Brief: Constand Viljoen kon Angola en Suid-Afrika bevry het

Nelson Mandela en Fidel Castro vier die kommunisitese oorwinning in Suider-Afrika
Deel op

Rapport Weekliks, “Laat Castro maar sy storie spin”, van 16 Februarie 2020 verwys. Leopold Scholtz skryf daarin dat Castro in 1988 met die vervalsing van die geskiedenis begin het. Want, Castro het volgehou die einddoel van die SAW in Angola was… om UNITA in Luanda aan bewind te bring, en sodoende die NP-regering se heerskappy oor die hele Suider-Afrika te vestig.

Kan dit moontlik ‘n vervalsing van ons geskiedenis wees, om die geniale Castro nie gelyk te gee nie?

Toe die SAW onderweg was na Luanda in 1975, wou die CIA wel vir UNITA en die FNLA aan bewind bring.  Constand Viljoen was die senior SAW-offisier saam met die CIA. Viljoen was destyds die SAW se Direkteur Operasies vir die CIA se resies na Luanda.

Die CIA is in November 1975 verras. Die CIA het nie verwag dat Castro so groot in Angola sou ingryp nie. Die CIA het Castro onderskat.

Dit is ironies dat die CIA vir Castro in 1975 in Angola onderskat het. In 1961 het die President van die VSA die CIA-hoof afgedank, juis omdat die CIA vir Castro onderskat het. Die man wat Castro se Afrika-strategie teen die CIA in Kuba bemark het, was bekend aan die CIA. Francis Parker Yockey het ook in 1960 die Kubaanse Misielkrisis van 1962 aan Castro bemark. Die CIA het Yockey se invloed op Castro dus goed geken. Die CIA in Angola moes dus beter op Castro bedag gewees het, dog in 1975 is die CIA getref deur bestuurskommelinge, terwyl Castro se pos oor dekades heen stabiel gebly het.

Genl. Constand Viljoen

Castro het vanaf November 1975 in Luanda, met lug- en seebrûe vanuit Kuba,  reg onder die neuse van die CIA, feite op die grond in Luanda geskep. Castro het veroorsaak dat die Amerikaanse Kongres die CIA vir 10 jaar uit Angola verban het. Voor 1975 was Fidel Castro reeds uiters ervare met CIA-operasies. Castro was teen 1975 die wereld se voorste kenner van CIA-operasies, sowel as die werkinge van die VSA-president en -Kongres. Wat die CIA betref, het Castro regtig al die wysheid in pag gehad.

Dit is dus nodig, dat ons Leopold Scholtz se woorde met dié van Fidel Castro vergelyk, om by die waarheid oor Angola uit te kom.

In Desember 1975 was die aangewese Hoof van die CIA, George H. Bush, saam met die President van die VSA in China om die Sowjetunie te ondermyn. Hulle het oor gesamentlike steun vir UNITA en die FNLA in Angola beraadslaag, om Luanda te wen. Kissinger het nog aan Deng Xioping gesê: “Ons is bereid om Suid-Afrika uit Angola te verdryf, sodra ‘n alternatiewe militere mag geskep kan word.”

Die SAW het toe in 1976 uit Angola onttrek, maar glad nie volgens die CIA en Kissinger se plan nie. Daar was nooit ‘n alternatief vir die SAW in Angola nie.

Castro en die Sowjetunie was nou in beheer van Luanda, en die CIA in ‘n verskriklike verleentheid. Hoe kon China die VSA vertrou om die Sowjetunie te ondermyn, as die CIA sulke fiasko’s in die Koue Oorlog veroorsaak het? Die CIA kon nie eens vir Castro in hulle eie agterplaas beheer nie.

Castro het dus in Angola die derde grootste krisis in die bestaan van die CIA geskep. Die Kubaanse kernmisielkrisis, ook danksy Castro, was ‘n groter krisis vir die CIA. Die grootste krisis ooit in die CIA, was toe die CIA vir Castro in Kuba aangeval het, die sogenaamde “Bay of Pigs”-inval. Die topdriefiasko’s van die CIA, was almal danksy Castro.

