Zimbabwe het Maandag met ʼn landswye inperking van 21 dae begin in ʼn poging om verspreiding van die Koronavirus te bekamp. Die president van die land, Emmerson Mnangagwa, het die land op televisie toegespreek en die bevolking aangespoor om gehoor te gee aan die noodmaatreëls. Hy het gesê dat almal in Zimbabwe moet optree asof hulle reeds die virus onder lede het en nie hulle vriende en familie wil aansteek nie.
Die eerste dag het grootliks vreedsaam verloop met min gevalle van mense wat die inperkingmaatreëls probeer verontagsaam het.
Na verwagting sal die inperking nog meer oorlewingsdruk op die algemene Zimbabwiese bevolking plaas. Die land gaan gebuk onder hiperinflasie en ingrypende tekorte aan basiese lewensmiddele. Dit is as gevolg van die rampspoedige grondroofprogram van die voormalige president van Zimbabwe, Robert Mugabe, wat twintig jaar gelede afgeskop het.
Daar is tot op hede sewe gevalle van Koronavirusbesmetting in Zimbabwe geïdentifiseer en een persoon is dood daaraan.