Nog ʼn kleinhandelwinkelgroep het aangekondig dat hulle huurbetalings opskort weens die koronavirus. Die TFG-groep moes weens die inperkingsbevel noodgedwonge hulle winkels vir ten minste drie weke sluit.
Volgens die eiendomshoof van TFG, Brad Rothenburg, het die buitengewone omstandighede daartoe gelei dat die groep oplossings moes vind om die uitwerking van die inperking te verlig. Hy het aangedui dat die groep die volle finansiële nawerking van die inperking sal ondersoek sodra die situasie gestabiliseer het en dat hulle dan met verhuurders in gesprek sal tree.
TFG se kleinhandelkettings sluit Foschini, Due South en American Swiss in.
Edcon, die houermaatskappy van onder andere Edgars, het verlede week verklaar dat hulle nie in staat sal wees om verskaffers te betaal nie en dalk selfs kredietbeskerming sal probeer verkry.