Die Koue Oorlog is deur President Reagan geëskaleer. Reagan wou die Koue Oorlog wen en klaarkry. Dus in 1985 gee die Amerikaanse Kongres vir die CIA toestemming om weer na Angola te gaan — maar slegs kovert, oftewel in die geheim.

Om UNITA in Angola aan bewind te kry, gaan die CIA vir Kuba en Castro uit Angola moet kry. CIA-analiste sê dat UNITA nie as ‘n militêre mag op sy eie teen Castro in Angola kan wen nie.  Die CIA gaan net soos in 1975, in 1986 ook weer van die SAW moet gebruik maak.

Die enigste alternatief vir die gebruik van die SAW in Angola is Amerikaanse magte. Daarvoor is toestemming van die Amerikaanse Kongres nodig — vir openlike oftewel overte CIA-steun aan UNITA. Die gebeure in 1975 het geleer dit is by verre die beste opsie om Amerikaanse magte in Angola te gebruik, indien nie die enigste nie.

Die CIA reël dat UNITA se charismatiese Joseph Savimbi voorberei word vir ‘n bemarkingstoer na die Withuis. Savimbi word deur Reagan persoonlik in die Ovaalkantoor onthaal. Dr Savimbi kry ‘n persoonlike veiligheidspan van die VSA. Doktor dra ‘n Katolieke uitrusting wat perfek pas by konserwatiewe Katolieke senators. ‘n Professionele bemarkingsmaatskappy en die beste dinkskrum in die VSA bestuur Doktor se besoek, maar helaas, die CIA sukkel om sommige senators se steun te verkry vir die CIA om openlik in Angola met militêre mag te opereer om UNITA in gevegte te ondersteun.

Reagan besluit dan moet die CIA weer kovert in Angola opereer, saam met die SAW. Soos in 1975, moet die SAW in 1986 ook onsigbaar in Angola veg. Reagan beveel dus dat die CIA weer die SAW in Angola gebruik, op die volgende voorwaardes: Die SAW kry nie die VSA se Stinger-vuurpyle nie. Die SAW in Angola moet tydens CIA-operasies onopsigtelik agter UNITA-magte opereer, dus altyd in die nag.

Die CIA het reeds die twee grootste strategiese teikens vir die SAW in Angola met satelliete gefotografeer, en as nagoperasies ontwerp. Die twee nagoperasies is so geostrategies gekies, dat die SAW daarna ook slegs onsigbaar in die nag, agter ‘n sterk en opgegradeerde UNITA hoef te opereer. UNITA sal dan in Angola aan bewind kom, wat tot lewensbelangrike voordeel vir Suid-Afrika sal wees. Die SAW en NP kan nie die CIA-versoek weier nie. President Reagan self waarborg dat hy die Amerikaanse Kongres se sanksies teen Suid-Afrika sal afwater.

Dus in Januarie 1986 gee die President van die VSA, Ronald Reagan, te kenne,  dat soos Afganistan, ook Angola en UNITA se vryheid benodig word om die Koue Oorlog teen die Sowjetunie te wen. Die VSA se President onthaal UNITA in die Withuis, en stuur UNITA Stinger-missiele om MIG-vegvliegtuie en Hind-helikopters hoog in die lug hou, ver van UNITA en SAW op die grond in Angola.

Die VSA se President het die CIA-direkteur William Casey ‘n mandaat gegee om eers die oorlog en daarna die verkiesing in Angola te wen, sodat die wereld ‘n “victory that electrifies the world” in Angola kan sien.  Dit was President Reagan se woorde.

Drie maande na President Reagan se “electrifying” woorde, ontplof Tsjernobil se elektriese stasie per ongeluk in die nag. Volgens Gorbatsjof was dit die eintlike begin van die beplande inploffing van die Sowjetunie.

