Rand sink na Moody’s-besluit

Deel op

Moody’s se afwaartse peiling van die Suid-Afrikaanse ekonomie na gemorsstatus het die rand onder die waterlyn getref. Die nasionale geldeenheid het Maandag deur die R18-per-dollargrens gebreek. Dit het ʼn rekordlaagtepunt van R18-08 teenoor die dollar bereik en hoewel dit daarna ietwat versterk het, het ʼn dollar vir die grootste deel van die dag in die omgewing van R18 gekos.

Dit was die onvermydelike gevolg van beleggers wat die hasepad weg van die rand gekies het omdat die afgradering beteken dat Suid-Afrika van die toonaangewende Wêreldstaatseffekte-indeks (W.G.B.I.) afgeskop gaan word. Die W.G.B.I. is die primêre mark waar regerings staatseffekte verkoop om nasionale skuld te bestuur.

Die noodwendige gevolg is dat dit vir die regering al hoe duurder word om geld te leen om staatskuld mee te diens.

Redes wat Moody’s vir die afgradering aangevoer het, sluit in dat Suid-Afrika se skuld teen 2023 na verwagting 91% van Bruto Nasionale Produk sal bereik. Die agentskap het aangetoon dat dit skepties staan teenoor die ANC se vermoë om fiskale hervormings in werking te stel om die ekonomie weer op dreef te kry. Dus kan daar verwag word dat die rand vir die afsienbare toekoms onder druk sal bly.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.