Brief: Repliek op ‘Janusz Walus langer in tronk as Nelson Mandela’

Janusz Walus en Clive Derby-Lewis
Deel op

‘n Brief deur Elma Potgieter na aanleiding van Guy Robertson van Kampsbaai se brief van 18 Maart 2020: Janusz Walus langer in tronk as Nelson Mandela.

Ek kan dalk ‘n bietjie lig werp op die aangeleentheid aangesien ek van 2011 tot naastenby 2015 ‘n boek geskryf het oor Clive Derby-Lewis en sy rol tydens die oorgang van een politieke bedeling na ‘n ander.

Die volgende inligting ter agtergrond:

My titel: Clive Derby-Lewis – Politieke Sondebok – geskiedkundige biografie deur Elma Potgieter.

Die boek was in opdrag van ‘n bekende uitgewer van Pretoria. Tydens die onderhoude het ek deur harde kopié van afgehandelde hoofstukke telkens aan Clive te oorhandig om te lees, sy toestemming gekry vir die publikasie.

Nadat ek hoofstuk na hoofstuk aan die uitgewer gestuur het terwyl ek geskryf het, en geen kommentaar teruggekry het nie, het die uitgewer in 2015 eensydig uit die kontrak getree.

Dit was ná my voltooiing van die Afrikaanse manuskrip en die gesinchroniseerde Engelse manuskrip volgens opdrag. As rede is aangevoer dat dit nie die boek was wat hulle verwag het nie. Ek het gelukkig outeursreg. Soos genoem – dít ter agtergrond om dit vir u as leser ‘n bietjie duideliker te maak.

Benewens uitgebreide navorsing het ek 29 persoonlike onderhoude met Clive Derby-Lewis en 6 onderhoude met Janusz Walus in Pretoria-Sentraal Gevangenis gehad (nou Kgosi Mampuru).

Uiteraard is dit ‘n lywige stuk geskiedenis wat 576 bladsye beslaan benewens addenda van geskiedkundige dokumente. My bibliografie is uitgebreid – een en sewentig boeke oor die hele reënboogspektrum van denke, hier en in die buiteland asook hoofstroommedia uit daardie tyd.

Vir my skrywe nou aan u haal ek alleenlik my aantekeninge aan met betrekking tot die onverkwiklike paroolsages van die twee here.

Dit is as naskrifte geskryf en is aanhegsels tot die boek: Eers die naskrif van Clive Derby-Lewis en dan dié van Janusz Walus.

  1. Op 26 Februarie 2014 word Clive Derby-Lewis, 78, en Janusz Walus 63, in die tronk1 van agter deur `n medegevangene met `n skerpgemaakte voorwerp aangeval. Albei word vir steekwonde aan die kop en arms behandel. X-strale toon dat Clive se linkerarm in die aanval gebreek is. Volgens Clive se prokureur, Marius Coertze, was dit `n ernstige aanval op die twee hoëprofiel politieke gevangenes.

Coertze word so aangehaal in The Citizen van Donderdag 27 Februarie 2014. “I am quite concerned about their safety. This was a serious attempt on their lives.”

Drie weke later, op Sondag 23 Maart 2014, word Clive weer van agter deur `n gevangene met `n lang glasskerf in die rug gesteek. Volgens Beeld van Dinsdag 25 Maart is die aanval uitgevoer deur `n “penkop-lid” van die “berugte 26-bende”. Om `n volwaardige lid van dié bende te word, moet jy “iemand groot se bloed trek”.

The New Age van Dinsdag 25 Maart se voorbladberig begin so:

Chris Hani’s killer Clive Derby-Lewis wants a 24-hour bodyguard in prison after being attacked again at a maximum security facility in Pretoria.”

His lawyer, Marius Coetzee, (sic – dis Coertze) said correctional services had failed to protect his client and he would request VIP-protection.”

Coetzee also plans to launch a new application to get Derby-Lewis out on parole next month.‘His wife called me on Sunday night very emotional about what’s happening to her husband’.”

Op 31 Maart berig Beeld dat dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, in die voorafgaande naweek `n “indringende gesprek” met S’bu Ndebele, minister van korrektiewe dienste, oor Derby-Lewis gehad het.

As hierdie geval met `n gholfspelende Schabir Shaik en `n ‘shopping’ Jackie Selebi vergelyk word, skreeu alles van dubbele standaarde.

Dit gaan lankal nie meer oor die misdaad waarvoor Derby-Lewis gestraf is nie, ook nie oor politiek of `n verkiesing nie, maar oor menslikheid teenoor `n sieklike bejaarde.

Sekerlik kan die DKD op hierdie tydstip weer kyk in watter mate Derby-Lewis aan die vereistes van mediese parool voldoen.”

Ten opsigte van Clive se mediese parool volgens sy prokureur, Marius Coertze, in Huisgenoot van 10 Julie 2014.

Hy is terminaal siek in die Eugène Marais-hospitaal. Sy mediese parool móét oorweeg word, maar `n amptenaar het gesê daar kan nie op die aansoek staan hy gaan doodgaan nie, want dit kan die voorvaders ontstel.

My mond het oopgehang. Clive het al gesê hy is baie positief oor pres. Jacob Zuma, dat hy in sy termyn dalk uiteindelik parool kan kry.”

Veral in die lig van die leuen-geskiedenis2 van Suid-Afrika van sy vroegste beginjare, ontstaan vele vrae oor die skielike aanvalle op die beleërde politieke gevangene, Clive Derby-Lewis, in die een en twintigste jaar van sy gevangenskap nadat die Paroolraad hom al in 2007 aanbeveel het vir gewone parool.