In dieselfde April van 1986, ontplof in die nag ook die belangrike hawe van Namibe in Angola. Namibe was die hoofverskaffingshawe vir Angola se weermagbasis en lugmagbasis in… Cuito Cuanavale. Vanaf die opgegradeerde Cuito Cuanavale-basis, wou die Sowjet-weermag en -lugmag in 1986 vir die CIA se UNITA aanval en uitwis.

Die CIA het satellietfotos van Namibe aan die SAW verskaf. Die SAW is gevra om die inligting in die nag te gebruik. Skepe en ‘n duikboot van die SAW het ‘n span spesialiste in die nag na Namibe vervoer. Namibe se brandstofdepot het ontplof. Die hawe en al die vragskepe het aan die brand geslaan.

Die CIA het ook satellietfotos van Cuito Cuanavale aan die SAW verskaf. Weereens is gevra om die inligting in die nag te gebruik. Net 5 Maande nadat President Reagan met UNITA in die Withuis vergader het, in Augustus van dieselfde 1986, vlieg 8 nuwe SAW-kannonne in die nag…. oor die Angolese grens na… Cuito Cuanavale.

Binne 3 nagte skiet ‘n groepie Middelburgers die Sowjet-weermag en lugmag uit Cuito. Danksy die Stingers, bly Sowjet-MIGs hoog in die lug. Hulle kan nie die gekamoefleerde stilstaande SAW-kanonne sien om raak te bombardeer nie. Die SAW se G5-kannone het byna 4500 basis-bloeiprojektiele op die Cuito-basis afgevuur. Rewolusioenêre projektiel-tegnologieë het die SAW-kanonne in staat gestel om MIG-vegvliegtuie op Cuito se aanloopbaan vanuit die bos te beskadig.

Die CIA wat die “electrifying” foto’s van UNITA in beheer van Cuito Cuanavale se lughawe aan die internasionale pers sou lek, het die SAW se naam vir die operasie om Cuito te verower, verander vanaf Southern Cross na Alpha Centauri. Met Cuito deur UNITA verower en beset, was die sterre binne bereik. Nie alleen was die Sowjet-inisiatief om UNITA te vernietig dan buite bereik nie, maar ook die Kubaanse besetting van Luanda was op risiko.

Met die Cuito-lugmagbasis in besit van UNITA, was die SAW se logistieke probleme in Angola opgelos, en UNITA sou baie meer lugsteun kry, kompleet met moderne onbemande hommeltuie. Die CIA sou Menongue moes aanval om Cuito te beveilig. Lobito-hawe en die Benguala-korridor deur die hart van UNITA se Ovimbunduland met die ou UNITA-hoofstad Huambo sou volgende gewees het. Doktor Savimbi sou onder die omstandighede ‘n vrye en regverdige verkiesing kon wen. Luanda, en dus die hele Suider-Afrikastreek, sou in 1986 net soos in 1975 weer op die spel gewees het. Die CIA het Castro nie vergeef vir 1975 nie. Castro het dit geweet, en die Sowjetunie gewaarsku.

Cuito Cuanavale in Augustus 1986, was weer soos Luanda in November van 1975.  Suid-Afrika se toekoms was op die spel. Die NP en SAW se lewe was op die spel. Die hele Suider-Afrika was op die spel. Die CIA en Castro was weer slaags. Hoekom was Constand Viljoen nie daar nie? Hoekom het hy op 52-jarige ouderdom uit- en afgetree, pleks van om soos Castro, die geveg om Angola wat in 1975 begin het, te wen?

Die Hoof van die SAW moes die SAW gebruik het om Cuito se besetting te verseker soos oorspronklik beplan is. Anders as sy voorganger Constand Viljoen, het Jannie Geldenhyus as Hoof van die SAW gevegskompromieë aangegaan om sy politieke bestuurder ter wille te wees. Die deurslaggewende verskil tussen Viljoen en Geldenhuys was hulle persoonlikhede: Viljoen was geneig om nie saam te stem nie, en Geldenhuys geneig om saam te stem. Die eerste tipe maak geniale generaals soos Guderian, Rommel en Viljoen.

