bestaansreg gun nie” (82). Dink bv aan Willie Esterhuyse vir wie dit ‘n roeping geword het om skuldige Afrikaners te kweek. Ek kon nie verstaan hoe dit moontlik was dat daar in die land (en die wêreld) ‘n krisis kon wees en apartheid (en die blankes/Afrikaners) kry nie die skuld daarvoor nie. Maar Esterhuyse het in ‘n brief in Die Burger (31.03.2020—sien onderaan die artikel – red.) daarin geslaag om Covid-19 en apartheid met mekaar in verband te bring. Hy loof Cyril Ramaphosa, nie-rassigheid, regstellings en is beswaard oor die onreg van apartheid. Dit is in ooreenstemming met “die ANC se meesterverhaal … dat al die grootste probleme van die land deur apartheid veroorsaak is” (105). Esterhuyse se verlooptheid het nie grense nie. Hoe is dit moontlik dat enige blanke/Afrikaner met selfrespek en insig die bose ANC kan aanhang? Eintlik bied Covid-19 ‘n heeltemal ander apartheidsboodskap: As jy wil oorleef, bewaar ‘n gesonde afstand tussen jou en jou medemens. Tydens die grendeltyd is apartheid in hierdie sin weer in die mode.

“Dit lyk al hoe meer of die ANC die klassieke sosialistiese resep [van gekamoefleerde kommunisme] volg, naamlik buit eers die belastingbetalers uit, teer dan op die spaarders se pensioenfondse en plunder dan die beleggers se eiendom … Boonop misbruik die ANC sy staatsmag om sy eie rassisme te ‘wettig’ en af te dwing” (102). Zille het gesê: “Die veroordeling van ‘n hele groep mense as gevolg van hul [wit] ras is die nuwe gesig van rassisme in Suid-Afrika” (103). “Die ANC het hulle vóór en net ná 1994 as bevryders voorgehou, later soos oorwinnaars begin optree, en word nou oorheersers. Dit voel reeds vir baie mense al hoe meer of die ANC soos ‘n tipiese besettingsmag optree. In plaas daarvan om soos ‘n regmatige regering … almal in die land se regte en vryhede te bevorder, regeer hulle téén bepaalde groepe” (109-110) – veral ten koste van die blankes.

“As die uitdaging yl verspreiding [van Afrikaners] is, is die oplossing groter konsentrasies op plekke waar mense tuis voel” (179) – “tuisvoelruimtes” genoem (209). Maar hoe jy voel, weerspieël nie noodwendig jou werklike situasie nie. Buys se plan is primêr op Afrikaner-oorlewing ingestel. Dit los nie naasteby al die probleme op waarmee ons sedert 1994 gekonfronteer word nie. Maar hy dink ‘n nuwe Groot Trek is reeds aan die gang. “[Wit] mense trek al dekades lank uit vervalle klein dorpies na streekdorpe en na die stede toe; hulle trek van vervreemde middestede na voorstede; uit gevaarlike gebiede na privaat leefstyldorpe” (179-180). “Namate die gesentraliseerde politieke stelsel misluk, stel die bevolking self federale, oftewel gedesentraliseerde oplossings in werking” (375). “Suid-Afrika het in ‘n soort postgrondwetlike era inbeweeg” (377). Afrikaners “strewe na selfbesluitneming in kulturele leefruimtes” (181), wat “kulturele kantons” genoem word (180). Buys identifiseer ‘n dertigtal “ankerdorpe en -stede”, met die grootste kantons in Pretoria en in die Wes- en/of Suid-Kaap. Orania sal ook ‘n “groeipunt” wees (182).

