Leon Lemmer: Fransjohan Pretorius se ‘Terugblik’

Deel op

Fransjohan Pretorius (gebore in 1949) het veral vanweë sy kennis van die Anglo-Boereoorlog (ABO) bekendheid as historikus verwerf, bv sy boek, Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 (Kaapstad: Human & Rousseau, 1991, 491p). Sy jongste boek is onlangs gepubliseer: Terugblik: 80 sketse uit ‘n ryk verlede (Pretoria: Protea Boekhuis, 2020, 283p, R200). Die teks is ‘n herpublikasie van sy Beeld-rubrieke. Hy bied gesaghebbend en op ‘n toeganklike manier grepe uit ons geskiedenis aan. Inligting oor party van die onderwerpe is wyer bekend as ander, maar dit is goed om ‘n mens se geheue te verfris. Ek volstaan met enkele fragmentariese opmerkings.

In die eerste skets noem Pretorius dat die Fenisiërs reeds omstreeks 600 vC op ‘n drie jaar lange reis suksesvol van oos na wes om die Kaap gevaar het. Die Ottomaanse Turke het ná 1453 die Europeërs se oorlandse handelsroete na Indië en China in die Midde-Ooste geblokkeer. Dit het as aanleiding gedien vir pogings om van wes na oos om die Kaap na die Ooste te vaar. Vasco da Gama het in 1498 hierin geslaag.

Jare gelede is daar gespekuleer dat die Khoi-Khoin (Hottentotte) en veral die San (Boesmans) van Chinese oorsprong kon wees; dat hulle die nasate van Chinese skipbreuklinge is. Deesdae word ingevolge DNS-toetse polities korrek beweer dat die Khoi-San altyd hier gewees het. In die Amerikaanse idioom kan die Khoi-San en die hedendaagse bruin mense dus aanspraak op “First Nation”-status maak. Die blankes het oor die see die land uit die suidweste binnegekom en die swartes oor land uit die noordooste. Sowel die blankes as die swartes is in hierdie sin dus indringers. Maar dit het die anti-blanke en veral anti-Afrikaner Cyril Ramaphosa nie verhoed om onlangs in Natal te beweer dat die Zoeloes vryheidsvegters en die Boere indringers is nie. Wat van deurslaggewende belang is, is nie wie eerste op ‘n grondgebied was nie, maar wat op daardie grond tot stand gebring is. Die San het wilde diere gejag en die Khoi-Khoin het hulle vee laat wei en brandhout versamel. Hulle het nie die land ontwikkel nie; eerder roofbou toegepas. Die swartes, soos die destydse slawe, het ‘n mate van arbeid verrig, maar dit is die kundigheid, toewyding, ens, van die blankes wat die land ontwikkel het (bv deur infrastrukuur te skep) en dit vóór 1990/94 suksesvol en welvarend gemaak het. Rommelstatus is ‘n erflating van die ANC.

Pretorius gebruik die afkorting VOC (Vereenigde Oostindische Compagnie) terwyl ek met die afkorting HOIK (Hollandse Oos-Indiese Kompanjie) grootgeword het. Wat my van die geskiedskrywing oor daardie tyd hinder, is dat baie mense onder die indruk is dat bv Jan van Riebeeck in 1652 uit een van die later bekende Nederlandse hawens vertrek het, terwyl hy in werklikheid van die eiland Texel af sy seereis aangepak het. ‘n Ander historiese feit waaroor onkunde heers, is dat die Portugese hulle nie van vroeg af in die suide van Mosambiek by Lourenço Marques (Maputo) gevestig het nie, maar in die noorde op Mosambiek-eiland. Wat ook minder bekend is, is dat die Britte en Duitsers agteraf gekonkel het oor hoe hulle Mosambiek tussen hulle sou verdeel as die Portugese nie doeltreffend beheer oor die land kon uitoefen nie. Die Britte se oogmerk was onder meer om te verhoed dat die Boere-republieke ‘n eie toegang tot die see kry.

Dit is goed dat Pretorius noem dat die State-Generaal nie ‘n persoon was nie, maar die destydse Hollandse parlement (p 17).