Die Suid-Afrikaanse regering, op advies van die CIA om die VSA-Kongres ter wille te wees,  vra die Hoof van die SAW dat twee UNITA-brigades van 1500 man elk Cuito Cuanavale moet beset — ‘n historiese gebeurtenis wat wereldwyd “electrifying” opslae in die media sou maak.

Kuba en die Sowjeunie in Angola was in vir ‘n elektrifiserende verrassing, waarteen Castro die Sowjetunie in 1986 ernstig gewaarsku het!

Een UNITA-brigade van 1500 man het Cuito Cuanavale gemaklik beset en begin fees vier, terwyl die ander UNITA-brigade nie in die nag aangekom het nie. Die Sowjets en Kubane het met hulle oorblywende tenks ‘n teenoffensief teen UNITA begin, wat gou vir UNITA uit Cuito ontset het.  Die verrassing was verby.

‘n Geskiedkundige geleentheid is verspeel — en vervals. Cuito Cuanavale is in Augustus 1986 na baie harde werk deur vele Suid-Afrikaanse soldate en verkenners, skitterend gewen. Sonder SAW-lewensverlies. In die nag het nie ‘n taktiese ontrekking plaasgevind nie, maar ‘n leierskapsmislukking, ‘n irrasionele besluit, en gevolglike tragedie vir die hele Suider-Afrika en die welsyn van 300 miljoen mense.

Hierdie klein stukkie nagtelike geskiedenis van Cuito Cuanavale is vervals, want vervalsing was nodig.

Verdere CIA- en SAW-oorlogvoering in Angola, om UNITA uiteindelik in Luanda aan bewind te bring, sou onmoontlik gewees het, met die erkenning dat die suksesvolle verowering van Cuito in Augustus 1986, as gevolg van ‘n hoogs riskante polities-korrekte besluit verspeel is.

Die Hoof van die SAW het slegs gelieg en gesê dat Cuito-besit nooit die doelwit was nie. Joseph Savimbi van UNITA het sy UNITA-bevelvoerder van daardie nag in Cuito tereggestel.

Hierdie keer het het die Sowjets en die Kubane hulle deeglik by Cuito ingegrawe, pleks daarvan dat die SAW by Cuito ingegrawe het.  Dít het die geskiedenis van Angola en die hele Suider-Afrika verander. Politieke korrektheid pleks van militêre meriete het die ontwikkelling van Suider-Afrika gekelder.

In Leopold Scholtz eie eufemistiese woorde: “Hierdie aanslag spreek van opperste naïwiteit en het verskeie nadelige gevolge gehad…” – bladsy 43 van sy boek Ratels aan die Lomba.

Castro sou van sy generaals teregstel as daar ooit weer so-iets sou gebeur, soos wat by Cuito in Augustus 1986 gebeur het. Dog geen SAW-generaal is ooit tereggestel, of het prerogatiewe selfmoord gepleeg,  na dom besluitnemings soos tydens hierdie strategies belangrike SAW-geleentheid in 1986 nie. SAW-soldate is daarna gedood, in die latere 1988 SAW-aanslag op Cuito, wat teen daardie tyd al ‘n onineembare UNITA-vesting en SAW-aanloopbaan sou gewees het, was dit nie vir die leierswaansin, dat die SAW onsigbaar in Angola moes veg nie.

Pik Botha… het onder die invloed met die Kubane onderhandel

Bostaande geskiedenis, sê ek graag aan Leopold Scholtz, is deur Hoof van die SAW “vervals”, want hy moes hierdie CIA-geskiedenis noodwendig geheim gehou, om verder te kan veg, en weer te probeer. In Scholtz se eie boek oor die Grensoorlog, noem hy egter dat UNITA wel vir Cuito in Augustus van 1986 na die G5-bombardement beset het, pleks van die SAW self.

‘n Jaar later, in 1987, wou PW Botha al vier Sowjettenkbrigades in ‘n offensief van UNITA vanaf Cuito by die Lombarivier vernietig — dit ek in Scholtz se Ratels aan die Lomba gelees.