“Daar is niks wat Afrikaners keer om byvoorbeeld Orania van ‘n dorp tot ‘n Afrikanervrystad uit te bou nie. So ‘n vrystad kan later tot ‘n provinsie of selfs meer groei” (234). Maar is die mate van sukses wat Orania behaal nie grootliks te danke aan isolasie/apartheid nie? Byvoorbeeld, daar is slegs volkseie verblyf- en eiendomsreg en geen nieblanke arbeid word toegelaat nie. Buys erken dit met die opmerking: “Orania [word] weliswaar gekniehalter … deur politieke bagasie” en hy koester die hoop dat hierdie dorp se “politieke beeld verbeter” (241). By wie? Die ANC-regime? Hoe? Daar is net een manier om die ANC te behaag: gedwonge rasse-integrasie.

Buys wil Orania heruitvind: “Die nuwe strewe om Orania van ‘n dorp tot ‘n stad uit te bou in plaas van ‘n volkstaat, is meer werkbaar en in ooreenstemming met die nuutste ontwikkelings … Orania het bepaalde nadele, soos sy afgeleë ligging, klein getalle [inwoners] en politieke beeld” (242). Onderhandelinge (met die ANC-regime?) “kan die dorp in staat stel om mettertyd meer magte uit te oefen, totdat dit in ‘n vrystad met ‘n string omliggende vrydorpe … kan ontwikkel” (242) – “‘n Orania-kanton” (243). Carel Boshoff (1927-2011), die stigter van Orania, het ‘n soortgelyke ideaal gekoester, maar anders as Buys was hy volkstaatgetrou: “Die idee is dat Orania die eerste groeipunt vir ‘n Afrikaner-volkstaat moet wees en dat dit deur ander soortgelyke groeipunte in die omgewing gevolg word, ”n pêrelstring van dorpe'” (Praag 19.12.2015). Sedert 1991 het nog geen pêrels bygekom nie. Buys regverdig sy standpunt soos volg: “Daar is nie meer volmaakte oplossings oor nie … Daar is geen waarborg dat [sy visie van?] Orania sal slaag nie, maar die mislukking van Suid-Afrika lyk ongelukkig al meer na ‘n groter moontlikheid” (244).

‘Daarom het die Nederlandse denker Bob Goudzwaard [gebore in 1934] gesê die Afrikaner se geskiedenis is nie ‘n stryd om oorheersing nie, maar ‘n stryd om oorlewing’

Buys voorsien “‘n proses van groeiende selfbestuur tot by die bereiking van selfbestuur in kulturele kantons” (200); dorps- en stadsgebiede “waar Afrikaners ‘n meerderheid is, en dorpsgebiede waar Afrikaners ‘n meerderheid kan word en bly” (200) – dit is by “en bly” waar ‘n groot vraagteken geplaas moet word, want terselfdertyd wil Buys se Afrikaners hulle glo nie afsonder of isoleer nie (200). “Ons wil nie onsself hiermee [dus met Buys-selfbestuur] afsonder of net selfsugtig na eie belange omsien nie” (215). Die weë na hande vat, brûe bou en ubuntu bly dus oop. Buys se resep is in hierdie kernopsig dieselfde as dié van Cor Ehlers en laat my wanhoop aan die moontlike sukses daarvan. Die keuse is glo “konsentreer of emigreer” (202), maar nie konsentreer in of emigreer na ‘n volkstaat nie.

Die werklikheid van verswelging – dat Afrikaners ‘n al hoe “kleiner deel van ‘n groter groeiende bevolking” (189) is – waarteen geen plan dalk verskansing kan bied nie, behalwe miskien ‘n Afrikanervolkstaat plaaslik of elders, word in te groot mate deur Buys ontken. “Die Afrikaner se bestaansvraagstuk is … nie sy klein getalle nie … Die bestaansvraagstuk is dat die Afrikaners nie gekonsentreerd saam woon … nie. Daar is nie ‘n gebied wat hoofsaaklik deur Afrikaners besit, bewoon en bewerk word nie. Daarom is die Afrikaner nou al vir eeue lank ‘n kwesbare minderheid tussen ‘n groter meerderheid. Daarom het die Nederlandse denker Bob Goudzwaard [gebore in 1934] gesê die Afrikaner se geskiedenis is nie ‘n stryd om oorheersing nie, maar ‘n stryd om oorlewing” (186-187).