Met verwysing na die Slagtersnek-rebellie (1815-1816) word Freek Bezuidenhout as “‘n ruwe karakter van geen goeie inbors nie” beskryf (19). Wat ek my afvra, is: Sou hedendaagse historici (of ander mense) deesdae dieselfde van ‘n swarte sê? Die Slagtersnek-gebeure, bv die blankes se verset teen gewapende pandoers (Khoi-Khoin-soldate), word sonder meer as “‘n wanklank in die ontwikkeling van die Afrikaanse [Afrikaner-?] nasieskap” bestempel (20). Was die blankes/Afrikaners nie jare later op soortgelyke verset teen veral swart terroriste aangewese nie?

“Nasionalisme was eerder ‘n gevolg as ‘n oorsaak van die Groot Trek” (24). Maar vóór hierdie gebeure was daar, indien nie ‘n eenheidsgevoel nie, sekerlik ‘n (sterk) bewustheid van kulturele verwantskap (bv ras, taal en godsdiens) by die Boere, asook afkeuring van die Britse bewind.

“In 1952 het die Nasionale Party-regering … die naam Dingaansdag [16 Desember] in Geloftedag verander om nie rassebetrekkinge te skaad nie” (35). Wat die blanke bewind gedoen het, is in die oë van die ANC-regime nooit goed genoeg nie, met die uitsondering van FW de Klerk se mandaatlose magsoorgawe. 16 Desember word deesdae Versoeningsdag genoem. Die ANC-regime het teen groot koste ‘n museum by Bloedrivier as teenhanger vir die Boere-museum en -monument opgerig. Die gewoonte het posgevat om die uitsonderlike suksesvolheid van Bloedrivier as ‘n Afrikanermite te bestempel. Leopold Scholtz se insig is dat Afrikaners die Slag van Bloedrivier nie meer as ‘n oorwinning mag vier nie. Die klem moet deesdae, ooreenkomstig die ANC se wens, glo eerder op versoening geplaas word. Dít terwyl Jonathan Jansen kraai van die lekkerkry wanneer hy skryf dat die Afrikanerdom twee keer die stryd verloor het, naamlik die ABO en De Klerk se 1994-verraad. As daar een ding is wat die ANC en sy meelopers beter as die Afrikners kan doen, is dit miteskepping. Pretorius verwys bv na “die klaarblyklik fiktiewe Tshwane” (68). ANC-kornuite wil hê dat die administratiewe hoofstad van die land eerder na ‘n fiktiewe swarte as na ‘n Boer vernoem moet word.

Oor die Slag van Bloedrivier skryf Pretorius: “Veghekke van hout wat vooraf gemaak is, word onder die waens vasgemaak sodat die Zoeloes nie onderdeur kan deurkruip nie” (37). Laertrek was die Boere se behoud. Vóór die Slag van Isandlwana in 1879 het lord Chelmsford “nie laer getrek nie – al het Boere hom gewaarsku om dit te doen” (43). Die gevolg was groot lewensverlies aan die Britse kant. Deesdae word (feitlik) alles wat met die Boere, Afrikaners en blankes te make het, verdag gemaak. Daar moet glo “ontlaering” plaasvind. Kulturele ontlaering word gepropageer deur diegene wat die ondergang van die Afrikaner begeer.

Pretorius gebruik die verwarrende benaming “Emigrante-Boere” (bv 51, 55, 57). Aanvanklik het ek as leser nie geweet wat bedoel word nie. Hierdie term kon immers die indruk wek dat die Boere nie in die binneland van Suid-Afrika hoort nie. Dit blyk toe dat hy daarmee die Voortrekkers bedoel (55, 57). Waarom nie met die benaming “Voortrekkers” volstaan nie? Pretorius verwys ook na “die Brits-Transvaalse Oorlog (Eerste Anglo-Boereoorlog)” (73; ook 97). Pleks van sy terrorisme te erken, druk die ANC die benaming “Bevrydingsoorlog” in ons kele af. As teenhanger behoort Afrikaners voort te gaan om die oorlog van 1880-1881 die Eerste Vryheidsoorlog te noem, soos Pretorius later doen (207). Dit het om die bevryding van die Afrikaners van Britse gesag en kolonialisme gegaan. Net soos in die geval van Bloedrivier behoort ons voort te gaan om die Majuba-oorwinnning te vier. Volgens persberigte was daar op 16 Desember 2019 ‘n groot oplewing in die bywoning van die Bloedrivier-herdenkingsbyeenkomste.