Die vernietiging van al vier aanvallende Sowjettenkbrigades by die Lombarivier in 1987, en daarna noodwendig nog vier oorblywende brigades in die omgewing en by Cuito, sou 1988 ook heeltemaal verander het.

Die SAW sou Cuito weer verower het.

Kuba en Rusland sou mekaar beskuldig het oor 1987 se Mavinga-maneuverfiasko, en algehele paniek sou die MPLA in Luanda oorval het.

Pik Botha sou nie saam met die Kubane alkohol gedrink het en onder die invloed met hulle onderhandel het nie.

Vlug PanAm 103 na New York, waarop Pik Botha aanvanklik saam met die CIA-lede bespreek was, sou nie bo Lockerbie ontplof het nie. Daar sou geen PanAm 103 met passasiers na die New York-ooreenkomste vir Libië se Gadaffi gewees het, om in sy oorlewingstryd teen die VSA te saboteer nie.

Pleks dat die MPLA vir UNITA se elite, en later Joseph Savimbi self vermoor het, sou UNITA se Ovimbundu-meerderheidsbevolking die MPLA tydens ‘n demokratiese verkiesing verslaan het.

Angola en Suid-Afrika as sy buurland sou streeksprojekte ingestel het, met 40 000MW se Inga-hidrokrag vanaf die DRK na die hele Suider-Afrika. Só sou Suider-Afrika ekonomies geëntegreer geraak het. Die ANC wil dieselfde saam met mede-kameraad MPLA doen, maar teen 2020 is nog niks gebou nie.

Daar bestaan geen kameraadskap tussen die MPLA en die ANC nie, slegs koue oorlog volgens George Friedman se Stratfor, ook bekend as die private CIA.

Met militêr ondersteunde, demokraties verkose regerings in ‘n Luanda-Pretoria As, sou die Suider-Afrikaanse Unie vandag ‘n welvarende Westerse China met Afrika-kenmerke gewees het.

Vandag is dit duidelik, dat die vernietiging van al vier Sowjettenkbrigades in die bosse naby die Lombarivier, pleks van slegs een, ook tot die vernietiging van die ander vier brigades in die omgewing sou gelei het. Daarna sou alles anders verloop het.

Uit jou Scholtz se boek, Ratels aan die Lomba, blyk dit dat die SAW se Hoof nagelaat het om meer tenks vroeër veggereed by die Lomba te kry.  Sonder genoeg tenks betyds aan die Lomba is die kans om al vier Sowjettenkbrigades in 1987 te vernietig, verspeel.

Die titel van Scholtz se boek, Ratels aan die Lomba, sê dit alles.

In die boek Mobility Conquers, deur Steenkamp en Heitman, staan daar:

“General Geldenhuys (always) wanted to avoid inflicting a major defeat on a Cuban force… lest that cause Castro to deploy additional assets .”

Die geskiedenis is: Geldenhuys het die vernietiging van die Kubaanse magte vermy, deur te klein magskonsentrasies en maneuvers te vereis. Castro het desondanks in 1988 sy beste en mees ervare bykomende magte op die SAW gekonsentreer.

“The government had given (Geldenhuys) firm instructions that South African forces were not to occupy any town in Angola…”

Sou Generaal Viljoen as Hoof van die SAW na sulke leunstoelwaansin vanuit Pretoria geluister het? Viljoen sou sy CIA-kontak opdrag gegee het om vir die President van Amerika te gaan sê, 2 uit 3 van jou eie raadgewers het vir jou bereken UNITA kan nie so wen nie. Ek is nie so onverantwoordelik dat ek weer gaan misluk met my soldate se lewens teen Castro nie. Moenie gruwelike grappe stuur nie, stuur nog Stingers.