PS1 – hervat. Helaas, die tragi-komedie duur voort. Clive Derby-Lewis se tronkstraf gaan aan – in die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria. Skrywer het hom daar besoek. Sy gesig is vaalbleek, maar hy gesels positief, soos ek Clive sedert Maart 2011 in die gevangenis leer ken het.

Mediese parool is in Januarie 2015 geweier, ten spyte daarvan dat Stadium 4-kanker deur twee geneeshere by hom gediagnoseer is. Probleem: Nuwe minister en nuwe/ou beskuldigings: Derby-Lewis het nie berou nie en hy het nie die volle waarheid gepraat nie. Die geheen-en-geweer toutrekkery tussen die minister van korrektiewe dienste en die adviesraad vir mediese parool loop tog uiteindelik uit op mediese parool vir Clive John Derby-Lewis. Saterdag 6 Junie 2015 berig Beeld as volg: Clive Derby-Lewis het Vrydag (5 Junie) omstreeks 18:00 as ‘n “vry man” by die agterdeur van die Eugène Marais-hospitaal uitgestap.”

Die “vryheid” beteken huisarres terwyl daar by streng paroolvoorwaardes gehou moet word. Selfs sy nuwe prokureur, Julian Knight, het nie vrylik toegang tot sy kliënt nie. Maar dis goeie nuus dat Clive se kanker “in remissie” is volgens Rapport van 13 Maart 2016.

PS2 by name Janusz Walus. Nog ‘n paroolaansoek wat ‘n sage van uitstel en terugkrabbel word. Wat’s nuut? So lees dit kortweg: Julie 2011 word Janusz aanbeveel vir parool. Die minister bevind hy moet wag tot “minstens 20 Junie 2013”, in die Beeld van 11 Maart 2016.

Oktober 2013 – Walus se saak word weer na die minister verwys sodat die Hani-gesin kommentaar kan lewer. Die Hani-gesin staan Janusz Walus se parool teen, maar die paroolraad keur dit desondanks goed.

April 2015 – die minister keur weer die aansoek af.

Junie 2015 – Janusz Walus nader die Noord Gautengse hooggeregshof in Pretoria om die minister se besluit te hersien.

Maart 2016 – op 10 Maart om presies te wees, beveel regter Nicoline Janse van Nieuwenhuizen van die Noord-Gautengse hooggeregshof dat Janusz Walus binne 14 dae op parool vrygelaat moet word. Sy beveel verder dat adv. Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, se besluit om nie in April 2015 parool aan Walus toe te staan nie, tersyde gestel moet word.

Ek bel vir Witold, Janusz se broer in Pretoria en wens hom geluk met die regter se besluit. Hy reageer sinies-hoopvol.

Op Sondag 13 Maart gaan besoek ek Janusz Walus weer in die Kgosi Mampuru-gevangenis. Toe ek hom in Maart 2011 die eerste keer ontmoet het, was dit nog Pretoria Sentraal.

Ek druk sy hand. Hy lyk maerder, bleker en daar is nou ‘n bitter trek om sy mond. “Die “regter speel God” sê Limpho Hani blykbaar aan ‘n radiostasie. “Deporteer hom,” skreeu die ANC.

Ons kyk na mekaar. “Wat kan ek sê?” sê ek uiteindelik.

“What a hopeless pathetic state this is,” sê Walus asof hy my gedagtes kan lees. “I’ve applied to Home Affairs two and a half years ago to be deported to Poland. My application is gathering dust, but they yell ‘deport him’.”

Sal daar weer ‘n dag kom dat ek nie skuldig voel nie? Hierdie Poolse immigrant was so gegru toe hy hoor Chris Hani keur die halssnoermetode van moord in eie geledere goed, dat hy aangebied het om die sluipmoord te voltrek. Hierdie man wat hier voor my staan was verlig toe hy die doodstraf kry. Toe werk dit so uit dat hy die daaglikse hel van ‘n leeftyd saam met vreemdelinge moet verduur. “Deporteer my,” is sy versugting. “Deport him,” skreeu die ANC/SAKP’s.

Deporteer hom dan verdomp,” skreeu ek op my beurt in my kop.

Dan glimlag Janusz. “I’ve met wonderful people in South Africa, wonderful people that unfortunately have to live in a pathetic excuse for a state.”

Ek moet groet. My tien minute is om. Janusz het heelwat besoekers vir sy besoekuur vandag. “Wonderlike” mense wat hom wil bemoedig, hom voorspoed toewens. Saam met sy familie en goeie vriende hou ek duimvas dat ‘n hofbevel hierdie keer in Suid-Afrika gerespekteer sal word…

Die hoop beskaam wel. Die paroolsage van die Poolse idealis is aangaande…

25 Junie 2017

Op 16 Januarie 2019 is parool weer eens geweier deur adv. Michael Masutha, Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste. Waarom? Omdat Janusz Walus “geen berou toon nie”.

Die sage gaan aan.

© Elma Potgieter

1     Pretoria Sentrale Gevangenis staan deesdae bekend as die Kgosi     Mampuru-gevangenis.

2     Hierdie land van leuens ‘Brieven uit de Kaap Kolonie’     van C. Louis Leipoldt deur Wium van Zyl. Artikels geskryf tydens     die Anglo-Boereoorlog.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.