Alfred Milner word tereg “die leidende aanstigter van die Anglo-Boereoorlog” genoem (86). Ook dat diegene wat die beeldegroep, onder meer van Paul Kruger, op Kerkplein in Pretoria wil verwyder “nie die Afrikaner sy kultuurerfenis gun nie” (85). Kruger se bekendste woorde word soos volg aangehaal: “Soek in die verlede al die goeie en skone, vorm daarna [daarvolgens] u ideaal en probeer om daardie ideaal te verwesenlik” (92). Afrikaners sal die goeie in die verlede (veral) vóór 1990/94 vind. ‘n Ander bekende uitspraak van Kruger, hierdie keer vóór die ABO, in 1899, aan Milner, is: “Dis nie die stemreg [vir Uitlanders] nie, dis my land wat jy wil hê” (108); maw Britse imperialisme is die dryfveer (107).

Kerkstraat-Wes in Pretoria heet deesdae WF Nkomostraat (99). Jacob Maréstraat in Pretoria is nou Jeff Masemolastraat (103) en Andriesstraat het Thabo Sehumestraat geword (173). Hierdie strate is almal na ANC- of PAC-kornuite vernoem wat ‘n rol in die “bevrydingstryd” gespeel het. Die National English Liberary Museum in Grahamstad het in Junie 2019 die Amazwi South African Museum of Literature in Makhanda geword. Soos die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl is die Amazwi, wat stemme of woorde beteken, ‘n agenskap van die ANC se Departement Kuns en Kultuur. Albei inrigtings streef daarna om inklusief wees. Vir die museum in Makhanda gaan nie meer net om Engels nie en vir die ATM gaan dit nie uitsluitlik om Afrikaans nie. Ek dink hierdie naams- en funksieveranderings is ‘n onreg en skande wat glad nie dikwels en luid genoeg veroordeel word nie.

By Spioenkop het die Boere op 24 Januarie 1900 ‘n gedenkwaardige oorwinning oor die Britte behaal (98, 125-126). Die foto van Jan van Hoepen van gesneuwelde Britse soldate in ‘n Spioenkop-loopgraaf (124) is “waarskynlik … die bekendste foto van die oorlog” (156). Pretorius meld dat Van Hoepen se foto’s soms van foutiewe byskrifte voorsien is. ‘n Voorbeeld hiervan kan in Rebecca West se boek, 1900 (London: Weidenfeld & Nicolson, 1982/1996, 192p) gevind word. Dieselfde foto van Britse gesneuweldes wat in Pretorius se boek gereproduseer is (124), verskyn in West se boek (p 10), maar met hierdie byskrif: “Boer dead after the fierce and confused fighting at Spion Kop, Natal” (11).

“Die algemene spreektaal was reeds Afrikaans” gedurende die ABO, bv “die woord ‘baie’ en die dubbele negatief” (169). Afrikaans was iets meer (bv vindingryk, skeppend) en anders as “verhaspelde” (171), dus verknoeide, Nederlands (171).

Pretorius besin oor historiografie/geskiedskrywing. Een van die eienskappe waaroor ‘n historikus behoort te beskik, is verbeelding (187, 191). Maar dit spreek eintlik vanself dat dit binne perke moet geskied. “In die Afrikanernasionale geskiedskrywing tot minstens die 1970’s is swart en bruin mense as “‘n probleem’ of ”n vraagstuk’ beskou … Met die afname in Afrikanernasionalisme het meer gebalanseerde en meer objektiewe Afrikanergeskiedskrywing na vore getree” (187-188). “Sedert 1948 word swart nasionale geskiedskrywing deur ‘n radikale benadering gekenmerk. Dit vind sy inspirasie in die dekolonisasie van Afrika en die aftakeling van apartheid. Die wit man word nou as die ‘probleem’ gesien. Swart nasionale geskiedskrywing of die strugglegeskiedenis oorheers die skoolsillabusse. Die strugglegeskiedenis is nou die geskiedenis van Suid-Afrika” (188). “‘n Kritiese inslag en objektiwiteit is noodsaaklik” by geskiedskrywing (192). Die ANC heg egter geen waarde hieraan nie. By die ANC gaan dit om propaganda. Die kamerade het geen beswaar daarteen dat die verlede en hede met die oog hierop skeefgetrek word nie. Boonop gaan die ANC sy getransformeerde Suid-Afrikaanse en Afrika-geskiedenis as ‘n onontwykbare verpligte vak aan al die plaaslike skoolkinders opdring.