Buys beweer “privaat dorpe wat hulself regeer [is] besig om landswyd te ontwikkel” (239). Dit lyk asof hy eerder na woongebiede verwys, wat op ‘n nie-rassige en nie-etniese (dus nie-kultureel eksklusiewe) grondslag funksioneer. Daarna noem hy hulle egter “kultuur- of vrydorpe.” “Omdat vrydorpe steeds deel van stede is, is die vlak van outonomie wat hulle kan uitoefen uiters beperk en ook steeds blootgestel aan die verswakkende bestuur van die stede” (240). Dus, sy vrydorpe is (tans) nie danig vry nie en steeds deel van en onderhewig aan die euwel genaamd die nuwe Suid-Afrika oftewel die ANC-regime.

Buys sluit sy boek soos volg af: “Afrikaners sal hul selfvertroue moet terugkry en minder gevoelig wees vir kwaadwillige politici wat Afrikaners verkwalik vir dinge wat in die verlede gebeur het, maar wat nie self verantwoordelikheid vir hul eie huidige dade neem nie. Hierdie aanvalle moet gesien word vir wat dit is, naamlik pogings om blaam te verplaas, verantwoordelikheid te ontduik, en om Afrikaners met skuldgevoelens onderdanig te hou en gewillig laat bly betaal om die onproduktiewe elite (met hul luukse leefstyl) aan die bewind te hou” (397). Iemand soos Willie Esterhuyse rugsteun hierdie ANC-kornuite in die vertrapping van Afrikaners. “Die Afrikaner moet sy politieke verlamming afskud en weer die hand aan die ploeg slaan. Giliomee vra tereg: ‘Kan die fatalistiese afwagting van ‘n gewisse kollektiewe nederlaag en finale ondergang, vervang word met die kenmerkende geheimsinnige lewenskragtigheid van Afrikaners?'” (397).

Gestel Buys se selfbestuurplan misluk. Wie is dan die eintlike skurk in die verhaal, die ANC of die regses? “Die grootste uitdaging gaan nie weerstand deur die ANC wees nie, maar eerder weerstand of ‘n gebrek aan geesdrif onder Afrikaners wat wil vasklou aan ‘n vergange era” (396).

Brief deur Willie Esterhuyse in Die Burger op 31 Maart 2020

Ek voeg graag hiermee my stem by dié van pres. Cyril Ramaphosa, asook opposisie-, sake-, kerk- en ander leiers, om eendragtig die globale en nasionale viruspandemie hok te slaan.

Ek ondersteun sy besluite, deeglike beplanning en doelgerigte leierskap om ’n verenigde front teen die pan­demie te vorm. Om politieke leiers met uiteenlopende politieke oortuigings langs hom te sien staan, was iets besonders. Ek is veral opgewonde oor die skepping van ’n nierassige solidariteitsfonds, met Gloria Serobe en Adrian Enthoven in beheer.

Dit is ’n nierassige projek om die noodsaaklike ekonomiese restitusie na ’n meer aanvaarbare en suksesvolle vlak te bring. Ek is dankbaar dat kleinsake daarby baat sal vind, en dat dit hopelik sal help dat baie van hul werknemers nie hul werk verloor nie. “Kleinsake is groot sake,” soos dr. Anton Rupert eenkeer gesê het.

Ek stel nie bloot in verklarings en verskonings belang nie, maar streef na regstellings wat ’n verskil maak. Daarom juig ek die uitsonderlike regstellende aksie van die Rupert- en Oppenheimer-familie toe. Dit is sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheid in aksie.

Apartheid moet steeds ’n groot deel van die blaam dra vir die sosio-ekonomiese en veral opvoedkundige tekortkomings in die land. Daar is geen beter tyd as nou, waar almal saam voor ’n reuse-uitdaging staan, om saam te werk om die onreg van die verlede, en ook die baie probleme wat meer onlangs ontstaan het, reg te stel nie.

Dankie, President!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.