Audrey Bierman: Knip die lont, meneer die president!

Deel op

Ek wou vanmore eers ‘n bietjie werk voor ek iets skryf, maar die nuus het my genoop om nóú iets te skryf, want ek kan nie konsentreer voor ek nie hierdie van my hart af gekry het nie.

Almal prys die president vir sy goeie leierskap tydens hierdie koronaviruskrisis, maar op watter stadium gaan hy sy ministers begin vasvat? Sien hy nie wat hier aan die gang is nie? Soos goeie skootbrakkies rol hulle op die rug sodat die vakbonde, publiek en ander hulle pensies kan krap.

Die volk skree soos stout tieners oor sigarette, so dis ok, hulle mag dit maar weer koop by die supermarkte. Ongeag of hierdie siekte juis een is wat die longe aanval.

Die taxi’s gooi ‘n vloermoer, dus hulle mag dan maar weer ry. Moet net nie baie mense oplaai nie, hoor. In watter leeftyd het ‘n Suid-Afrikaanse minibustaxi hom al ooit gesteur aan die reëls of regulasies soos deur die landswette bepaal; waarom sal dit nou anders wees?

Die Suid-Afrikaners in die buiteland verlang huis toe en voel gestrand, dus nou mag die reisverbod verlig word sodat hulle mag huis toe kom. Net ‘n vragie: as die krisis nie wêreldwyd was en mense van ander lande soos melaatses behandel is in die vreemde nie, sou julle dan ook so te kere gegaan het om by julle families te kon uitkom, of sou julle dan bloot voortgegaan het met julle werk waar julle in dollars en ponde betaal word? Ek kan die humanitêre element hier verstaan, maar hoekom was julle nie hier om te help bou aan ‘n land waar boere selfs nou tydens kwarantyn vermoor word nie? Hier waar ‘n gemiddeld van 53 mense daagliks vermoor word vanweë misdadigers wat vrye teuels gegee is.

Dit bring my dan by die jongste omroltoertjie. Om die virus in tronke en howe te bekamp gaan verhoorafwagtende misdadigers wat klein misdade gepleeg het met borgtog van minder as R5000, vrygelaat word. Hoor die regering ooit wat hulle sê? Mense wat in die eerste plek nie die landswette gehoorsaam nie, gaan nou vrygelaat word met die opdrag: “Julle moet nou hierdie keer luister en mooi saam met die res van die bevolking speel.”

Wesentlik het die regering met hierdie optrede wetteloosheid aangemoedig, want indien jy buite jou erf gevang word tydens die tydperk van afsondering, is die boete R2500. Indien jy sonder ‘n permit reis tussen provinsies, R2500. Hoekom op dees aarde sal die publiek wat stadig maar seker aan inperkingskoors begin lei, nou gehoor gee aan die grendelstaatregulasies? Hulle kan mos vrygelaat word.

Mnr Ramaphosa, enige ouer sal jou kan vertel dat een van die groot struikelblokke van ouer-wees is om konsekwent te wees. Jy kan nie vandag ‘n terugpratery in jou huishouding toelaat en môre wil jy vir boetie of sussie daaroor straf nie.

Reëls en regulasies is daar om wet en orde te handhaaf. Pas dit toe en jy gaan dalk ongewild wees by sekere partye, maar daar sal orde wees. Niemand is onseker nie en almal weet wat van hulle verwag word. Dít wat tans hier gebeur, is ‘n resep vir chaos en totale anargie. ‘n Maatskaplike tydbom wat vir seker gaan ontplof indien die lont nie baie vinnig en baie beslis afgeknip word nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.