Pretorius noem hierdie dinge bloot. Hy versuim om die ANC se transformasie van ons geskiedenis daadwerklik te verdoem. Die naaste wat hy hieraan kom, is wanneer hy skryf: “In die lig van die regering se plan om geskiedenis [oftewel ANC-propaganda] as vak verpligtend tot matriek te maak, is dit belangrik om hierdie gevaar van eensydigheid by die kurrikulumskrywers tuis te bring” (201). Afrikaners het ons geskiedenis veel minder skeefgetrek as wat ANC-kornuite en hulle meelopers deesdae doen. Die blankes is en bly die land se grootste bate en die swartes gaan voort om ongetwyfeld die grootste probleme te veroorsaak. Hoe doelbewus skeef die ANC se geskiedenisbeskouing is, kan uit die volgende afgelei word. Wat word deesdae by voorkeur en amptelik oor die Eerste Wêreldoorlog deur die ANC-regime verkondig? Dat die SS Mendi in 1917 met 607 swart arbeiders aan boord gesink het (226).

Die hoogaangeskrewe historikus, George McCall Theal (1837-1919), het volgens Pretorius “die hardnekkige persepsie (mite) geskep dat die Xhosa alleen verantwoordelik was vir die probleme aan die Oosgrens” (195). ‘n Objektiewer beskouing sou wees dat hoofsaaklik die Xhosas vir hierdie probleme verantwoordelik gehou kan word, soos tewens die swart bevolking kollektief vir die land se historiese en huidige probleme. Pleks daarvan word die skuld deesdae kollektief op die blankes, veral die Afrikaners, gepak.

“Al die jare was Brit en Afrikaner onbewus van die bestaan van swart konsentrasiekampe en swart sterftes” tydens die ABO (198). Ek dink dit is ‘n oordrewe stelling. Die Britte het die bestaan van blanke en nie-blanke konsentrasiekampe sover moontlik amptelik verswyg sodat hulle beeld nie skade ly nie. “Die Britse Konserwatiewe minister Jacob Rees-Mogg het onlangs ook maar lekker klei getrap met sy standpunt dat die Britse konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog opgerig is vir beskerming van die Boereburgerlikes en om hulle van kos te voorsien omdat die mans op kommando was en nie vir hulle kon sorg nie. Dit is die opvatting waarmee die Britte groot geword het” (202-203). Die Boere was om ander redes as die Britte ongeneë om die konsentrasiekampe vir swartes aan die groot klok te hang; enersyds sodat die lyding van Afrikaners, veral vroue en kinders, beklemtoon kon word en andersyds omdat die nie-blankes, veral die swartes, oor die algemeen so uiters pro-Brits en dislojaal teenoor die Afrikaners was.

“Hoe skaam-verkeerd was ek nie! Opgelei in ‘n Afrikaner-nasionale paradigma waar die Afrikaner sentraal in die geskiedenis gestaan het, is ons nooit geleer watter rol swart mense in die Anglo-Boereoorlog gespeel het nie; trouens, dis waarom sommige historici die benaming Suid-Afrikaanse Oorlog verkies” (203). Tot Pretorius se eer verkies hy darem nog steeds die ABO-benaming, met as alternatief die Tweede Vryheidsoorlog (207). Daar word deesdae van die blankes, veral die Afrikaners, verwag om hulle oor allerhande dinge te skaam. Dit is onnodig dat Pretorius en sy mede-Afrikaners hulle skaam. Dit is eerder die skeppers van die getransformeerde ANC-geskiedenis wat hulle behoort te skaam. Het julle al ooit gehoor dat ANC-kornuite hulle vir hulle terrorisme skaam en verskoning vra vir die dood en vernietiging wat hulle gesaai het en daarby veral onder hulle mede-swartes?

