Van middernag vanaand word alle openbare plekke, d.w.s. restaurante, kroeë, bioskope, skole, ens. in Frankryk gesluit. Slegs die kinders van mediese personeel wat moet aanhou werk, sal skool toe gaan. Verder sal skole per rekenaar en internet funksioneer.
Die enigste winkels wat toegelaat word om oop te bly, is voedselwinkels en apteke.
Die aankondiging is sowat ‘n uur gelede deur die Franse eerste minister, Edouard Philippe, gedoen. Hy het ‘n beroep op die totale bevolking gedoen om die maatreëls “gedissiplineerd” na te kom.
Marokko het alle vlugte na Frankryk gestaak.
Oor die afgelope 72 uur het die aantal besmettings in Frankryk verdubbel en die nooddienste word oorlaai. Mense met geringe simptome word gevra om nie die noodnommer 15 te bel nie, maar slegs as hulle asemenhalingsprobleme ondervind.
Afgetrede dokters, verpleegsters, asook mediese studente word ten volle gemobiliseer om die epidemie die hoof te bied.
Die virus val nie bloot bejaardes en siek mense aan nie. Meer as vyftig persent van die ernstige gevalle is mense onder sestig.