Roland de Vries se boek Eye of the Firestorm, bevat dieselfde boodskap: die Hoof van die SAW gebruik nie sy rang as Hoof om die westelike opsie — wat hy wel in opmerkings erken die wen-antwoord is — te kies nie. Hy werk aanhoudend met te klein magskonsentrasies. Hy het geen geopolitieke oogmerke soos Castro nie.  Daarom verras Castro hom. Castro uitmaneuvreer hom, want die Hoof van die SAW werk nie vir die groot idee van ekonomiese welvaart vir 300 miljoen Afrikane in die streek van Suider-Afrika nie. Die nodige grootsheid van die streekstoekoms, en die onvanpaste kleinheid van Jannie Geldenhuys se oorlog, laat Roland de Vries se kop soms duisel.

Dit was die plig van die Hoof van die SAW om binne-in Castro se kop in te klim. Castro was sy opponent. Ken jou opponent.

Magnus Malan lag effens vir Castro op YouTube, omdat Castro self die oorlog in Angola vanaf einde 1987  vanuit Kuba gelei het. Castro het dit in 1975 ook suksesvol gedoen. Persoonlik 24 uur per dag in Luanda ingegryp vanuit Havana. Castro se bestuur was beter as die SAW se hoofkwartier op hoofkwartier op hoofkwartier, via SWA en politieke Pretoria, en dan die ellelange ketting terug na die front toe.

Magnus Malan sê op YouTube hy het Castro nie geken nie.  Na 1975, en teen 1988 moes die SAW vir Castro bestudeer en geken het. Castro se geopolitieke insig in Afrika, en Castro se voortdurende stryd teen die VSA en CIA was legendaries.

Die Hoof van die SAW in 1985 was ook legendaries, en die magtigste man in Afrika.

Hierdie skrywe is daarom ook aan Generaal Constand Viljoen gerig. Op 86 was hy net soveel jare op aarde as Castro.

Ek het met Constand Viljoen oor sy voortydige SAW-bedankingsredes gepraat en geskryf tydens my besoek aan hom op sy plaas in 2015. Constand het aan my antwoorde verskaf, per e-pos, en mondellings. Hy het ook iets oor Castro aan my geskryf, asook oor Geldenhuys, oor waarom Geldenhuys en nie Viljoen nie in 1988 teen Castro te staan gekom het in Angola.

Viljoen — ‘n ervare politieke operateur, geniale generaal en CIA-deskundige in Angola sedert 1975 — se voortydige aftrede op 52 as magtigste man en beste Generaal in Afrika, het die Suider-Afrikaanse domino’s laat val.

Viljoen het in 2015 aan my gestel dat generaal Geldenhuys goeie verhoudings met politici in 1985 gehad het. Verder het Viljoen gesê dat hy by ‘n gentleman’s agreement gebly het om na vyf jaar as Hoof van die SAW te bedank. Volgens hom was dit na aanleiding van ‘n destydse gewoonte in die Israelse weermag — maar dit was vir swak generaals bedoel. Geniale generaals mag nooit bedank nie. Verder het Viljoen aan my geskryf dat Geldenhuys en later ook Liebenberg, in elk geval van die beste, en goed genoeg was om hom op te volg.

Sou Constand egter nie na vyf jaar as Hoof van die SAW in 1985 op ‘n baie vroeë ouderdom van 52 afgetree het nie, sou hy kort daarna in 1986, asook in 1987 en 1988, weer teen Fidel Castro in Angola te staan gekom het.

As Viljoen nes Castro in sy pos aangebly het, in die groot streeksgeveg om die hele Suider-Afrika, waartydens beide leiers was in 1975, dan sou die SAW in 1986 tot 1988 onder Viljoen se leiding geveg het.

Angola sou vry gewees het.

Suid-Afrika sou vry gewees het.

Suider-Afrika rondom die SA-Angola-as sou as Afrika-eenheid gegroei het.

Cuito was ‘n mylpaal, en die SAW het Cuito vir een nag gewen.

Ek het nou net verneem dat Constand Viljoen net soveel jaar soos Castro op aarde geleef het. Hulle twee is nou saam, want hulle hoort saam. Beide was die wêreld se beste.

“Without the defeat of Cuito Cuanavale our organizations would not have been unbanned! …Cuito Cuanavale was a milestone in the history of the struggle for southern African liberation!” het Nelson Mandela gesê.

—Beert Mouw

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.