Hoe fundamenteel gemeen die ANC-regime is, kan afgelei word uit die geskiedenis van die Ou Fort op Constitutional Hill (Grondwetheuwel?) in Johannesburg. Afrikaner-rebelleleiers, soos Christiaan de Wet, is in 1915 daar aangehou. Later was daar gevangenes soos Mohandas (Mahatma) Gandhi, Nelson (Madiba) Mandela, Joe Slovo, Albertina Sisulu en Winnie Mandela (227). Laasgenoemde anti-blanke elemente word deesdae in daardie konteks onthou en nie ‘n Afrikaner soos De Wet nie. Die ANC-regime het die vleuel van die Ou Fort waarin nie-blanke gevangenes aangehou is, as die setel van die Konstitusionele Hof ingerig (229). Wat (moontlik) daaruit afgelei kan word, is dat die ANC-regime verwag dat daardie hof pro-swart en anti-blanke uitsprake moet lewer.

Die Spaanse Griep of Groot Griep van 1918, waarin my een oupa dood is, het sy oorsprong in China gehad. “Die terugkeer van Suid-Afrikaanse soldate en arbeiders het plaaslik tot die epidemie gelei” (231). Die huidige grieppandemie het ook in China ontstaan. Dit kan plaaslik versprei word by die terugkeer van veral die groot getal swart studente wat om nie-akademiese redes bo ander studente met studiegeleenthede in China en ander lande bevoordeel word.

‘n Baanbreker op die gebied van die Afrikaanse kunslied, S(tephanus) le Roux Marais (1896-1979), die komponis van bv “Heimwee”, is in 1946 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die toekenning van ‘n erepenning vereer. “Marais [het] Afrikaans tot ‘n sangtaal verhef” (241). Prof Wilhelm FC Arndt (1889-1951), ‘n wiskundedosent aan Grey-kollege in Bloemfontein, het by daardie geleentheid die woord gevoer (240). Wat ek interessant vind, is dat dr Reinhard Richard (Rein) Arndt (1929-2020), eens die president van die WNNR en voor dit ‘n dosent in skeikunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit, op Nuwejaarsdag oorlede is (Rapport Weekliks, 2.02.2020, p 2). Hy was klaarblyklik ‘n seun van Wilhelm Arndt. Voortreflike Afrikaners soos die Arndts word deesdae nie meer afdoende gehuldig nie.

Oor die Springbok-rugbyspan se oorwinning oor die All Blacks in 1995 in die Wêrekdbeker-eindstryd skryf Pretorius: “Ons verlekker ons elke keer as ons op TV sien hoe pres Nelson Mandela met sy nr 6-Springboktrui die beker aan die kaptein, Francois Pienaar, oorhandig en sy arms triomfantelik die lug in pomp” (245); dieselfde arms waarmee hierdie vredesikoon en baasversoener telkens ‘n gebalde vuis die lug in gepomp het. Verlekker Afrikaners hulle daarin om Mandela só by die rugby te sien of besef hulle dat Mandela besig was om hulle te sus oor die politieke magsverlies wat deur swart terrorisme asook verraad uit eie kring aan hulle opgedring is?

Tydens die eerste JBM Hertzog-gedenklesing in 1971 het Wennie du Plessis aangevoer “dat die Anglo-Boereoorlog ‘n baie beslissende fase in ‘n deurlopende proses vir die Afrikaner was” (251). Volgens André Wessels was “selfbeskikking ‘n leitmotief in Hertzog se openbare loopbaan … Eers het hy vir selfregering vir die verslane Boere-republieke gestry; later vir soewereine onafhanklikheid vir die verenigde Suid-Afrika” (253). In 1990/94 het ‘n absolute breuk in die Afrikaner se geskiedenis gekom. Het hedendaagse Afrikaners die moed om die stukke bymekaar te maak en iets sinvols daaruit te bou?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.